Is daar 'n pad tot verlossing?

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 5
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor Sondag 5 H.K.

Is daar 'n pad?

Lees: Romeine 3: 19 - 31
Teks: Sondag5 H.K.
Sing: Ps 77: 1, 9, 10
Na wet Ps 79: 5
Na belydenis Ps 79: 9
Ps 103: 1, 2, 5, 7
Sb 29: 7
Ps 106: 20

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Een-en-dertig Oktober 1517, die dag voor Allerheiligendag, het 'n man in 'n swart monnikspy geklee, oor die kerkplein in Wittenberg geloop. Dit was omstreeks die middaguur. Die man het 'n dig beskrewe papier in sy hand gehad, waarop 95 deur hom geformuleerde stellings geskryf was.

Die stellings was almal direk of indirek teen die gruwelike misbruik gerig, wat Johannes Tetzel, die pauslike afgesant, van die aflaat gemaak het. In die biegstoel het telkens mense gebieg wat nie vir hul sondes boete wou doen nie, omdat hulle deur 'n aflaat te koop, van alle sondeskuld vry was. Op daardie papier het die man, sy naam was Luther, ook verklaar dat hy bereid was om die 95 stellings die volgende dag in die openbaar te verdedig.

Die eerste stelling het al soos 'n klok geklink: " As ons Here en Meester, Jesus Christus, spreek: Doen boete ensovoort, dan is dit sy wil dat die hele lewe vir die gelowiges 'n lewe van boetedoening sal wees. " Veral die twee-en-sestigste stelling het sterk aangespreek: " Die ware skat van die kerk is die allerheiligste Evangelie van die heerlikheid en genade van God. " Veertien dae later was die stellings deur die hele Duitsland bekend, en nog 'n paar maande later was hulle deur die hele Europa versprei.

Die stellings was die begin van die Reformasie van die gedeformeerde middeleeuse kerk. Luther het die Evangelie van die vrye genade van God, in die verduisterde Europa hoog op die kandelaar gesit. Daaruit het ook hierdie vyfde sondag van die kategismus voortgekom. Met die eerste sondag uit die deel van die verlossing, het ons reeds in die hart van die Evangelie te staan gekom. Daar sal nog sesentwintig volg. Oor die verlossing van die mens, is die opskrif bo die tweede deel. Daarin is al 'n jubelkreet te beluister. Direk in die eerste vraag word al na die middel van verlossing gevra! Is daar enig middel waardeur ons van hierdie straf kan vrykom en weer genade kan verkry? 'n Indringende vraag! Oor hierdie vraag en nie minder oor die antwoord nie, wil ons nadink.

Ons spreek oor: IS DAAR 'n PAD TOT VERLOSSING?

  1. God open die pad
  2. Onsself kan die pad nie oopmaak nie
  3. In Christus word die pad geskenk.

Opnuut is dit dat ons in die leerhuis sit. Oor wat ons die vorige sondag gehoor het, het die leerling 'n week nagedink. Oorkant hom sit sy leermeester, laat ons nou skerp na hul gesprek luister gemeente. Die leerling het die vorige week harde woorde gehoor. Hy was skuldig bevind! Deur moedswillige ongehoorsaamheid op ingewing van die duiwel, het hy homself, van al die gawes wat God by die skepping geskenk het, berowe. Die ergste was dat hy daardeur die tydelike en ewige straf verdien het.

Ons val in die sonde, word beslis nie deur God deur die vingers gesien nie. Stel dat dit sou gebeur; dan sou God geen God wees nie. Die verskrikking van die buitenste duisternis is genoem, en hartverskeurend het die leerling gevra: "Is God dan ook nie barmhartig nie? " Dit het 'n bewoe gesprek geword wat die diepte van ons mens wees in hierdie wereld geraak het. Noudat die leerling daaroor nagedink het, is hy reg om die gesprek voort te sit, deur te bely: Volgens die regverdige oordeel van God het ons in die tyd en ewigheid straf verdien.

Alleenlik, se die leerling en ons sien hoe hy sy leermeester met spanning aankyk. Hoe kan ons van hierdie straf vrykom en weer genade verkry? Voel u die spanning gemeente, dis 'n lewensbelangrike vraag, ons ewige heil is op die spel! Die leerling erken: alles wat tot nou toe geleer is, is die harde waarheid. Maar, groot asseblief, wys nou 'n pad om aan daardie vreeslike straf te ontkom, om weer in genade aangeneem te word.

Gemeente die leerling het sy huiswerk goed gedoen. Let daarop hoe sy vraag geformuleer is. Hy vra nie of ons genade kan verkry nie, maar of ons WEER genade kan verkry? Die woord "weer", wil se: opnuut! In die oe van die leerling kan verwagting gelees word as hy die woord "weer" gebruik. Dis aan die gesprek van die vorige week wat hy terug dink, toe sy leermeester oor die paradys gepraat het waarin God die mens goed geskape het. Oor die heerlikheid van die mens, as die beeld van God en wat in die verbond met sy God mog wandel. Hy verlang terug na die tyd van sjaloom, vrede, toe die mens in gaafheid, in die genieting van die guns van sy God geleef het.

Ons as mense van die twintigste eeu kan, ons dit goed voorstel. Die verlange na 'n leefbare wereld sonder vrae oor wat die toekoms sal bring. Geen water gebrek en lee damme nie, geen lug besoedeling, geen honger, ekonomiese ellende en werkloosheid nie. Hoe verlang die mensheid nie na 'n wereld vol geregtigheid sonder terreur dreiging of bomme wat sommer tussen onskuldige mense ontplof nie. 'n Wereld waarin God weer as die Skepper van hemel en aarde erken word, en mense met 'n ongedeelde hart hul God en naaste in liefde dien.

Is daar regtig geen pad wat na die paradys terug bring nie? Nee, in vraag 12 het ons nie met 'n koue logiese redenering te doen nie, maar dis 'n lewensvraag wat hierdie leerling en so ook ons, intens besig hou. Vol spanning wag ons wat sal die antwoord wees? God wil dat aan sy geregtigheid voldoen moet word! Baie mense wat die kategismus probeer verklaar het, vra hier: Is dit nou 'n antwoord? God wil kliphard, dat aan sy geregtigheid voldoen word. Waarom is daar nie positiewer geantwoord nie? Sondag sewe praat mos oor 'n ware geloof waardeur ons verlos kan word. En sondag 23 se, dat ons deur 'n ware geloof in Jesus Christus regverdig voor God word. Hoekom moet die antwoord so omslagtig wees? God wil dat aan sy geregtigheid voldoen moet word; daarom moet ons daaraan of deur onsself of deur 'n ander ten volle betaal.

Gemeente, almal van ons het weleens 'n bouperseel gesien waar 'n groot gebou opgerig gaan word. Word daar dan begin met die optrek van die mure? Glad nie, meestentyds kom daar eers 'n graafmasjien sy werk doen, sodat die fondasie op harde grond sal rus. Die gebou moet die tyd en storme kan verduur. So gaan nou ook ons belydenis te werk, as die gebou van ons verlossing opgetrek word. Daardie gebou sal sterk moet staan, want dit sal die storme van dwaalleer en ongeloof moet weerstaan. So is in die deel van die ellende alles weggegrawe, waarop die verlossing nie kan stand hou nie. Nou neem ons belydenis stap vir stap die moeite om die vaste fondament van God vir die Evangelie van verlossing te le.

Ja gemeente gaan nou antwoord 12 maar eens goed deurkyk. Is dit die woord "geregtigheid" wat jou moeite gee, die geregtigheid waaraan voldoen moet word? Nou moet ek toestem dis geen gemaklik woord om te verstaan nie. Kinders het partykeer ook moeite om dit te verstaan, maar tog dit is 'n mooi springlewendige woord wat geheel by onse God pas. Hoor ons vandag nie van alle kante dat daar geregtigheid in die samelewing moet kom nie? Geregtigheid in die lewe van volke, dat nie langer die derde wereld deur die eerste wereld uitgebuit word nie, dat die rykes nie ryker en die armes nie steeds armer moet word nie. Geregtigheid is ook in ons wereld 'n springlewendige woord.

Daar moet nog iets belangriks aan toegevoeg word. Mense van ons tyd wat die woord gebruik, bly aan die buitekant van die woord en dring nie tot die kern deur nie. Hulle gebruik die woord in die horisontale vlak ten opsigte van mense in die samelewing onderling. Maar as ons belydenis die woord geregtigheid gebruik, word beslis nie aan die horisontale betekenis gedink nie. Gelukkig nie! Ons belydenis dink in die eerste plek aan die vertikale betekenis, aan dit wat ons aan God verskuldig is. God staan daarop dat Hy ontvang wat ons mense Hom skuld. Die woord "reg" is in geregtigheid opgesluit. God het 'n regsvordering op ons. Wat daar die regsvordering inhou, het ons die vorige sondae al gehoor.

Sondag 2 se: Christus leer ons: Jy moet die Here jou God liefhe met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met jou hele krag. Onthou u nog, dit was die eerste en grote gebod, waaraan die Heiland toegevoeg, jy moet jou naaste liefhe soos jouself. Aan die twee gebooie, aan die geregtigheid wat ons aan God skuld, hang die hele wet en die profete. Dit was nie al nie, in die volgende sondae het ons gehoor dat ons ook voldoening moet gee vir die straf, wat deur God aan die oortreding van die wet verbind is. Die geregtigheid van God bestaan dus uit sy liefde eisende geregtigheid en uit sy straf eisende geregtigheid.

Daar word nou die eerste laag van die fondament van die reg van God, gele. Aan die geregtigheid van God voldoen, want God is God en reg is reg en straf is straf. Voordat ons, oor die verlange tot terugkeer na die paradys gaan praat, moet vir ons onwrikbaar vasstaan wat ons aan God verskuldig is. Anders sou onse God geen God wees nie. Ons kan ook glad nie praat oor die geregtigheid wat ons as mense in die samelewing, mekaar verskuldig is nie, as ons nie rotsvas weet wat ons teenoor God skuldig is nie. Hoe kan 'n leefbare wereld ontstaan, die heerlikheid van die paradys terugkeer, as ons God nie gee waar HY reg op het nie? Sjaloom, vrede tussen mense, is alleen moontlik as daar sjaloom, vrede tussen mense en God kom. Vandaar dat ons belydenis konkludeer: daarom moet ons aan die geregtigheid of deur onsself of deur 'n ander ten volle betaal.

In die loop van die tyd het al baie mense teen daardie "ten volle betaal", in verset gekom. Baie mense se: "betaal, wat 'n hard en kille woord! Wie gebruik dit nou as dit oor die verhouding tussen God en ons gaan. 'n Mens betaal in 'n kettingwinkel en paaiemente op die huis of motorkar, maar tog nie vir God nie? " As ons so dink dan het ons nog nooit regtig oor die woord nagedink nie. In die Bybel word die woord baie gebruik as dit oor die skuld aan God gaan.

As die digter van Psalm 116 aan die eind van sy lofprysing vir die verlossing uit angs en dood gekom het belowe hy: Ek sal my geloftes aan die Here betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk, in die voorhowe van die huis van die Here, binne-in jou, o Jerusalem! Halleluja! En psalm 76: 12 Doen geloftes en betaal die aan die Here julle God. Lees Prediker 5: 3 As jy 'n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe.

Die Skrif het hierdie gewone woord, betaal, uit ons daaglikse lewe geneem om daarmee uit te druk wat ons aan God verskuldig is. Iemand wat vir skuld in gyseling geneem is sal nie vry kom voordat die skuld volledig betaal is nie. So se ons belydenis, vra God betaling van die skuld tot die laaste sent betaal is. By hierdie sondag word ook na die gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser in Matt. 18: 25 verwys. Die dienskneg wat deur sy koning tienduisend talente kwyt geskeld was, het sy mede dienskneg in die gevangenis gewerp vanwee honderd pennings wat hy geskuld het. Dan werp die koning daardie dienskneg ook in die gevangenis totdat hy betaal het alles wat hy hom skuldig is.

Nogmaals: God is God en reg is reg. God het reg op betaling. Maar, gemeente, let nou op die verband waarin die kategismus die woord betaling gebruik. Word dit gedoen om ons in 'n doodloop straat vas te pen? Word die betalingseis vorentoe gebring, om ons alle hoop op die verlore paradys te ontneem? Is die sjaloom, die vrede met God onbereikbaar? Daar is geen sprake van nie. Lees wat daar staan! Daarom moet ons daaraan of deur onsself of.... gee nou aandag!..... deur 'n ander ten volle betaal.

In hierdie klipharde sin, sien ons plotseling die blye Evanglie skitter. God hou aan sy betalingseis vas, maar tegelyk word 'n ruim uitsig op verlossing oop gemaak. In die begin van sondag 5 word die verlossingsweg al gewys! Daar is verlossing, 'n ander wat in my plek ten volle vir my betaal. Is dit waar wat sommige beweer dat die deur vir die verlossing nou so effens oop gemaak is?

Glad nie! Voorop staan daar moet betaal word, ons God is nie 'n wispelturige God, 'n God wat vandag anders is as wat Hy gister was nie. God is God en reg is reg, maar as ek nie kan betaal nie, is daar die Ander wat my plek inneem. Dis na Rom. 8: 3 en 4 wat hier verwys word: "Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het die sonde binne die sondige bestaan van die mens veroordeel deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur as 'n offer vir die sonde. Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, ons wat ons lewe nie deur die sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees. " Wonderbaarlik is die soewereine liefde van God wat hier skitter. Toe ons in die volbring van die betalingseis bankrot speel, het God 'n ander weg oop gemaak. God het die wereld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal he.

II Die tema van ons preek is: Is daar 'n pad tot verlossing? Ons het die eerste antwoord gehoor: God maak die weg oop. Tog lyk dit of die leerling wat so vol spanning sy leermeester volg, nie goed geluister het nie. Mens sou verwag dat die leerling sou vra, maar wie is nou die Ander? Maar die leerling haak by die eerste deel van die antwoord vas en vra: Maar kan ons deur onsself betaal? Die volle diepte van antwoord 12 het hy kennelik nie verstaan nie. As ons nou alles aanwend wat ons aan vroomheid en liefde tot God en die naaste het, sal ons dan nie self met God in die reine kan kom nie? Die leerling wil nou self aan die werkspring, alle moontlikhede van vroomheid en self doen wil hy inspan. Sal hy dan nie met die geregtigheid van God kan regkom nie?

Self betaal, u en ek? Die antwoord sny diep: Nee, hoegenaamd nie. In watter opsig ook, totaal niks nie. Dink aan Luther, as daar een was wat probeer het om self tot die geregtigheid te kom dan was dit hy! In goeie werke het hy uitgeblink, hy het homself gekastei, met kaal kniee het hy die Pilatustrap in Rome opgekruip. Ons kategismus is opgestel in die tyd van die aflaathandel, mense het in daardie dae geglo die geregtigheid kan verdien of gekoop word. Rome leer dit nog, maar hoeveel protestante van daardie tyd af tot nou toe, dink dat hulle deur vrome bevinding of wettiese godsdiens vrede met God kan vind?

Wat van onsself broeders en susters? Kort en kragtig word in antwoord 13 die moontlikheid afgewys. Onsself maak die skuld nog daagliks meer! Die antwoord is ongelooflik skerp, daarmee word ons aan ons onvermoe en skuld ontdek, en tot verootmoediging gebring. Daar word na die boek Job verwys. Waar Job in 9: 2-4 bely: "Wie kan sy saak teen God wen? As jy 'n saak teen Hom sou wou voer, sou jy Hom nie eers op een vraag uit duisend kon antwoord nie. Die wysheid en krag van God is groot: wie kan Hom teenstaan? " En Elifas die Temaniet se in Job 15: 15 en 16: "As God nie eers die hemelwesens vertrou nie en selfs die hemel nie rein is in sy oe nie, hoeveel minder 'n onrein verdorwe mens wat boosheid indrink soos water? " Iemand het die woord van Elifas as volg verklaar: As die hemelwesens wat rein is, die gate wat sonde in die damwal van die wereld slaan, nie kan toemaak nie, hoeveel te minder sal die mens wat sy skuld nog elke dag meer maak, dit dan kan doen? Ontdekkend word daar die vyfde bede uit die Onse Vader aan toegevoeg. Daagliks bid ons vergeef ons ons skulde, hoe sou ons Heiland die bede vir ons kon geleer het, as ons nie met skuld belaai voor God staan nie?

Hierdie antwoord wil psalm 130, 'n pelgrimslied, by ons thuis maak, die man wat na die heiligdom opgaan om sy God te ontmoet, bid: " Uit die diepte roep ek na U Here luister tog na my, Here, hoor tog my hulp geroep. As u ons sondes in aanmerking sou neem, Here wie sou dan nog bestaan? " Ons moet die woordjie "ons" in die antwoord raak sien. Ons maak die skuld nog daagliks meer! Daar staan nie hulle, die goddeloses, ongelowiges nie, maar ons!

Van die ongelowiges wil ons dit direk aanvaar, die wereld om ons is vol van ongeregtigheid. Die roep om 'n leefbare wereld klink luid, maar vernietiging van lewe voor die geboorte neem hand oor hand toe. Ja selfs 'n lewe wat vir die samelewing nutteloos is moet maar verwyder word. So dreig die ongeregtigheid in hierdie wereld vol te word. Tog se die kategismus "ons" wat daagliks teen al die gebooie van God swaar sondig maak die skuld meer. Nogtans dryf dit die leerling nie na die "Ander" van antwoord 12 uit nie. Die leerling bly na ander moontlikhede soek. Kan daar ook erens enige skepsel gevind word om vir ons te betaal? Het God in die Ou-Testament geen genoee met offers geneem nie?

Is die bloed van duisende beeste en honderdduisende skape by die inwyding van die tempel verniet gestort. Het die offerbloedstroom wat deur die hele Ou-Testament heen gevloei het, die toorn van God nie gestil nie? Ja, vir 'n tyd het God met daardie bloed genoee geneem, omdat Hy agter daardie bloed, die dierbare bloed van sy geliefde Seun reeds gesien het. Maar God is God en reg is reg. God bly betaling eis van die mens wat gesondig het en vir Hom skuldig staan. As God opstaan vanwee sy reg wat ons mense geskend het, wat sal 'n mens dan teenoor God maak? Moses vra in psalm 90: 11 "Wie ken die sterkte van u toorn en u grimmigheid, ooreenkomstig die vrees wat aan U verskuldig is? " So het die leerling hier op aarde alle moontlike paaie tot verlossing probeer betree, maar almal is doodlooppaaie!

III Die gesprek staan nou einde se kant toe, alle deure van die tronk, waarin die mens homself toegesluit het, is verseel. Is daar geen uitkom kans nie? So word die laaste vraag aan die hart van die leerling ontpers: Hoedanig 'n middelaar en verlosser moet ons dan soek? Alle klem le hier op die woordjie "dan" As dit dan so is: alle deure toegesluit, alle paaie doodlooppaaie, waar moet ons dan nog soek? By watter middelaar en verlosser? Die leerling word reggehelp, soos Paulus eenmaal Timoteus in die eerste brief hoofstuk 2 vers 5 en 6 reggehelp het: "Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as 'n losprys vir almal gegee het. " Timoteus het net soos ons, te midde van vals leerstellings en verdigsels van mense wat van die geloof afgewyk het, te staan gekom. Hoor jy dit Timoteus, hoor julle dit kerk van alle eeue, daar is maar een Middelaar tussen God en die mense: Die mens Christus Jesus.

Hy is dit wat tussen God wat betaling eis en ons wat betaling verskuldig is, bemiddel. Hy versoen. Hy verlos. So mooi word in vraag 15 langs die woord Middelaar die woord Verlosser gebruik. Die kategismus sou maklik hier al die Naam van die verlosser kon noem, maar die kategismus is besig om die fondament vir die verlossing te le. Daarom se die antwoord: Die Middelaar moet 'n waaragtige en regverdige mens wees en nogtans ook sterker as alle skepsele, dit is, ook tegelykertyd waaragtig God wees.

Maar ons wil hierdie preek nie beeindig sonder die Naam te noem nie. Die Naam is Jesus. Daar is Een in hierdie ontredderde en chaotiese wereld wat ons weer tot genade, tot die paradys kan bring. Daar is Een wat hierdie wereld leefbaar kan maak, die sjaloom van God weer kan herstel. Met die woorde van Johannes die doper wat Hom na hom toe sien kom het, wil ek hom nou ook aanwys: " Daar is die Lam van God wat die sonde van die wereld wegneem" Hy is die "Ander" van antwoord 12. Hy het tot sy laaste druppel bloed op Golgota gestort, om vir u en vir my te betaal. In een persoon is Hy God en mens. Dis Hy wat geroep het: Dit is volbring! God is God en reg is reg. Dit bly rotsvas staan, en tog is daar verlossing deur Hom wat met sy hartebloed vir ons aan God betaal het.

31 Oktober het daar 'n man van die kerk oor die kerkplein huis toe gestap. Op die papier wat hy op die kerkdeur agter gelaat het, kon gelees word: Die ware skat van die kerk is: die allerheiligst Evangelie van die heerlikheid en die genade van God. Hierdie sondag 5 van die kategismus se: Die fondament vir die Evangelie is in die Ene, die Ander, in Jesus Christus onwrikbaar gele. Gemeente soek en volg HOM.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)