God se genade is nie goedkoop nie

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 5
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 5 HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
SB. 8: 1, 2
Wet
SB. 8: 4
Gebed
L. Matth. 18: 23-27
Ps. 130: 2 (tweede beryming)
L. Psalm 49: 1-10
Ps. 49: 3
L. 1 Petr. 1: 17-21
SB. 7: 8
Prediking
Ps. 40: 5
Openbare Geloofsbelydenis
SB. 24: 3
Gebed
Kollekte
Ps. 32: 1, 6

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Daar is sake wat 'n mens liewer nie aan die groot klok hang nie.

Byvoorbeeld as jou klok gelui het. As jou besigheid bankrot gegaan en jy tot die bedelstaf geraak het.

As jy voortaan van die bedeling moet lewe.

'n Mens skaam hom oor derglike dinge. Daarmee loop jy nie te koop nie.

Maar vanoggend is daar in ons midde 'n hele aantal jongmense wat in die openbaar daarvoor uitkom dat hulle elkeen 'n onbetaalbaar hoë skuld opgebou het. 'n Skuld wat hulle nog daagliks groter maak.

Hulle beken publiek dat hulle so skuld so vreeslik is dat hulle die doodstraf verdien. Die ewige tronkstraf van die hel.

En hulle skaam hulle ook nie daarvoor dat hulle 'n Borg moes kry wat bereid was om hul totale skuld op Hom te neem nie.

Wat hulle aanbetref mag dit aan die groot klok gehang word dat hulle voortaan nog slegs van die bedeling lewe. Elkeen mag dit weet -nie net in die kerk nie, maar ook die bure, die mense bij de werk, die medestudente- dat hul lewe totaal afhanklik geword het van die ene Mens Jesus van Nasareth.

Van Hom eet hulle voortaan genadebrood: baie letterlik- aan die Nagmaaltafel voor in die kerk.

Hierdie jongmense is geen snaakse uitsondering nie, broeders en susters. Hulle voeg hulle maar net by 'n menigte ander mense wat reeds eerder publiek die bankrot van hul lewe erken en voortaan die lewe buite hulself in Jesus Christus gaan soek het.

Ons almal doen mos so!

Ons almal, vir sover ons reeds belydenis van ons skuld gedoen het, sal mos volgende week weer die genadebrood aan die tafel van ons Here eet.

Daarin verskil ons in die kerk van die ander mense in hierdie wêreld: ons het alle valse skaamte oorboord gegooi en gee nie meer om nie om te erken dat ons nog slegs van genade lewe.

Maar, voordat 'n mens tot daardie erkenning kom, moet hy wel eers heelwat by homself oorwin. Daar moet heelwat hoogmoed en trots afgebreek word.

Ook ons moes en moet nog telkens léér om God se genade publiek as 'n geskenk te aanvaar.

Julle, jongmense, het daarvoor 'n lank pad geloop van opvoeding deur julle ouers, katkisasie, luister na die preke en self met God se Woord besig wees.

En julle weet dat die leerproses nie vandag, met julle openbare geloofsbelydenis, afgesluit word nie. Dit bly nodig dat ons aanhoudend aan die omvang van ons skuld by God herinner word. Dit bly nodig dat aan ons voorgehou word hoe 'n hoë prys daar vir ons skuld betaal moes word sodat ons daarvan ontslae kon raak.

Daarom dwing die HERE ons ook vanoggend om weereens 'n slag daarop te besin. Sodat ons met des te groter verwondering sy genade oor ons lewe aan die groot klok sal bly hang.

In sy Naam moet ek weereens aan u voorhou:

GOD SE GENADE IS NIE GOEDKOOP NIE

En ek wil agtereenvolgens vir u wys:

  1. ONS SKULD IS VIR ONS ONBETAALBAAR
  2. 'N BORG WAS VIR ONS ONVINDBAAR

1. Die Koninkryk van die hemele kan vergelyk word met 'n sekere koning wat met sy diensknegte wou afreken....

So het God se Seun self dit vir ons gesê.

Sy hemelse Vader is die Koning op die troon. Ons is die slawe wat 'n ontsaglike skuld by hom moet vereffen.

Dit is 'n bekende gelykenis, broeders en susters, en ik reken u vind dit ook 'n mooi gelykenis, Veral oor wat in vs. 27 staan: "En die heer van daardie dienskneg het innig jammer vir hom gevoel en hom die skuld kwytgeskeld. "

'n Oomblik het daar vir daardie kneg 'n vreeslike toekoms gedreig, 'n oomblik het die situasie volkome uitsigloos gelyk - maar toe was daar skielik die ommekeer en 'n van skuld ontslae mens kon springend van blydskap die lewe weer ingaan.

So gaan dit met óns in die Koninkryk van die hemel. Onverdiende kwytskelding van skuld, en ons mag léwe danksy God se vergewende genade.

Maar ons moenie alte gou in daardie gelykenis na vs. 27 toe gaan nie, gemeente. U kán die vergewing waarvan daar gepraat word alte maklik na u wil toe haal en daarmee God se genade goedkoop maak. Ek weet, dit gaan vinnig in daardie gelykenis van Matt. 18; dit kan in dié verhaal omdat die swaartepunt in die tweede gedeelte lê. Maar in der waarheid gaan dit nie só maklik in God se Koninkryk nie. God vergeef nie so vinnig nie.

Inteendeel, daar moes eers 'n wonder gebeur voordat ons God ons van ons skuld kon ontslaan.

God het die skuld nie sommer eenkant geskuif nie.

Dis veral dáárop dat die Kategismus in Sondag 5 alle nadruk laat val. Hierdie sondagsafdeling is die eerste van die gedeelte wat oor ons verlossing handel. Die omvang en die erns van ons skuld is in die voorafgaande sondae vasgestel. Noú sal ons dan hoor hoedat ons met hierdie vreeslike skuldelas nogtans weer onder God se oë kan kom.

Dus nou word dit tyd vir woorde soos "vergewing", "genade" "versoening", sou mens dink. Maar dan sal ons tog moet leer dat ons nie sommerso van ons skuld ontslae raak nie. Die wat alte gou die woordjie "genade" na hom toe wil haal, word deur die Kategismus in Sondag 5 teruggewys.

Is daar 'n weg om, soos daardie slaaf in die gelykenis, die straf vry te spring en weer deur God in genade aangeneem te word?

Ja, dis moontlik, leer Sondag 5, maar dit kan net langs een smal paadjie: God wil dat daar voldoen word, en daarom moet ons óf deur onsself óf deur 'n ander ten volle betaal.

Moenie daar daardie gelykenis u mislei nie. God wil regtig eers dat die skuld vereffen word.

Die Kategismus trek hiermee eenvoudig die lyn van Sondag 4 deur. Ons het daar reeds moet leer dat ons God 'n regverdige God is. Dit wat Hy een keer gesê het, sal Hy nie meer verander nie. En ons skuld is vir Hom heeltemal onaanvaarbaar. Hy kan dit onmoontlik deur die vingers sien.

Hy kom nie ter wille van ons van sy troon af nie, maar Hy bly ons voor sy troon ontbied. Hy bly eis dit waarop Hy reg het, al het die skuld ook onbetaalbaar hoog opgeloop.

So sal u u Koning moet ken, broeders en susters. Hy stap nie maklik oor u skulde heen nie en Hy vee die onbetaalde rekening nie ruimhartig van die tafel af nie.

Hy kán dit nie doen sonder om sy eie reg te krenk en sonder om Homself te kort te doen nie.

Want Hy wil met ons na die situasie van die Paradys terug. Hy is nog steeds die God van die Paradys en Hy hou steeds vas aan die verbond van die begin.

En Hy het by voorbaat gesê: Wie breek moet betaal!

Die verbreking van die paradysverbond kom die mens duur te staan. Want nou kan die verhouding alleen nog herstel word as die skuld van die breek ten volle betaal word.

En "betaal" beteken hier, gemeente, dat asnog aan God die liefde gegee word waarop Hy reg het -want méér het God nooit van ons gevra nie, as dat ons Hom moes liefhê met ons hele hart en siel en verstand en kragte, dat ons lewe die ene liefde vir Hom sou wees in 'n spontane beantwoording van sy liefde vir ons!

Maar boonop moet alle agterstallige liefde ook nog betaal word in 'n gewillige aanvaarding van God se straf daaroor.

Dis nie 'n kleine skuld wat weggewerk moet word nie. Ons rekening by God het ontsaglik hoog opgeloop. Het vir ons heeltemal onbetaalbaar geword, want watter mens kan die toorn van God oor sy gekrenkte liefde dra sonder om vir ewig daaronder te beswyk??

Maar nou sê God nie: "Nou maar goed, verskeur maar daardie rekening" nie. "Ons praat nie meer daaroor nie. Ek sal daardie hele skuld in een keer kwytskeld en ons begin sommer opnuut. Ons trek 'n streep onder die verlede en julle mag weer met 'n skoon lei begin".

Nee so maklik kom ons nie van ons skuld af nie. Die HERE sou Homself te kort doen en dit sou tussen Hom en ons nooit regtig weer reg kom nie. God kan nie heen stap oor die skuld wat daar tussen ons en Hom lê nie. As dit weer moet word soos dit in die Paradys was, sal daardie skuld heeltemal opgeruim moet word. God wil die rekening nie opskeur nie. Hy wil "betaal", "voldoen" daarop kan skrywe nadat die skuld regtig vereffen is.

Daar moét betaal word.

Mense wat alte gou voor God se troon wil opstaan, word dus weer neergedruk, broeders en susters.

En as ons, soos die slaaf in die gelykenis van Matt. 18, wil stamel: "Heer, wees lankmoedig met my, ek vra bietjie geduld, en ek sal U alles betaal", word ons dadelik die mond gesnoer. Waarvan praat ons?

Wie kry dit reg om alle agterstallige skuld weg te werk? Dis onmoontlik om dit af te betaal. Ons almal het alreeds met skuld in die wêreld ingekom, en vanaff ons geboorte tot op vandag het ons elke dag die skuld groter gemaak. Die rekening het al hoe langer geword en sál ook nog steeds langer word.

Want nog elke dag doen ons, u en ek, ons God en Koning te kort: ons onthou Hom die liefde, die lof en die aanbidding waarop hy reg het.

Ja, dis ons skuld: nog afgesien van alles wat ons verkéérd doen, is dit in die eerste plek dat ons God te kórt doen. Hy het die reg op die ongedeelte liefde van ons hart en lewe. Hy mag vra dat ons in alles vir Hom lewe.

Maar juis daarin skiet ons op 'n vreeslike manier te kort. In stede dat ons die skuld algaande vereffen, stapel dit maar net al hoe hoër op. En God hou elke dag die boeke by. Daar ontsnap niks aan sy aandag as Hy sy goddelike maatstaf langs ons lewe lê nie. Elke tekort noteer Hy. Alle skuld word by geskrywe en God kan niks deur die vingers sien nie, niks vergoeielik nie. Nooit kan Hy sy eise bietjie laer stel nie.

Ons moét hiervan telkens opnuut deurdronge raak, gemeente, voordat ons van vergewing kan praat. Anders maak ons God se genade goedkoop.

Soos reeds so dikwels gedoen is.

Die volk Israel het dit gedoen, toe hulle gedink het hulle kan met offers van bulle en bokke die HERE afbetaal; toe hulle gedink het hulle kan die HERE gunstig stem as hulle die wet en 'n hele aantal ander gebooie wat hulle self gemaak het, stiptelik naleef.

En toe was dit maar 'n klein stappie verder en hulle het hul skuld by die HERE selfs heeltemal vergeet en hulle het gedink hulle kon met hul offerdiens en met die nalewing van 'n hele serie wette iets by God verdien. Sodat God nou by hulle in die skuld kom staan het!

Hierdie ontwikkeling sien ons daarna in die kerkgeskiedenis telkens terugkom. Die opstellers van die Heidelbergse Kategismus het dit in hul dae in die Roomse kerk gesien. Deur misoffers en ander heilige verrigtings van die kerk kon die skuld by God weggewerk word. En ook hier het die aandag soos vanself vàn afbetaal na verdien, na wins maak by God verskuif. Asof God 'n vroom lewe eendag fors sou moet beloon!

Hoe dikwels is ook in die kerkgeskiedenis die Nagmaalsviering gemaak tot 'n demonstrasie van selfversekerde mense wat nie na die tafel van die Here toe gekom het om daar genádebrood te ontvang nie, maar om te wys watter vrome kerkmense hulle was.

Maar ook u en ek kan maklik gaan dink oor die skuld wat ons by die HERE het en wat ons nog elke dag groter maak, broeders en susters. Ook ons kan geleidelik aan gaan dink ons het vir die HERE tog heelwat om aan te bied, veral as ons onsself met baie ander mense vergelyk. Ons liefde vir die kerk, ons insig in die Skriftuurlike verbondsleer, ons finansiële offers, ons ywer vir allerlei arbeid in die diens van God se koninkryk- as ons dit alles by mekaar optel, hoef ons dit tog regtig nie weg te syfer nie.....

Julle kan gaan dink dat julle, noudat julle sover gekom het dat julle geloofsbelydenis afgelê het, tog seker aanvaarbaar vir God geword het.

Maar ons moet onsself nie bedrieg nie! Die werklikheid is dat ons, ook met hierdie op sigself goeie dinge, self nooit die oneindige skuld by God kan wegwerk nie. Ons kom voortdurend kort. Pleks van dat ons afbetaal, maak ons die skuld juis nog groter. Elke dag groei ons tekort.

Ons kry die rekening nie klaar betaal nie. Deur ons kan God daarop nooit "voldaan" skrywe nie.

As u in finansiële opsig skulde maak, broeders en susters, en daardie skulde groei gestadig, bring dit 'n aaklige spanning in u lewe. Dan is dit asof daar dreigende wolke bo jou kop saampak en by elke uitgawe wat jy doen, groei die angstige bekommernis: waarop gaan dit uitloop? !

Maar as dit alreeds so by finansiële skulde is, wie van ons durf dan lughartig heen te stap oor die onoorsienbare skuldelas wat ons almal stuk vir stuk by obs hemelse Koning het? Daar staan op hierdie skuld die swaarste straf: die ewige straf aan liggaam en siel.

2. Maar as ons dít besef en daarom maar die liefste skuldbewus wil wegkruip voor God se troon- weg onder God se verwytende oë uit, hef die Koning self ons hoofde op. Dán sê Hy: "Ek wil jou skuld vergewe, heeltemal en vir altyd".

Maar Hy sê dit nie sommerso nie. Hy kón dit mos nie. Daarom doen Hy dit anderste: na Hy ons met ons neus op ons skuld gedruk het, sodat ons nie meer weet waar om te kyk nie, maak Hy ons oë oop vir die enigste middel wat daar is om nogtans die straf te kan ontgaan en weer in genade aangeneem te word. Hy wys vir ons die Borg wat bereid was om ons skuld ten volle van ons oor te neem en tot die laaste sent te betaal, ja, om ook die skulde wat ons nog sál maak, by voorbaat te voldoen.

Hierdie Borg is dan ook nie die eerste die beste nie. Sover ons mense kon kyk was daar geen Borg te vinde wat in staan sou wees om hierdie onnoemlike skuld van ons oor te neem nie. Want God het te veel gevra. Die skuld was te groot. Onbetaalbaar. Geen mens kon homself van sy skuldelas bevry nie, laat staan dat hy ander mense daarvan kon afhelp.

Dit was soos ons in Psalm 49 gelees en gesing het: "Niemand kan ooit 'n broeder loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie. Want die losprys van hul lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend".

Dus was dierebloed al heeltemal ontoereikend om menseskuld te versoen. En sels 'n engel kon nie ons borg wees nie. Want ons hemelse Koning het nie enige borg sommer aanvaar nie. Afgesien daarvan dat niemand dit sou kon regkry nie, wou God ook aan geen ander skepsel die skuld straf wat die mens gemaak het nie. Dit moes 'n mens van vlees en bloed soos ons wees.

So'n borg was totaal onvindbaar op aarde.

Maar Hy wat vir ons almal onvindbaar was, was deur God lankal gevind. Ons hemelse Koning het Hom lank tevore al agter die hand gehad, reeds voor die grondlegging van die wêreld, skryf die apostel Petrus: God se eie Seun wat Hom in ons plek voor God se troon wou stel om die afrekening te hou en ons skuld te vereffen. Hy, die vlekkelose Offerlam sonder gebrek, was in staat om ons los te koop, nie met verganklike dinge, silwer of goud nie, maar met sy eie kosbare bloed.

Dit wat by die mense onmoontlik was, het God darem moontlik gemaak: Hy het die Mens gegee wat nogtans ook sterker as alle skepsels is en in staat om die skuldelas van die hele wêreld op sy skouers te neem.

En só is toe ons skuld weggedoen uit God se boek, sonder dat God van die troon moes kom en sy reg verloën.

Daar ís betaal, en God kon "voldoen" op die rekening skrywe, nadat Christus geroep het: "Dit is volbring".

Nou kan God aan ons genade skenk, broeders en susters, en die skuld kwytskeld. Nou lê die lewe vir ons weer oop. Maar eers nadat vir hierdie genade die hoogste prys betaal was: die kosbare bloed van God se eie Seun.

Ek het gesê: daar moes eers 'n wonder gebeur voordat God ons van ons skuld kon ontslaan.

Maar daardie wonder hét gebeur -God self het dit bewerk- en ons kan nou alleen nog maar diep ver-wonderd wees.

Van dié wonder in julle lewe doen julle, jongmense, vanoggend in die openbaar belydenis. Dié wonder vier ons vervolgens 'n week later saam aan die nagmaalstafel.

Ja, ons skaam ons voor God en die mense oor ons verskriklike skuld.

Maar die verwondering oor God se onverdiende -nee: deur ons Here Jesus Christus verdiende!- genade is sterker as ons skaamte.

En dis dié dat ons vrymoedig te koop loop met die feit dat God se genade in ons lewe nie goedkoop is nie.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)