Die vuur van die Gees

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 20
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 20 H K

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 106: 1, 2
Gebed
L. 1 Thess. 1 & 5: 12-28
Ps. 89: 6
Prediking
Gesonge Geloofsbelydenis
Doopsbediening
SB. 14
Gebed
Kollekte
Ps. 119: 17, 26, 50
Seën

Broeders en susters,

Toe God op die eerste Pinksterdag sy Heilige Gees op sy kerk uitgegiet het, het daardie klein klompie mense skielik vol vuur geraak: op almal se koppe het tonge soos van vuur verskyn.

Daardie vuur was g'n egte vuur nie. Want dit het selfs nie hulle hare geskroei nie. Daardie vuur was maar net 'n indrukwekkende teken dat die Gees van God by hierdie mense kom woon het. Goddelike vuur het Christus se kerk vervul sonder om hulle te verteer. Want die sondes is nou versoen.

Daardie vurige tonge het lankal weer verdwyn. Wat dit betref het daar in die kerk nie so veel indrukwekkends oorgebly nie.

Nogtans woon daardie vurige Gees nog steeds by ons. En Hy ontsteek steeds 'n vuur in sondige mense. Sodat hulle vurig van Gees raak. Sodat omstanders nog steeds baie beïndruk kan raak.

Maar daardie sondige mense kan die vuur van die Gees ook weer uitblus.

Oor dié vuur gaan ek u vanaand God se Woord bedien.

Dit gaan dus vanaand oor:

DIE VUUR VAN DIE GEES

EK SAL AGTEREENVOLGENS VIR U WYS

  1. WAT DIE VUUR VAN DIE GEES VEROORSAAK,
  2. HOE DIE VUUR VAN DIE GEES ONTVLAM, EN
  3. HOE DIE VUUR VAN DIE GEES UITDOOF

1. Ons het in Paulus se brief aan die gemeente te Tessalonika die waarskuwing gelees dat die broeders en susters daar die Gees die moet uitblus nie.

Die vuur van die Gees was dus duidelik aanwesig in daardie gemeente.

En hoe!

Die apostel het die vuur hoog sien opvlam in daardie stad. Hy het in uitbundige bewoordings daaroor geskryf in die eerste hoofstuk.

Paulus het die egte vuur van die Heilige Gees gesien. Want die egte vuur van die Gees sit nie die hoofde in vuur en vlam nie, maar die harte.

Ons bely in Art. 22 van die Nederlandse Geloofsbelydenis: "Ons glo dat die Heilige Gees 'n opregte geloof in ons harte laat ontvlam. Die geloof omhels Jesus Christus met al sy verdienstes".

Dit is die vuur wat die Gees in 'n mense lewe aan die brand steek: die geloof in Jesus Christus. En hierdie vuur, sê die Nederlandse Geloofsbelydenis vervolgens in Art. 24, laat die mense beslis nie verkil nie. Inteendeel, as die Gees van God sy intrek in 'n menselewe neem, word die geloof 'n hartverwarmende saak.

Dit het Paulus sien ontwikkel in die heidense stad Tessalonika. In 'n baie kort tydjie het die vuur van die Gees daar 'n kleine gemeente in ligtelaaie gesit. Na net drie weke se werke moes Paulus en sy medewerker Silas die stad halsoorkop verlaat, omdat die Jode dit vir hulle onmoontlik gemaak het om die evangelieprediking voort te sit.

Tussen daardie skielike vertrek en hierdie brief het miskien 'n halwe jaar verloop, maar wat het in daardie paar maande die onderwys van net drie weke 'n indrukwekkende uitwerking gekry! Hardnekkige heidene het vokome ander mense geword. Hulle het hulle van die afgode bekeer om voortaan die lewende en waaragtige God te dien. U sal verstaan, broeders en susters, hoe 'n groot ding dit vir daardie mense moes gewees het: om te breek met die gode wat hulle hul lewe lank vereer het en wat in hulle omgewing steeds vereer is. Maar dit het darem gebeur: verstokte heidene het gelowige christene geword wat vuur en vlam geraak het vir die Vader van die Here Jesus Christus.

Ja, die vuur van die Gees het soseer soos 'n steekvlam in daardie gemeente opgeskiet dat die gloed daarvan in die wye omtrek merkbaar geword het. Paulus skryf mos in hoofstuk 1: "julle het voorbeelde geword vir al die gelowiges in Macedonië en Achaje". Meer nog: die vuur het soos 'n veldbrand versprei en weer ander mense aan die brand gesteek. Want, skryf Paulus: "uit van julle uit het die Woord van die Here weerklink nie alleen in Macedonië en Achaje nie, maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan... ".

Alles wat die lewe van 'n christen stempel, was volop in hierdie jonge gemeente aanwesig. "Geloof, hoop, liefde"- Paulus noem aldrie in vs. 3 van hoofstuk 1. Die oorgawe aan die Redder van sondaars, Jesus Christus, die Seun van God; die hoop, die uitsig op 'n nuwe, herstelde lewe met die God en Vader van Jesus Christus; en die liefde tot God en tot die naaste waardeur die hele lewe nou alreeds verander het.

Paulus noem in daardie selfde vs. 3 ook hul "lydsaamheid", hul volharding. Want daar was in Tessalonika dadelik ook kragte wat geprobeer het om die vuur wat daar ontvlam het, weer dood te trap. In vs. 6 lees ons van "baie verdrukking", en uit hoofstuk 2 blyk dit dat die apostel die fanatiese verset van die Jode teen die uitbreiding van die kerk van Jesus Christus bedoel het. Self moes Paulus en Silas onder die druk van daardie verset die stad verlaat, maar die pas-bekeerde kerklidmate het agtergebly sodat natuurlik alle haat teen hulle losgebrand het.

So moes hulle uit die staanspoor ervaar dat die vuur van die Heilige Gees waardeur hulle aangeraak was, ook skeiding en skifting onder die mense teweegbring. Hierdie vuur bring ook verdeeldheid. Die lewe moet die vuurproef ondergaan, want volgelinge van Jesus Christus het baie vyande.

Dit het hulle agtergekom in Tessalonika! Die geloof in die Here Jesus Christus kan 'n mens tot 'n vreemdeling en bywoner in jou eie geboorteplek maak. Jou vroeëre vriende kan jou met die nek begin aankyk en jou op allerhande manier probeer terg en treiter.

Wie weet? Dalk het daardie christene in Tessalonika in sommige gevalle selfs wel van hulle eie familie vervreemd geraak. Ook dit het Christus van te vore laat weet: dit kan gebeur dat ter wille van die evangelie 'n pa opstaan teen sy sen en 'n seun teen sy pa, 'n ma teen haar dogter en andersom.

Maar ten spyte van dit alles het die egte christelike blydskap nie verflou nie, die liefdevuur het nie gedoof nie, die hoop het nie ingesak nie. Inteendeel, die vuur van die Gees het volop bly brand in Tessalonika. Die mense het vurig van Gees gebly. Pleks van dat die vuur stadigaan doodgegaan het, het dit vinnig versprei.

2. Maar hoe het dit alles nou begin? Wat het die vonk laat oorspring? Hoe het die Gees van God die harte aan die brand gesteek?

Dit vertel Paulus in hoofstuk 2: 13: die mense in Tessalonika het, toe hulle Paulus en Silas hoor preek het, hulle boodskap aangeneem nie as 'n woord van mense nie, maar soos dit ook inderdaad is, as die Woord van God.

So het alles begin. Twee apostels het die Woord van God kom verkondig in 'n Griekse stad. Handelinge 17 vertel dat Paulus hulle drie sabbatte aanmekaar gedeeltes uit die Heilige Skrif met die mense daar behandel het. Met allerhande aanhalings het hulle uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan. Hulle het dus gewoon Skriftuurlike preke gehou in Tessalonika. Nie altyd maklike kos nie: 'n mens moes goed luister as jy die draad nie wou verloor nie.

Dit was ook nie juis 'n aangename boodskap wat die Tessalonisense moes aanhoor nie. Paulus en Silas het hulle die waarheid vertel. Maar daardie waarheid was nogal onthullend. Om nie te sê nie: onthutsend.

God se Woord laat 'n mens so in die spieël kyk dat jy tot jou skrik moet agterkom hoe sleg jy eintlik is. Hoe 'n selfsugtige, liefdelose, oneerlike en onbetroubare mens. God se Woord vertel jou dat jy op pad is na die ewige dood toe. En dat daar net een ontsnappingsroete is: as jy jou oorgee aan Iemand wat Homself aan 'n kruis laat ophang het.

Daardie boodskap is vir eiewyse mense boonop 'n snaakse en aanstootlike boodskap: 'n Koning wie se wieg 'n krip en wie se troon 'n kruis was- Hy is die Redder van die hele wêreld. Dié boodskap was vir die Jode in Tessalonika duidelik 'n aanstoot. Hulle het Paulus die mond gesnoer en uit die stad uit gejaag. Maar wat van die heidene? Ook vir hulle was die boodskap van die apostel tog 'n dwaasheid?

Maar kyk hoe het Paulus se evangelie na die mense toe gekom. Vs. 5: dit was nie net wóórde nie; daaragter het 'n krág skuilgegaan, ja, die Heilige Gees het daardie woorde krag bygesit.

En só het die vonk oorgespring! So het die Heilige Gees die harte aan die brand gesteek. So het die vuur begin brand. Deur die eenvoudige, maar indringende boodskap van die Bybel.

Paulus en Silas moes al gou weer padgee. Maar direk was daar ander manne beskikbaar om hulle werk voort te sit. Daar het ampsdraers gekom om soos fakkeldraers die vuur verder te versprei.

Nou maar goed, so werk die Gees van God op aarde, gemeente.

Hy vervul manne om as ampsdraers draers van God se Woord te wees; om die lewendmakende Woord van Christus deur te gee.

So ontsteek Hy 'n vuur op die aarde en maak hy mense vuur en vlam vir die enige lewende en waaragtige God en sy Seun Jesus Christus.

So het Hy tog ook direk op die Pinksterdag begin: die vuurvlammetjies op die koppe van die 120 dissipels van die Here Jesus het eers wel baie indrukwekkend gelyk, met die geluid soos van 'n windvlaag daarby, maar dit was maar net tekens wat al gou weer verdwyn het. Dit het eers reg indrukwekkend geword toe Petrus, vervul met die Heilige Gees, sy mond oopgemaak het, en ook sy Bybel, en vanuit die Skrifte begin aanwys het dat Jesus van Nasaret regtig die Christus, die gesalfde Verlosser van God is.

Toé het die vuur van die Gees om hom heen gegryp en nog daardie einste dag sommer die harte van 3000 mense in vlam gesit.

En so het die Gees van toe af bly werk. Dit is sy werk op aarde: die evangelie van Jesus Christus hoorbaar maak en hoorbaar hou op aarde en mense daardeur tot geloof in die Seun van God bring sodat hulle nie verlore gaan nie maar deur Hom mag léwe. Sodat hulle vandag al gewek word tot 'n nuwe lewe.

Die Gees vervul mense, spesiale ampsdraers, om die evangelie verder te vertel. En oral waar dit gebeur, slaan die vlam oor en raak mense aan die brand vir God.

So het dit tog ook in ons lewens gegaan?

Die meeste van u het van kleins af die Heilige Skrifte leer ken. Die Heilige Gees het allereers pa en ma ingeskakel wat met baie geduld en aanvanklik in alle eenvoud vir ons geleer het om te luister na dit wat die HERE oor Homself in die Skrifte sê. Hulle was die eerste wat die vuur van die Gees mog oordra. Daarna het die onderwysers in die skool dit aangevul. Ons het 'n eie Bybel gekry en geleer om daaruit te lees, terwyl ons weekliks in die kerk vanuit die Skrifte onderrig is, sowel sondags in die prediking as op weeksdae in die katkisasieklas.

En so werk die Gees nog steeds in ons lewens. So voorsien Hy ons aanhoudend van nuwe brandstof om ons brandende harte vir God te laat hou.

Die dominee, ouderlinge en diakens bly die Woord van God aan u voorhou, nie as 'n woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die Woord van God.

U hou dié Woord aan mekaar voor, in onderlinge gesprekke, in 'n vermaan onder vier oë, in die vereniging waar u die Bybel bestudeer.

So maak en hou die Gees van God vandag steeds mense vurig van Gees en maak Hy hele gemeentes tot 'n hartverwarmende energiebron vir hul omgewing. Die Gees self bly onsigbaar. Maar die resultaat van sy werk skiet orals in die wêreld telkens weer soos 'n steekvlam op. Eeuelank al. Die vuur bly brand.

3. Ons moet dus suinig wees op hierdie vuur, gemeente. Want dit kan gebeur dat ons hierdie vuur weer uitblus.

Die vuur van die geloof bly nie soos vanself brand nie. Dit kan weer doodgaan.

En dit is 'n gevaar wat ons almal aanhoudend bedreig. Ook mense wat hulleself aanvanklik met brandende harte aan Jesus Christus oorgegee het, kan lou word en verkil.

In daardie geval moet ons die skuld nie by die Gees soek nie maar by onsself.

As Paulus in sy brief aan die Tessalonisense waarsku om die Gees nie uit te blus nie, dink hy allereers aan die ampsdraers in die kerk. Hulle is die eerstes wat die vuur moet deurgee. Maar hulle kan die skuld daarvan word dat die vuur in die gemeente juis verdoof.

As 'n dominee self nie meer gegrepe is deur die Woord wat hy mag bring nie- as hy nie meer vurig van Gees die evangelie verkondig, vanaf die kansel en in die huise, nie, sal sy preke miskien God se Woord nie weerspreek nie, sal sy katkisasieklasse getrou volgens die leer van die kerk wees en sal hy by sy besoeke in die gemeente nie 'n verkeerde woord sê nie- maar die vonk wat moet oorspring is net nie daar nie en die gemeente word nie meer aan die brand gesteek nie.

As die ouderlinge wel op 'n reëlmatige basis hulle huisbesoeke bring, maar daarby maar min besieling aan die dag bring, weinig indringend en sonder vuur in die gesinne praat oor die lewe met die Here, dog 'n bietjie oppervlakkig hul tyd volpraat- sal hulle werk nouliks enige geesdrif by die gemeentelede bewerk. As daar nie vol vuur oor die heiliging van die lewe gepraat word en oor die toewyding aan die diens van ons God nie; as daar nie indien nodig ook met krag op bekering aangedring word nie, werk die ampsdraers dit self in die hand dat die lewe van die gemeente lou word.

As 'n diaken nie mooi weet wat om by die mense te moet sê nie en hoegenaamd nie blyk gee van entoesiasme of vreugde in sy ampswerk nie, is dit g'n wonder nie dat daar in die gemeente maar min interesse vir die onderlinge hulpverlening en die diens van barmhartigheid gevind word.

So word die Gees in die gemeente uitgeblus, as die ampsdraers oënskynlik nog wel doen wat van hulle verwag word, maar self nie meer vuur en vlam vir hulle ampswerk is nie.

Maar die waarskuwing om die Gees nie uit te blus nie, kom vervolgens ook tot u almal, broeders en susters.

Behalwe die ampsdraers kan ook die lidmate self die skuld daarvan wees dat die vuur in die kerk, of in hul lewe insak en daar hoogstens nog smeulende reste oorbly.

Dit kan bv. gebeur as u uself nie meer aan die brand laat steek deur die vuur wat u ampsdraers vanaf die kansel en tydens hul besoeke by u tuis kom aandra nie. Met ander woorde: as u die Woord wat hulle in opdrag van die Heilige Gees aan u voorhou, nie meer met blydskap as die Woord van God aanneem nie.

Dit gebeur as daar gewenning ontstaan in u sondagse kerkgang en die feit dat God se Woord weer aan u verkondig word, geen vreugde meer by u veroorsaak nie; as u oor allerhande flou verskonings uit die kerk tuisbly; as u oppervlakkige luisteraars word wat nog maar net saamneem wat u direk aanspreek maar die meeste aan u verby laat gaan en dit veels te moeilik vind om by die huis die gehoorde Woord nog 'n slag te lees, saam te bespreek; as u dit meer as genoeg vind om sondags een of twee preke te hoor en daarom nie lus is om op 'n weeksdag nog 'n keer met u broeders en susters saam 'n gedeelte van God se Woord te bespreek in verenigingsverband nie; as u dadelik gereedstaan met die blusapparaat sodra daar in die preek of tydens 'n besoek van die ampsdraers dinge gesê word waarvan u nie hou nie omdat u lewe konkreet onder vuur geneem word- dan is u besig om die bevrydende vuur van die Gees uit te blus.

En hoe dwaas is dit om die vuur van die Gees dood te trap! Want wie nie wil hoor na dit wat die Gees tot die gemeente sê nie, sal die verwarmende vuur uit sy lewe sien verdwyn. 'n Ysige vrieskou lê hom dan oor die lewe en aan die einde van die dag kom daar 'n ander vuur van die Gees, waarvan u nog veel minder sal hou: die verterende vuur van God se toorn. Die vlamme van die hel.

Gemeente, ons vier vandag die Pinksterfees. Die fees van die uitstorting van die Heilige Gees. Die vuur het gaan brand op aarde, vanuit Jerusalem uit, maar eintlik moet ek sê: vanuit die hemel uit. Daardie vuur het ook u en my bereik en aan die brand gesteek. Om ons tot in ewigheid te verwarm in 'n lewe met God en met Christus.

Laat ons dan daardie vuur aanwakker. Laat ons ons beywer vir 'n kerk vol vurige mense wat soos lopers in 'n afloswedstryd die vuur van die Gees verder dra, na ons omgewing toe, na die eindes van die aarde toe, maar veral: na die einde van die dae toe. Want daar wil die Gees mos met ons na toe- na die dag waarop die groot vuur voor God se troon ontsteek kan word.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)