Christus ons Verlosser

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 6
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr R H Bremmer oor sondag 6 H. K.

Christus ons verlosser

Lees: Rut 3 & Hebr. 2: 10 - 18
Teks: Sondag 6 H. K.
Sing: Ps. 97: 1 en 6
na wet Ps. 130: 2
na belydenis Ps. 132: 9
Ps. 103: 6, 7, 11
Ps. 98: 1
Ps. 98: 3

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Een van die mooiste boeke uit die Ou-Testament is die klein boekie Rut dit staan tussen die Rigtersboek en die boeke Samuel weggeskuil. Die Sinagoge het die boekie selfs 'n plek in die rubriek geskrifte gegee, wat by Israel die laaste deel van die Ou-Testament was. Daardie klein boekie met net 4 hoofstukke is egter goud werd. Nie alleen omdat dit boei nie, maar die boekie is ook vol evangelie! Die blye boodskap van vergewing en geregtigheid in Christus kom in die vorm van Israelietiese wette en gebruike na ons toe. Die boek Rut gee 'n mooi oorsig van die Israelietiese lewe.

Rut die Moabitiese het op die land van Boas gaan are optel. Terwyl sy dit doen kom al die Israelietiese voorskrifte wat op die verlossing in die Messias betrekking het, in werking. Langs Rut is dit Boas wat die sentrale figuur in die boek Rut word. Boas gaan as losser optree, die man wat die skuld vir 'n ander betaal. Dit doen hy vir Naomi die skoonmoeder van Rut, deur die erfbesit van Elimeleg vir Naomi terug te koop. Dis nie al nie, hy gaan ook as levir vir Maglon optree om die geslag van Elimeleg nie te laat uitsterf nie. So kom daar weer nuwe lewe in die geslag wat deur die afsterwe van Elimeleg en Maglon om so te se uitgestorwe was. In Boas is die losser en die leviraat verenig.

U mag dink wat het Boas en Rut nou met sondag 6 te doen? Die boeiende verhaal oor Rut, maak nogal 'n verskil met die waarom en waaruit vrae van sondag 6. Dis mos geen blye boodskap nie? Wel gemeente sondag 6 is wel deeglik blye boodskap, dit laat Jesus Christus as ons Heiland, ons verlosser sien. Deur nou sondag 6 teen die agtergrond van die boek Rut te projekteer sal ons die boodskap van Sondag 6 beter raaksien.

Want in hierdie sondag word so manjifiek aangetoon dat ons Heiland as ons verlosser kan optree, dat Hy ook as ons verlosser wil optree en tenslotte dat Hy ons Heiland en niemand anders ons verlosser is nie. Daarom is die tema van hierdie preek:

CHRISTUS ONS VERLOSSER

  1. Hy kan dit wees;
  2. Hy wil dit wees;
  3. Hy is ook ons verlosser!

I Waarom kon Boas, as die losser van Naomi en Rut optree? Wel gemeente hy was 'n bloedverwant. Dit moet ons goed raaksien. Ons weet mos hoe die Here deur Josua die land Kanaan as erfdeel aan Israel gegee het. Elke stam het sy eie erfdeel gekry, en binne daardie stamgebied elk geslag sy eie erfdeel ontvang. Elke Israeliet het op sy eie erfdeel onder sy wynstok en vyeboom gewoon. Daarin het die profesie van die nuwe hemel en aarde gele, wat die volk van God ewiglik sal bewoon. Dit kon egter gebeur dat 'n Israeliet deur luiheid, siekte of misoeste verarm het. Hul moes dan hul erfdeel verkoop, om skulde te betaal en as dagloner by 'n ander gaan werk. Dit kon selfs gebeur dat hy homself as slaaf moes verkoop en eiendom van sy skuldeiser geword het.

Vir hierdie gevalle van verarming het God in die wet van Moses voorsiening gemaak. In Levitikus 25 word die wet op die jubeljaar en lossingsreg beskrywe. Eenmaal in vyftig jaar het die priester op die Jobeel, die Basuin, as begin van die jubeljaar, geblaas. Dan het al die grond wat vervreem geraak het weer na die oorspronklike geslag terug gekom. Die rykaards het 'n deel van hul rykdom verloor, die armes en slawe het hul grond en vryheid terug gekry.

Maar vyftig jaar is lank, wat as 'n mens kort na die jubeljaar in moeite gekom en alles verloor het? Vir daardie gevalle het die Here die moontlikheid van die lossingsreg gegee. Die naaste familielid wat daartoe in staat was moes dan die land vir sy broer terugkoop. Die skuldeiser wat eienaar van die land geword het moes daaraan meewerk. Die losser was dus vir die verarmde familielid die verlosser uit skuld en armoede.

Dan was daar nog 'n ander wet om in noodsituasies tenopsigte van die erfdeel te help. Dis die wet op die leviraat. Dit kon naamlik gebeur dat 'n man jong gesterf het en sy vrou kinderloos moes agterlaat. Daartoe het die Here in Deut. 25 voorgeskrywe dat die broer van die man wat gesterf het, die weduwee moes trou en vir sy broer nageslag verwek. So het die naam in Israel nie uitgewis geword nie, die wet is in die huidige Israel nog van krag. Nerens in die Skrif word die werking van die twee wette konkreter, as in die boek Rut, vir ons getoon nie.

Rut en haar skoonmoeder Naomi het brandarm uit Moab teruggekeer. In hierdie geval was dit 'n sondige emigrasie gewees, want hulle het na 'n heidens land gegaan. Die seen van die Here het nie daarop gerus nie, Elimeleg die man van Naomi en Maglon die man van Rut het altwee gesterwe. Nou het die twee weduwees berooid in Betlehem teruggekeer. Die hele geskiedenis kan ons nou nie uitvoerig vertel nie, maar ons weet hoe dit gegaan het. Die skerpsinnige Naomi het die moontlikheid raak gesien, om die losserskap en leviraat in een persoon te kombineer. Boer Boas, waar Rut are opgetel het was 'n bloedverwant, hy kon dus as losser optree, en miskien sou hy as levir met Rut wil trou. Die hele geskiedenis word in Rut 3 en 4 boeiend beskrywe.

Vir ons is van belang dat Boas as bloedverwant geroepe was, om losser te wees. Nou wil ons na die eerste vraag en antwoord van sondag 6 kyk. Waarom moet hy 'n waaragtige en regverdige mens wees? Die Middelaar waaroor hier gepraat word is ons Heiland, Jesus Christus, Hy staan direk in hierdie sondag sentraal. Die waaragtig mens wees van die Middelaar hou dan ook niks anders in nie as dat Hy van ons bloed is. Hy is lid van die grote mense familie wat ons almal saam vorm. Ons bely met die kategismus dat Hy mens, van vlees en bloed soos ons moet wees. Nou staan ons wel en wonder, waarom die kategismus die mens wees so sterk beklemtoon. Dit word nou as eerste vir ons voorgehou. Waaragtig en regverdig mens!

Ons sou verwag dat eers die waaragtig God wees bespreek sou word. Die kerk het dit deur die eeue moet verdedig. Daar het ons die geloofsbelydenis van Nicea aan te danke, waarin juis die die God wees van ons Heiland benadruk word. Die bekende woorde: "Hy is God uit God en Lig uit Lig" Arius het dit ontken en bestry, maar Athanasius het met alle mag staande gehou dat onse Here Jesus waaragtig God is. Tog word eers die mens wees vorentoe geskuif, terwyl dit veel minder 'n strydpunt was en in ons tyd is elkeen daarvan oortuig. Word Jesus nie die groot rewolusioner genoem nie? Word Hy in die wereld van die film nie as superstar, as een van ons na voorgestel nie?

Nou kom sondag 6 om die mens wees nog eens ekstra te onderstreep. Waarom word die mens wees die van ons bloed wees, so sterk beklemtoon? wel gemeente daar is ons verlossing van afhanklik. Die antwoord se: Hy moet waaragtig mens wees, omdat die regverdigheid van God eis dat die menslike natuur wat gesondig het, vir die sonde moet betaal. Opnuut word ons hier met ons val in Adam gekonfronteer. Soos dit in die sondae 2, 3 en 4 uitvoerig bespreek is. Nou is dit die magtig mooie: Christus kom hier as mens in ons plek staan. Daar waar die toorn van God brand, daar staan geen engel nie, en geen offerdier kan voldoening gee nie. Maar Hy ons Here Jesus Christus staan daar, Hy is die mens wat vir ons die skuld kom betaal het.

So word ons Heiland in die Evangelie as waaragtig mens, as ons plaasbekleer geteken. Hy het honger gely toe Hy in die woestyn deur die duiwel versoek is. As mens het Hy in Getsemane vanwee die drinkbeker wat Vader vir Hom bestem het bedroef en angstig geword. Aan die kruis het Hy geroep Ek het dors. Vanwee die duiwel is Hy in alles versoek, maar het nie gesondig nie. As mens het Hy gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het.

Moenie dink ons Heiland staan ver van ons af nie. As mens staan Hy langs ons. In versoeking reik Hy ons sy hand, want as mens is Hy erger as ons deur 'n hel van versoekinge gegaan. In die begin van sondag 6 gaan dit onmiddelik al oor ons enigste troos in lewe en in sterwe. Hy het ons deur sy lyding en sterwe uit die greep van die duiwel losgekoop en van alle skuld verlos. Ja, Hy is van ons bloed. As Hy nie tot ons mensfamilie behoor het, sou Hy ons nooit van die toorn van God kon loskoop nie. Verrassend skryf Paulus in 1 Kor. 1: 30 dat Christus vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Die woord verlossing het die selfde inhoud as losser in die Ou-Testament. Christus tree by God as ons losser op, daarom moet hy van ons bloed wees, soos Boas bloedverwant van Elimeleg was.

Antwoord 16 se: Ons Heiland is en moet waaragtig mens wees, maar dis nie al nie, Hy moet ook regverdig mens wees. Ons moet die woord regverdig nie verkeerd inkleur nie. Ons is geneig om by regverdig aan 'n mens te dink wat regverdig en billik teenoor sy naaste optree. So bedoel die kategismus dit hier nie. Die kategismus wil vir ons leer dat Christus sondeloos, vlekloos was. Eenmaal het Jesus vir die Fariseers gevra: "Wie van julle oortuig My van sonde? " (Joh. 8: 46) Niemand kon dit, sondeloos en vlekloos het ons Heiland sy pad geloop.

Ook vanwee die regverdig mens wees, kan Christus ons losser wees! Stel Boas was Bankrot. Hoe sou hy ooit in die poort van Betlehem as losser vir Naomi en Rut kon optree? Boas kon losser wees want hy kon die skuld van Elimeleg betaal en vir Naomi haar erfdeel terug gee. So kan Christus vir ons die erfdeel teruggee.

Nogmaals gaan ons na die woorde van Paulus in 1 Kor. 1: 30 luister, verbasend konkreet se hy daar: dat Christus vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid. Vir ons wysheid geword, wil se: Hy gee ons raad en wys vir ons die weg van verlossing. Vir ons geregtigheid geword, wil se: Hy self is ons geregtigheid. So het Boas in die poort van Betlehem vir die twee berooide vroue hulle persoonlike geregtigheid geword. Nadat hul erfdeel gelos was en Rut 'n getroude vrou, het ook hul posisie in Betlehem volkome verander. As vrye mense kon hulle deur die poort gaan, niemand kon hulle meer vir skuld aanspreek nie.

Ook die posisie van Rut het regsgrond gekry, sy was nie meer Rut die Moabitiese nie. Alles was offisieel en eerlik gereel. Boas het die oudstes en al die mense in die poort van Betlehem, as getuies gekry.

Is dit geen heerlik Evangelie? 'n Mens wat self sondaar is, se antwoord 16, kan nie vir ander betaal nie, daarom moes ons Heiland skuldloos, vlekloos, regverdig mens wees. Hy was dit ook en Hy het so die las van die toorn van God op Hom geneem en weggedra. Dis egter nog nie al nie, daar is nog 'n derde moet, naamlik: Hy moet ook tegelykertyd waaragtig God wees, soos vr. 17 vir ons leer. Alleen so kan Hy ons losser wees. Dis 'n aanbiddelik misterie broeders en susters wat ons hier bely. Ons verlosser is God en mens tegelykertyd in een persoon. Van ouds het die kerk dit al bely; God en mens, twee nature, maar een Jesus Christus! Met ons verstand sal ons dit nooit kan deurgrond nie.

Antwoord 17 se in die kragtige en tegelyk bewoe dogmatiese taal van die kategismus: Om uit krag van sy Godheid die las van die toorn van God aan sy mensheid te kan dra en vir ons die geregtigheid en die lewe te kan verwerf en teruggee. Kostelike woorde! Wat u en ek deur ons opstand teen God verloor het, word deur Hom terug geskenk. Geen skepsel kan ooit die toorn van God dra nie.

Ons Middelaar het dit gedoen, sy God wees het sy mens wees tydens die drie ure duisternis op Golgota ondersteun. Daar het Hy in 'n begrensde tyd met die dra van die las van die ewige toorn van God klaar gemaak. O wonder van genade, nou skenk hy ons die lewe terug. Hy gaan ons met die wit gewaad van die volkome geregtigheid wat Hy op Golgota vir ons verwerf het, beklee.

Soos Boas Rut tot sy bruid gemaak het, en haar die bruidskleed en sierade geskenk het, so skenk Jesus ons die mantel van heil en in sy genadige verkiesing beklee Hy ons daarmee. Ja seker, Hy kan voluit ons volkome verlosser wees.

II Jesus kan dit wees, Hy wil ook ons Middelaar wees. Opsetlik gaan ek nou eers vraag en antwoord 19 vorentoe haal. Om te voorkom dat hierdie belangrike deel van sondag 6 aan die eind van die preek nie voldoende aandag kry nie, wil ek dit nou in die midde van die preek met krag onder ons aandag bring. Alles wat tot nou toe van ons Middelaar, oor die God en mens in een persoon wees, gese is, word nou in die een woordjie " dit" in vraag 19 saamgevat. Waaruit weet jy dit? Ons wil op vaste grond staan, 'n vas fondament he. Dit gaan om die seker weet! Want daar staan nie waaruit bevind jy dit, of hoe voel jy dit aan, of hoe ervaar jy dit nie. Nee op menslike gevoelens word die sekerheid van die geloof nie gebou nie, maar op die weet! Nie om 'n weet soos dat tweemaal twee vier is nie, maar oor die weet waar sondag 7 uitvoerig oor praat. Dit gaan om die in geloof weet. 'n Weet wat jou tot in die hart van jou siel raak.

Op die vraag waaruit ek dit weet, word 'n pragtig antwoord gegee. Ons word deur God beslis nie in die onsekere gelaat nie. Hy se nie alleen dat Jesus ons verlosser kan wees nie, maar laat dit ook sien. Dis die Evangelie wat daar borg vir staan. Jesus wil ons losser wees, daar het Hy sy Woord vir gegee. Dink maar net aan wat Boas op die vloer waar gars uitgewan is vir Rut belowe het: Alles wat jy se sal ek vir jou doen. As Rut dit later aan Naomi vertel, antwoord Naomi: die man sal nie rus tensy hy vandag nog die saak afgehandel het nie. Boas het sy woord gegee en daarom was Naomi seker. So is dit ook met ons losser, gemeente. Hy het sy Woord, dis die Evangelie, vir ons gegee. Die Evangelie wat as 'n goue draad deur die hele Ou-Testament loop.

Ursinus en Olevianus het met antwoord 19 een van die belangrikste antwoorde in die kategismus geformuleer. Heel aanskoulik het hulle dit gedoen elke sin is om so te se goud werd. Hulle vat ons by die hand om ons deur heel die Ou-Testament te lei. Bedink veral dat sonder die Ou-Testament die Nuwe-Testament nie verstaan kan word nie. In die Ou-Testament, in die paradys laat ons verlosser sy koms al verkondig en afbeeld. Direk na die val in die paradys het God reeds sy heilig Evangelie geopenbaar. Daar het Hy sy beloftewoord al gegee dat Hy ons Borg en Losser sal wees, naamlik: dat die saad van die vrou die kop van die slang sal vermorsel. (Gen. 3: 15) Moederbelofte word dit genoem, omdat uit die allereerste belofte al die volgende beloftes voortgekom het.

Dis 'n magtige belofte en deur heel die Ou-Testament word dit onderstreep en verder uitgewerk. Let daarop hoe antwoord 19 dit verder uitwerk: en daarna deur die heilige aartsvaders en profete laat verkondig. Sien hoe Abram uit Ur van die Galdeers sy geboorteland wegtrek. Hy verruil die luukse stad van die maangodin Sin vir die land wat God vir hom sal wys. Die belofte, in jou sal al die volke van die aarde geseen wees het hy saam gekry. Uit die belofte het Abraham gelewe. Hy het dit aan sy nageslag deur gegee.

God staan vir sy beloftes het Abraham aan sy seun Isak verkondig, wat op sy beurt die beloftes weer aan Jakob deur gegee het. Die geskiedenis van die aartsvaders, is een grote belofte geskiedenis, waaruit ons die gelowiges van die nuwe verbond nog altyd troos put.

Hoor hoe Jakob op sy sterfbed daarvan pofeteer: "Die septer sal van Juda nie wyk nie, nog die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees. " (Gen. 49: 10) Seker van die beloftes van God het Jakob uitgeroep: "Op U verlossing wag ek, Here!" (Gen. 49: 18) Die ou dae was vol van Evangelie verkondiging! God staan vir sy Woord, daarvan het die profete gespreek. Dink aan die profesie van Jesaja: "Die volk wat in donkerte geleef het, het 'n groot lig gesien, oor die wat in die donker land was, het 'n lig geskyn......... Vir ons is 'n Seun gebore, aan ons is 'n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. " (Jes. 9: 1 en 5) Die tyd ontbreek om al die beloftes te noem wat God deur die profete geskenk het. Hul boeke is vol beloftes.

Nog het antwoord 19 nie klaar gepraat nie, God het die heilig Evangelie deur die offerandes en ander seremonies van die Wet vooraf laat afbeeld! Gemeente die Ou-Testament is 'n boek wat ryk maak. Dis om so te se 'n groot prenteboek, kinders kan dit geniet. Die heil van die Messias wat aan die kom is word in die offerdiens van Israel sigbaar en tasbaar gemaak. Dis een groot verkondiging van wat die Verlosser in die volheid van die tyd tot stand sal bring. Die offerbloed verwys, na die bloed van die Lam.

Dan nog die seremonies van die Wet. Sien hoe die hoepriester op Jom Kippoer, die groet versoendag, sy skitterende ampskleed vir 'n wit kleed verruil en met 'n skaal bloed die Allerheiligste ingaan en bloed op die deksel van die ark sprinkel. Sien hoe hy sy hande op die kop van die sondebok le, so die skuld van die volk op die bok oordra en dan die woestein inja. Die hele prieterdiens, die tabernakel en sy gereedskap alles is vol van die Evangelie van versoening en skulduitdelging.

Dan kom antwoord 19 tot die hoogtepunt: en eindelik, na al die eeue van offer en priesterdiens, eindelik die Evangelie deur sy enig gebore Seun vervul. In die krip van Betlehem het Die Seun gele, vir ons mens geword. Die verlosser is deur die harde hout van die krip al voorberei op die kruishout wat kom. Die kruis op Golgota met die Seun van God vanwee ons skuld daarop gespyker. So kon Hy nie alleen ons verlosser wees nie, maar so het Hy dit ook gewil. Hy het Homself in volle oorgawe aan die dood prys gegee. Dwars deur die Ou-Testament word van daardie Evangelie getuienis gegee.

III So kom ons tot die laaste. Jesus kan nie alleen ons verlosser wees nie, Hy wil dit nie alleen nie, Hy is dit ook! Dit is die verkondiging van vraag en antwoord 18. 'n Dringende vraag: Maar wie is hierdie middelaar wat tegelykertyd waaragtige God en 'n waaragtige en regverdige mens is? Nou van alle kante aangetoon is hoe en wat ons middelaar moet wees nou wil ons eindelik weet wie dit is. Die antwoord is amper 'n letterlike Skrifwoord, naamlik: 1 Kor. 1: 30 Deur toevoeging van 'n paar woorde aan die teks word die antwoord meer op die vraag toegspits. Hoor maar: Onse Here Jesus Christus wat deur God aan ons geskenk is tot wysheid, regverdigheid, heiligmaking en verlosasing. Wat 'n blydskap van geloof kom in daardie een woord "ons" na ons toe. In geloof word al die weldade wat God skenk toegeeien.

Nee ons spreek nie oor 'n Heiland wat ver en vreemd vir ons is nie. Ons geloofshand gryp Hom vas! Sonder die geloof kan ons geen steekhoudend woord oor Hom spreek nie. Hy is egter Ons Here Jesus Christus. Hy het ons met sy bloed tot sy eiendom gekoop. So is Hy deur God aan ons as ons Heiland geskenk tot wysheid, regverdigheid, heiligmaking en verlossing. Gemeente daar is die geskenk van die deur Christus volbragte werk van volkome verlossing waarop ons mag steun. Dit is die vaste grond waarop ons staan.

Ons kan die antwoord 18 ook saamvat met die woorde van Johannes die doper, toe hy Christus sien nader kom, om gedoop te word. Johannes wys hom met sy vinger aan en roep: Daar is die Lam van God wat die sonde van die wereld wegneem! Daar die Lam is hierdie sondag vir u as u verlosser verkondig. In die Naam van God mag ek u verseker: Hy kan nie alleen u verlosser wees, omdat Hy God en mens tegelyk is nie. Hy wil nie alleen u verlosser wees, omdat heel die Evangelie van Hom spreek en Hy vir sy Woord staan nie. As laaste se ek u nou: Hy is ook u verlosser. Werklik Hy is dit, skuil dan by Hom alleen. Se saam met die digter Da Costa uit die vorige eeu: " My Heiland, My Verlosser, My sonde vernieler! Geloof sy Jesus Christus. "

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)