God self het 'n Middelaar tussen Hom en ons gegee

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 6
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 6 H.K.

LITURGIE:
Ps. 98: 1, 2
Gebed
L. Jesaja 59
T. Sondag 6 H.K. en Art. 26a NGB
Ps. 89: 5, 6
Geloofsbelydenis
Ps. 89: 1, 3
Gebed
SB. 1: 3, 6

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons hoor en lees die laaste weke heelwat oor middelaars in verband met die oorlog in die Persiese Golf.

Verskeie diplomate het reeds by Saddam Hussein as bemiddelaar probeer optree, eers om 'n oorlog te voorkom; en vervolgens om die oorlog te probeer beëindig.

En nou vra die Kategismus vanaand ook ons aandag vir 'n Middelaar: ons Here Jesus Christus.

Maar daar is 'n groot verskil tussen hierdie Middelaar van Sondag 6 en al daardie bemiddelaars in die Persiese Golf-konflik: dié diplomate het feitlik maar net gepráát. Hulle het voorstelle gedoen, adviese gegee, versoenend probeer oorreed, gewaarsku- maar daarna het hulle weer veilig huis toe gegaan. Hulle het die stryd probeer voorkom, en later probeer beëindig, maar hulle het nie hulself in die stryd gewaag nie.

Maar die Middelaar van Sondag 6 van die Kategismus, ons Here Jesus Christus, het Homself, toe die stryd tussen God en ons in volle hewigheid uitgebreek het, wel midde-in die strydgewoel begewe. En Hy het nie eerder Huis toe gegaan voordat Hy sy doel bereik het nie. Hy het sy lewe gewaag, ja opgeoffer om 'n volkome vrede tot stand te bring.

Al daardie bemiddelaars in die Golf-konflik het nie veel bereik nie. Maar ons Here Jesus Christus het 'n volkome verlossing bewerk.

Hy is vir ons tot wysheid gegee, sê die Kategismus. Dit wil sê: waar ons ten einde raad was, het Hy die uitweg uit die ellende gewys.

Hy is vir ons tot geregtigheid gegee: Hy moes ons daarvan oortuig dat die hele ellende ons eie skuld is, maar Hy het vervolgens ons skuld op Hom geneem en dit in eie Persoon by ons Teëparty vereffen.

Hy is vir ons tot heiligheid gegee: Hy neem ons nie net ons skuld af nie, maar Hy maak ook ander mense van ons, vredeliewend, vredestigters wat weer God en hul naaste liefhet.

En so bereik Hy die volkome verlossing en die ewige wêreldvrede.

Hierdie Middelaar is so besonder dat ons Hom nooit sou gekry het nie, as God self Hom nie vir ons sou gegéé het nie. God Self moes Hom vir ons vind om die konflik tussen ons en Hom te beëindig.

Dié Middelaar mag ek u vanaand verkondig, broeders en susters.

My boodskap is:

GOD SELF HET 'N MIDDELAAR TUSSEN HOM EN ONS GEGEE

  1. HY IS VERWEK DEUR GOD SE ARM
  2. HY VOLDOEN AAN GOD SE REG
  3. HY WORD VERKONDIG DEUR GOD SE WOORD

1. Ons Middelaar kom van God self, gemeente, uit die hemel. Maar Hy het darem nie uit die lug kom val nie. Die HERE het sy volk eeuelank op sy koms voorberei. Gedurende die hele Ou Testament het Hy sy volk al hoe indringender geleer dat slegs Hy nog 'n Versoener tussen Hom en sy volk kon skenk.

Ek het een voorbeeld daarvan gekies as ons Skriflesing vir dié diens: Jesaja 59. In die hoofstuk word die kontoere van ons Here Jesus Christus reeds sigbaar. Die wóórd Middelaar staan ook in hierdie hoofstuk, in vs. 20, maar bietjie versteek. Ons vertaling lees: "Maar vir Sion kom Hy, die HERE, as Verlosser..... ". Feitlik staan daar die woord Losser, en u onthou: die losser was die man in Israel wat moes bemiddel as familielede van hom in die moeite geraak het. Soos Boas in die boek Ruth.

Sion, God se kerkvolk, kry in haar noodsituasie ook so'n Losser.

Maar moet mooi lees: Wie is hierdie Losser?

Jesaja kondig aan dat die HERE sélf die Losser/Bemiddelaar tussen Hom en sy volk sal word.

Ja, God self.

Hy het nie 'n ander keuse nie. Dít word ook baie duidelik uit Jesaja 59. Die mag van die sonde by die mens het so groot geword, dat dit soos 'n muur tussen God en sy volk kom te staan het. Kyk vs. 2: "Julle ongeregtighede het 'n skeidsmuur tussen julle en jul God geword... ".

In nogal beeldende bewoordinge is in hierdie hoofstuk die prentjie van doe sondige mens geskilder: "Hulle voete hardloop om kwaad te doen en is haastig om onskuldig bloed te vergiet. Hulle gedagtes in onheilgedagtes en die daad van geweld is in hul hande. Die weg van vrede ken hulle nie, en daar is geen reg in hulle spore nie, niemand wat daarop loop ken die vrede nie".

En ons hoef hier regtigwaar nie net na die slegte, hardkoppige Israeliete te kyk nie, broeders en susters, want die beskrywing wat Jesaja van Israel se sondes gee, is deur die apostel Paulus oorgeneem in sy brief aan die Romeine en op ons almal toegepas.

So is die mens, enige mens, van dat die duiwel ons tot sonde verlei het. Oorloë, terreuraanslae, moord en verkragting- dit alles hoef ons regtig nie te verbaas in hierdie wêreld nie. Dit is 'n onvermydelike ontwikkeling by mense wat die weg van die vrede nie meer ken nie.

Ons sien mos daardie verwoestende geweld dikwels ook in ons eie lewe kop uitsteek: as ons driftig raak, as ons lus is om met gelyke munt te betaal....

Die Kategismus het hierdie mag van die sonde in ons menselewe en die oorsaak daarvan, uitvoerig en indringend bespreek in die vorige Sondae. Ons is almal geneig om God en die naaste te haat. So verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig...

En ons kan self niks daaraan verbeter nie. Ons maak juis die skuld nog elke dag groter.

Vir ons is die ellende onoplosbaar.

Maar vir God was dié situasie onaanvaarbaar!

Dit is Jesaja se boodskap in hoofstuk 59.

Jes. 59: 15: "Dit was verkeerd in sy oë dat daar geen reg was nie".

En opnuut lees ons in hierdie hoofstuk 'n beeldende taalgebruik. Jesaja vertel hoedat die HERE as 't ware rondgekyk het of daar nie iemand was wat tussenbei kon tree nie. God het 'n Middelaar gesoek.

Kom kyk gou 'n slag met my in Esegiël 22: 30. Daar lees ons omtrent dieselfde. Daar sê God: "Ek het onder hulle 'n Man gesoek wat 'n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan..... maar Ek het niemand gevind nie". God wil die muur van sonde nie meer sien nie. Laat daar iemand wees wat dit afbreek asseblief! Of anders iemand wat daardie muur van sonde deur 'n ander muur aan God se gesig onttrek. Hy soek iemand wat vir sy volk in die bres kan staan sodat Hy hulle nie hoef te verdelg nie. God soek 'n Middelaar.

Maar daar was niemand nie....

Gaan gee God nou moed op? Lê Hy Hom by die situasie neer?

Nee, glad nie, vertel Jesaja. As dit dan nie anders kan nie, wel "dan sal sy eie arm Hom help... ". En die uitdrukking beteken in die Bybel dat die HERE sélf ingryp. Daar word in die Ou Testament heelwat kere van God se arm gepraat, en telkens in 'n situasie waarin die HERE self die hande uit die moue steek en hardhandig orde op sake stel. Soos toe Hy Egipte met plae geteister het omdat Farao sy volk nie wou laat gaan nie. As God sy arm uitsteek, kan die vyande hulle maar bêre. Maar as God sy arms uit die moue steek, is daar vir God se vólk altyd redding te wagte.

Ons het van God se sterke arm gesing aan die begin van dié diens: Psalm 98:

"Sy regterhand, vol sterkte en ere,
sy heil'ge arm bring redding aan".

Maar wanneer Jesaja hier in hoofstuk 59 vertel dat die HERE op die ou end self die arm uit die mou gesteek het, nadat Hy vasgestel het dat daar nie 'n mens was wat tussenbei kon tree nie, is dit 'n regstreekse profesie van ons Here Jesus Christus. Want hoor wat sing Maria, na die engel haar vertel het dat sy die moeder van die Middelaar sal word: "Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen... ". Op die ou end het God se arm self die Middelaar verwek wat die skeidsmuur van die sonde tussen God en sy volk kon wegbreek, ja, wat self voor God se aangesig in die bres gespring het vir ons en self die muur geword het waardeur ons skuld aan God se oë onttrek is.

Dit is die wonder wat ons elke keer weer aan mekaar en aan die wêreld mag vertel, gemeente: toe ons situasie volslae uitsigloos geword het vanweë ons sondes, het God uitkoms gebied. Sy arm het 'n Middelaar verwek wat vir ons die lewe kon verwerf en teruggee.

Maar aan hierdie wonder van God sal ons mekaar ook elke keer weer moét herinner, tot ons beskaming. Ons het die lewe alleen nog aan God se genadige ingrype te danke. Ons kon self geen middelaar tussen God en ons inskuif nie. Ons moes Hom van God kry.

Hierin verskil die Evangelie van Christus van alle ander religies wat daar in die wêreld is. U weet, ook in ander religies is daar in 'n mate die besef van 'n verlore paradys. Ook ander religies ken middelaars wat versoenend tussen hemel en aarde optree. Maar altyd is dit middelaars wat deur die mens self tussen hom en God ingeskuif word. Of mense wat hulleself tussen hemel en aarde inskuif. Towenaars in primitiewe religies, geeste van oorlede voorouers, Mohammed in die Islam, Boeddha...

Almal middelaars wat van hier benede af die mens se saak by God moet bemiddel. Maar ons sal moet aanvaar dat ons Middelaar van bo af aan ons gegee moes word, deur God self. Daar was geen ander oplossing meer nie.

2. Nogtans is hierdie van God gegewe Middelaar wel 'n mens soos u en ek almal, broeders en susters. Ontvang in die moederskoot, ontwikkel in 9 maande se swangerskap, gebore soos ons almal, grootgeword soos ons almal, gesterf soos ons almal...

Hy moés naamlik mens soos ons almal wees.

As ons Jesaja 59: 16 heel letterlik vertaal, staan daar dat God gesien het dat daar nie 'n Man tussenbei tree nie. En dit staan daar nie verniet nie. God het 'n Man, 'n mens van vlees en bloed gesoek.

Enige middelaar was vir Hom nie aanvaarbaar nie. Sondag 6 van die Kategismus herinner ons weereens daaraan dat "God se geregtigheid eis dat die menslike natuur wat gesondig het, vir die sonde moet betaal".

"Die geregtigheid van God"- dit beteken hier eenvoudig: sy trou aan die verbond wat Hy eendag in die paradys met die mens gesluit het. Hy wou Vader wees van die mens- nie van ape, of vlinders, of selfs engele nie. Nee, die méns alleen sou sy kind wees.

Maar dié verbond is verbreek. Deur die mens. Die mens het sy rug op God gedraai.

Maar toe het God nie ook sy rug op die mens gedraai nie. Hy kan dit nie. Hy kan die mens nie uit sy gedagtes uitkry nie.

En dus wou God dat sy verbond met die mens herstel word. Maar dit impliseer dat die mens wat gebreek het, moet betaal. Geen aap, geen vlinder, geen bulle of bokke nie, selfs geen engel nie, maar die mens self moet by God terugkom en herstel wat hy verniel het. God se reg, sy trou aan die ou verbond, eis dit.

Daarom aanvaar God ook geen middelaar wat bietjie versoenend práát nie; geen middelaar wat slegs sinvolle adviese in oorweging gee nie. Maar Hy soek 'n middelaar wat regmaak wat ons almal saam verbrou het. En dus: 'n Middelaar wat Homself totaal aan Hom as ons Vader opoffer. In 'n lewe vol liefde. Maar nou ook in 'n sterwe vol liefde om gewilliglik die straf te ondergaan wat ons verdien het.

Daarom moes ons Middelaar mens wees. Volkome mens soos alle ander mense. Behalwe die sonde. Want 'n mens wat self sondaar is, kan nie vir ander betaal nie.

Maar, gemeente, 'n mens sonder sonde, en dan bowendien 'n mens wat in staat was om die las van die ewige toorn van God tot in die hel te ondergaan sonder om vir ewig daaronder te beswyk- waar moes ons ooit so'n mens hier op aarde kry? !

Daarom het God self op die ou end daardie Middelaar gegee: uit die hemel. Sy eie Seun het mens geword. En God gebly. Jesus Christus.

Hy het sy mensehart in liefde gewy aan die Vader. Hy het sy mensebloed gestort as 'n voldoening vir die Vader. Maar alleen omdat Hy terselfdertyd God was, was Hy tot dié volmaakt offer in staat. Slegs hierdie een Middelaar was goed genoeg en sterk genoeg om aan God se reg te voldoen. Slegs Hy kon God se eis nakom, en ons volkome verlos.

Ek sê weereens, broeders en susters: dit is die wonder wat ons elke keer weer aan mekaar en aan die wêreld mag vertel. Maar aan hierdie wonder sal ons mekaar ook elke keer weer moét herinner. Tot ons beskaming.

Want dis nie net moeilik vir 'n heiden om so'n Middelaar van bo te aanvaar nie. Ook ons eie hoogmoedige mensehart wil hom nie maklik aan hierdie Middelaar gewonne gee nie.

Eerstens alreeds omdat Hy ons verstand te bowe gaan. God en mens in een Persoon: dis mos onbegryplik. 100% God en terselfdertyd 100% mens- dit bly vir ons 'n ondeurgrondelike en onbeskryflike saak.

Maar tweedens is dit vir ons hoogmoedige hart maar moeilik aanvaarbaar dat ons situasie dus so uitsigloos was dat God self mens moes word om vir ons die lewe te kan teruggee.

Die duiwel het dan ook voortdurend op daardie hoogmoed van ons ingespeel en in allerlei vorme van dwaalleer God se volk probeer wysmaak dat ons Here Jesus Christus nie ten volle God was en is nie. As u 'n slag in Art. 9 NGB kyk, aan die einde van die artikel, sien u 'n hele aantal name van ketters wat op die een of ander wyse so'n dwaalleer verbrei het: "Marcion, Mani, Praxeas, Sabellius, Samosatenus, Arius en nog ander... ". Die oudste belydenisse wat ons het: die Apostoliese, dié wat in die kerkvergadering van Nicea en Konstantinopel vasgestel is, en dié van Athanasius, het in die stryd teen hierdie dwaalleer ontstaan.

Vandag vind ons daardie ou dwaalleer nog altyd terug, byvoorbeeld by die Jehova Getuies en in die moderne teologie.

Later in die kerkgeskiedenis het die duiwel op 'n ander manier die oorgawe aan die enigste Middelaar Christus probeer ondermyn. Teoloë het toe ander middelaars tussen Christus en ons ingeskuif: moeder Maria, mense wat voorbeeldig geleef het en daarom na hul dood heilig verklaar is...

Ons het in Art. 26 NGB gelees dat dit "deur gebrek aan vertroue" onstaan het. Dit mag in 'n mate so wees, maar ek glo beslis dat veral ook die menslike hoogmoed die oorsaak daarvan was. Dis so moeilik vir ons mense om niks meer van die mens self te verwag nie en om jou aan God se genadige ingrype alleen oor te gee.

Maar wie hierdie Middelaar van God nie wil aanvaar nie, verwerp die lewe. Hy alleen kon vir ons die lewe verwerf en teruggee.

3. Hoe weet ons dit feitlik, gemeente? Hoe het ons hierdie Middelaar van God leer ken en glo?

Die vraag vra ook Sondag 6 van die Kategismus ten slotte.

En die antwoord dryf ons opnuut na God toe. Ons het Hom nie self gekry na 'n intensiewe speurtog nie. Ons het nie agter sy bestaan gekom deur ons gesonde verstand te gebruik nie.

God het Hom vir ons aangewys en aangebied.

Toe die mens in sy sonde en eiewysheid vasgeloop het, het God hierdie Middelaar vir ons tot wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing gegéé.

Reeds dadelik in die Paradys het God 'n magtige Middelaar in die vooruitsig gestel wat in staat sou wees om die verbond van die mens met die duiwel weer te verbreek en die duiwel die kop te vermorsel. En van toe af het God daardie belofte van 'n Middelaar baiekeer en op baie maniere herhaal. En die prentjie het al hoe duideliker geword. Toe Hy aan Abraham beloof het dat hy in sy ouderdom nog 'n seun sou ontvang uit die onvrugbare Sara, en dat God op dié wyse hom tot die vader van 'n menigte mense sou maak en so al die geslagte van die aarde eendag sou seën- toe het Abraham gelag van verwondering en alreeds die dag van Christus gesien. Daarna, by die uittog uit die land Egipte, het God die Middelaar afgebeeld in die Pasgalam. En toe het God die tempeldiens ingestel, met die onophoudelike stroom van offerdiere, met die diens van priesters wat nooit klaar geoffer was nie, met 'n hoëpriester wat simbolies die 12 stamme van Israel op sy skouers en op sy hart saamgedra het so dikwels Hy voor God verskyn het. Menslike middelaars. Maar onvolkome middelaars, omdat 'n mens wat self sondaar is, nie die skuld van ander by God kan voldoen nie.

Hulle was slegs vooruitwysings na die beter Middelaar wat God eendag sou gee: God en mens teselfdertyd.

Profete het die beeld van daardie komende Middelaar nog meer ingekleur. Soos Jesaja in die bekende hoofstuk 53: "Hy is terwille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel. Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom... ".

So het God eeuelank die volmaakte Middelaar wat Hy eendag sou gee, aan sy volk voorgehou. Hy het sy belofte talle male herhaal en onderstreep.

En dit wat God sê, gebeur! God laat dit nooit by woorde nie. Sy woord is 'n krag tot redding vir elkeen wat dit glo.

Hy het al sy beloftes dan ook vervul toe Hy tenslotte sy Eniggebore Seun aan osn gegee het.

Maar soos die HERE gedurende die hele Ou Testament sy volk met sy Wóórd getrek het en gelóóf gevra het, so doen Hy dit vandag nog altyd. Want sy Seun doen sy werk nie meer sigbaar hier op aarde nie en "vergewing van sondes", "ewige lewe" ens. is sake wat g'n mens met sy gewone oë kan sien nie.

Nog altyd kom die HERE met sy beloftewoord, sy heilige Evangelie na ons toe. Daarin leer Hy ons die erns van ons skuld verstaan, daarin wys Hy ons die noodsaak van 'n Middelaar aan, daarin bied Hy ons ook sy eie Seun as Losser aan.

En daardie Woord, daardie evangelie is die krag tot ons redding. Want dis God se Heilige Gees wat ons daardeur van ons skuld by God oortuig, maar ons ook God se liefde vir ons op die hart bind- daardie liefde wat so groot is dat Hy selfs sy Eniggebore Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal as Middelaar oorgegee het.

Daardie eenvoudige boek vol beloftes, vooruitwysings en bewyse dat God sy beloftes ook vervul- daarin steek God nog steeds die hand na ons uit en daardeur bring Hy sy eie Seun as Verlosser ons lewe binne.

Dit is die wonder van die Bybel, gemeente. Dit is ook die wonder van die prediking van God se Woord. Daarsonder sou ons nie vir Christus geken het nie. Daarsonder sou ons geen lewe hê nie. Maar God het sy woorde van ewige lewe in ons mond gelê, sodat ons dit telkens weer aan mekaar en aan onsself sou voorhou.

Ons mag die volk wees waarvan Jesaja aan die slot van hoofstuk 59 praat: "My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die HERE... ".

Laat dan God se evangeliewoorde ook nie uit u mond en uit u hart en uit die mond en hart van u kinders en kindskinders wyk nie!

Want as die Evangelie van u Middelaar nie 'n oop boek vir u is nie, gaan ook die lewe vir u toe.

AMEN.

(Pretoria, 17 Februarie 1991)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)