Ons val en opstanding as beeld van God

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 3
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 3 H.K.

LITURGIE:
L. Kol. 1: 3, 13-23 & 3: 1-11
Ps. 51: 1, 3
Ps. 51: 6
Ps. 8
Ps. 90: 5
SB.33: 3
SB. 2: 3 (eerste 7 reëls) en 4 (laaste 3 reëls)

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons het so pas in Kol. 1: 23 die opwekking gelees om "gegrond en vas in die geloof te bly" en om ons "nie te laat afbring van die hoop van die evangelie nie".

Diè opwekking van die apostel Paulus bevat tegelyk 'n waarskuwing. Want die duiwel sal dit bly probeer om ons af te bring van die geloof en van die hoop van die evangelie.

En moet maar eens daarop let: in heel veel gevalle konsentreer hy sy aanvalle op dit wat die evangelie ons leer om te glo aangaande ons sondeval. Heel veel dwaalleer begin by die sondeval. Wie dit in die kerkgeskiedenis nagaan, ontdek 'n spoor van pogings om die gelowiges af te bring van wat God se Woord aangaande die erns van ons sonde leer.

Ons sien dit vanaf die Joodse Skrifgeleerdes met hulle eiedunk, via Pelagius wat geleer het dat die mens sonder sonde gebore word, met 'n vrye wil om die goeie te doen, maar deur die slegte voorbeelde rondom hom met die sonde besmet word, en via die Roomse Kerk met sy leer van goeie werke waarin Pelagius se gedagtes maar net 'n bietjie afgeswak teruggekeer het, via die Remonstrante in die 16de en 17de eeu wat baie geslepe die gedagtes van Pelagius oor die goeie wil van die mens weer in die Gereformeerde Kerke wou indra, tot op vandag in die moderne teologie wat soos 'n kanker orals in die wêreld om hom heen vreet. Die wêreld word die laaste jare deur 'n ware vloedgolf van vrysinnigheid oorspoel waarin ook deur mense wat van huis uit Gereformeerd opgevoed is, afreken met wat hulle die "negatiewe mensbeeld" van die Calvinistiese erfenis noem. En ons gaan ook hier in Suid-Afrika, wat deur baie nog as een van die laaste gereformeerde bolwerke in die wêreld beskou word, hierdie vloedgolf nie keer nie.

Die een na die ander moderne roman verower die mark, waarin 'n karikatuur van die kerk met sy outydse sonde-opvatting geteken word. Nuwe handboeke vir die dogmatiek leer daar 'n wetenskaplik- teologiese vloertjie onder.

Moenie dink, broeders en susters, dat al daardie pogings om die erns van die sonde af te swak en weg te redeneer en te teologiseer ons nie raak nie. Vir watter mens sou dit nie aangenaam wees dat die beeld van onsself bietjie opgepoets word nie?

Maar laat ons juis daarom ons ore nie sluit vir die waarskuwing van die apostel van Christus in Kol. 1: 23, dat ons gegrond en vas in die geloof moet bly en ons nie moet laat afbring van die hoop van die evangelie nie.

Want dit moet u weet: wie in die geloof -juis ook die geloof aangaande dit wat God se Woord met betrekking tot die sonde leer- nie gegrond en vas bly nie, verloor ook die hoop! Die laat homself die uitsig ontneem.

Want as die mens 'n optimistiese kyk op homself ontwikkel, raak sy kyk op Christus vertroebel.

En ook dit sien u dan om u heen, gemeente? Ja, ook daarvan is die kerkgeskiedenis vol. Namate die mens homself opdomkrag, word die Here Christus neergehaal tot hoogstens nog 'n mens met 'n voorbeeld-funksie.

Maar wie die sig op ons Borg Christus verloor, raak alle uitsig kwyt. Diè kan op die ou end nie meer verder kyk as die dood en die graf en dis al. En sien ons ook diè ontwikkeling nie in die vrysinnige teologie van vandag nie?

Die mens wat die outydse opvattings aangaande die sonde wil buite sluit, raak opgesluit. Hy sluit homself op binne die horison van hierdie wêreld. Verder kan hy nie meer kyk nie. En die lewe word uitsigsloos en al hoe benouder. In weerwil van die optimistiese visie op die mens wat krampagtig volgehou word, word die aarde 'n dooie dal waarbo die donker wolke van God se toorn dreigend saampak. Terwyl hier benede die dalbewoners ook self die lewe algaande onmoontlik maak.

As u in hierdie dooie dal uitsig op die ewige lewe wil bly hou, gemeente, sal u daarop bedag moet wees dat u vas en sterk bly staan in die geloof aangaande die erns van ons val in sonde, en dat u u nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie, wat u gehoor het en wat verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel en wat ek u vanmôre weer moet bedien.

Want ek moet vanuit Sondag 3 H.K. met u gaan luister na wat God se Woord ons leer oor:

ONS VAL EN OPSTANDING AS BEELD VAN GOD.

Ons sien:

  1. DEUR ADAM SE VAL IS DIE BEELD VAN GOD IN ONS AFGEBREEK
  2. DEUR CHRISTUS SE OPSTANDING WORD DIE BEELD VAN GOD IN ONS WEER OPGERIG

1. Die Heidelbergse Kategismus neem ons in Sondag 3 mee terug na die begin, broeders en susters. Na hoe dat God met ons begin het.

Dis noodsaaklik dat ons telkens weer daardie weg-terug gaan, om ons sonde as 'n val te bly raaksien.

Die triestige gevolgtrekking van Sondag 2 was "dat ek van nature geneig is om God en my naaste te haat".

"Van nature"- dit wil sê: daardie slegte neiging is nie iets waardeur ek af en toe oorval word nie, dit is geen vyand wat ek buite my deur moet probeer hou nie. Nee, daardie slegtheid woon in my. So is my natuur. Ek is daarmee behep. Dit is 'n aanleg waarmee ek gebore is en waarmee ek ook sal sterwe. Dit beheers my mens-wees.

Maar as ons van nature so is, kan ons maklik probeer om ons daaragter te verskuil, as 'n verskoning: "Ons is nie soos wat ons feitlik moes wees nie, maar nou ja, wat kan ons maak? Ons is nou maar eenmaal so. Ons word mos alreeds in sonde ontvang en gebore". Ek het verlede sondag die sonde 'n dodelike hartafwyking genoem. Maar 'n hartafwyking kan 'n familiekwaal wees, 'n erflike kwaal waaraan jy nou maar eenmaal niks kan doen.

Solank ons so die sonde in ons beskou: as maar net as 'n lastige lot, as 'n vervelende erflike belasting, sal daar by ons nie gou sprake wees van 'n diepe skuldbesef nie. Ons sal dan eerder rondloop met wrewel, met die opstandige gevoel: òns kan mos niks daaraan doen dat die lewe so ellendig is nie? !

Eers as ons geleer het om die sonde te bely, nie as 'n begin wat ons so saamgekry het nie, maar as 'n vervolg wat ons self gekies het, word ons bewus van ons skuld en hou ons alleen nog die stameling oor: "O God, wees my sondaar genadig!"

Daarom moet ons na die begin terug.

Selfs terug eers nog agter die verhaal van ons val. Wie die diepte van ons val wil verstaan, moet allereers na die hoogte van ons skepping teruggaan.

En dit doen die Kategismus daarom met ons in Sondag 3.

"Het God die mens dan so sondig en verkeerd geskep? Nee, God het die mens goed en na sy ewebeeld geskape".

Die wat die eerste bladsy van die Bybel opslaan, word getref deur die blye refrein: "Toe sien God dat dit goed was". Vyf dae aanmekaar het God 'n wêreld klaargemaak waarin Hy net-nou die mooiste skepsel 'n plek sou gee. En toe het die groot moment gekom waarop God gesê het, op die sesde dag: "Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip".

Toe het daar nie 'n aap wat deur ewolusie tot 'n mens uitgegroei het, gekom nie. Maar 'n skepsel wat hierin radikaal van alle ander skepsele, ook die diere, selfs die engele, verskil het, dat dit "beeld van God" mog wees.

As mens dit die eerste keer lees en hoor is dit 'n ondeursigtige benaming, broeders en susters: die mens beeld van God. Maar u sal meer as een keer gehoor het, of gelees, wat hierdie benaming wil sê. God skakel die mens in by sy goddelike werk van die onderhouding en regering van hierdie aarde. Onderkoning mag die mens wees, kortliks gesê. Hy mag heers namens God oor sy goeie skepping. Soos ons daarvan in Psalm 8 gesing het:

"U laat hom heers. Tot aan die verste strande
gebied hy oor die werke van U hande.
U het, o HEER, dit onder hom gestel,
dit hoor sy stem en beef vir sy bevel. "

God het die mens as sy medewerker in die skepping geplaas. Hy moet God se grootheid op die aarde sigbaar maak.

En dit nie net deur dit wat alreeds voorhande was, te onderhou nie. Maar ook deur dit wat nog verborge was, te ontdek en te ontwikkel. Die mens ontvang 'n kultuurmandaat in God se skepping (u onthou daardie woord uit die artikels wat ek die laaste weke in ons Mededelingsblad skryf). Onder die hande van die mens sou nog onnoemlik baie van dit wat God in sy skepping nog alles aan skatte weggesteek het, tevoorskyn gebring mog word.

Daar was nog geen motors, geen gereedskappe, geen musiekinstrumente, geen drukpers, geen vliegtuie, geen ruimtetuig, geen telefoons, geen radiós, geen televisies, geen video-masjiene, geen rekenaars en so meer nie. Maar die mens mog as beeld van God dit alles algaande vir God aan die lig gaan bring. En daardeur God se heerlikheid nog verheerlik, al hoe mooier weerspieël. Daardie beeld is van Calvyn: die mens moes as beeld van God "spieël" van God se majesteit op aarde wees. Die heerlikheid wat die onsigbare God as Skepper uitstraal moes deur die mens opgevang, verwerk en aan God weerkaats word.

Want dit het God se uiteindelike teiken gebly: sy eie heerlikheid. Die mens word deur Hom met heerlikheid en luister gekroon. Maar met die bedoeling dat God se Naam mee deur die mens en sy werk heerlik op die aarde sal wees. Die heerlikheid van die mens is 'n weerspieëling van God se eie heerlikheid. Is dit ook nie die begin en die end van Psalm 8 nie: "O HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!".

So, gemeente, was die hoë posisie waarin God ons in die begin geplaas het: sy verteenwoordiger op die aarde. Geroepe tot 'n lewe wat lowe moet wees: God loof en prys, nie net met woorde nie, maar ook met die daad, deur God se grootheid orals aan die lig te bring in sy skepping.

En dan nie in die verhouding van 'n werknemer tot sy Werkgewer, van 'n kneg tot sy baas nie. Toe God die mens na sy beeld geskape het, met hierdie eretaak, het Hy hom uit die staanspoor uit as sy kind beskou. Hy wou 'n Vader vir die mens wees. God se wêreld sou vir die mens geen fabriek wees nie- hy was daar tuis. Dit waarin sy hemelse Vader 'n vreugde sou hê, daaroor sou ook hy hom verheug. En met alles wat uit die skepping tevoorskyn gebring sou word, sou die mens vol verwondering weer na Vader toe gaan. Om Vader daarvoor te dank en daarmee te vereer.

So het God met die mens begin, gemeente. En toe God so die mens geskep het, kon Hy konstateer dat alles wat Hy gemaak het, selfs baie goed was. Die feestelike sabbat kon begin.

Maar van daardie hoogte het ons afgeval!

Nog maar twee hoofstukke verder in die Bybel vind ons alreeds die verhaal van ons sondeval.

Die mens het op 'n kwade dag nie langer genoeë geneem met sy beeld-wees nie. Hy het verbeelding gekry. Hy wou nie net "na God se gelykenis" wees nie. Hy wou aan God gelyk wees, om self te kan bepaal wat goed en wat kwaad is. Dus het hy van die verbode "boom van kennis van goed en kwaad" geëet.

God het daardie boom soos 'n slagboom in die paradys geplaas om vir die mens die heillose weg van outonomie af te sluit. U ken daardie woord: outonomie? Dit beteken dat jy geen wette van 'n ander bo jou aanvaar nie, maar jouself die wet stel.

So dikwels as wat Adam en Mannin verby hierdie boom gekom het, is hulle weer daaraan herinner: geen outonomie! Ons mag nie onsself tot wet wees as beeld van God nie. Vader se wil is ons wet. Vader maak die diens uit en besluit wat goed en wat kwaad is vir ons. Ons moet maar net as kinders in gehoorsaamheid die pad wat Hy wys, gaan en maak soos wat Hy opdra. Ons sal sy heerlikheid soek want alleen daarin lê ook ons heerlikheid.

Die mens kòn ook anders. Agter die slagboom van daardie boom van kennis van goed en kwaad het die weg waarop die mens sy eie gang sou gaan, oopgelê. Van daardie boom eet sou die onafhanklikheidsverklaring van die mens as beeld van God beteken: Heer, ek soek nou sèlf die weè waar my voete veilig gaan. Voortaan bepaal ek self wat goed en wat kwaad is en ek soek nou my pad na my eie insig.

Alhoewel God by voorbaat gewaarsku het dat daardie pad 'n doodloopstraat sou wees, het ons eerste voorouers Adam en Mannin hulle in die paradys tot so'n dwaasheid laat verlei. Hulle het beswyk vir die venynige beloftes wat die duiwel hulle voorgespieël het. Dit het hulle aangetrek om "soos God" te wees. Geëmansipeerd, nie langer aan sy wil onderworpe nie. Nie langer soos 'n kind aan die hand van Vader hoef te loop nie, maar as volwasse mense selfstandig langs Vader staan.

Moenie vra nie, broeders en susters, hoekom God ons in hierdie val nie gekeer het nie. Want op daardie vraag gee die HERE ons in hierdie lewe tog geen antwoord nie.

Moet ook nie sê nie: wat het èk daarmee te make dat hulle destyds in sonde geval het? Ek is mos nie Adam of Eva nie? Dis mos nie my skuld nie?

Maar onderwerp u aan God se Woord en bely ootmoedig die band wat God self vanaf die begin tussen ons voorouers en ons gelê het, al kan ons beperkte verstand dit ook maar moeilik bevat. Ons vorm vir God 'n eenheid met Adam en Eva. In daardie eerste mensepaar het die hele mensegeslag hom van sy Skepper losgeruk om in selfgekose weë vas te loop. Hulle skuld is vir God ewe goed ons skuld. Hulle verdorwe natuur bring vir ons 'n ewe slegte aard saam. Onbekwaam tot enigiets goeds en tot alle kwaad geneig. Dit is die wrange vrugte wat ons van die eet van die boom van kennis van goed en kwaad pluk. Daarvan is hierdie wêreld, daarvan is ons lewe vandag vol.

Die begeerte om naas God op te klim, het juis 'n diepe val by Hom vandaan geword. En die verwoesting het in God se wêreld toegeslaan. Want deur hierdie val het God se beeld in ons verlore gegaan. Die onderkoning het opstandeling geword. Hy het God na die kroon gesteek. Hy het die spieël waarmee hy God se heerlikheid op aarde moes weerkaats, aan skerwe geslaan. Daardie skerwe het nog wel oorgebly. En dit weerspieël, maar in gebreekte strale, nog altyd wel iets van die heerlikheid van ons God en Skepper. Maar 'n heldere spieël van God se grootheid is dit nie meer nie.

Inteendeel, die mens verduister nou juis die glans van God se grootheid op aarde. Omdat hy self soos God wil wees, is hy as God se mededinger nou aanhoudend op sy eie eer uit. In plaas van om beeld van God te wees, het hy beeld van die duiwel geword. Met verwoestende gevolge, sowel vir die mens self as vir die wêreld waarin God hom geplaas het. As die kind in die besigheid van Vader eiemagtig gaan baasspeel, is die gevolge verskriklik. Dan loop alles mis. Dan kom die vloek oor die aarde.

Dit is die ellende waar ons vandag midde-in leef. Sonder om dit te besef het die mens vir homself die grootste vyand geword. Hy kan God se skepping nie meer beheer en hanteer nie.

God laat die geskiedenis nog verdergaan. God laat die mensegeslag nog verder lewe. Maar ons loop met al God se gawes, met alle ontwikkelinge en ontdekkings al hoe meer vas. Alles wat God goed geskape het, misbruik die mens in sy haat teen God en die naaste. En die mooiste ontdekkings veroorsaak vir hom die moeilikste probleme.

En hy maak die aarde al hoe chaotieser en al hoe onleefbaarder.

En God laat vir straf die lewe ook vasloop. Hy maak hierdie wêreld vol outonome, eiewyse en selfgesentreerde mense tot 'n dooie dal waarbo Hy die swerk digtrek. Die duisternis wat die mens vir homself hier benede verkies het, en die duisternis van vo vloei inmekaar. God skuif hulle inmekaar. Die mens wat hoogmoedig self die skepper van die geskiedenis wou wees, ontvang as straf dat God in sy toorn die geskiedenis vir die mens laat doodloop: "Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer". En daaragter doem die buitenste duisternis van die ewige dood op.

Kom ons sing daarvan in 'n tussensang, met die woorde van Psalm 90: 5: "So gaan u gramskap met ons deur die lewe- die skaduwee wat swart oor ons bly swewe.... "

2. Ek het al vir u gesê: daar is al baie baie pogings gedoen om die erns van die sonde weg te redeneer en weg te teologiseer. Daar is telkens geprobeer om met kunslig die duisternis wat as gevolg van ons eie skuld oor ons lewe geval het, weg te werk. Vroomklinkende redenerings oor die goeie wil van die mens, oor die sonde as 'n gemeenskaplike swakheid wat ons met mekaar kan oorwin.......

Laat u daardeur maar nie in die war bring nie, broeders en susters. Moenie dat u u oë deur daardie kunslig laat verblind nie. Dis beter om die duisternis wat ons self oor die wêreld en oor ons lewe gehaal het, in sy volle omvang eerlik onder die oë te sien. Want alleen dan sal ons ons deur God uit die duisternis laat wegroep tot sy wonderbare lig wat Hy in sy Seun weer laat skyn het. Dan alleen sal ons ons laat verlos uit die mag van die duisternis en ons laat oorbring in die Koninkryk van die Seun van sy liefde. Want dit is die enigste uitweg uit die duisternis.

God het sy eniggebore Seun in ons wêreld vol duisternis gestuur.

Hy is, soos ons in Kol. 1: 15 gelees het, "die Beeld van die onsienlike God". Juis diè benaming gebruik die Skrif vir Christus! U lees dit ook in 2 Korint. 4: 4, as Paulus praat van "die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is". Die woorde wat eers vir Adam gebruik is, word nou aan Christus gegee. God het in sy Seun 'n nuwe Adam geskape om beeld van Hom op die aarde te wees. 'n Nuwe Onderkoning, volgens Hebr. 1: 3: "die afskynsel van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese". Die nuwe mens, wat in plaas van om opstandeling te wees Hom weer aan God wou onderwerp om Hom weer op die aarde te verheerlik.

Hierdie Een was, anders as die eerste Adam, aan God gelyk. Van ewigheid af alreeds. Hy was self God. God uit God. Lig uit Lig.

Maar Hy het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, sê die Skrif in Fil. 2: 6. Ek weet, dis 'n moeilike uitdrukking, maar uit die verband blyk dat Paulus bedoel dat Christus deur presies die teenoorgestelde strewe as Adam berheers was: Adam wou, as mens, aan God gelyk wees. Maar Christus was bereid, alhoewel Hy God was, om die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word. Hy wou indaal in ons weens die sonde gevloekte menselewe om in ons plek die roeping te vervul wat ons moes vervul maar nie meer kon vervul nie: in alles God verheerlik. 'n Roeping wat nou dubbel so swaar geword het, omdat tot God se eer nou ook die straf op die sonde gedra moes word tot in die ewige dood.

Hy was als beeld van God daartoe volkome bereid. Dit was vir Hom 'n heilige ywer om God se Naam weer te verheerlik op die aarde en -as dit moes wees: deur sy dood- te bewerk dat ook in ons die beeld van God weer herstel sou word.

Hy hèt God se Naam verheerlik op aarde. Tot in die dood. Sodat God Hom vervolgens by Homself in die hemel verheerlik het. En daar, in die hemel, bedek Hy nou met sy geregtigheid en sy heiligheid ons sonde waarin ons ontvang en gebore word. Aan Hom alleen het ons dit te danke dat God sy skepping nie tot die grond toe weer afgebreek en in 'n chaos verander het nie. Ja, aan Hom alleen het ons dit te danke, dat God ons selfs nie ontslag gegee het van ons roeping om onderkonings in sy skepping te wees nie.

Deur Hom mag ons met Hom weer beeld van God op aarde wees.

Deur Hom alleen kan ons ook weer toenemend beeld van God op aarde wees.

Want as ons ons deur Hom uit die duisternis van ons sondige eiewysheid en outonome denke na Hom, die Lig van die wêreld, laat roep, word ons -dit het ons ook in die Kolossensebrief gelees, 3: 10- weer "vernuwe na die beeld van ons Skepper". Want dan neem die Heilige Gees van Christus sy intrek in ons lewe en begin werk aan 'n komplete wedergeboorte by ons. Hy maak heeltemal nuwe mense van ons. Hy maak ons weer soos wat Adam oorspronklik was. Daarom sê die Kategismus in Sondag 44 dat ons sonder ophou moet bid dat die Heilige Gees ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God mag vernuwe; maar terselfdertyd sê die Kategismus in Sondag 32 dat die Heilige Gees ons altyd meer na die ewbeeld van Christus vernuwe. Want soos Adam was so het Christus geword. En so moet ook ons weer word: onderkonings wat met hulle hoof en hart en hande die eer van hulle Skepper en Vader soek.

Van onsself sal ons nooit meer so word nie. Ons het alles vergooi en verloor.

Alleen as ons die pad van geloof en bekering tot Christus gaan. Alleen as Christus alles en in almal is.

Alleen as ons ons hoe langer hoe meer deur sy Gees laat regeer. Hy alleen kan ons wat ons wat van onsself glad nie meer in staat is om iets goed te doen nie en tot alle kwaad geneig, weer van harte gewillig en bereid maak om voortaan vir God te lewe.

Gemeente, Sondag 3 wil ons by hierdie geloof in Christus bewaar. Sondag 3 maak ons weer klein en hou ons klein. Klein en beskaamd. Alle eiedunk word van ons afgeneem. Sodat alleen Christus groot sal wees in ons lewe.

Ook u, wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, om u heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel- as u tenminste gegrond en vas bly in die geloof en u nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie, wat u gehoor het en wat orals onder die hemel aan die mense verkondig word; wat ook ek u vanmôre mog bedien.

AMEN.

(Pretoria 29 Oktober 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)