Die betekenis van die dood van Christus

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 16
Preek Inhoud: 

Ps 47: 1, 2, 3
Nicea
Ps 47: 4
Formulier
Ps 43: 3 / 4
Skb 12: 1, 2, 3, 4 amen
Ps 40: 1, 2, 3 slot
Lees: Rom 6
Teks: Sondag 16 HK

Brs en srs, kinders!

In jou lewe sal dit gereëld gebeur dat jy mense ontmoet wat baie vir jou beteken. By voorbeeld iemand van wie jy baie geleer het, sal jy altyd onthou.

Of iemand wat aan jou veel liefde betoon het, is van blywende betekenis vir jou.

As so iemand te sterwe kom, dan hou sy betekenis vir jou nie op nie. Immers wat jy van hom geleer het, kan jy steeds weer dankbaar gebruik. Met waardering kan jy oor hom praat.

Waar my dit om gaan is dit: Iemand se lewe kan vir jou van groot betekenis wees.

Sy lewe het jou geinspireer om op 'n soortgelyke wyse deur die lewe te gaan.

So kan b. v. die lewe van die Here Jesus vir mense ook baie inspirerend wees. Hy het veel dinge gesê en gedoen wat blywende waarde het.

Oor die lewe van die Here Jesus het dan ook tal van boeke verskyn. Almal ongetwyfeld interessant, maar laat ons hier goed oplet.

Hoe belangrik die lewe van die Here Jesus ook is, jy kan tog die eintlike daarvan miskyk as jy sy lewe nie as 'n voortdurende sterwe raaksien nie.

Die gebeurtenis in die stal van Betlehem is indrukwekkend, maar dit kry eers sy volle betekenis op die heuwel Golgota.

Want uiteindelik gaan dit nie daarom watter betekenis ons aan die lewe van die Here Jesus heg nie, maar allesbeheersend is: Wat doen ons met sy dood?

Nie sy lewe is in die eerste plek bepalend vir ons lewe nie, maar veral sy dood.

Daarom moet ons Jesus' lewe nie slegs as 'n voorbeeld vir ons lewe sien nie, maar eerder sy dood as 'n voorwaarde vir ons lewe leer bely.

Want sy dood maak alles anders.

Wat lewe was word dood.

Wat dood was word lewe.

Ons tema vir die preek is:

Die betekenis van die dood van Christus

  1. ons sterwe word daardeur lewe
  2. ons lewe word daardeur sterwe

Na Sondag 15 het ons opnuut 'n kategismussondag oor die lyde van die Here Jesus. Nou kan ons ons afvra wat daaraan nou nog toegevoeg kan word.

Immers ons het in die vorige Sondag al gehoor van die oordeel van God wat die Here Jesus aan die kruis op Golgota ondergaan het.

Ons weet ook dat aan die kruis tenslotte deur die Here Jesus gesê kon word: Dit is volbring!

Dit is klaar!

God se toorn het sy deel gehad! Nou kan ek weer roep tot my Vader. En Hy sal My hoor!

Maar wat roep Hy dan? Al wat Hy nog kan uitbring is: Vader, in u hande beveel Ek my gees!

En dan sterf Hy!

Hoekom eintlik?

Waarom, as alles dan volbring is, waarom moet Hy nog steeds sterwe?

Was Hy dan nog nie klaar nie?

Dit is die vraag wat die Kategismus in Sondag 16 aan die orde stel: Waarom moes Christus Hom tot in die dood verneder?

Watter sin het die weglegging in 'n graf as Hy klaar alles voldoen het?

As ons daarvan iets wil verstaan moet ons ver terug in die geskiedenis. Na die geskiedenis van die Paradys.

Hierdie Sondag verwys na Genesis 2: 17.

Daar lees ons: Op die dag dat jy hiervan eet sal jy sekerlik sterwe. Ons ken die woorde.

Dit was die dreiging by die proefgebod.

Maar wat beteken dit?

Wil dit sê dat Adam by die eerste hap van die verbode vrugte onmiddellik dood sal neerval?

Blykbaar tog nie. In elk geval, dit het nie gebeur nie.

Maar hoekom staan daar dan so nadruklik: Op die dag dat jy daarvan eet sal jy sekerlik sterwe?

Ons moet aanvaar dat God daardie dreiging ook uitgevoer het.

In sekere sin het hulle hul oortreding ook met die dood bekoop.

Maar die dood neem daar nie dadelik die vorm aan van 'n liggaamlike dood nie.

Dit gaan oor 'n geestelike dood.

Die oomblik dat Adam en Eva eet is hulle dood. Geestelik dood. Al is hulle liggaamlik nog springlewend.

Immers wat gebeur het, hulle het die lewenswet oortree.

Hierdie wet: God het die mens gemaak om aan Hom diensbaar te wees.

Om God, sy Skepper, te loof en te prys.

Dit was wat God in gedagte gehad het toe Hy die mens gemaak het. Dit was die ware lewe vir die mens. En as hy dit nie wil nie, dan is hy klaar dood.

Hy voldoen nie meer aan die ontwerp van sy Maker nie. Hy het waardeloos geword vir die doel van sy skepper.

Dan kan hy ewe so goed weggegooi word.

Hy is in die oë van God dood. Geestelik dood.

Dit is die loon van die sonde waarvan Paulus praat in Romeine 6: 23. Die loon van die sonde is die dood.

So kyk God dan ook na vandag se wêreld vol mense.

Dit is 'n wêreld vol dooies. Mense wat hul taak en roeping teenoor God nie wil sien nie. Hulle lewe is vanuit die oogpunt van die Skepper sinloos.

As ons dit goed verstaan het, begryp ons iets meer van die noodsaak van die dood van Jesus.

Jesus moet namelik as plaasvervanger van die mens ook die geestelike dood ingaan en daaruit weer opstaan. Hy moet sy amp om God te prys neerlê en vervolgens weer opneem.

Maar hoe kan dit?

As, soos ons gesê het, die lewe ampsdiens aan God is, dan het die Here Jesus nie vir 'n oomblik gesterwe nie. Daardie aspek van die dood het nie oor hom gekom nie.

Want hy het sy amp bly vervul.

Selfs aan die kruis toe hy die ewige dood ondergaan het was hy nog steeds diensbaar aan God. Hy was nog steeds Ampsdraer.

Ofwel: Geestelik was hy nie vir 'n oomblik dood nie!

Jy sou kon sê: Hy het as 'n geestelik lewende die ewige dood en straf ondergaan.

En daarom moet hy nadat alles volbring is, nadat Hy alle gehoorsaamheid volbring het, tog nog sterwe.

Die koning, die eerste mens wat getrou gebly het in sy amp, word tog nog onttroon. Sy diens word tog nog beëindig.

God sluit nou sy lewe af.

Nie meer as straf nie, die betaling is klaar, maar tog wel as 'n laaste vernedering.

Sy aardse menselewe word afgesny en daarmee sy ampsdiens.

Dit was mos sy lewe: Om te doen die wil van sy Vader in die hemel.

En nou word daardie lewe van Hom afgeneem. Hy kan dit nie meer doen nie.

In 'n graf kan niemand God meer dien nie.

Uit 'n graf word God geen lof toegebring nie, kla Dawid in een van sy psalms.

Bedink wat dit beteken vir die Seun van God.

Sy lewe was ene eerbewys aan sy Vader. Daarin vind die Seun die lewe.

Maar hy word stilgemaak.

Hy lê werkloos in 'n graf.

Sy liggaamlike dood word vir Hom 'n geestelike dood.

Ook hierdie dood het die Here vir ons ondergaan gemeente.

Dit mag ons tot ons troos bely.

Ook met betrekking tot ons eie sterwe.

Aan ons aardse lewe kom eendag 'n einde.

Maar daardie dood is vir ons nie meer 'n skande nie. Die dood is vir ons nie meer 'n oneervol ontslag vanweë ons weiering van ampsdiens nie.

Maar ons dood is 'n ontheffing van ons ampstaak.

Ons sterwe is nie meer 'n straf wat volg op 'n mislukte lewe nie.

Ons sterwe is 'n deurgang tot die ewige lewe.

In geestelike sin word dood of lewe dus bepaal deur die vraag of ons al nie of ons taak vir God verrig nie.

Vir hulle wat hulle deur Christus laat lewend maak het, het die groot verandering reeds aan hierdie kant van die graf plaasgevind.

Hulle geestelike dood is verander na 'n geestelike lewe.

'n Lewe waarin die eer van die Here in die middelpunt staan.

En so 'n geestelike lewe word vir ons nie meer afgesny in 'n graf nie. Ons kan onmiddellik deurgaan.

Wat hier op aarde nog heel gebrekkig was, ons diens aan God, word dan onmiddellik volmaak. Dan is daar niks meer wat ons loflied op God verhinder nie.

Dan is daar volop lewe. Lewe tot eer van die Here.

Ja, so word ons sterwe lewe.

2. Ons lewe word sterwe

Ons het nou steeds gepraat van die dood van Christus. Van die noodsaak dat Hy aan die kruis nie net gely het nie, maar na die volbringing van sy lyde ook nog in 'n graf gebêre is.

Ons Kategismus sou nie Kategismus wees nie as nie ook hier gevra word na die nut van dit alles vir ons.

Watter nut verkry ons nog meer uit die dood van Christus aan die kruis?

Daar aan die kruis en in die graf het ook iets met ons lewe gebeur.

Ons het al gesien dat die Bybel die lewe van mense buite God beskou as dood. Hulle is geestelik reeds dooies.

Want slegs in gemeenskap met God is daar waarlik lewe.

In gemeenskap met God.

Moet ons daarop wag dat ons die deurgang tot die ewige lewe deurgegaan het om weer gemeenskap met God te kan geniet?

Nee, gelukkig nie!

Christus self maak daardie gemeenskap weer tot 'n werklikheid vir ons.

Hy bring ons terug in die gemeenskap met God.

En so goed as die Bybel die mense buite God se gemeenskap as dooies beskou, so word die gelowiges wat in gemeenskap met God lewe as lewendes benoem.

Hulle het die oorgang gemaak van die dood na die lewe.

So skryf Paulus dit aan die gemeente van Rome.

Hulle was vroeëer heidene. Dus dooies, soos enig mens buite Christus om dood vir God is.

Maar toe hulle tot geloof gekom het, het hulle die lewe ontvang.

Paulus sien die oorgang van die dood na die lewe gesimboliseer in die Doop wat hulle ontvang het. Hul doop is die gebeurtenis wat hulle onthou as die groot verandering in hul lewe. Van toe af het hulle hul lewe aan Jesus Christus toegewy.

En daarmee het hulle van toe af 'n nuwe lewe ontvang.

So nuut dat hulle hul lewe van voor die tyd inderdaad ervaar as dood.

Daarom kan Paulus ook so 'n sterk verbinding maak tussen ons doop en die dood van Christus.

Hy vra dan: Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is?

Dit is nie 'n uitdrukking wat vir ons onmiddellik begrypelik is nie.

'Ons is gedoop in sy dood. ' Wat bedoel Paulus?

Ter verduideliking moet ons bedink dat in daardie tyd die doop meestal deur onderdompeling bedien is. Wat by 'n onder-dompeling gebeur, is dat die voorwerp wat jy doop, heeltemal deurdrink word met die vog waarin jy dit doop.

Kyk wat gebeur as 'n mens 'n stukkie beskuit in die tee doop.

Die tee dring dan heeltemal deur in die beskuit.

Nou word ons gedoop in water. Goed maar die water is weer die simbool van Christus.

Ons kan ook sê jy word in Christus gedoop.

Jy word in Hom ondergedompel.

Daar kom 'n deurdringing, 'n heel nou verbintenis.

Vanaf die oomblik van jou doop is jy heeltemal aan Christus verbonde.

En waar jy heel nou aan iemand verbonde is, daar deel jy ook in die persoon se geskiedenis.

Kom ons gebruik 'n vergelyking. As twee mense besluit om saam te trou dan het hulle vanaf die oomblik 'n gesamentlike geskiedenis. Voor die huwelik het elkeen 'n eie geskiedenis gehad. Elkeen is op 'n sekere plek gebore, elkeen het beweeg van die een na die ander plek. Maar vanaf die troudag het hulle een geskiedenis. As die een trek, trek die ander ook.

Wel, so 'n gemeenskap het ons deur die doop met Jesus Christus.

Deur jou doop word jy ingelyf in die lewensloop van die Here Jesus op aarde. Jy deel nou in dit wat hy gedoen het.

Jy is gedoop in sy dood, jy is gedoop in sy opstanding. Dit word ook deel van jou geskiedenis.

Daarby gebruik Paulus heel sterke uitdrukkings.

Ons is so nou aan Christus verbonde dat ons met Hom begrawe is in die dood. Ons het met Hom saamgegaan in die graf, maar ons het ook met Hom opgestaan.

Ons het die graf verlaat en dit beteken: ons lewe gaan weer diens aan God word.

Ons lewe kan weer lewe word.

Christus wek ons uit ons geestelike dood waarin ons van nature is. En daarom kom daar by ons 'n begin van 'n nuwe lewe.

'n Lewe waarin ons ampsdiens aan God weer 'n rol gaan speel.

Omdat ons lewe (deur die doop) so nou aan Christus verbonde is, wil ons ook weer vir God lewe; begin ons weer iets verstaan van ons diens aan God.

En daarom kan Paulus ons almal so kragtig vanuit die feit van ons doop vermaan: Laat die sonde dan in julle sterflike liggame nie langer heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.

Noudat ons in Christus gedoop is, noudat ons in Hom ingelyf is, nou is dit eenvoudig onmoontlik dat die sonde in ons lewe nog baas is.

In vers 13 stel Paulus dit pragtig: Moenie julleself ter beskikking van die sonde stel as werktuig van ongeregtigheid nie, maar stel julleself ter beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het.

Daar kry u dit weer: Julle was dood (geestelik dood) solank julle nie julleself in diens van God gestel het nie.

Maar nou het julle lewend geword.

Julle het mos met Christus opgestaan uit die dood.

Vraag en antw 43 praat hieroor as gesê word: Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig.

Ons ou mens word gekruisig. Let op die woordjie 'word' hier.

Die ou mens is nog nie heeltemal gekruisig nie.

Hy word gekruisig. Hy is in die proses van kruisiging!

Hy moet dood!

Daar word aan gewerk! dit is wat ons bely.

Deur sy krag, dit is deur Christus' krag gebeur dit.

En daarmee kom die vraag na ons toe: Gebeur dit ook in ons lewe?

Is ons werklik besig om ons mens te kruisig?

Of is ons eerder geneig om ons ou mens te verskoon? Nou ja, dit is nou maar my ou mens. Hy wil nog nie so goed saamkom nie.

Maar teenoor die Bybel het ons geen verskonings nie gemeente.

Keer op keer is daar sprake van die krag van God, die krag van die Heilige Gees, die krag van Christus, die krag van sy opstanding.

As daar dan soveel krag ter beskikking gestel word, maar ons lewe vertoon nog steeds nie veel verbetering nie, dan moet ons ons afvra of ons wel genoeg van die krag wat beskikbaar is gebruik maak.

Bid ons genoeg om die krag van die Heilige Gees?

Of bly ons maar gerieflikheids onthalwe ons ou mens in lewe hou?

Is dit vir ons te moeilik om te verander?

Is jou probleem dalk dat jy geestelik te lui is om eens 'n slag 'n goeie boek te lees?

Of is dit vir jou te vermoeiend om eindelik 'n bietjie meer aandag te gee aan jou persoonlike bybelstudie?

Bedink dit, so 'n tipe geestelike luiheid waarmee ons almal sukkel is die voorstadium van 'n geestelike dood!

Jy vergeet daarvan dat jy 'n roeping teenoor God in jou lewe te vervul het !

Dit is mos waar dit verkeerd gegaan het. Dit is waar die mens doodgegaan het.

Maar dit is ook waar God nuwe lewe gegee het.

Hy het van ons weer lewende mense gemaak.

Deur sy krag!

Laat ons daardie krag gebruik!

Veral nou dat ons in die viering van die Nagmaal weer 'n slag stilgestaan het by die dood van onse Here Jesus Christus.

Sy dood beteken vir ons die lewe!

Laat ons daarvoor waak dat ons nie opnuut in 'n doodslaap wegsukkel nie!

Amen.

9 Mei 1993

Liturgie: 

(kyk in preek)