Ons Priester-koning het Homself vir Sy offer gereed gemaak uit die vlees en die bloed van die maagd Maria

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 14
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 14 H.K.

LITURGIE:

L. Lev. 22: 17-25 & Lev. 21: 17-23 & Hebr. 7: 26-28
Ps. 40: 3, 4
Ps. 40: 6
Ps. 22: 4
Ps. 89: 2, 8, 14
Ps. 110: 5, 3
Ps. 89: 7

Broeders en susters,

Ons aandag word vanmôre gevra vir een van die moeilikste onderdele van ons geloofsbelydenis: naamlik dat God mens geword het. Die ewige Seun van God, wat ware en ewige God is en bly, het ook die ware menslike natuur, ons vlees en bloed aangeneem.

Daar het in Maria se arms 'n Kind gelê wat terselfdertyd God en mens was. God se Seun het gebly wie Hy was: God. En tegelyk het Hy geword wat Hy nie was nie: mens. Die Ewige het in die tyd gekom. Die Allerhoogste het die gedaante van 'n dienskneg aangeneem. Die Almagtige het 'n hulpelose kind geword.

Jesus van Nasaret was God en mens in een Persoon.

Watter mens kan dit met sy verstand deurgrond?

Hierdie geloofsbelydenis van die kerk is dan ook in die kerkgeskiedenis aanhoudend aangeval. Daar was telkens nuwe pogings om die geloof in so'n Jesus te ondermyn, en die kerk moes telkens opnuut daarteen walgooi.

In die katkisasieklas bespreek ons by Sondag 14 H.K. meestal een momentopname uit dié eeuelange stryd, uit die vroeë kerkgeskiedenis: die stryd wat in die Konsilie van Chalcedon in 451 'n voorlopige einde gevind het.

In daardie stryd moes die kerk aan die een kant walgooi teen die dwaling van Eutyches wat geleer het dat die God-wees en die mens- wees by Jesus heeltemal in mekaar oorgeloop het, sodat daar feitlik 'n nuwe Wese ontstaan het: nie meer ten volle mens nie, en ook nie meer ten volle God nie. Soos water en wyn, as mens dit bymekaar gooi, heeltemal vermeng, so het volgens Eutyches die twee nature by Christus ook vermeng.

Die Konsilie van Chalcedon het daarteenoor uitgespreek dat dit nie reg is nie, maar dat die 2 nature van Christus "on-vermengd en on-veranderd" gebly het. Hy het heeltemal God gebly, en Hy het terselfdertyd heeltemal mens geword.

Aan die ander kant was daar die dwaalleer van Nestorius, wat presies die teenoorgestelde as Eutyches geleer het. Hy het geglo dat God-wees en mens-wees soseer twee uiterstes is, dat dit nooit mooi by mekaar kan pas nie. Soos water en olie mekaar bly afstoot, so moet ook die twee nature van Christus mekaar wel afstoot, aldus Nestorius.

Maar die Konsilie van Chalcedon het sy siening ewemin kon aanvaar. Hulle het teenoor hom uitgespreek dat die 2 nature van Christus tog ook "on-gedeeld en on-geskei" is.

Weet u wat nou so opvallend is in daardie uitsprake van daardie Konsilie, gemeente? Teenoor die dwaling is uitgespreek dat dit só nie is nie: "on-vermeng en on-veranderd, on-gedeeld en on- geskei". Maar daardie Kerkvergadering het ook nie verder gegaan as om uit te spreek hoedat dit nie is nie: "on-, on-... ". Die Konsilie sê nie terselfdertyd hoedat dit wél is nie. Want watter mens met sy beperkte menseverstand kán dit sê?? Dit bly vir ons almal 'n wonder, 'n groot verborgenheid. God Self neem die vlees en bloed van 'n mens aan- dit gaan enige menseverstand te bowe!

Maar as dit so is, broeders en susters, is dit dan wel sinvol om daaroor te preek vanoggend? Kan ek dan wel een sinryk woord sê in hierdie preek?

Ja, tog wel.

Want al weet ons ook nie hoe dat die God-wees en die mens-wees in Christus saamgaan vandat Hy in Maria se skoot ontvang is nie, ons moet wel weet dat daardie twee van daardie oomblik af saamgegaan het, en waarom dit so moes.

Want dit gaan in Sondag 14 H.K. nie oor 'n onbegryplike "leerstuk" nie. Dit gaan hier oor u en my Verlósser! Ons Middelaar wat vandag as God en mens altwee ons sonde waarin ons ontvange en gebore is, voor God bedek.

Hoé is hierdie Middelaar? Hoe het Hy na ons toe gekom om ons te kan verlos. Hoe moes Hy wees om Homself te kan offer vir ons skuld?

Dít mag ek vanmôre aan u verkondig.

Ek het my boodskap soos volg saamgevat:

ONS PRIESTER-KONING HET HOMSELF VIR SY OFFER GEREED GEMAAK UIT DIE VLEES EN DIE BLOED VAN DIE MAAGD MARIA.

En ek wil dit uitwerk in twee punte:

  1. 1. DEUR DIE GEBOORTE UIT DIE MAAGD HET HY ONS VOLMAAKTE PRIESTER GEWORD;
  2. 2. DEUR DIE GEBOORTE UIT MARIA HET HY ONS EWIGE KONING GEWORD.

1. "Toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit 'n vrou, gebore onder die wet". Met dié woorde vat die apostel Paulus de wonder van die Kersfees saam in sy brief aan die Galasiërs.

Toe God geoordeel het dat die tyd daarvoor gekom het, het Hy sy eniggebore Seun, saam met Hom ware en ewige God, na die aarde gestuur.

Om onder die wet gebore te word.

Om Homself te onderwerp aan die wet waaraan vanaf die Paradys alle mense onderwerp is: die eis van totale liefde en gehoorsaamheid aan God. Om in die plek van die mense aan daardie eis te voldoen. Om die straf op hulle oortreding van die wet, ja, om die vloek van die wet te ondergaan.

God se Seun het aarde toe gekom om Homself na die eis van die wet totaal in liefde aan God te offer.

Maar daarvoor moes Hy ook uit 'n vrou gebore word. Om mens soos alle mense te word. Want die méns het gesondig, God se wet oortree, die liefde van sy hart aan God geweier. 'n Méns moes daarom na die eis van God se wet die vloek van die wet dra en 'n nuwe gehoorsaamheid aan God se wet bewys.

Dus is God se Seun gebore uit 'n vrou. Soos alle mense. Hy het daar begin waar ons almal begin het: by die allerprilste begin in die moederskoot. Hy is Maria se liggaam omgedra en na 9 maande deur die weë daaruit gepers. Hy het soos alle babas aan die bors gedrink, sy eerste woordjies gebrabbel, in die werkplek van sy pa rondgekruip, die eerste wankele stappies gedoen. So was Hy kind onder die kinders, mens onder die mense. Geen vreemdeling nie, geen sonderling, maar presies soos alle ander mense.

So het Hy Homself op sy offer vir ons sondes voorberei.

Maar daar was een besondere ding by sy ontvangenis en geboorte. Een verskil met alle ander mensekinders.

Sy ma was ook nadat Hy in haar skoot begin groei het en na sy geboorte, nog altyd maagd. Daar was geen geslagsverkeer met enige man nie. Geen saad van 'n man het hierdie Kind in haar skoot verwek nie. Ook geen kunsmatige inseminasie, geen reageerbuis- baba nie. Nee, geen mens het daaraan te pas gekom nie. Die Heilige Gees het oor haar gekom en die krag van die Allerhoogste het haar oorskadu. God Self het hierdie Kind in Maria se skoot laat groei.

Waarom moes dit so, gemeente?

Kom ons probeer dit verstaan vanuit die Ou-Testamentiese Wette wat ons in dié diens gelees het.

Totaan Christus se koms in die wêreld moes God se volk dwarsdeur diere offer in die heiligdom. 'n Aanhoudende stroom van dierebloed het die tempel rooi gekleur.

Daardie diereoffers was maar surrogaat. Want feitlik moes God se kinders hullesélf op die altaar lê voor die HERE en hulleself aan Hom offer. Soos ons gesing het uit Psalm 40: "Geen gawe of offerande (van diere), gebring deur mensehande, was ooit u wil of eis. Ek bied U hart en hande, in will'ge offerande, al wat ek is en het".

Daardie diereoffers was maar net 'n herinnering daaraan dat die HERE eintlik die offer van sy volk self begeer.

Daarom kon hulle ook nie sommer enige dier offer nie. Die HERE het die allerbeste geëis: diere sonder enige gebrek. Blinde diere, diere met gebreekte bene, met 'n liggaamsdeel wat te lank of te kort is, met swere of uitslag was vir God onaanvaarbaar.

Maar nie net die offerdiére moes volmaak wees nie. Die HERE het ook aan die priéster wat die offer vir die volk moes bring, die hoogste eise gestel.

Daar is 'n opvallende ooreenkoms wat dit betref tussen die vereistes vir die offerdier en die offerpriester. Daar is vir God mos 'n noue band tussen offeraar en offerdier: feitlik moes die offeraar homself offer.

Eintlik moes die hele volk uit priesters bestaan. Almal is deur God gekies om 'n heilige priesterskap te wees. Maar omdat die eise wat Hy aan 'n priester stel so hoog is, sou dit in die praktyk van 'n sondige samelewing nie gewerk het nie, en daarom het God net een stam vir die priesterdiens afgesonder. Levi se stam. Maar aan hulle is toe ook baie streng eise gestel. Want selfs nie elkeen van die Leviete kon priester wees nie. 'n Priester moes in elk geval al geen liggaamsgebrek hê nie. Ons het dit gelees: "'n blinde of 'n lamme of een wat in die gesig vermink is, of iemand by wie 'n liggaamsdeel te lank is, wat 'n boggel het of 'n vlek in sy oog...... so iemand mag nie nader kom om op die altaar van die HERE te offer nie".

Het die HERE 'n afkeer van getremdes, broeders en susters? Minag Hy mense wat een of ander liggaamsgebrek het? Diskrimineer die HERE?

Nee, maar in elke liggaamsgebrek lê daar vir God 'n herinnering aan die sonde. In die paradys was daar geen gebreke nie. Dit het eers na die sondeval, en deur die sondeval gekom. En dus het die HERE deur sy hoë eise aan die offerdiens onder die Ou Verbond laat voel dat Hy die situasie van die paradys terug begeer. Die tyd toe 'n volmaakte mens homself volkome aan sy God geoffer het.

Die HERE het tegelyk laat voel dat al daardie diereoffers eintlik almal onvolmaak en dus onvoldoende gebly het.

Want daar mag miskien nog volmaakte diere wees. Al het die mense ook daarna wel telkens weer sorgvuldig moet soek.

Maar daar bestaan definitief geen volmaakte mense nie! Elke gek het sy gebrek. En die grootste gebrek sit nie aan die buitekant nie, maar aan die binnekant. Dis die "onreinheid van ons siel" soos die Doopsformulier dit vanmôre nog weer genoem het. Ons het almal 'n hartgebrek. Ons hart is nie meer brandende van liefde vir God nie. Ons is dus as offeraar en offer beslis onaanvaarbaar vir God.

En so het die offerdiens met sy hoë eise dus geroep om 'n beter offer, om 'n volmaakte offeraar. Om 'n priester wat sonder enige gebrek, sonder die vreeslike gebrek van 'n sondige hart, homself aan God sou offer. Ja, wat as priester homself vir almal sou buig onder die eis van God se wet en ook die straf vir die oortreding van daardie wet sou dra.

Maar so'n priester was op die aarde nie en nooit vindbaar nie, broeders en susters! So'n priester kon daar ook nooit kom nie. 'n Volmaakte mens- dit het sedert die sondeval mos 'n onmoontlikheid geword. Die mooiste vermoë van die mens: dat hy nuwe mense kan verwek, ontvang en ter wêreld bring, het diensbaar aan die sonde geword. Elke nuwe baba word in sonde verwek, ontvang en gebore. Dit is 'n nuwe skakeltjie in 'n onafsienbare reeks van sondige mense. Dit is al voor sy geboorte 'n kind wat God se toorn oproep, soos die Doopsformulier ons so pas nog herinner het.

Maar daarom het God self kom ingryp, gemeente. Hy het dit wat by die mense onmoontlik was, moontlik gemaak. God het die ketting van die sonde in ons menselewe deurbreek. God die Seun het die ketting oopgebreek en eiehandig Homself as 'n skakel ingevoeg- sonder sonde. Maria se Kind is nie "deur die wil van 'n man" nie, maar deur die wil van daardie Kind self verwek. Niemand van ons hier het sy eie ma gekies en sy eie geboorte gereël nie. Ons wás daar eenvoudig nie voor ons ontvangenis en geboorte nie. Christus wél! Hy, wat alreeds die ewige Seun van God in die hemel was, het aarde toe gekom en, soos die Kategismus dit sê, die menslike natuur uit Maria se vlees en bloed "aangeneem".

Die Heilige God het soewerein op Maria se liggaam -nog maagd- beslag gelê en het haar moeder van 'n Mens sonder sonde laat word.

So het God die Seun Homself vir sy offer gereedgemaak.

Hy is gebore uit 'n vrou, om Priester te kan word. Maar Hy is gebore uit 'n maagd, om die volmaakte Priester te kan word wat Homself in die plek van ons almal aan sy Vader kon offer. So'n hoëpriester was vir ons gepas, gemeente, so'n Priester het ons nodig gehad: een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, alhoewel Hy verder in alles aan sy broeders gelyk is.

Sy offer op Golgotha alleen was vir die HERE heeltemal aanneemlik. En van so'n groot krag en waarde dat dit oorvloedig genoeg was om die sondes van die hele wêreld te versoen.

Vandag verrig hierdie Priester vir ons almal die versoeningsdiens by God in die hemelse heiligdom. Daar staan 'n Mens voor die Vader, 'n mens net soos ons almal, met ons vlees en bloed; en met 'n beroep op sy volmaakte offer bedek Hy al ons skuld.

Van Hom ontvang die HERE nou die totale liefde en gehoorsaamheid wat Hy alreeds vaaf die paradys gesoek het.

Vader Seun en Heilige Gees het 'n unieke verlossingsplan uitgewerk: in God die Seun het eers al God se liefde na ons toe gekom. En deur God die Seun kry God nou al ons liefde terug!

2. Christus se moeder was dus nie sommer 'n vrou nie. Sy was maagd en het ook tydens haar swangerskap maagd gebly. Maar sy was ook nie sommer 'n maagd nie. God die Seun het sy ma sorgvuldig gekies. Sy moes maagd wees. Maar sy moes ook tot die huis van Dawid behoort. En daarom het Hy Maria gekies, wat aan Josef, 'n afstammeling van Dawid, verloof was.

Terloops: ons laat nou maar buite beskouing of Maria self ook 'n afstammeling van Dawid was. Die uitleggers verskil daaroor.

In elk geval het sy deur haar verloof wees aan Josef vir die wet tot die huis van Dawid behoort. En ook haar Kind.

Waarom het die Seun van God Dáwid se huis tot sy huis gemaak? Waarom wou Hy juis as sy nakomeling gebore word?

Omdat, broeders en susters, ons Verlosser nie net Priester vir ons wou word nie, maar ook Koning.

As Priester kon Hy naamlik ons sondes wel versoen. Maar ook daarna sou ons die sonde nog bly doen. Daar sou by ons niks verander nie. Ons sou nog altyd in die sonde bly lê.

Daarom wou God se Seun ook ons Koning word. Ons Priester-Koning wat die sonde nie net versoén nie, maar vervolgens ook bestry. En wat ons lewe weer aan die HERE wy.

Dis dié dat Christus bewus aansluiting gesoek het by koning Dawid. Want Dawid was in die geskiedenis van God se volk die beste voorbeeld van so'n koning. Hy het self gewandel in die weë van die HERE. En hy het sy volk voorgegaan en saamgeneem in daardie weë van die HERE. Hy het sy volk die wette van God weer op die hart gebind. En daarom was Hy 'n man na God se hart.

Daarom het die HERE sy huis aangewys as die koningshuis waardeur Hy vir ewig sy volk sou regeer.

Maar dan moes daar wel 'n Koning kom wat selfs nog beter as Dawid was. Want ook Dawid was nie volmaak nie en het meer as een keer in sonde geval. Dawid was nie sterk genoeg om die duiwel en sy ryk vir goed te oorwin nie.

En toe het God die Seun Homself uit Maria tot seun van Dawid en opvolger van Dawid gemaak. Om as Priester-koning eers al die sonde van God se volk (ook van sy voorvader Dawid) te versoen. En om vervolgens vir sy volk die sonde te bestry en uit te roei. Om, so bely ons dit in Sondag 12: "as ons ewige Koning ons met sy Woord en Gees te regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, te beskerm en te bewaar".

In Hom het God se volk nou 'n Koning wat, net soos Dawid, nee: baie beter nog as Dawid, met ons kan meevoel. Wat ons stryd teen die sonde baie goed ken. En ons swakheid daarin. Wat weet dat ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons eie sondige begeertes nie ophou op ons aan te veg nie. Hy weet daarvan want Hy het mos ook as mens op die aarde geleef. Hy weet wat dit is om vlees en bloed te wees. Hy het in alles aan sy broeders gelyk geword. Hy ken heel ons lewensweg van wieg tot graf. Hy is in alle opsigte versoek net soos ons. Hy weet hoe dit is om die verleidelike invloed van die duiwel te ondergaan, om deur honger en dors, of deur aanhoudende pyn, deur vreeslike angs swak te word en amper in te gee. Daar is in ons lewe geen moeite, eensaamheid, verdriet en stryd waarvan Hy nie weet nie.

Maar Hy het in dit alles staande gebly. Hy het die duiwel en die wêreld oorwin. En sy eie vlees.....? Nee, dit was vir Hom nie nodig om sy eie vlees te oorwin nie. Want daarin het Hy uit die staanspoor met ons almal verskil. Sonder sonde, sonder daardie hartgebrek waarmee ons almal behep is, het Hy in die wêreld gekom.

Geen sondige gees het ooit sy gedagtes beheers nie, maar die Heilige Gees het Hom gedrywe.

En van dat Hy sy offer vir ons sondes gebring en vervolgens terug hemel toe gegaan het, regeer Hy as ons Koning ons nou vir ewig met sy Heilige Gees. Sodat ons saam met Hom teen die sonde en die duiwel kan stry en oorwin. Sodat ook ons lewe toenemend weer 'n dankoffer vir God word. Sodat dus in ons lewe die paradys weer in sig kom!

Broeders en susters, daar word nog altyd gevaarlike aanvalle op hierdie onderdeel van ons geloofsbelydenis onderneem. Met die uitsprake van die Konsilie van Chalcedon was regtig nie die einde van die stryd bereik nie.

Maar verstaan u nou dat dit van lewensbelang is dat ons ons hierdie belydenis van Sondag 14 H.K. nie laat afneem nie?

Want dan laat ons ons onse Middelaar en Verlosser afneem. Ons Priester-koning. En dan laat ons ons die léwe afneem!

AMEN.

(Pretoria 21 Januarie 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)