Dit is elke dag vadersdag

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 9
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 9 HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 95: 1-3
Gebed
L. Psalm 104
Ps. 104: 1, 4, 5, 6, 8, 14
Prediking
Ps. 104: 19, 20
Geloofsbelydenis
Ps. 104: 21
Gebed
Kollekte
Ps. 33: 11
Seën

Broeders en susters,

Oor twee weke, Sondag 20 Junie, is dit weer die jaarlikse Vadersdag.

U weet: dan behoort kinders weer 'n slag te besef, en te laat blyk, hoe veel hul vader vir hulle beteken. Op daardie dag moet vaders 'n bietjie ekstra dankbaarheid en waardering ontvang.

Ek weet: nie alle kinders sal op 20 Junie Vadersdag hou nie. Daar is mos kinders wat g'n vader meer het nie. Of kinders wie se vader weggeloop het. Daar is kinders wat g'n dankbaarheid en waardering teenoor hul vader voel nie, maar 'n diepe teleurstelling of selfs verbittering.

Sondag 9 van die Kategismus wil egter vanaand aan ons leer dat dit vir Gód se kinders nie net een dag in die jaar nie, maar elke dag Vadersdag moet wees. En dat dit by hierdie hemelse Vader ook elke dag Vadersdag kán wees.

Sondag 9 wek ons op om elke dag van ons lewe dankbare en verwonderde kinders van ons hémelse Vader te wees en te wys dat ons by Hom hier op aarde tuis voel.

Hierdie aarde is mos God die Vader se aarde.

Talle mense beskou hierdie wêreld as die méns se wêreld. Hulle herken en erken ons God en Skepper nie meer in hul lewe nie. Hulle sien maar net die mens, met sy doen en late, met sy moontlikhede en beperkthede. Hulle glo dat die hele lewe op ons aarde deur natuurwette geregeer word. Die son kom elke oggend wetmatig op, reënbuie val of bly weg volgens voorspelbare wetmatighede, en sa die mens derglike wetmatighede deurbreek moet hy ook die katastrofale gevolge daarvan dra.

Ons behoort egter van beter te weet. Hierdie wêreld is nie ons wêreld nie. Dit is God se wêreld. Hy het dit eendag geskep en onderhou dit nog elke dag met 'n groot sorgsaamheid. Daar val geen mossie dood van die dak af sonder sy wil nie.

Ons mag selfs nog meer weet: hierdie God en Skepper is ook nie 'n ver en onbereikbare Wese aan Wie se grillerige nukke ons uitgelewer is, en wat om die een of ander onbegryplike rede ons lewe op aarde telkens weer in ellende laat vasloop nie.

Hierdie God en Skepper wil ons Vader wees!

Het u gesien, broeders en susters, hoe die Kategismus veral die Váder-wees van God benadruk: "Die ewige Vader van ons Here Jesus Christus, Hy wat ook die Skepper is..... is ook my God en My Vader". Dít is die hoofsin, en dus die hoofsaak.

En wie durf daar nog aan die liefde van hierdie Vader te twyfel?

Hoekom, dink u, noem die Kategismus ons Vader in Sondag 9 nadruklik: "Die ewige Vader van ons Here Jesus Christus"? Ja, daardie aanduiding maak duidelik dat God ons nooit nodig gehad het nie. Hy is van óns liefde nie afhanklik nie. Hy het van ewigheid af al 'n Seun gehad. Hy was ook sonder ons al Vader.

Maar die Kategismus noem God hier nie: "Die ewige Vader van God die Seun" nie. Opsetlik is geskrywe: "Die ewige Vader van ons Here Jesus Christus". Daarmee vra die Kategismus nadruklik aandag vir God se verregaande liefde vir óns: So lief het God ons, dat Hy, in weerwil van al ons sondes, sy eie Seun na die aarde gestuur het om ons van die ondergang te red!

Hierdie God wil My Vader wees. En u en ek mag sy kinders wees. Maar daarom moet hierdie wêreld, wat deur ons almagtige Vader geskep is en nog steeds deur sy ewige raad en voorsienigheid onderhou en geregeer word, ook ons tuiste wees.

Daarvoor wil Sondag 9 van die Kategismus ons vanaand weer 'n oog laat kry. Sodat elke dag 'n Vadersdag sal wees.

Daarom het ek die boodskap van hierdie preek ook so saamgevat:

DIT IS ELKE DAG VADERSDAG

EN EK ROEP U OP

  1. OM U DAAGLIKS OOR VADER SE SKEPPINGSWERK TE VERWONDER, EN
  2. OM DAAGLIKS VADER SE HERSKEPPINGSWERK TE VERWAG

1. Eintlik is dit nogal opvallend, gemeente, dat die naam van ons Here Jesus Christus so nadruklik in hierdie Sondag genoem word.

Sondag 8 het vir ons aangewys dat ons die boodskap van die hele Bybel in 3 dele kan saamvat: die Bybel roep ons op om te glo in God die Vader en ons skepping, in God die Seun en ons verlossing, en in God die Heilige Gees en ons heiligmaking.

Vanaf Sondag 9 wil die Kategismus nou meer in besonderhede met ons bespreek wat dit beteken om in hierdie drie Persone van die drie-enige God en hul werk te glo. En dus fokus ons allereers op God die Vader en ons Skepping.

Moet maar kyk: dit staan selfs as die opskrif bo Sondag 9 geskryf.

Dus sou 'n mens verwag dat in hierdie Sondag die Persoon en die werk van die Vader alle aandag ontvang, en dat die Seun en die Heilige Gees voorlopig min of meer op die agtergrond bly.

Hoekom trek die Kategismus God die Seun, ons Here Jesus Christus, dan so opvallend na die voorgrond? : Ons almagtige Skepper en Vader is "die ewige Vader van ons Here Jesus Christus"; en Hy is "terwille van sy Seun Jesus Christus" ook my God en Vader.

Waarom word die verlossingswerk van God die Seun direk so nadruklik met die skeppingswerk van God die Vader verbind?

Ek het so pas al gesê dat die nadruklike vermelding van die naam van ons Here Jesus Christus ons wil herinner aan die onbegryplike groot liefde van God die Vader vir ons.

Daar is egter nog 'n ander rede hoekom die Kategismus in een asem praat van sowel die skeppingswerk van God die Vader as die verlossingswerk van God die Seun.

Dit is naamlik veral gedoen om wal te gooi teen 'n verkeerde neiging wat daar regdeur die geskiedenis was, om Christus se verlossingwerk teenóór Vader se skeppingwerk te plaas.

Telkens weer was daar mense wat gedink het dat die Here Jesus Christus ons nie soseer van die sonde wat in ons woon nie as van die wêreld waarin ons woon, kom verlos het. Volgens hulle het hierdie wêreld as gevolg van ons sondeval volkome sleg en verwerplik geword. Hulle het aanvaar dat God grotendeels sy rug op die aarde gedraai het; en dat ons, wat deur Christus weer tot sy kinders aangeneem is, dit dus ook behoort te doen.

Derglike mense het alle belangstelling vir die natuur, vir kuns en kultuur, vir hul daaglikse werk, vir politiek en wetenskap verloor en hulleself met 'n die argument dat 'n Christen hom met "die hoëre dinge" moet besighou, uit die bruisende lewe teruggetrek. Hulle was mos hemelburgers, en die saligheid van die siél- dit was mos alleen nog maar belangrik.

Die agtergrond van hierdie dwaling moet ons in die heidendom soek.

Volgens 'n filosofie wat al baie oud is, is die menslike siel afkomstig uit 'n hoëre, goddelike wêreld. Hierdie aarde met sy natuurlike dinge is die wanproduk van 'n laere, ja, slegte godheid. Ongelukkig het die menslike siel op die een of ander manier vanuit daardie hoëre, geestlike wêreld in hierdie laere, aardse wêreld tereg gekom. Die lewe in 'n liggaam hier op aarde voel vir die goddelike siel soos die verblyf in 'n tronk. Hy sal hier op aarde nooit tuis voel nie, en na die beter, geestelike wêreld hierbo bly verlang.

As u name by hierdie ou heidense dwaling soek: U het dalk wel 'n keer van die Griekse filosoof Plato gehoor, en van die Gnostiek, en die Manicheïsme.

Hierdie dwaling het 'n hardnekkige invloed op die Christendom gehou.

Ons lees al van hierdie dwaling in Paulus se eerste brief aan Timotheüs, die vierde hoofstuk. Toe reeds was daar mense wat die geniet van bepaalde kos, die liefdesspel tussen man en vrou in die huwelik en so meer wou verbied, omdat hulle as "verloste mense" hierdie tipe van goed as 'n belemmering beskou het om heeltemal in die "geestelike dinge" te kan opgaan.

In later eeue was daar mense wat hulle selfs so veel as moontlik fisies uit hierdie wêreld wou terugtrek en daarom die res van hul lewe as kluisenaars, of selfs bo-op 'n pilaar buite die samelewing, in die woestyn, deurgebring het.

En u weet natuurlik ook van die kloosters waarin monnike en nonne hul gedeeltelik van die wêreld afgesonder het om hulle heeltemal aan die Here te kan wy.

Daarna het die stroming van die Wederdopers 'n paar eeue aan sy mense geleer om jou te verhef bo die lewe van hierdie wêreld omdat Christus ons uit hierdie wêreld kom wegroep het.

Wanneer 'n Christen so dink en so maak, sal hy miskien nie beweer, soos die heidene, dat hierdie wêreld sleg geskep is nie. Maar hy glo wel dat die skepping deur ons sondeval sleg en verwerplik geword het.

En dit is ewe goed 'n ernstige dwaling.

Die sképping het nie sleg geword nie - óns het sleg en verwerplik geword! Ons het ons rug op God gedraai. Ons het ons oë vir die skoonheid van Vader se skepping gesluit en ons plek as kind in Vader se wêreld verlaat.

Daarom het daar wel 'n vloek oor die lewe op aarde gekom as gevolg van ons sondeval, maar God het Hom nooit van sy skepping afgekeer nie. Hy sál dit ook nie doen nie, daarvoor het Hy sy skepping te lief! Die feit dat Hy sy eie Seun uit die hemel aarde toe gestuur het, is wel die beste bewys dat God sy skepping nie losgelaat het nie: "so lief het God sy wêreld gehad dat Hy sy Eniggebore Seun gegee het..... ". Hoe sou God dit ook ooit kon prysgee: sy kosmos, die kunswerk wat uit sy skeppershande tevoorskyn gekom het? Hy het mos Homself in hierdie kunswerk gelê.

Daarom het Hy sy Seun na die aarde toe gestuur: om sy skeppingswerk te red.

Maar wat moes Christus hier op aarde doen?

Het Hy gekom om ons uit hierdie slegte wêreld uit te haal nie?

Inteendeel, Hy het juis gekom om die slegtheid uit óns te haal. Hy het gekom ons op ons oorspronklike plek in sy Vader se skepping terug te sit, sodat ons weer as kinders van sy hemelse Vader op aarde sal lewe.

Hy het Vader in ons lewe teruggebring en elke dag vir ons weer tot 'n Vadersdag gemaak.

Hy vra nie van ons om ons rug op hierdie wêreld te draai nie. Hy leer ons juis om weer 'n oog vir hierdie wêreld te hê as die skepping van sy en ons hemelse Vader. Ons moet weer tuis voel hier op aarde, omdat ons orals ons hemelse Vader, die almagtige God, raakloop in die werk van sy hande. Ons moet weer met 'n loflied op ons lippe in hierdie wêreld rondloop: "O HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!"

Ons moet hier op aarde weer rondloop en rondkyk soos die digter van die Psalm wat ons vanaand saam gelees het: Psalm 104.

Daardie man het sy God herken in al die dinge waarmee 'n mens daagliks in aanraking kom: die son, die wind en die wolke, die see en die strand, die berge en vlaktes, die riviertjies en damme, die bome en die gras, die diere en die mense.

Vir hom was hierdie skepping regtig, soos Art 2 NGB dit noem, "soos 'n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien".

Alles in hierdie wêreld is immers God se handewerk, broeders en susters. As ons mooi kyk ontdek ons op enige ding op aarde 'n naamplaatjie: "Made in heaven" of "Made by God".

Die digter van Psalm 104 het 'n oog daarvoor gehad en vol bewondering gesing: "Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak"

Maar daardie man het nie net raakgesien dat God eendag alles gemaak het nie. Hy het ook ervaar dat God nog elke sy skepping onderhou en regeer. Wanneer hy die son sien opkom het, of die wolke langs die hemel sien jaag het, wanneer hy aan die strand gestaan en die branders van die see sien aanrol en terugstroom het, wanneer hy aan die bron van 'n rivier gestaan en die water sien opborrel het, wanneer hy in die lente die gras weer sien groen word en die reën weer hoor val het, wanneer hy die voeltjies tussen die takke van die bome hoor sing het, wanneer hy in stilte van die nag 'n leeu hoor brul het, wanneer hy agter sy bord kos gesit en eet het - dan het hierdie man nie gesê: Hoe indrukwekkend is die natuur! nie. Hy het nie gemymer oor die wonder van die natuurwette nie. Maar hy het gesing: "Loof die HERE, o my siel! HERE my God, U is baie groot!"

Want Hy het orals sy hemelse Vader aan die werk gesien. Hy het by dagbreek nie gesê: kyk hoe wonderlik kom die son op! nie. Maar hy het gesing: Vader, ek sien U omhul Uself met die lig soos met 'n kleed. As hy die wind hoor huil het, het hy vir homself gesê: Hoor, God maak van die winde sy boodskappers.

As in die lente die gras weer begin groen word, het hy nie vir sy vrou en kinders gesê: Gelukkig, die gras begin weer groen word nie, maar: Kyk hoe laat ons God die gras weer groen word.

Hy het sy hemelse Vader as die Skepper en Onderhouer van hierdie wêreld besig gesien in milde reënbuie en stromende spruite, in die opkomende maan ja, in alles.

Hy het eenvoudig as 'n kind van God hier op aarde geleef en elke dag was vir hom 'n Vadersdag.

So moet ook ons in Gods se wêreld rondkyk en rondwandel, gemeente.

Daartoe het Christus ons verlos. Sodat ons ons, na God se oorspronklike bedoeling met die mens, weer daagliks sou verwonder oor die werk van ons hemelse Vader in sy skepping.

Sien u nog wel orals die naamplaatjies raak: "Made in heaven"? Verwonder u u nog wel oor die blomme in u tuin en die voëlties in die bome, oor die miere op u stoep en die krieke in 'n somernag? Besef u nog wel ons Vader se handewerk so dikwels as wat u die lig aanskakel of in u motor klim, so dikwels as wat u 'n vliegtuig of 'n helikopter sien oorvlieg, so dikwels as wat u die telefoon gebruik, na die radio luister of agter u rekenaar gaan sit? Leer u nog wel vir u kinders om met verwonderde oë in hierdie wêreld rond te kyk?

Elke keer behoort daar die loflied op ons lippe te wees: "HERE my God, U is baie groot. Hoe talryk is u werke, o HERE. U het hulle almal met wysheid gemaak!"

Met daardie loflied in u hart moet u ook elke dag weer aan die werk spring, daar waar Vader u 'n plek in sy skepping gegee het.

Ook dit behoort mos by Vader se oorspronklike skeppingsplan: die aarde is vir die mens nie 'n vakansieoord nie, maar 'n werksplek. Ons mag as God se kinders daaraan meewerk dat hierdie wêreld al hoe meer ontwikkel en uitgebou word. Dat daar al hoe meer blyke van Vader se Skeppersgrootheid aan die lig gebring word.

Ook dit het die digter van Psalm 104 geweet. Kyk vs 23: as die son weer opkom gaan die mens uit na sy werk en na sy arbeid tot die aand toe.

Na 'n goeie nagrus span hy hom weer in om sy kop en jou hande te gebruik as direkteur of werknemer in 'n besigheid, as leerling in die skool, as student aan die universiteit, as ma in 'n besige gesin. Hy hou hom weer 'n dag lank met die tegniek besig en soek om die moontlikhede wat daar nog in die skepping verborge lê, te vind en te ontwikkel. Hy steek 'n graaf in die grond en bestudeer protone en neutrone onder 'n mikroskoop. Hy dink na oor en werk saam aan politieke oplossings vir die probleme in die land waarin ons leef; hy skryf boeke en maak musiek, hy bewonder skilderye en beeldhouwerk.

So is die mens in hierdie wêreld tuis.

Elke dag is vir hom 'n Vadersdag.

3. Maar stel ek nou nie die prentjie al te rooskleurig voor nie, broeders en susters?

Vader se wêreld is mos nie alleen indrukwekkend nie. Dit kan ook angswekkend wees! Moet ons regtig elke dag as 'n feesdag beleef? Daar is mos baie dae vol verskrikking!

Ek het reeds gesê dat daar sinds die sondeval 'n vloek oor die wêreld lê. Die Kategismus noem dit die aarde vandag tereg 'n jammerdal, waar heelwat trane val.

Die wêreld is vir ons as 'n tuiste geskep, maar ons kan ons hier dikwels bra verlore voel.

Mense maak dat jy jou dikwels 'n vreemdeling in hierdie wêreld voel en soms letterlik 'n vlugteling word.

Die digter van Psalm 104 het gesien hoedat God die son soggens laat opkom, en 'n verkoelende windjie laat waai, hoe Hy reën en gras gee, voëltjies laat sing en mense fluitende na sy werk toe laat gaan.

En inderdaad, so kan 'n mens ons hemelse Vader besig sien in vrede- en vakansietyd.

Maar dis mos nie altyd sulke tyd. Ons sien God ook heel anders besig: God kan ook die verskriklikste dinge in sy skepping aanrig: aardbewings met derduisende dooies, orkane wat dood en verderf saai, verskroeiende droogtes wat jou plaas na 'n bankrot toe dryf, donderstorms wat 'n veelbelowende oes in 'n halwe uur platslaan, siektes en epidemieë wat mense ten grawe sleep, vliegtuie wat val, kinders wat verongeluk word......

Daardie dinge is ewemin bloot die gevolg van natuurwette. Derglike dinge gebeur ook nie omdat, soos bepaalde teoloë ons vandag wil wysmaak, God nog nie, of nie meer volledig in beheer oor sy skepping is en sake hand-uit ruk nie. Nee, ook daarin is die hand van die almagtige Skepper wat sy wêreld nog van dag tot dag onderhou en regeer.

Maar kan 'n mens dan nog steeds bly sing: "Loof die HERE, o my siel. HERE my God, U is baie groot! U het u werk klaarblyklik met wysheid gemaak"?

Kan ek Hom dan nog as my hemelse Vader aanbid en bewonder?

Ja, gemeente, want ook in daardie verskriklike dinge laat die almagtige God voel dat Hy hier op aarde Vader wil wees.

Immers, hoekom laat God sulke verskriklike dinge gebeur?

Hy laat dit vanaf die dag van die sondeval gebeur omdat eiewyse en selfversekerde mensekinders sy vaderliefde verag het; omdat Hy as Vader nie die dank en aanbidding ontvang wat Hy verdien nie; omdat die meeste mense selfs die duidelikste bewys van sy liefde verwerp: sy Eniggebore Seun wat Hy as Redder gegee het.

Ons moet ook in oorloë en rampe, in siekte en geweld ons almagtige Vader besig sien, broeders en susters. Ook moeilike dae is Vadersdae.

Ook op sulke dae is Vader vir ons beswil besig.

Deur daardie verskriklike dinge verrig Hy naamlik sy herskeppingswerk. Daardeur breek Hy alle hoogmoed en goddeloosheid af in sy wêreld en berei Hy 'n nuwe, skoongemaakte, skepping voor.

Daarvoor het tog ook die digter van Psalm 104 wel 'n oog gehad. Kyk hoe eindig hy sy lied: "Mag die sondaars omkom van die aarde en die goddelose mense nie meer wees nie!".

Meer as een verklaarder het hom vererg oor hierdie slot van so 'n mooie "natuurpsalm". Moet 'n loflied eindig met 'n vloek?

Maar u verstaan nou tog hierdie einde?

Die almagtige Skepper wil Vader wees op aarde. Daarvoor het Hy selfs sy Eniggebore Seun vanuit die hemel aarde toe gestuur. Elkeen wat Hom nou nog nie as Vader wil erken en liefhê nie, moet van die aarde af verban word. Almal wat nie deur Christus weer kind wil wees nie, moet uit Vader se huis verwyder word.

En so sien Vader se kinders in Vader se slaande hand op aarde tog 'n positiewe betekenis: dit bewys dat Vader sy wêreld nie sommer aan die sonde prysgee nie. Hy lê Hom nie magteloos by die sonde neer nie, maar laat almagtig voel dat Hy die sonde nie aanvaar nie.

Dit onderstreep dat Vader nog omgee vir sy skepping.

Dit gebeur vir ons beswil.

Dit help ons om Vader se herskepping te bly verwag.

Ook ons kan partymaal kreun onder daardie slae en verbyster staan onder die geweld. Vader kan die kwaad ook oor óns lewe beskik.

Dit kan nodig wees. Ons is mos ook maar dikwels hoogmoedig, ongehoorsaam, ondankbaar... Daar moet ook in ons lewe heelwat herskeppingswerk gedoen word.

Dus moet ons nie wanhopig of verbitterd raak as Vader ons laat swaarkry nie.

Ons moet ons gewillig daaraan onderwerp. Ons word beter daarvan!

Dit maak ons meer kind van Vader. Dit help ons om van elke dag 'n Vadersdag te maak. En as u van elke dag 'n Vadersdag probeer maak, sal God vir u elke dag tot 'n feesdag maak. Nou reeds in 'n gevloekte wêreld, en eendag in 'n herskape wêreld.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)