Jesus wil die eerste en die belangrikste in u lewe wees

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 11
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 11 HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 118: 2, 11
Gebed
L. Matt. 21: 1-16
Ps. 118: 12, 13
Prediking
Gesonge geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
Ps. 72: 1, 7, 11
Seën

Broeders en susters,

Ons Verlosser is die Seun van God. Hy is God uit God, oneindig ver bo ons verhewe.

Maar die Seun van God het mens geword en omtrent 33 jaar hier op aarde geleef. Hy is gebore met 'n gewone menseliggaam soos ons almal. Hy het gewoon in mensehuise soos ons almal. Hy was 'n egte mens soos ons almal.

Hy het ook 'n gewone mensenaam gekry by sy geboorte.

Dalk het die amptenare van Keiser Augustus en goewerneur Cirenius sy naam in Betlehem nog onder Josef en Maria s'n ingeskrywe in hulle registrasie- formuliere: Jesus ben Josef, Jesus seun van Josef.

Met die naam het sy moeder en sy aardse vader Hom geroep en aangespreek. Op die naam het sy boeties en sussies en sy maats Hom genoem.

Met die naam het hy bekenheid verwerf in Israel toe Hy vanaf sy dertigste lewensjaar publiek begin optree het: Jesus van Nasaret, die groot rabbi.

Met die naam het Hy soseer naam-gemaak dat waarskynlik die meeste mense in hierdie wêreld vandag, bykans 2000 jaar later, nog weet van Wie ons praat as ons die naam Jesus noem.

Die Kategismus vra in Sondag 11 spesiaal aandag vir hierdie naam. Dit is nodig om selfs by die náme van ons Verlosser apart stil te staan.

Want ons Verlosser het nie sommer 'n naam gekry nie. Sy hemelse Vader het die keuse van 'n naam vir sy Seun nie aan sy moeder of sy aardse vader oorgelaat nie. Hy het self die naam gekies. En as God iets doen, doen Hy dit mos nooit "sommer" nie. Hy doen alles met 'n bedoeling. Hy het vir sy Seun wat ons Verlosser sou word, 'n roepnaam met 'n veelseggende betekenis gekies.

Die meeste mensename het wel 'n betekenis. Maar ons is meestal skaars bewus van die betekenis van ons name. Ouers kies ook nie altyd 'n naam vir hulle kind vanweë die mooie betekenis nie. Ja, in besondere gevalle, as die geboorte van daardie kind 'n wonder genoem mag word, kan dit gebeur dat ouers die naam Theodoor of Natanja kies: geskenk van God.

Maar meestal word maar net 'n ou familienaam gekies, ongeag die betekenis. Of ouers soek 'n naam wat vir hulle mooi klink.

So kan dit gebeur dat iemand 'n naam dra wat vloek met sy persoon. Judas het 'n naam met 'n pragtige betekenis gehad: hy wat God loof. Maar hierdie einste Judas het die Seun van God vervloek en verraai.

God het vir sy Seun egter 'n mensenaam gekies wat presies by Hom pas. 'n Naam wat kort en kragtig vertel waarvoor Hy in die wêreld gekom het. 'n Naam wat sy hele lewensprogram in een woord duidelik maak. Hy ís soos Hy heet.

Aan die een kant is dit 'n heel gewone mensenaam. Jesus, die vergriekste vorm vir Josua, 'n baie bekende Joodse naam. Talle seuntjies het in daardie dae met daardie naam rondgeloop.

Ons Here mog nie deur 'n baie besondere en opvallende naam die aandag na Hom toe trek nie. God wou juis deur hierdie heel gewone naam aanvanklik die aandag van Hom af wegtrek. Sy goddelike glorie het verdwyn agter 'n gewone menseliggaam, en ook agter 'n gewone mensenaam.

Jesus se boeties en sussies, sy maats en onderwysers, sy verwante en leerlinge het dan ook nie besef dat sy naam tegelyk die geheim van sy lewe onthul het nie.

Eers as 'n mens Jesus van Nasaret beter leer ken het, het dit duidelik geword dat Hy nie 'n meer toepaslike naam kon gekry het nie. Inderdaad: Hy dra 'n naam wat presies by Hom pas.

Want Jesus/Josua beteken: "die HERE, JAHWE, gee heil"; die HERE maak die lewe weer heel.

Wel, daarvan was en is Hy self in eie Persoon die bewys. Daarvoor het Hy in ons wêreld gekom: om namens God die lewe weer heel te maak, te genees.

En dan moet u dit maar so breed as moontlik neem, broeders en susters. Jesus het tydens sy lewe hier op aarde baie duidelik gemaak dat Hy ons totale lewe in sy volle breedte kom verlos en weer heelmaak.

Siekte en stremminge? Jesus wil en kan hulle laat verdwyn! Tydens sy werkperiode van net 3 jaar in Israel het Hy 'n spoor van gesond gemaakte mense nagelaat. Israel was vol wandelende bewyse dat koors, rheuma, artritis, blindheid, doofheid, melaatsheid ens. sommer kan verdwyn as Jesus dit wil.

Rolstoele en krukke kan weggegooi word as Jesus ingryp. Kanker en Vigs is net nie meer daar nie.

Jesus kan inrigtings soos Weskoppies laat sluit en afbreek. Oorspanne, neurotiese, skisofrene en kranksinnige mense verander op 'n enkele woord van Jesus in ontspanne, rustige en weldenkende mense.

Honger en watergebrek? Jesus kan met 5 broodjies en 'n paar klein vissies maklik derduisende mense oorversadig laat raak.

Geldgebrek, armoede? Ook dit is vir Jesus nie 'n probleem nie. As dit moet wees kan die diere op sy bevel die geld vir ons aandra. Jesus het eendag vir Petrus 'n vis laat vang en toe Petrus die bek van die vis opmaak, kry hy sommer 'n geldstuk daarin.

Eensaamheid? Jesus het gekom ook daaraan 'n einde te maak. Hy kan vir ons ons geliefdes selfs uit die dood teruggee, soos Hy gedoen het toe Hy vir die weduwee in Naïn haar seun uit die dood laat opstaan het, en Lasarus uit die graf uit terug geroep en aan sy twee susters Marta en Maria weergegee het.

Omgewingsbesoedeling? Ongelukke met kernsentrales? Osoonbeskadiging? Natuurrampe? Een woord van Jesus en die lug het opgeklaar. Selfs die wind en die water is aan Hom gehoorsaam en met een bevel kan Hy 'n einde maak aan al ons bekommernis.

Vyande? Selfs sonder om 'n woord te sê kan Jesus hulle laat terugdeins en neerval op die grond. Die soldate en tempelpolisie wat Hom in die hof van Getsemane wou gevangeneem, het dit ondervind.

Moet dus nie te beperk dink van Jesus se mag om u lewe te verlos nie, gemeente. Hy is deur God aan ons gegee om 'n einde te maak aan enige vorm van ellende.

En tog... as u deur Jesus verlos wil word, as u wil deel in die heelgemaakte lewe wat Hy kom bewerk, moet u nie in die eerste plek na die breedheid van die ellende op aarde kyk nie.

U moet begin om na die diepte daarvan te soek.

Want die wat wel van die breedheid van alle ellende op aarde verlos wil word, maar nie 'n oog het vir die diepte daarvan nie, sal al gou teleurgesteld raak in Jesus van Nasaret.

Dié sal Jesus se veelbelowende naam dalk aanvanklik hemelhoog prys, maar al gou dieselfde naam deur die modder sleep.

Dit sal hom net so vergaan soos die Jode in die tyd wat Jesus hier op aarde geleef en gewerk het. Die verheerliking sal al gou in verguising verander.

Hoe hoog het aanvanklik die verwagting en die entoesiasme in Israel opgelaai oor Jesus se veelbelowende optrede. Sy genesings en ander wondertekens het die volk diep beïndruk. Hulle wou Hom al in 'n vroeë stadium na Jerusalem toe saamgeneem het om Hom met geweld koning te maak. Was hierdie Jesus nie 'n nakomeling van koning Dawid nie? Sou Hy nie die beloofde groot seun van Dawid wees nie? Die Messias, wat God se volk eindelik bo alle ellende sou uitlig en weer in vrede sou laat lewe, elkeen onder sy wynstok en vyeboom?

Maar dan moes sy plek mos in Jerusalem wees, op die troon van Dawid? Hy behoort daar te regeer, nie Pilatus of Herodes nie.

Toe, daardie eerste keer, het Jesus Homself aan hulle kroningskampanje ontrek. Sy tyd het nog nie gekom nie.

Die dag het egter gekom waarop dit gelyk het asof sy tyd nou tog eindelik aangebreek het. Hy soek nou self Jerusalem op en organiseer self 'n intog in koninklike styl. Terwyl Hy op 'n esel ry, laat Hy Hom 'n vorstelike eerbetoon welgeval: oopgegooide klere en takke as 'n tapyt op die pad.

Toe het 'n hoopvolle stemming hom van die mense meester gemaak. En skielik was daar iemand wat Psalm 118 aangehef het, daardie mooie Messiaanse psalm: "Hosanna vir die seun van Dawid. Geseënd is Hy wat kom in die naam van die HERE! Hosanna in die hoogste hemele!".

Mense wat dit gehoor het, het begin saamsing, die menigte wat hulle vanuit die stad tegemoet gekom het, het dit oorgeneem.... en al gou het die Hosanna oor die helling van die Olyfberg gedawer.

Hoe toepaslik was daardie woordjie "Hosanna", broeders en susters. Mattheüs het daardie Hebreeuse woord onvertaald gelaat. As 'n mens dit vertaal, beteken dit: "Ag HERE, gee tog heil!". In ons Psalmberyming sing ons: "Ag, HEER, gee nou u seëninge, gee voorspoed, HEER, op hierdie dag".

Hierdie Psalm, en veral hierdie woorde, het 'n bekende en geliefde Psalm in Israel geword. Veelvuldig het hulle hierdie woorde in die tempel en in hulle huise laat opklink na die hemel. Selfs klein kindertjies het die woorde geken. Moet maar kyk in die gedeelte wat ons uit Mattheüs 21 gelees het: na Jesus se intog in Jerusalem sing kindertjies die Hosanna nog 'n hele ruk na by die tempel.

Juis nou, noudat Jesus as 'n koning in Jerusalem binnery, wel die Hosanna in hul harte en monde op. Sal die HERE dan nou, deur hierdie Jesus, die lankverwagte heil, die lewensherstel, aan hulle skenk?

Maar wie van hulle het in daardie oomblikke besef dat hulle die Hosanna gesing het vir Iemand wat die antwoord op hierdie geroep in sy eie naam met Hom saamgedra het?

Want Hosanna en Jesus is in Hebreeus van dieselfde werkwoord afgelei.

Die Hebreeuse woord Hosanna is eintlik: Hosjianna en beteken dus: Ag, HERE, gee tog heil!

Maar Jesus is in Hebreeus mos Josua, as mens dit presies uitspreek: Jehosjua. En dit beteken: die HERE géé heil!.

Israel het tereg die Hosanna aangehef toe Jesus na Jerusalem toe gekom het. Die heil van die HERE was nou aan kom. In Hom. Hy is inderdaad die Koning wat kom in die naam van die HERE om die lewe vir God se volk weer heel te maak en in die ruimte te stel. Die verwagtinge mag tereg hooggespanne wees in Israel.

Maar u weet hoedat binne 'n week se tyd die Hosanna-geroep verander het in: "Weg met Hom. Kruisig Hom!".

Al gou pas Israel Psalm 118 ook verder op Jesus toe: soos eiewyse bouers keur hulle hierdie Verlosser af as die hoeksteen vir 'n beter samelewing en gooi Hom eenkant.

Waarom?

Wel, Israel het 'n koning, 'n verlosser gesoek wat sou gaan veg teen Pilatus en sy Romeine; wat koning Herodus uit Jerusalem sou verja; en wat op dié wyse die hele breë lewe sou laat opbloei.

Maar Jesus het daardie vyande voorlopig net so gelos en 'n ander vyand gaan opsoek en beveg. 'n Vyand wat die meeste mense in Israel nie eers meer raakgesien het nie. Maar 'n vyand wat honderd keer gevaarlijker is as Pilatus en Herodus, as Gadaffi of Sadam Hoessein: die duiwel wat die mense in die greep van die sonde gevange hou.

By hom lê naamlik die oorsaak van alle ellende op aarde. Vandat die duiwel ons tot sonde verlei het, is die lewe op aarde geen paradys meer nie, maar dikwels 'n verskrikking. Siekte, stremminge, oorspannenheid, misoeste, hongersnood, armoede, omgewingsbesoedeling, natuurrampe, ongelukke, oorloë, aanrandings, die dood- dit is alles net bitter vrugte wat almal voortkom uit die een wortel: ons opstand teen ons God en Vader. Van dat ons ons deur die duiwel laat wysmaak het dat ons nie 'n God bo ons benodig nie omdat ons self net soos God kan wees, laat God ons op allerhande maniere agterkom dat ons sélf die lewe op hierdie aarde glad nie leefbaar kan hou nie.

Jesus het geweet dat dit nie gaan help om die groot boom van ellende op aarde om te kap nie. Solank as wat die diep wortel nie uitgegrawe word nie, sal daar dadelik nuwe lote uit die stomp uitspruit.

Hy het gekom om die wortel van alle ellende onskadelik te maak. Hy moes daarvoor tot in die diepste diepte neerdaal: tot in die hel. Hy moes in ons plek die sonde met wortel en tak uitroei en so Vader se toorn oor ons lewe laat bedaar. Eers op dié manier kon daar 'n nuwe lewe opbloei.

Was die Jode teleurgesteld omdat hulle te veel van Jesus verwag het?

Nee, hulle het te min van Hom verwag. Hulle het die oorsaak van al hul ellende oor die hoof gesien. Hulle wou ook te haastig. Hulle wou hê Jesus moes dadelik met die uitwasse begin. Hulle het van die wortel vergeet.

Sulke mense is daar vandag nog in menigte. Hulle hou hulself intensief besig met die talle probleme en die groot nood wat daarin hierdie wêreld is. Hulle soek oplossings, streef na strukturele verbeterings, loods wêreldwye akties.

En hulle vervies hulle onderwyl oor die kerk van Jesus Christus wat meen dat die wêreld die meeste gehelp is met 'n preek en met gebed. Moet hierdie Jesus soos die kerk Hom vandag preek, die wêreld red?? !! Dit lyk vir hulle belaglik. Sulke mense kruisig Jesus opnuut en maak Hom opnuut tot 'n bespotting, sê die Skrif.

Maar daar is ook ander mense. Hulle verwerp Jesus nie as Verlosser nie. Inteendeel, hulle dra sy naam voor in die mond. Maar hulle aanvaar Hom ook nie as die Kneg van God wat allereers die sonde moes kom wegneem nie.

Hulle laat Hom inpas in en aanpas aan hulle eie idees oor hoe die wêreld verbeter moet word.

Dit kon die Jode tydens Jesus se lewe op aarde nie doen nie. Jesus het Hom aan sulke aanpas-pogings telkens onttrek. Vandag is dit effens makliker, noudat Jesus weer in die hemel is.

Ons sien dit byvoorbeeld gebeur in die moderne teologie. Jesus van Nasaret speel daarin 'n groot rol. Hy is die groot voorbeeld van 'n maatskappy- hervormer. Hy word daar ten tonele gevoer as die groot wêreldverbeteraar wat die stryd met die gevestigde magte aangedurf het om die onderdruktes en armes te help. Maar van die sonde as die oorsprong van alle ellende word in die moderne teologie glad nie meer gepraat nie.

'n Heeltemal ander, maar nie minder gevaarlike voorbeeld kry ons in die mense wat baie aksent lê op wonderbaarlike genesings wat deur Jesus se mag kan geskied. Derduisende mense reis na die Roomse bedevaartsoord Lourdes om miskien van 'n hardnekkige kwaal of 'n ongeneeslike stremming ontslae te raak. Sale waarin gebedsgenesers optree, sit van hoek tot kant vol met hoopvolle mense.

Die gevolge van die sonde pla hulle meer as die sonde self!

Ek dink ons is almal wel 'n bietjie so, gemeente. Maar hoe dom en kortsigtig is ons dan. Ons is dan soos mense met 'n dodelike kwaal wat by hulle dokter maar net elke keer pynpille kom haal, terwyl alleen 'n ingrypende operasie ons nog kan red.

'n Gewone dokter sal aan so'n dwaasheid miskien nog 'n keer meewerk, as ons nou eenmaal nie wil luister nie.

Maar nie Jesus nie.

As ons meen ons kan vir soiets Jesus gebruik, ken ons nie vir Hom nie. Hy is geen sagte heelmeester wat stinkende wonde maak nie. Hy is 'n chirurg wat met sy mes diep sny. Daar moet operatief ingegryp word. Ons oog moet desnoods maar uitgeruk, ons hand afgesny, of ons voet afgekap as dié ons tot sonde verlei.

Sy mes soek naamlik die diepste kwaaddoener in ons lewe: die sonde.

Sy woord is sy mes, broeders en susters. Sy prediking is die vernaamste instrument waarmee Hy in ons lewe ingryp. En die medisyn wat Hy toedien is die doop en die nagmaal.

Dit lyk belaglike middele en dit is verstaanbaar dat talle mense die spot daarmee drywe.

Nogtans word daarmee wel deeglik die oorsaak van die ellende in ons lewe en in hierdie wêreld aangepak. As u mooi kyk, sal u dit beslis agterkom. Hier in die kerk lê wel deeglik die begin van die lewensherstel.

Aanvanklik lyk Jesus se werkwyse glad nie effektief nie. Dit vra so veel geduld van 'n mens. En dit veroorsaak soos koors 'n stryd in jouself.

Maar dit is darem heilsaam. Die wat homself geduldig aan Jesus se behandeling onderwerp, word beter daarvan.

Maar dan moet u uself wel heeltemál aan Hom uitlewer, broeders en susters. Dan moet u erken dat u sonder Hom klaar verlore is. U moet die erns van die sonde nie onderskat nie. En dus nie terselfdertyd ook self gaan dokter nie. Byvoorbeeld deur, as u gewaarsku word, sêmaar vir u drankgebruik of u vryetydsbesteding, met verskonings te kom soos: "Moenie bekommerd wees nie. Ek kan myself wel oppas".

U moet ook nie die probleme in u lewe uitmekaartrek en Jesus se hulp slegs inroep vir u "geestelike" lewe nie. Baie mense maak so: Jesus is vir die siel en die Sondag; vir al die ander probleme in die lewe is daar politieke leiers, finansiële adviseurs, mediese spesialiste en so meer.

Nee, ek bedoel natuurlik nie dat u u moet onthou van die politiek, en dat u geen advies van 'n bankadviseur mag vra en nie 'n mediese spesialis mag raadpleeg nie. Die ding is egter: watter plek neem sulke mense in u lewe in? 'n Plek naas Jesus? Of 'n plek ondergeskik aan Jesus? Slegs betekenis in die diens van Jesus?

Jesus wil die eerste en die belangrikste in u lewe wees.

Dis nie genoeg om met die mond in Hom te roem as ons Verlosser, as ons Hom onderwyl met die daad verloën omdat ons nie alles in Hom soek wat vir ons saligheid nodig is nie. Jesus het al bykans twee eeue naam gemaak. Hy het sy naam in alle opsigte eer aangedoen. Ons behoort dus inmiddels te weet Wie en wat Hy is.

Ook vanaand kom Hy voor u staan as die een wat u totale lewe wil verlos.

Hy aanvaar egter geen mededinging nie. Hy is die enige egte en volkome Verlosser. Wie Hom nie so erken nie, pleeg naamskennis al praat en sing hy ook hoe vroom oor Jesus.

En die Here sal nie onskuldig hou wie sy naam misbruik nie.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)