Jesus Christus het eers ons kruis op Hom geneem

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 15
Preek Inhoud: 

10-05-92

SONDAG 15

nabetragting by die Nagmaal

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 22 : 1, 2
N.G.B. Art. 21 as geloofsbelydenis
Sing: Ps. 32 : 1
Formulier vir die Heilige Doop
Sing: Ps. 22 : 4
Dankgebed + gebed voor die Nagmaal
Formulier vir die Heilige Namaal
Sing: Ps. 32 : 3
Sing: Ps. 32 : 4 aan die tafel
Danksegging
Dankgebed
Skriflesing: 1 Korinthiërs 2 : 1-9
Sondag 15 HK
Preek
Sing: SB. 7 : 3, 4
Slotgebed
Kollekte
Sing: Ps. 22 : 11
Seën

Gemeente van Jesus Christus, die Gekruisigde,

só het ons die geloof bely in Artikel 21 met die woorde van Paulus: "dat ons met julle oor niks anders praat nie as oor Jesus Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde". Die kruis wás iets verskrikliks, 'n teken van wanhoop en van dood. Dieper kon 'n mens niet sink as om gekruisig te word nie. Dit wat op die Goeie Vrydag met Jesus gebeur het, is die hart van ons pragtig geloof. Die kruis van ons Here is nou nie meer die simbool van die dood en die wanhoop nie. Dit is die simbool van lewe en hoop! Dit is 'n teken om deur te leef op God se aarde: die teken van genade by God oor die lewe! Selfs jou huis staan onder die teken van die kruis.

Vanuit daardie kruis van Jesus kan ons ook die oproep, die uitnodiging leer verstaan: "neem jou kruis op en volg My!". Neem jou kruis op! Wanneer Jesus "ons" kruis noem, kry dit 'n ander betekenis as die kruis wat Hy gedra het. Die kruis wat God jou gee om dit te dra: dit is die pad van beproewing en heiliging, nadat jy genade ontvang het. Dot praat nie van dood nie, maar van lewe. Selfs oor 'n babakindjie bid ons by die doopsbediening: 'laat sy, terwyl sy Christus daagliks navolg, haar kruis blymoedig dra'. Soos ons dit vir Nadia gebid het. Ons kyk vorentoe en besef: ook in haar lewe moet Christus inkom, sodat sy Hom elke dag kan volg en kan groei in die geloof. Sodat sy nie aan die sonde of aan moeites in haar lewe oorgelewer is nie. Ek preek vir u vanaand oor:

JESUS CHRISTUS HET EERS ONS KRUIS OP HOM GENEEM

Dié kruis praat van

  1. verwerping én aanneming,v/a 37
  2. veroordeling en vryspraakv/a 38
  3. vervloeking én seëning.v/a 39

1. VERWERPING EN AANNEMING

Die Apostolikum slaan die lewe van Jesus oor: van sy geboorte gaan ons oor op die lyding wat in sy dood geëindig het. Was Jesus se lewe dan dieselfde as die lyding? Mog Hy nie eers lewe, groei en tot bloei kom nie? Ja, Hy was ook jonk, Hy het ook dertig jare gekry om te ontwikkel, om Homself vir sy taak gereed te maak. Tog is in die kort samevatting van ons geloof dit die balans van sy lewe: Hy het gely.

Met liggaam en siel was Hy betrokke in die stryd om die lewe. Hy was as 'n suiwere mens spesiaal die doelwit van die Bose. 'n Wêreld vol versoekings is op Hom gerig. God se pragtige wêreld was deurtrokke van skade en skande. Dit was nie net 'n deurlopende konfrontasie met die Bose nie, maar ook met die mense. Temidde van ons tipe mense het Hy swaargekry om hulle te leer: hoe jy heeltemal mens kan wees en heeltemal op God gerig is. 'Jesus het heel die tyd van sy lewe op aarde, maar veral aan die einde daarvan, die toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag gedra'.

Dit was dus nog erger: nie net konfrontasie met die Bose of met gewone mense nie, ook met God in sy toorn. Jesus het nie die kans gekry om te geniet nie. Sy kruis was toe al: dit te dra dat die wêreld sy God verwerp het. En dit te moet dra dat God teenoor sy volk toornig was. Dit wondplekke van God se toorn was op elke kruispunt van die stede en dorpe sigbaar. Siekte, egbreuk, hoogmoed het God se volk kwesbaar gelaat. Vreeslik kwesbaar. Al die vreeslike dinge is die kruis wat die HERE God die mens opgelê het: die straf op die sonde, die vloek op die aarde. Dit alles het Jesus ervaar. Hy moes dié kruis, óns kruis dra. Dit was wat oor sy lewe gesê moet word.

Verwerping is die gevolg van 'n konfrontasie. 'n Vriendskap wat aangebied is, kan verwerp word. Dit gebeur meestentyds na 'n konflik. Hoe nouer die band was, des te skerper is die breuk. Die liefde kan in haat verkeer. Verwerping: met die vreeslike woord praat ons ook oor die teendeel van die uitverkiesing. Dit stel 'n mens voor die breuk wat tussen hom en God gekom het. En: terwyl God met sy volk nog geduld gehad het, moes die geduld en goedheid van die Vader vir sy Seun al hoe meer wyk. Die toorn van God sê: jy is heeltemal oorgelewer, onbeskerm, aan die seerkry en swaarkry wat daar deur die sonde in die wêreld is. Aan dit wat God om ons sonde ontwil in die wêreld laat gebeur het.

Terwyl Jesus in ons plek gehoorsaam aan God was, het die volk van God sy aanwesigheid en sy Woorde verwerp. Terwyl Hy op aarde rondgeloop het tussen siekes en besetenes en hulle leed op Hom geneem het, is Hy verwerp soos 'n melaatse. Terwyl Hy ons stryd teen die sonde en die Bose oorgeneem het, is Hy aan die duiwel oorgegee. Dié totale verwerping kom uit in die wens van die Jode: "kruisig Hom".

Dit alles kom saam in die woorde wat ons in die gedagtenis van die Nagmaalsformulier lees: Hy is deur God verwerp, verlaat, sodat ons nooit meer deur Hom verlaat sou word nie, maar inteendeel as kinders deur 'n Vader aangeneem is. Hy het ons kruis, die verwerping deur God, op Hom geneem.

2. VEROORDELING EN VRYSPRAAK

Elke Sondag kry die naam van die Romeinse stadhouer 'n plek in ons belydenis: voluit is sy naam Pontius Pilatus. Hy was die sleutelfiguur in die veroordeling van ons Here. Hoekom? Omdat hy, Pilatus, die hoogste gesag op aarde op daardie moment was. Hy is die wêreldlike regter met absolute mag, omdat hy die plaasvervanger van die keiser was. Hy praat namens die mensheid. En: op versoek van die Jode, van God se volk.

Nou kan ons baie praat oor die proses wat teen Jesus gevoer is. Daar was die eerste aanklag dat Jesus nie mooi van die tempel sou gepraat het nie. Dit het net nie stand gehou nie. Toe het die ander aanklag gekom: Hy is skuldig aan godslastering. Dit het die Romeinse stadhouer nie baie beïndruk nie. Toe kom die allerlaaste draai: Jesus predik oproep teen Rome. Die Jode verkies dit om nou die Romeinse keiser as hulle wettige owerheid te presenteer! Daar was blykbaar niks wat die Jode kon keer nie.

Een ding staan egter uit: dit alles, tot en met die laaste veroordeling tot die dood, kón gebeur, omdat God toegelaat het dat dit gebeur. As daar een ding is wat Jesus gevoel het, is dit: dat sy Vader in die hemel nie wou en nie sou ingryp om dit te verhoed nie. In die onbarmhartige oordeel van Pilatus het Jesus die 'streng oordeel van God' oor Hom voel kom. En Hy het geweet: dié vonnis is eers die begin. Die uitstorting van God se toorn sou vreeslik wees. En Jesus het dit ook uitgespreek. Hy het vir Pilatus gesê: "u sou geen mag teen My hê nie as dit u nie van bo gegee was nie" (Joh. 19:11). Die menslike handelinge teen Jesus mag skokkend wees, dit is nie die mees skokkende ding nie. Dit is wel dat dit God is wat sy Seun veroordeel tot dit wat ons verdien het.

So het Jesus ons kruis gedra, lank voordat Hy aan die kruis moes hang. Pilatus het Hom onskuldig verklaar. "Ek vind in Hom geen skuld nie". Pilatus wou Hom vryspreek. Hy hét Hom ook regtig vrygespreek: vry van skuld. So het dié mens God se oordeel uitgespreek: persoonlik onskuldig, maar tot die dood skuldig omwille van die wêreld. Dit is ook wat ons in die Nagmaalsformulier uitgespreek het, toe ons Jesus se gewilligheid gedenk het: 'Hy is onskuldig tot die dood veroordeel, sodat ons voor die gerig van God vrygespreek kan word'.

Besef jy wat dit sê dat Jesus in die veroordeling jóu kruis gedra het? Die sondes wat sedert jou geboorte mag oor jou begin kry, sal God seermaak en sy toorn opwek. Bewe ons nog regtig vir die verontwaardiging van die God van hemel en aarde? Ja, in Jesus is jy aangeneem tot God se kind. In Hom is jou kind tot God s 'n aangeneem. Lewe ons dan ook so nederig en dankbaar, sodat ons wil verhoed om Hom seer, toornig te maak? 'n Mens wat dié veroordeling mog ontvlug, sal die oplugting tog nooit wil vergeet nie?

3. VERVLOEKING EN SEëNING

Langs die verwerping in toorn en die veroordeling volgens reg staan in die Bybel die ander vreeslike woord: vervloeking. 'n Mens wat God se seën geweier het, ontvang die vloek. Jesus wat sy Vader se seën verlang het, het die vervloeking ontvang. Die volk van God het dié vloek op Hom gelê, toe hulle vir die kruis geëis het.

Hulle het geweet en Jesus het geweet hoe dit in die wetboek van die God van Israël staan. "As in iemand 'n sonde is wat die doodstraf verdien het en hy gedood word en jy hom aan 'n paal ophang, moet jy hom nie dié dag begrawe, want een wat opgehang is, is deur God vervloek" (Dt. 21:22-23). Deur God vervloek, omdat Hy die doodstraf op sekere sondes gestel het. Jesus het die vervloeking gevoel. En opnuut, Hy het geweet dat sy Vader in die hemel dié straf oor Hom toegelaat het, juis dié straf. Jesus het dit in sy volle diepte besef. Dit is hoekom Paulus kan sê: "Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word - want daar is geskrywe: "vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang" (Gal. 3:13). En opnuut: Hy het bewustelik óns kruis gedra. Die vervloeking wat die wet oor verskillende sondes uitspreek, het Hy aanvaar. Oor watter sondes het God in die ou verbond die doodstraf uitgespreek? Oor ontheiliging van die rusdag, misbruik van sy naam, misbruik van mekaar se liggame. Ons sondes, ja.

Die kruis was die Romeinse vorm van ophanging: 'n stadige dood, 'n wrede marteling. Elke spyker maak seer. Die verskriklike ding is dat die volk van God die gehate strafmiddel van die Romeine oorneem en van Pilatus afdwing. Die ergste was nie goed genoeg vir Jesus nie. Paulus het gesien hoe feitelik iets anderste vasgespyker is. Jesus het "die skriftelike aanklag wat teen ons getuig het, uitgedelg en weggeruim deur dit aan die kruis vas te nael" (Col. 2:14). Ons kruis het Hom gedra. Ons vervloeking het Hy self geword. Dit is ook wat ons by die Nagmaal bely het: 'Ja, ons gedenk dat Hy sy geseënde liggaam aan die kruis laat spyker het om die skuldbrief van ons sonde daaraan vas te heg'; en dat Hy so ons vervloeking op Hom gelaai het om ons met sy seën te vervul'.

Daarom is die kruis van Christus vir ons 'n ewig teken. Om te besef hoe Hy die kruis gedra het wat ons sou moes dra, omdat ons dit daagliks verdien. Dié kruis predik, soos Paulus ons in 1 Kor. 2 sê, is genoeg evangelie! Dit is die diepte van God se wysheid. Dit hou 'n mens, 'n gemeente klein. Dit gee 'n mens, 'n gemeente 'n groot en sterk geloof. Dié nederigheid en dié grootheid benodig ons. Daagliks. Ook om vandag jou kruis weer op te neem en agter Hom aan te dra.

Jesus het ons kruis gedra. Sy kruis is nou die teken van lewe. Dié aanneming, die vryspraak, die seëning wil God egter altyd tydens hierdie lewe gee. Daarom sê ons met die Bybel dat ons ou natuur "saam met Hom gekruisig is". Die kwade in ons moes en moet sterwe. Dié betekenis het die kruis ook: ons sondes was op Hom, sodat dit weggeneem kon word. Sien je jouself, wanneer jy na die kruis kyk? Het die Nagmaal jou dankbaarheid en bereidheid gewek: om die Here en sy Evangelie en sy kerk te dien?

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)