Slegs deur die geloof in Christus skenk God aan verlore sondaars saligheid

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 7
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 7 H.K.

LITURGIE:
L. Hebr. 10: 19-39
Ps. 111: 1, 4
Ps. 111: 5
Ps. 119: 19, 26, 52
Ps. 9: 1, 7
Ps. 2: 6

Broeders en susters,

"Salig word" en "verdoem wees"/"verlore gaan"- hierdie twee swaar uitdrukkings sit die Kategismus in Sondag 7 teenoor mekaar.

En dit is nie maar net swaar uitdrukkings nie- dit is ook swaar sake, van beslissende betekenis vir enige mens.

Want elke mens staan voor die keuse tussen hierdie twee. En daar is geen tussenweg nie. Dit is "salig word" of "verdoem wees"; gered word of verlore gaan, ewig lewe of vir ewig dood wees. En tussen hierdie twee gaap 'n diep en onoorbrugbare kloof.

"Salig word" of "verdoem wees"- deur hierdie twee gaan die paaie van die mense vir ewig uit mekaar en die eindpunt van albei die paaie lê ewig ver van mekaar verwyder: die een pad kom in die hemel uit, die ander een in die hel.

Want God het 'n kruis op hierdie aarde geplaas, en daaraan sy eie Seun opgehang as 'n versoening van ons sondes. Maar daarmee het God hierdie kruis ook tot 'n kruispunt gemaak, waar die paaie van die mense beslissend uit mekaar gaan. By hierdie kruis val nou vir elke mens die beslissing oor "salig word" of "verdoemd wees".

Hierdie kruis stel elke mens vir die keuse. Hierdie kruis bring die krisis in die wêreld.

So spreek die HERE daaroor in sy Woord. Hy het sy Seun gestuur tot 'n val en 'n opstanding, tot 'n rots waarop jy kan bou en terselfdertyd tot 'n rots waarop jy jou te pletter kan loop. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie, wie nie glo nie is alreeds veroordeel. Want die saligheid vir sondaars het God in die hande van sy Seun gelê, en wie dit nou uit sy hande nie wil aanneem nie gaan vir ewig verlore.

Dit is die erns wat die Kategismus in Sondag 7 vir ons uit God se Woord opgevang en saamgevat het en wat ek aan u moet voorhou.

Ek bedien u God se Woord soos volg saamgevat:

SLEGS DEUR DIE GELOOF IN CHRISTUS SKENK GOD AAN VERLORE SONDAARS SALIGHEID.

Ons sal aandag gee aan drie aspekte van hierdie geloof:

  1. die geloofsvertroue
  2. die geloofskennis
  3. die geloofsbelydenis.

1. Christus se offer vir ons sondes het nie die groot begenadiging van alle mense ingelui nie, gemeente. Daar volg op die erfsonde wat Adam veroorsaak het nie die erfgenade deur Christus nie. Want genade is geen erfgoed nie. Genade is 'n onverdiende geskenk wat 'n mens verwonderd by God moet kom haal en anders sal hy dit nie kry nie.

Sondag 7 sny by ons elke verkeerde verwachting wat ons dalk na sondag 6 kon gekry het, direk af.

God hèt 'n Middelaar gegee om ons skuld by Hom te versoen. God het, toe die losprys vir ons sondes vir ons onbetaalbaar geblyk het, sy eie Seun diè prys laat betaal om vir ons die lewe terug te verdien. Christus het die Hoëpriester geword wat sy eie bloed aan God geoffer het om ons skuld by God vir altyd uit te delg. En hierdie offer was van so'n oneindige krag en waarde, bely ons in die tweede hoofstuk van die Dordtse Leerreëls, dat dit oorvloedig genoeg is om die sondes van die hele wêreld te versoen.

Maar nogtans wòrd nie die sondes van die hele wêreld, van alle mense hierdeur versoen nie!

Christus se offer beteken geen al-versoening, waardeur elke mens op aarde outomaties, of hy dit self weet of nie, gered word nie.

Hierdie gedagte het wel gedurigdeur kop uitgesteek, en veral in die moderne teologie word dit weer geleer, op so'n wyse dat 'n verkondiging van die evangelie met bevel van geloof en bekering nie meer noodsaaklik geag word nie. Elke mens is mos in prinsipe alreeds gered! Sending kan daarom ontwikkelingshulp word en evangelisasie kan deur 'n dialoog, 'n oop tweegesprek, vervang word.

Maar God self leer ons anders: Hy vra geloof en bekering. En alleen wie glo word gered.

Die brief aan die Hebreërs, waarin so uitvoerig oor Christus se unieke Middelaarskap en sy afdoende offer vir ons skuld geskrywe is, druk dit so uit, dat ons nou ook moet "toetree" en "ingaan in die hemelse heiligdom".

Daar lê weer 'n pad na God terug oop.

Die pad was geblokkeer. Onsself het deur die sonde daardie pad opgebreek. En soos geen mens in die heiligdom op aarde mog ingaan nie -die voorhangsel het mos as 'n "verbode toegang"-gordyn elke sondaar gekeer-, so mog ook geen mens meer by God in sy hemelse heiligdom kom nie.

Maar soos die hoëpriester eenmaal in die jaar tog die pad gebaan het deur die voorhangsel heen en die genade en versoening by God met bloed gekoop het, so het Christus met sy eie bloed 'n nuwe en lewende weg na God in die hemelse heiligdom ingewy.

Hebr. 10: 20 sê: Christus het hierdie nuwe pad deur "die voorhangsel van sy vlees" gebaan. Die gordyn in die tempel was maar 'n simbool. Maar die feitlike verhindering om nog ooit weer tot God te kan nader, was ons sondes. En toe het Christus al ons sondes na Hom toe gehaal en in sy eie liggaam, sy vlees saamgetrek. En so het sy geseënde liggaam die groot obstakel geword wat opgeruim moes word, stukgeskeur moes word om die pad na God toe weer oop te maak. En Hy hèt Homself laat verskeur, vernietig.

Toe God met sy eie hande op die Goeie Vrydag in die tempel die voorhangsel van bo tot onder in twee geskeur het, was dit omdat Hy eers die vlees van sy Seun, ja ons sondes in Hom, stukkend geskeur het. Daardie geskeurde voorhangsel in die tempel was die teken van God self dat die pad na Hom toe voortaan weer oop is. Ten spyte van al ons sondes. Danksy die dood van sy Seun.

Maar nou sê Hebr. 10 dus: "laat ons nou ook toetree!"

Die pad is gebaan, die belemmering van 'n voorhangsel weggeneem. Daar is geen bordjie met "verbode toegang" meer, danksy die groot Priester Christus- laat ons die pad na God nou dan ook loop.

Ja, God vra dat ons hierdie pad wat sy Seun ingewy het met sy eie bloed, nou ook loop, broeders en susters.

Dit is geloof: dat ons die pad na Hom terug gaan, noudat ons hierdie pad màg teruggaan. Dat ons Hom nou ook weer soek as ons God en Vader.

Want hierdie pad is vir ons geen maklike pad nie. Wie hierdie pad kies, moet daarmee sy groot skuld teenoor die HERE erken. Hy moet ook sy eie magteloosheid om die lewe met die HERE terug te verdien, erken. Klein en skuldbewus keer hy na die HERE weer.

Eiewyse, hoogmoedige, selfversekerde mense sal hierdie pad dan ook nie kan loop nie. Want ons moet ons voor God verootmoedig.

Die brief aan die Hebreër het al eerder, in hoofstuk 4: 16, ons opgewek om die pad wat Christus gebaan het, te loop; en toe is hierdie uitdrukkings gebruik: Laat ons na die "troon van genade" gaan, sodat ons "barmhartigheid" kan verkry en "genade" vind om, op die regte tyd gehelp te word.

Almal woorde wat ons klein maak, ja, verneder! Ons wat die dood verdien, moet om genade smeek. Die HERE moet ons barmhartigheid betoon.

Alleen wie so die pad na God terug soek, sal barmhartigheid by God vind en weer as kind aangeneem word.

Want dan mag ons die pad na God terug tog vrymoedig loop.

Ja, dis die eienaardige ding van geloof, gemeente: geloof maak jou eers skuldbewus, soseer dat jy jou wegskaam voor God, en dan gee dieselfde geloof jou die volle vrymoedigheid om nogtans voor sy troon te verskyn. Ons durf enersyds God nie meer reguit in die oë te kyk nie, maar andersyds nader ons tog vrymoedig voor sy aangesig. Ons het 'n slegte gewete, en terselfdertyd kom ons met 'n vry en goeie gewete.

Maar dit het ons dan ook alleen aan ons Here Jesus Christus te danke.

Die brief aan die Hebreërs gebruik die woord "vrymoedigheid" 'n hele aantal kere. Maar hierdie woord beteken hier meer as maar net 'n rustig gevoel in jou. Vrymoedigheid is allereers iets buite jou, wat jou so'n rustige gevoel gee. Dis hoekom die skrywer in hoofstuk 10: 35 ook kan skryf dat ons ons vrymoedigheid nie moet "wegwerp" nie.

Ons sou die woordjie "vrymoedigheid" in die brief aan die Hebreërs kan omskrywe met: "vergunning", "toegangsbewys".

As ons ons op 'n terrein bevind waar 'n mens alleen met 'n vergunning mag kom, en daar verskyn skielik 'n beampte wat ons vra of ons wel die reg het om hier te wees, dan sal ons baie onseker wees as ons nie 'n toegangsbewys kan toon nie. Maar as as so'n skriftelike vergunning saamgeneem het, sal ons met volle vrymoedigheid daardie beampte te woord staan.

Om as 'n sondige mens voor God se troon te mag nader, benodig ons ook so'n vergunning.

Daar is nog altyd 'n "verbode toegang"-gordyn. Alleen as ons 'n toegangsbewys het, gaan daardie gordyn opsy.

Maar ons het so'n vergunning! Christus het dit met sy bloed vir my gekoop. En Hy het in my doop my die vergunningsbewys gegee.

Die doop is die tasbare bewys dat ek by Hom behoort. Hy het eers een met ons geword, 'n mens soos ons, en noudat Hy ons skuld versoen het, mag ons een met Hom wees. Soos Hy ons in die tweede, extra toegangsbewys, die nagmaal, ook verseker: Hy in ons en ons in Hom. Die Kategismus gebruik daarvoor in navolging van die Bybel, 'n sterk woord, gemeente, wat ons ook in ons Doopsformulier terugvind: ons word deur die geloof by Christus "ingelyf".

Feitlik is Christus dus self my vergunnig om tot God te nader. Hy staan by die "verbode toegang"-gordyn om dit vir my opsy te skuif. Soos Hy as vir sy dissipels gesê het: "Ek is die weg. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. "

Hy is ons vrymoedigheid, broeders en susters. En Hy gee ons innerlike vrymoedigheid. Hy het my slegte gewete, die besef dat ek skuldig staan teenoor God, skoon en gee my die vrye gewete dat ek nog maar een ding besef, naamlik dat Hy ons skuld versoen het.

En in daardie vertrouwe mag ek vrymoedig toetree, in volle geloofsversekerdheid. God sal my nie wegja nie. Maar om Christus ontwil sal Hy my weer ontvang soos 'n Vader sy kind.

Broeders en susters, die pad na Vader toe lê danksy Christus weer oop. Maar u sal die pad wel moet loop. U ontvang die saligheid nie soos vanself nie. U sal dit moet kom haal.

Maar haal dit nou dan ook! Skuldbewus en nogtans met vrymoedigheid. U saligheid hang daarvan af!

As u maar net u toegangsbewys bly gebruik. As u maar u sekerheid buite uself in Christus soek, Hom en sy verdienstes omhels.

Ons kan God se troon vandag nog nie sien nie, en ons kan Christus nie meer sien nie. En vergewing van sondes, die kan dit aanwys?

Maar moenie aan u vergunning twyfel nie. Moet eenvoudig glo!

Want Hy wat dit beloof het, is getrou.

2. So'n geloof kan alleen die Heilige Gees in ons harte werk. Ek weet dit. Die Kategismus vergeet nie om dit in Sondag 7 te vermeld nie.

Soos daar by God geen al-versoening is nie, so is daar ook geen algemene versoening nie. Dit wil sê: ons moet nie dink dat God deur Christus die pad na Hom terug vir almal weer oopgemaak het sodat elkeen nou die kans het om hierdie pad te kàn loop en ons dus self moet kies, uit eie vrye wil, of ons hierdie pad ook sàl loop nie.

Geen mens sal uit homself die pad na God terug loop nie. Niemand sal sommerso die lewe buite homself soek nie. Daarvoor moet die Gees van God eers in ons harte die geloof laat ontvlam. Ek moet by Christus ingelyf word, sê die Kategismus dan ook baie noukeurig. Ek kan dit self nie doen nie.

Geloof is nie my aandeel in my verlossing van sondes nie.

Geloof is 'n gawe wat God self vir my moet gee. God wag nie of ek nou ook vir Hom sal kies nie. Hy het vir my gekies, en daarom werk sy Gees die geloof in Christus in my.

Maar ek sal daaroor vanaand nie verder uitwy nie, gemeente.

Want mens sou maklik kan dink dat ons dus maar moet afwag of die Gees ook aan my die geloof sal wil gee. Maar Sondag 7 leer ons nou juis, dat dit wel die Heilige Gees is wat die geloof in my hart moet werk en my by Christus moet inlyf, maar dat dit hoegenaamd nie beteken dat ek nou maar 'n afwagtende houding kan aanneem nie.

Want Sondag 7 wys ook vir ons hoe die Gees die geloof in ons hart werk: naamlik "deur die evangelie". En so bely ons dit mos ook in die Dordtse Leerreëls, daardie belydenisskrif wat heeltemal handel oor God se verkiesing en leer dat die geloof nie 'n voorwaarde vir die verkiesing nie, maar 'n gevolg van die verkiesing is. En dan lees ons nogtans in Hoofstuk V, art. 14: "Dit het God behaag om hierdie Goddelike genadewerk deur middel van die verkondiging van die evangelie in ons te begin. So bewaar Hy dit, sit Hy dit voort en voleindig Hy dit deur die aanhoor, die lees en die oordenking van die evangelie, deur die aansporings, vermanings en beloftes daarin en ook deur die gebruik van die heilige sakramente. "

Dit beteken dus dat ek beslis nie 'n afwagtende houding kan aanneem nie. Die Heilige Gees hou deur middel van die evangelie Christus met al sy weldade aan my voor, maar nou sal ek dit dus ook moet aanneem. Met ander woorde: ek sal moet luister, lees, oordenk, studeer.

Ek sal eers die pad wat Christus vir my met sy bloed ingewy het, kan loop as ek dit uit God se Woord leer ken het.

Geloofsvertroue kan naamlik nie sonder geloofskennis nie.

Daar was 'n tyd, broeders en susters, dat dit nodig was om veral te benadruk dat geloof nie maar net 'n kwessie van kennis was nie, maar ook van vertroue. Omdat baie kerkgangers die vrymoedigheid waaroor die brief aan die Hebreërs skryf, maar nie kon vind nie. Omdat hulle dit allereers in hulleself gesoek het. Hulle het geweet van Christus se offer vir die sondes, hulle het geweet van die pad wat Hy gebaan het, daar was dus voldoende geloofskennis, maar hulle het nie durf vertrou dat ook hulle hierdie pad mog loop nie. Hulle het geen geloofsvertroue gehad nie.

Ek wonder of dit vandag nie presies andersom is nie. Of daar vandag nie baie kerkgangers is wat nie soveel moeite daarmee het om te vertrou dat hulle danksy Christus weer God se kinders mag wees nie; maar wat maar min meer weet van alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het. Geloofsvertroue wat maar op min geloofskennis rus.

Maar as ons geloofskennis swak is, broeders en susters, kan ons geloofsvertroue nie sterk wees nie. Dan sal dit by die eerste die beste aanvegting ineenskrompel.

Het u gesien, dat die Kategismus in Sondag 7 tot twee maal toe praat oor "alles" wat God geopenbaar het, "alles" wat in die evangelie aan ons beloof word?

Ek sal die hooflyn in die Bybel moet ken, seker, soos Sondag 6 dit aangewys het: God se belofte in die Paradys na die sondeval, wat Hy eindelik deur sy eniggebore Seun vervul het. Maar ek sal ook van al die punte op daardie lyn moet weet, ek sal die kleinste besonderhede in God se Woord moet ondersoek om te ontdek hoe alles in die Ou en in die Nuwe Testament die skynwerper rig op ons Hoëpriester Jesus Christus.

Nee, dit is geen louter teoretiese kennis nie. Dit is kennis wat deur die liefde gestimuleer word. Elke bladsy van die Bybel gaan mos oor my Verlosser!

Soos 'n vereerder van Naas Botha letterlik alles oor sy rugbyheld wil weet: watter mouhemde hy dra, watter seep en naskeermiddel hy gebruik....

En soos 'n seun wat verloofd geraak het alles van sy nooi wil te wete kom, haar al hoe meer wil leer ken, totdat hy haar in die huweliksgemeenskap mag beken...... so moet u ook al hoe meer oor u Heiland wil leer. Uit liefde vir Hom.

En daarom sal u in die eerste plek trou in die kerkdienste moet kom. Kyk nog 'n slag na Hebr. 10: eers klink die aansporing om in geloofsversekerdheid die pad wat Christus ingewy het, te gebruik en om die geloofsbelydenis onwankelbaar vas te hou. Maar dan word amper in een asem toegevoeg (in vs. 25): "en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim nie". Waarby ons maar aan die gereëlde kerkdienste moet dink.

Die Heilige Gees gebruik in die eerste plek die sondagse eredienste om in die evangelie Christus en al sy weldade aan u voor te hou. Daar word die hele raad van God in die prediking aan u verkondig. Daar word sêmaar die toegangsbewys om voor die hemelse troon van genade te mag verskyn, uitgedeel en uitgelê.

Daar word u gestimuleer om ook tuis en saam in verenigingsverband die Skrifte verder te ondersoek en u geloofskennis uit te brei.

Moet dus nie maklik die kerkdienste versuim nie, broeders en susters. Moet ook nie vanweë klein kinders by die huis bly as dit nie beslis noodsaaklik is nie. Ons het smôrens mos oppasdienste gereël. Hoekom word daarvan partykeer maar so min gebruik gemaak? U het die kerkdienste nodig. Want daar begin die Heilige Gees sy genadewerk in u lewe. Daar leer Hy u alles wat God in sy Woord geopenbaar het ken: oor ons skuld teenoor Hom, maar ook oor Christus se versoening van ons skuld. Daar begin Hy die geloof in Christus in u harte te werk. Daar haal Hy u af van die pad waarop u verlore sou gaan en sit Hy u op die pad waarop u mag salig word.

3. Alles wat God ons in sy Woord geopenbaar het, alles wat in die evangelie aan ons beloof word, is wel baie, gemeente.

So veel, dat daar gemaklik verwarring sou kan ontstaan. Ons het die gesegde: "Elke ketter het sy letter", waarmee ons maar wil aandui dat ook allerhande dwaalleraars hulle op die Bybel beroep vir hul afwykende sienings.

Hoe maklik kan eiesinnige gedagtes, subjektiewe opvattings ons die regte sig op Christus gaan beneem! Of twyfel en onsekerheid saai.

En die duiwel sal definitief probeer om ons ons geloofssekerheid te ontneem en verwarring te stig.

Maar dit mag natuurlik nie.

Ons geloof moet die ongetwyfelde geloof bly.

En die algemene geloof, vir elkeen orals in die wêreld en vir alle eeue dieselfde. Omdat dit die christelike geloof is, die geloof is die Christus van God.

Hiervan hang mos af of ons sal salig word of dat ons verlore sal gaan!

Maar daarom het daar onder God se goeie sorg vir ons al gou 'n geloofsbelydenis gegroei, dit is: 'n eenvoudige maar betroubare samevatting van alles wat ons op grond van God se beloftes mag glo.

Ons lees al in die brief aan die Hebreërs van so'n belydenis. In Hoofstuk 3: 3, 4: 14 en 10: 23 vind ons diè woordjie. Blykbaar het hulle in daardie tyd alreeds 'n tipe van 'n samevatting van die evangelie geken, dalk gegroei uit die vrae wat gevra is aan mense wat hulle by die gemeente gevoeg het en gedoop mog word.

Al in die eerste eeue het uit die doopsbelydenis die Twaalf Artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis ontstaan, daardie pragtige saaklike samevatting van die leer van die apostels van Christus.

So'n geloofsbelydenis het 'n middel geword om die eenheid in die geloof te bewaar, gemeente. Om te sorg dat die kerk in alle tye en op alle plekke een en dieselfde geloof sou hou: die algemene en ongetwyfelde christelike geloof.

Later het daar meer belydenisskrifte bygekom: die van Nicea en Athanasius, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls, en die Kategismus wat ons elke Sondag gebruik.

Almal middels in diens van die Heilige Gees om dwaalleer te bestry en ons by die saligheid te bewaar. Middels om nuwe geslagte ook te bring tot dieselfde geloof as hulle voorouers.

Ons mag baie dankbaar wees dat hierdie belydenisse gegroei het.

Maar dan sal ons diè ook moet ken en gebruik, broeders en susters!

As u wil salig word, sal u Christus moet ken.

En as u Christus wil ken, sal u u Bybel moet ken.

Maar dan sal u dus sekerlik die samevatting van die Bybel in u belydenisskrifte moet ken.

AMEN.

(Pretoria, 25 September 1988)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)