God gaan die hele pad om Sy liefde tuis te bring

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 13
Preek Inhoud: 

26-04-02

SONDAG 13

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 39 : 1-5
Gebed
Skriflesing: Galasiërs 3:24 - 4:7, Hebreeërs 12:1-17
Kategismus : Sondag 13
Sing: Ps. 39 : 6-7
Prediking
Sing: SB. 19 : 1-2
Geloofsbelydenis
Sing: SB. 19 : 6-7
Dankgebed
Kollekte
Sing: SB. 24 : 2
Seën

Gemeente van Jesus Christus, Gods eniggebore Seun en ons Here,

dié twee kensketse van ons Heiland sê wie is Hy. Eers het ons sy twee name gehoor: Jesus Christus. Nou praat die belydenis oor dié twee kenmerke: wie is Hy vir God, wie is Hy vir ons? Seun van God, Heer vir ons. Vanaand wil ek op die eerste konsentreer: Christus is die Seun van God én Hy het ons "broer" geword! Die "Heer"-wees kom dan vanself saam, want Broer en Heer: dit is Hy terselfdertyd. Daaruit vloei voort, sê ons, dat ons as kinders aangeneem is. Die "aanneming tot kinders" is 'n pragtige Bybelse omskrywing van God se soek van verlore mense. Dit sê hoe en wanneer jy vir God soos sy eie kind kan wees.

Die Bybelskrywers het die HERE hoor sê dat Hy Israël soos 'n kind beskou en aangeneem het. Dié woord "aanneming" is dieselfde as wat ons adopsie noem. Want dit is presies hoe God in die ou verbond met Israël en in die nuwe verbond met heidene handel.

Ons praat van adopsie by 'n kind wat gebore is, maar wat sonder 'n normale gesinseenheid van 'n eie pa en 'n eie ma leef. Sy eie ouers kan of wil hom nie grootmaak nie. In ons samelewing beteken adopsie dan: so 'n kind wat deur altwee sy eie ouers nie grootgemaak kan word nie, word afgestaan en deur 'n ander ouerpaar geadopteer, soos 'n eie kind aanvaar. Ons praat nie van adopsie, wanneer een van die ouers nog betrokke is nie. Die Bybel praat breër: dit gaan oor kinders van 'n man en 'n vrou wat deur 'n klasseverskil nie getrou is nie. Die kinders van byv. 'n slawin of 'n vreemdelinge én 'n Israëlitiese man. Dink aan ou Jakob wat by die slawinne Bilha en Silpa kinders gehad het. Hy het dié kinders volkome as sy eie kinders beskou. Ja, dit ken ons ook: dat 'n man 'n vrou kies wat al 'n kind het. Hy gee die kind sy naam en aanvaar dit heeltemal as sy kind. Die hartseer van twee lewens word in liefde opgeneem. Want dan kom die lewe! Vir die hele lewe van so 'n kind is dié liefde belangrik! God is egter altyd die eerste. Hy neem mense tot sy kinders aan. Vandaaruit leer Hy mense om mekaar, om kinders lief te hê. Ek preek vir u oor die name van ons Heiland wat sê: Hy is God se Seun en ons Heer.

GOD GAAN DIE HELE PAD OM SY LIEFDE TUIS TE BRING

Dit is aanneming

  1. via Christus,
  2. uit vrye keuse
  3. tot volle kinders.

1. ONS AANNEMING GESKIED VIA CHRISTUS

Dit lyk asof die Kategismus 'n verskriklike afstand tussen Hom en ons sien: waarom word Christus die eniggebore Seun van God genoem, terwyl tog ons ook kinders van God is? Is mense, is ons dan nie werklik kinders van God nie? Hopelose sondaars, ontaarde skepsels, tot in die kerk liefdeloos. En: word Christus nie ver by ons vandaan gesit as die "eniggebore Seun van God" nie? Hy is hoog, Hy is God; ons bly hier op aarde, ons is swak.

Nee, ons groot houvas is dat Christus "die eie, natuurlike Seun van God" is. Dit is sy krag: Hy kan ons red. Dit is die bewys van God se liefde: God het sy eniggebore Seun vir mense oorgegee. In Jesus ontmoet ons God Homself: in krag én liefde. Hy is Jesus, Verlosser van sonde en skade. Hy is Christus: deur God die Vader aangestel en met die Gees gesalf!

Hoe is nou mense óók kinders van God? Die Bybel praat eerste oor mense as God se kinders in verband met die skepping. In een van die geslagregister van ons Here Jesus sien jy: dié lys begin by Jesus "die seun van Josef" en eindig by "Adam, die seun van God" (Luk. 3:38). Dus: nie net in sy godheid nie, ook in sy mensheid is Jesus die seun van God (nou met 'n klein letter)! God het die mens na sy beeld geskep. Die mens mog iets van God kry en op Hom lyk. Adam, 'n seun, en Eva, 'n dogter van God. Nee, as skepsels is mense nie die eie, natuurlike seuns en dogters van God nie. As skepsels was ons wel: die eie, uit liefde geskape kinders van die HERE. Kyk wanneer Adam "die seun van God genoem word! Dit is in die geslaglys van ons Here Jesus! Want Jesus is soos Adam: die eerste, nuwe mens sonder sonde. Hy is gebore soos Adam geskep is: in suierheid. Jesus is as mens só kind van God: dat Hy die mens is wat weer op God lyk en beeld van God in suiwerheid is.

Jesus is as God en mens nie deur die Vader as seun aangeneem nie. Hy is altyd al die eie Seun van God. As mens het God Hom in suiwerheid in die wêreld gebring. En tog is daar meer! Want Jesus is as mensekind aan in 'n mate "tot kind aangeneem". Ons weet (en ons sal by Sondag 14 verder daaroor praat) dat Maria sy natuurlike ma, maar Josef nie eintlik sy pa was nie. Hoe is Jesus wèl die seun van Josef? Deurdat Josef Hom saam met Maria aanvaar het. Omdat hy die kindjie Jesus as sy eie kind aangeneem het. Josef het Jesus sy naam gegee: sodat die geslagregisters kan sê dis "Jesus die seun van Josef" (Luk. 3:23). En onthou u: dis deur Josef dat Jesus ook die seun van Dawid is. Deur die aanneming as kind het Hy reg op die troon van Dawid.

So verstaan u die diepte van dié Bybelteks: God het ons bestem om "gelykvormig te word aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broers" (Rom. 8:29). In die menswording het Jesus Homself ons Broer gemaak. Langs die pad, via Christus kan ons as mense opnuut kinders van God word. Hy is en bly die eie, ewige, natuurlike Seun van God. As mense mag ons opnuut kinders van God word, soos Jesus dit as mens geword het. Ons: in liefde geskep en van die verderf gered! Die nederigheid van Jesus se menswording bring Hom baie naby! Hy het 'n ma benodig, en ook 'n pa. In die oë van mense het dit gelyk asof Jesus vooregtelik verwek en só kind van Josef is. Heel sy menswording en vernedering het geskied, sodat ons aanneming via Hom kon gebeur. Dié ver pad het God Drieënig gegaan om sy liefde tuis te bring.

2. ONS AANNEMING GESKIED DEUR GOD SE VRYE KEUSE

Daar is 'n pragtige hoofstuk in die boek Esegiël. Die hele geskiedenis van die HERE met sy volk Israël word daar vertel as die lewensverhaal van 'n optelkind. Nee, 'n verstote kind ("jou vader was 'n Amoritiet, jou moeder 'n Hetitiese", sê die HERE) wat die HERE sien lê en optel. Dis sal mooi wees om dié hoofstuk vanaand saam te lees, wanneer u 'n nagesprek oor die preek hou. "Geen oog het medelye met jou gehad en jou versorg nie, om vir jou jammer te wees nie; maar jy is op die oop veld gegooi uit afsku vir jou lewe, die dag toe jy gebore is". Dan beskryf die HERE hoe Hy vol ontferming dié kind optel en as syne aanvaar en haar grootmaak. Paulus sal oor die Joodse volk sê: "Hulle is Israëliete: aan wie die aanneming tot kinders behoort ..." (Rom. 9:4), die eerste mense wat weer as kinders aangeneem is. Dit is dié aanneming tot kinders wat ons in die spesiale woord adopsie ken.

U weet: die prys vir God om u as kinders opnuut in genade aan te neem, was hoog. Die kindwees wat daar deur die skepping mog wees, het stukkend gebreek. Die mens het 'n slaaf pleks van 'n kind geword. Die hoë prys was die offer van Jesus, die Seun van God: in die dubbele betekenis van God én mens. Hy moes ons na ons liggaam en na ons siel van alle sondes en uit die heerskappy van die duiwel vrykoop, sê antw. 34. Hy moes ons Heer word: om ons by die Vader te bring. Die prys van dié adopsie was sy bloed, sy kosbaar lewe. Dis kos baie moeite en geld om 'n verstote kind te adopteer, dikwels uit 'n ander land. Dit het baie gekos om mense vry te maak tot 'n nuwe kans, 'n nuwe lewe. Daaraan lê die ewige verkiesing ten grondslag. God het ons uitverkies "om heilig en sonder gebrek te wees, deurdat God ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus" (Ef. 1:4-5). Verkiesing: om in die verbond van God te leef, om kinders vir Hom te wees.

God se vrye keuse staan voorop. Dan sê ons by die bediening van die Heilige doop: in die naam van die Vader gedoop word beteken dat Hy ons tot sy kinders en erfgename aanneem. Die verkiesing moet in die lewe wat begin het, werklikheid word. God moet die héle pad gaan om sy liefde by ons tuis te bring. Kinders van gelowige ouers is uitgekies om in die verbond te maag lewe. Hulle is kinders van sondige ouers wat tot kinders van God aangeneem moet word. Goed, wanneer jy gedoop is, sal jy dan jou lewe lank 'n kind van God wees? Kyk, daar is in die kerk die gevaar dat jy nie meer daagliks die voorreg besef kind van God te mag wees. Jy mag so dikwels hoor "ons is kinders van God", dat jy nie besef dat daardie verkiesing nog daagliks bevestig moet word deur 'n vaste geloof. Paulus sê in Gal. 3:26: "want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus". Wanneer jy regtig "Abba, Vader" roep, dan is dit uit geloof.

Ja, die aanneming tot kinders omvat na die doop as 'n kind ook die aanvaarding daarvan as 'n volwasse mens. Johannes skryf: "almal wat Christus aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word" (Joh. 1:12). Mag: die moontlikheid, die vermoë. Wanneer jy jou lewe oorsien, voel jy dan die mag wat jou kind van God laat word het? Het jy dié mag gebruik, nee, leef jy met dié mag wat God ter beskikking stel? Dit mag snaaks lyk: asof ons die vermoë in hande het om kind van God te wees. Dit bly natuurlik die mag wat God in die Heilige Gees, in die geloof ij 'n mens gee. Sonder 'n lewende geloof gee die "kind van God wees" niks geen regte by God nie. Op die verkiesing volg die lewe in die verbond, want God gaan die hele pad van jou lewe met jou saam om sy liefde by jou en in die wêreld tuis te bring. Dan moet die verkiesing in geloof sigbaar word. Net so gee die doop jou die sekerheid: God het my uitgekies om in hierdie lewe as sy kind te wandel. Net deur 'n lewende geloof sal jy dit kan bly sê, die hele pad van jou lewe. Dan kan jy bely: ek is aangeneem uit vrye keuse!

3. ONS WORD AANGENEEM TOT VOLLE KINDERS

Ons eerste Skriflesing was uit 'n ander brief van Paulus, dié aan die Galasiërs. Daar beskryf hy Israël se geskiedenis as die tyd van onmondigheid. Dié kind moes eers grootgemaak word. Hulle was God se kinders, maar die onselfstandigheid het hulle die regte nog onthou: Israël het nog nie die volle vryheid kon proe nie. Dan sê die Bybel: God het sy Seun uitgestuur, "gebore uit 'n vrou, gebore onder die wet om die wat onder die wet was, vry te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang" (Gal. 4:5). Die volle regte het God se volk eers deur Christus gekry.

Wanneer God sondaars verkies, bly hulle nie kinders wat op 'n agterafplekkie moet bly en nie werklik welkom is nie. Nee, jy kry die volle reg om by God kind aan huis te wees. Met volle vrymoedigheid mag jy Hom in jou eie taal "Vader" noem, soos Jesus in sy eie taal "Abba" gesê het. Paulus skryf in sy brief aan Rome: "Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees (hoofletter!) van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is" (8:15-16). Dat jy voluit as kind vir God mag geld, word onderstreep deur die toevoeging dat 'n kind ook erfgenaam is. Jy het 'n regsposisie by God. Jy kan jou daarop beroep. "Die Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename. Dit is erfgename van God en medeërfgename met Christus" (Rom. 8:16-17).

Erfgenaam wees: daar is iets van voorlopigheid in dié uitdrukking in die Bybel. Die hele erfenis wag nog. Dit lê soos 'n skat in die hemel gebêre. Verderop in die Romeinebrief staan: "ons sug by onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik wanneer ons liggame verlos sal word" (8:23). Eers as ons volkome verlos sal wees, kom die volle erfenis vry. Sê maar: die genieting van al God se gawes. Dit is goed om te besef: jy is al werklik kind van God in volle regte. Dit is net die beskikking van die Vader dat dié erfenis wag tot sy tyd. By alle hartseer en selfverloëning mag jy dit weet. Leer eers maar om die genade te besef volle kinders van God te mag wees.

Kinders, ja, met alle regte. Terselfdertyd moet ook nou gesê word: leef jy soos 'n kind of soos baster? Onthou u die hoofstuk uit Hebreërs? "Die Here tugtig hom wat Hy liefhet en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem" (12:6). 'n Egte pa sal sy kind met alle middels van die kwaad probeer weghou. Om dit te besef het ons die hele Psalm 39 gesing: hoe swaar die beproewings en kastydings van God se hand kan wees. Maar wat wou jy dan? Die Bybel sê: "wanneer God jou nie tugtig nie, dan is julle onegte kinders en nie seuns of dogters nie" (vs. 8). Daar kan 'n tyd kom dat dit lyk asof God nie omgee nie. Soos dit gebeur by 'n man wat êrens by 'n ander vrou buite-egtelike kinders het, kinders vir wie hy nie verantwoordelikheid wou aanvaar nie. Dit is dieselfde as wat ek by die voorlopigheid van die erfenis gesê het: God gaan die hele pad van jou lewe om jou die voorreg van kind van God wees te leer. Vra die Here of Hy dit tydens die moeites van u lewe en in die onvervulde wense vir jou wil leer.

Die hele pad van jou lewe wil God Drie-enig by jou wees. Om jou te leer dat die aanneming altyd via Christus geskied, altyd in vrye liefde tot stand gekom het en altyd jou voluit 'n kind van Hom wil maak. Altyd: sodat God altyd mense op aarde sal hê wat as skepsels die kind-wees leer.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)