Christus het deur Sy hemelvaart ons voorgegaan na die Vader

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 18
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 18 H.K.

LITURGIE:
L. Joh. 14: 1-28
Ps. 47: 3
Ps. 47: 1
Ps. 21: 1-4, 9
Ps. 73: 11
Ps. 68: 8, 9

Broeders en susters!

Kan 'n mens bly wees dat ons Here Jesus Christus weer van ons af weggegaan het hemel toe? !

Ons het in die laaste vers van ons Skriflesing so pas, Joh. 14: 28, gelees dat die Here Jesus so'n blye reaksie van sy dissipels wou gehad het.

Maar hoe kon hulle bly wees?

Hulle moes mos net-nou afskeid neem en sou hulle mekaar hier op aarde wel ooit weersien?

Ek glo nie dat hulle almal al ten volle bewus was daarvan dat hierdie Jesus God se eie Seun was nie, maar hulle het wel geweet dat hulle Meester 'n baie groot mens, 'n baie groot Kneg van God was. En met Hom mog hulle nou alreeds drie jaar verkeer. Daagliks was hulle in sy wonderlike invloedsfeer. Met woord en daad het Hy hulle op 'n indrukwekkende wyse die pad van die lewe gewys. Sy onderwys was heeltemal anders as dit van die Wetgeleerdes. En sy wonders was verstommend. Dikwels maar net 'n woord, of 'n kort aanraking en verlamdes, blindes, melaatses ens. was op slag gesond. Selfs dooies het Hy met een enkele bevel weer in die lewe teruggeroep!

Hoe kan 'n mens dan bly wees as hierdie Jesus sommer weer uit die oog verdwyn omdat Hy terugkeer na die hemel?

Ons kan die moeite van die dissipels tog verstaan, gemeente?

Die Kategismus wil dat ek vanaand die "nut" van die hemelvaart van Christus aan u wys, ons word veronderstel om ook bly te wees dat Hy hemel toe gegaan het, maar is ons moeite met Christus se vertrek feitlik nie nog groter as van die dissipels nie? Hulle het darem nog drie jaar met die Here mog verkeer, hulle het darem sy onderwys uit sy eie mond gehoor, hulle het sy wonders met hulle eie oë gesien. Hulle kon met al hulle probleme sommer dadelik na Hom toegaan.

Ons weet nie eens hoe Jesus lyk nie, hoe sy stem klink nie, ons het Hom nooit 'n wonder sien doen nie. Ons het nie die moontlikheid om met 'n aaklige siekte, met 'n probleem, met die kommernis oor een van ons kinders wat heeltemal wegdwaal padlangs by die Heiland aan te klop nie. Ons kan alleen maar bid. En dan maar hoop dat dit help.

Maar hoe kon Christus dan sê: "Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan"? ! Hoe kon Hy verwag dat ons sy vertrek nie as 'n verlies nie, maar as 'n fees sou ervaar en vier?

Dit sal 'n mens eers begin verstaan, broeders en susters, as hy daaroor nadink waarheen Christus weer vertrek het: nie net na die hemel toe nie, maar: "Ek gaan na my Vader" het Jesus gesê. En in die paar woorde het Hy die hele wins van sy hemelvaart saamgevat.

En wat dit beteken- daaroor mag ek u vanaand God se Woord bedien.

Ek van die blye gebeurtenis van Christus se hemelvaart soos volg saam:

CHRISTUS HET DEUR SY HEMELVAART ONS VOORGEGAAN NA DIE VADER

  1. OM ONS VOORTREKKER TE WEES NA DIE VADER
  2. OM ONS VOORBIDDER TE WEES BY DIE VADER
  3. OM VIR ONS 'N ANDER VOORLOPER TE STUUR VAN DIE VADER

1. Die fout wat ons telkens weer maak, broeders en susters, is dat ons baie meer beïndruk is deur Christus se koms na die aarde as deur sy vertrek van die aarde. Dit blyk alleen al in die verskil tussen ons Kersfeesviering en ons viering van die hemelvaart: ons vier Kersfees baie uitbundig, baie mense is teleurgesteld as daar geen spesiale kersfeesviering met die kinders gehou word nie. Maar op Hemelvaarsdag is ons meer as tevrede met net een kerkdiens. En het ons al ooit 'n spesiale viering van Christus se hemelvaart met ons kinders gehou?

Uit hierdie voorliefde vir Kersfees bo die viering van die hemelvaart blyk dat ons nog altyd nie voldoende nagedink het oor die doel van Christus se verlossingswerk nie.

Want Christus se koms na die aarde was wel 'n groot wonder, en 'n indrukwekkende bewys van God se liefde vir ons, maar dit was tegelyk ook die begin van die vernedering van God se Seun.

Dat God die Seun aarde toe wou kom- dit was wonderlik.

Maar dat Hy aarde toe moes kom- dit was nie so wonderlik nie. Dit was feitlik vreeslik.

Òns moes almal eendag hémel toe gegaan het- dit was God se oorspronklike bedoeling: ons moes as sy kinders eendag met die resultaat van ons arbeid hier op aarde by Vader tuisgekom het.

Maar ons het dit deur ons opstand teen God, deur ons ongehoorsaamheid aan God onmoontlik gemaak. Ons wou nie langer kind wees nie. Ons wou groot, onafhanklik, selfstandig wees. Net soos God.

Die mens het hom van God se vaderhand losgeruk, God se vadersorg afgewys. Hy wou voortaan sy "eie" lewe op aarde lei, aan sy eie toekoms bou. Hy het sy rug op die hemel gedraai.

Maar daarmee het hy toe ook die pad van die aarde hemel toe opgebreek. Die opstand van die mensekinders teen hul hemelse Vader het 'n diep, onoorbrugbare kloof tussen hemel en aarde geslaan. Die mens het ver van huis af, ver van sy Vader af geraak. En daar was vir hom, vir sover dit van hom afgehang het, geen weg terug meer nie.

Maar toe het Vader in die hemel, in sy onbegryplike liefde, sy groot Seun uit die hemel na de aarde gestuur. God self het mens geword, die enigste egte Seun moes 'n kneg word om langs 'n weg van diepe vernedering ons as God se kinders by Vader terug te kry. Om vir ons die kloof tussen hemel en aarde weer te oorbrug, die deur van die hemelse Vaderhuis weer oop te maak en die pad na die hemel toe weer te baan.

Dit is Kersfees! 'n Noodsaaklike vernedering van God die Seun vanweë ons sonde.

Maar daarom moes daar op Kersfees, Goeie Vrydag en Paasfees tenslotte ook die Hemelvaart volg. Om die verlossingswerk te voltooi. Dat God se Seun aarde toe wou kom- dit was wonderlik. Maar dat Hy vervolgens ook weer hemel toe mog gaan- dit was nog veel wonderliker.

U weet: Maria van Magdala het na Christus se opstanding gedink alles sou nou weer word soos dit voor Goeie Vrydag was. Haar Jesus was terug uit die dood, voortaan sou Hy weer saam met hulle wees, hulle kon weer na sy onderwys luister, Hy sou nog baie wonders verrig..... Maar Jesus se vir haar: "Moenie My bly vashou nie, Maria. Maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en na julle Vader, na my God en na julle God. "

Hy het mos nie aarde toegekom om voortaan op die aarde te bly woon nie. Hy het gekom om ons saam te neem na ons hemelse Vader terug.

En hoor u die blye klank in sy woorde, gemeente? God is weer heeltemal ook óns God en óns Vader! Danksy Christus se vernedering en dood vir ons. En nou kan Hy alreeds ons voorgaan om die deur van Vader se huis vir ons weer wyd oop te sit.

In die brief aan die Hebreërs lees ons êrens dat Christus as ons "Voorloper" in die hemel ingegaan het. Ons sou ook kon sê, met 'n woord wat ons hier in Transvaal baie mooi verstaan: Voortrekker. Soos die Voortrekkers in die vorige eeu as eerstes die pad na Natal en Transvaal gebaan het, so het Christus vir ons die pad hemel toe vir sy volk gebaan. Hy het ons by sy hemelvaart nie gelos nie. Hy kan ons nooit meer los nie. Want Hy het anders na die hemel teruggekeer as wat Hy daaruit aarde toe gekom het. Hy het as Gód na die aarde gekom. Maar as God én mens het Hy na die hemel teruggekeer.

Hy en ons, ons is nou saam vlees en bloed. Hy het rasegte familie van ons geword. Dié bloedsband word nooit meer ongedaan gemaak nie. En dit bly trek, juis noudat Hy al in die hemel is.

Ons vorm selfs een liggaam met Hom? Daardie beeld gebruik die Kategismus in Sondag 18. Hy is die hoof, ons vorm die orige ledemate. Maar wat is 'n kop sonder 'n liggaam? As die hoof al in die hemel mag wees, moet die res ook volg.

Al het Christus ook los van die aarde gekom, Hy het nie los van óns gekom nie. Hy het sy kerk nie aan die ander kant van die kloof agtergelaat nie. Nee, Hy bly homself met ons verbonde voel. Juis noudat Hy alreeds in die hemel is en ons nog op die aarde is, kan Hy nie tot rus kom voordat ons vernederde liggame aan sy verheerlikte liggaam gelyk sal wees en Hy ons vir altyd by Hom sal geneem het nie.

Die Kategismus bestee in Sondag 18 twee vrae en antwoorde daaraan, gemeente, om so goed moontlik uit te lê hoe sinds die hemelvaart nou die verhouding tussen die mens-wees en die God- wees van Christus is. Die verhouding tussen sy menslike natuur en sy goddelike natuur. In daardie vrae en antwoorde, wat nie so maklik is nie, word walgegooi teen die dwaalleer dat na die opstanding, en sekerlik na die hemelvaart Christus nie meer voluit mens soos ons sou gebly het nie.

Met name die Lutherse kerke het so geleer in die tyd dat hierdie Kategismus geskryf is. Hulle het geglo dat Christus se menslike natuur, sêmaar: sy liggaam, nou vergoddelik is en daarom ook goddelike eieskappe gekry het. So sou sy liggaam nou oral teenwoordig kan wees en sou dus tog, nes in die Roomse misleer, by die heilige Nagmaal die egte liggaam en bloed van Christus in die kerk op die altaar aanwesig wees.

Ek kan daar vanaand nie uitvoerig op uitwy nie. Dit gaan maar daarom dat u mooi verstaan: die Kategismus hou dit uitdruklik vol: ook na die hemelvaart het Christus naas sy God-wees 'n egte mens gebly. Hy het by sy hemelvaart sy liggaam, sy menselike natuur, nie iewers halfpad verloor nie. Hy is nog altyd heeltemal mens soos ons. Waarom is dit noodsaaklik dat ons dit mooi bly verstaan?

Omdat Christus daarbo nog altyd ons Broer is. Mens van vlees en bloed soos u en ek. Sy vertrek van die aarde het nie die einde van sy kontak met ons geword nie. Hy het juis vir ons beswil na die hemel gegaan. Want waar kan Hy as ons vlees en bloed beter ons belange behartig as direk in die hemel?

Christus het nie as eenling hemel toe gegaan nie. Maar as eersteling. Hy het daar in die hemel geen rus nie solank nie al God se kinders tuisgekom het nie.

Hy vra nou daarbo: "Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My is". Ek wil hier nie alleen bly nie. Hulle behoort by my, en hulle behoort ook weer by U. En dus moet daar ook vir hulle almal 'n plek wees hier.

Christus lyk vir ons gevoel dikwels so ver weg, gemeente. Omdat vir ons die hemel so ver weg lyk.

Maar in werklikheid het deur Christus se hemelvaart die hemel vir ons baie naby gekom. Sy aanwesigheid daar as volbloed mens is 'n "gewisse pand", 'n betroubare waarborg, sê die Kategismus, dat daar ook vir ons 'n plek klaargemaak word.

Die dag kom waarop ook ons voete van die grond sal losraak en ons met verheerlikte liggame op die wolke weggevoer word na Vader toe.

2. Daarby kom nog -en dit is my tweede punt, broeders en susters- dat ons Voortrekker in die hemel ook ons Voorbidder by die Vader is. Hy leef daarbo nie alleen na die dag van ons verlossing toe nie, maar Hy leef ook in elke dag vol versoeking met ons mee. Hy wag in die hemel nie net ons koms af nie, maar Hy berei ons koms ook voor deur elke dag opnuut ons saak aan Vader voor te lê. Want al het Hy ook die stryd te bowe gekom, Hy weet dat ons nog daar midde-in verkeer. Ons worstel nog met die mag van die sonde, met die swakheid van ons eie sondige geaardheid. Ons stapel nog altyd die een sonde op die ander en as Vader alle aanklagte oor ons ontvanklik sou verklaar, verdien ons dit dat Hy die brug na die hemel maar weer ophaal en die deur van die vaderhuis sluit.

Maar van dat Christus in die hemel gekom het, het ons die beste Advokaat by Vader wat ons ons maar kan wens. Ons Broer en Borg het alle aanklagte teen ons laat verstom.

Dit word baie mooi vir ons vertel in Openb. 12. Sodra Christus na sy verlossingswerk op aarde weer in die hemel verskyn het, moes iemand anders daar verdwyn: die Satan. Toe Christus sy plek langs Vader op die troon ingeneem het, was daar vir Satan geen plek voor God se troon meer nie. Hy moes gaan. Ja, die engele het onder aanvoering van die aartsengel Migael hom en sy bose geeste hardhandig uit die hemel verwyder.

Want tot op daardie oomblik het die Satan blykbaar nog altyd in 'n mate toegang in die hemel gehad, ten spyte van sy opstand teen God. En hy hét bly kom, veral om ons by ons hemels Vader aan te kla. Hy word in Openb. 12 deur die engele getipeer as "die aanklaer van ons broeders wat hulle dag en nag aangekla het by God". Dit was die gemene dubbelrol wat die Satan gespeel het: eers het hy die mens tot sonde verlei, maar vervolgens het hy dadelik voor God se troon verskyn om 'n aanklag teen die mens in te dien. En die allerergste was: formeel het hy altyd die gelyk aan sy syde gehad. Sy beroep op God se Wet was altyd gegrond. Self het hy God se reg brutaal vertrap, maar tegelyk het hy op die punte van sy vingers geweet wat die HERE in sy Wet geëis het. En hy het niks anders gedoen as om God aan sy eie Wet te herinner nie. Die heilige en regverdige God kon tog die sonde nie verdra nie?? Waarom het Hy die mensheid met al sy sondes dan nie vir goed van die aarde af weggevee nie? Waarom het Hy nie almal in die ewige dood weggestoot nie?

En wanneer die Satan op hierdie wyse met sy aanklagte gekom het, het die hele engelewêreld magteloos gestaan, broeders en susters. Niemand kon die Satan van voor God se troon wegtrap of hom selfs maar die mond snoer nie.

Tótdat Christus in die hemel teruggekeer het! Toe was Satan se dubbelrol vir altyd klaargespeel. Toe mog die engele hom en sy trawante uit die hemel uitgooi. Want toe was God voortaan doof vir enige aanklag teen ons.

Omdat ons lewe toe skielik so veel verbeter het? !

Nee, glad nie. Maar omdat ons Here Jesus Christus al ons skuld by die Vader bedek.

Ook Hy weet dat ons nie verander is nie. Die sonde is by ons nog nie weg nie. Maar Hy mag sê: Vader, Ek weet daar is nog baie sondes en gebreke in hulle lewe: hulle geloof is maar swak, hulle dien u nie met so'n ywer as wat hulle verplig is nie, hulle stry nog veels te min teen hul sondige drifte....., maar U mag hulle darem nie wegstoot nie, nie in u toorn aan die sonde oorgee nie. U moet hulle vergewe, omdat hulle by My behoort en omdat Ek die straf op hul sondes in hul plek gedra het. Al daardie sondaars wat daar benede op hulle knieë kom, wat 'n afkeer van hulself vanweë hul sondes gekry het en om vergewing vra- U moet vir hulle vergewe en hulle as u kinders bly aanneem. Om My onthalwe.

U moet hulle help in hul stryd teen die duiwel, die wêreld, en hulle eie sondige begeertes. U moet hulle help om as kind van U in die wêreld te lewe, ten spyte van baie veragting, spot en haat.

Ons het soms die gevoel dat Christus ons alleen gelaat het, toe Hy na die hemel teruggekeer het. Maar dié gevoel is nie tereg nie, broeders en susters. Ons Heiland is vandag op die beste plek waar Hy ons kan help: direk by Vader in die hemel om daar ons saak te bepleit.

Dis soos met Israel toe hulle teen die Amelekiete moes stry in die woestyn. Die volk het in die laagte geveg en Moses het die berg uitgeklim om daarbo sy kierie na God omhoog te hou. Toe moes die volk nie sê nie: Moses laat ons in die steek. Want Moses het op die beste wyse met die volk saamgeveg deur die volk by God in gedagtenis te bring.

So bepleit ons Borg en Broer in die Vaderhuis in die hemel u en my saak, gemeente. Hy voel betrokke in al ons versoekinge en aanvegtings en Hy weet hoe dit kan wees. Hy het mos self in aanvegtinge en versoeking gely en gestry!

Ons moet nie kla daaroor dat Christus van ons af weggegaan het nie. Ons mag inderdaad bly wees dat Hy hemel toe gegaan het. Want waar kan Hy ons beter help as daar, by Vader?

3. Maar kon Hy ons dan nie dadelik almal saamgeneem het, hemel toe nie? Hoekom moes ons dan hier op die aarde, in aanvegting en stryd agterbly?

Wel, gemeente, op die dag van Christus se hemelvaart was u en ek nog nie eens gebore nie. Vader wou dus nog baie meer kinders laat kom wat Hom weer sou dien en eendag in sy vaderhuis aan die feestafel mog aanskik. Daar het nog 'n taak vir God se kinders op aarde gelê: voortaan weer van harte gewillig en bereid vir Vader lewe en saambou aan die groei van God se kerkgesin.

Maar kon Christus ons dan nie net so wel hier op aarde bly help het nie? Die swaartepunt lê mos hier, hier word die eintlike stryd gestry. Die Satan is uit die hemel uitgegooi, maar op dieselfde oomblik het die engele gewaarsku: "Wee die aarde, wat die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het". Hy is soos 'n gekweste leeu: gevaarliker as ooit.

Ons benodig tog die meeste hulp hier?

Ja, maar Christus het ook gesorg vir hulp vir ons hier, gemeente!

Hy vra in die hemel nie net of ons staande mag bly nie, maar Hy werk vanuit die hemel ook daaraan. Hy het die Heilige Gees van die Vader as 'n ander Voorloper in sy plek na ons toegestuur. En daarin het Hy ook self, op 'n ander wyse, na ons op aarde teruggekom.

Soos Hy eers liggaamlik met sy dissipels saamgegaan het, so neem nou sy Gees ons saam. Voortaan loop die Gees voorop en wys vir ons die pad.

Die Gees is vir ons op aarde 'n ekstra bewys dat Christus by sy hemelvaart ons nie gelos het nie.

Trek in die hemel sy vlees nog altyd na ons op aarde- hier op aarde trek nou ook sy Gees ons na Hom in die hemel.

Nee, dit beteken nie dat ons by ons roeping hier weggetrek word nie. Die Gees bewerk by ons geen ongesonde hemelverlange asof die aarde hoegenaamd nie meer belangrik is nie. Juis nie.

Maar ons word deur die Heilige Gees by die sonde en die onheiligheid, uit kortsigtigheid en moedeloosheid, uit opstandigheid en verbittering weggetrek.

Die Gees gee ons telkens weer 'n oop oog daarvoor dat ons hier geen sinlose stryd stry nie, en dat ons nie deur God aan ons lot oorgelaat is nie, maar dat die aarde omring word deur 'n hemel waar ons Vader met ons saamleef en waar ons Broer ons moeite aanhoudend aan Vader voorlê.

Die Heilige Gees gee ons die krag om teen die duiwel en sy ryk en teen die bondgenoot van die duiwel in ons eie sonde geaardheid te stry en te oorwen.

Die Heilige Gees neem ons saam in sy ywer om die hele aarde weer aan Vader toe te wy en om nog baie mense uit alle volke en lande te roep om kind van God te word.

Het Christus ons gelos toe Hy hemel toe gegaan het?

Glad nie!

Die Kategismus sê in Sondag 18: Christus het 'n pand, 'n waarborg van ons saamgeneem in die hemel in: ons vlees.

En Hy het vir ons vervolgens 'n teëpand, 'n waarborg na die aarde gestuur: sy Gees.

Deur hierdie uitwisseling van pande, waarborge, bly ons ten nouste aan mekaar verbonde.

En dus kan ons Christus se hemelvaart elke jaar weer maar as 'n vrolik fees vier. Want ons het deur sy vertrek regtig nie armer geword nie. Ons toekoms word vanaf dié dag gereël en gewaarborg vanuit die huis van ons hemelse Vader !

AMEN.

(Pretoria, 25 Februarie 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)