God se Seun het ons Koning geword uit die maagd Maria

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 14
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 14 H.K.

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 89: 1, 2
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps. 89: 7
Gebed
Nagmaalsformulier
SB.24: 1, 2 terwyl die tafel klaargemaak word
Danksegging uit die Formulier
SB.24: 3 as die tafel afgesluit word
Dankgebed
Kollekte
SB. 2: 1, 2
(L.) Jerem. 30: 1-22
(T.) Sondag 14 H.K.
Prediking
Ps. 72: 1, 7
Dankgebed
Ps. 18: 20
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Sondag 14 vra ons aandag vir die groot misterie dat God mens geword het. Die ewige Seun van God, wat ware en ewige God is en bly, het ons menslike natuur aangeneem. Ons vlees en bloed. So werklik dat Hy sy liggaam vir ons in die dood kon oorgee en en sy bloed vir ons kon vergiet tot 'n volkome versoening van al ons sondes.

Wie kan daar met sy verstand by?

Ons het 'n ewige lewe nodig om hierdie geheimenis agter te kom en te aanbid.

'n Meisie het swanger geraak sonder enige aandeel van 'n man. Geen kunsmatige inseminasie, geen reageerbuis-baba nie. Nee, mens het daaraan te pas gekom nie.

Wie het dit ooit gehoor? !

En die Kind wat sy vervolgens gedra en ter wëreld gebring het, was niemand minder as die ewige Seun van God nie- watter mens kan hom dit indink?

Maar so het dit gebeur: daar het 'n Kind in Maria se arms gelê wat terselfdertyd God en mens was. God se Seun het gebly wie Hy was: God. En terselfdertyd het Hy geword wat Hy nie was nie: mens. Die Ewige het in die tyd gekom

Die Allerhoogste het die gedaante van 'n kneg aangeneem. Die Almagtige het 'n hulpelose kind geword.

Onbegryplik. God het weë gevind om dit wat onmoontlik is, tog moontlik te maak. Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.

Miskien is hierdie wonder van die ontvangenis en geboorte van ons Heiland uit 'n maagd so onbegryplik en wonderlik vir u, broeders en susters, dat dit vir u gevoel ver van u gewone, daelikse lewe, met al sy beslommeringe en sorge af staan. Ons ken Sondag 14 as 'n "leerstuk", die dogma van die heilige ontvangenis en geboorte. Ons weet dat baie mense as gevolg van die moderne toelogie nie meer aan hier die dogma glo nie en daarmee die spot drywe. Ons hou vol dat dit so gebeur het.

Maar nogtans............ bly hierdie leerstuk nie maar ver bo ons alledaagse lewe swewe nie?

Maar die HERE het juis diè gewone lewe op die oog gehad, toe Hy hierdie wonder werklikheid laat word het. Toe God die weg gesoek het om uit 'n maagd mens te word, het Hy juis vir u en my in hierdie gebroke lewe van elke dag waarin daar deur die sonde so ontsaglik veel verniel word, gesoek.

God het homself in ons menselewe, daardie ontluisterde lewe van vlees en bloed, baan gebreek om ons daarin te soek.

Om ons daarin te verlos.

Dit mag ek vir u vanaand verkondig.

Ek vat die boodskap soos volg saam:

GOD SE SEUN HET ONS KONING GEWORD UIT DIE MAAGD MARIA

  1. UIT MARIA HET HY ONS BROEDER-KONING GEWORD
  2. UIT 'N MAAGD HET HY ONS PRIESTER-KONING GEWORD

1. Wanneer die Kategismus in Sondag 14 die menswording van Christus uit die vlees en die bloed van die maagd Maria vir ons omskryf, gemeente, word nadruklik aangewys: God se Seun het as Dawid se Seun in die wêreld wou in kom. God het mens geword uit Maria: "sodat Hy ook die ware nakomeling van Dawid sou wees".

Daarom het die Seun van God nie sommer 'n meisie as moeder gekies nie. Hy wou in Dawid se huis en geslag gebore word en as Dawid se seun deur die lewe gaan.

Maar hoekom het die ewige Seun van God so nadruklik by hierdie naam aansluiting gesoek, toe sy tyd om 'n mens onder die mense te word, gekom het? Waarom wou Hy beslis Dawid se naam aan sy naam verbind?

U sal dit gaan begryp, broeders en susters, as u weet dat die naam Dawid het 'n veelbelowende klank vir God se volk van die Ou Verbond gehad het. Dawid was die enigste koning gewees wat God se volk regtig bo die sonde en narigheid uit getel het. Hy was die eerste, maar ook die enigste koning wat volkome rus van die vyande rondom gebring het. En eensgesinde vrede in Israël self.

Hy het die volk van die HERE omhoog gevoer na 'n top.

Hierdie top het onder Dawid se seun Salomo weliswaar sy hoogste punt bereik, maar deur dieselfde Salomo het dit ook meteen weer begin afbrokkel. En toe het die ellende begin: Geen koning was naderhand soseer die man na God se hart as Dawid nie. U weet, hulle almal word in die boeke van die konings aan Dawid gemeet, maar vrywel niemand haal meer sy nivo.

Sòn koning sou God se volk eendag opnuut kry!

Die HERE het dit vir sy volk in die vooruitsig gestel toe die heimwee na Dawid se dae sterk geword het. God sou sy trou aan Dawid se huis nie verbreek nie. Eendag sou daar opnuut 'n seun van Dawid, met 'n hart soos Dawid, die troon bestyg en dan definitief God se volk van alle ellende verlos.

Ons het vanmôre 'n hele aantal Skrifgedeeltes met so'n belofte oor 'n nuwe Dawid gelees. En ook in die Skrifgedeelte wat in hierdie diens gelees is, Jerem. 30, kon u hierdie belofte van God hoor. Die HERE praat in vs. 9 oor: "hulle koning Dawid wat Ek vir hulle sal verwek".

U het dalk uit die res van hierdie hoofstuk uit Jeremia se profesië wel opgemaak, hoe veelbelowend die naam Dawid hier klink.

Immers, God se volk het vir 'n puinhoop gesorg. Hulle het van die verbond met die HERE, van hul diens vir die HERE 'n puinhoop gemaak. En daarom het God daarvoor gesorg dat dit ook letterlik 'n puinhoop geword het: die stad Jerusalem, die tempel, ja, die hele lewe.

En dan beloof die HERE tog nog: Ek sal met julle nie vir altyd afreken nie. Nee, Ek sal die lot van My volk verander. Ek sal die lewe van die ellende verlos, sodat hulle My, die HERE, hul God, weer sal dien en Dawid, hulle koning wat Ek vir hulle sal verwek.

God gaan sorg vir 'n nuwe Dawid. En daardie Dawid sal op die puinhoop van die Jerusalem hier op aarde begin bou aan die nuwe Jerusalem waarin die lewe weer 'n fees sal word.

Hierdie Dawid wou God se Seun wees!

Dis hoekom Hy vir Homself 'n weg na die wêreld gesoek het in Dawid se huis en geslag. Dis hoekom Maria sy moeder moes wees.

Maar uit Jerem. 30 word vir ons ook duidelik, gemeente, dat die nuwe koning op Dawid se troon vir God ook 'n ègte seun van Dawid moes wees. In alle opsigte. Uitgesonderd die sonde.

Israel se Verlosser moes 'n man uit die volk wees, mens onder die mense, een wat die sondes en sorge van die volk van naby ken en meemaak.

Het dit Dawid nie getipeer nie? In alles aan sy broers gelyk. 'n Gewone seun wat die gewone lewe geken het en nie verag het nie. Wat het hy homself een gevoel met sy manne met wie hy 'n lank tyd rondgeswerf het toe hulle vir Saul moes vlug. Hoe het hy later ook 'n hart en 'n begrip vir sy volk gehad. Hy het 'n oog en 'n oor gehad vir die gewone lewe waar die stryd van God se kinders uitgestry word. Omdat hy self daar midde-in gestaan het. En hy het oormoedig sy kop gebuig onder die straf van God oor die sonde.

So sou ook die nuwe Dawid vir God moet wees.

Ons het in Jerem. 30: 21 gelees die nuwe vors sou uit die midde van die volk voortkom en vorentoe kom. En dit wil in die verband van hierdie hele hoofstuk sê: Hy moet homself uit die puinhoop omhoog werk. Die verlosser word geen afstandelike buitestaander nie, maar een wat midde-in die gemeenskaplike ellende sy werk moet begin. Om tot die bou van die nuwe Jerusalem te kom, moet hy mede sy skouers onder die opgestapelde puin sit. Hy moet dus die skuld van die volk heeltemal saamdra. Homself onder die slaande hand van God verneder.

En dan sê ek weereens: diè Dawid wou Christus wees!

Toe daar van Dawid se geslag niks meer te wagte was nie en die puin hom maar net al hoe hoër opgestapel het, het God se Seun gesê: Ek sal Dawid se seun word om die puin te gaan ruim.

Hy was daar al voordat Hy verwek is. Van ewigheid af. Hierdie Kind was daar voor sy ma. Hierdie Kind het self sy ma gekies. Hy is nie "in die wêreld ingeskop" nie, soos jy vandag soms mense oor 'n baba hoor praat. Hy het uit eie vrye wil gekom.

Hy het die mag en die reg gehad om in goddelike, bliksemende krag in die wêreld in te kom om vir God vir altyd sake reg te ruk. Maar dit sou ons ewige ondergang geword het. Daarom het Hy vir daardie ander, wonderlike weg wat die verstand te bowe gaan, gekies dat Hy sy goddelike glorie laat skuilgaan het en die menslike gedaante van 'n dienskneg aangeneem het.

Hy, die ewig hoë God, het Homself diep verneder en 'n klein mensekinf uit 'n gewone moeder geword. In alles aan sy broers gelyk.

Nee, nie sy menswording as sodanig was 'n vernedering nie. Ons Koning is mos vandag nog altyd mens, maar sonder enige vernedering. Maar Hy het in òns menselewe ingekom. Die lewe waaroor die vloek van die sonde lê. Want Hy wou diè lewe verlos.

Dis hoekom Hy vir Hom 'n gewone ma uit die mense gekies het, uit die huis van Dawid, 'n meisie wat in haar eie lewe gewys het hoe diep Dawid se huis geval het.

Om ons Verlosser-koning te kan word, kon Hy nie ver bo ons gebroke lewe verhewe bly nie. Hy moes ons daarin agterop kom en dit volledig met ons deel. Alhoewel Hy van bo gekom het, het Hy nogtans 'n weg gesoek om heeltemal van onder af op te kom.

Hy is nie in 'n paleis in Jerusalem gebore nie, maar in 'n stal in Betlehem. Hy het daar begin waar ons almal begin het: by die allerprilste begin in die moederskoot. Hy is Maria se liggaam omgedra en na 9 maande deur die weë daaruit gepers. Hy het soos alle babas aan die bors gedrink, sy eerste woordjies gebrabbel, in die werkplek van sy pa rondgekruip, die eerste wankele stappies gedoen. So was Hy kind onder die kinders, mens onder die mense. Geen vreemdeling nie, geen sonderling, maar presies soos alle ander mense. Hy het, soos ons almal, opgegroei in 'n samelewing waarin so heel veel ellende vlak voor sy oë openbaar geword het: sonde en siekte, kwale en verdriet, stryd en rusie, ongehoorsaamheid aan die HERE en kleingeloof, eensaamheid en die stille worsteling van die hart.

So woù Hy dit ook: daar midde-in lewe en dit alles saamvoel, saam ondergaan.

Hy moes tog in alles aan sy broers gelyk wees. Hy moes op dieselfde manier soos wy 'n mens van vlees en bloed wees. Uit eie ervaring weet wat dit beteken. Vlees en bloed- met die mooie kante daarvan dat jy bloedverwante het, broers en sussies met wie jy lief en leed deel, kennisse en vriende; dat jy jouself met ander mense verbonde voel, simpatie, vreugde, warmte en liefde ken. Maar ook met die keersyden daarvan in hierdie gebroke wêreld waarin daar soveel kapot gaan: hulle van wie jy so sielsveel hou, word jou deur die dood ontneem, daar groei onenigheid enverwydering onder mekaar, jou eie familie of vriende staan in jou pad as ly die HERE gehoorsaam wil wees. Temidde van baie luiddrugtige mense kan jy jouself nogtans baie eensaam en alleen voel.

Wie van ons sou nie weet wat dit beteken om vlees en bloed te wees nie?

God se Seun wou dit ook weet, om 'n egte broeder-Koning te kan wees. So wou Hy langs ons kom en loop: bereikbaar en aanspreekbaar vir elkeen. As een van ons. Hy wou 'n oog hê vir die mense met al hulle groot en klene sorge, hul siektes en aftakeling, hul hoogmoed en kleingeloof.

En die oog van die mense is deur Hom nie verblind nie.

Mens moes in Hom tog die groot seun van Dawid oor wie die profete geprofeteer het en oor wie Psalm 72 gesing het, gaan herken? Die broeder-Koning: "Hy sal die behoeftige help wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal Hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë".

Daar is mense wat Hom so ook herken het, broeders en susters, toe Hy sy gang deur ons lewe op aarde gegaan het. Die blinde Bartimeüs, 'n Kananese vrou- hulle het 'n beroep op Hom gedoen deur te roep: " Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid".

So mag ook ons Hom nou ken, en Hom altyd weer om hulp roep, elke dag. As God-uit-die-hoë, wat as 'n broeder-Koning in ons aardse bestaan neergekom het en nou in alle dine met ons kan saamvoel. Want Hy het in alles aan ons gelyk geword. Vlees en bloed soos ons. Daar is geen ding so klein, of ons kan daarmee na Hom toe gaan. Hy voel homself bo geen een van ons verhewe nie. Niemand hier in die kerk is vir Hom te gering nie.

Staan die misterie van die menswordinmg van God se Seun ver van u af, gemeente? Maar God het daardeur mos baie naby u gekom! God het in u alledaagse bestaan binne gebreek as 'n mens onder die mense. Omdat daardie lewe hom ter harte gaan. Omdat Hy dit vir Hom wil red.

Dawid se groot Seun dra dit op sy hart. Hy ken ons menselewe van begin tot end, van wieg tot graf, aangesien Hy dit self heeltemal geleef het. Hy ken die verdriet van die kinders. Hy weet van die spannings van die opgroeiende jeug. Hy ken die probleme van vaders vir wie die take dreig om te veel te word. Hy het begrip vir die getob van moeders met 'n besige gesin. Hy weet wat dit beteken om alleen te bly, eensaam te wees, siek te wees en aan 'n graf te moet staan. Dit alles is vir Hom nie vreemd nie. Ja, daar is niks in ons lewe wat hy nie ken nie. Hy weet alles daarvan. En Hy het hom nie met met afsku van daardie lewe afgewend nie. Maar Hy het dit vol ontferming na Hom toe gehaal. Om dit saam met ons te deel. Om dit vir ons te heel.

2. Want nou moet ons nog wel iets meer van die koms van God se Seun as ons Koning deur die maagd Maria sê.

Ons sê naamlik te min as ons maar net sê dat Hy gekom het om saam met ons te ly. Hy het ook gekom om voor ons uit te stry.

God het aan sy volk 'n Seun van Dawid beloof wat meer as Dawid, Dawid se Heer sou wees. Hy sou nie net die sorge van God se volk saamdra nie, maar ook die sondes van die volk wegdra. Die nuwe Dawidseun sou op die beslissende punt ver bo sy vader uit styg.

Soos die HERE dit al vir Dawid laat weet het, blykens Psalm 110. Dawid kon alleen koning wees. Nie terselfdertyd ook priester nie. Daar was in sy dae steeds 'n gebroke amptelike krag, geen gekonsentreerde amptelike krag.

Maar die HERE het vir Dawid in die vooruitsig gestel dat hy eendag 'n opvolger sou kry wat soos sy voorganger in Jerusalem in 'n ver verlede sou wees: Melgisedek, koning en priester altwee.

So'n koning benodig God se volk om vir goed aan die puinhoop te kan ontgroei. Nie net 'n broeder nie, ook 'n priester. Nie alleen iemand wat die volk inhaal en met hulle gaan saamloop nie. Maar ook iemand wat vervolgens uit die midde van sy volk vorentoe sal kom om as 'n priester, 'n Middelaar tot God te nader.

Daar was 'n vors nodig, so sê die HERE dit self in Jerem. 30: 21 "om sy lewe daaraan te waag om nader te kom na God toe". God se volk kon alleen van God se teregte toorn verlos word as 'n mens homself wou opoffer en deur die toorn verteer word.

Maar die HERE stel dit meteen as 'n vraag in Jerem. 30: 21: "Wie is hy tog wat sy lewe daaraan waag om nader te kom na My toe? " Watter mens durf dit te waag om onder die oë^ van die groot en heilige God te kom, sinds die sonde ons by God in die skuld gebring het?

Wie waag dit om hom aan 'n verterende vuur te brand?

Watter mens kan daarvoor instaan dat hy daardie ontmoeting kan deurstaan??

Dit is die groot vraag van die Ou Verbond.

Waarop die antwoord kort en goed alleen maar kan wees: niemand kan dit! Daar is eenvoudig nie so'n mens nie. Geen mens kan tot God nader en die skuld van die volk versoen deur homself te offer. Daarvan kan maar net die soveelste puinhoop kom. Die verbond moet wel misluk, die kerk gaan kapot.

Elke mens word mos in sonde ontvang en gebore, sodat God se toorn op hom rus.

Ook elke nuwe afstammeling van Dawid is in sonde ontvang en gebore. As dit van mense meot kom, kan die kerk nie bestaan nie. Niemand kan voor haar instaan nie.

Maar daarom het God gesê: daar kom 'n maghebber, 'n heerser uit die midde van die mense, wat Ek sal laat aankom om tot My te nader. 'n Nuwe Dawid. Maar (sien Jerem. 30: 9) "'n Dawid wat Ek vir hulle sal verwek". Ek sal vir 'n egte Dawid sorg, mens onder die mense, wat mede homself buig onder die skuld van God se volk maar wat tegelyk die priester wat nodig is, sal wees: heilig, onskuldig, ongesmet, afgeskeie van die sondaars en hoër as die hemele. Een wat homself sal offer tot 'n volkome versoening van al die sondes van sy hele volk. Hy sal sy lewe daaraan waag om vir ons die lewe terug te gee.

Hierdie priester-Koning, broeders en susters, het God verwek toe die Heilige Gees Maria oorskadu het en die Seun van die Allerhoogste as 'n pril begin van 'n mensie in haar baarmoeder gebring het. Maria het swanger geraak van 'n Dawidseun- die beloofde koning. Maar geen man het daaraan te pas gekom nie. En Maria het self ook nie mooi geweet wat met haar gebeur het nie. Sy was nog maagd en nogtans sou sy moeder word.

Niemand kan hierdie unieke ontvangenis en geboorte ook ooit nareken. Wie dit wil en probeer, verval tot ongeloof. Ons staan hier voor 'n wonder!

God het die ketting van die sonde in ons menselewe deurbreek. Ons mooiste vermoë -dat ons nuwe lewe kan verwek en voortbring- staan ten dienste van die sonde. Elke nuwe baba word in sonde verwek, ontvang en gebore. Dit is 'n nuwe skakeltjie in 'n onafsienbare reeks van sondige mense.

Maar God het die ketting oopgebreek en eiehandig sy Seun as 'n skakel ingevoeg- sonder sonde. Die Heilige God het soewerein op Maria se liggaam -nog maagd- beslag gelê en het haar moeder van die Middelaar laat word. Ons sal dit nooit begryp nie. Maar so het God 'n mens verwek wat as 'n heerser tot Hom kon nader en homself as priester-Koning kon offer vir almal. Vir eens en vir altyd. God het die onmoontlike moontlik gemaak.

God het self daarvoor gesorg dat die kerk nie weer 'n puinhoop sal word nie. Hy het sy Seun gegee. Mens soos almal. En terselfdertyd ook: nog steeds God, sonder enige sonde.

En Hy waarborg nou as ons Koning, in eie Persoon, dat ons lewe weer 'n fees vir God kan word.

Ons bly nog altyd: in sonde ontvang en gebore. Maar in al u stryd teen kleingeloof en ongeloof, in u eensaamheid en siekte, in u drifte en spannings, ja, waarin nie? - staan voortaan u Koning langs u. En Hy tree voor u uit na ons God en bedek met sy eie lewe u sondes en tekortkomings. Hy het dit vandag in die Nagmaal weer vir u gewaarborg.

Deur Hom is daar weer uitsig in die lewe. Oor elke wieg in die kerk glans nou tog God se genade, God kyk met ontferming na ons kinders wat speel en stoei, God ontferm Hom geduldig oor die opgroeiende jeug met hul stryd, Hy bemoedig vaders wat swoeg en moeders wat tob, Hy versterk die wat eensaam en swak is.

Want uit 'n maagd het God vir altyd met ons gekom. Immanuel.

Ons lewe was verlore. Maar God self het ons ingehaal en as mens onder die mense die hele pad van wieg tot graf met ons en voor ons gaan loop. Hy het ons ook voor gekom. Deur sy versoenende offer en sy oorwinning op die dood.

Maar Hy sal ons nooit meer loslaat nie. Want Hy trek ons nou saam deur hierdie lewe na die ewige lewe in die nuwe Jerusalem toe. Daar sal Hy dan ons sterflike liggame aan sy verheerlikte liggaam gelyk maak en ons tot in ewigheid by Hom neem.

En dan sal ons ook daardie ewige lewe benodig om die wonder van hierdie ontferming te kan bevat!

AMEN.

(Pretoria, 13 November 1988)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)