'n Christen volg die pad van Christus se kruis

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 15
Preek Inhoud: 

28-04-91

SONDAG 15

Votum - Seëngroet
Sing: Ps. 53 : 1, 2, 3 [graad 1]
Wetslesing
Sing: Ps. 53 : 6, 7
Skriflesing: Lukas 2 : 41-52, Hebr. 13 : 8-15
Geloofsbelydenis [bl. 609-611]
Sing: Ps. 22 : 9
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 22 : 1, 6, 7
Sondag 15
Prediking
Sing: SB. 7 : 4, 5, 10
Dankgebed
Sing: Ps. 22 : 4, 11
Seën

Gemeente van ons Here Jesus,

jou geloof publiek bely: dit maak jou 'n opvallende mens! Jy is 'n mens wat iets belangriks wil sê en almal mag dit hoor. Jy sê mos: 'ek soek my lewe - my hede en my toekoms - nie in my eie krag nie, maar ek soek dit buite myself in Christus'. Mense wat so praat, is opvallend. Dan praat jy oor jouself en sê: ek is nie die belangrikste in my lewe nie, dis Christus wat die meeste in my lewe is. Ek weet ek sal nie die krag om te lewe in myself vind nie; ek soek dit in die persoon van my Heer Jesus Christus. Ek weet: by Hom sal ek dit vind.

Daar is in hierdie land baie mense wat hulself christene noem. Die getal van 70 persent van die bevolking word genoem! Dis mense wat, as dit vir hulle spesifiek gevra word, oor hulself as christene sal praat. Maar hoeveel mense is daar wat oor Christus as die Heiland praat? "Suid-Afrika 'n christelike nasie": ek glo nie dat daar 'n christelike land bestaan nie. Dan het die Koninkryk alreeds gekom. Dan het die vreemdelingskap van christene in die wêreld mos opgehou. Dit kan nie so wees nie. Dit kan so wees dat die land christelik lyk en christen-wees nie opval nie. Maar dan het ons 'n skynsekerheid bereik. Dis hoekom dit so belangrik is om Christus na te volg en oor hom te praat. Want dis 'n opvallende ding in die samelewing. Ons is geroep om te glo. Dis pragtig en heerlik. Maar dit sê ook: jy is geroep om jou Heer te volg. Kom ons luister nou na die boodskap van Christus se pad na die kruis, dis sy pad deur ons wêreld:

'N CHRISTEN VOLG DIE PAD VAN CHRISTUS SE KRUIS

Dis weet

  1. dat jy vreemdeling is (v/a 37),
  2. dat jy vrygespreek is (v/a 38),
  3. dat jy van waarde is (v/a 39).

1. DIE PAD VAN CHRISTUS SE KRUIS VOLG: WEET DAT JY VREEMDELING IS

Dit is 'n groot sprong wat die Kategismus maak: van Jesus se geboortedag na die jare van sy lyding, van die krip na die kruis. Was sy hele lewe, die jare van sy jeug en sy jong-volwasseheid, dan werklik net lyding? Die Kategismus sê: Jesus het na liggaam en siel tydens sy hele lewe op aarde, maar veral aan die einde daarvan, die toorn van God teen die sonde gedra. Hoe het Jesus dan tydens sy lewe die toorn van God ontmoet?

Die Bybel vertel jou min oor Jesus se jeug. Daar is net die een gebeurtenis toe Hy twaalf jaar oud was. In die tempel, tydens sy eerste Paasfees het Jesus bewus geword van die nabyheid van sy hemelse Vader. Meer hoor jy nie, totdat Hy dertig jaar oud is en gereed is om sy werk te begin. Maar al die jare het Hy as mens in ons wêreld geleef. "Na liggaam en siel", in sy hele bestaan as mens het Jesus in die lyding van die mensheid gedeel. Hy moes ook siek geword het: die kindersiektes wat in daardie tyd nog gevaarliker, pynliker was as wat hulle nou is. Hy moes ook die spanning beleef het wat partykeer 'n gesin kan beheers: stres, baklei en onvriendlikheid. Hy het ook die afsterwe van familielede beleef, soos van sy eie pa, Josef. Sy ervarings en gevoelens is ook deur die pyn van die lewe geraak.

Ja, dit was dieselfde moeites wat ons ken, wat ons kinders leer ken. Maar Hy het meer daarvan gely as ons! Dit leer ons uit die wyse waarop Jesus in die tempel oor sy Vader praat. Iemand wat so bewus is van die nabyheid van God (soos die mens wat weet dat Hy die seun van God is), hy moet ook baie skerp kan voel waarin die nabyheid van God ontbreek. Ontbreek of vir ons gevoel gebreek is, nie ervaar word nie. Soos wanneer siekte 'n mens verswak: sy liggaam en sy gees. Of soos wanneer spannings in die gesin die daaglikse rus en omgang met God ondermyn. Dis dit waarin die toorn van God sigbaar word: in al die swak plekke van ons lewe. Orals waar die direkte ervaring van God se nabyheid gebreek is. Jesus het die toorn van God orals gevoel, omdat Hy die verhouding tussen alles wat verkeerd is en die vloek op die skepping gevoel het.

Dan begin die werk, die groot taak van die verkondiging van die blye nuus en die genesing van siekes. Dié werk begin ... met die ontmoeting met die duiwel. U onthou: die versoekinge in die woestyn was die eerste wat gebeur het na die wonderlike gebeure by sy doop in die Jordaan. Hy is weggelei na die woestyn waar die duiwel vir Hom gewag het. Daarna kom die tyd waarin Jesus sy twee hooftake uitgevoer het: die verkondiging van die evangelie en die genesing van siekes. Maar dis die probleem: daar was baie mense siek, na liggaam en gees. Die duiwel en die bose geeste het baie mense in besit geneem. Orals is daar sulke geeste wat ore en oë toe hou, wat bene swak maak en siele kwel. En by die verkondiging van die blye nuus is daar ... die mag van die ongeloof. Die mag wat die hart toegesluit en verstand eiewys maak. As dit die hoor van die Evangelie onmoontlik maak, is dit die vloek op die aarde: in siekte, in gestremdheid, in ongeloof.

Dit het veroorsaak dat Jesus gely het. Hy het gesien en gevoel hoe sterk die duiwel is. Hoe sterk die dood alreeds in die lewe ingewerk, ingevreet het. Hy moes mos teen die ongeloof en teen die bose geeste stry. Dit het Hom moeg gemaak. Selfs by sy dissipels het dit baie lank gevat, voordat die geloof 'n vaste plek in hul harte gekry het. Ook mense wat God verkies het, laat Jesus ly.

Jesus is 'n suiwer mens. 'n Mens wat heeltemal op God afgestem is, heeltemal soek om na sy wil te handel. So 'n mens is in hierdie wêreld nie op sy plek nie. Hy is 'n vreemdeling in sy eie land. Die Seun van God: 'n vreemdeling op God se eie aarde. Die "vreemdelingskap" van christene in hierdie wêreld is 'n mooi tema. Veral as jy agterkom: Jesus het ons ook daarin voorgegaan. Dit bly daaruit as Jesus sê: "Die jakkalse het gate, die voëls het neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie" (Matt. 8:20). Sonder 'n vaste blyplek het Hy rondgetrek deur die land. Ons moet later maar spesifiek oor die tipe vreemdelingskap van Jesus praat: op watter wyse ons hier tuis mag voel. Nou konsentreer ons ons aandag op hierdie punt: die mens wat Jesus in alles soek om te volg, word as 'n vreemde mens geskou. Jesus was nie anderste nie, maar die mense was almal anderste, anders as God se bedoeling met die mensheid.

Kom ons soek hoe om christen te wees in hierdie land. Kom ons wees nie skaam daarvoor om die suiwerheid in geloof en lewe na te strewe nie! Kyk na Christus: hoe Hy gesoek het om die wil van sy Vader te doen. Hoe Hy gestry het en hartseer was oor ongeloof en oor hindernisse op die pad van die geloof. Kom ons soek hoe om die in sy krag te oorwin: vir onsself en vir ons naaste. Dis die pad wat Hom aan die kruis gebring het. Vir ons is dit die pad van Christus se kruis navolg.

2. DIE PAD VAN CHRISTUS SE KRUIS: DIS WEET DAT JY VRYGESPREEK IS

In die samevatting van Jesus se lyding word u aandag verder net op Jesus se kruis gekonsentreer. Die een dag, die laaste van sy lewe. Dis hoekom die regspraak aan Pilatus se hof spesifiek genoem word. Die naam van Pontius Pilatus is in die apostoliese geloofsbelydenis opgeneem. Die naam van 'n mens in ons mooiste belydenis! Ja, want die hele stryd van die Bose teen Jesus het deur Pilatus sy keerpunt gekry.

Eintlik wou Pilatus Jesus glad nie veroordeel nie. 'n Hele paar keer het hy uitgespreek: die mens is onskuldig. Feitelik het hy Jesus steeds vrygespreek. Dat hy Jesus tog veroordeel het, was net om 'n opstand van die Jode te voorkom. Die wêreldlike gesag van daardie tyd het die geestelike gesag van daardie volk gehelp. Dit was die Jode, die volk van God wat Jesus veroordeel het. Maar as die wêreldgesag saam met die volk van God 'n beslissing neem, is alle mag in een uitspraak gekonsentreer. Daar is niks wat dit kon keer nie. Dis hoekom die uitspraak, die berusting van Pilatus in die wens tot kruisiging so 'n belangrike stap was. Dit het Jesus veroordeel sonder 'n uitweg, sonder 'n laaste appel.

Voor God beteken dit natuurlik niks nie. Die HERE wat sowel koninge as volke regeer, sowel Pilatus as die Joodse massa, kon die beslissing tot kruisiging kragteloos gemaak het. Natuurlik beteken die gesamentlike besluit van 'n Romeinse owerheid en 'n hele Joodse volk vir God niks nie. Hy kon maklik deur 'n ingrype uit die hemel die hele proses gestop het! Dit beteken onbetwisbaar dat God sy eie gronde vir die oordeel gehad het. Jesus het die strenge oordeel van die wêreldlike regter gekry óm die strenge oordeel van die hemelse Regter te dra. Die een groot feit dat God nie ingegryp het nie, dit maak vir my duidelik: God het sy eie beslissing, sy eie vonnis gevel. Die leuens van die Jode ("Hy het God gelaster") en die lafheid van Pilatus ("die volk kom dalk in opstand") het God laat bestaan: sodat Jesus van God en mense verlaat sal wees. Die sonde van die wêreld kom skrikwekkend duidelik uit om te wys: Jesus moet alles dra. Jy kan sê: die skuld word op Jesus afgeskuif.

Die vonnis van God oor die mensheid was: "Jy sal sekerlik sterwe" noudat jy die duiwel in my wêreld toegelaat het. Dis die vonnis waardeur die dood homself in die lewe ingevreet het. Die veroordeling tot die kruis, dis die uitspraak wat duidelik maak: nou kom die oordeel van Genesis 2 tot volle werking. Nou kry die vloekwoord van God sy volle krag. Terwyl die wêreld, die mensheid homself teen die Heiland keer, verswaar God die verlatenheid deur mense met die godverlatenheid. En Jesus het gevoel: vandag gebeur meer as 'n vonnis deur mense. Vandag wil my God dit nie verhinder nie! Hy wil My nie vir die oog van die wêreld vryspreek nie.

Die mense het hul eie oordeel gehad. Jesus is soos 'n vreemdeling weggesny uit die samelewing, uit die lewe. Ook van God se volk. Hulle kon Hom nie wegkyk nie. Dus moes hulle Hom wegwerk. 'n Mens wat God sy Vader noem! So het dit begin, al toe Jesus 12 jaar oud in die tempel oor God gepraat het. Hy is nie welkom nie. U mag onthou: terwyl God gronde het om u te veroordeel, is u vrygespreek as u die pad van Christus se kruis volg. Toets jouself maar: waag ek dit om met al my vriende oor Christus te praat? Kan ek vir hulle sê hoe dit voel dat God my Vader is? Verstaan jy die pad wat Jesus geloop het: Hy het 'n onregverdige vonnis van mense oor Homself aanvaar en 'n regverdige oor jou van God aanvaar? Jy is vrygespreek, as jy jou pad tussen die mense loop en hulle oordeel oor jou nie vrees nie.

3. DIE PAD VAN CHRISTUS SE KRUIS VOLG: WEET DAT JY VAN WAARDE IS

Wat is die waarde van 'n mens teenoor die dood, soos dit in hierdie wêreld voorkom? Mense word gemartel: dis erg. Of mense word weggekyk: dis ook erg. Die kruis is 'n baie wrede vorm van doodstraf. Dis nie net teregstelling nie, dis marteling tot die dood intree. Die middel het die Romeine hanteer om die volke wat hulle oorwin het, te oorheers en te onderdruk. Die Jode het die vorm van doodstraf baie goed geken, baie gevrees. Maar noudat dit om Jesus gaan, nou kies die Jode vir die straf, die wreedheid.

Maar dis nie net wreedheid wat die volk van die Romeine oorgeneem het nie. Dis baie erger. Want hulle, die volk van God het geweet wat God oor hierdie straf gesê het. In die wetboek het hulle gelees en dit onthou: "as in iemand 'n sonde is wat die doodstraf verdien en hy gedood word deur hom aan 'n paal te hang, dan mag sy lyk nie aan die paal oornag nie ..., want een wat opgehang is, is deur God vervloek" (Deut. 21:23). Nee, die teks van die wetsvoorskrif praat nie van marteling, nie van kruisiging nie. Dit wil nie so 'n marteling as straf voorskryf nie. Nee, dit praat bloot van die doodstraf as 'n vonnis wat net God kan vel. Op watter wyse die doodstraf voltrek is, word nie gesê nie. Eers daarna is die lyke opgehang. Ja, dis vreeslik. Maar kom kyk ons na die betekenis van ophang: dis uitstoot uit die lewe op aarde, terwyl die mens nie by God in die hemel toegelaat is nie. Tussen hemel en aarde is die mens van God en mense verlaat. Die een wat die doodstraf na die wet verdien en gekry het, is deur God vervloek. Dis wat die paal sê! Dis dié straf wat die volk van God vir die mens Jesus gekies het. Hulle het die oordeel van God oor Hom uitgespreek. Onthou u: die aanklag teen Jesus was godslastering. En die Kategismus het onthou: op "die lastering van die Naam is die doodstraf gestel".

Nee, opnuut moet ons sê: God was nie aan die oordeel van die Jode gebind nie. Maar Hy het deur sy eie vonnis die kruis vir sy Seun aanvaar. God het die vloek oor die mensheid uitgespreek, en die vloek op Jesus laat lê. Dis hoekom Jesus van mense en van God verlaat moes wees. Paulus sê in Galasiërs 3: "Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet (die totale vloek oor totale ongehoorsaamheid) deur vir ons 'n vloek te word - want daar staan geskrywe: vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang" (vs.13). Jesus het niks gedoen waarop die doodstraf staan nie. Maar God het die straf van die dood, dis die totale vloek op Hom gelaai. Losgekoop mag jy van enige vloek wees: om opnuut van waarde te kan wees. As mens vir mense, as mens vir God. Mense wat dit waag om anderste te wees, hulle kan van waarde wees.

Die slot van die brief aan die Hebreërs leer baie duidelik dat christene in hierdie wêreld vreemdelinge is, juis rondom die kruis van Christus. Ons mag onsself nie hier so vestig, asof die lewe hier die doel is nie. Jy word geroep om Jesus te volg "die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het"(12:2). Dan sê dieselfde brief in die laaste hoofstuk wat ons gelees het: "Jesus het - om die volk deur sy eie bloed te heilig - buitekant die poort gelei" (13 :12). Hy is uitgestoot: buite die stad, soos 'n vreemdeling wat nie by die volk 'n tuiste het nie. Dan vervolg die Bybel: "Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra" (vs. 13). Die smaad: dis as 'n christen uitgevloek of weggekyk word. Dis ook as mense nie verstaan wat jy bedoel, wie jy is nie. As jou woorde nie deurdring nie.

Jy is die meeste van waarde - vir God en vir die mense - as jy teenoor die vloek oor die lewe, van die seën praat. As jy met jou eie woorde kan vertel en in jou eie lewe kan wys, hoe die vloek in die oorgawe aan Christus heeltemal gebreek is. Volg die pad van Christus se kruis! Vertel hoe Jesus Christus tot onder die vervloeking deur God geloop het. En sê ook hoe Jesus vandag mense leer om Hom na te volg. Deur 'n vreemdeling in die wêreld te wees en so van waarde vir almal wat wil hoor, te word. Deur opvallend te wees as mens van God. Geloofsbelydenis rondom die kruis: dis wat die Here soek. 'n Lewe lank. As jy dit maar waag om anderste te wees: soos jou Heer dit was. As jy maar weet wat dit is om vrygespreek te wees: om Christus ontwil. As jy maar van waarde is: deur God se genade.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)