Die Here Jesus verteenwoordig in die hemel al God se beloftes

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 18
Preek Inhoud: 

09-05-91

SONDAG 18

Hemelvaartsdag

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 24 : 1, 4, 5
Gebed
Skriflesing: Lukas 24 : 46-53, Handelinge 1 : 1-11
Kategismus : Sondag 18
Sing: SB. 11 : 1, 2, 3, 5
Preek
Sing: Ps. 47 : 3
Geloofsbelydenis
Sing: Ps. 47 : 4
Dankgebed
Kollekte
Sing: SB. 28 : 1, 2
Seën

Gemeente van ons Here wat opgevaar het na die hemel,

40 dae lank, so het ons in die Evangelie gelees, het Jesus aan sy dissipels verskyn. In die 40 dae het Hy met hulle oor "die dinge van die Koninkryk van God gespreek". Hoe anderste was dié 40 dae aan die einde van sy werk op aarde! Want ook by die begin van sy werk op aarde was daar 40 dae en nagte: waarin Hy versoek is deur die duiwel. Toe was Hy alleen saam met die duiwel, nou is Hy saam met sy dissipels! Die begin van die versameling van gelowiges is daar. Toe het dit gelyk asof alle mag in hande van die satan is; nou is dit duidelik: Hy het alle mag in die hemel en op aarde! Toe, by die begin van Jesus se werk, het die duiwel Hom die Koninkryke van die aarde aangebied. Maar nou het die Here die Koninkryk van die hemel op aarde begin bring!

Toe het die môre gekom waarop ook die laaste 40 dae en nagte verby is. Dit was 'n dag in die midde van die week. Dis die môre waarop Jesus die nuwe tydperk begin het: die groot tydperk van sy Koningskap wat Hy in die hemel en dan ook vanuit die hemel begin het. Op hierdie môre, midde in die week, mag ons saam as sy kerk die hemelvaart van ons Here gedenk. Ons wil baie graag die Evangelie hoor: om die Heer te kan aanbid en in die geloof gesterk te word. Ons belydenis sal ons help om in sondag 19, aanstaande Sondag, na sy werk in die hemel te kyk. Nou mag u met behulp van die 18de sondag besonders na sy persoon kyk: die Here Jesus Christus wat voor die oë van sy dissipels van ons aarde af na God se hemel opgeneem is. Ek bedien u die evangelie:

DIE HERE JESUS VERTEENWOORDIG IN DIE HEMEL AL GOD SE BELOFTES

Ons sien dit in

  1. die sigbaarheid van sy hemelvaart,
  2. die menslikheid van sy hemelvaart,
  3. die tydelikheid vas sy hemelvaart.

1. ONS HERE JESUS SE SIGBARE HEMELVAART

Die mooi aksent wat Lukas in sy vertelling van die evangelie gee is: "Jesus het sy hande opgehef en sy dissipels geseën. En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem" (24:50-51). Terwyl Hy hulle seën: Jesus se hande is opgehef. Die gebaar wat ons as predikante nou nog in God se naam mag maak, was die voorreg van die priester. Maar ook konings soos Salomo het die volk so geseën. Byvoorbeeld toe die tempel oopgestel en ingewy is. Die enige andere keer dat ons Jesus se seënende hande soen, is as Jesus die klein kinders die hande opgelê en geseën het. Toe het Hy sy hande op die kinderkoppies gelê. Nou is Hy die priester wat Koning oor sy mense geword het. Sy eie volk, sy kerk wil Hy as afskeid seën. So sien hulle Hom: Hy hou sy hande oopgesprei omhoog, terwyl Hy opvaar. So mag ons Hom onthou: die gebaar wat u mag onthou is sy hande wat die gelowiges aanhoudend seën.

In die vervolg op die evangelie, in Handelinge, skryf Lukas nie bloot herhaling nie. Ja, sy tweede boek begin opnuut by die Here Jesus se hemelvaart. Maar nou vertel hy eerste samevattend: "nadat Hy dit gesê het, is Jesus opgeneem terwyl hulle dit sien" (1:9). Die dissipels sien gebeur dat hul Heer opgeneem word en in die lug verdwyn. Hulle staan en kyk, ook as Jesus lankal uit die sig verdwyn het. Asof die dissipels nie kan glo dat Hy weg is nie. Dit beteken: die mense wat die Here persoonlik so goed geken het, hulle sien Hom opvaar. Hulle is getuies: Hy is die Here. Die dissipels het Hom in die veertig dae dikwels ontmoet. Hulle is daarvan oortuig dat Hy wat die jare met hulle gewerk het, wat gesterf het, wat opgestaan het uit die dood. Dis Hy met wie hulle nou net nog gepraat het. Jesus se sigbare hemelvaart het die duidelike betekenis: Hy wat tydens sy werk so baie beloftes namens God gegee het, Hy wat sy werk volbring het, is dieselfde wat nou na die hemel gaan.

Dis nie net sy vertroude persoon wat die waarde van die sigbare hemelvaart uitwys. Ook die plek wat Jesus uitgekies het, sê baie. Na die laaste gesprek, vertel Lukas in sy evangelie, het Hy "hulle uitgelei tot by Bethanië". In sy boek Handelinge het Lukas geskryf dat dit almal op die Olyfberg wat naby Jerusalem is, gebeur het. Dieselfde Olyfberg het in die laaste weke 'n groot plek in Jesus se werk ingeneem. Dis hier dat Hy sy intog in Jerusalem begin het, toe die Jode die rabbi van Nasareth entousiasties in hul stad ingehaal het. "Hosanna, geseënd is die koning wat kom in die naam van die HERE, vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele", het hulle geroep (Luk. 19:38). Die het gebeur, sê Lukas, "toe Hy al naby die afdraand van die Olyfberg kom". Toe en daar het die volk Hom koning genoem.

Die Olyfberg: dis waar die Here Jesus in die laaste dae gekom het om te bid. Hier is mos die hof Getsemane. Op die hange van die berg het Jesus in gebed met die swaar taak gestry. Dis waar u Heer om u ontwil sy hoof vir Vader se wil gebuig het. Hier het Jesus op daardie laaste dag van sy aardse werk opnuut gekom. Die Koning van die Jode is op 'n hoogtepunt deur sy volk op die esel gehuldig. Die Koning van die Jode het op die dieptepunt God op sy knieë gesmeek. Hierdie selfde Olyfberg kies Hy sy vertrekpunt: om as Koning na die hemel op te vaar. Ook die plek van sy hemelvaart beklemtoon hoe ons Here sigbaar na die hemel opgevaar het: Hom wat oorwin het en nou koning oor mense soos ons is, kan wees.

Hierdie evangelie vat die kerk kort saam in die woorde van v/a 46: ek glo dat Christus voor die oë van sy dissipels wat Hom persoonlik geken het, van die aarde na die hemel opgeneem is. Sy persoon: so menslik, so werklik. En teselfdertyd: so goddelik, so sterk.

2. ONS HERE JESUS SE MENSLIKE HEMELVAART

Meestentyds praat ons van Jesus se liggaamlike hemelvaart. Daarmee wil ons beklemtoon: die werklikheid van sy liggaam wat opgestaan het uit die dood én wat Hy na die hemel saamgeneem het. Maar daardie woord "liggaam" sê mos: sy mens-wees. So sê v/a 49 ook dat ons in Hom "ons menslike natuur" in die hemel aanwesig weet. My menslike natuur: ek het nie 'n ander een nie. Jesus is die eerste mens wat in die hemel is! Ons het mos geleer: sy menslikheid omvat dieselfde soos joune. Het het "vlees en bloed" soos ons geword: dis liggaam én gees, 'n komplete mens. So het Hy na die hemel opgevaar op die dag midde in die week.

So verteenwoordig Jesus 'n hele paar beloftes. In die eerste plek is Hy wat ons Broer is, by die Vader ons voorspraak. Uit die evangelie het u Hom leer ken: die Herder wat om die skape omgee, die profeet wat so sagmoedig en so skerp die Woord gebring het, die man van smarte wat so baie liggaamlik en psigies siekes genees het. Hy wat op aarde so dikwels hardop en stil vir ons gebid het. So mag u Hom ken, asof u Hom persoonlik leer ken het. Hy wat in al sy menslikheid opgevaar het: dis Hy wat vir die sondes, ons sondes gely en gesterf het en wat verheerlik opgestaan het uit die dood, die dood wat vir ons bestem was. Hy is dieselfde wat nou in die hemel langs die Vader sit en Hom saanspreek: pleitend, biddend as 'n broer vir sy volk. Die werklikheid van sy lewe, van my lewe, verteenwoordig Hy nou daar.

Sy menslike hemelvaart: dit sê tweedens dat mense welkom in die hemel is. Hy is mos daar! Nee, ons liggame kan nie daar kom nie. Ons liggaamlike bestaan is nog aan die dood onderwerp. Om sy oorwinning op die dood is dit Hom bespaar. Hy het nie in die graf gebly nie. Daarom mog Hy met sy verheerlikte mens-wees in God se hemel kom. Maar ook sonder u liggaamlike bestaan is u mens. Of ek kan beter sê: ook sonder my tastbare mens-wees wil God my siel aanvaar. Hy sal my mens-wees in die deel van my bestaan vashou. Jesus is mos daar by God. U mag weet: ek is welkom in God se hemel, selfs al is ek deur die dood nie kompleet meer nie. Dan is die derde belofte wat in ons Here se hemelvaart vaslê: ook vir my sal God 'n verheerlikte liggaam gee. Die belofte wat in Jesus se opstanding uit die dood spreek, is in sy hemelvaart vasgelê: die liggaam is en bly vir mense belangrik. By Jesus se weerkoms sal die mens nuut en kompleet word soos Hy nou alreeds is. Die eerste mens, Jesus, is vir almal die bewys.

By Hom in die hemel is daar ons geliefdes wat in die geloof gesterf het. Hulle is by Hom: hulle siele is in God se hand hul mens-wees soos u dit geken het. Hulle is by Hóm wat God se groot belofte in sy eie persoon wys, naamlik dat God al die mense wat in hun Heer gesterf het, liggaamlik uit die dood sal opwek.Al die beloftes in Hom in die hemel teenwoordig deur sy hemelvaart as die mens: die Mens wat alreeds op aarde ons voorspraak was, wat maak dat mense welkom in God se hemel is en wat die gelowiges sal verheerlik soos Hy verheerlik is.

Van die verheerlijkte liggaam weet ons uit Paulus se 1ste brief aan Korinthe. Daar praat Hy van "die geestlike liggaam" wat ons Here alreeds het en wat die gelowiges sal kry. 'n Geestlike liggaam: dit is nie 'n vae, ongrypbare skaduwee nie. Nee, dit word werklik 'n liggaam genoem. Die groot verskil met die swak, liggaamlike bestaan wat ons nou het, is: dit sal dan nie net van asem lewe nie, maar heeltemal deur die krag van die heilige Gees. Ja, die Gees sal maak dat die liggaam nie meer sterflik is nie: soos Jesus s'n nou nie meer sterflik is nie. Maar dis werklik, soos Jesus werklik nog veertig dae lank met sy dissipels gesels en geëet en gekuier het. 'n Geestlike mens: dit is Hy wat op 'n dag in die week na die hemel opgevaar het.

Dit is die krag van die godheid van die Seun wat maak dat sy mens-wees in die hemel van so groot waarde is. Die Godwees 'kan deur niks ingeperk en gehinder word nie, maar is orals teenwoordig'. Die menslikheid van die hemelvaart van my Here kry deur die krag van die Seun dié sterk betekenis: dat al God se beloftes waar is. Sodat jy kan glo, Hom kan liefhê en kan aanbid. Sodat ook dit waarde in jou lewe het:

3. ONS HERE JESUS SE TYDELIKE HEMELVAART

Voordat Jesus na die hemel opgevaar het, vertel Matteus, het Hy die pragtige woorde gespreek: "Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld" (28:20). Met die woorde het Matteus sy boek oor die Here besluit. Nee, Matteus vertel nie die gebeure van die hemelvaartsdag nie. Maar wel daardie woorde wat Jesus kort tevore gespreek het. Noudat ek nie een teks as preekteks het nie, maar rondom Sondag 18 mag preek, versamel ons alles wat in verband met die hemelvaart gebeur het. Dit mooi om 'n keer alles te versamel! En dis eintlik wat die Kategismus ook maak. "Ek is met julle": die pragtige belofte het die kerk in v/a 47 onthou. Wat beteken daardie belofte van met-ons-wees as Jesus nie naby is, soos Hy op aarde naby was nie? Ja, dis die een groot gemis: ons sou ook so baie graag die Here by ons het, Hom sien. Noudat dit nie só is nie, wat beteken nog die belofte "Ek is met julle"?

Dan praat die Kategismus oor die betekenis van die feit dat Christus ook God is. 'Wat sy God-wees, sy majesteit, genade en Heilige Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie'. Die hemelvaart is eintlik net 'n tydelike saak. Dit wys vir my ook die wolk wat my Here se hemelvaart begelei het. "En 'n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem" (Hand. 1:9). Dit was nie net 'n wolk wat reën kan aankondig en wat toevallig verby gesweef het nie. Nee, die wolke van die hemel is deur God ingeskakel, soos Hy dit al so dikwels gedoen het. Die wolk het vir Israel gewys: die HERE is naby, Hy gaan voor hulle uit! So was dit tydens die jare in die woestyn. Die wolk het ook gewys dat die HERE in sy huis kom woon. So was dit by die tent van die samekoms, so was dit in die tempel. So is ook die belofte: "Kyk, Hy kom met die wolke en elke oog sal Hom sien" (Openb. 1:7). Die wolk wat Jesus kom wegvat is die teken van God: dis Ek, die HERE, wat my Seun in my nabyheid, in my heiligdom, in die hemel verwelkom! God die Vader beklemtoon die belofte van ons Here: Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. God het dit mos eeue lank al met die wolk van sy aanwesigheid bewys. Noudat die Vader die offer vir al ons sondes uit Jesus se sterwende hande aanvaar het, het Hy ook Jesus se belofte en die seën van sy hande oorgeneem.

Die hemelvaart is tydelik. Die wolk onderstreep dit deur te wys hoe naby God is. Die tydelikheid van die hemelvaart kom nog sterker uit in wat Jesus belowe het: Ek sal terugkom. Die engele, bodes van God het mos gesê: "Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so weerkom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het" (Hand. 1:11). Hy kom weer om oor die lewendes en die dooies te oordeel, vat die Kategismus saam. Ook die belofte word deur ons Here Jesus in die hemel verteenwoordig. Soos Hy was toe Hy opgevaar het, so sal Hy weerkom: Hy persoonlik. Toe Christus die laaste keer gekom het om die Openbaring vir Johannes, die ander evangelis, te gee, het Hy gewys: dan sal die tabernakel van God by die mense wees. Dan sal God Drieënig self by ons woon (21:3). 'n Tempel met die wolk van God se aanwesigheid is dan nie meer nodig nie, want "die HERE God en die Lam" sal persoonlik daar wees (21:23).

Dit is die laaste belofte: die laaste belofte wat in Jesus se persoon in die hemel vir ons houvas verteenwoordig is. Aan 'n belofte het ons mos houvas vir jou geloof. Van 'n belofte verwag jy mos dat God dit waar maak. Wens jy Jesus se aanwesigheid langs jou? Is die woorde wat by Jesus se hemelvaart uitgespreek is, vir jou werklik 'n belofte? Vandag mag u opnuut hoor hoe werklik dit Hy is wat opgevaar het na die hemel en sal weerkom na die aarde: die Here Jesus Christus. Hy wat beloof het dat Hy met sy volk sal wees. Hy was Regter is en wat liewerste vryspreek.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)