Daar is vir ons verlossing 'n herskepping nodig

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 3
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 3 HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 103: 1, 2
Wetslesing
Ps. 103: 6
L. Psalm 8 & Rom 1: 18-32
Gebed
Kollekte
Ps. 8
Prediking
Ps. 51: 2, 4
Gebed
Ps. 51: 5, 6
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Daar word in ons kerke baie nadruk op die sonde van die mens gelê. Nie in die eerste plek van ánder mense, buite die kerk nie: slegte politieke leiers, misdadigers wat onskuldige burgers sommer doodskiet of doodkap of met petrolbomme doodbrand. Nee, in die kerk word ons éie sonde aanhoudend in die kalklig gebring. Vanaf die prille babagehuil tot aan die uiterste doodsnik van 'n mens praat die kerk oor die erns van die sonde in ons lewe.

As daar 'n klein babatjie in die kerk ingedra word om gedoop te word, en almal verteder is oor daardie klein mensie waarin vir ons gevoel nog geen kwaad kan skuil nie, en die dominee die doopsformulier begin lees, is die eerste woorde meteens: "Ons en ons kinder is in sonde ontvang en gebore en daarom rus die toorn van God op ons.... ".

Wanneer daardie kind later sy eerste katkisasielesse ontvang, moet hy, na die inleidende Sondag 1 oor ons enigste troos, allereers vrae en antwoorde uit sy kop uit leer oor hoe groot ons sonde en ellende is.

En vroeër het daar agter in die kerkboek 'n sieketroos gestaan, "'n onderwysing in die geloof en in die weg van die saligheid, om gewilliglik te sterwe". Broeders en susters wat nog 'n ou Hollandse Psalmboekie het, moet by die huis maar 'n keer kyk: dit staan heeltemal agterin. Dit was 'n soort preek wat 'n dominee of 'n ouderling kon voorlees aan 'n lidmaat wat ongeneeslik siek was en hom op die sterwe moes voorberei.

Maar selfs daardie voorbereiding op die sterwe het direk met die erns van die mens se sonde begin. Ek haal aan: "Nadat Adam reg en goed geskape was, te wete heilig, regverdig, onsterflik, en deur God tot 'n heer oor alle skepsels gemaak was, het hy nie lank in hierdie posisie gebly nie; maar hy het deur die listigheid van die Satan en deur sy eie ongehoorsaamheid, uit hierdie heerlike posisie geval en het sodoende die verderf van die tydelike en ewige dood oor ons almal gebring. Dit is die erfsonde waarvan Dawid in die Psalm praat as hy sê: Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, in sonde het my moeder my ontvang".

So is daar in gereformeerde kerke eeue lank al met nadruk op die erns van ons sondeval gewys. En as daar geluide opgeklink het waarin die erns van die sonde 'n ietsie afgeswak is, het die kerke altyd direk kragtig daarteen opgetree en dit die kop probeer indruk. Niemand mag die vreeslike waarheid dat ons in sonde ontvang en gebore is en dat ons natuur so verdorwe is dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie maar tot alle kwaad geneig is, probeer vergoeilik nie.

Waarom kry die sonde in ons geloofsleer so'n sware aksent, broeders en susters? Is Gereformeerdes van ouds 'n klompie suurknolle? Pessimistiese mense wat hulleself en mekaar aanhoudend 'n skuldkompleks aanpraat?

Sulke verwytende en spottende kritiek moet ons wel dikwels aanhoor.

Maar u weet tog van beter?

U weet tog dat ons die erns van ons skuld by God wat ons nog daagliks groter maak, nie mág verklein nie maar juis al hoe duideliker moét leer insien om die wonder van God se verlossing deur Christus al hoe beter te kan raaksien.

Die wat torring aan die swaarte van ons skuld by God, torring onvermydelik ook aan die wonder van ons verlossing deur God. Alle verhale oor Christus en Golgota, oor vergewing en versoening, word goedkoop as ons die swaarte van ons skuld nie meer verstaan nie.

Dis dié dat ek ook vanoggend in hierdie preek oor die oorsprong en die omvang van ons sonde moet praat, gemeente. Nie omdat ons sombere, vreugdelose mense is nie. Maar sodat ons die ene vreugde en verwondering sal bly oor die nuwe lewe wat ons danksy Christus van God ontvang.

Met die doel bedien ek u nou God se woord onder hierdie tema:

DAAR IS VIR ONS VERLOSSING 'N HERSKEPPING NODIG

Ons sal agtereenvolgens nagaan:

  1. ONS IS NA GOD SE BEELD GESKEP
  2. ONS HET VIR DIE DUIWEL SE BEELD GEKIES
  3. ONS MOET NA CHRISTUS SE BEELD HERSKEP WORD

1. Ons moét dus oor die erns van ons sonde praat, broeders en susters. Maar dis nie 'n aangename besigheid nie. Kyk hoe vernietigend is die gevolgtrekking aan die einde van hierdie derde Sondagsafdeling vir ons! "Ons is so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig. " Slegs as ons deur God se Heilige Gees tot totaal ander mense gemaak word, as ons 'n nuwe geboorte ondergaan, kan daar uit ons lewe weer iets goeds voortkom.

Trouwens, tot hierdie aaklige slotsom het Sondag 2 eintlik al gekom: "Ons is van nature geneig om God en ons naaste te haat".

Sowel in Sondag 2 as in Sondag 3 praat die Kategismus van ons natuur. Ons natuur is so verdorwe dat niks goeds meer kan doen nie en geneig is om God en die naaste te haat.

Dit is dus nie so dat ek van tyd tot tyd deur verkeerde neigings en dade oorval word nie Die sonde is nie 'n vyand wat ek in my lewe buite die deur moet probeer hou nie. Nee, die sonde, die haat teen God en my naaste, woon in my. Dit is iets wat tot my geaardheid behoort. Ek is daarmee gebore en ek sal daarmee ook sterwe al veg ek ook my lewe lank daarteen. Die sonde beheers my mens-wees.

Maar as die sonde dus 'n aangebore kwaad is, wat van kind tot kind geërf word, beteken dit dat nie dat God verkeerde mense geskep het nie?

Dié vraag stel die Kategismus voorop in Sondag 3.

U sal verstaan: die Kategismus wil hier regtig nie God se goeie skepping betwyfel nie. Daaroor word geen moment die diskussie geopen nie. Die antwoord staan by voorbaat vas: natuurlik het God die mens nie sondig en verkeerd geskep nie.

Nogtans word die vraag gevra, omdat daar regdeur die kerkgeskiedenis wel steeds filosofiese en godsdienstige stromings was wat geleer het dat die mens vanaf die skepping dadelik sleg was.

Kom ek noem een naam. Dit is maar net een variant van talle stromings wat soiets geleer het. Maar ek noem hierdie omdat u hom raakloop in die Nederlandse Geloofsbelydenis, in art 12. Sal ons saam gou kyk? (bls. 495 in die kerkboek)

Aan die einde van daardie artikel word van die dwaling van die Manigeërs gepraat. Die Manigeïsme, 'n dwaling wat in die 6de eeu na Christus voorgekom het en wat selfs die kerkvader Augustinus 'n hele ruk in sy ban gehad het, het volgens art. 12 NGB geleer dat die duíwels reeds van nature sleg is en nie deur 'n sondeval op 'n stadium sleg gewórd het nie. Die Manigeërs het egter dieselfde mbt tot die méns geleer! Die sonde het nie op 'n bepaalde dag in God se goeie wêreld ingedring nie, nee, goed en kwaad was uit die staanspoor in die wêreld aanwesig, het hulle gesê.

Verstaan u wat die gevolge van so 'n gedagtegang is, gemeente? As die sonde van meet af aan in die menselewe aanwesig was, is ons natuurlik nie meer skuldig aan die sonde nie. Ons is dan slagoffers van die sonde! Niemand kan ons iets verkwalik nie. 'n Mens moet ons eerder jammer kry.

En kyk, daardie gedagte wil die eerste vraag van Sondag 3 direk afsny.

Ons moet van ons sondeval bly praat! Ons het, na 'n goeie, ja, 'n baie mooie begin, in sonde geval. Deur ons eie skuld.

Die eerste bladsy van die Bybel vertel nie van die ontstaan van 'n wêreld waarin die sonde direk 'n realiteit was nie. Inteendeel, ons lees daar die verhaal hoe ons goeie God 'n wonderlike wêreld geskep het. Die blye refrein klink telkens weer in Genesis 1: "Toe sien God dat dit goed was". En na die skepping van die mens lees ons selfs: "Dit was baie goed".

Want daardie mens was die mooiste skepsel wat God gemaak het: geskep na sy beeld, na sy gelykenis.

Oor daardie bekende uitdrukking uit Genesis 1 sou 'n mens 'n hele wetenskaplike verhandeling kon hou. Maar daarvoor is die preekstoel natuurlik nie die regte plek nie.

Laat ek die bedoeling van die mens se beeld-wees van God vir u vanoggend net probeer duidelik maak met die voorbeeld wat Calvyn gebruik het. Hy het die mens 'n spieël van God op aarde genoem. Die mens moes God se spieëlbeeld op aarde wees.

Nie in dié sin dat ons uíterlik presies op God lyk nie. Maar in ons doen en late moet ons God se grootheid weerspieël. Soos 'n seun uiterlik glad nie na sy pa hoef te lyk nie, terwyl hy as persoon tog die ewebeeld van sy pa kan wees. As jy hom hoor praat, as jy hom besig sien, is dit asof jy sy pa hoor en sien.

Maar hoe kan 'n mens soos u en ek 'n spieëlbeeld van die groot en almagtige God wees, broeders en susters? !

Wel, die HERE sê dit meteen daarby in Genesis 1: "Laat ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis...... en laat hulle heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel, die vee, ja oor die hele aarde".

Dieselfde klanke het ons in Psalm 8 gelees. God het die mens byna goddelik gemaak!, stamel Dawid daar vol ontsag. Hoe dan? God het hom met eer en heerlikheid gekroon en laat hom heers oor die werke van sy hande.

Die mens mog met God se skepping besig wees, dit tot al hoe ryker ontplooiing bring, telkens nuwe skatte en wonders daaruit tevoorskyn bring en dáárdeur God se heerlikheid al hoe indrukwekkender aan die lig bring.

Want dít was God se uiteindelike doelwit toe Hy die mens as 'n onderkoning op aarde aangestel het om Hom as die groot Koning te weerspieël: die mens moes nie sy eie nie, maar Gód se glans en majesteit soos 'n spieël weerkaats.

En so teken die eerste bladsy van die Bybel ons dus 'n mens wat niemand hoef jammerkry nie. Geen slagoffer van 'n slegte skepping nie, maar God se kroon op 'n wonderlike wêreld. Daar was niks verkeerd met die mens wat God geskep het nie. Hy het sy God en Skepper baie goed geken en was heeltemal in staat om die goeie God herkenbaar te maak in sy doen en late.

Sondag 3 sê dit in antwoord 6 so: God het die mens geskep "in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God, sy Skepper, reg sou ken, Hom van harte sou liefhê... ". Vandag kan die mens nie meer in die sonlig van God se goeie wet waarin Hy een en al liefde vra, verkeer nie. Daardie wet bring al sy slegtheid aan die lig en bespoedig die proses van bederf.

Maar die mens soos God hom eendag geskep het, kon vrolik in daardie sonlig lewe. Hy was 'n regverdige mens, sonder sonde. Hy wóu ook graag in daardie sonlig lewe: hy was 'n heilige mens wie se lus en lewe dit was om sy God al hoe beter te leer ken, Homlief te hê, te loof en te prys.

2. So het God met die mens begin, broeders en susters. En ons kan Hom dus niks verkwalik nie. Ons kan selfs die duiwel nie alleen verkwalik dat ons vandag heeltemal ander mense geword het nie. Ons moet dit allereers onsself verkwalik. Ons het van daardie hoogte waarop God ons geplaas het, af geval. Deur ongehoorsaamheid.

U ken die verhaal. Ook al dadelik in die begin van die Bybel. Daardie beskamende verhaal, ja, amper irriterende verhaal omdat dit ons pynlik aan ons dwaasheid en hoogmoed herinner.

Juis daarom is daar al baie aan hierdie verhaal gepeuter. Daar is die spot gedrywe met Eva se appel. Daar is groot vraagtekens geplaas agter die feit dat die slang met Mannin gepraat het. U weet dalk: dit het in Nederland selfs 'n kerkskeuring opgelewer in die Gereformeerde Kerke in die twintiger jare, rond die persoon van dr Geelkerken. Maar ook hier in Suid-Afrika was daar in dieselfde jare 'n soortgelyke stryd, in die NG Kerk. 'n Sekere prof. Du Plessis van Stellenbosch het dieselfde opvattings as daardie Dr Geelkerken gehuldig.

Is dit moeilik om te glo dat 'n slang in die Paradys gepraat het, gemeente? Maar die HERE het die valse profeet Bileam se donkie mos ook laat praat. En die duiwel, het Luther al gesê, is die aap van God. Hy aap God eenvoudig na. Hy kan deur mensemonde praat, mense wat van Hom besete is, Hy kan ook dieremonde laat praat.

Maar het Mannin haar dan nie boeglam geskrik toe daar skielik 'n slang met haar begin praat het nie? Hoekom sou sy skrik? Sy het nie soos ons van kleinsaf groot geword en gewoond geraak aan dinge wat vir ons gevoel gewoon en dinge wat vir ons gevoel baie ongewoon, ja, eintlik onmoontlik is nie. Sy is skielik deur God in 'n wêreld geplaas waarin alles nuut en ongewoon en wonderbaarlik was. Elke dag het sy nuwe wonders van God raakgeloop. Sy het agtergekom dat by God niks onmoontlik is nie. Hoekom sou God nie ook 'n dier kan laat praat nie?

Maar in daardie geval was dit dus nie God nie, maar die duiwel wat deur die slang gepraat en die mens tot ongehoorsaamheid verlei het. Hy het die mens oorgehaal om te eet van "die boom van kennis van goed en kwaad".

U weet: die HERE het daardie boom in die Paradys geplaas om te toets of die mens vrywillig sou aanvaar dat hy maar net 'n skepsel is uit die hande van die Skepper, slegs kind van 'n goddelike Vader, onder-koning onder God. Deur daardie boom uit te los, moes die mens wys dat hy heeltemal kon aanvaar dat slegs die alleenwyse God kan en mag besluit oor wat goed en kwaad is en dat hy wat nie meer as mens is nie, eenvoudig na God moes luister en aan Hom gehoorsaam moes wees.

God wou toets of die mens Hom so lief wou hê dat hy net Gód se eer wou bevorder sonder om op sy eie eer uit te wees.

Maar toe kom die duiwel, daardie gevalle engel wat op 'n stadium sy eie eer teenoor God begin soek het, wat net soos God wou wees, wat voortaan eiewys self wou besluit oor reg en verkeerd. En hy kry dit reg om ook die mens so 'n eiewysheid aan te praat. "Eet van daardie boom", sê hy, "en julle sal net soos God wees. Julle sal voortaan julle eie besluite kan neem, julle hoef nie meer vir enige ding eers na die HERE te luister nie. Daardie tyd van kind-wees, onmondig-wees, hoef nie vir ewig te duur nie. Julle kan vandag kies vir 'n meer selfstandige bestaan. "

Nou ja, die gevolge daarvan kom u vandag in u eie lewe, en in die wêreld waarin ons lewe, orals agter. Die mens het eiewys geword. Hy luister nie in alle dinge eers na sy God en Skepper nie, maar hy luister die meeste na homself. Hy aanvaar ook nie meer 'n naaste wat oor hom 'n sê het bo hom nie. Hy wil self die eerste, die hoogste, die belangrikste wees.

Ons is vandag so, broeders en susters. Moenie sê: wat het ék daarmee te make dat Adam en Mannin destyds ongehoorsaam en eiewys geword het? Ek is mos nie Eva of Adam nie! Dis mos nie my skuld nie.

Ons mag nie so praat nie, want die HERE het in sy wysheid so 'n band tussen die eerste mens en al sy nakomelinge gelê dat u en ek, ons almal in Adam in sonde geval het.

Kyk asb. met my hoe nederig die eerste paragraaf van die Dordtse Leerreëls praat (bls 567 in ons Kerkboek): "Alle mense het in Adam gesondig en hulle aan die vloek van die ewige dood skuldig gemaak".

Erfskuld noem ons dit in die Gereformeerde dogmatiek. Ook 'n baba wat nog te klein is om willens en wetens te sondig, staan vanweë Adam se sonde reeds skuldig teenoor God. Na die aanvanklik regverdige Adam word nou elke nuwe mens in sonde, onregverdig, ontvang en gebore. "Daarom", en nou lees ek verder in die Dordste Leerreëls, "sou God niemand veronreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie". Ook klein, en vir ons gevoel onskuldige babatjies verdien God se toorn en die ewige dood.

Maar daardie nuwe mensies is boonop met die sonde van Adam besmet. Ons noem dit Erfsmet. Ons dra dieselfde neiging tot eiewysheid en hoogmoed in ons as Adam eendag.

As u eerlik is, herken u dit daagliks in u eie lewe, in elk geval in u eie hart, broeders en susters. Ek sê vir my katkisante wel: kyk 'n bietjie na jou klein boetie of sussie. Een van die dinge wat jy heelwat kere uit hulle mondjies moet hoor wanneer hulle die eerste blyke van selfstandigheid begin wys, is mos: "Ek kan sélf! Los my uit". Trouens, hoe is dit met my katkisante self? Hulle wys mos nog steeds dieselfde eiewyse houding: "Pa hoef vir my nie te sê wat ek wel en nie moet maak nie. Wanneer laat Pa en Ma my my eie besluite neem? "

Hierdie houding veroorsaak dat mense nie na God en sy gebod wil luister nie. Hierdie houding veroorsaak dat die mense mekaar nie kan verdra nie, dat daar in ons gesinne dikwels rusie is, dat mense in opstand kom, dat volkere mekaar beveg. Hierdie houding is die diepste oorsaak agter al die ellende en spanning in ons land deesdae.

Paulus het dit vir ons geskilder in die eerste hoofstuk van sy brief aan die Romeine: vandat die mens die skepsél (homself!) begin vereer het in die plek van die Skeppér wat geprys moet word tot in ewigheid, het dit chaos in die wêreld geword. Vandat die mense begin dink het hy kan in homself, sonder God, wys wees, het hy dwaas geword. Dwaas en selfsugtig. 'n Skepsel wat die eerste en die meeste aan homself dink. Geneig om God en die naaste te haat. Hy het 'n spieëlbeeld van die duiwel geword.

3. Ek het reeds gesê: die slot van Sondag 3 van die Kategismus is vernietigend vir ons, gemeente. Want daar word nie net gesê hoe dat vandag, as gevolg van die sondeval, met ons gesteld is nie. Hier word boonop gesê dat dit met ons ook nooit meer kan regkom nie... tensy God self, Let Wel: die God teen Wie ons in opstand gekom het, die God Wie se liefde ons verag het - tensy die einste God heeltemal nuwe mense van ons maak. Ons moet deur God se Heilige Gees weer gebore word. En daardie wedergeboorte beteken niks minder as 'n nuwe skepping, sê die Dordtse Leerreëls. Daaraan kan ons self niks bydra nie. Daarin is ons geheel en al van God se GENADE afhanklik.

Dit is die doodsteek vir ons eiedunk en eiewysheid, broeders en susters. Hier word alle selfvertroue uit ons hande geslaan en word ons in die hande van die lewende God geplaas - die God wat 'n verterende vuur vir sondaars is.

Maar dit is nodig dat ons Belydenis ons hiervan deurdring.

Want die duiwel wat die mens voor die sondeval in die ellende gestort het deur hom wys te maak dat hy sélf, sonder God, kon regkom, probeer na die sondeval om die mens in die ewige ellende vas te hou deur hom nog steeds onophoudelik wys te maak dat hy sélf kan regkom en die gevolge van die sondeval kan oorwin. Moet maar daarop let: in al die sogenaamde wêreldgodsdienste word geleer dat die mens deur self allerlei dinge te doen, gered kan word van die ellende. Die godheid wag eintlik maar net tot die mens die weg na hom terug end-uit geloop het.

Maar ook in alle dwalinge wat daar in die loop van die tyd telkens in die kerk kop uitgesteek het, lê dieselfde gedagte: telkens word die erns van die sonde afgeswak en word geleer dat die mens sélf heelwat kan en moet doen om die pad na God en die Paradys terug te baan: in die Roomse dwalings, in die leer van die grootdoop, in die mistiek... Steeds word die mens geleer om te dink: ek kan sélf!

Die totale afhanklikheid van God se genade in Christus word elke keer weer verklein.

Maar sodoende probeer die duiwel ons nog steeds by God weg hou.

Want as God in die Evangelie sy hand uitsteek na sondaars, leer Hy dat ons gans en al van daardie reddende hand afhanklik is, dat ons self niks goeds meer kan doen nie. Maar ook, dat ons niks goeds meer hoéf te doen om gered te word nie, aangesien Christus alles reeds vir ons gedoen het.

Hy het ons skuld op Hom geneem en weggedoen. Deur Hom kan ons weer regverdig voor God staan.

Sy Gees kan ander mense van ons maak en ons totaal herskep. Deur Hom kan ons weer heilige mense voor God word, wat weer van graag in liefde met God en die naaste wil lewe.

Dit moet ons glo, daarvan kan ons alleen nog lewe.

En daarom mag ons nooit die erns van ons sonde vergeet of afswak nie. Want ons sou sommer weer hoogmoedig en selfversekerd en eiewys raak en vir ewig verlore gaan.

Ons moet klein, baie klein en skuldbewus en vol verwondering oor God se genade bly.

Dis dié dat ons Doopsformulier in sy eerste sinne direk oor die sonde begin praat.

Dis dié dat ons kinders tydens hul eerste katkisasieklasse allereers moet leer hoe groot hul sonde en ellende is.

Dis dié dat ons selfs nog aan sterfbedde oor die erns van die sonde bly praat.

Dis dié dat ek vanoggend ook hierdie preek moes hou.

Sodat u sal bly besef dat u sélf tot niks goeds in staat is nie, maar dat God álles in u lewe ten goede kan verander.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)