Christus se opstanding was die groot ommekeer in die lot van God se volk

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 17
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 17 H.K

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 85
Gebed
L. Psalm 85 & Psalm 126
Ps. 126: 2
Prediking
Gesonge geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
SB. 10
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ek het vanaand twee Psalms laat sing en lees waarin God se volk dankbaar terugkyk op die wonder van die terugkeer uit die ballingskap in Babel: Psalm 85 en Psalm 126.

In albei die Psalms word daardie terugkeer uit Babel met 'n opvallende uitdrukking aangedui: God het "die lot van sy volk verander". Altans, so staan dit in ons Ou Vertaling. Die Hebreeuse uitdrukking is sterker: die HERE het 'n totale omkeer in die lewe van sy volk bewerk! So het God se volk die verlossing uit die gevangenskap in Babel ervaar: hul situasie het sommer 180 grade gedraai. Ballinge het weer vrye burgers geword, mense sonder uitsig het 'n nuwe toekoms gekry, klaagliedere het vreugdepsalms geword, trane het in gelag verander. Ja, God se volk het die lewe as 't ware uit die dood teruggekry!

So het die HERE self die terugkeer uit die ballingskap ook aangekondig. Ons lees dit wel 12 keer by die profeet Jeremia: "Kyk, die dag kom, spreek die HERE, dat Ek die lot van my volk sal verander". Dus: dat Ek 'n radikale wending in die situasie van my volk sal teweegbring.

Inderdaad so radikaal dat 'n mens dit met 'n opstanding uit die dood kan vergelyk.

U ken tog die visioen wat die HERE vir die profeet Esegiël laat sien het? 'n Dal vol met doodsbene. Nie eers geraamtes nie, maar een grote deurmekaarspul van skedels, arms, hande, skouerbene, voetbeentjies..... So was Israel na die verwoesting van Jerusalem en die verstrooiing in die ballingskap. Maar God gaan in daardie dooie deurmekaarspul nuwe lewe inblaas. Hy gaan sy volk uit daardie doodse bestaan weghaal na 'n nuwe lewe met Hom toe.

Sy volk gaan inderdaad die lewe as 't ware uit die dood terugkry.

Wanneer ons vandag Psalms soos Ps. 85 en Ps. 126 sing, broeders en susters, kyk ons nie meer net terug op daardie wonderlike terugkeer uit Babel nie. Daardie verlossing was ongetwyfeld 'n groot ommekeer in die lot van God se volk, maar ons weet inmiddels dat dit darem nog nie die definitiéwe wending in sy bestaan geword het nie.

Ook na die terugkeer uit Babel het God se volk geleidelik aan weer teruggesak in 'n dooiheid wat nie so baie verskil het van die situasie in Babel nie. Dié groot ommekeer in die lot van God se volk het eers gekom, toe God vir ons almal sy eie Seun uit die dood in die lewe teruggeroep het. Toe God ons Here Jesus Christus na sy sterwe aan 'n kruispaal op Golgota en 'n verblyf van 'n paar dae in 'n graf, weer uit die dood tevoorskyn gebring het, toe was daar eers regtig rede vir God se volk om te lag en te jubel en Psalms te sing oor ons groot God wat die lot van sy volk radikaal verander het.

Ek wil vanaand weereens met u kyk na daardie groot wending in ons lot wat Christus deur sy opstanding teweeggebring het.

Kom ek vat my boodskap so saam:

CHRISTUS SE OPSTANDING WAS DIE GROOT OMMEKEER IN DIE LOT VAN GOD SE VOLK

  1. VEROORDELING HET VERANDER IN VRYSPRAAK
  2. SWAKTE HET VERANDER IN KRAG
  3. STERFLIKHEID SAL VERANDER IN HEERLIKHEID

1. Ja, gemeente, toe ons Here Jesus Christus mog opstaan uit die dood, het die HERE daarmee nie net verandering in sy situasie gebring nie. Ons lot het daarmee totaal verander. Want vir óns het Christus mos die dood ingegaan. Ter wille van óns het Hy ook weer daaruit opgestaan.

Daarom vra die Kategismus tereg direk na die nut van Christus se opstanding vir ons.

As u daardie vraag met u eie woorde moes beantwoord, ek vermoed dat u allereer aan die toekoms sou dink. Aan die dag wat u self ook uit die graf mag opstaan. Is dit nie die nut, die wins van Christus se opstanding vir ons nie? Noudat Hy die dood oorwin en die graf agter Hom gelaat het, mag ek ook eendag uit die dood in die lewe terugkeer en met 'n nuwe liggaam die graf verlaat.

Dié troos het ons. Vir láter. Vandag is ons lewe nog 'n gestadige dood. 'n Voortdurende sterwe. Die dae van ons jae- daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; maar die uitnemenste daarvan is moeite en verdriet.

En die einde is nou nog: 'n graf. Eers op die jongste dag- dan sal ook ons grafte oopgemaak word.

Miskien dink u 'n bietjie verder, en voeg u by dat ons danksy Christus se oorwinning op die dood selfs al dadelik na ons sterwe die lewe mag behou en na ons Here in die hemel toe gaan. Ons liggaam moet wel begrawe word, maar ons siele, ons persoonlikheid word in die hemel opgeneem.

Dié wins as gevolg van Christus se opstanding word in die Kategismus in Sondag 17 ook wel genoem: ons opstanding uit die dood, maar moet maar kyk- dit is nie die eerste wat genoem word. Dit word eers as laaste genoem.

Die Kategismus kyk nie allereers met ons na die toekoms wat ons te wagte is nie. Sondag 17 leer ons om allereers na vandag te kyk. Vandag reeds is daar vir my groot wins as gevolg van Christus se opstanding uit die dood.

Nou alreeds is my lewe danksy Christus nie meer 'n voortdurende sterwe nie, maar 'n toenemende lewe.

Want wat is die eerste wins, die eerste groot verandering in u lewe noudat Christus die dood oorwin het?

Die Kategismus noem dit so: nou kan u Heiland "die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, ons deelagtig maak". geregtigheid: daardie woord beteken dat u en ek nie meer in stryd kom met God se reg nie. God het geen rede meer om u en my te veroordeel oor ons sondes nie. Ons kry vryspraak en die vrede tussen God en ons is weer geteken.

Ja, want met ons sondes het alle ellende mos begin! Ons lot is geen noodlot nie maar straf. Die straf van die God van ons lewe. Ons het ons self die dood op die hals gehaal deur ons rug op die HERE te draai.

Ons kla en sug soms onder die las van die ellende waaronder ons gebuk moet gaan en vra dan opstandig hoekom dit alles ons moet oorkom. Maar u behoort te wéét waarom ons in hierdie lewe so swaarkry, gemeente. Ons behoort te wéét waarom mense sterf in padongelukke en aan malaria, waarom mense krepeer van kanker, waarom spanning 'n mens se senuwees sloop en waarom daar daagliks grafte gegrawe moet word.

"Wat kla 'n mens in sy lewe" vra die digter van Klaaglied 3. "Laat elkeen klaag oor sy sondes!".

Daarom kan daar alleen 'n radikale verandering in ons lot kom, as ons ongeregtighede weggeneem word en ons sondes bedek. Daarmee moet dit begin, anders kan dit nooit meer regkom nie.

Maar dié verandering hét gekom toe ons Here uit die dood opgestaan het. Toe was die versoening met God eindelik 'n feit. Toe was ons sondes regtig bedek.

Maar wag 'n bietjie- eers met Pase? !

Het dié wending dan nie al op die Goeie Vrydag begin nie? Toe het Christus tog ons skuld by die Vader versoen? Toe het Hy mos reeds uitgeroep: "Dit is volbring!".

Ek kan verstaan as u so sou vra, broeders en susters. Maar kyk wat maak die Kategismus duidelik in Sondag 17: die geregtigheid, ons vryspraak was op die Goeie Vrydag al wel goeddeels verdien. Maar eers op die opstandingsdag kon ons Heiland dit begin uitdeel.

Want vergewing van sondes- dit is nie iets wat die HERE sommer soos 'n geldbedrag op u bankrekening byskryf noudat ons Here Christus dit verdien het nie. Sodat u voortaan self daaroor kan beskik en u Christus nie langer benodig nie: Hy het sy werk vir u klaar gedoen en u kan Hom nou maar na 'n bedanking vir sy hulp afdank.

Nee, die vergewing wat Christus vir ons verdien het- Hy bly dit self in beheer hou. Dit bly as 't ware op sy eie bankrekening staan en slegs Hy kan namens u en my die noodsaaklike betalings aan die Vader verrig.

So het God Hom aan ons gegee: as ons Borg wat ons vir die res van ons lewe onder kuratele hou. Eers het die HERE al ons skuld op Hom gepak. Maar nou het God ook ons vryspraak in Hom gekonsentreer. Hy self moet voortaan garant staan vir ons vryspraak. Ons kry nie net vergewing by God deur Hom nie- ons vergewing lê in Hom. Hy het nie net die vrede tussen ons en sy Vader moontlik gemaak om Hom daarna weer te kan terugtrek nie. Nee, Hy self is ons vrede, sê die apostel Paulus in sy brief aan die gemeente te Efese. En Paulus het dit al by die profeet Miga gelees. Christus waarborg in eie Persoon nou die vrede tussen God en ons.

Maar dan verstaan u natuurlik: daarom moes Christus eers uit die dood opstaan. As Hy in die graf sou bly lê het, was die vryspraak van skuld vir ons wel verdien, maar dit sou ons nooit bereik nie. Maar toe Hy in die lewe weergekeer het, kon Hy vir ons na Vader toe gaan om voortaan persoonlik ons skuld by Vader te bedek. Wie sal ons nou nog veroordeel? vra Paulus in Romeine 8: "Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog: wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree".

Hy behartig nou my belange by die Vader. Hy staan daar namens my. Ja, ek staan daar in Hom. U weet mos dat die Kategismus telkens daarvan praat dat ons by Christus ingelyf word as ons in Hom glo en die lewe buite onsself in Hom soek. Ingelyf- voor God bestaan ons nie meer in onsself nie; ons bestaan nog slegs in Christus. Ons hoef dus ook ons eie saak nie meer by God te verdedig nie, Christus doen dit vir ons. En al is daar ook hoe veel sondes in ons lewe- God kyk nie meer daarna nie; Hy kyk nog slegs na Christus wat vergewing verdien het.

So het Christus opstanding uit die dood die groot ommekeer in ons lot gebring, gemeente. Die veroordeling tot die ewige dood wat ons verdien het, het verander in vryspraak tot die ewige lewe.

Dit is tog ook vir u nog wel die eerste en grootste wins wat Christus se opstanding vir ons gebring het? 'n Nuwe liggaam eendag, geen siekte en geen graf meer nie- dit ís groot dinge. Maar wat help 'n nuwe liggaam my as God se ewige toorn op my bly lê? Hoe vreeslik is dit om nooit meer te kan sterwe, as ek my lewe in Godverlatenheid moet deurbring? Eers as God weer my Vader wil wees, eers dan het my lewe weer léwe geword.

2. Wanneer in Psalm 126 en Psalm 85 gejubel word oor die verandering wat God gebring het in die lot van sy volk, volg daar in albei die Psalms 'n vraag aan die adres van die HERE wat 'n mens nie meer sou verwag nie.

Kyk in Psalm 126: in vs. 1 herinner die digter daaraan hoedat die HERE die lot van sy volk verander het. Maar in vs. 4 vra Hy darem: "o HERE, verander ons lot!". Dieselfde gebeur in Psalm 85: in vs. 2 dank die digter die HERe verwonderd dat Hy die lot van sy volk verander het. Die ongeregtigheid is weggeneem, die sondes bedek. Maar in vs. 5 bid hy nogtans: "Herstel ons, God van ons heil... ". Herstel- die Hebreeuse werkwoord is dieselfde as in vs. 2: die lot van Jakob het u verander.

Waarom word dit in hierdie Psalms nog gevra, gemeente? Waarom is dit nog nodig? Die HERE hét dan die lot van sy volk verander!

Wel, die digters van hierdie Psalms het besef dat vergewing van sondes, die bedekking van die skuld van God se volk, wel die begin van die groot ommekeer beteken. Maar daardie begin vra nogtans vir 'n vervolg.

Met die vergewing van die sondes is die sondes self nog nie weg nie! Die sondes bly steeds die lewe van God se kinders verwoes en die verhouding met God vertroebel. Ons is nog steeds mense met 'n sondige aard wat aanhoudend God en ons naaste seermaak. Met alleen vergewing verander daar nie so veel in ons lewe nie. Dis nie genoeg dat ons skuld ons nie meer toegereken word nie, dit moet nou ook so ver kom dat ons nie meer skuld máák nie.

Ons kan dié gebed van hierdie Psalm maar saambid, broeders en susters. Want ons kan nog dieselfde sê na Christus se opstanding. Sy oorwinning op die dood en terugkeer in die lewe mag dan die groot wending in ons lewe teweeggebring het omdat al ons sondes voortaan deur Hom by die Vader bedek word- die sondes is darem nog steeds daar. Almal word ons nog daagliks daardeur gepla.

Dit verpes dikwels die atmosfeer in ons huise, ons beskadig daarmee ons eie lewens, dit maak ook die klimaat in die kerk meer as een keer onaangenaam.

Daar is dus nog baie rede om vir 'n voortgaande verandering in ons lot te bid.

Maar ons hoef daarvoor nie net te bid nie, broeders en susters. Ons kan ook reeds daarvoor dank. Want daardie verdere verandering gaan nie eers eendag, na hierdie lewe, kom nie. Daardie verandering is klaar besig om te voltrek. Die opgestane Christus sorg ook daarvoor.

Dit is die tweede winspunt van sy opstanding uit die dood, wys die Kategismus in Sondag 17: "Ons word nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek".

Hy volstaan nie daarmee om vir ons vergewing by Vader te bewerk nie. Hy knoop daaraan dadelik die vernuwing van ons lewe vas. Ons is van onsself te swak om die sonde in ons lewe te oorwin. Hy weet dit. Daarom het Hy met sy krag in ons lewe ingekom.

Noudat ons by Hom ingelyf is, is dit mos: Hy in ons en ons in Hom. U onthou: so sê ons dit in die gebed voor die Nagmaalsviering.

Ons in Hom- so staan ons voortaan voor Vader in die hemel en ontvang ons vergewing van ons sondes.

Hy in ons- so leef ons voortaan hier op aarde in die stryd teen die sonde. En Met sy krag kom Hy ons in ons swakheid te hulp.

Sy krag: ons bedoel natuurlik sy Heilige Gees wat in ons lewe die stryd teen die sonde aanbind en ons leer om weer volgens die goeie wet van ons hemelse Vader te lewe.

U sien hierdie krag van Christus in u lewe tog nie oor die hoof nie, gemeente? Hierdie krag kom alle dae na u toe wanneer u by die huis die evangelie van die opgestane Christus oopmaak. Hierdie krag van die lewende Christus kom elke Sondag na u toe, wanneer daar in die kerk nie alleen gegroet word met die woorde "Genade en vrede vir u... " nie, maar vervolgens ook die Wet van die lewe aan u voorgehou word en God se wil vir u lewe heel konkreet in die prediking vir u aangewys word.

Hierdie krag wat nuwe lewe wek, kom na u toe so dikwels die ampsdraers u by die huis kom besoek.

Voortdurend is Christus daarin besig om ons aan ons sondes te ontdek, deur dit reguit aan te wys. Dit moet, sodat u met die sonde sal breek en in 'n nuwe lewe sal opstaan.

Die Kategismus sê tereg, gemeente, ons word deur Christus se krag tot so'n nuwe lewe opgewek. Teenwoordige tyd. Nie: ons sal opgewek word nie- toekomstige tyd. Maar ook nie: ons is klaar tot hierdie nuwe lewe opgewek nie. Voltooide verlede tyd. U weet dit ongetwyfeld uit u eie lewe. Ons is rêrig nog nie volmaak nie. Daar moet in ons lewe nog baie verander. Party huisbesoekrapporte gee nog baie rede tot kommernis. Daar moet nog baie vermaan word weens 'n gebrek aan daardie nuwe lewe wat God soek.

Dit is die een kant.

Maar die ander kant is dat Christus bly werk! Al werk Hy ook stadigaan, sy krag skiet nie te kort nie. Dis nie so moeilik om allerhande swakhede en sondes in mekaar se lewe en in die kerk aan te wys nie. Maar moet u nooit daarteen blindstaar nie. U moet ook daardie ander kant sien: dat die kerk darem steeds bestaan! Dat daar nog 'n volk van God op aarde is, ook hier in Pretoria, wat die HERE in die hemel weer soek as hulle Vader, wat Hom dank vir sy genade, wat Hom bid om sy bystand, wat hulle sondes bely en daarteen stry...

Moet nie daaraan verby kyk dat daar ook vrugte groei op die weeklikse prediking en die jaarlikse huisbesoeke, op die gemeenskaplike Skrifstudie en die onderlinge vermaan. Moenie geringskattend dink oor die feit dat daar elke jaar weer jongmense is wat openbaar hul geloof bely; en oor die feit dat daar telkens weer mense is wat in 'n nuwe gehoorsaamheid die moed het om hulle kerklike keuse te hersien.

In dit alles word Christus se krag sigbaar en voelbaar. Die krag wat bewys dat daar regtig 'n radikale verandering in die lot van God se volk gekom het. Die sonde en die dood het hul greep op ons verloor en Christus trek ons agter Hom aan na die herstelde lewe met God toe.

'n Lewe wat eendag sy voltooiing gaan kry in mense met nuwe, verheerlikte liggame op 'n nuwe aarde.

3. Ja, dit word die uiteidelike wins van Christus se opstanding vir ons, gemeente: ook ons mag eendag met nuwe liggame uit die dood terugkeer.

Daarom kan ons vol goeie moed bly, al vergaan vandag ook nog ons uiterlike mens en leef ons ons eie begrafnis tegemoet.

Ek weet, dit kan moeilik wees, broeders en susters, om te bly glo dat ons met Christus die dood vir goed agter ons gelaat het en op pad is na die ewige lewe in heerlikheid toe, as tegelykertyd jou liggaamskragte gesloop word deur die aftakeling van die ouderdom of deur 'n ongeneeslike siekte.

Maar u moet dit glo dat die verandering wat Christus in ons lewe teweeggebring het, so totaal is dat daardie afbraak dit nie meer kan afbreek nie. Inteendeel: die afbraak van ons liggaam werk maar net mee aan die afbraak van die sónde in ons lewe. In die uur van ons dood vergaan nie eintlik ons liggaam nie- die sonde vergaan! Ons liggaam word slegs tydelik aan ons ontneem, sodat ons dit eendag in 'n baie beter toestand kan terugkry.

Eendag sal Christus ons sterflike liggame aan sy verheerlikte liggaam gelykmaak en ons vir altyd by hom neem.

Ongelooflik? Maar Christus se eie opstanding waarborg dit! Kyk maar terug na die dag waarop Hy sy graf leeggelaat het en u kan vooruit kyk na die dag waarop ook u u graf leeg mag agterlaat.

Kyk ook maar omhoog: vandag is Christus mét sy verheerlikte liggaam in die hemel 'n lewende herinnering by Vader dat die verandering in ons lot nog nie voltooi is nie. Hy het aan ons gelyk geword, 'n mens van vlees en bloed. Hy het gedeel in ons vernedering. Maar noudat Hy uit die vernedering ingeruil het vir die heerlikheid, sal Hy nie rus voordat ons ook aan Hom gelyk geword het. Hy het nie uit die dood opgestaan om 'n eenling by die Vader te bly nie. Hy wil die eersteling wees wat deur al sy broeders en susters gevolg word.

Hy wou so'n totale verandering in die lot van God se volk bewerk dat dit nooit meer hoef te verander nie.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)