Christus se opstanding lewer oorvloedig vrugte op

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 17
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 17 H.K. - DR R.H. BREMMER

Geliefde broeders en susters,

Die mense van hierdie tyd worstel met die vrae van lewe en dood. Dit was nog steeds die geval sinds die sondeval. Maar deesdae kry hierdie vrae spesifieke klem. Aan die eenkant wil hulle baie sorgvuldig met die lewe omgaan. Dink maar aan die besorgdheid vir die bewaring van die omgewing en die geweldige bedrae wat vir gesondheidsorg uitgegee word. Dit is die eenkant van die benadering van dood en lewe deur die moderne mens.

Aan die anderkant kry jy 'n totaal ander prentjie. Dink net aan die legalisering van abortus provocatus wat deesdae ook in ons land aandag vra. Dan is daar geen sorgvuldigheid in die omgang met die menslike lewe nie. Dink ook maar aan die propaganda vir eutanasie, die sgn, genadedood. Daarby kan 'n dokter wat andersins alles doen om 'n lewe te behou, dit skielik afsny.

Hoekom gedra die moderne mens hom so onseker teenoor die vrae van dood en lewe? Hoekom is daar so baie tweeslagtigheid? Dit kom daarvandaan dat die antwoord op die vrae wat hierin gestel word, nie in die evangelie van Jesus Christus gesoek word nie. Want daarin vind ons die enigste regte antwoord.

Christus het opgestaan! Hy het die dood oorwin! Sy opstanding is die waarborg vir ons opstanding in heerlikheid. Die dood het in hierdie wêreld nie die laaste woord nie. Dit het die opgestane en lewende Heiland alleen!

En as 'n mens in sy opstanding glo, oordeel jy anders oor die lewe en oor die dood. Dan val oor die hele lewe van die mens die lig van Christus se oorwinning. Daardie lig skyn reeds oor die pril begin, dit skyn ook oor die somtyds so moeilike einde.

Daaroor handel Sondag 17 van die H.K. - een van die kortste Sondagsafdelings. Daarin word nie na die waarom van die opstanding van Christus gevra nie. Daarin word ook nie oor die opstandingsgeskiedenis sèlf gepraat nie. Nee, net op die betekenis van die opstanding van ons Heiland word gekonsentreer. Kort en kragtig, in drie punte. Watter nut, watter waarde of watter vrug het die opstanding van Christus vir ons? Daaroor kan baie gesê word, want Christus se opstanding lewer oorvloedig vrugte op. Die Kategismus noem in kort die sake wat ons nou saam sal oorweeg.

Die tema van die Woordverkondiging is:

CHRISTUS SE OPSTANDING LEWER OORVLOEDIG VRUGTE OP

Want:

  1. Christus waarborg deur sy opstanding die versoening van ons skuld
  2. Christus vernuwe deur sy krag ons lewe
  3. Christus waarborg ons opstanding in heerlikheid.

1. Daar is, brs en srs, sommige onderskeidings wat ons in die katkisasieklas leer en wat voortdurend hulle nuttigheid bewys. Hulle verhelder jou geloofslewe. Ons dink nou spesifiek aan die onderskeiding wat die gereformeerde dogmatiek maak tussen die staat van Christus se vernedering en die staat van sy verhoging. Die woord "staat" wys na 'n persoon se regsposisie. As iemand daarvan verdink word dat hy 'n misdaad begaan het, word hy in "staat van beskuldiging" gestel. Ookal is hy volkome onskuldig, verkeer hy tog in die staat, die regsposisie van 'n beskuldigde solank as wat sy onskuld nie bewys is nie.

Hierdie voorbeeld kan ons help om te begryp wat ons bedoel as ons praat oor die staat van Christus se vernedering en verhoging. Oor die staat van vernedering het die Sondae 14, 15 en 16 gehandel. Ja, ons Heiland was die ewige Seun van God en Hy het dit gebly, ook toe Hy uit die maagd Maria gebore is. Maar tegelyk was Hy vanaf sy geboorte in die staat van sy vernedering. Hy was en het gebly 'n sondelose mens, maar God het Hom as 'n gevloekte beskou, as iemand wat uit God se guns verstoot was. Volgens sy regsposisie was Hy skuldig voor God - Hy het immers ons sondes en ons skuld op Hom geneem!

Baie uitvoerig het die Sondae 15 en 16 ons laat sien hoe Christus steeds verder in die staat van sy vernedering afgedaal het, tot Hy tenslotte net soos ons die skande moes dra om begrawe te word. 'n Gestorwene kan nie meer in die menslike samelewing geduld word nie - dié word in 'n graf weggeskuif. So was ook die Christus drie dae in die graf - vanaf die Vrydagaand van sy begrafnis en verder die hele Sabbatdag wat daarop gevolg het om tenslotte op die derde dag weer op te staan. Oor die sabbatdag wat Hy in die graf was, sê die Skrif in Joh. 19: 13: die dag van daardie Sabbat was groot. Inderdaad, want die Seun van God wat tegelyk ook mens was, het op daardie dag in die graf gerus.

Die kerk het tereg die geloof in die opstanding van ons Heiland bely met die woorde: op die derde dag opgestaan uit die dode. Daardie drie dae in die graf was as 't ware die beseëling van sy dood. Die staat van sy vernedering is deur God nie abrup afgebreek nie. Tot die laaste vernedering het Christus dit deurstaan. En die hele tyd - vanaf sy nederige geboorte tot aan sy in-die-graf-wees - was Hy die gevloekte. Borgtogtelik - in u en my plek. Al die tyd het hy die toorn van God jeens ons sondes gedra. Dit kan nooit voldoende tot ons deurdring nie.

Die apostel Paulus het dit baie kernagtig opgesom toe hy gesê het dat God Jesus opgewek het "wat oorgelewer is terwille van ons misdade" (Rom. 4: 25). Met daardie een woord "oorgelewer" vat Paulus die hele staat van vernedering van Christus saam. Hy was oorgelewer aan die vloek van God en het daarmee ons sondes versoen.

Maar die apostel sê meer. Hy voeg triomfantelike, heerlike woorde hieraan toe. Nl. "en opgewek is terwille van ons regverdigmaking". Hoor u dit: opgewek terwille van ons regverdiging. Toe Hy drie dae in die graf was het die omkeer, die keerpunt gekom. Dit het Paasfees geword; die dag van die opstanding, die dag van die oorwinning op die dood. U kan en mag Golgota nooit van die Paasdag losmaak nie. Goeie Vrydag sonder Paasfees beteken niks nie. Iemand het dit eendag só uitgedruk: Goeie Vrydag sonder Pase is soos 'n vrug sonder pit. Dan is dit hol en leeg. Ons kan ook sê: soos 'n lamp sonder lig of 'n battery wat nie gelaai is nie. Paasfees is die kroon op Goeie Vrydag.

Op die derde dag opgestaan uit die dood, so bely die kerk. En die Heidelbergse Kategismus druk dit in Sondag 17 só uit onder "ten eerste": Hy het deur sy opstanding die dood oorwin. Hier word net enkele woorde gebruik, maar wat 'n magtige gebeurtenis was dit! God self staan op hierdie manier sentraal in die Paasgeskiedenis.

Die belydenis stel met hierdie "ten eerste" dìt voorop wat in die vroeë oggend van die Paasdag gebeur het. God het in beweging gekom. God het sy hand op die oppervlak van die aarde gesit en het dit laat bewe. God het sy engele na die tuin van Josef van Arimatea gestuur en het hulle bevel gegee om die klip van voor die graf af weg te rol. God het die seël wat in opdrag van Pilatus op die graf aangebring was, verbreek. God het die Romeinse soldate wat wag gehou het uitmekaar gejaag en het self gesorg vir 'n ander, 'n erewag - nl. sy liturgiese geeste wat die grafdoeke sorgvuldig eenkant gesit het. En God het een van die engele beveel om as teken van oorwinning op die grafsteen te gaan sit.

Hiermee het 'n einde aan die staat van Christus se vernedering gekom. Nou neem die staat van sy verhoging 'n aanvang. Deur die krag van God het sy seun in die graf geen verderwing gesien nie. Nou wek God Hom op - groots en triomfantelik. Soos Lasarus uit die graf uitgekom het, so het die Seun van God tot nuwe lewe gekom. Net baie heerliker. Want Lasarus het weer gesterwe, maar ons Heiland het opgestaan om nooit weer te sterwe nie. Hy het die dood oorwin. In daardie woord "oorwin" is 'n diepte wat ons nooit volledig sal kan peil nie.

En dink by die begin van Christus se staat van verhoging opnuut aan daardie woord van Paulus - "oorgelewer ter wille van ons misdade en opgewek ter wille van ons regverdigmaking". God toon ons in die triomfantelike opwekking van sy Seun dat Christus vir ons die skuld tot die laaste sent betaal het, Wat dink u, sou God sy Seun uit die dood laat opstaan as daar nog éen sonde onversoend sou gebly het? Sou God in die opstanding van ons Heiland die kroon op sy werk plaas as daardie werk nie volkome voltooi sou gewees het nie?

Die Kategismus laat hier in die "ten eerste" op skitterende manier sien wat die diep betekenis van die opstanding van ons Heiland is. Hy het die dood oorwin, so sê hierdie Sondagsafdeling "sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak".

Dit is geen gemaklike woord nie, brs en srs, die woord geregtigheid wat ons belydenis hier gebruik. Maar tog is daar geen beter woord om aan te dui wat die opstanding van ons Heiland beteken nie. Daarin is dieselfde woord "reg" wat ook vervat is in die woord "regsposisie" waaroor ons in die begin gepraat het. Dit is 'n Verbondswoord. Alles is nou reg tussen God en ons wil hierdie woord sê. Die reg van God het nou niks meer om van ons te eis nie. Christus het u en my skuld volkome betaal. Alles het weer goed geword tussen God en ons, so goed as wat dit tussen God en die mens in die Paradys was. En nogmaals - as daar nog een sonde versoen moes word, as daar nog een ongeregtigheid nie deur die bloed van Christus bedek en weggewas was nie, dan sou God Hom in die graf laat bly het. Sy triomfantelike opstanding is die bewys, die publieke bewys - Christus het alles vir ons betaal.

U mag dit só sien: God het die sesde kruiswoord van sy Seun - dit is volbring - oorgeneem en beseël in sy opwekking. God laat daardie oorwinningswoord nou oralsoor weerklink. Die duiwel en die dood het gedink hulle kon ons Heiland in die graf bring en hou. Maar God breek daardie graf oop en laat voor die oë van mense, engele en duiwels sien hoe magteloos satan en dood is.

Daarom is dit, brs en srs, ook van die grootste belang om met alle krag die heilsfeit van die opstanding te handhaaf. God het in die opstanding van Christus die dood stukkend gebreek. Dit moet die kerk van Christus ook in hierdie tyd handhaaf en verdedig. Daar is deesdae dwaalgeeste in oorvloed wat hieraan afbreuk wil doen.. Hulle sê: ons moet die opstanding ontmitologiseer. D.w. s. die hele Paasgeskiedenis is net 'n mite, 'n ou verhaal. Daar kan die moderne mens wat d. m. v. radio en TV die hele wêreld verken en wat hom as hy siek is in 'n gesofistikeerde kliniek laat behandel, nie meer in glo nie, so word beweer. Dit behoort aan die ou tyd toe mense nog in mites geglo het, ook in die mite van die opstanding uit die dood. Die Paasgeskiedenis, so word gesê, het ontstaan deur die oortuiging van die apostels dat met die dood en die kruis van Jesus nie die einde van al die mooie dinge wat daaraan voorafgegaan het, gekom het nie. Hy het vir hulle verder gelewe in sy boodskap van sondevergewing. En daardie oortuiging dat Jesus verder geleef het in sy boodskap, dit het hulle konkreet gemaak deur te beweer - Hy is opgewek van tussen die dooies uit.

Maar u weet hoe moeilik dit vir die eerste getuies van Christus se opstanding was, om dit self te aanvaar. Hulle moes deur Jesus self tot die geloof in sy opstanding gebring word! Dink maar aan die Emmaüsgangers. Dink ook maar aan Thomas: as ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vingers steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie (Joh. 20: 25). So moeilik kon die eerste getuies dit glo. Dit is nonsens om te beweer - dit was vir hulle makliker.

Daarom mag en moet ons met krag bly bely: ek glo in Jesus Christus wat op die derde dag opgestaan het uit die dood. Leesdie 15de hoofstuk van I Korinthiërs. Daar noem die apostel Paulus 'n lang reeks van getuies aan wie die opgestane Heiland verskyn het. Daar was selfs 500 op een slag van wie, so skryf Paulus, die meeste nog lewe maar sommiges gesterf het (I Kor. 15: 6). Daar kon dus by hulle navraag gedoen word. En dit was nodig, want die apostel stel in I Kor. 15 die geloof in die opstanding baie sentraal: As Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle Geloof.

Ja, Christus het die dood oorwin. Dit is die eerste wat hier gesê word. Maar Hy het die dood oorwin, so bely ons hier, "sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak". Ons het reeds gepraat oor die woord geregtigheid. Die belydenis laat ook sien wat Christus met daardie geregtigheid doen! Daardie woordjie "sodat" beteken hier baie. Christus het met die geregtigheid wat Hy vir ons verwerf het iets gedoen. Hy het nie opgestaan om nou op sy louere te gaan rus of om gewoon verder te gaan met sy werk in die stede en dorpe van Palestina nie. Nee, Hy het opgestaan om daardie geregtigheid onder ons te gaan uitdeel, om ons 'n deelgenoot daarvan te maak. Hy gaan die skatte wat Hy uit die dieptes van dood en hel saamgebring het nou aan ons uitdeel. Hy is soos 'n veldheer wat sy teëstanders verslaan het en nou die buit gaan bekyk en uitdeel. Die skatte van die vergewing van die sondes en van die vernuwing van ons lewe gee Hy nou vir ons.

Kyk, hoe werk Hy. Hy gaan as die opgestane Heer agter die dissipels aan om hulle deelgenote van sy geregtigheid te maak. Hy vra vir Petrus wat Hom driemaal verloën het: Simon, seun van Jonas, het jy My lief? So herstel Hy hom in sy apostelamp. Hy gaan ook agter Thomas aan: "Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig". Hy bring Thomas so tot die belydenis: My Heer en my God!

Brs en srs, dit doen Hy vandag nog! Die geregtigheid wat Hy verwerf het, bestaan nie net op papier nie, maar Hy deel dit uit. Daar is Hy voortdurend mee besig. Hy kom tot u en my met die lewende verkondiging van die opstandingsevangelie. Hy wil daarmee u en my hart bereik. Hy toon in daardie evangelie die skatte wat Hy verwerf het en Hy roep op tot geloof in Hom. Om te glo in die Christus wat opgestaan het, beteken ook om te glo in wat Hy vir ons verwerf het. Ons gewete, so sê Sondag 23, kla ons aan dat ons teen al die gebooie van God swaar gesondig en nie een daarvan gehou het nie en dat ons nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is. En nou verkondig die opgestane Heiland ons: Hier is Ek, Jesus Christus, u Heiland. Ek weet hoedat u tot in die wortel van u lewe verdorwe is. Ek weet hoe u die skuld elke dag groter maak. Maar Ek versoen die skuld. Ek tree vir u in by die Vader.

U moet dink aan wat Paulus in Rom. 8: 34 skrywe: Wie is dit wat veroordeel? En die antwoord lui: Christus is dit wat gesterf het; en hy gaan onmiddellik verder met: ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree. Wat méér is - laat dit goed tot u deurdring. Christus se opstanding lewer oorvloedige vrugte op.

In die inleiding tot die preek is gespreek oor die moderne mens wat by die begin - abortus - en by die einde - eutanasie - op die lewe wil ingryp. Dit wil daardie mens doen omdat vir hom die dood die einde van alles is. Hy sien oor daardie lewe nie die lig van die opstanding van Christus skyn nie. Maar die kerk wat met alle krag van sy opstanding getuig, wéét dat Christus die dood oorwin het. Die kerk beskou daarom ook die eerste begin en die soms so moeilike einde van die lewe in daardie oorwinning opgeneem. Daarom veg die kerk vir die lewe sowel by die begin as by die einde. Moet daardie eerste begin van die lewe van die verkondiging van die Evangelie weggesny word? En gee hierdie Evangelie ook nie die krag om die soms so moeilike sterwe te volbring deur die genade en krag van die opgestane Christus as ons enigste troos nie?

2. Oorvloedige vrugte. In die 1ste plek word deur die opstanding van Christus ons skuld versoen. Maar vervolgens (ons 2de punt): Christus vernuwe daardeur ook ons lewe - ons word nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek. Brs en srs, daar sit 'n baie fyn sinspeling op Christus se opstanding in daardie woord "opgewek". Daarmee stel Sondag 17 die opstanding van Christus baie sentraal in ons lewe. Ons word, so bely ons hier, deur sy krag, d. i. deur die opstandingskrag van die Heiland, tot 'n nuwe lewe opgewek. En dit gebeur nou, nie eers op die jongste dag nie. Ons word nou reeds deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek. Christus is opgewek, dit is die eerste. Ons word nou reeds tot 'n nuwe lewe deur Hom opgewek, dit is die tweede.

Let wel, brs en srs, daar staan nie: u is deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek nie. Nee, daar staan: u word opgewek. Dit gebeur nòg. Daar gaan 'n deurgaande aksie van die opgestane Heer wat tans in die hemel is, uit. Daar is christene wat dit nie nodig ag om so 'n sterk klem op daardie "opgewek-word" te plaas nie. Hulle is met Christus opgewek, so dink hulle, en daarmee is dit tog klaar afgewerk? Hulle werk by hierdie Sondagsafdeling baie maklik met die reeksie regverdigmaking, heiligmaking en heerlikmaking. Op homself is teen dié reeksie geen besware nie. Maar moenie dink - nou is daar geen stryd meer nie.

Juis die uitdrukking: ons word deur die krag van Christus tot 'n nuwe lewe opgewek, toon ons hier is van 'n voortdurende stryd sprake. Niks minder nie as die krag van die opgestane Heiland is nodig om ons in daardie stryd staande te hou. Ons ou mens laat hom baiekeer nog terdeë geld. Kan dit ons nie benoud maak nie? Ons het reeds solank teen daardie bepaalde karaktersonde gestry. Ons het ons dugtig ingespan en tog is ons steeds weer swak en ly 'n neerlaag. Ons moenie die krag van ons ou mens in ons lewe onderskat nie. Selfs die apostel Paulus het hierdie reël in sy lewe ontdek (Rom. 7: 21 e. v. ): as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens, maar ek sien 'n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed... Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus onse Here! D.w. s. deur ons opgestane Heiland wat met sy krag Paulus en alle kinders van God in hierdie stryd laat stand hou.

Die belydenis verwys hier ook na Rom. 6: 4 waar die apostel oor dieselde stryd praat. Hy sê daar dat ons met Christus begrawe is deur die doop in die dood, sodat, so gaan hy verder, net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel.

Wat lê hierdie verwysing 'n troosvolle verband tussen ons lewenstryd en die krag van Christus in ons doop. U moet daarby dink aan die doop deur onderdompeling soos wat dit in Paulus se tyd voltrek is. Ons is, toe ons in die doopwater ondergegaan het, met Christus begrawe in sy dood. Ons staan uit daardie doopwater weer tot 'n nuwe lewe op. Dis presies dieselfde as wat die Heid. Kategismus hier sê; deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek.

Die opgestane Heiland werk kragtig in ons lewe. Hy breek die krag van die ou mens. Ons mag steeds weer sy krag in ons stryd ervaar.

'n Kind wat nie brutaal is nie. 'n Besigheidsman wat eerlik is in sy werk. 'n Ampsdraer wat in sy gesprek met lidmate sy aggressiwiteit onderdruk. 'n Man en 'n vrou in 'n huwelik wat dreig om op die rotse te beland en wat hulle tog weer met mekaar versoen. - Steeds weer ervaar ons dat die opgestane Heiland ons by die hand neem, op ons voete plaas en in die stryd laat standhou. Die digter van Psalm 119 het hierop reeds vooruitgegryp in die gebed wat hy meer as eenkeer uitspreek: Maak my lewend na u Woord.

Ons mag bid om 'n opgewekte nuwe lewe in Christus. Dit geld ook vir ons kerklike lewe. Daardie twee - ons kerklike en ons geestelike lewe - hang baie nou met mekaar saam. Wat dink u: sou 'n opgewekte lewe uit die krag van Christus se opstanding nie in ons kerklike lewe deurwerk nie? Ons kan partykeer so baie kritiek oefen op wat in die kerk gebeur. Daar is soms suur gesigte en kritikasters kan baie onaangenaam wees. Maar daarteenoor indien ons deur die krag van Christus soos 'n opgewekte in die diep betekenis van die woord, lewe, sal dit ook in die omgang met brs en srs deurwerk. Dit werk ook in die verhouding van ampsdraers en lidmate deur. Dit moet 'n rede tot groot dankbaarheid wees as Christus onder ons 'n opgewekte kerklike lewe gee.

En u sal sie - dit werk op sy beurt verder in die samelewing. Van die gemeente van Christus mag 'n groot krag tot vernuwing en herstel op die hele samelewing uitgaan. Dink maar aan wat gesê is oor die begin en die einde van die lewe.

3. En nog is daar geen einde aan die vrugte wat die opstanding van Christus oplewer nie. Ons belydenis kom met 'n derde punt. Die opstanding van Christus is, so word gesê vir ons 'n betroubare waarborg van ons salige opstanding.

Ons moet hierby opnuut dink aan I Kor. 15, spesifiek vs 20. In aansluiting op sy vurige verdediging van die opstanding van sy Here skrywe hy daar: Maar nou - en let daarby op die dwingende konklusie in dié woorde - maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van dié wat ontslaap het. Dit is 'n sprekende beeld wat deur Paulus aan die Ou Testamentiese erediens ontleen is. As 'n Israeliet die eerstelinge van sy oes ingesamel het, het hy 'n gerf daarvan na die priester gebring. Dié het dan die eerstelinggerf voor die aangesig van die HERE beweeg. Dit was 'n onderpand, 'n waarborg van die volle oes wat sou volg.

Nou, Christus het die eersteling geword van hulle wat ontslaap het. God die HERE beweeg hierdie eersteling oor die saailand van die wêreld. Hierdie saailand, waarin so baie gestorwenes wag op die koms van ons Heiland in heerlikheid. Hy, Christus, die Eersteling, Hy is die betroubare waarborg dat eendag almal wat aan Christus behoort, opgewek sal word. 'n Saad word gesaai om nuwe vrug voort te bring. Kyk na die Heiland.

Nog een punt: Die Kategismus sê: die opstanding van Christus is 'n waarborg van ons salige opstanding. Voortdurend spreek die belydenis in hierdie Sondag van ons en onse. Vir almal wat met die ou christelike kerk bely: ek glo in Jesus Christus wat op die derde dag opgestaan het uit die dode, geld nou: ons glo. Vir ons is die opstanding van Christus vol van heerlike beloftes - oorvloedige vrugte sien ons daarvan. En dit bereik sy toppunt in die opstanding in heerlikheid. Ek word ons, almal mag ons deel daaraan kry.

Ons mag die lewe vanaf die eerste begin tot aan die soms moeilike einde in die lig van Christus se opstanding sien. Laat daardie geloof in ons harte leef. Laat ons nie in ongeloof daar buite staan nie. Leef uit Christus, ons opgestane Heer, uit krag van sy oorwinning. Laat ons in hierdie enigste troos staan en stry. Daar staan en val ook ons aller opstanding in heerlikheid mee. Geloofd sy Jesus Christus, ons opgestane Heiland.

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)