Ons Verlosser is die eniggebore Seun van God

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 13
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 13 H.K.

LITURGIE:
L. Joh. 1: 1-18 & Joh. 3: 16-18 & 1 Joh. 4: 7-16
SB. 33: 1
SB. 33: 2
Ps. 118: 2, 7, 11, 14
Ps. 2: 6
SB. 18: 3, 4, 5, 8

Broeders en susters,

Jesus Christus wat in Betlehem gebore is en op Golgotha gekruisig, is die Eniggebore Seun van God.

So bely die Christelike Kerk dit eeue lank al in die tweede artikel van die Apostoliese Geloofsbelydenis, die kort en kragtige samevatting van die algemene en ongetwyfelde christelike geloof.

Ja, so noem ons ons geloofsbelydenis, ook diè oor Jesus as die Eniggebore Seun van God: algemeen en ongetwyfeld.

Maar is dit nie die werklikheid nie, dat juis hierdie artikel van die christelike geloof -dat Jesus God se Seun is- feitlik nooit algemeen was nie en altyd aan twyfel blootgestaan het?

As daar een geloofsartikel deurentyd aangeveg en betwyfel is, dan is dit wel hierdie een!

Die Jode het Jesus al juis hierom verwerp dat Hy God sy eie Vader genoem het en dus Homself met God gelykgestel het (Joh. 5: 18).

En ons weet dat daar vanaf daardie tyd in die Christelike Kerk 'n langdurige en aanhoudende stryd gelewer is oor hierdie geloofsbelydenis dat Jesus Christus die Seun van God is. Name soos Arìus en Athanasius, Konsilies van Nicea, Konstantinopel en Chalcedon herinner ons aan daardie stryd. En ons sou vandag hierdie name met nuwe name kan aanvul, want daar het nog altyd nie 'n einde aan die bestryding van Jesus se God-wees gekom nie.

Maar die Kerk van Christus het vir hierdie stryd nooit weggeskram nie. Want sy het vanaf die eerste begin verstaan dat haar eie lewe aan hierdie geloofsbelydenis hang. Ja, haar ewige lewe, waar die belydenis van die algemene en ongetwyfelde christelike geloof op uitloop, hang aan diè geloof dat Jesus van Nasareth die Eniggebore Seun van God is. Dit het Christus self ondubbelsinnig gesê: "So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy Eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê".

As die kerk dus die ewige lewe wil hê en hou, sal die geloof dat Jesus die Seun van God is algemeen moet bly, d. w. s. van krag vir alle tye en alle plekke.

Dan sal hierdie geloof vir haar ook ongetwyfeld moet bly, d. w. s. die hele kerk oral op die wêreld moet op hierdie punt alle twyfel uitban.

Ons word tot diè algemene en ongetwyfelde christelike geloof vanaand ook weer geroep, broeders en susters, as ek u aan die hand van Sondag 13 H.K. moet verkondig:

ONS VERLOSSER IS DIE ENIGGEBORE SEUN VAN GOD.

  1. HY IS DIE BEWYS VAN GOD SE HOOGSTE LIEFDE VIR ONS.
  2. HY EIS ONS HOOGSTE LIEFDE VIR GOD.

1. As in Sondag 13 gevra word na die betekenis van die opmerklike benaming vir ons Verlosser: Eniggebore Seun van God, word alle nadruk gelê op die ontsaglike verskil wat daar ewig sal bly tussen Hom en al die ander wat kinders van God genoem word.

Alleen Hy is die ewige natuurlike Seun van God; ons mag onsself God se kinders noem omdat ons om sy ontwil uit genade aangeneem, geadopteer is. Daar lê tussen Hom en ons van ewigheid die afstand wat daar lê tussen God en die mens.

Hierdie benaming van Christus het nogtans nie die bedoeling om ons op 'n afstand te hou nie. Inteendeel, die feit dat ons Verlosser juis met hierdie naam na ons toe kom, moet ons oë oopmaak vir die geweldige liefde waarmee God na ons toe gekom het!

Want daardie woord "Eniggebore " het 'n warm, diep klank.

Ons tref hierdie opvallende benaming vir ons Here Jesus Christus net by die apostel Johannes aan.

Johannes het hierdie woord nie self bedink nie. Hy het dit uit Jesus se eie mond opgeteken. Ons het dit gelees in hoofstuk 3 van sy evangeliebeskrywing.

God se Seun self het, toe Hy snags iewers in Jerusalem 'n gesprek met die Skrifgeleerde Nikodemus gevoer het, daardie groot woord laat val: "Ek is nie maar net 'n leraar in Israël nie, Nikodemus, een van die vele. Ek is die Eniggebore Seun van God. Ek is alles wat God vir die wêreld te gee het. In my het God Homself volkome gegee, sy hele hart vir die wêreld blootgelê. Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy Eniggebore Seun gegee het".

Hierdie woorde het Johannes altyd bygebly, gemeente. Veral daardie opvallende aanduiding "Eniggebore Seun" het blykbaar so'n diep indruk op hom nagelaat, dat Hy dit tot die tema gekies het vir sy evangeliebeskrywing: "Die Woord wat vanaf die begin by God was, wat self God was, het vlees geword en het onder ons gewoon". Baie mense het in Hom toe maar net 'n mens gesien. Maar ons het meer gesien, skryf Johannes in hoofstuk 1: "Ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom".

En in sy eerste brief kom Johannes nogmaals hierop terug en nou plaas hy op omtrent elke lettergreep 'n aksent: "Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy Eniggebore Seun - nee, dit staan daar met nog meer nadruk: sy Seun, die Eniggeborene, in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde: die dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes. "

Johannes komponeer hier 'n magtige simfonie op die tema van God se liefde, wat Hy vir ons in die geskenk van sy Eniggebore Seun bewys het.

Want Johannes het die klank, die waarde van daardie woord "Eniggebore" suiwer aangevoel.

Ek dink veral ouers wat maar net een kind van die Here ontvang het, mooi kan aanvoel wat daar in daardie woordjie opgesluit lê.

Wie sy eniggeborene gee, gee alles wat hy te gee het.

God het dit self teenoor Abraham benadruk. Toe Hy Abraham op die proef gestel het en van hom gevra het om sy seun Isaak te offer, het die HERE gesê: "Vat tog jou seun, jou enigste, wat jy liefhet". As 'n mens 10 kinders het, kan hy nog nie 1 daarvan mis nie. Maar wie maar net 1 kind het, trek al sy liefde op daardie enigste saam.

Maar dit wat God Abraham uiteindelik tog nie wou aandoen nie en dus op die laaste oomblik verhinder het, het Hy Homself wel aangedoen: Hy het sy Seun gevat, sy Enigste, wat Hy liefhet, en het Hom geoffer.

Ja, is dit nie die betekenis van daardie woord "Eniggebore" nie: toe God sy Seun as ons Verlosser in die wêreld gestuur het, het Hy met sy liefde tot die uiterste grens gegaan: Hy het sy Eniggeborene gegee! Wat is dit anders as: Hy het alles gegee wat Hy kon gee. Hy het die Seun wat al sy liefde het, gegee. Na Christus het God niks meer te gee nie. Sy Seun was sy laaste liefdesgeskenk. In Christus het God na die wêreld toegekom met sy hoogste liefde, om te bewys hoe ver Hy met sy liefde vir ons wou gaan. Hy het sy Seun geoffer, die Eniggeborene. Toe is die liefde van God tot ons geopenbaar, skryf Johannes- die liefde, die totale liefde van God.

Ons vind dieselfde klanke aan die begin van die brief aan die Hebreërs. "Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun".

God het reeds vroeër ons met sy liefde gesoek, maar toe was dit altyd nog maar van 'n afstand. God het nie self naby gekom nie. Hy het Hom van tussenpersone wat sy Woord oorgebring het, bedien. Hy het profete gestuur, of engele het sy boodskap kom en bring. Maar op die ou end het God gesê: Ek sal my Seun stuur, die Geliefde in wie Ek 'n welbehae het, my Eniggeborene. Ek sal in Hom al my bedoelings in een keer duidelik maak, my liefde aan die wêreld openbaar. Ek gee alles in hierdie Een. My Seun wat 'n naam bo alle naam het, bo engele en profete, my Enigste.

Soos Hy is daar geen tweede nie. Niemand staan so naby die Vader soos Hy nie. Niemand weet beter wat daar in die hart van die Vader leef as Hy nie. Ja, in Hom kom die Vader self na ons toe, want die Seun is die afskynsel van die Vader se heerlikheid en die afdruksel van sy wese. God kan ons nie meer naby kom as in sy Seun nie. Want hy wat die Seun gesien het, het die Vader gesien. Niemand het ooit God gesien, niemand ken die geheime van God se hart, maar die Eniggeborene wat aan die boesem van die Vader is, diè het Hom verklaar.

In sy Seun het God sommer alle afstand tussen Hom en ons oorwen. Hy is nou meer naby as ooit tevore. In die Seun het God vlees geword en onder ons gewoon. Hy het sy eie huis gehad in Nasareth en later Kapernaüm, Hy het onder ons geleef, geëet en geslaap.

Hy het vir ons gesterf. Sodat ons deur Hom kan lewe.

Want God wou dat ons sou lewe, skryf Johannes. Dit was God se bedoeling met hierdie laaste liefdesgeskenk.

Vir die hoogste prys -sy eie Seun- het God ook die hoogste doel gesoek: ons lewe, ons behoud, ons toekoms.

Hy wou ons as sy kinders vir Hom behou. Hy kon nie daartoe kom om heel hierdie wêreld, met alle mense, van Hom weg te stoot in die godverlatenheid nie. Nee, Hy het sy wêreld darem te lief gehad. God het geen behae in die dood van sondaars nie, maar liewer daarin dat hy lewe.

Maar hierdie wêreld het onder sy toorn gelê. Daar het as gevolg van die sonde 'n sodanige kloof tussen hemel en aarde, tussen God en hierdie wêreld gegaap dat dit vir 'n mens onmoontlik was om dit nog weer te oorbrug.

Ons mense vergeet dit dikwels, broeders en susters. Maar ons kàn dit nie vergeet nie, ons mag dit sekerlik nie weg lag, of weg redeneer of weg teologiseer nie. Ons moet daarvan bewus bly dat God in die hemel die sonde nie kan verdra nie en dat sy toorn hom opstapel vir die dag van die openbaring van die regverdige oordeel van God. Want as ons dit vergeet, verstaan ons niks meer van die wonder van God se laaste reddingsplan in die oorgawe van sy Eniggebore Seun.

"Hierin is die liefde", skryf Johannes, "nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes". Daar het van ons kant geen liefde meer na God uitgegaan nie. Inteendeel, ons het sy liefde gekrenk. Ons het sy liefde met haat beantwoord.

Maar dan is dit die wonder dat sy liefde so sterk is dat Hy daar dwars teenin gekom het. Hy het ons nie vir ewig in die hel weg gestoot nie, die ewige dood, maar nòg die lewe vir ons gesoek.

Ja, Hy het daarvoor alles gegee wat Hy kon gee om ons te behou: sy Seun, sodat Diè ons sondes sou versoen en ons weer deur sy Gees sou leer hoe om weer kind van God te wees.

So groot was God se liefde, dat Hy liewer sy Eniggebore Seun prysgegee het aan die straf van die hel, as wat Hy ons as sy kinders daaraan sou prysgee.

Kyk, broeders en susters, hierdie wonder van God se hoogste liefde klink deur in daardie benaming 'Eniggebore Seun van God'. Ons hoef vanaand nie ons hoof te breek oor die misterie van die verhouding tussen God die Vader en God die Seun binne die Drie- eenheid nie. As ons maar verstaan het dat ons Verlosser niemand minder as die Eniggebore Seun van die Vader is en dus die bewys van God se hoogste liefde vir ons.

Dan verstaan ons ook dat ons hele lewe en ons toekoms nou van hierdie Verlosser afhanklik is. Dan verstaan ons die diepte van hierdie woord van Christus self: "Wie in die Seun glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die naam van die Eniggebore Seun van God nie". Buiten hierdie Seun van God kan daar nou mos geen lewe wees nie. Want geen mens het die lewe in homself.

Ons mense het die lewe vergooi. Ons het self elke weg terug na die God van die lewe toe afgesny. Die kloof wat ons deur die opstand teen die HERE veroorsaak het, was so breed en so diep, dat geen mens homself ooit meer tot kind van God kon opwerk nie.

Enige menslike verlossingsplan moes faal.

Ook profete en selfs engele kon die afgrond tussen God en ons nie oorbrug nie.

Maar toe dit geblyk het dat elke weg van die aarde na die hemel toe dus afgesluit en opgebreek was, het God vir ons sy hoogste liefde bewys deur self, in sy Seun, vanuit die hemel aarde toe te kom. Hy het die brug van bo na benede gebou, toe geblyk het dat dit andersom nie moontlik was nie.

Daar moes wel van bo 'n ewige, oneindige, goddelike krag ingesit word om ons te behou. God se ewige liefde moes beweeg word in sy Seun, die Eniggeborene van die Vader.

Dit sal ons nou moet glo, gemeente. Dit sal nou ons algemene en ongetwyfelde christelike geloof moet wees: die erkenning dat daar niks meer in onsself is nie omdat alles in God lê. Alle menslike inbeelding en verwaandheid en trots moet stukkend. Enige verwagting van die mens self moet vernietig word. Ons moet besef dat ons die lewe alleen aan God se liefde te danke het.

Verstaan u nou dan ook hoekom in die Christelike Kerk so fel gestry is teen dwaalleraars wat die God-wees van ons Verlosser bevraagteken het? Dit het maar nie om 'n teoloë-stryd gegaan nie, nie om ondergeskikte dogmatiese onderskeidinkies nie. Nee, die lewe van die Christelike Kerk het op die spel gestaan, die ewige lewe. Daar waar Jesus nie meer geglo word as die Eniggebore Seun van God en dus God self nie, is die kerk verlore, daar is die christendom geen christendom meer. Hy wat van Jesus van Nasareth alleen 'n gewoon mens soos ons laat oorbly, en nie meer nie- en selfs hy wat van ons Verlosser 'n tussenwese maak: wel meer-as- mens, maar tog ook minder-as-God, dra die heidendom weer in die kerk in.

Selfs God se laaste redmiddel vir die wêreld, die bewys van sy hoogste liefde, word brutaal verwerp en die hoogmoedige mens bly homself soos 'n god beskou.

Daar is baie mense wat die skouers ophaal as hulle hoor of lees van die ou kerkgeskiedenis met name soos Aríus, Nestorius, Eutyches, Athanasius en so meer. Hulle kan nie verstaan dat die destydse konsilies hulle so drukgemaak het oor hierdie sake. Maar die Kerk moés hier wel walgooi teen selfs maar die geringste twyfel insake Christus se God-wees, gemeente.

Want daar is vir ons alleen mewe as ons beskaamd en verwonderd bly glo dat ons Verlosser niemand minder as die Eniggebore Seun van die Vader kon wees nie: "God uit God, Lig uit Lig, ware God uit ware God, een in wese met die Vader".

God self.

Ons Here.

2. Ja, die Heidelbergse kategismus het, in navolging van die Apostoliese Geloofsbelydenis, die benaming "Here" direk met die aanduiding "Eniggebore Seun van God" verbind. Want noudat hierdie Seun van God die lewe vir ons teruggekoop het, het God Hom uitermate verhoog en tot die Here van die hemel en die aarde gemaak. Hy het voortaan die lewe in beheer. En buiten Hom is daar geen lewe meer moontlik nie.

Die wat die Seun bely, het ook die Vader. Maar elkeen wat die Seun verwerp, het ook nie die Vader nie, en het dus nie die lewe nie. Hy wat nie glo in die Naam van die Eniggebore Seun van God nie, is alreeds veroordeel. So absoluut beskik die Seun nou as Here oor lewe en dood.

Hierdie wetenskap mag vir ons 'n groot rus in ons lewe gee, broeders en susters. Ons hoef nie self ons lewe en ons toekoms voortdurend te beveilig nie. Ons lewe lê veilig in sy hande. Hy waarborg dat God, sy ewige Vader, ook ons vader weer kan en wil wees, en dat ons weer sy kinders mag wees. Hy bewaar ons so, nadat Hy ons met sy eie bloed tot sy eiendom losgekoop het, dat Vader selfs die hare van my kop dophou.

Maar Christus lê as ons Here tegelyk ook beslag op ons lewe. Hy eis dit nou ook heeltemal vir Hom en vir sy Vader op.

Niemand van ons kan nou meer vir homself lewe nie. Want ons Here eis dat ons voortaan weer van harte gewillig en bereid is om vir Vader te lewe.

Noudat God sy hoogste liefde vir ons bewys het in die offer van sy Eniggebore Seun, eis hierdie Seun nou ook ons hoogste liefde vir God. Dit is mos nie teveel gevra nie? Elkeen wat Vader se hart in liefde sien oopgaan het, sal nou tog ook sy eie hart in liefde vir die Vader oopstel?

Die Seun bring as ons Here Vader se Wet in ons lewe terug: die een groot leefreël: "Jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou kragte". Ons lewe moet weer louter liefde word. Soos God in Christus alles vir ons gegee het, so vra Christus nou ook alles van ons vir God. Wat ek met my liggaam maak, en met my gees, met my eiendomme en uitgawes, met my werk en my ontspanning, met my huwelik en die opvoeding van my kinders- dit is alles nie langer my eie saak nie: Christus is Heer daaroor! Wat ek lees en bekyk en wat ek beluister- dit lê alles onder sy heerskappy. Sy gebooie gaan bo dié van owerhede, ouers, bo die verlangens van jou verloofde, die wense van jou vriend, bo die begeerte van jou eie vlees.

Hy eis ons hele lewe vir Hom op. Om dit vir sy Vader te kan teruggee.

Hy mag selfs 'n leifde en gehoorsaamheid tot in die dood vra. Soos Hy reeds van baie kinders van God gevra het, wat het die belydenis "Jesus is Here" op hul lippe gesterf het in die arena, op die brandstapel, in die martelkamer of die konsentrasiekamp.

Moenie dat u dit vergeet, broeders en susters. Jy ontmoet af en toe mense, ook wel in die gemeente, wat wel oor God se liefde vir ons wil hoor, maar wat geen konkrete en aktuele vermaan m. b. t. ons wederliefde vir God wil hoor nie.

"Die Christus moet gepreek word; en nie die christén nie!" is die argument van party van hulle.

Maar watter snaakse teenstelling is dit? !

Die Christus kom mos as Here na ons toe. Om christene van ons te maak.

En Hy wat self die bewys van God se liefde vir ons is, vra nou ons leifde vir God. Tot in die kleinste besonderhede van die aldagse lewe. Baie konkreet en prakties.

Want nie elkeen wat sê: "Here, Here", sal ingaan in die Koninkryk van God nie. Maar hy wat die wil doen van sy Vader wat in die hemele is.

Dit is nie alleen gevaarlik om die God-wees van Christus te ontken nie. Dit is net so gevaarlik om die Heer-wees van Christus oor jou lewe nie te erken nie. Want die Eniggebore Seun van Gód is óns Here.

Ook dit is tog 'n onmisbare onderdeel van ons algemene en ongetwyfelde christelike geloof?

AMEN.

(Pretoria, 6 November 1988)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)