Christus het vir ons die lewe uit die dood teruggehaal

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 16
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 16 en 17 H.K.

LITURGIE:
Ps. 103: 2, 3
Wet
Ps. 103: 5
Gebed
L. Hebr. 2: 9-15 & Hebr. 5: 7-9
Prediking
Ps. 40: 8
Gebed
Kollekte
Ps. 21: 1, 3, 4, 9

Broeders en susters,

Dat ons dié keer Sondag 16 en 17 saamvoeg, is hoegenaamd geen prinsipiële keuse nie. Dit is bloot uit praktiese oorwegings gedoen.

Aanstaande Donderdag vier ons naamlik die Hemelvaart van ons Heiland, en dit is natuurlik baie mooi as juis op daardie dag Sondag 18, wat oor die hemelvaart handel, die vertrekpunt vir die prediking kan wees. Boonop kan ons dan op die Sondag tussen die Hemelvaartsdag en Pinkster aandag gee aan Sondag 19: dat Christus vandag sit aan God se regterhand in die hemel en daar sy wederkoms voorberei; en op die Pinkstersondag is dan presies Sondag 20 aan die beurt wat oor die Persoon en die werk van die Heilige Gees handel.

Die samevoeging vanoggend van hierdie twee Sondagsafdelings lewer wel 'n hele aantal vrae en antwoorde op. Ses, om presies te wees.

Maar daar loop darem 'n duidelik lyn deur al daardie vrae en antwoorde. Die lyn wat die hooflyn deur die hele Evangelie is en waarop ons ons volgende week Sondag tydens die Nagmaalsviering ook spesiaal konsentreer. Te wete: Christus se weg deur die dood na die lewe om vir ons die lewe uit die dood terug te verdien.

En dus verkondig ek u vanoggend:

CHRISTUS HET VIR ONS DIE LEWE UIT DIE DOOD TERUGGEHAAL

En dan kyk ek met u eerste na:

  1. DIE PAD WAT HY DAARVOOR MOES GAAN, en vervolgens na:
  2. DIE PAD WAAROP ONS NOU MET HOM MAG SAAMGAAN.

1. In die brief aan die Hebreërs waaruit ons dié diens twee gedeeltes gelees het, word vir ons Here Jesus Christus 'n paar maal die benaming "Leidsman" gebruik. In hoofstuk 12: 2. Maar ook in hoofstuk 2. In die Griekse teks staan daar in vs. 10 dieselfde woord as in hfst 12, ons vertaling het hier ongelukkig 'n ander omskrywing gekies en praat van "die Bewerker van ons saligheid". Die mooiste vertaling sou feitlik wees: Veggeneraal. Want so word ons Here Jesus Christus in hierdie brief vir ons aangewys: as die Man wat vir sy volk die stryd met die sonde en die dood moes aanbind om sy volk daarvan te verlos. As die Man wat voor sy volk uit die pad na die lewe met God weer moes oopveg. God self het Hom vir die taak aangestel. God het Hom aarde toe gestuur om ons plek in te neem; om soos ons almal 'n Mens van vlees en bloed te word, en om dan deur sy dood hom tot niet te maak wat mag oor die dood het -dit is die duiwel- en om sodoende almal te bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.

Ons Veggeneraal moes Hom dus letterlik dóódveg om vir ons die lewe terug te kry!

En Hy hét Homself doodgeveg.

Die verse 7 en 8 van Hebr. 5 roep vir ons die gevegsterrein in herinnering en wys vir ons ons Generaal in veldtenue, in die hitte van die stryd, in swaar aanvegtinge, in onuitspreeklike angs en kommer en verskrikking. Ons sien ons Here gaan op sy pad deur Getsemane na Golgota toe: gebede, smekinge, sterk geroep, angs en trane.

In die vorige Sondae het die Kategismus ons Here reeds 'n hele ruk gevolg op sy veldtog teen die duiwel en die dood. Die kruis het alreeds in sig gekom.

Die Sondae 16 en 17 toon ons vanoggend einde van die stryd waarby dit aanvanklik lyk asof ons Generaal die onderspit delf, maar waarby Hy in der waarheid 'n glorieuse oorwinning behaal: Hy daal wel in tot in die hart van die dood, maar op dié wyse vernietig Hy juis die mag van die dood.

Hy veg sy geveg met die duiwel tot in die hel uit.

Ja, ons Heiland het tot in die hel neergedaal, broeders en susters. So bely ons dit elke Sondagaand. Maar wat moet ons ons daarby voorstel?

'n Ou opvatting van hierdie woorde uit die Apostoliese Geloofsbelydenis is, dat met die woord hel nie meer nie as die doderyk bedoel word, sodat feitlik dieselfde gesê word as met die voorgaande woorde: "wat gesterf het en begrawe is". Maar dié opvatting is nie baie aanneemlik nie. Dit sou 'n eienaardige herhaling wees is 'n geloofsbelydenis wat juis 'n baie beknopte opsomming van Christus se lewensgang en lewenswerk gee.

Die Roomse en Lutherse teologie leer dat ons Here Jesus Christus na sy begrafnis en voor sy opstanding hel toe gegaan het om daar die duiwel te oormeester, die siele van die gestorwe gelowiges te bevry en aan die siele van die ongelowiges sy oorwinning en dus hul ewige straf aan te kondig.

Die Skrif vertel egter niks van so'n reis van na die hel nie.

Ons Kategismus gee 'n verklaring wat die beste aansluit by dit wat God se Woord ons vertel oor die verskrikking van die hel.

Christus het mos self in meer as een gelykenis probeer duidelik maak waaraan mens by die hel moet dink:

In die gelykenis van die man wat sonder bruilofskleed in die koning se feessaal ingekom het, word daardie man uit die feessaal uit in die buitenste duisternis gewerp. Hy was binne, maar lê nou buite. Hy was in die vrolike lig van die fees, hy lê nou eensaam in die duisternis. Hy kan die lig nog sien en die vrolikheid nog hoor. Maar hy is daarvan buitegesluit!

Dieselfde beeld teken Christus in die gelykenis van die vyf wyse en die vyf dwase meisies. Die vyf wat te laat kom vir die bruilofsfees, was ook genooi; hulle het hulle ook op 'n manier vir die fees gereed gemaak. Maar op die ou end staan hulle buite terwyl binne die fees gevier word. Hulle hoor die feesvrolikheid, sien die feeslampe, maar hulle is buitgesluit.

In die gelykenis van die ryk man en die arm Lasarus blyk daar, nadat altwee dood is, 'n groot kloof tussen hemel en hel te wees. Maar ten spyte van daardie kloof, waar niemand meer kan oorgaan nie, kan die "ryk" man in die hel die "arme" Lasarus in die hemel wel sien! Hy kan sien hoe heerlik dit in die hemel is, maar hyself is daarvan vir ewig buitegesluit.

Dit is die verskrikking van die hel, gemeente: jy is buitegesluit uit God se feessaal. Jy mag van 'n afstand sien hoedat God se kinders die ewige vreugde geniet, maar jy behoort nie (meer) daarby nie. Omdat jy in jou lewe vir die goddeloosheid gekies het, gee God jou vir ewig aan die goddeloosheid oor. Jy mag nooit meer by God lewe nie. Die God van die lewe draai sy rug op jou, noudat jy jou lewe lank jou rug op Hom gedraai het. En dit ís geen lewe nie! Jy word aan die duiwel met sy bose geeste prysgegee.

In dié hel het ons Veggeneraal neergedaal. Die woorde in die Twaalf Artikels "neergedaal in die hel" vertel nie iets wat na Christus se begrafnis nog gebeur het nie, maar in hierdie woorde is Christus se hele lydensweg saamgevat. Hy is nie liggaamlik in die plek van die hel gewees nie. Maar hy het wel die vreeslike verskrikking van die hel ondergaan: gedurende sy hele lewe, maar veral aan die kruis, veral toe selfs die sonlig Hom ontneem is. God, die God van alle lewe, het al hoe meer sy rug vir Hom gedraai. Hy is uit die gemeenskap van God en die mense uitgestoot.

Terwyl sy hart nog geklop, en sy longe nog asemgehaal en sy brein nog gewerk het, het hy die ewige dood geproe. In Hebr. 2: 9 word dit genoem: "die dood smáák". Dit is baie meer as dood-wees. Dit is die dood in al sy verskrikking ondergaan nadat die God van die lewe jou weggestoot het. Dit beteken om die duiwel in die oë te moet sien.

Tereg praat die Kategismus in hierdie verband van 'n "onuitspreeklike" verskrikking, broeders en susters. Dit bly vir ons altyd vreemd, 'n onpeilbare saak: die ewige Seun van die lewende God gaan onder in die ewige dood. Hy, God uit God, word in die goddeloosheid weggestoot.

Ons kan maar net sê: op hierdie ewige dood moes ons weg uitloop. En hierop sal die weg uitloop van elkeen wat in sy sondes volhard en Christus as Redder verwerp. Ons sondes het Christus die hel in gedryf. Ons het dit verdien om die allerdiepste verworpenheid en angs van die hel vir ewig te moet ondergaan. Dit was ons weg wat ons Heiland in die ewige dood in gedryf het.

Maar Hy het hierdie weg gegaan, hoe swaar dit vir Hom ook al was. Stap vir stap het Hy aangegaan, want Hy wis dat dit moes. Daarvoor het Hy in die wêreld gekom. Hy moes hierdie weg end-uit loop.

Want Hy het in dit alles wel die Generaal gebly! Hy was nie maar 'n soldaat wat deurmekaar en dronkgeslaan die stryd oor Hom laat kom het nie. Hy was geen slagoffer wat Hom willoos laat afslag het nie. Hy het die Priester gebly wat Homself geoffer het. So noem Hebr. 5: 7 nadruklik die stryd: Christus het, om ons te red, Homself aan God "geoffer".

Daarom het God Hom ook verhoor uit sy angs. Hy hét die helse verskrikking te bowe gekom. Toe Hy dit na drie ure buitenste duisternis uitgeskreeu het: "My God, my God, waarom het U My verlaat? ", het God sy Seun weer na Hom teruggehaal en sy gesig nie langer vir Hom verberg nie. Die sonlig het weergekeer en die duiwel moes van Hom wyk.

Maar daarmee was die stryd nog nie verby nie.

Want toe moes Hy ook nog vir ons die liggaamlike dood sterf.

Sy kop het vooroor geval, sy asem het gestok, sy hart het bly stilstaan, sy oë het gebreek en alle lewenskrag het uit sy liggaam weggevloei.

Daardie liggaam waardeur God tog gedien wou word, daardie mond waarmee God tog geprys wou word, daardie oë wat God se heerlikheid moes bewonder, ja, alles het uitgeval en die liggaam het 'n lewenslose lyk geword.

Ook dit het tot die straf wat ons verdien het, behoort: die afbraak van die liggaam wat geskape is om God te dien en te eer, maar waarmee die mens die sonde gaan dien het. Dit word aan die ontbinding prysgegee. Dit mag en kan God nou ook nie meer dien en eer nie. Dit word van die aarde af weg gedoen.

Daar kan op die dood dan ook alleen nog maar 'n vinnige begrafnis volg. Daardie smadelike verwydering van die aarde. 'n Begrafnis beteken mos dat 'n nuttelose lyk wat sal gaan stink en vrot, weggedoen moet word. Die beseëling van die dood. 'n Menseliggaam, eendag deur God uit die aarde tevoorskyn gehaal, verdwyn vir straf weer in die aarde terug.

Ook die smaad het Christus vir ons gedra. Dit was die laaste stap wat op ons weg van wieg tot graf gedoen moes word.

Die begrafnis het die ekstra onderstreping gevorm dat ons weg ten gevolge van die sonde 'n doodloopstraat geword het!

Maar vir Christus het die graf die keerpunt geword. Want sy liggaam het in daardie graf nie tot ontbinding oorgegaan nie, maar is juis tot verheerliking gebring. Na drie dae het Hy met 'n volmaakte, vernieude liggaam opgestaan uit die dood. God het Hom opgewek uit die dood, sê die Bybel ook dikwels. En dit wil sê: noudat Christus Homself dwarsdeur die stryd geveg en as Oorwinnaar daaruit tevoorskyn gekom het, het God Hom ook as Oorwinnaar erken. Nou gee God self ook vir Hom die lewe terug. 'n Nuwe, verheerlikte lewe. Lewe tot in ewigheid.

Maar daarmee het God toe die lewe aan óns teruggegee, gemeente!

Christus het mos vir óns in die dood ingegaan, om vir ons die lewe daaruit terug te haal.

Wanneer God ons Leidsman in die lewe terugroep en net-nou 'n aansienlike bevordering skenk deur Hom 'n plek langs Homself te gee op die troon in die hemel, beteken dit dat óns weg nie langer 'n doodloopstraat is nie. Het Christus as Oorwinnaar op die sonde en die dood uit die stryd tevoorskyn gekom? Dan ons ook! Daarvoor staan Hy in eie Persoon Borg. Nadat Hy vir ons die pad tot in die dood gegaan het, sal Hy ons met Hom saamneem op die pad na die lewe toe.

2. Daaraan wil ons vervolgens nog aandag gee. Want na die nút vir ons van Christus se dood en opstanding vra ook ons Kategismus telkens nadruklik.

Kom ons kyk allereers na Sondag 17: "Watter nut het die opstanding van Christus vir ons? Antwoord: Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin, sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak".

Daarmee begin die nuwe lewe vir ons: met die "geregtigheid" wat ons van die gestorwe en opgestane Christus ontvang.

Daardie woord klink moeilik en dogmaties, maar dit beteken heel eenvoudig dat dit weer reg is tussen God en ons. Die verhouding tussen Hom en ons is herstel. Noudat Christus die straf op ons sondes gedra het, aanvaar God u en my asof ons nooit sonde gehad of gedoen het nie, ja, asof ons self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir ons volbring het. "Geregtigheid" beteken: kwytskelding van skuld en straf, vergewing van sondes. God is weer heeltemal ons God, en ons is weer heeltemal sy volk.

Dit is die begin. Want sonder dit sou die lewe vir ons nooit meer regtig lewe kon wees nie. Dan sou die lewe 'n voortdurende sterwe gebly het. Met geen ander uitsig nie as die godverlatenheid van die hel. Maar nou mag ek myself volkome vertroos met die wetenskap dat my Here Jesus Christus my van die helse angs en pyn verlos het. Die God van allle lewe wil weer my God wees.

Deur sy dood het Christus dit vir ons verdien. Deur sy opstanding kan Hy dit nou ook aan ons uitdeel. U ken mos die bekende teks uit Rom. 8: "Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree". Hy, die Oorwinnaar van ons sonde en dood, staan voortaan in lewende lywe tussen ons en God in om ons skuld by God te bedek.

Maar by hierdie begin bly dit nie. Want vergewing verander wel iets aan die uitsig in ons lewe, maar verander niks aan daardie lewe self nie. Daardie lewe self is nog altyd 'n sondige en teen God opstandige lewe.

Daarom word ons, sê Sondag 17 vervolgens, nou ook deur die krag van ons Veggeneraal tot 'n nuwe lewe opgewek. En dan dink die Kategismus nie aan die opstanding uit die dood eendag, as al God se kinders 'n nuwe liggaam kry nie. Die Kategismus dink aan vándag. Vandag ontvang God se kinders van Christus se Heilige Gees alreeds 'n nuwe hart.

Die krag van Christus se Gees staan in ons op, wat ons met sukses by die doodlopende lewe in die sonde weg na die lewe met God terug trek.

Dit wat ons vroeër soos vanselfsprekend aanvaar het, daarvan kry ons nou 'n afkeer. Dit waaraan ons onself eers argeloos onderwerp het, begin ons nou haat en ontvlug: die leë vermaak van hierdie wêreld, die losbandige spel van die hartstogte, die ongebreidelde hebsug, die jag na aardse skatte, die afguns en egoisme......

Dit alles was vroeër gewoon in ons lewe, maar het nou vreemd vir ons geword. Ons wil dit kwytraak uit ons lewe.

Ons ráák dit ook kwyt.

Die Kategismus het dit in Sondag 16 alreeds aangedui in vr. en antw. 43 waar gesê word: "Deur die krag van Christus word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe". As die Kategismus praat van "ons ou mens", dink hy aan die geweldige krag in ons lewe wat nie ophou om ons by God weg na die sonde toe te sleep nie. Ons sondige aard. Maar daardie mag in ons lewe het 'n ou mens geword. Dit het sy langste tyd gehad, beteken dit. Hy is ter dood veroordeel en gedoem om te verdwyn. Hy is as 't ware alreeds gekruisig.

Maar hierdie woordkeuse maak tegelyk duidelik dat ons nie op 'n maklike manier van hom ontslae raak nie. Dit kos nog 'n pynlike proses. Dit kan nog 'n hele gemartel word. Daardie brok sonde in ons, die ou mens is nie sommer dood nie! Soos 'n kruiseling tot op die allerlaaste bly worstel om te mag lewe, so sal ons ou mens tot op ons sterfbed toe ons met sy stuiptrekkings bly pla.

As dit goed is, ervaar u hierdie stuiptrekkings ook volop in u lewe, broeders en susters. Ons hart trek al wel toenemend na die nuwe lewe met Christus toe, maar ons vlees trek nog steeds na die sonde.

En dan is die duiwel ook altyd daar om ons onseker en onrustig te probeer maak. Om ons te laat twyfel aan God se genade sodat ons in die sonde bly lê. Maar besef dan, broeders en susters, dat juis u onrus en onsekerheid, u worsteling met die mag van die sonde wat nog in u lewe oorgebly het, die beste bewys is dat die mag van die sonde in u lewe klaar gebreek is. U onderwerp u nie meer soos vanself daaraan nie, maar daar het 'n toenemende verset in u lewe gegroei. U sondige begeertes heers nie meer oor u nie. U ou mens hang reeds aan sy kruis en is gedoem om gedood en begrawe te word.

Daarin mag U die krag van Christus opmerk wat begin het om aan die sonde sy krag te ontneem, om u by die sonde vandaan na die herstelde lewe met God saam te neem.

Ons raak eers heeltemal van daardie ou mens ontslae wanneer ons sterwe. Eers op ons sterfbed word aan die oorblywende reste van die sonde in ons die doodsteek toegedien. Daarom moet ons, alhoewel Christus klaar vir ons gesterf en die doodstraf vir ons gedra het, self ook nog sterwe, solank die Here Christus nog nie op die aarde teruggekom het nie. En daaroor hoef niemand gering te dink nie. Dit is die laaste stuiptrekking van ons vyand en dit kan nog 'n groot verskrikking wees. Dit is 'n moeilike pad met 'n moeilike poort wat ons nog moet passeer. Die HERE sorg daardeur dat ons die erns van ons skuld teenoor Hom nie maklik vergeet nie. Hy dwing ons daardeur om tot die allerlaaste te bly besef dat ons alleen uit genade die lewe terug ontvang. Hy dwing ons tot op die allerlaatse om die lewe buite onsself in sy Seun Jesus Christus te soek.

Maar so word wel die moeilike en donker poort van die dood die poort na die totale verlossing. So raak ons eindelik ontslae van ons ou mens. Ons sterf die sonde vir altyd af. Die sterwe word wins.

En ons mag saam met Christus en met al die ander kinders van God wat reeds gesterf het, in die hemel wag op die volmaakte lewe op die nuwe aarde.

Hier op aarde bly dan wel 'n uitgeleefde liggaam agter. Maar daarmee kan die duiwel niks meer aanvang nie, die sonde kan daarmee niks meer aanvang nie.

God wel!

Want daardie uitgeleefde liggaam mag soos 'n waardevolle koringkorrel in die aarde gesaai word, sodat God op die laaste dag 'n nuwe, verheerlikte liggaam daaruit kan laat ontspruit.

Self die graf is nie meer die swart punt agter 'n mislukte menselewe nie. Danksy Christus het dit 'n dubbelpunt geword, waaragter 'n nuwe, waardevolle menselewe opdoem. Waardevol vir God! 'n Lewe wat weer volkome op Hom gerig sal wees.

Christus se opstanding in heerlikheid waarborg dit.

Gemeente, soseer het ons lewe deur Christus se dood en opstanding weer 'n opdraande geword. Dit het weer léwe geword! Die begin van die ewige lewe.

U voel dit dalk nie altyd ewe sterk nie. Partykeer lyk dit mos glad nie daarop nie. Ons moet meer as een keer nog deur diep dale gaan. Ook die lewe van 'n christen kan deur die diepte voer, as gevolg van ernstige siekte, groot probleme, baie verdriet. En ook deur vyandskap en vervolging.

Dit is die "aanvegtinge" waaroor Sondag 16 praat in antw. 44. Dit alles kan ons fel tref. En dan die gevoel jou bekruip: is God dan wel met ons? Waarom gebeur dit alles dan met my? Waar is Hy dan nou? As Hy dan die goeie vir ons soek, hoekom maak Hy dan so met my?

En dan kan 'n mens midde-in 'n moeilike stryd gewerp word.

Moet juis dan ons Veggeneraal nie uit die oog verloor nie, broeders en susters.

Moenie dat u kop op hol raak, moenie in moedverloor se vlakte gaan sit nie. Hou net die Here Jesus Christus in die oog en spits u ore om sy Woord te bly hoor. Hy verstaan wel hoe moeilik die stryd vir ons kan wees. Hy het dit alles self ook deurgemaak. Maar Hy het ook deurgekom. Moet daarom maar net Hom volg.

Hebr. 5: 9 sê dat Hy 'n bewerker van ewige saligheid geword het "vir almal wat hom gehoorsaam is". Met ander woorde: ons moet ons maar net blindelings uitlewer aan sy Woord. Hom gehoorsaam volg op die pad waarop hy ons saamroep.

Sy eie lewe waarborg mos dat dié pad nooit sal doodloop nie.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)