Die betekenis van Christus se opstanding vir ons, Sy onderdane

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 17
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 17 H.K.

LITURGIE:
L. Koloss. 1: 3, 13-23 & 3: 1-17
Ps. 145: 1, 3, 5
Ps. 145: 12
Ps. 21: 1-4, 9
Ps. 72: 4
Ps. 115: 9

Broeders en susters,

Ons het nou net in Psalm 21 van die opstanding van Christus gesing. Ons het mos gesing van 'n Koning wat sy wens van God verkry het. Hy het met heel sy hart begeer die onverwelkb're lewe. God het dit Hom gegewe. Nou leef Hy eindeloos, vir ewig en altoos. Wat is dit anders as die feit van Pase, die oorwinning op sonde dood en graf deur ons Here Jesus Christus?

Maar toe het ons vervolgens in Psalm 21 ook oor onsself gesing.

Toe ons naamlik in vs. 9 gevra het: "Verhef U in u sterkte, HEER, en laat u groot vermoë gesien word voor die oë van almal wat U roem en eer". Daarmee het ons feitlik gevra: Hierdie Koning wat die dood mog oorwen en toe die ewige lewe ontvang het, is tog ons Koning? En ons is mos sy onderdane. Laat die gevolge van sy opstanding uit die dood dan nou ook vir ons almal, die burgers van sy ryk, sigbaar word. Hy het mos vir òns die dood in gegaan. Hy het ook vir òns weer uit die dood opgestaan. Om ons in sy lewe te laat deel. Ons is nou vol blye verwagting.

Maar weet u wel presies wàt u almal mag verwag, gemeente? Watter gevolge Christus se opstanding in ons lewe moet kry? Hoe ons in sy lewe kan deel?

Ek mag u dit vanaand vanuit God se Woord aanwys, aan die hand van Sondag 17 van die Heidelbergse Kategismus.

Ek bedien u God se Woord oor:

DIE BETEKENIS VAN CHRISTUS SE OPSTANDING VIR ONS, SY ONDERDANE.

DEUR SY OPSTANDING IS HY:

  1. ONS VREDEVORS
  2. ONS LEWENSVORS
  3. ONS EWIGE VORS.

1. Toe God ons Koning in die wêreld gestuur het, het Hy 'n menigte engele saamgestuur om die geboorteberig rond te bring. 'n Groot engelekoor het oor die velde by Betlehem geskal:

Eer aan God in die hoogste hemele
en vrede op aarde,
in die mense 'n welbehae!

"Vrede op aarde"- dit het sentraal gestaan in die teks van hierdie geboorte- aankondiging. Dit was mos die regeringsprogram wat die koning van die ryk van die hemel op aarde moes uitvoer. Hy sou die Vredevors wees waarvan Jesaja al geprofeteer het toe hy gesê het: "Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbare Raadsman, Sterke God. Ewige Vader, Vredevors".

Hierdie in Betlehem gebore Kind was die meerdere van Salomo waarvan Psalm 72 gesing het: "O saalge ryk waar enkel vrede oor berge en heuwels sweef; die Vors na Gods geregtighede sal heers oor wat daar leef. Dan kom die tyd van welbehae, wanneer die vrede bloei, regverdiges sal in sy dae in volle wasdom groei".

En u weet wel, broeders en susters, dat die vrede wat hierdie Koning bewerk 'n radikaal ander vrede is as die vrede waarvan hulle in hierdie wêreld die mond vol het. Sy vrede is nie die vrede van 'n kersbestand nie, nie die vrede van 'n tydperk sonder kernmessiele nie.

Sy vrede is die vrede met God deur die versoening van ons sondes. Daarvoor het Christus in die wêreld gekom: om die gapende kloof tussen God en sy volk te oorbrug deur ons skuld by God te versoen. Hierdie vrede kan alleen 'n duursame vrede wees, 'n vrede wat altyd sal bly duur. Hierdie vrede alleen maak die lewe goed, rêrig goed. Hierdie vrede alleen gee vir hierdie wêreld weer toekoms.

God het sy eie Seun in die wêreld gestuur om hierdie vrede te verdien. En die engele het dus dadelik die doel van sy koms onderstreep: "Vrede op aarde".

Tog..... met Christus se geboorte was die vrede nog lank geen feit nie. Met Kers kon die vredesvlae nog nie gehys word nie. Want ons sing wel dat die engele "Vrede op aarde" gesing het, maar dit het hulle nie sondermeer so gesê nie. Hulle het hul geboorteberig sorgvuldiger geformuleer, naamlik: "Vrede onderweg na die aarde". Hulle kon toe nog nie verder gaan nie. Die vrede was op daardie oomblik nog nie 'n feit nie, al was dit wel in aantog. In die nag van Betlehem het wel die lig aan die einde van die donker tonnel begin skemer, maar die tonnel was nog nie totaal verby nie. Vrede op aarde: dit is onderweg, noudat die Koning van God se vrederyk aan die afwerking van sy program begin het.

Maar hierdie Koning moet nog 'n moeilike pad loop om die begeerde vrede tot stand te bring. Daar wag nog 'n sware taak op Hom alvorens die vlag van die vrede gehys kan word.

As Hy die sondes by God wil versoen, moet Hy wat geen sonde geken het nie, eers sonde vir sy volk gemaak word. Die straf wat vir hulle die vrede aanbring, moet Hy vir hulle dra. Al God se toorn moet oor Hom uitgestort word.

Ons het ons Koning op hierdie sware weg gevolg, in die afgelope weke, broeders en susters, aan die hand van die voorgaande Sondae in die Kategismus. Ons het Hom die weg van kribbe na kruis sien gaan, die gang van wieg tot graf. Ter wille van ons vrede het Hy ons vloek gedra. Die straf wat vir ons die vrede aanbring, wàs op Hom.

Tot ons Koning op die ou end in 'n graf verdwyn het!

Toe die straf gedra was en die vrede verdien, toe die kloof tussen God en sy volk oorbrug was- toe was ons Koning dood en begrawe. Hy het geroep: "Dit is volbring!". Maar daarna het Hy die gees gegee. En sy liggaam is in 'n graf weggelê.

Maar dit kon tog nie die einde wees nie??

Wat kan God se volk met 'n dooie Koning? Hoe kan ooit God se vrederyk die wêreld verower as die Koning van hierdie ryk in die stryd beswyk het? Ja, hoe kan die verdiende vrede die mense ooit bereik as God se Vredevòrs dit nie gaan uitdeel nie?

Dis hoekom dit na Kers en Goeie Vrydag ook Pase moes word. Dis hoekom ons Koning nie in die graf kon bly lê nie. Hy moes, so noem die Kategismus dit in Sondag 17, Hy moes die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, ons nou deelagtig maak.

En u verstaan nou tog wat die Kategismus met daardie swaarwigtig lykende woord "geregtigheid" bedoel, broeders en susters? Want wat kan dit hier anders beteken as die vryspraak van ons skuld by God, die versoening met God deur die kwytskelding van ons sondes, ja, die herstelde vrede met God?

Christus moès uit die graf uit en weer die aarde op om as ons Vredevors die verdiende vrede aan ons uit te deel. Want Hy self is ons vrede. So noem die Bybel Hom in Micha 5 en Efesiërs 2. Hy is ons vrede. As ons Middelaar. Deur en in Hom alleen het ons weer toegang tot die Vader. Ons Koning moet self die blywende vrede met die Vader waarborg. Hy moet met sy offer vir ons sondes voortaan tussen ons en sy Vader instaan. So alleen kan dit vrede wees.

Eers toe Hy opgestaan het, kon dus die vlag van die vrede gehys word. Nou is die vrede 'n feit. Nou mag die engele op volle sterkte sing: "Vrede op aarde!". Maar dis nou nie meer nodig dat die engele, as heraute, die vredesboodskap uitbasuin nie. Die Vredevors self sal so maak. Hy self soek sy bange onderdane dadelik op die eerste Paasmôre op en begroet hulle bly met die woorde: "Vrede vir julle!". So mag Hy dit sê sinds die uur van sy opstanding. En daardie simpele woorde "Vrede vir julle" beteken in sy mond nou nie minder as 'n regverdigverklaring voor God nie, gemeente. Christus sê dit tot twee maal toe: dit is nou "Vrede vir hulle". Vrede met God vanwee die versoening van die sondes.

"Die straf wat vir julle die vrede aanbring, was op My", sê Christus daarmee; "God het die ongeregtigheid van julle almal op My laat neerkom. Maar kyk, Ek leef, die skuld is betaal. En as julle met God versoen is deur My dood, hoeveel te meer sal julle dan deur my lewe gered word noudat julle met Hom versoen is. Voortaan is Ek julle vrede!" Dit is dus dadelik die eerste gevolg van Christus se opstanding vir ons, sy onderdane, broeders en susters: Hy is nou ons Vredevors deur Wie ons die versoening met God ontvang.

Toe Christus as Vredevors uit die dood opgestaan het, het die lewe op aarde weer uitsig ontvang. Onder hierdie Koning is ons nou op pad na die vernuwing van die hele skepping, na 'n universele vrede, 'n nuwe paradys. Want daar is versoening met God vir elkeen wat Hom onderwerp aan hierdie Koning.

U vergeet dit tog nie, gemeente? U sien hierdie eerste en belangrikste gevolg van Christus se opstanding nou tog nooit meer oor die hoof nie?

Dit is meer as 'n vaste formule wanneer u hier in die kerk elke Sondag gegroet word met die woorde: "Genade vir u en vrede van God, ons Vader, en van die Here Jesus Christus". So dikwels hierdie woorde klink, deel u Vredevors opnuut sy vrede uit. Hy kondig die vrede af vir elkeen wat in Hom glo. Vrede, nie vir later nie, nie vir eers na die sterwe of na die laaste dag nie, maar vrede vir vandag! Die burgers van sy ryk mag weer die kinders van sy Vader wees. En hulle mag opstaan in 'n nuwe lewe.

2. Ja, deur die vrede kom daar ook 'n nuwe lewe vir die burgers van Christus se koninkryk. Want ons moet nou in die tweede plek daaraan aandag gee dat Christus deur sy opstanding ook ons Lewensvors geword het.

Die Kategismus wys daarop as ons as tweede gevolg van Christus se opstanding lees dat "ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek word".

U moet daardie sinnetjie mooi lees. Dit lyk dalk, asof daar nou iets oor die toekoms gesê word: oor die nuwe lewe wat ons ontvang na die dood. Maar in werklikheid wys die Kategismus hier nie op die toekoms nie, maar op iets wat ons ook al vandag ontvang.

Christus is as ons Lewensvors vandag al besig om ons tot 'n nuwe lewe op te wek. Noudat Hy vir ons die vrede bewerk het, wil Hy ook die nuwe lewe in ons bewerk.

Want u weet tog, gemeente, wat die Bybel onder "lewe" verstaan? "Lewe"- dis nie maar net "bestaan" nie, die feit dat jou hart klop, jou brein werk en jou longe lug inasem nie. Die egte lewe is die lewe met God, die lewe vir God, die lewe waarby God alles in almal is, kortom: die lewe soos dit daar eendag was in die paradys, sonder sonde.

Ons het daardie lewe verloor. Ons het deur die sonde die dood in die wêreld ingebring. Selfs lewende mense is vir God dood deur die sonde.

Maar noudat Christus die lewe met God vir ons weer moontlik gemaak het, moet daar by ons natuurlik ook weer 'n lewe vir God kom. Om nog 'n bietjie moeilike woorde te gebruik: noudat Christus vir ons geregtigheid verwerf het, bewerk Hy vir ons vervolgens ook heiligheid. Hy het vergewing vir ons verdien, maar nou moet daar ook 'n totale vernuwing kom. Ons moet weer word soos die mens in die paradys was: mense wat die sonde haat.

En daaraan het Christus vanaf sy opstanding daarom ook gaan werk, as ons Lewensvors. Hy het begin om die burgers van sy ryk tot 'n nuwe lewe op te wek. Hy trek ons na Hom toe en met Hom saam, by die sonde vandaan. Die sonde mag in ons lewe geen plek meer oorhou nie. Die sonde mag ons lewe nie langer sy verwoestende werk doen nie. Ons is mos op pad na die volkome vrede, waar ook alleen maar plek is vir volkome lewe, sonder sonde!

Daarom werk Christus na sy dood met alle krag aan 'n nuwe lewe vir ons.

U sien tog ook hierdie krag van ons Koning nie oor die hoof nie, gemeente? Hierdie krag kom alle dae na u toe wanneer u by die huis die evangelie van die opgestane Christus oopmaak. Hierdie krag van die Lewensvors kom elke sondag na u toe, wanneer daar in die kerk nie alleen gegroet word met die woorde "Genade en vrede vir u... " nie, maar vervolgens ook die Wet van die lewe aan u voorgehou word en God se Woord vir u lewe heel konkreet in die prediking vir u aangewys word.

Hierdie krag wat nuwe lewe wek, kom na u toe so dikwels die ampsdraers u by die huis kom besoek.

Voortdurend is Christus besig om ons aan ons sondes te ontdek, deur dit reguit aan te wys. Dit moet, sodat u met die sonde sal breek en in 'n nuwe lewe sal opstaan. Die dood is mos deur ons Koning oorwen- hoe kan ons wat met Hom die sonde afgesterf het, nog daarin lewe? Nee wat, alle sonde moet weg en ons Koning sal nie nalaat om ons daarop te wys nie. Dit breng sy opstanding nou maar eenmaal vir sy onderdane saam. In sy ryk bly daar geen plek vir die sonde oor nie. In sy ryk moet die lewe weer begin opbloei. Dus moet weggedoen word, heel konkreet: hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes, gierigheid, toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit ons mond en so meer.

En daar moet 'n lewe na die wil van God kom wat innerlike ontferming, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid, vergewingsgesindheid en so meer saambring. Ja, die vrede van God waartoe hulle saam geroep is, moet in hulle harte heers.

Die Kategismus sê tereg, gemeente, ons word deur Christus se krag tot so'n nuwe lewe opgewek. Teenwoordige tyd. Nie: ons sal opgewek word nie- toekomstige tyd. Maar ook nie: ons is klaar tot hierdie nuwe lewe opgewek nie. Voltooide verlede tyd. U weet dit ongetwyfeld uit u eie lewe. Ons is rêrig nog nie volmaak nie. Daar moet in ons lewe nog veel verander. Party huisbesoekrapporte gee nog baie rede tot kommernis. Daar moet nog veel vermaan word weens 'n gebrek aan daardie nuwe lewe wat God wil sien.

Maar Christus bly werk! Al werk Hy ook stadigaan, sy krag as Lewensvors skiet nie te kort nie. Maar ons onttrek ons nog te dikwels aan sy krag, as ons ons teen sy lewendmakende Woord verset. Dis dwaas en gevaarlik, broeders en susters. U verset u dan teen die lewe! Teen die ewige lewe waarop Christus u vandag al wil voorberei.

3. Dit is mos die doel wat ons Koning soek. Die ewige lewe in 'n nuwe paradys. Van Kers moet dit via Goeie Vrydag en Pase tot die dag van sy eindoorwinning kom, die dag waarop Hy weerkom op die wolke. Dan sal alle burgers van sy ryk nuwe, verheerlikte liggame ontvang waarop die sonde vir ewig geen vat meer kan kry nie. Dit word die laaste en alles oortreffende gevolg wat ons van Christus se opstanding mag verwag. Dit word die definitiewe oorwinning op die dood wat nou nog altyd die laaste woord kry, na dit skyn. Enige lewe eindig vandag nog in 'n graf. ook die burgers van die ryk van Christus deel in hierdie lot. Hoe 'n lewe ook al tot bloei kom- eendag breek dit alles af in 'n graf. En wat lyk dit daarom sinloos om jou vandag te beywer vir 'n nuwe, godvresende lewe. Waarom sou ons onsself en mekaar dan kul met lugspieëlinge?

Laat ons eet en drink, want môre sterf ons!

Maar die burgers van die ryk van Christus weet van beter: hulle vors laat hulle nooit meer los nie. Hy het dood en graf al agter Hom gelaat en sy heerskappy is 'n ewige heerskappy. Wie daarom tot sy ryk behoort het 'n ewige lewe voor hom, 'n lewe wat selfs deur die sterwe nie meer afgebreek word nie. Hul Koning is 'n ewige Koning wat ook vir hulle die ewige lewe met Hom sal skenk. Hy is mos met sy volk op pad na die volkome vrede en die volmaakte lewe? As hulle moet sterf, is dit nie die einde nie, maar hulle mag, verlos van die stryd teen die sonde, met Hom in die hemel wag op die dag van sy weerkoms na die aarde.

En dan gaan die grafte oop, almal, en sal die Vors van Pase ons vernederde liggame aan sy verheerlikte liggaam gelyk maak en ons vir ewig by Hom neem.

Sy opstanding van eers waarborg ons opstanding aanstonds. Want van Hom is die Koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. En Hy sal nie rus voordat Hy alle gevolge van die sonde uit ons lewe weggedoen het nie, sodat God weer alles in almal kan wees.

Ons het as onderdane van hierdie Koning 'n wonderlike vooruitsig, gemeente. Daar is alle rede om die gebed van Psalm 21 te bly bid:

Verhef U in u sterkte, HEER,
en laat u groot vermoë
gesien word voor die oë
van almal wat U roem en eer.
Dan leef ons eindeloos,
vir ewig en altoos.

AMEN.

(Pretoria, 4-12-1988)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)