Die troos van die belydenis van God se voorsienigheid

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 10
Preek Inhoud: 

7 Feb. '93 Voorbereiding Nagmaal

Ps 144: 1-4
Skb 20: 1, 2, 3, 4, 6
Geloofsbel.
Skb24: 4, 5, 6, 7
Lees: Lukas 13: 1-5 / art 13 NGB
Teks: Sondag 10 H.K.

Geliefde gemeente,

Die voorsienigheid van God. Dit is ons onderwerp van vanmiddag.

Met die Kategismus dink ons daarby aan die onderhouding en regering deur God van hemel en aarde.

Iets meer konkreet: God bemoei Hom daagliks met die wêreld. Hy hou alles in stand. Hy bestuur alles. In elke mens se lewe het Hy die hand. Daarby weet Hy presies wat Hy doen. Dit noem ons God se voorsienigheid.

Daar was 'n tyd dat dit vir die mense 'n heel vanselfsprekende belydenis was.

Reeds die ou Grieke wat die Bybel glad nie geken het nie, was beindruk met die orde in die natuur en met die samehang van allerhande verskynsels. Hulle het dit aan die albesturende God toegeskryf en dit sy voorsienigheid genoem.

Die christelike leer oor God se bestuur kon maklik hierby aansluit. Hulle het aanvanklik so geredeneer: die heidene weet van nature al van die voorsienigheid van God. Dit is dus 'n algemene openbaring. By hierdie algemene openbaring moet net nog die getuienis van die Bybel bykom.

Johannes Calvyn het nogal krities gestaan teenoor die siening dat die christelike geloof in God sommer kon aansluit by wat die heidene vanself al geweet het.

Calvyn het ontken dat 'n mens eers self allerhande sake kan uitvind oor God en dat die Bybel dan 'n aanvulling gee nie.

Nee, het Calvyn gesê: die Bybel kom eerste, daaruit leer jy God ken en bely as 'n Vader. En eers daarna leer jy rondom jou in die Skepping en onderhouding die hand van God die Skepper herken.

En nie andersom nie.

Immers slegs vanuit die Skrifte kan jy tot jou troos iets van die voorsienigheid van God sien en bely.

'n Heiden wat van voorsienigheid praat, praat tenslotte oor nie veel meer as oor 'n onpersoonlike noodlot nie. Hy glo alles is van tevore deur 'n almagtige bestuurder vasgelê en jy kan jou maar die beste daaraan onderwerp want jy kan in elk geval niks daaraan verander nie. Godself kan nie eens aan sy oorspronklike besluite iets verander nie. Alles lê vas vir ewig.

'n Christen mag tot sy troos die voorsienigheid van God bely.

Dit is dit waarom dit Calvyn gegaan het. Dat ons in hierdie lewe getroos sou lewe met 'n vertroue dat ons lewe in die hand lê van 'n liefdevolle Vader wat tewens almagtige God is.

Daarom praat art 13 van die NGB ook oor die onuitspreeklike troos van hierdie belydenis. En Sondag 10 van die HK staan uit die aard van die saak ook in die raamwerk van die troos.

Ons tema van die preek van vanmiddag:

Die troos van die belydenis van God se voorsienigheid

  1. baie vrae - geen antwoord
  2. baie vrae - een antwoord

Ons praat dus van die troos van die voorsienigheid.

Troos is iets wat 'n mens in 'n moeilike situasie sekerheid, houvas bied.

Nou wil dit voorkom of die belydenis van die voorsienigheid nie juis in staat is om vir ons baie troos te bied nie.

Immers so breed as vroeër die eenstemmigheid onder die mensheid was dat daar 'n God is wat hierdie wêreld van dag tot dag bestuur, so algemeen word dit vandag betwyfel.

Ons kan maar rustig sê dat die voorsienigheids-geloof vandag in 'n enorme krisis verkeer.

Die twyfel aan die bestaan van iets soos 'n voorsienigheid wordt veral van twee kante gevoed.

Eerstens vanuit die wetenskap. Die wetenskap het ons vandag baie insigte verskaf in allerhande natuurlike prosesse. Ons begin iets verstaan van waarom dit in die wêreld gaan soos dit gaan. Elke gebeure het 'n oorsaak en daardie oorsaak is dikwels weer die gevolg van 'n ander gebeure ensovoort. Wanneer dan vir enige gebeurtenis wel 'n oorsaak aanwysbaar is, dan kom die vraag op: waar is nog die invloed van God?

God is nie meer inpasbaar in 'n suiwer wetenskaplike visie op die werklikheid nie.

Die wêreld is 'n geslote wêreld en daar is geen bewysbare invloed van buiteaf nie. In hierdie geslote wêreld-beeld is geen ruimte meer vir 'n besturende God nie.

'n Ander groot probleem wat vandag dikwels teenoor die geloof in die voorsienigheid in stelling gebring word is wat ons sou kon noem die 'katastrofe beswaar'

Met 'n klein ramp hier of daar wat 'n enkeling raak kan 'n dinkende mens tenslotte nog wel klaarkom. Dit kan hy nog inpas in die beeld van 'n alles besturende God, maar wat van die groot rampe van hierdie eeu waardeur miljoene getref word?

In die verband word vrywel altyd Auschwitz genoem.

Auschwitz is een van die berugste vernietigingskampe van Nazi- Duitsland in die tweede wêreld oorlog.

Auschwitz, die naam verteenwoordig die afskuwelike moord op 6 miljoen Jode.

6 Miljoen. Ons gemeente hier tel 300 lidmate. 20 duisend van sulke gemeentes moedswillig vermoor! Waarom het God soiets kon toelaat? Dit is die groot vraag van die 20e eeuw.

Dit kon Hy, as Hy enige mag gehad het, nie laat gaan het nie. Dit was te erg. 6 Miljoen. Meer as die hele blanke bevolking van Suid Afrika.

Die vrae is groot en dringend, gemeente.

Nou is daardie vrae nie nuut nie.

Verlede week het ons gesê daardie vrae op sig is so oud as die geloof self.

Die vraag na die waarom. Waarom gaan dit in die wêreld soos dit gaan?

In verlede week se preek het ons na 'n ou oplossing vir hierdie problematiek gekyk. Toe het ons Marcion se oplossing genoem. Hy beweer: daar is twee verskillende gode. Die goeie God en die slegte God. Die ongelukkige mensheid sit tussen twee teenoorgestelde magte en word daartussen dikwels vermaal.

Teen daardie oplossing van twee gode het die kerk 'n besliste 'nee' laat hoor.

Vanaand wil ek aan u 'n moderne oplossing voorhou.

In veel van vandag se teologiese publikasies word ingegaan op die probleem van die kwaad.

Dink 'n slag aan die reaksie van Job toe van hom alles afgevat is. Sy vrou sien nie in wat Job nou nog met sy God te doen sou wil hê. Vervloek God en sterf! Maar dan antwoord Job:

Jy praat soos 'n dwaas praat, sal ons die goeie uit God se hand ontvang en nie ook die kwade nie?

In die alles het Job nie met sy lippe gesondig nie sê die Bybel. Dus wat die Bybel betref is dit duidelik; Job se vrou was verkeerd. Job was reg.

Maar vandag word anders geoordeel oor Job en sy vrou.

Job se woorde na die ramp van sy lewe staan onder hewige kritiek. Van hom word tans gesê: Job berus hier op 'n heidense manier sommer in die kwaad.

Vandag is 'n heel ander sienig op lyde en kwaad populer:

God is anders. Hy is nie die Almagtige Kwaadbesorger nie, nee Hy is uitsluitlik 'n God van liefde. Hy is 'n liefdevolle Vader.

En daardie Vader kan niks met veroorsaking van die kwade te doen hê nie. Hy is mos nie teen ons nie. Hy is vir ons. Dus kan Hy die kwaad nie na ons stuur nie.

Eerder is dit so: Hy ly saam met ons. Hy is solidêr met ons in ons lyde.

Hy wil nie hê dat ons in die kwaad moet berus soos Job nie, ons moet eerder saam met God protesteer teen die kwaad.

Ons moet dit nie vat as ons kwaad aangedoen word nie. Dan is ons werklik christene. Ons werp ons liewers saam met God in die stryd teen alle onreg wat ons aangedoen word. God is met ons.

Hierdie moderne verklaring van die kwaad en die plek van God daarin, het iets simpatieks. Immers so kry God in elk geval nie die skuld van die narigheid waarin ons gekom het nie.

Hy vind dit mos net so erg as wat ons dit vind. Hy huil saam met ons.

Wel 'n simpatieke teorie.

Maar is dit 'n troosryke teorie?

As God net so magteloos is teenoor die kwaad wat ons oorkom as wat ons dit is, wat kan Hy ons dan nog help?

Seker, dit is verskriklik moeilik om te aanvaar dat God se hand in die lyde is wat oor jou kom. Doen dit Here dit opsetlik?

Is dit goed vir iets?

Waarom juis aan my?

Baie vrae- geen antwoord.

Maar wat help dit om van God dan maar 'n magtelose God te maak?

Kyk, wat in hierdie teorie gebeur is dat twee lyne uit die Skrif van mekaar losgemaak word en dan net vir een lyn gekies word.

Die Bybel praat enersyds van God as God- bo- ons, die Almagtige wie se raad en bestuur ver bo ons dinke is.

Maar andersyds ook van Immanuel, God -met -ons. God wat by ons is. God wat met ons die lyde saamdra.

Dus die God van die Bybel staan as het ware aan twee kante van die leed.

Hy is Beskikker van leed. Maar Hy is tewens draer, mededraer van leed.

As u daarrvan iets wil sien, let op die kruis!

Daar is God in sy toorn oor die sonde. Daar laat Hy sy Seun buig onder die geweld van sy toorn. Praat van lyde!

Maar tegelyk, die Seun, God self roep in die diepste van sy nood. My God, my God, waarom het u my verlaat? ...

Vader, my Vader, in u hande beveel ek my gees!

God is dus sowel aan die kant van veroorsaking van lyde en nood asook aan die kant van ondersteuning van die mens.

Altwee kante moet vasgehou word.

Al vind ons dit verskriklik moeilik om daardie twee lyne aan mekaar te knoop.

Tog is dit die manier waarop Job oorleef het.

Job het twee dinge gesien: Aan die een kant: die God wat as 'n teëstander op hom afgekom het. Hy het gehuil onder sy slae.

En aan die ander kant die God van die genadeverbond van wie hy beter dinge mog verwag het.

Maar Job het geglo: In altwee het ek te doen met dieselfde God. Hulle is een.

Job het dit geglo.

Maar hy het die eenheid nie gesien nie. Hy kon dit nie by mekaar kry nie. Dit was sy probleem. Dit was sy stryd.

Hy kon nie sien wat hy geglo het nie.

Hy kon die optrede van God wat Hy as die God van liefde geken het, nie versoen met die God wat hom dit aangedoen het nie.

Maar hy het die hoop vasgehou. Hy het sy loflied nie laat verstom nie.

Die Here het gegee, die Here het geneem, die naam van die Here moet geprys word.

Die gewende God kan ook 'n nemende God word.

Dit het Job bly glo. Ondanks alles.

Hy het nou en dan geprotesteer met heftige woorde teen wat God hom aandoen.

Maar hy het ook sy woorde weer teruggetrek. Nee, nie toe hy antwoorde op sy vrae gehad het nie.

Ook vir hom was dit: baie vrae- geen antwoord.

Job het ook nie sy woorde eers teruggetrek toe dit weer beter met hom gaan nie. Hy hoor die Here in die donderstorm, en toe het hy sy hand op die mond gelê. Hy het die onbegryplikheid van God erken.

En hy het hom daarby neergelê.

Met die woorde van art 13: Hy wou nie verder nuuskierige ondersoek instel na die dinge wat God bo die menslike verstand doen nie. Hy het die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is, geëerbiedig.

2. baie vrae- een antwoord.

'n Mens wat met nood en lyde in aanraking kom, kan nie ontkom aan talle vrae nie. Vrae oor die leiding van God.

Vrae na die waarom.

Maar laat ons nog 'n slag goed kyk na so'n waarom vraag.

Is dit gewoonlik nie 'n vraag van protes?

Waarom gebeur dit met my?

Waaraan het ek dit verdien?

Dit is nie eerlik nie!

In sover jy die vraag vra in 'n vergelyking met ander mense maak die protes sin. Waarom kry ons 'n gestremde kind en het 'n ander geen probleme nie? Op daardie vraag is geen enkele antwoord te gee nie. Dit voel inderdaad onregverdig. En vanuit die mens gesien is dit ook so. Want 'n ander verdien nie beter as jy nie. Jy is nie slegter as hulle nie. En tog is hulle beter af.

Vir hierdie verskil in wedervare van die een en van die ander is nie 'n enigsins bevredigende verklaring te gee nie. Jy mag dit selfs nie eens probeer nie. Want dan is jy verkeerd.

In Lukas 13 stel die Here Jesus die vraag na aanleiding van 'n paar konkrete gebeurtenisse in sy dae.

Pilatus het onder 'n aantal mense 'n bloedbad aangerig.

Was daardie slagoffers nou groter sondaars as ander mense omdat hulle hierdie lyde ondergaan het?

Sy antwoord is duidelik: Nee!

Wie het eintlik gedink dat hulle groter sondaars was?

Dit was die mense wat daaroor begin redeneer het. Waarom het dit juis hulle oorgekom? Hulle was seker groter sondaars, was die algemene konklusie.

Nee sê die Here Jesus. Nie groter sondaars nie.

Hulle was net so groot sondaars soos julle.

En as julle jul nie bekeer nie, kom julle net so om.

Net so groot sondaars.

Jesus lê dus wel 'n verband tussen sondigheid van die mens en allerhande ellende wat oor hom kan kom.

God het as Skepper die mens goed gemaak.

Hy het die mens op die goeie pad gesit.

Op daardie pad vra Hy liefde, gehoorsaamheid en vertroue.

Ons weet hoe die mens van daardie pad weggebreek het.

Hy het van sy God afgeval.

En daarmee het die sonde in die wêreld ingekom.

Die sonde wat God haat en ook straf.

Die gevolge daarvan sien ons daagliks. Daar is 'n geweldige disharmonie in die wêreld.

Dit is die realiteit.

En daarom moet vrae oor die lyde in hierdie wêreld altyd gestel word vanuit daardie realiteit.

Die Bybel leer vir ons om erns te maak met die werklikheid van God se toorn in die wêreld.

En daarom raak ons versigtig om vanuit ons vermeende regte op lewensgeluk en 'n onbedreigde bestaan God aan te spreek met ons opstandige vrae.

Want die meest waarom vrae kom tenslotte voort uit jou eie gevoel van: Dit het ek nie verdien nie.

Maar dan begin ons van 'n verkeerde kant ons vrae te vra. Ons moet begin dink vanuit die werklikheid van sonde en skuld in die wêreld. En dan is dit nie meer onbegryplik dat ons allerhande kwaad kan oorkom nie. Dan ontdek ons eerder tot ons verbasing hoeveel geduld God eintlik met ons wil oefen!

Laat ons begin om ons daaroor te verbaas. Laat ons ons daaroor elke dag verwonder dat alles wat ons aan goeds ontvang alleen maar genade is!

God neem die sonde ernstig op.

Hoe ernstig, kan duidelik wees uit die groot ding wat God gedoen het om sy oorspronklike skepping weer te kan herstel.

Golgota!

Die kruis!

Dit is wat God ons as sy oplossing voorhou.

As ons wil praat oor lyde in die wêreld en God se plek daarin dan moet ons nie by Auschwitz begin nie. Dan begin ons veels te laat.

Ons moet by die kruis op Golgota begin!

Daar sien jy hoe ernstig God die sonde opneem.

Daar sien jy ook wat genade is.

Namelik dat God self die kruis wat ons nie kon dra nie op Hom neem.

So is Hy. So het ons Hom leer ken.

As die God van die kruis!

Die God wat die kruis eis en wat tenslotte self die kruis dra!

Met daardie God leef ons saam in 'n verbond.

In daardie verbond het God beloof om vir ons 'n vader te wees.

Daardie belofte wil ons vashou.

Dit is tenslotte al sekerheid wat ons het.

Sy belofte. Sy belofte dat Hy ons liefhet.

Hy hou nie op om ons van daardie liefde te verseker. Hy doen dit as ons gedoop word: Ek wil jou Vader wees.

Hy verseker ons dit aan die Nagmaalstafel: Wat ook al gebeur, hou vas: Ek het jou lief. Ek sien om na jou.

Dan bly dit so dat ons nie alles kan verstaan wat Hy doen nie.

Ons hou baie vrae. Maar ons kry net een antwoord: My liefde gaan uit na jou. Ek beloof jou dit.

Dit sê ons dan ook maar vir Hom: Vader, ek kan U dikwels nie begryp nie, maar ek vertrou u tog.

Ek wil u belofte vir geen prys inruil vir welke menseteorie dan ook.

As ons dit kan nasê dan is ons getroos.

Ja, dan het ons die onuitspreeklike troos waarop art 13 doel.

Die troos van die geloof in God se voorsienigheid.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)