Die almagtige Skepper is ons getroue Vader

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 9
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 9 H.K.

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 33: 1, 3, 4, 7
Gebed
(L.) Psalm 147
Ps. 147: 1, 2, 3
Prediking oor Sondag 9 HK
Ps. 33: 10, 11
Geloofsbelydenis
Ps. 33: 2
Gebed
Kollekte
Ps. 90: 1, 9
Seën

Broeders en susters,

Die Apostoliese Geloofsbelydenis is een van die oudste, maar ook een van die kortste geloofsbelydenisse van die Christelike Kerk.

In net 12 Artikels is die hele Bybel saamgevat. Die hele oseaan van die Evangelie word vir ons in 'n neutedop aangebied.

U sal verstaan: om die hele Skrif so te kan saamvat, moet 'n mens die Bybel deur en deur ken. Jy kan 'n lank verhaal eers helder en oorsigtelik in 'n paar woorde weergee, as jy jou daardie verhaal van A tot Z eie gemaak het.

Maar die opstellers van die Twaalf Artikels hét dit!

Ja, hulle het die Skrif so goed gelees dat hulle verstaan het dat ons die hele Bybel eintlik nog korter as in 12 artikels kan saamvat. Die Kategismus het dit in die vorige Sondag, Sondag 8, aangewys. As 'n mens alle strale van die Evangelie opvang en soos met 'n brandglas saambring, spring daar in die brandpunt nog maar net een woord vorentoe: GOD.

Ons moet wel onderskei in drie Persone: die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Maar dan praat ons nogtans van ons een God.

Dit gaan in die hele Bybel oor hierdie een God.

Die Kategismus gaan vanaf Sondag 9 alle twaalf artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis met ons lees. Maar dit beteken dus dat ons na allerhande fasette van ons Gód gaan kyk.

Dit blyk al dadelik by die eerste artikel: Die Apostoliese Geloofsbelydenis begin daar waar die Bybel ook begin, Genesis 1, die skepping van die hemel en die aarde.

Maar ons gaan eintlik nie kyk na die skepping nie, maar na die Skeppér.

Die Apostoliese Geloofsbelydenis vat in sy eerste artikel nie saam wat daar alles in die eerste dae van die wêreldgeskiedenis gebeur het nie. Maar die belydenis vat saam Wie die Gód van daardie eerste dae vandag in my lewensgeskiedenis vir my is.

Die God wat op die eerste dag hierdie wêreld begin skep het, kom in die eerste artikel van die Twaalf Artikels dadelik na my toe as my God en my Vader.

So mag ook ek die HERE vanaand dus aan u verkondig. Ek vat my boodskap soos volg saam:

DIE ALMAGTIGE SKEPPER IS ONS GETROUE VADER

SO MAG U HOM KEN

  1. IN SY SKEPPING VAN HIERDIE WÊRELD
  2. IN SY VERLOSSING DEUR SY SEUN
  3. IN SY VERSORGING VAN U LEWE

1. Iemand het die beskrywing van die skepping in Genesis 1 'n keer vergelyk met 'n dagboek van 'n vrou wat haar eerste kind verwag.

Probeer uself indenk dat u die dagboek van u ma in hande sou kry waarin sy presies beskrywe het hoedat sy haarself voorberei het op u geboorte. Sy vertel hoedat die babakamertjie ingerig is, opnuut geverf; dit het nuwe muurpapier en nuwe gordyne gekry, die wiegie is gekoop, daar is al kleertjies, doeke en so meer gereedgelê..... Die naam word gekies ingeval dit 'n seuntjie en ingeval dit 'n dogtertjie gaan wees....... Ek is seker, as u so'n dagboek van u ma sou vind en lees, sou dit u sonder twyfel ontroer.

Nou maar goed, lees dan met minstens so veel ontroering die dagboek van u hemelse Vader in Genesis 1, waarin Hy skriftelik vasgelê het hoedat Hy vol liefde, dag vir dag, 'n hele wêreld op ons koms voorberei het.

Want so moet u die verhaal van die skepping aan die begin van die Bybel lees.

Hierdie hele wêreldwoning is deur God tevoorskyn gebring en ingerig het om ons, die mens, die mooiste skepsel van God: sy kind te kan ontvang. Hy het die son geskep as die sentrale verwarming vir die hele aarde en tegelyk sy ligbron, die maan en die sterre as die lampe wat selfs die nag verlig, die droë grond met sy berge en valleie, sy groen weivelde en sy blommeprag as die tapyt waarop ons mag woon, die bome en berge as die muurversiering om ons heen, voëls en visse, die ander diere, as die speelgoed waarmee ons mag speel.

En toe kon die mens maar kom.

Hy wat van ewigheid af al die Vader van sy Eniggebore Seun, die tweede Persoon in die goddelike Drie-eenheid, was, wou ook die Vader van mensekinders word. Van mense wat sy beeld en gelykenis sou vertoon. Mense wat in hul doen en late sy doen en late sou weerspieël. Mense na wie al sy liefde kon uitgaan en van wie Hy ook 'n hartlike liefde terugverwag het.

U weet: daar is mense wat niks van die verhaal van Genesis 1 glo nie. Hulle sê dis net 'n mite, 'n storie van gelowiges uit 'n meer primitiewe tyd wat hulle fantasieë omtrent die ontstaan van die aarde vasgelê het.

Maar dis geen geskiedenisbeskrywing van iets wat regtig so gebeur het nie. Ons weet mos vandag van beter.

Die wêreld met sy plante en diere en mense is nie in net 6 dae met 'n enkele woord tevoorgeskyn geroep nie. Die wetenskaplikes het ontdek dat dit alles uit 'n oersel ontwikkel, geëwolueer het oor 'n tydperk van miljarde jare.

Die lewende wesens op aarde het geleidelik ontwikkel, uit slymerige waterdiere het daar diere ontwikkel wat ook op die land kon beweeg, vinne en vleuels het tot pote ontwikkel, die instink het ook al hoe meer ontwikkel....

En so het daar op die duur via die ape mense ontstaan, aanvanklik nog baie primitief, maar nogtans mense wat slimmer is as al die ander lewende wesens.

En moet maar kyk: daardie ontwikkeling duur nog steeds voort: vergelyk ons vandag met die primitiewe mens uit die oertyd, ja, vergelyk ons ook maar met die mense van 100 jaar terug: ons het mos al weer baie meer ontwikkel as hulle! Ons stuur vandag ruimtetuig na die maan en ander planete, ons werk met rekenaars en faksmasjiene...

So praat vandag talle mense oor die ontstaan van die lewe op aarde. Hulle glo aan die evolusieteorie. Ons kinders kry dit in hulle handboeke van die skool, die professore in die universiteit leer so.

En hierdie teorie het soveel invloed dat talle christene wat wel aan die Bybel wil bly vashou en wil glo in ons Vader in die hemel, so beïndruk raak deur die evolusieteorie dat hulle probeer om daardie goddelose teorie en die verhaal van Genesis 1 op 'n manier te kombineer. Hulle lees die evolusie in die skeppingsverhaal in. Genesis 1 praat gewoon van 6 dae, maar hulle sê: daar staan mos ook in die Bybel dat by die HERE een dag soos duisend jaar is. Daar is waarskynlik met die dae in Genesis 1 tydperke bedoel, nie net dae van 24 uur nie. En jy kry tog ook in Genesis 1 'n ontwikkeling van laer na hoë? , sê hulle. Moet maar kyk: dit begin met seediere en voëls, daarna kom daar kruipende diere, dan die vee en so meer en eers heeltemal aan die einde die mens.

U sal moet kies, broeders en susters: óf u bly die verhaal van Genesis 1 lees soos dit in u Bybel staan; te wete as 'n feitlike verslag, geen mite of fabel of wat ook al nie, maar geskiedenisbeskrywing van die wyse waarop die almagtige God die wêreld toeberei en ons, sy kinders tot lewe geroep het.

Of u word 'n aanhanger van die evolusieteorie. Maar in daardie geval moet u u hele Bybel maar weggooi. Want in daardie geval kan God nie meer u Vader wees nie. Dit is naamlik gans en al onmoontlik om die evolusieteorie en skeppings- geskiedenis van die Bybel te kombineer.

In die evolusieteorie is daar mos hoegenaamd geen plek meer vir God as ons Vader nie. Die mens is ook geen kind van God, anders as al die ander skepsels spesiaal geskep na God se beeld en gelykenis meer nie. Die mens is 'n produk van ontwikkeling en hy ontwikkel nog steeds. Volgens natuurwette.

Maar die mens kan nie meer God se kind genoem word nie. U verstaan dit tog? Volgens die evolusieteorie was daar mos êrens in die wêreldgeskiedenis 'n geleidelike oorgang van dier na mens. Dit het eeue gevat, maar notans: gorilla - aap - mensaap -mens.

In watter stadium kon God nou van sy kind begin praat???

Wanneer was 'n lewende wese so ver ontwikkel dat hy geweet het: God is my Vader???

Moet ons die aap 'n halwe kind van Gods noem?? Of selfs al byna-byna 'n kind van God??

Genesis 1 daarenteen laat geen enkele ruimte vir die gedagte aan 'n geleidelike ontwikkeling van 'n mens uit 'n aap nie. Juis nie. Die mens is heeltemal anders geskep as al die ander lewende wesens.

Die HERE het al die ander skepsele met een magswoord geroep: "Laat die waters wemel met gewemel van lewende wesens; laat die voëls oor die aarde vlieg; laat die aarde lewende wesens voortbring, vee, kruipende diere, wilde diere... ".

Maar toe op die sesde dag alles in gereedheid gebring was vir die koms van die mens, het God die mens nie eenvoudig tevoorskyn geroep nie. Hy het uit die klei, die leem van die aarde 'n pop geboetseer en vervolgens in daardie dooie pop sy lewensasem ingeblaas. En toe staan daar skielik 'n springlewende, volledig ontwikkelde mensekind. Maar ook 'n mens wat uit die staanspoor 'n afhanklike skepsel was: geen wese met 'n moontlikheid in homself om te evolueer nie, maar 'n skepsel volkome afhanklik van sy Skepper soos 'n kind van sy vader. Sonder sy hemelse Vader kon Hy niks doen nie. Maar met sy God en Vader kon hy die hele wêreld regeer.

Bly dus maar liewer u Bybel lees soos dit daar eenvoudig staan, broeders en susters, as u u goddelike Vader nie wil verloor nie.

Die evolusieteorie maak 'n mens hoogmoedig. Die evolusieteorie leer die mens om vanaf die hoogte waartoe hy ontwikkel het, neer te kyk op al die laer en meer primitiewe wesens onder hom. Terwyl die Bybel ons leer om nederig op te kyk na ons God en Vader wat almagtig bo ons troon.

Die evolusieteorie leer 'n mens om net vir jouself besig te wees hier op aarde. Jy soek jou eie verdere ontwikkeling, jy veg daarvoor om die hoogste en vernaamste wese op aarde te bly. Terwyl die Bybel ons leer om in hierdie wêreld met al die moontlikhede wat ons ontvang het Vader se eer, die ontplooiing van Vader se skepping te soek sodat Vader 'n Naam bo alle naam sal hou.

Maar die evolusieteorie werp 'n mens ook op homsélf terug: in die evolusie wat steeds aangaan, is daar 'n "struggle for live", 'n stryd om te oorleef, omrede daar sprake is van slegs die "survival of the fittest", die oorlewing van die sterkste spesie. Die toekoms is dus nie net 'n uitdaging nie maar ook 'n aanhoudende bedreiging.

Terwyl die Bybel ons telkens weer op ons God terugwerp. Ons lewe is in sy hande en daar is dit ook in goeie hande. Die wêreld met al ons medeskepsele hoef vir ons geen bedreiging te vorm nie. Dit is ons tuiste, die woning wat Vader vir ons ingerig het en waarin alles, die grootste berge tot en met die kleinste goggatjies, die sonskyn en die reën, my kos en die klere wat ek mag dra, ja alles getuig van sy wysheid en grootheid.

En ons hoef nie sélf 'n toekoms te beveg nie, ons kry dit uit sy almagtige vaderhande.

2. Wanneer die Kategismus praat van die almagtige Skepper wat ons getroue Vader wil wees, noem hy Hom "die ewige Vader van ons Here Jesus Christus". So kan ons vandag alleen nog maar oor ons Skepper en Vader praat.

Want ons leef nie meer in die Paradys van Genesis 1 nie. En ons het alle regte om God Vader te noem, verspeel. Ons het in sonde ons rug op Vader gedraai.

Nogtans wil God nog steeds my God en my Vader wees. En Hy kán dit ook weer wees, ten spyte van al my ongehoorsaamheid en opstandigheid, omdat sy Seun Christus dit weer moontlik gemaak het.

Jesus Christus is die bewys hoe graag God ook Vader van mensekinders wil wees.

God is die ewige Vader van sy Seun. Hy was dus ook al Vader voordat Hy mense geskep het. Hy het ons nie nodig gehad nie. Hy het egter ook ons, u en my, gesoek. Daarvoor het Hy hierdie wêreld tevoorskyn geroep.

Maar daarvoor het Hy, toe ons in eiewysheid ons rug op Hom gedraai het, selfs sy Seun in die hemel aarde toe gestuur om ons by Hom terug te bring. Sodat Hy weer ons Vader kan wees.

Maar, gemeente, as God deur Christus weer ons Vader wil wees, wil Hy weer die Vader van Genesis 1 wees! Die Vader wat hierdie aarde tot 'n tuiste vir sy mensekinders gemaak het. God het sy Eniggebore Seun aarde toe gestuur om ons terug te sit op ons oorspronklike plek in sy wêreldwoning. Sodat ons daar weer sou tuisvoel; sodat ons daar weer met al die gawes wat ons van Vader ontvang het, vir Vader sou besigwees; sodat ons daar weer sou werk aan die onderhouding en ontwikkeling van Vader se skepping; en so Vader se eer vergroot.

So was mos vanaf die Skepping God se plan gewees.

Dit is in die geskiedenis van die kerk dikwels misverstaan. Daar is dikwels gedink dat mense wat deur Christus van hulle sondes verlos is, hulle voortaan nog slegs met "die hoëre dinge" moet besig hou. Mense het belangstelling vir die natuur, vir kuns en kultuur, vir politiek, verloor en hulleself met 'n vroomklinkende argument uit die bruisende lewe teruggetrek. Hulle was mos hemelburgers, en die saligheid van die siél- dit was mos alleen nog maar belangrik.

Wie so dink en so maak, meen dat die skepping deur ons sondeval sleg en verwerplik geword het. Maar die sképping het nie sleg geword nie- óns het sleg en verwerplik geword! God het sy skepping egter nooit verwerp nie.

Daar het wel 'n vloek oor die lewe op aarde gekom as gevolg van ons sondeval, maar God het die onderhoudswerk darem nie beëindig nie. Hy sál dit ook nie beëindig nie; Hy het aan Noag na die sondvloed belowe dat Hy die aarde dag vir dag sal bly onderhou en regeer.

Die feit dat Hy sy eie Seun uit die hemel aarde toe gestuur het, is wel die beste bewys dat God sy skepping nie losgelaat het nie: "so lief het God sy wêreld gehad dat Hy sy Eniggebore Seun gegee het..... ". Hoe sou God dit ook ooit kon prysgee: sy kosmos, die kunswerk wat uit sy skeppershande tevoorskyn gekom het? Alles in Hom trek na die wêreld toe.

Daarom het sy Seun ons nie uit die skepping kom weghaal nie. Hy het ons slegs op ons oorspronklike plek teruggesit. Om daar weer te leef en te werk volgens Vader se oorspronklike bedoeling. En om so saam met Hom aan die herstel van sy deur ons sonde geskonde skepping te werk.

M.a. w.: om weer gewoon jou kop en jou hande te gebruik as ma in 'n besige gesin, as direkteur of werknemer in 'n besigheid, as leerling in die skool, as student aan die universiteit; om weer met die tegniek besig te wees en die moontlikhede wat daar nog in die skepping verborge lê, te soek en te ontwikkel; om saam te dink oor en saam te werk aan politieke oplossings vir die probleme in die land waarin ons leef; om te stry teen dieremishandeling, rommelstrooi en onnodige omgewingsbesoedeling; om boeke te skryf, musiek te maak en te geniet, skilderye en beeldhouwerk te bewonder.

Só het die HERE ons lewe uit die staanspoor bedoel. Dus as ons in al daardie dinge weer as sy kinders besig is, kyk Hy weer met vreugde en welgevalle op ons lewe neer.

En as u dus 'n christen wil wees, moet u daardie gewone dinge nie minag nie, maar juis ook daarin u Vader wil blymaak.

En ontwikkel by uself en by u kinders dan ook maar 'n liefde vir Vader se werk in die diere- en die plantewêreld. Bewonder die blomme en bome in u tuin, die groot verskeidenheid aan skulpe op die strand, die massiewe berge met hul watervalle, al die diere in die dieretuin, maar nog mooier: in hul natuurlike omgewing in die talle wildparke wat daar in ons land is. Dit is alles bewyse van die grootheid van ons hemelse Vader. Dus maak ons Vader bly daarmee as ons dit raaksien en daardeur beïndruk is.

3. Vader se wêreld is egter nie alleen indrukwekkend nie. Dit kan ook angswekkend wees!

Ek het reeds gesê dat daar sinds die sondeval 'n vloek oor die wêreld lê. Die lewe is nie meer 'n Paradys nie. Die Kategismus noem dit nou 'n jammerdal, waar heelwat trane val.

Die wêreld is vir ons as ons tuiste geskep, maar ons kan ons hier dikwels bra verlore voel.

Mense maak dat jy jou dikwels 'n vreemdeling in hierdie wêreld voel en soms letterlik 'n vlugteling word.

Maar God self kan ons ook verwar en verskrik met dit wat Hy in sy skepping aanrig: aardbewings met derduisende dooies, orkane wat dood en verderf saai, verskroeiende droogtes wat jou plaas na 'n bankrot dryf, donderdstorms wat 'n veelbelowende oes in 'n halwe uur platslaan, siektes en epidemieë wat mense ten grawe sleep......

Daardie dinge is geen toevallighede nie. Ook daarin is die hand van die almagtige Skepper wat sy wêreld nog van dag tot dag onderhou en regeer. Hy laat dit vanaf die dag van die sondeval gebeur om eiewyse en selfversekerde mense weer klein te maak en te laat voel dat hulle niks is teenoor Hom nie. Wie nie wil hoor nie, moet maar voel.

Ook ons kan partymaal kreun onder daardie slae en verbyster staan onder die geweld. Maar u en ek, broeders en susters, ons moet nie wanhopig of verbitterd raak nie. Dis mos ons Vader wat dit laat gebeur! Die Vader van ons Here Jesus Christus! Die God wat ons so liefhet dat Hy sy Eniggebore Seun nie gespaar het nie. Ons Vader wat in sulke dinge laat voel dat Hy op sy vaderhart getrap is.

Hy maak ons wel klein. Maar so hou Hy ons juis vas! So laat Hy ons weer des te beter ons plek teenoor Hom besef: kind. En as ons weer kind wil wees, mag ons seker wees daarvan dat Vader selfs die kwaad wat in hierdie tranedal oor ons lewe uitspoel, vir ons laat meewerk ten goede. Ons word beter daarvan! Hy het dit belowe. Sy Seun Christus is daarvoor die beste waarborg.

Hy kán dit ook. Hy kan sommer alles verander in my lewe. Waar alles uitsigsloos gelyk het, kan Hy sommer nuwe perspektiewe open. Selfs waar die dood geheers het, kan Hy nuwe lewe skenk.

Kyk maar mooi na sy skepping om u heen, en na die wyse waarop u getroue Vader as die almagtige Skepper dit onderhou. Daardie skepping is mos ook vol onverwagse wendings: 'n wolkelose hemel waaraan al maande 'n verskroeiende son staan, kan in 'n uur se tyd verander in 'n inkswarte lug waaruit die reën neerspoel. In die herfs en winter lyk die hele natuur te sterwe: bome word kaal, plante ryp dood. Maar kyk hoe bot alles sommer weer uit as die son weer begin warmer word. Al het daar nog geen drup reën geval, kaalgebrande grasland word sommer weer groen.

En hoe gaan dit in die dele van die wêreld waar in die winter sneeu val en alle water bevries? In een nag se tyd kry die wêreld 'n nuwe, helder witte kleed en die mens kan skielik oor die water loop. Maar wanneer die wind verander, kan ook in een nag se tyd die mooi witte kleed weer verdwyn en die ys weer in water verander...

Sulke voorbeelde het ons ook gelees in Psalm 147 vanaand.

In hierdie Psalm word die verhaal van God se verlossing van sy volk 'n hele aantal kere skielik onderbreek deur voorbeelde van God se werk in sy skepping.

Dit lyk wel of in daardie Psalm twee Psalms op 'n snaakse manier deurmekaar geraak het: 'n Psalm wat besing hoedat God sy volk uit die ballingskap in Babel na Jerusalem toe terug gehaal het; en 'n Psalm wat God se werk in die natuur besing.

Maar sien u die bedoeling van die digter van Psalm 147 dan nie raak nie, gemeente? Hy wil 'n ooreenkoms aanwys tussen God se werk in die verlossing van sy volk en die werk van God in sy skepping. Kyk hoe werk die HERE in die natuur! Kyk hoedat Hy sorg vir sterre, vee en jonge rawe! Kyk hoedat Hy die lewe van die een oomblik op die ander 'n heeltemal ander aansien kan gee! Dié God is onse God, ons getroue Vader! So mag sekerlik sy kinders op Hom staatmaak. Al oorspoel Hy die lewe ook met kommer en smart, Hy weet wat Hy maak. Hy sal sy kinders bly versorg met alles wat hulle vir liggaam en siel nodig het. En daar is vir Hom niks te moeilik nie. Hy is nog dieselfde God as in Genesis 1. Met een magswoord kan Hy alles anders maak.

Met een magswoord sál Hy eendag alles anders maak. Hy sal die aarde skoonvee van alle sondaars en van alle ellende wat deur die sonde veroorsaak is. Hy sal dooie en vergane liggame uit die graftes tevoorskyn roep en ons saam met al sy kinders as herbore 'n plek gee in 'n nuwe Paradys. In 'n herskape wêreldwoning waar ons dan vir ewig saam met Hom as ons Vader en met sy Seun Christus tuis mag voel.

Gemeente, ek het vanaand u God weer aan u mag wys, soos Hy in die hele Bybel as u Vader na u toe kom; en soos u Hom in sy skepping om u heen orals raakloop.

Laat u nie deur allerhande sogenaamde wetenskaplike teorieë hierdie Vader ontneem nie.

Wat maak ons sonder Hom?

Alleen deur Hom kan hierdie wêreld, ook as dit partymaal as 'n jammerdal ervaar word, vir ons 'n tuiste wees. Nou en tot in ewigheid.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)