Die wins van Christus se hemelvaart

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 18
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 18 H.K.

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 89: 3, 4
Wetslesing
Ps 89: 1
L. Matt 13: 24-30 en 36-43 & 1 Kor 15: 20-24 en 47-49
Gebed
Kollekte
SB. 24: 1, 5, 6
Prediking
Ps. 85: 4
Gebed
Ps. 146: 4, 8
Seën

Gemeente van die Here Jesus Christus,

Toe ons verlede Sondag saam die nagmaal gevier het, moes ek u aan die tafel opwek om nie net na die tekens van brood en wyn te bly sien nie. U moes u harte ophef na die hemel: dáár is Christus vandag.

Dit bly vir ons altyd maar 'n moeilike ding: om jou hart na die hemel te moet ophef. Immers: waar is die hemel? Die hemel is onsigbaar, onbereikbaar. Daar is 'n afstand tussen die aarde en die hemel wat g'n mens kan oorbrug nie. Eers by ons dood sal daardie afstand verdwyn.

Hoekom het ons Here daardie afstand weer tussen ons laat kom, broeders en susters?

Hoekom het Hy nie by sy kerk op aarde gebly nie? Hoekom kan ons nie gewoon van aangesig tot aangesig met Hom praat nie, maar is ons aangewese op 'n stukkie brood en 'n sluk wyn?

Christus het self, voor sy hemelvaart, vir sy dissipels gesê dat sy vertrek na die hemel voordelig vir ons sou wees.

Maar hoe dan?

Watter wins is daar dan geboek by sy hemelvaart?

Die antwoord op dié vraag het die Kategismus in Sondag 18 vir ons uit God se Woord bykemaargelees.

En ek mag met behulp van die Kategismus die wins van Christus se hemelvaart weereens vir u aanwys vanoggend.

Ek wil dit doen in drie punte. Ek wys u

DIE WINS VAN CHRISTUS SE HEMELVAART
VIR

  1. DIE SKEPPINGSWERK VAN GOD DIE VADER
  2. DIE VERLOSSINGSWERK VAN GOD DIE SEUN
  3. DIE HEILIGINGSWERK VAN GOD DIE HEILIGE GEES

1. Watter voorstelling moet ons ons eintlik van die hemel maak, broeders en susters? Ja, die Bybel vertel dit is die woonplek van God en van die engele. Erens in God se onmeetlike heelal staan daar 'n troon waarop vandag ook ons Here Jesus sit. 'n Heerlike tuiste vir engele en mense wat reeds gesterf het?

Maar waarom is die hemel vir ons hier op aarde onsigbaar en onbereikbaar? Waarom is daar so 'n onoorbrugbare afstand tussen hemel en aarde?

Baie mense, ook christene, beskou die hemel en die aarde as twee uiterstes. As twee teënoorgestelde wêrelde wat alreeds van oorsprong mekaar se vyande is. Aarde en hemel staan in hul denke teenoor mekaar soos sonde teenoor heiligheid.

Die aarde is vir hulle besef die terrein van die slegte mens, die hemel die woning van die goeie God.

Daarom word die aarde word soos 'n benouende tronk ervaar, en verlang hulle na die hemel as die volkome bevryding.

Die hemel is vir hulle alles, die aarde niks.

Hul lewe op hierdie aarde word in so 'n mate beheers deur die verlange na die hemel, dat hulle nie eintlik meer 'n oog het vir die taak en die roeping van die mens hier benede, op die aarde nie.

Mens moet van hemelreisigers nie verwag dat hulle baie vir hierdie aarde sal omgee nie.

Nou bestaan daar onteenseglik 'n teëstelling tussen hemel en aarde. En dis reg: die aarde is weens die sonde vervloek, terwyl dit in die hemel een en al heiligheid is.

Maar hierdie teëstelling was nie uit die staanspoor daar nie. Dit het eers deur die sondeval gekom.

"In die begin het God die hemel en die aarde geskape". "Toe sien God alles wat Hy gemaak het en- dit was baie goed".

As ons die juiste kyk wil hê op dit wat die hemel van oorsprong is, moet ons by God se begin met hemel en aarde begin.

Toe God die hemel en die aarde geskep het, het Hy wél 'n afstand tussen daardie twee aangebring.

Die hemel was die woonplek van die HERE, die aarde was die woonplek vir die mense. In die hemel was daar engele, op die aarde diere, voëls en visse.

Maar daardie afstand het geen teëstelling beteken nie. Juis nie, die aanvanklike afstand sou in die loop van die tye al hoe kleiner moet word, om op die ou end, op God se tyd, heeltemal oorbrug te word.

Ons sou dit so kan sê, met die beeld uit die gelykenis van Christus wat ons saam gelees het: God het die aarde as die akker, die hemel as die skuur geskape. Maar die vrúg van die akker moes in die skuur gebêre word.

U mag ook sê: die hemel was van ouds die woonplek van Vader, die aarde die werkplek van sy kinders. Maar die werksresultaat van die kinders moes op die einde van die dag by Vader tuisgebring word.

Toe God hemel en aarde geskape het, het Hy die mens op hierdie aarde geplaas om daar vir Hom te werk. Die aarde sou vir die mens nie net 'n lusoord of 'n rusoord wees nie, maar werkterrein.

"Vervul die aarde en onderwerp dit" was die opdrag. Die baie verborge skatte in die aarde moes uitgehaal word om hulle tot God se glorie te laat glans.

Vanweë dié taak het God die mens aan hierdie aarde gebind. Hy het die eerste Adam uit die aarde uitgehaal. Gevorm as 'n kleipop voordat Hy sy lewensasem in hom geblaas het. Uit die aarde aards. Die swaartekrag het hom hier vasgehou, anders as die engele wat kon kom en gaan sonder om deur die aantrekkingskrag van die aarde gehinder te word. Want ons taak het vereers hiér gewag.

Net so lank tot die taak vir God voltooi sou wees en die mens met die resultaat van sy arbeid in die hemel tot rus mog kom. Eendag sou die kinders voldaan mog tuiskom.

Die gerypte oes kon dan in die skuur gebêre word. Woon- en werkplek van Vader en kinders saamgevoeg word.

So was vanaf die begin die skeppingsplan van God die Vader. Van meet af aan het hemel en aarde geen teëstelling gevorm nie, maar was hulle juis heeltemal op mekaar gerig. Die aarde op die hemel, die hemel op die aarde. Hierdie twee was bestem om na mekaar toe te groei. En eendag sou God die afstand heeltemal ophef. Dan sou die hemel die aarde opneem. God sou by die mense woon.

Hy sou hemel en aarde verenig tesaam.

Maar toe het die sonde deur daardie plan van God 'n forse streep getrek.

Die sonde het skielik 'n byna onoorbrugbare kloof tussen hemel en aarde geslaan.

Want die akker het met giftige onkruid besaai geraak.

Die kinders op aarde het rebelle geword.

Toe het aarde en hemel nie langer op mekaar aangetrek nie. Hulle het teenpole geword wat mekaar afstoot. Die hemel, waaruit die sonde nog geweer kon word, moes die brue na die aarde ophaal en die poorte sluit.

Toe het die swaartekrag wat die mens op die aarde vashou, die begin van die godverlatenheid van die hel geword. Die mens is hier vasgehou, gedoem om hier te sterwe en tot stof weer te keer. Terwyl die hemel onbereikbaar ver weg geraak het.

Dit het gelyk asof God se skeppingswerk deur die sonde vasgeloop het en sy voltooiing nie sou kry nie.

Alleen teen hierdie agtergrond, broeders en susters, kan u die betekenis van die hemelvaart van ons Here Jesus Christus reg begin verstaan.

Want hier gaan nou tog, vanaf die Olyfberg by Jerusalem, 'n mens wat sy werk op aarde klaar gedoen het, hemel toe!

Hier is 'n mens wat dit kan sê wat nog niemand voor Hom kon sê nie: "Vader, Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring. En nou, Vader, verheerlik My".

Hier probeer nie 'n rebel in 'n wanhopige poging om tog die hemel te bestorm nie. Nee, hierdie Mens mág gaan. Die swaartekrag moet Hom loslaat, die weg lê vir Hom oop en Hy gaan, met die resultaat van sy voltooide arbeid in die hemel in.

Hoe anders het Christus na die hemel gegaan as eendag die profeet Elia. Toe moes daar 'n wa van vuur met perde van vuur uit die hemel neerkom om Elia te haal. Geweldige kragte van bo moes ingeskakel word om 'n mens in die hemel binne te haal. Elia kon nie self hemel toe gaan nie. Nie op sy eie krag nie. Hy moes gehaal word en met goddelike geweld binnegebring.

Maar ons Here Jesus Christus maak Hom sonder enige moeite van die aarde los, om self, baie rustig, in die hemel binne te gaan.

Die weg is blykbaar geëffen. Die hemel het vir die aarde binne bereik gekom.

Meer nog, Hy word met oop arms binnegehaal. Het u gesien hoedat in Sondag 18, vr. en antw. 46 eers van "opgevaar" en daarna van "opgeneem" gepraat word?

Christus se hemelvaart het beteken: Vader se skeppingswerk het tog nie doodgeloop nie. God het sy groot Seun in die wêreld gestuur. As die tweede Adam. En Hy het al die gehoorsaamheid waarin ons kortgekom het, vir ons volbring. En toe Hy op die ou end, nou as mens, na die hemel mog terugkeer, toe het die skuur tog die begin van die oes gekry. Toe het die eerste mensekind tog tuisgekom.

Deur Christus se hemelvaart het hemel en aarde vir goed weer na mekaar teruggebuig en die einddoel van God se skeppingswerk het tog in sig gekom. Die pad van die aarde hemel toe was weer gebaan. Die sonde oorwen. Maar omdat God eerste die pad van die hemel aarde toe gebaan het!

Die eerste mens bereik die hemel. As begin van 'n groot stroom. Maar die begin was daar! En dus het die einde in sig gekom.

2. Want, en dit nou in die tweede plek, Christus het nie as eenling hemel toe gegaan nie. Maar as eersteling. Hy mog as eerste mens die pad na die hemel inslaan en by God op die troon 'n plek kry.

Maar Hy is nie voldaan, Hy kom nie werklik tot rus nie solank nie al God se kinders ook tuisgekom het nie. Solank nie die komplete oes gebêre is nie.

Hy het na die aarde gekom om te voorkom dat God die hele akker vanweë die sonde sou verwoes. Hy het gekom om te voorkom dat God sy opstandige kinders in die ewige dood sou wegstoot. Daarvoor het Hy Homself laat wegstoot, daarvoor het Hy sy eie lewe laat verwoes. Sodat ons weer kind van Vader, vrugbare halme op God se akker sou kon wees.

Toe Hy daardie werk op aarde klaar gedoen het, kon Hy ons nie almal in een keer saamneem nie. Daar het vir ons voorlopig hier nog 'n taak gewag. Dié taak wat die mens na die sondeval verag en verwaarloos het, maar wat Christus opnuut aan ons opgedra het.

Toe Christus na omhoog gestyg het, het die swaartekrag sy dissipels wat daarby gestaan en kyk het, met albei hul bene op die grond gehou.

Maar al het Christus toe ook los van die aarde gekom, Hy het nie los van óns gekom nie. Hy het sy kerk nie aan die ander kant van die kloof agtergelaat nie. Nee, Hy voel Homself steeds met ons verbonde. En Hy sit sy verlossingswerk vir ons kragtig voortsit. Want Hy herinner daagliks in lewende lywe sy Vader daaraan dat Hy geen eenling in die hemel wil bly nie, maar as eersteling uitsien na die volle oes. Juis noudat Hy alreeds in die hemel is en ons nog op die aarde is, kan Hy nie tot rus kom totdat ook ons is waar Hy is.

Ons vorm tog een liggaam met Hom? Daaraan herinner ook die Kategismus in Sondag 18. Hy is die hoof, ons vorm die orige ledemate. Maar wat is 'n kop sonder 'n liggaam? As die hoof al in die hemel mag wees, moet die res ook volg.

Hy en ons, ons is saam vlees en bloed. Hy het rasegte familie van ons geword. Dié bloedsband bly trek, juis noudat Christus al in die hemel is.

Daarom sit Christus in die hemel sy verlossingswerk kragtig voort.

Die Kategismus bestee in Sondag 18 twee vrae en antwoorde daaraan, gemeente, om so goed moontlik uit te lê hoe sinds die hemelvaart nou die verhouding tussen die mens-wees en die God-wees van Christus is. Die verhouding tussen sy menslike natuur en sy goddelike natuur. In daardie vrae en antwoorde, wat nie so maklik is nie, word 'n halt toegeroep aan die dwaalleer dat Christus na die opstanding, en sekerlik na die hemelvaart nie meer voluit mens soos ons sou gebly het nie.

Met name die Lutherse kerke het so geleer in die tyd dat hierdie Kategismus geskrywe is. Hulle het geglo dat Christus se menslike natuur, sêmaar: sy liggaam, nou vergoddelik is en daarom ook goddelike eieskappe gekry het. So sou sy liggaam nou oral teenwoordig kan wees en sou dus tog, nes in die Roomse misleer, by die heilige Nagmaal die egte liggaam en bloed van Christus in die kerk op die altaar aanwesig wees.

Ek sal daar vanoggend nie uitvoerig op uitwy nie. Ek het dit in eerdere preke wel gedoen. Dit gaan maar daarom dat u mooi verstaan: die Kategismus hou dit uitdruklik vol: ook na die hemelvaart het Christus naas sy God-wees 'n egte mens gebly. En wat sy menslike natuur, sy liggaam, betref, is Hy nie meer op aarde nie. Hy het by sy hemelvaart sy liggaam, sy menselike natuur, nie iewers halfpad verloor nie. Hy is nog altyd heeltemal mens soos ons. Al kan Hy ook, wat sy Godheid, majesteit en Gees betref, tog by ons op aarde wees, as mens van vlees en bloed bly Hy in die hemel.

Waarom lê die Kategismus daarop so veel nadruk?

Omdat Christus met sy verlossingswerk vir ons nog nie klaar is nie! Hy bly daarbo ons Borg. Die een mens wat vir die ander mense intree voor die aangesig van God.

As die Vader ons hier op aarde sien, sou Hy asnog die brue van die hemel moet ophaal. Na Christus se binnekoms sou die poorte weer hermeties gesluit moes word.

Maar Christus het as ons Borg, ons Broer, in die hemel binnegegaan. En met sy menslike heiligheid en onskuld bedek Hy voor Vader ons sonde. Hy sorg daarbo onophoudelik daarvoor dat ook vir ons die pad oopbly. Dat Vader ons vergeef en vashou.

Sy vertrek van die aarde het nie die einde van sy verlossingswerk geword nie. Dit het juis 'n belangrike vooruitgang geword. Want Hy het in Homself 'n stukkie aarde saamgeneem in die hemel in. Deur Hom word nou die hemel weer heeltemal op die aarde gerig en voorberei op die groot stroom.

Hy mag nou daarbo die geskiedenis na sy einde lei en vanuit die hemel sy verlossingswerk op aarde voltooi.

Hy bid nou daarbo: "Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My is".

Christus lyk vir ons gevoel dikwels so ver weg, gemeente. Omdat vir ons die hemel so ver weg lyk.

Maar in werklikheid het deur Christus se hemelvaart die hemel vir ons baie naby gekom. Sy aanwesigheid daar as volbloed mens is 'n "gewisse pand", 'n betroubare waarborg, sê die Kategismus, dat daar ook vir ons 'n plek klaargemaak word.

Die dag kom waarop ook ons voete van die grond sal losraak, die swaartekrag ons nie meer keer nie en ons met verheerlikte liggame op die wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug. En so sal ons altyd by die Here wees!

3. Vandag is dit nog nie so ver nie.

Ons leef nou nog hier, op aarde.

Maar dan moet ons ook ons plek hier vereers nog bly aanvaar en inneem. Dan wag vandag nog hier ons taak, u roeping.

En niemand mag daarvan wegloop in 'n verkeerde hemelverlange nie. Dit is nie christelik nie. Dit is van oorsprong heidens.

Wie rêrig na die hemel verlang, sal juis hard aan die werk spring om God se naam hier op aarde te verheerlik. Met hoof en hart en hande. Tuis en buitenshuis. Op skool en in die universiteit. In ons besigheid en op ons plaas. Op kantoor en in die kombuis. Dié sal werk en woeker met die baie gawes wat God hier op aarde gegee het. Om dit te ontwikkel tot sy eer. Soos God dit oorspronklik bedoel het.

Tog is dit nie maklik nie.

By ons is dit mos: "Uit die oog, uit die hart". Ons vergeet sommer van die hemel omdat ons die hemel nie kan sien nie.

Mense kan so met die hemel besig wees dat hulle die aarde uit die oog verloor.

Maar... ons mense kan ook so met die aarde besig wees dat ons die hemel uit die oog verloor.

Dis hoekom na Christus se hemelvaart die Heilige Gees met volle krag aan die werk gespring het op aarde (dit was nog die derde punt waarop ek sou wys vanoggend) om daarvoor te sorg dat ons sal soek wat daar bo is, waar Christus ons al vooruitgegaan het, en nie wat op die aarde is nie.

U moet dit mooi verstaan: dit beteken nie dat ons by ons roeping vandaan getrek word nie. Juis nie.

Maar dit beteken wel dat ons by die sonde en die onheiligheid weggetrek word.

Die Gees maak ons nie tot hemelreisigers wat hierdie lewe liefs maar so gou moontlik agter hulle wil laat nie. Maar Hy maak ons wel tot navolgers van Christus wat begin lewe met dieselfde doelwit voor oë soos Hy. En dit is: hierdie hele lewe op aarde op die hemel voorberei.

Die Gees leer ons om net soos Christus hard te werk aan die oes vir God. Hy rig ons aandag voortdurend op Christus as die eersteling in die hemel, sodat ons begerig word om saam met Hom 'n groot oes vir God te mag besorg.

Die Heilige Gees leer ons om ons net soos Christus as kinders te beywer vir die eer van ons Vader. En Hy hou in ons die verlange lewendig om eendag saam met Christus aan Vader se feestafel te mag sit.

'n Mens kom van homself nie so ver nie. Maar die Gees bring ons so ver. Hy begin trek aan ons. Nie om ons uit die wêreld weg te trek nie. Maar om hierdie hele wêreld na God toe te trek.

Want noudat die hemelvaartsdag daar was, wil die Drie-enige God na die einde toe.

Deur die hemelvaart van Christus het hemel en aarde al baie naby aan mekaar gekom. Christus het reeds 'n onverbreekbare verbinding gelê.

Die Kategismus sê in Sondag 18: Christus het 'n pand, 'n waarborg, 'n sigbare voorskot van die aarde saamgeneem in die hemel in: sy menslike liggaam, ons vlees.

Hy het vir ons vervolgens ook 'n teëpand, 'n waarborg, 'n voorskot uit die hemel na die aarde gestuur: sy Gees.

So trek in die hemel sy vlees nou daagliks na ons op aarde- en hier op aarde trek sy Gees ons aanhoudend na Hom toe in die hemel. Christus sien daagliks vanuit die hemel op ons neer hier op aarde, ons hef telkens ons harte op na Christus in die hemel.

Deur hierdie uitruil van pande, waarborge, voorskotte, staan aarde en die hemel weer ten volle op mekaar gerig. En dus kom die oesdag, die tuiskomdag in sig.

Maar dan mag ons Christus se hemelvaart tog nie meer as 'n verlies ervaar nie, broeders en susters? Op daardie dag is daar 'n groot wins geboek. En die dag van die uitbetaling kom elke dag nader.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)