Deur sy dood het Christus ons Leidsman tot die lewe geword

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 16
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 16 H K

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 88: 1, 2, 4, 11, 12
Gebed
L. Hebr. 2: 6-18 & Markus 9: 1
Inleiding op die preek
Ps. 116: 5
Prediking
Ps. 40: 8
Geloofsbelydenis
Ps. 40: 5
Gebed
Kollekte
Ps. 30: 3, 7, 8

Broeders en susters,

U weet natuurlik wat 'n kerkhof is. Die klein kinders wat vanaand ook saamgekom het kerk toe, weet al wat dit is.

Altans: ek hoop so. Want die tyd kan kom dat kinders glad nie meer weet wat 'n kerkhof is nie.

Dit gebeur mos vandag nie eintlik meer dat 'n begraafplaas, soos dit vroeër gebruiklik was, by, of selfs rondom die kerkgebou geleë is nie. Jy kry dit alleen nog by baie ou kerke. Deesdae word 'n stuk grond êrens aan die rand van, of buite die stad of dorp as begraafplaas ingerig.

Dit het darem iets moois gehad, gemeente, om die kerkhof as begraafplaas in te rig. In baie ou kerkgeboue is daar selfs grafte in die kerk aangebring.

As die mense vroeër kerk toe gegaan het, het hulle die werklikheid van die dood nie weggedoesel nie. As die kerkgangers die kerkpad opgeloop het, het hulle tussen die grafte deur gewandel en in party kerke het hulle dus ook in die kerk nog oor die grafte geloop.

So is hulle baie direk daarby bepaal dat ons lewe niks anders as 'n voortdurende sterwe is nie. Eendag sou ook hulle graf gegrawe moet word.

Maar hulle het kerk toe gekom! Hulle het na God se huis gekom waar die Evangelie verkondig word van ons Here Jesus Christus wat dood wás maar Hy lééf.

In die kerk mag gesing word van die lewe wat daar nou ook is vir elkeen wat die lewe buite homself in hierdie Jesus soek:

"U sal my siel nie oorgee in die dood,
U sal nie toelaat dat u gunsgenoot
verderwing sien in donker doodsvalleie".

In die kerk word Hebr. 2 gelees, oor Jesus, die Bewerker van ons saligheid, wat soos elke mensekind vlees en bloed aangeneem het, "sodat Hy deur sy dood hom tot niet kon maak wat die mag oor die dood het -dit is die duiwel- en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was".

U en ek, ons loop nie meer verby en oor talle grafte as ons kerk toe kom nie, broeders en susters. Daarvoor moet ons "Zandfontein", of "Garsfontein" toe gaan. Of na die Rebecca-begraafplaas toe.

Maar ook ons loop wel, nes die kerkgangers vroeër, elke dag ons eie dood tegemoet.

"Wie leef daar wat die dood nie eenmaal sal aanskou nie?
Geeneen wat teen dié mag sy lewe kan behou nie!"

U moet dié werklikheid maar eerlik onder die oë sien. En eerlik daaroor praat met u kinders.

Maar u mag nog altyd met die werklikheid van die naderende kerkhof kérk toe kom! U God wys ook vandag nog in die kerk vir mense wat die dood tegemoet loop, 'n pad deur die dood heen, 'n uitpad uit die dood uit: die pad agter sy Seun Jesus Christus aan.

Dié pad mag ek u namens die HERE ook vanaand weer wys. Ek kan my boodskap so saamvat:

DEUR SY DOOD HET CHRISTUS ONS LEIDSMAN TOT DIE LEWE GEWORD

Ek sal dit in twee punte nader uitwerk:

  1. HY HET DIE VERSKRIKKING VAN DIE DOOD VIR ONS GESMAAK
  2. SO HET HY ONS VAN DIE VERSKRIKKING VAN DIE DOOD VRYGEMAAK

(Maar laat ons eers van die weg na die lewe sing met die woorde van Ps. 116: 5)

1. Onthou u nog die teks wat ons uit Markus 9 gelees het? Net daardie een vers? Miskien moet ons dit saam nog 'n keer lees: ............................

Wat het ons Heiland bedoel?

Op die eerste gesig lyk dit asof die Here vir party van sy dissipels belowe dat hulle totaan die dag van sy Wederkoms mag bly lewe.

Maar kan dit die bedoeling wees? Want wie van die mense wat destyds om Jesus heen gestaan het, leef nog vandag? Hulle het mos almal al lankal gesterf: Jacobus is al vroeg vermoor deur Herodes, Petrus is later waarkynlik gekruisig in Rome, Johannes het gesterf in gevangenskap op die eiland Patmos...

Al die mense uit daardie dae is inmiddels dood en begrawe.

Waar het dan die "sommige" gebly wat die dood nie sou smaak nie? Die Koninkryk van God het mos nog nie met krag gekom nie?

Het ons Christus se woord hier in Markus 9 wel reg verstaan?

Die uitleggers het daarom allerlei oplossings aangedra om hierdie raaiselagtige woord minder snaaks te laat klink. Die een sê: Christus praat hier nie van sy wederkoms op die jongste dag nie. Dit moet 'n tydstip gewees het wat baie digter by daardie dissipels gelê het en inmiddels lankal verby is. Het die Here dalk die verheerliking op die berg bedoel, ses of sewe dae later? Of sy opstanding uit die dood? Dit kan ook Pinkster wees, want het die Koninkryk van God op dié dag nie met krag die wêreld begin verower nie?

Maar as die Here dít bedoel het- wat was daar dan so opvallend aan sy uitspraak? Op die dag van Pinkster het waarskynlik die meeste van die mense wat nou rondom die Here staan en luister, nog wel gelewe. Terwyl die Here tog baie nadruklik aankondig: "Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige wat die dood nie sal smaak nie.... ". As iets uitsonderliks.

Ander verklaarders meen daarom dat ons aan die jaar 70 na Christus moet dink, die verwoesting van Jerusalem deur die Romeine. Dr. Van der Waal het so gedink. Was daardie oordeel oor die onbekeerlike deel van Israel nie 'n duidelike openbaring van Christus se koningsmag nie?

Ons mag inderdaad aanvaar dat die meeste luisteraars van die Here Jesus daardie val van die heilige stad nie meer meegemaak het nie. Net 'n enkeling van die dissipels het miskien toe nog gelewe.

Maar kan ons daardie ondergang van Jerusalem sommer: "die koms van die Koninkryk van God met krag" noem? Of, soos Mattheüs, wat ook hierdie opvallende woord van die Heiland opgeskryf het, dit uitdruk: "dat die Seun van die mens in sy Koninkryk kom"!

As ons Christus se woorde eerlik laat staan soos Hy hulle uitgespreek het, moet ons erken dat ons moeilik aan iets anders kan dink as aan sy wederkoms in heerlikheid. Ons kan nie daaraan ontkom nie.

Maar wat het die Here dan bedoel?? Kan mense nou alreeds, voordat eendag die nuwe aarde aanbreek, aan die dood ontkom?

Ons lees 'n soortgelyke uitspraak van Christus in Johannes 8: 51: "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as iemand my woord bewaar, sal hy die dood in ewigheid nie sien nie".

Dié woord het Jesus nie vir sy dissipels nie, maar vir die Jode gesê. Hulle het ook niks daarvan begryp nie. Verontwaardig het hulle gerageer: "Nou weet ons dat U van die duiwel besete is. Abraham het gesterwe, en die profete, en U sê: as iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie smaak nie!"

U kan daardie verontwaardiging tog verstaan? Hoe kon Jesus so oppervlakkig oor die dood praat? Hy het mos alle bewyse teen Hom! Daar is geen mens wat aan die dood ontkom nie.

Ons ken heelwat mense wat Christus se woord bewaar het, maar het hulle die dood nie gesien nie? Pa, ouma, ons dogter of seun....

Tog het ons Here geen nonsens gepraat nie. Die geheim van sy raaiselagtige woorde lê in die opvallende uitdrukking wat hy gebruik vir die sterwe. Hy praat nie gewoon van doodgaan of sterwe nie. Hy gebruik sowel in Markus 9 as in Johannes 8 'n baie sterker uitdrukking: Hy praat van "die dood smáák" en "die dood aanskou, in die oê staar".

Die dood smaak- dit is baie meer as maar net sterwe.

Ons het daardie sterk uitdrukking vanaand ook gelees in die brief aan die Hebreërs, hoofstuk 2. Onthou u nog? Kyk vers 9: ons Here Jesus sélf het vir ons almal die dood gesmaak.

Daar lê die sleutel om die eienaardige woorde in Markus 9, en ook in Johannes 8, te kan verstaan: Omdat ons Heiland self in die wêreld gekom het om die dood te smaak, kon Hy belowe dat almal wat sy woord sou aanvaar en bewaar nie meer die dood hoef te smaak nie.

Want wat is die dood? 'n Vanselfsprekende slytasie van 'n menselewe? Die natuurlike keersyde van die lewe?

Nee, die dood is mos die straf van ons regverdige God oor opstandige en ongehoorsame mensekinders.

Sterwe, die dood- u moet dit maar baie breër neem as net daardie een oomblik as die asemhaling ophou, die hart stilstaan en die breinfunksie wegval.

God het vir Adam gesê: die dag as jy van die boom van kennis van goed en kwaad eet, sal jy sekerlik sterwe! "Die dag"- dieselfde dag dus. Dit lyk asof die HERE daardie straf nie onmiddellik uitgevoer het nie. Adam en Mannin het mos nie direk dood neergeval nie?

Nee, maar nogtans het die dood dadelik ingetree.

Ons bely in die Nederlandse Geloofsbelydenis -dis Artikel 17- dat die mens deur die sondeval "homself in die liggaamlike en geestelike dood gewerp het". Adam se lewe het in een keer sterwe geword. Sy bloed het bly stroom en sy asemhaling het van skrik waarskynlik gejaagder gegaan as tevore, sy hart het vinniger geklop- maar die dood het oor sy lewe neergedaal.

Want hy het sy rug gedraai op die God van die lewe en dan hét 'n mens g'n lewe meer nie. God se vloek het oor die menselewe gekom: voortaan moet hy swoeg in die sweet van sy aangesig; die aarde bring nou dorings en distels voort, maar ook vulkaangeweld en aardbewings, haelstorms en hongersnood, en bakterieë en virusse. Die mense sal hulle teen mekaar keer in haat en nyd, moord en doodslag, owerspel en verkragting..

Kortom, die lewe is daagliks aan afbraak onderhewig. 'n Gestadige dood. En dit wat óns sterwe noem, is maar net die voltooiing van daardie afbraak. Die hart hou op en klop, die oë breek, en die liggaam gaan binne 'n paar dae tot totale ontbinding oor. So, dat dit hier op aarde onhoudbaar geword het. Dit kan dalk nog 'n rukkie in 'n vrieskamer bewaar word, maar daarna moet dit onder die grond begrawe word. Prysgegee aan wurms en goggas. Uit die grond het God dit eendag tevoorskyn gehaal en in die kleipop wat Hy eiehandig gevorm het, sy eie lewensasem ingeblaas. Nou neem dieselfde God sy lewensasem terug en laat 'n liggaam wat waardeloos geword het, weer in die grond verdwyn.

En selfs dit is nog nie die einde nie. Want God laat die lewensgees wat Hy aan ons gegee het, nie by die dood in die lugledige verdwyn nie. Dit sou nog 'n genadige einde van die straf beteken. Maar die mens, soos hy geleef het, in God se wêreld rondgekyk het, hom aan God se skepping vergryp het- daardie mens leef ook na sy sterwe verder om in die hel vir ewig te moet ondergaan wat dit beteken om jou rug te draai op die God van die lewe. Hy moet voortaan die verskrikking van die dood, die lewe sonder God, in sy volle omvang proe. Tot sy eie afgryse. Dit is nou regtig: die dood smaak.

Dit, gemeente, is die straf wat ons almal verdien het. Die straf wat dadelik na die sondeval ingetree het en wat al ontelbaar veel mense na die ewige dood toe gesleep het.

God het die reg om die hele mensegeslag deur hierdie vreeslike straf uit te roei. Amal verdien dit om die dood te moet smaak.

Maar dit sou die einde van God se skeppingsplan beteken. God die Vader sou nie langer vader van menskinders wees nie. En daarvoor het die HERE sy wêreld té lief gehad. Hy was tot alles bereid om ons as sy kinders weer terug te kry in 'n lewe in heertlikheid met Hom. Hy was bereid om sy eniggebore Seun aarde toe te stuur om vir ons die Leidsman tot die lewe word. God se Seun het gekom om ons uit die dood uit te lei, terug na die lewe toe.

Maar daarvoor moes God se Seun sélf eers in die dood indaal en dit in al sy verskrikking smaak. In ons plek.

So het dit God "betaam", het ons in Hebr. 2: 10 gelees. M.a. w. so het dit by die HERE gepas. Die Kategismus sê dit in Sondag 16 so: "Weens die geregtigheid en waarheid van God kon dit nie anders nie... ". God se reg het geëis dat die opstand teen Hom, die God van die lewe, met die dood bestraf moes word. En as die HERE iets sê, hou Hy ook altyd sy woord. Hy maak waar wat Hy sê.

Dus kon dit nie anders nie: die Leidsman wat ons na die lewe wou lei, moes self die dood ondergaan. Die dood smaak! Die bittere en smadelike dood enduit proe.

Maar u Heiland was bereid om zo ver vir u te gaan, broeders en susters. Hy het geweet wat Hom te wagte gestaan het, toe Hy aarde toe gekom het. Sy hele lewe lank het Hy die vloek van sy Vader oor ons menselewe geproe, in siektes en besetenheid, in die hoogmoed en huigelary van mense, in ongeloof en ontrou. Hy het daaronder gely.

Maar dit alles was nog maar die voorsmaak van die dood. Want aan die kruis, toe sy eie Vader Homself heeltemal teruggetrek het en sy Seun drie vreeslike ure lank in verstikkende duisternis weggestoot het, toe alle duiwels op Hom losgelaat is- toe het ons Here eers ten volle geproe wat die dood is. Nog voordat sy liggaam gesterf het, het onuitspreeklike angs, smarte, verskrikking en helse kwelling Hom oorval. Elke minuut was vol van God se ewige toorn. So benouend dat Christus dit op die ou end uitgeskreeu het: "My God, my God, waarom het U my verlaat? ".

Op dié angsskree het Hy antwoord gekry. Die lig het weer begin skyn en die verskrikkinge van die hel het gewyk.

Maar toe kon Hy nie van die kruis af kom nie. Die beker van die dood was nog nie leeg nie. Hy moes dit ook nog ondergaan dat sy liggaam 'n lewelose lyk geword het. Dat Hy sy hande nie meer kon gebruik om siekes aan te raak en te genees nie, dat Hy sy stem nie meer kon gebruik om die Naam van sy Vader te verkondig nie, dat Hy sy oë nie meer kon gebruik om die skoonheid van sy Vader se skepping te bewonder nie. Hy is totaal uitgeskakel en as waardeloos weggeruim agter 'n grafsteen. Ook dit het behoort by die smaak van die dood.

2. Maar daarom kan hierdie Heiland nou vir ons sê, gemeente, dat elkeen wat sy woord bewaar, nou die dood in ewigheid nie sal sien nie; dat soiemand die dood nie meer hoef te smaak nie.

Dit beteken dus nie dat ons nie meer hoef te sterwe nie. Maar die vreeslike verskrikking van die dood is vir ons weggeneem. Die helse angs en pyn word ons bespaar, sê die Kategismus in Sondag 16.

O ja, die lewe in hierdie wêreld kan soms na 'n hel lyk. Die wêreld is nog vol verskrikking: allerhande natuurrampe, vreeslike oorloë, moordaanslae en roof. Mense kan vir mekaar die lewe onleefbaar maak. Siekte en ondraaglike pyne kan jou kragte sloop.

Die lewe kan so ondraaglik lyk dat dit bra moeilik kan wees om die Leidsman tot die lewe in die oog te bly hou. Is dít nou lewe? !

Dit is die aanvegtinge waarvan die Kategismus in Sondag 16 praat. 'n Mens kan lewensmoeg raak, omdat dit lyk asof die lewe alle uitsig verloor het. Waarvoor leef ek nog? Waar is God? !

In sulke oomblikke kry 'n mens maklik homself jammer, broeders en susters. Maar juis in sulke oomblikke moet u aan Golgota terugdink. Dit wat ons vandag moet deurmaak, is maar 'n lekseltjie van dit wat u Heiland alles moes proe en deursluk in sy helse kwelling aan die kruis.

God se hand kan swaar op u druk, om u hardhandig aan u skuld te bly herinner - en ons het dit nodig! Maar sy hand is darem steeds daar! Hy bly u vashou en deurhelp en gebruik ook swaarkry en spanning en verdriet vir u beswil.

Maar God het van Christus sy hande volkome afgetrek. God het Hom regtig totaal verlaat en aan die verskrikking van die hel prysgegee. Juis om u te kan bly vashou.

Dit mag u nooit vergeet nie. Met die wete mag u uself altyd vertroos. Daarmee mag ons mekaar vertroos. Selfs in die swaarste swaarkry hou Vader se hand ons vas en neem Hy ons saam agter sy Seun aan na die lewe toe.

Die uitdrukking: "Dit is g'n lewe meer nie. Dit is 'n hel" moet ons daarom maar liewer nooit meer gebruik nie, gemeente. Want dan oordryf ons skromelik. Dan weet ons nie wat ons sê nie. Ons maak Vader in die hemel seer deur soiets te sê. Hy het sy Seun mos gegee om ons van die hel te verlos, om ons die lewe terug te gee en ons nooit meer te verlaat nie.

Soos sy Seun die verskrikking van die dood geproe het, hoef u dit nooit te proe nie. U mag juis die voorsmaak van die nuwe lewe in heerlikheid al in hierdie lewe proe. Selfs in die swaarste aanvegtinge.

Want ons Leidsman tot die lewe het in ons lewe 'n krag ontplooi wat ons agter Hom aan trek, by die sonde en die dood vandaan terug na die God van die lewe toe.

U ken dit tog in u lewe, broeders en susters? Die begeerte om weer heeltemal gehoorsaam te wees aan u God en Vader, die skaamtegevoel as u nogtans weer gestruikel en in die sonde geval het, en ook: die ontroering en dankbaarheid in alle verdriet en swaarkry as die HERE met sy beloftes en trooswoorde na u toe kom..... Daarin mag u al iets van die herstelde lewe met die HERE proe.

Ja, ek weet, daar is ook nog 'n ander krag in u lewe. Daardie geweldige krag in elke menselewe na die sondeval wat nie ophou om ons na die sonde toe te sleep nie. Ons sondige aard.

Maar vir almal wat Christus volg, het daardie mag in ons lewe 'n ou mens geword. Dit het sy langste tyd gehad.

Die Kategismus wys daarop in Sondag 16 in vr. en antw. 43 waar gesê word: "Deur die krag van Christus word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe". Ons ou mens is klaar ter dood veroordeel en gedoem om te verdwyn. Hy is as 't ware reeds gekruisig.

Maar hierdie woordkeuse maak tegelyk duidelik dat ons nie op 'n maklike manier van hom ontslae raak nie. Daardie brok sonde in ons, die ou mens is nie sommer dood nie! Soos 'n kruiseling tot op die allerlaaste bly worstel om te mag lewe, so sal ons ou mens tot op ons sterfbed toe ons met sy stuiptrekkings bly pla.

Maar dit is gelukkig nie meer as net stuiptrekkings nie! Die mag van die sonde in u lewe is klaar gebreek. U sondige begeertes heers nie meer oor u nie. U onderwerp u nie meer soos vanself daaraan nie, maar die ander mag in u lewe word al hoe sterker, wat U na u God toe terug trek.

Daarin mag U die krag van Christus opmerk wat begin het om aan die sonde sy krag te ontneem, om u by die sonde vandaan na die herstelde lewe met God saam te neem.

Ons raak eers heeltemal van ons ou mens ontslae wanneer ons sterwe. Eers op ons sterfbed word aan die oorblywende reste van die sonde in ons die doodsteek toegedien. Daarom moet ons, alhoewel Christus die volle verskrikking van die doodstraf in ons plek gesmaak het, self ook nog sterwe, solank die Here Christus nog nie op die aarde teruggekom het nie. En daaroor hoef niemand gering te dink nie. Dit is die allerlaaste stuiptrekking van ons vyand en dit kan nog 'n moeilike marteling word. Dit is 'n moeilike pad met 'n moeilike poort wat ons nog moet passeer. Die HERE sorg ook daardeur dat ons die erns van ons skuld teenoor Hom nie maklik vergeet nie. Hy dwing ons daardeur om tot die heel laaste te bly besef dat ons alleen uit genade die lewe terug ontvang. Hy dwing ons tot op ons sterfbed om die lewe buite onsself in sy Seun Jesus Christus te soek.

Maar ons hoef ons ons nie aan die dood te versluk nie. Ons hoef die volle verskrikking daarvan nie meer te smaak nie. Inteendeel, die moeilike en donker poort van die dood word vir ons juis die poort na die totale verlossing. So raak ons eindelik ontslae van ons ou mens. Ons sterf die sonde vir altyd af. Daarom kan mense wat Christus as die Leidsman tot die lewe leer ken het, selfs daarna gaan verláng om te mág sterwe. Mense wat Christus nie ken nie, is "hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe", het ons in Hebr. 2 gelees. Hulle is hul hele lewe lank op die vlug vir die dood, terwyl hulle by voorbaat weet dat hulle tog nie sal ontkom nie. Eendag haal die dood jou in en word jy sy volgende slagoffer. Daardie aanhoudende vlug terwyl jy weet dat dit nie gaan help nie, kan 'n mens so moeg en moedeloos maak dat jy jouself maar aan die dood oorggee: die dokter kan jou maar 'n dodelike inspuiting gee. Of jy skiet jouself.

Maar van dié angs en moedeloosheid het Christus óns kom verlos.

Ons kan sê: noudat my lewe Christus geword het, is die sterwe vir my wins. Ek verlang om heen te gaan en met Christus te wees want dit is verreweg die beste. Daar mag ek dan saam met al die christene wat reeds gesterf het, in die hemel wag op die volmaakte lewe op die nuwe aarde.

Hier op aarde bly dan wel 'n uitgeleefde liggaam agter. Maar daarmee kan die duiwel niks meer aanvang nie, die sonde kan daarmee niks meer aanvang nie.

God wel!

Want daardie uitgeleefde liggaam mag soos 'n waardevolle koringkorrel in die aarde gesaai word, sodat God op die laaste dag 'n nuwe, verheerlikte liggaam daaruit kan laat ontspruit.

Selfs die graf is nie meer die swart punt agter 'n mislukte menselewe nie. Danksy Christus het dit 'n dubbelpunt geword, waaragter 'n nuwe, waardevolle menselewe opdoem. Waardevol vir God! 'n Lewe wat weer volkome op Hom gerig sal wees.

Broeders en susters, "Elkeen wat my woord bewaar, hy sal die dood in der ewigheid nie sien, nie smaak nie" het Christus gesê.

Die dood nie sien nie, nie smaak nie- dit klink ongelooflik. Nogtans vra Hy geloof. Want alleen vir wie Hom in geloof volg as die Leidsman tot die lewe, sal selfs die begraafplaas 'n kérkhof wees: die tuin waaruit ons Here eendag sy nuwe kerkvolk sal laat herrys.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)