Deur die Heilige Gees het God ons deel laat kry aan Sy heilsplan in Christus

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 20
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 20 H.K.

LITURGIE:
L. Efesiërs 1
Ps. 65: 3
Ps. 65: 2
Ps. 119: 33 na die doop
Ps. 106: 1, 2
SB. 24: 7
Ps. 143: 9 na die openbare geloofsbelydenis
SB. 14: 2

Broeders en susters,

In die reëlmatige prediking oor die Kategismus was vandag juis Sondag 20 oor die Persoon en werk van die Heilige Gees aan die beurt. Ek het toe bewus daarvoor gekies om nie vanaand nie, maar vanoggend in hierdie diens waarin ons de openbare geloofsbelydenis van 'n hele aantal verbondskinders mag aanhoor, oor hierdie Sondagsafdeling te preek.

Die geloofsbelydenis van vanoggend is mos die sigbare, hoorbare, aanwysbare resultaat van die werk van die Heilige Gees in hierdie wêreld.

Hoe dikwels vra mense: hoe werk die Gees van God eintlik in die wêreld en in die kerk? Wat verneem ons van van die werk van die Gees? En u sal weet dat daar sektes is wat beweer jy het eers reg deel aan die Heilige Gees as jy weer in tale spreek soos die christene in die eerste tyd na Pinkster gedoen het. En as jy oor die gawe van genesing beskik.

Maar ons mag vanmôre sê: hierdie jongmense wat vandag hulle geloof wil bely, is van kinds af deur die Heilige Gees geregeer. Want hulle is christelik en godvresend opgevoed. Ons het diè verbinding vanoggend nog saam uitgespreek in die gebed na die Doop van Rudy de Vente: "Ons bid U dat U hierdie kind altyd met U Heilige Gees wil regeer, sodat hy christelik en godsalig opgevoed mag word". Die Gees werk nie veral opsienbarend nie. Nee, Hy werk heel eerste onopvallend in 'n eenvoudige maar troue opvoeding by die Woord van die HERE deur gelowige ouers.

En daarom mag ek net-nou, na my preek, met die woorde van die formulier vir die aflegging van belydenis van geloof aan u voorhou: "Gelei deur die Gees van God en sy Woord het hierdie jong mense die kerkraad gevra om hulle geloof hier opentlik te bely".

Dit is die werk van die Heilige Gees in die opvoeding deur hulle ouers, in die onderwys deur onderwysers en onderwyseresse op skool, in die katkisasieklasse deur 'n aantal predikante en ouderlinge, dat hulle die Woord van die HERE, die Evangelie van Jesus Christus, met 'n toenemende oortuiging aanvaar het en begeer om verlos uit die heerskappy van die duiwel as kinders van God deur die lewe te gaan.

Die Heilige Gees het ook hulle in God se heilsplan betrek en begin saamneem na die verloste ewige lewe toe.

Want dit is die vernaamste werk van die Heilige Gees: sondige mense tot die geloof in Christus roep en hulle so by God terugbring.

Sondag 20 van die Kategismus het dit in 'n paar woorde so saamgevat: "die Heilige Gees laat my deur 'n ware geloof aan Christus en al sy weldade deelkry".

Dìt is heel eerste en in hoofsaak die werk van die Gees: Hy bring ons tot geloof en lê so 'n band tussen ons en Christus.

Ja, die Gees maak die band tussen Christus en ons so sterk dat Paulus in die hoofstuk wat ons in hierdie diens gelees het, Efesiërs 1: 13 kan skrywe dat die Gees ons aan Christus "verseël".

Oor diè werk van die Heilige Gees mag ek vanmôre God se Woord aan u bedien.

Ek het my boodskap so saamgevat:

DEUR DIE HEILIGE GEES HET GOD ONS DEEL LAAT KRY AAN SY HEILSPLAN IN CHRISTUS.

DIE GESKENK VAN DIE HEILIGE GEES IS:

  1. 'N GEVOLG VAN DIE VERKIESING
  2. 'N VOORSKOT OP DIE VERLOSSING
  3. GERIG OP GOD SE VERHEERLIKING

1. Daardie eerste hoofstuk van Paulus se brief aan die gemeente te Efese, waarin ons lees oor ons verseëling aan Christus deur die Heilige Gees, kan ons baie mooi help, broeders en susters, om die werk en die werkwyse van die Heilige Gees in ons lewe te verstaan.

Efesiërs 1 is 'n psalm, 'n uitbundige loflied op die groot verlossingswerk van die Drie-enige God in die wêreld, wat in die kerk sigbaar word.

Toe Paulus aan sy lessenaar gaan sit het om sy brief te skrywe, was dit sy voorneme om iets oor God se werk in die kerk te vertel. Maar hoe meer hy daarmee besig was, hoe meer het hy self onder die indruk geraak van dit wat hy mog skrywe. En toe hy eenmaal die pen op die papier gesit het, wis hy van verwondering nouliks meer watter sin hy eerste en watter een hy vervolgens sou skrywe. Die woorde het op mekaar gestapel, die een sin het die ander een losgemaak, sodat dit op die ou end een magtige sin geword het; een groot loflied op die goedheid van God se genade. In ons vertaling is geprobeer om dit 'n bietjie oorsigtelik te maak deur 'n aantal punte te plaas en 'n nuwe sin te begin waar Paulus maar net 'n komma gesit het. Want in werklikheid vorm die verse 3-14 een lang sin.

Maar 'n uitbundige sin! 'n Loflied wat ons opwek om saam te sing.

Ook ons moet sing van die verlossingswerk van die Vader, die Seun èn die Heilige Gees in ons lewe.

Die apostel wil ons saamneem in die bruisende stroom waarin hy homself opgeneem voel. Dis hoekom hy, nadat hy eers telkens oor "ons" gekryf het, in vs. 13 skielik sê: "julle ook".

Met die woorde "julle ook" trek hy ons heeltemal daarby en wys hy vir ons hoe Gòd ook ons daarby getrek het.

Paulus het in die voorgaande verse met 'n paar forse lyne heel God se groot heilsplan in Christus onder woorde gebring: God werk deur Christus na "die volheid van die tye" toe (vs. 10), dit wil sê na 'n nuwe wêreld waarin die sonde oorwen en God weer alles in almal sal wees.

Deur die sonde het God ons mos as sy kinders verloor. Daar was geen mense meer wat ononderbroke die lof op sy Naam gesing het nie, geen mense wat in aanhoudende verwondering die HERE verheerlik het oor die werk van sy hande nie. Daardeur het die glans van God se skepping verdwyn en die menselewe het waardeloos en hopeloos en uitsigloos geword.

Maar God het dadelik aan die herstelwerk begin. Hy het sy Seun in die wêreld gestuur. Jesus Christus wat heel alleen die vloek oor die skepping moes oorwen en verlore kinders weer huis toe haal. "In Hom", skryf Paulus in vs. 7, "het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade". "In Hom": buiten Christus is daar geen lewe en geen toekoms meer. Maar in en deur Hom word die lewe op aarde weer na God terugebuig en kom daar eendag 'n nuwe paradys.

Kyk, en dan sê die apostel van Jesus Christus (vs. 13): "Julle is ook in Hom!". God het ook julle in hierdie wonderlike heilsplan in Christus betrek. En julle het dit aan die Heilige Gees te danke. Deur die werk van die Heilige Gees in julle lewe het ook julle aan die verlossing in Christus deel gekry. Ja, "ook julle is in Hom verseël met die Heilige Gees".

Die apostel vra nou nadruklik ons aandag vir die werk van God die Heilige Gees, gemeente. En hy gebruik hier 'n sterk uitdrukking. Hy noem die Heilige Gees hier "'n seël". Ons lees hierdie beeld 'n aantal kere in Paulus se briewe, in hierdie brief aan die Efesiërs nog 'n keer in hoofstuk 4: 30. Deur 'n seël word 'n ding onlosmaaklik aan 'n ander ding bevestig, vasgemaak. Die seël voorkom dat elkeen die verbinding wat gemaak is, sommerso weer verbreek. So moet ons hier diè opvallende uitdrukking ook verstaan: God het ook ons aan Christus verbind; deur 'n baie hegte band, want die Heilige Gees self is die waarborg dat diè band sommer dadelik weer losgemaak word.

Ons kan met 'n ander beeld, wat ons uit die Kategismus ken, sê: deur die Heilige Gees word ons by Christus ingelyf, sodat dit geword het: Hy in ons en ons in Hom.

Maar hoe het die Gees dan die sterke band tussen Christus en ons gelê? Hoe laat die Heilige Gees ons dan aan Christus en al sy weldade deelkry? Op watter wonderlike wyse vind die verseeëling plaas?

Paulus sê in Efesiërs 1: 13: "nadat julle die Woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het... ".

Dit is die weg waarlangs die Gees mense tot Christus bring: die prediking van die Woord van die Waarheid, die evangelie van hulle redding. Daar het 'n apostel in Efese gekom met 'n harde boodskap. Hy moes vir die mense die waarheid sê. Hy moes aan hulle voorhou hulle leef in 'n aanhoudende opstand teen God omdat hulle Hom ignoreer. Hulle moes hoor dat diè lewenshouding hulle tot dooie mense gemaak het, kinders van die ongehoorsaamheid en daarom kinders van die toorn, dood deur misdade en sondes.

Maar hy mog ook die evangelie van hul redding aan hulle voorhou. Hy mog vertel dat daar verlossing van die sondes is deur Christus se bloed, vergifnis van die misdade en die moontlikheid van 'n nuwe lewe vir God.

Dit is die pad waarlangs die Heilige Gees na verlore mense toekom om hulle saam te neem na Christus toe. En Paulus voeg nog toe: "nadat julle ook geglo het". Want die Woord van die waarheid wat die skuld en die ellende in ons lewe oopvlek, vra om geloof en bekering. Maar die broeders en susters in Efese hèt geglo.

Hulle het diè harde en terselfdertyd reddende Woord aanvaar.

En ook dit was die werk van die Heilige Gees. Hy het hulle harde harte oopgesluit vir die vir 'n hoogmoedige mens maar aanstootlike waarheid. Sodat hulle skuldbewus hulle kop gebuig het en die nuwe lewe by Jesus Christus begin soek het.

Want daar is geen mens wat uit homself tot geloof kan kom nie. God moet selfs dit nog deur sy Heilige Gees aan jou gee. Soos Paulus in die tweede hoofstuk van die brief aan die Efesiërs skryf: "Uit genade is julle gered, deur die geloof, ja, maar dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God".

So werk die Heilige Gees in hierdie wêreld, gemeente. Deur die prediking van die woord van die waarheid en deur harte vir hierdie waarheid oop te sluit.

En dan mag ons vrymoedig vir mekaar sê, vanmôre: Hy is ook aan my gegee. Hy was al by ons Doop aan ons beloof. En Hy was daar sindsdien toe Hy die christelike opvoeding van ons ouers, hoe onvolkome ook al, die skriftuurlike onderwys op skool en in die katkisasieklas, die weeklikse bediening van die Woord van die waarheid in die kerk, die gesamentlike ondersoek van God se Woord op die vereniging en die persoonlike lees van die Bybel by die huis gebruik het om u oë al hoe meer oop te maak vir u skuld teenoor ons hemelse Vader; en om u harte al hoe meer oop te maak vir die verlossing van diè skuld deur Jesus Christus.

So het Hy ook u deel laat kry aan die redding van die lewe wat Christus verdien het.

Maar verstaan u, broeders en susters, dat ons in hierdie skynbaar eenvoudige werk van die Gees te make kry met die wonder van God se verkiesing in ons lewe?

As Paulus in Efes. 1: 13 kan skrywe: "julle ook", en as ons met die Kategismus in Sondag 20 mag bely: "die Heilige Gees is ook aan my gegee", beteken dit nie minder as: dit is 'n wonder van God, waarvoor ons Hom op ons knieë moet dank!

God het my nie verby gegaan op sy weg na die nuwe wêreld nie.

In sy welbehae het sy Gees ook my in sy heilplan betrek. Dis louter uitverkiesing, want geen mens kan daarop aanspraak maak nie. Ook ek het dit nie aan myself te danke nie.

"Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewens gemaak saam met Christus: uit genade is julle gered!".

Nie elkeen hoor die prediking van die evangelie nie. God stuur die verkondigers van sy reddende boodskap wanneer Hy wil en tot wie Hy wil. Nie elkeen word in die kerk en in 'n gesin van gelowige ouers gebore nie.

En selfs nie elkeen wat die woord van die waarheid hoor, aanvaar dit ook in geloof nie. Want die Gees open alleen die harte van diè mense wat God al voor die grondlegging van die wêreld gekies het om weer sy kinders te wees.

Ook tot u het die Gees van God gekom. Ook u is deur Hom met Christus verseël want Hy het ook in u lewe die geloof gewerk en Hy is daarmee nog aanhoudend besig. U hoef maar terug te kyk in u eie lewe en u sal Hom opmerk: Hy het vanaf die eerste begin u lewe geregeer. En hoekom? Dit kan alleen maar die gevolg van God se genadige verkiesing wees!

2. Maar as u so in verwondering in u lewe kan terugkyk, kan u ook met verwondering en verwagting vorentoe kyk. Want die wat deur die Gees met Christus verseël is, ontvang daarin alreeds die begin van die ewige vreugde.

Paulus noem in Efesiërs 14 die Heilige Gees 'n "onderpand van ons erfdeel". Ons kan die woordjie wat met "onderpand" vertaal is, ook as "voorskot" vertaal: waar die Heilige Gees in 'n menselewe kom en woon het om diè mens aan Christus en al sy weldade deel te laat kry, daar het God alreeds een tipe van voorskot, 'n vooruitbetaling gegee van die definitiewe groot verlossing wat Hy eendag sal bewerk as die nuwe aarde kom. Dit is mos die teiken van sy heilsplan in Christus. Die mag van die sonde in die lewe van die mens moet eendag heeltemal oorwen word, die vloek moet weer uit die wêreld verdwyn. God moet weer alles in almal word.

Diè toekoms lê vir God se uitverkore kinders alreeds as 'n erfdeel klaar. In Christus in die hemel.

Maar op dit wat eers op die laaste dag sal kom, het ons vandag alreeds 'n voorskot ontvang. In die Heilige Gees. Want die Gees is vandag al besig om die verlossing wat Christus bewerk het, uit te deel. Nou alreeds bewerk Hy in ons 'n afkeer van die sonde en 'n gevoel van skuld en skaamte teenoor God. Nou alreeds ontvang ons deur die geloof wat Hy in ons werk, die vergewing van sondes. Nou alreeds kom daar deur sy krag 'n daaglikse vernuwing van ons lewe. Nou alreeds trek die Gees ons hoe langer hoe meer by die duiwel en sy ryk van sonde vandaan, na God terug. Hy is vandag al besig om my weer van harte gewillig en bereid te maak om voortaan vir God te lewe.

En so waarborg die werk van die Gees in ons lewe dat ons vir God weer waardevol geword het, ten spyte van al ons sondes. Jesus Christus het ons tot sy eiendom gekoop, 'n kosbare besit waarvoor Hy met sy bloed betaal het. Christus wil sy eiendom nou nooit meer kwyt nie. Inteendeel, ons moet eendag saam met Hom deel in sy glorie.

Die Heilige Gees sal dit bewerk.

In elke kerkdiens waarin die Woord van die waarheid verkondig word, kan u agterkom dat die Gees besig is om u saam te neem na die totale verlossing toe.

In elke indringende gesprek waarin 'n pa of ma hulle kind vanuit God se Woord waarsku of bemoedig, werk die Heilige Gees aan die daaglikse vernuwing van daardie kind, met as eindoel dat dit eendag onbevlek 'n plek ontvang in die ewige lewe te midde van die gemeente van die uitverkorenes.

Elke katkisasieklas word deur die Heilige Gees gebruik om gedoopte verbondskinders tot belydende lidmate van Christus se gemeente te maak wat hoe langer hoe meer met die sonde en die wêreld breek en godvresend lewe.

Elke huisbesoek is 'n middel van die Gees om u op die ewige lewe voor te berei.

En so kom deur die werk van die Heilige Gees dus die kragte van die toekomstige wêreld alreeds in u lewe binne. Die begin van die einde. Alreeds 'n voorskot op die uiteindelike erfenis.

Daarom waarsku Paulus in hoofstuk 4 van sy brief aan die Efesiërs ook, dat ons die Gees van God nie moet bedroef nie, deur wie ons verseël is tot die dag van die verlossing. Die wat nie wil hoor wat die Gees tot die gemeente sê nie, die wat onder die prediking onverskillig bly, die wat waarskuwings ignoreer en vermanings verwerp, is besig om die seël wat Hom aan Christus en die nuwe lewe deur Hom verbind, te verbreek. Die is besig om sy erfdeel te verspeel.

Maar wie 'n oor het om te hoor en die Here deur sy Gees in hom lààt werk, word hoe langer hoe ryker. Sy lewe kry vandag al iets van die glans van die paradys terug.

3. Tot lof van God se heerlikheid- met diè woorde besluit Paulus in Efesiërs 1 sy psalm.

En daarmee wys hy tenslotte op die uiteindelike doel van God se heilsplan, op die uiteindelike doel van Christus se koms in hierdie wëreld en dus ook op die uiteindelike doel van die werk van die Heilige Gees.

Uiteindelik is alles gerig op die lof van God se heerlikheid. Paulus gebruik diè woorde 'n paar maal in hierdie verse.

Waarom het God dus ook u in sy verlossingsplan betrek? Waarom het Hy ook u gekies om sy kind te mag wees? Waarom het Hy sy Gees ook aan u gegee om u soos met 'n seël aan Christus te verbind? Waarom werk die kragte van die Gees as 'n voorskot op die totale verlossing ook in u lewe?

Sodat ons daar voordeel van sou hê?

Ja, maar heel eerste sodat Hy self daar voordeel van sou hê.

Sodat Hy uit u monde weer die loflied op sy heerlikheid sou hoor.

Soos Hy dit in die paradys bedoel het, so moet dit weer word op aarde: 'n wêreld vol mense wat leef om te loof. Wat nie langer hulle self soek nie, maar wat vol is van die lof op hulle God.

Vir diè doel het Christus in die wêreld gekom.

Vir diè doel het die Gees ook u tot geloof in Christus gebring.

Vir diè doel het Hy julle sover gebring dat julle vandag openbaar julle geloof wil bely.

Vir diè doel is die Heilige Gees nog daagliks besig om ons lewe te vernuwe. Ook deur hierdie kerkdiens.

En vir diè doel sal Hy besig bly, totdat ons eendag in volmaaktheid die loflied op God se heerlikheid sal sing op 'n vernude aarde.

AMEN.

(Pretoria, 29 Januarie 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)