Die koninklike aktiwiteit van Christus in die hemel

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 19
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 19 H K

LITURGIE:
Votum en seëngroet
SB 8: 1, 2
Gebed
L. Openb. 1: 4-8 & 5: 1-14 & 22: 6-13
SB.43: 5
Prediking
SB.39: 1, 3, 4
Geloofsbelydenis
Ps. 2: 6
Gebed
Kollekte
Ps. 96: 2, 6, 9
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Toe ons verlede Donderdag die hemelvaart van ons Here saam gevier het, het ek vir u mog aanwys hoedat Hy ook na sy hemelvaart steeds ons belange bly behartig. As ons Hoëpriester het Christus deurgedring tot in die binneste heiligdom in die hemel waar Hy nou elke dag tot 'n Groot Versoendag maak. Daagliks bedek Hy ons skuld by ons hemelse Vader. Daagliks bring Hy ons ook die seën van ons Vader.

Veral die brief aan die Hebreërs belig vir ons hierdie priesterwerk van Christus.

Al die Hoëpriesters voor Hom, in die Ou Verbond, moes dadelik weer verdwyn uit die Allerheiligste. Hulle mog net vir 'n oomblik binne die agterste voorhangsel kom om hul offerbloed aan te bied. Daarna moes die gordyn weer 'n hele jaar lank ondeurdringbaar toe bly.

Maar ons Hoëpriester het, toe Hy sy offerbloed aan God kom aanbied het, in die hemel gebly. Hy het sommer langs God gaan sit om daar voortaan direk by die Vader ons belange te behartig.

Die stoel waarop ons Hoëpriester aan God se regterhand gaan sit het, is egter nie 'n leunstoel nie. Dit is die hemelse troon. Want die hemel is geen vakansieoord nie, maar die regeringsentrum van God se Koninkryk.

Ons Heiland het dus na sy hemelvaart sommer in die hart van die kontrolesentrum tereg gekom vanwaaruit die hele wêreldgeskiedenis bestuur word.

En nie as 'n belangstellende toeskouer nie: God het die hele beheer daaroor sommer in sy hande gelê. Omdat Hy ons sondes op Hom wou neem, mag Hy nou ook die verdere sorg vir ons op Hom neem. Omdat Hy ons Priester wou word, mag Hy voortaan ook ons Koning wees.

Daarvoor vra vanaand Sondag 19 van die Kategismus aandag. Het ons in Sondag 18 gehoor van Christus se werk as Priester in die hemel, vandag fokus ons op

DIE KONINKLIKE AKTIWITEIT VAN CHRISTUS IN DIE HEMEL

ONS KYK NA DRIE DINGE:

  1. HY REGEER AAN GOD SE REGTERHAND
  2. HY HELP SY KERK
  3. HY KOM OP DIE WOLKE.

1. Een van die Bybelboeke waarin die duidelikste en die uitvoerigste oor Christus se koninklike aktiwiteit in die hemel vandag vertel word, is die Openbaring aan Johannes waaruit ons vanaand 'n aantal gedeeltes gelees het.

Ons het hoofstuk 5 heeltemal gelees.

Johannes is gedwing om hom vir 'n oomblik in te dink hoe dit sou wees as Christus nie daar sou wees nie. Hy mog 'n rukkie toeskouer wees in die hemel, in God se regeringsentrum. Hy het God op die troon sien sit, engele rondom sy troon, verteenwoordigers van die kerk ook.

Maar daar was op daardie oomblik 'n ondraaglike spanning in die hemel.

Want in God se regterhand het 'n boekrol gelê. Daarin het God se planne met die wêreld gestaan en veral sy bestemmingsplan met sy kerk.

Alles het haarfyn daarin gestaan.

Maar... dit kon nie daaruit kom nie. Die boekrol was toe. Hermeties gesluit met sewe seëls. God se program kon dus nie afgewikkel word nie.

'n Engel het sy magtige stem tot in alle uithoeke van die hemel en die aarde laat skal: "Wie is bevoeg om die seëls van hierdie boekrol te verbreek en sy inhoud te ontsluit? " Maar die reaksie was 'n doodse stilte. Niemand nie.

Moes die geskiedenis so eindig? Was die toekoms vir God se volk afgesny? Geen nuwe aarde, geen nuwe Jerusalem, geen nuwe Paradys nie? Die trane het Johannes in die oë gespring.

Johannes se paniek was egter nie nodig nie. Iemand stel hom gerus en kondig aan dat daar 'n Leeu gaan wees wat die geskiedenis namens God gaan voltooi.

'n Leeu- hoe sterk!

Wat Johannes vervolgens sien, is egter 'n Lam- hoe swak! Boonop was daardie Lam geslag gewees.

So verskyn ons Here Jesus Christus in beeld in daardie visioen. As die Priester wat self die offerlam wou wees. As die versoener van ons sondes.

Maar juis dié hoedanigheid maak Hom by God waardig, bevoeg, om uit God se hand daardie boekrol aan te neem. Hy mag die geskiedenis na sy voltooiing lei. Hy mag langs God op die troon gaan sit en aan God se regterhand regeer.

Daardie uitdrukking "aan God se regterhand" is in die Bybel veelseggend, broeders en susters. Dit beteken meer as maar net dat dit 'n ereplek is.

In die Ou Testament het ons die regterhand van God leer ken as die instrument waarmee Hy nog aanhoudend ingryp in die wêreldgebeure. As daar van God se regterhand gepraat word, beteken dit dat God in aksie kom. Dit is sy regterhand waarmee Hy regeer, ingryp, sy kinders te hulp kom en sy vyande vernietig.

Ons kan sê: in daardie regterhand is God se voorsienigheid gekonsentreer waarvan ons in Sondag 10 H.K. belydenis gedoen het. Daar gebeur niks per toeval nie, maar alles kom uit sy hand. Ja, Hy het in alles die hand.

Maar as God dan self vir ons laat weet dat Hy ons Here Jesus Christus vanaf sy hemelvaart aan sy regterhand laat sit het- wat kan dit dan anders beteken as dat God nou nooit meer in aksie kom buiten Christus om nie! Voortaan regeer die Vader alles nog slegs deur Christus. Christus regeer nou aan God se regterhand. Christus laat daardie hand nou in aksie kom. Voortaan het ons Priester-koning in alles die hand.

Dit klink veelbelowend vir ons, gemeente.

Maar wat is die werklikheid?

Toe Christus die boekrol van God aangeneem en oopgemaak het, was dawerende eksplosies die gevolg. Afskuwelike rampe het uit daardie boekrol gerol en die aarde geteister.

Johannes het dit alles sien voltrek in beelde: perde wat oor die wêreld gedraf het om dood en verderf te saai: oorlog en terreur, misoeste en hongersnood.....

Johannes het natuurrampe sien gebeur, bos- en veldbrande, waterbesoedeling.....

Hy het gesien hoedat 'n gevalle ster die put van die afgrond oopgemaak het om die smerige walm daaruit te laat opstyg. Satan mag die lug verpes, beteken dit.

Satan mag die geeste benewel.

En toe het Johannes, soos eendag die profeet Joël, uit daardie walm sprinkane sien optrek, maar hierdie sprinkane het nie op die bome en plante toegesak nie, maar op die mense: duiwelse gedagtespinsels oorstroom die mense en maak die lewe onleefbaar.

Johannes het ook 'n dier uit die see sien opstyg, gevolg deur 'n dier uit die aarde en hulletwee het dadelik 'n bondgenootskap gesluit: 'n wêreldmag waarin die duiwel baas is en waarin daar vir God en Christus en sy kerk geen plek is nie. 'n Maatskappy van die mens wat geen God bo Hom meer benodig nie, omdat daardie maatskappy self alles het en kan lewer wat 'n mens se hebsugtige en selfsugtige hart begeer. En 'n afvallige kerk dryf die mense aan tot 'n afgodery met hierdie wêreld sonder God.

En die ware kerk, Christus se bruid?

Sy word al hoe meer in 'n hoek gekeer en doodgedruk!

Dit alles het Johannes sien ontwikkel vandat Christus die boekrol begin afwikkel het: ellende op ellende.

Moet ons dus aanvaar dat al die ellende waarvan die wêreld vandag vol is, wat ons elke aand op die nuus kan sien of hoor en waarmee die koerante volgeskrywe staan- dat ons Here Jesus Christus in dit alles die hand het? !

Aardbewings en vulkaanuitbarstings soos onlangs, die rasseonluste in Amerika, maar ewegoed die wreedhede in die swart woongebiede in ons eie land, die politieke en ekonomiese krisis waarin ons land verkeer, die opmars van allerhande sektes en die toenemende ontkragting van die gesag van God se heilige Woord, die gees van rewolusie en kommunisme- is dit dus alles Christus se werk? !

Is dit die resultaat van Christus se regering aan God se regterhand?

Ja, gemeente, ons Here Jesus Christus het dit self duidelik so aan die apostel Johannes gewys. Hy het in dit alles die hand en dit ruk nie 'n oomblik hand-uit nie. Lees ook maar elke keer in die boek Openbaring: by al die verskriklikhede wat die duiwel met sy trawante teweegbring, staan daar: "En daar is aan hulle gegee...... ". Die duiwel kan uit homself niks doen nie. Dit is ons Koning by God op die troon wat hom in toom hou. En eers as Christus skietgee, kan die Bose sy kwaad aanvang. Maar Christus géé die leisels skiet!

Maar waaróm laat Christus dit alles gebeur, broeders en susters? Hoekom laat Hy soveel ellende oor ons lewe losbars? Weet Hy dan nie dat ons, sy broeders en susters, mee swaarkry nie? Ja, dat ons dikwels selfs die meeste swaarkry?

U Koning weet dit natuurlik baie goed. Maar Hy voer maar net die planne van sy Vader uit waardeur Hy tot 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde wil kom.

God skakel al hierdie ellende in om die mense op aarde tot 'n al hoe radikalere keuse vir of teen Hom te dwing. Dit moet al hoe duideliker word aan watter kant 'n mens staan: aan God se kant of aan die duiwel se kant.

Onthou u nog wat ons gelees het uit die laaste hoofstuk van die Openbaring? "Wie onreg doen, laat Hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word. Maar laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word". Die ontwikkelinge in die wêreld en in die kerk maak halfheid en slapheid al hoe meer onmoontlik. Elkeen moet meer en meer sy ware gesig wys en blootgee waar hy met sy hart sit: by God in die hemel, of by die skatte van hier benede. Die situasie sal jou vanself daartoe dwing!

2. Maar hoe gaan ons dit volhou, broeders en susters? Vandag gaan dit met ons miskien nog nie te sleg nie. Maar ons weet klaar uit die kerkgeskiedenis dat dit ondraaglik moeilik vir God se kinders kan word. En dus moet ons maar daarop voorbereid wees dat dit opnuut vreeslik moeilik kan word.

Christus het ons deur middel van sy Openbaring aan Johannes laat weet dat daar van ons 'n volharding tot die dood toe gevra kan word. En dit klink soos 'n refrein deur die visioene: "hier blyk die volharding van die heiliges"- hier moet aan die lig kom watter mens regtig tot die heiliges behoort; slegs hy sal tot die dood toe volhou om sy Here in die hemel te bely en te gehoorsaam.

Maar wie van ons is so sterk?

Johannes het die engele ook hoor roep, en dit was nota bene op die dag toe Christus na die hemel teruggekeer en sy plek op God se troon ingeneem het: "Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het".

Wie van ons kan teen die duiwel standhou? Ons is mos so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie!

Maar wanneer Christus as Koning in die hemel dit vir ons op aarde so moeilik maak, gemeente, laat Hy ons nie aan ons lot oor nie. Alhoewel Hy die Koning van die hele wêreld geword het, het Hy die Hoof van sy christelike Kerk gebly.

Hy bly nog die nouste met ons verbonde.

En terwyl Hy ons aan die een kant beproef en laat swaarkry, help en beskerm Hy ons aan die ander kant. Met ons beperkte aardse kragte sou ons lankal beswyk het. Maar Hy sorg vir 'n oop verbindingskanaal tussen Hom en ons waardeur Hy hemelse gawes in ons uitgiet.

Sy Heilige Gees vorm daardie verbindingskanaal. Christus se Gees skenk ons vanuit die hemel die geloof waardeur ons in alle droefheid en vervolging nie kortsigtig en moedeloos raak nie, maar met opgehewe hoofde bly soek wat daar bo is. Die Gees van Christus maak ons so moedig en vrymoedig dat ons ons Here en Heiland bly bely en sy gebooie bly bewaar al weet ons ook dat dit ons ons vryheid ken kos, en dalk selfs ons lewe.

Die Heilige Gees skenk ons offerbereidheid en vertroue, Hy bewaar ons vir opstandigheid en mismoedigheid.

U weet tog waar hierdie verbindingskanaal met die hemel bo ons hoofde oop staan, broeders en susters? In die kerk. Daar giet ons Here in die hemel sy hemelse gawes in ons uit om ons te help.

In u ampsdraers kom daardie gawes konkreet na u toe. Moet maar kyk wat Paulus ook geskryf het in sy brief aan die gemeente te Efese, hoofstuk 4: toe Christus na die hemel opgevaar het, het Hy gawes agtergelaat vir die mense op aarde. Watter gawes? "Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars.... ".

Dominees op die preekstoel, in die katkisasiesaaltjie, op siekebesoek, ouderlinge wat u kom vertroos, bemoedig en teregwys, diakens wat u in u lewensnood kom bystaan, sendelinge wat die oë van heidene oopmaak vir die terreur van die duiwel- daarin bewys u Koning vandag konkreet sy hulp aan u vanuit die hemel. Daardeur hou Hy hier op aarde 'n volk in stand wat nie deur die duiwelse lugbesoedeling verstik word nie, wat nie deur die sataniese sprinkaneplaag kaalgevreet word nie, wat nie kniel voor die beeld van die dier nie; 'n volk wat bereid is om die boikot van hul besigheid en hul inkopies te aanvaar en as dit moet wees getrou te bly tot in die dood. 'n Volk wat onder swaarkry en leed nie verbitterd raak nie, maar hulleself verneder onder die hand van hul Here, sodat Hy hulle endag kan verhoog. Hulle word al hoe heiliger

Niemand kan hierdie verbindingskanaal met die hemel afsny nie. Niemand kan dit keer dat die Gees van Christus met die hemelse gawes ons bereik nie.

Selfs as die kerk so vervolg en bedreig word dat sy gedwing word om haarself 'n tyd lank ondergronds skuil te hou, bly die energie uit die hemel haar bereik. En nie druppelsgewys nie, dit stroom toe. Christus bly sy gawes uitgiet, soos die Kategismus sê.

Johannes het in hoofstuk 11 van die Openbaring wat hy opgeteken het, vertel hoedat hy die kerk soos 'n kandelaar gesien het: 'n ligbron in hierdie wêreld. Maar daardie kandelaar was terselfdertyd 'n olyfboom. Met ander woorde: die olyfolie wat nodig is om die kandelaar aan die brand te hou, is altyd voorradig. Hierdie kandelaar is selfversorgend. Maar daarom kan dus ook niemand die olietoevoer afsny nie. Wat die duiwel ook probeer, dit gaan hy nie regkry nie. Want die wortels van die olyfboom staan in hemelse bodem. Christus in die hemel versorg sy kerk op aarde met die noodsaaklike energie.

En so bly daar op aarde 'n kerk wat in die grootste smarte haar Here in die hemel weet en Hom uit die hemel verwag.

3. Ja, want eendag sal alle ellende verby wees. Christus gaan weerkom uit die hemel en ons vir altyd by Hom neem in die hemelse blydskap en heerlikheid.

Met dié boodskap mog Johannes sy boek vol visioene begin: "Kyk, Hy kom met die wolke en elke oog sal Hom sien".

Soos Hy met die wolke van die hemel heengegaan het, so kom Hy weer. Om sy troon dan te verplaas van die hemel na die aarde en sy ewige vrederyk te voltooi.

Hy kom- die werkwoordsvorm wat Johannes gebruik, beteken: Hy is besig om te kom. Vandat Christus na die hemel toe gegaan het, het Hy sy terugkoms al begin voorberei. En alles wat vandag op aarde plaasvind, moet op die een of ander manier daaraan meewerk dat Hy eendag (of miskien: al vandag? ) kan weerkom. Alles werk mee ten goede vir die wat Christus liefhet.

"Elkeen sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het", skryf Johannes.

Daardie woorde klink dreigend vir al Christus se vyande. Want Johannes dink natuurlik nie net aan daardie een Romeinse soldaat wat op Golgota in Christus se sy gesteek het om te kyk of Hy regtig al dood was nie.

Daardie doodsteek was 'n simboliese daad. Dit was die beseëling van die veragting en verwerping wat Jode en Romeine vir hierdie Jesus van Nasaret gehad het.

Op so'n manier is ons Here daarna nog male sonder tal in die hart gesteek. Deur mense wat met Hom en sy kerk gespot het, wat sy Naam en sy kerk van die aarde probeer uitroei het. Hulle het Christus opnuut gekruisig, sê die Skrif ook êrens.

Maar eendag verskyn ons Here as die Koning van die ganse aarde op die wolke en dan sal al daardie spotters sien Wie hulle verag en verwerp het. Maar dan is dit te laat. Dan kan hulle huil en jammer, maar God se tienduisende engele sal die strate en paaie afset en hulle bymekaardryf om afgevoer te word na die hel.

Maar wat dan van ons, broeders en susters? Is ons so veel beter? Het ons ook nie dikwels ons Here in die hart gesteek nie? Was ook ook nie maar dikwels slap, lui, lafhartig, ongehoorsaam nie?

Ja, maar as u dit van uself maar alte goed weet en dit ook voor u Here in die hemel met skaamte bely, mag u glo: daardie Regter wat besig is om te kom met die wolke- Hy is nogtans my Redder. Vir my het Hy Hom laat deursteek. Hy het reeds al die straf gedra wat elk verdien het. As ek Hom nie verag nie, maar verwag, word sy koms vir my en sy hele volk die dag van die groot verlossing.

"Kyk, Ek kom gou!", het Christus aan die einde van sy Openbaring aan Johannes gesê. Ons het dit gelees. Maar hoe lank gelede was dit inmiddels? En nog nooit was Hy terug nie. Gaan Hy nog wel kom?

Maar onthou u nog dat ons ook gelees het, sowel in die eerste as in die laaste hoofstuk van die Openbaring, dat Christus gesê het: "Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde"?

Ons sê soms: Wie A sê, moet ook B sê. Maar ook as iemand wat A gesê het, B sê, en dus aangaan met die ding waarmee hy eenmaal begin het, is dit maar moeilik om tot by die Z te kom. Christus is egter die eerste en die laaste letter van die alfabet, die Alfa en die Omega. Dit wat Hy begin, voleindig Hy ook. Hy hou sy woord, end-uit.

Laat ons Hom dan ook maar aan sy Woord hou.

Laat ons maar besef dat elke dag die laaste dag kan wees. AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)