Christus ly as die Lam van God vir die sonde van die wereld

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 15
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor Sondag 15 H. K.

Sien die Lam van God

Lees: Jesaja 53
Teks: Sondag 15 H. K.
Sing: Sb. 8: 4 en 5
na wet Ps. 40: 5
na belydenis Sb. 10: 5 en 6
Ps. 69: 3, 4, 6, 11
Sb. 7: 8
Ps. 22: 12

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

In hierdie wereld gebeur daar onvoorstelbare dinge. Mens sou dit amper nie vir moontlik hou nie. Dink net aan dit wat ons geslag hierdie eeu meegemaak het. Twee wereld oorloe, waarin miljoene mense die lewe verloor het. Die verskrikking van nasionaal sosialisme en van kommunisme met konsentrasie en werkkampe. Hoeveel plaaslike oorloe het daar na die tweede wereldoorlog nie gewoed nie? Nog daagliks word ons met onluste in Noord Ierland, die Midde Ooste en ons eie land gekonfronteer. En of dit nog nie genoeg is nie neem die doding van ongebore lewe en mense wat oud en sieklik geword het toe. Terwyl ook die dwelmmisbruik jaarliks meer slagoffers eis.

In watter wereld moet ons kinders opgroei? Is dit vreemd dat jong mense met hierdie probleme worstel en hulle self afvra: Waarvoor leef ek en wat is die doel van my lewe? Dan is daar ook langs die grote geweld nog die ellende op kleinere skaal, soos haat tussen mense onderling, huwlike wat verbrokkel, anargie wat alle gesag verwerp en haat teen owerheidspersone predik. Die samelewing word deur boikotte en stakings ontwrig.

Tog is dit alles nie nuut nie. In sy tyd het die apostel Paulus ook al van daardie dinge ondervind. In enkele woorde het hy dit in Rom. 8: 18 saamgevat, Hy spreek daar oor die lyding wat ons nou moet verduur. Met hierdie "nou" bedoel hy die tyd van Pinkster tot op die dag dat Christus terug kom. Hy noem daar ook die verydeling waaraan die skepping onderworpe is, en sy verslawing aan die verganklikheid. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.

Tog gemeente, is daar in hierdie wereld vol van nood 'n magtig vooruitsig. Dit het Paulus ook gese: Die lyding weeg nie op teen die heerlikheid wat God in die toekoms vir ons sal laat aanbreek nie. Midde in die wereld van verslawing en verganklikheid, het die kruis van Jesus Christus gestaan. Daar het Christus die nood van die wereld op Hom geneem. Dis nou waar sondag 15 ook oor spreek. Die lyding van ons Heiland op Golgota word in wereldverband geset. Sondag 15 se: Christus het die toorn van God teen die sonde van die ganse menslike geslag gedra en weggedra. Hy het ons deur sy lyding as die enigste soenoffer verlos, werklik verlos. Ons belydenis wys in hierdie sondag met sy vinger na die Lam van God wat die sonde van die wereld wegneem. Oor die blye boodskap gaan ons nadink. Ons spreek oor:

CHRISTUS LY AS DIE LAM VAN GOD VIR DIE SONDE VAN DIE WERELD.

  1. Die lyding is: plaasvervangend.
  2. Die lyding is: bevrydend.
  3. Die lyding verlos ons van die vloek van God.

I Het u weleens raakgesien dat die twaalf artikels van die geboorte van ons Heiland direk na sy lyding en sterwe oorspring? Na die derde artikel oor die heilige ontvangenis en geboorte, volg direk in die vierde artikel die lyding en sterwe. Daar word direk van kersfees na goeie vrydag oorgestap. Het die lewe van ons Heiland vir ons geloof dan geen betekenis nie? Kan daar niks van bely word nie? Het die vier Evangeliste sonder noodsaak die lewe van Christus so uitvoerig uitgespel? Kan die geloof daaruit glad geen vrugte pluk nie? Vas en seker wel! Ons moet by die twaalf artikels egter bedink dat alleen hoofpunte van die werk van Christus opgeneem is. Mens sou kan se: van die begin van die lewe van Christus word na die einde van sy lewe gehaas.

Die opsteller van die kategismus het dit nie ontgaan nie. Kyk maar na die antwoord op die sobere vraag: Wat verstaan jy onder die woordjie gely? Dis of gese word: Wat word met hierdie klein woordjie nou eintlik gese? Maar wat 'n skatte vir die geloof is daarin opgesluit. Wat 'n hoogte en diepte le daarin! Dit ontwikkel antwoord 37 heel mooi in twee volsinne. Allereers word ons Heiland sentraal gestel: Christus het vir ons gely, die ganse tyd van sy lewe op die aarde maar veral aan die end van sy lewe. Is dit nie pragtig gese nie? Al doen die twaalf artikels dit nie die kategismus het wel deeglik aandag aan die hele lewe van ons Heiland geskenk. Heel die lewe van Hom word in die lig van sy lyding en verheerliking gesien.

Die antwoord loop paralel met die indrukwekkende sin uit die nagmaals- formulier, naamlik: Hy het die toorn van God, waaronder ons ewig moes versink, van die begin van sy menswording af, tot die einde van sy lewe op aarde vir ons gedra. Ja, dit het al by sy menswording uit die maagd Maria begin. Daar het die lange lydingsweg wat op die kruis uitgeloop het, begin. Sy geboorte geskiedenis spreek reeds van lyding. In Betlehem was daar geen plek in die herberg nie. Daar het begin wat Hy later van homself sou se: "Jakhalse het gate en voels het neste, maar die Seun van die mens het nie eens 'n rusplek vir sy kop nie. "

Ons Heiland wat God uit God en Lig uit Lig was, is in doeke toegedraai en in 'n krip 'n eetbak vir vee, neergele. Vir Herodes moes Hy na Egypte vlug. In sy jeug het Hy sy vader Josef in volmaaakte gehoor- saamheid gedien. Daar is 'n heel oue prent, waarop ons Christus in die timmerwerf van Josef aan die werk sien, terwyl Hy op sy skouer 'n grote gereedskapkis dra. Saam met die kis het sy skaduwee 'n kruis op die muur geteken. Dis maar 'n prent, maar die gedagte daaragter is dat die lyding toe al daar was.

In ons dae word baie oor omgewingsverontreiniging gepraat. Dan word aan rookbesoedeling en water vervuiling gedink. Maar die aller ergste besoedeling is geestelik, ons mense wat met ons skuld en sonde die wereld van God verpes. Tot hierdie besoedelde en vergiftigde wereld het ons Heiland ingegaan. Hy die skuldlose en heilige Seun van God. Hy het die peswalm van ons sonde moet inasem. Voortdurend het Hy oog in oog met die mag van die dood gestaan.

Ja, dit was heel die tyd van sy lewe hier op aarde, sy deel! Met enkele woorde word die hele periode in antwoord 37 oorbrug. Dis die periode wat die twaalf artikels nie noem nie maar in die 4 evangelies uitvoerig vir ons beskrywe word. Die kategismus konsentreer daarna ons aandag op dit wat die Evangelieskrywers oor sy eindstryd lyding en sterwe geskrywe het. Daar het die swaartepunt van sy plaasvervangend lyde gele

Veral aan die end van sy lewe, se antwoord 37. Daarmee word ons aandag op die bitter lyding en sterwe van ons Heiland gevestig. Dis asof teen die einde van die evangelie verhale die storm van die toorn van God steeds hewiger opsteek. Die kruisskadu in die prent van Jesus in die timmerwerf word klipharde werklikheid. Die golwe van die toorn van God gaan met steeds meer krag die Heiland slaan. Skielik het Hy daar midde-in gestaan. Na die rus en vrede van die paassaal het ons Heiland opeens in die worsteling van Getsemane beland. Die een oomblik het Hy nog brood en wyn vir sy dissipels aangereik, die volgende oomblik word die verraad van Judas aangekondig: Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen! Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

Dan meteens is daar die rasende toorn van God. Jesus het Hom van sy dissipels afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi. Dan hoor die dissipels Hom in die nag roep, en sien die sweet wat as bloeddruppels geword het grond toe val. Die aangrypende roep: "Vader as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my nie maar u wil geskied!" Soos 'n wurm is Hy, nie 'n mens nie. Dan is die briek los, dis of die poorte van die hel oopgemaak word. Van Annas na Kajafas, van Kajafas na Pilatus word Hy voortgesleep. Daar staan Hy met 'n doringkroon gekroon. "Kruisig Hom! kruisig Hom!" het die Jode geroep. Dan gaan dit deur die strate van die heilige stad terwyl Jesus die kruis dra waaronder Hy amper beswyk.

Wat verstaan jy onder die woordjie: gely? Dat Christus veral aan die end van sy lewe, die toorn van God gedra het. Is daar iemand wat in daardie diepte van lyding sal kan deurdring? Geen mens sal dit ooit kan peil nie. Die Evangeliste het dit in sobere woorde vir ons weergegee, maar die spanning van Psalm 22 sien ons daarin gloei: "U o God My Vader laat My le asof Ek dood is. " God het op Golgota die lig van die son weggeneem. Iemand het om die verskrikking van lyding in die drie uur duisternis te verduidelik gese: God het daar van God verlate geword. Ons mag partymaal in bepaalde situasies van ons lewe dink dat God ons verlaat het. Nogtans neem God nooit sy Gees geheel van ons weg nie.

Hy Jesus Christus, Hy is totaal, radikaal van God verlate gewees Hy het dit uitgeskreeu na die drie uur duisternis aan die kruis op Golgota: My God, my God, waarom het U My verlaat? Die ganse tyd van sy lewe op aarde, maar veral aan die end van sy lewe, het die vuurwarme asem van die hel oor Hom heen gewoed. Dis maar enkele menslike woorde, maar hulle konfronteer ons met dit wat ons Heiland vir ons, vir u en my gely het. So, bely ons: het Hy die toorn van God gedra. Die toorn van God! Gemeente woorde skiet hier te kort om uit te druk wat daarin vir ons Heiland ingesluit was. Moses het daar al van gesing in die negentigste psalm: Wie ken die sterkte van u toorn en u grimmigheid, ooreenkomstig die vrees wat aan u verskuldig is? Die toorn van God: dit is die heilige God self soos Hy in die heiligheid van sy God wees, opstaan om die skennis van sy heiligheid te wreek.

Ons weet, mense wil teenswoordig nie meer van die toorn van God hoor nie. Die nuwe teologie se God is mos liefde, God ly met die mense in hul lyding saam. Die mede-menslikheid is die religie wat opgang maak en so word God ook gesien. 'n God wat met die mense saamly. Is dit reg? As mense met valsheid, gemeenheid en bedrog in aanraking kom is hulle, ook vandag nog met reg, woedend. Mag 'n mens dan vandag nog toornig word as hom onreg aangedoen word. Hoeveel te meer die heilige God as sy heiligheid geskend word. Dink u dat God Hom nie in toorn sal keer teen al die gruwels wat in sy wereld bedryf word nie? Behoort juis hierdie toorn nie tot sy God wees nie?

Inderdaad is ons God 'n God van liefde. In hoofstuk 4: 16 van sy eerste brief skryf Johannes dit uitdruklik. Hy laat egter ook sien dat die liefde geen vryblywende liefde is nie. Want so vervolg hy: "Wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. " Die liefde van God wil in geloof aangeneem word. In ons lewe moet die liefde hande en voete kry. Anders bly God in sy liefde nie in ons nie. Jaseker God is liefde, maar liefde wat op die hart getrap word, slaan in toorn om. Daarom kan die Skrif se: "God is 'n betroubare regter, 'n God wat altyd die skuldige straf. " Ps. 7: 12 Die liefde van God is geen liewigheid nie, maar 'n sterke goddelike soewereine liefde, waarmee God nie laat speel nie.

Gemeente wat het ons 'n heilige en grote God! Groot in liefde en ook in toorn! Ons mense probeer altyd dinge met ons verstand te deursien. Ons kan ook nie anders as om al die heerlike eienskappe van God langs mekaar te sit nie. Die toorn van God langs die liefde van God. Maar dit moet vir ons vasstaan: God is een! Hy is God in al sy eienskappe tegelyk. So is dit ook met die liefde en toorn van God.

Habakuk bid: "ontferm U selfs in u toorn. "(3: 2) Dis 'n wesenlike omgang met God, deur midde in die toorn van God, Hom tog om ontferming aan te roep. Dawid weet ook daarvan as hy sing: "Waarlik sy toorn duur net 'n oomblik, maar sy goedheid lewenslank. "(Ps. 30: 6) Ook Psalm 103 waar Dawid ook daarmee worstel om die barmhartigheid van God midde-in die toorn van God te laat sien: "Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie. Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. " Na die nagmaal vind hierdie woorde steeds weer weerklank in ons harte. Daarmee gemeente staan ons in die hart van hierdie antwoord 37. Ons bely dat

God vanwee ons sondes Hom teen sy eie liewe Seun gekeer het. Jesus Christus het die toorn van God gedra. Juis daarom dat God liefde is, het Hy sy toorn vanwee ons sondes teen sy eie geliefde Seun laat uitwoed. Wat 'n diepte is in die woorde "het gedra". Jesus Christus het met die toorn vanwee ons sondes, klaar gekom. Hy het die toorn van God oor ons skuld weggedra. Daardie pak van ons skuld het Christus nie laat le nie, maar vir ewig weggedra. Agter daar die woord weggedra mag ons die sesde kruiswoord lees: Dit is volbring! Lees dit teen die agtergrond van Jesaja 53 die hoofstuk oor die man van smarte: "Oor ons oortredings is Hy deurboor, oor ons sondes is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring was op Hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. "

Oorweeg tog hoe die profeet elkeen van ons by die plaasvervangend offer betrek. As hy se: "Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop. " Elkeen? Jaseker elkeen van ons. Maar, vervolg die profeet en hierdie "maar" is goud werd. "Maar die Here het ons almal se sonde op Hom laat afkom". Is daar iemand wat oor hierdie hoofstuk 53 van Jesaja ooit klaar gedink raak? Enorme dieptes van goddelike ontferming word in hierdie evangelie van plaasvervanging geopenbaar. Baie maal het Jesaja die Paaslam sien slag. Hoor nou hoe hy die heilige handeling op die man van lyding, op die dienaar van die Here, die Messias wat kom, toepas: "Soos 'n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos 'n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie. "

Dit laat ons ook dink aan die profetiese uitroep van Johannes die doper: "Daar is die Lam van God wat die sonde van die wereld wegneem!" (Joh. 1: 29) Daarmee het ons midde-in die tweede volsin van antwoord 37 te lande gekom: "sodat Hy met sy lyde as met die enigste soenoffer ons liggaam en ons siel van die ewige verdoemenis kon verlos, en vir ons die genade van God, geregtigheid en die ewige lewe kon verwerf. " Opnuut staan ons ook nou weer in die hart van die evangelie. As die enigste soenoffer. Dis woorde van goud! Daar is maar een Lam van God. Daar is maar een Heiland vir die wereld. Daar is maar Een, wat priester, offer en altaar tegelyk was, Jesus Christus.

Daar is ook geen andere offers moontlik, geen misoffers, geen priesters wat daardie misoffer vir ons opdra nie. Daar is maar een: Die Man van Golgota en vors van Pase. Nadruklik word in antwoord 37 die spits van die evangelie van versoening met die woordjie "sodat" op ons almal gerig. Sodat Hy met sy enig soenoffer ons liggaam en ons siel, ons totale mens, as mense van vlees en bloed, kon verlos. Ons weet: die evangelie van die plaasvervanging, van die enigste soenoffer van ons Heiland, is vir die mense van ons tyd 'n aanstoot. Volgens die nuwe teoloe het die kruis van Christus maar net 'n skok uitwerking wat die mens tot bekering kan lei. Maar dat 'n ander vir ons sondes kan lei, nee dit glo hulle nie. Hoe kan God my skuld aan 'n ander straf?

Hoe God dit kan doen gemeente? Wel omdat van ewigheid af die welbehae van God so was. Hoe dit kan? Omdat God in sy ewige raad hierdie Lam al in sy raad aangewys het, om vir ons sondes te ly. In die verset teen die evangelie van plaasvervanging het die moderne mens hom hooghartig en trots teenoor God gestel. Hier word van u en my kapitulasie vir die liefde van God verwag, want in die geskenk van sy Seun het God vir ons gewys dat ons volkome bankrot is. Daarom roep God ons op om bankrotskap te erken deur in die enige soenoffer al ons vertroue te stel. Daar is geen ander pad om ons skuld te versoen nie.

Nou die allerlaaste in antwoord 37. Ons het reeds daarop gewys dat hier die evangelie van die plaasvervanging in wereldverband gesit word. Dit gaan om die uitdelging van die toorn van God teen die ganse menslike geslag. Uitdelging; wat 'n heerlik radikaal woord gemeente. Die evangelie kan nie ruimer en alles omvattender voorgestel word nie. Die Dordtse Leerreels het dit in statige en tegelyk ontroerende woorde weergegee: "Hierdie dood van die Seun van God is die enigste en volmaakte offer en voldoening vir die sondes; van oneindige krag en waarde oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wereld te versoen. " (Hfs. II art. 3)

Daar is kritiese mense wat spykers op laagwater soek en se: maar dit kan tog nie? God het mos alleen die sondes van die uitverkorenes versoen? Hoe kan die kategismus nou se dat die sondes van die ganse menslike geslag versoen is? Wel die kategismus doen dit om die werk van Christus in wereldverband te sit. Die evangelie mag aan alle mense met bevel van geloof en bekering verkondig word. Niemand, hoe groot sy sondes, en hoe swaar sy skuld ook mag wees, mag daaraan twyfel dat die evangelie ook vir hom is nie. Die enigste voorwaarde is dat hy met berou en in geloof tot hierdie Heiland kom.

In die begin van die preek het ons by verskriklike dinge stilgestaan wat op groot en kleine skaal onder die mense onderling gebeur. Gemeente daar het 'n kruis op Golgota gestaan. Hy wat aan daardie kruis gesterf het, het daar tot versoening van die sondes van die ganse wereld gesterf. Midde-in die verskrikkinge van hierdie wereld klink daar 'n stem: "Laat jou deur hierdie Heiland met God versoen!" Dan gaan ons ook in ons eie lewe aan hierdie evangelie hande en voete gee en in versoening met ons naaste lewe. Die evangelie van die plaasvervanging het wereld vernuwende en wereld verlossende krag. Dit word in wereldverband verkondig, ons mag dit nooit vergeet nie.

II Die volgende vraag in sondag 15 is: Waarom het hy onder die regter Pontius Pilatus gely? Dis vir die tweede maal dat in die belydenis van die kerk uit die ou dae 'n naam van 'n mens genoem word. Die eerste was in artikel 3: Ons Heiland gebore uit die maagd Maria, in artikel 4 kry ons die naam van Pilatus. Maria die vrou staan in ons christelike belydenis as die moeder van ons Heiland wat Hom die lewe geskenk het. Pontius Pilatus is in ons belydenis opgeneem as die man wat Christus na die dood verwys het. In vraag 38 vra die kerk homself nou nadruklik af: Waarom moet die naam genoem word van Hom wat ons Heiland onskuldig ter dood veroordeel het? Waarom word hy by elke erediens waarin die kerk haar geloof bely, by die naam genoem?

Daar kan verskillende gronde vir aangewys word. In die eerste plek het die kerk uit die ou dae daarmee betuig dat die lyding van ons Heiland werklik gebeur het. Die evangelie is geen verhaal wat uitgedink is, nie 'n sprokie nie. Daar is 'n datum, toe; in daardie tyd het dit gebeur. In die dae toe Pontius Pilatus goewerneur van die Keiser van Rome was. Die gebeurtenis is aanwysbaar, want Pilatus was net so goed 'n histo- riese figuur soos Augustus of Julius Ceasar dit was. Bedink ook dat die belydenis in die tyd van die martelare ontstaan het. Die kerk het haar martelare in gedagtenis gehou. Polycarpus, Cyprianus het onder die en daardie goewerneur die marteldood gesterwe. En voor hierdie almal het Jesus Christus self, onder Pontius Pilatus gely.

Daar is nog 'n grond, die wat in antwoord 38 genoem word. Pontius Pilatus was regter in die grote Romeinse ryk. Die Romeine het daarop gestaan dat die regspraak regverdig moes wees! Kyk nou, Pontius Pilatus wat in daardie regverdige regstelsel reggespreek het, het ons Heiland onskuldig ter dood veroordeel. Tot vyf maal toe het Pilatus getuig dat hy geen skuld in daardie man vind nie. Tog het Pilatus Hom uitgelewer om gekruisig te word. Nee Christus het nie in 'n oproer omgekom nie. Hy is nie in 'n uithoek van die wereld gelynch of gestenig nie. Jesus Christus het 'n proses gekry wat in hofbeslissing vasgele is. In daardie proses het Hy onskuldig die doodstraf gekry. Dis maar een moment uit die lydingsweg van ons Heiland, daardie onskuldig ter dood verwys word, maar dit was 'n aller belangrikst moment: Hy was die Lam van God wat heilig en onkuldig na die kruis gegaan het.

Die kategismus sou nie die kategismus wees nie as daar nou geen toepasing op ons geloof sou volg nie. Dit word dan ook heel direk gedoen, naamlik met: "Om ons te bevry van die strenge oordeel van God wat oor ons moes gaan. " In die onskuldig lyde van ons Heiland skuil daar 'n bevrydende krag. Ons hoef vir die oordeel van God nie bang te wees nie. O, wat kan die sonde ons aangryp. Wat kan die skuld lewensgroot voor ons staan. Wie sal nie huiwer nie as hy daaraan dink dat hy eenmaal voor God die heilige Regter moet verskyn?

Hoor nou die evangelie: Om ons van die strenge oordeel van God te bevry! Dwars deur die goddelose regspraak van Pilatus heen, het God ons van skuld vrygespreek. Met sy onskuld het ons Heiland ons skuld vir God bedek. In die oordeel mag ons met die geregtigheid van Christus be- kleed, voor God verskyn. Dink maar aan wat Paulus in Rom. 8: 33 vra: "Wie kan die uitverkorenes van God aankla? " Hierdie apostel van Christus het die diepe huiwer vir die oordeel van God geken! Het hy homself nie die grootste sondaar genoem nie? Hy het mos die gemeente van God vervolg.

En tog: "Wie kan die uitverkorenes van God aankla? " Let dan op die antwoord: "Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. " Het ons nou die vrug van die staan van ons Heiland vir Pontius Pilatus raakgesien gemeente? Voor die regterstoel van God staan ons nie alleen nie. Ons Heiland staan daar vir ons en sal ons van die oordeel van God bevry. Wie kan die uitverkorenes van God aankla?

III So kom ons tot die laaste, die laaste vraag wat sondag 15 aan die orde stel: Het dit besondere betekenis dat Christus gekruisig is en nie op 'n ander manier gesterf het nie? Die antwoord is: Ja, want daardeur is ek seker dat Hy die vervloeking wat op my gerus het op Hom geneem het, aangesien die kruis dood deur God vervloek is. Antwoord 39 sinspeel hier op Gal. 3: 13: Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek vervloek te word. Daar staan naamlik geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan 'n hout opgehang is. Die laaste is 'n verwysing na Deut. 21: 23b: wie opgehang word, is deur God vervloek.

Dit is 'n aangrypend lig wat die kategismus op die kruisdood van Christus laat val. Daarmee word ons na die omgang van God met Israel in die Ou-Testament verplaas. Al eerder het ons opgemerk, dat die Here in die Ou-Testament sigbaar en tasbaar laat sien hoe groot die erns van sy oordeel is. In normale gevalle is in Israel iemand wat die doodstraf verdien deur steniging om die lewe gebring. Dink hier egter aan die ontbrand van die toorn van God teen Israel toe hulle by Sittim met Baal-Peor gehoereer het. God het vir Moses gese: Vat hierdie manne se leiers en hang hulle in die openbaar voor die heiligdom op. Dan sal my toorn nie langer teen Israel woed nie. (Num. 25: 4)

Daar het 'n diep simboliek in die ophang voor die Here gele. Israel het daarmee verklaar: Here ons het hier die goddelose manne dood gemaak. Ons kan nou nie verder U vloek aan hulle voltrek nie, ons skuif hulle na U toe. Ons hang hulle voor U aangesig op, sodat U verder in die ewige gerig met hulle handel. So het Israel ook ons Heiland aan die hout gehang. Israel het Hom in die hande van God gestel, om met Hom in die ewige dood te handel. Christus het Homself laat hang. Hy het in die drie uur diepe duisternis aan die kruis deur die dieptes van die ewige dood heegegaan. Dit is die diepe betekenis van aan die kruis te hang

Opnuut plaas die kategismus, soos in die vorige vraag en antwoord, hierdie moment in die lyde van Christus, die kruisiging van die Seun van God, in die lig van ons situasie, van skuldig en dood wees. Dit word heel persoonlik gedoen So persoonlik, as in hierdie sondag nog nie gespreek is nie. Daar word gese: Daardeur is ek seker dat Hy die vervloeking wat op my gerus het, op Hom geneem het. Nog eenmaal staan die evangelie van die plaasvervanging lewensgroot vir ons aandag. Aan daardie ruwe kruishout, het Jesus die vloek vir my gedra.

Van die kruis word weleens 'n mooi simbool gemaak. Maar die werklikheid van die kruis was gruwelik en tegelyk in al sy gruwelikheid verlossend. In die kruis sal ek vir ewig roem, geen wet sal my dan verdoem nie. Christus het die vloek vir my gedra.

In die wereld gebeur verskriklike dinge, op groot skaal en ook op kleiner skaal. Daar het egter geen verskrikliker ding in die wereld gebeur nie, as dat Jesus Christus aan die kruis gehang is. En tog, alleen daarom kon die apostel skrywe: dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God in die toekoms vir ons sal laat aanbreek nie. Deur daardie kruis is ek van dood en sonde vry!

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)