Die oorsprong van ons sonde en ellende

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 3
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 3 H.K.

LITURGIE:
L. Genesis 3
Ps. 8: 1, 3, 4, 5, 6
Ps. 8: 2, 7
Ps. 90: 1, 4, 5, 6
Ps. 51: 2
Ps. 51: 5, 6

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Sondag 3 en Genesis 3 behoort bymekaar. In albei word vir ons die verhaal van die swartste bladsy in ons geskiedenis vertel. Albei vertel die eerlike feite m. b. t. die oorsprong van alle ellende in die wêreld: ons eie skuld!

Dis dan ook g'n wonder nie dat daar in die loop van die eeue reeds heelwat aan sowel Genesis 3 as Sondag 3 gepeuter is. Telkens weer is geprobeer om die harde feite ietsie te verdraai. Daar is onderneem om die swart bladsy bietjie minder swart af te skilder.

En dis natuurlik verstaanbaar. Want dit is hoogs onaangenaam om die verhaal van jou eie skande telkens weer te moet aanhoor, onverbloemd, met die gevolgtrekking dat ons almal vandag glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig.

Soos ook altyd probeer word om die swart bladsye uit ons vaderlandse geskiedenis agteraf ietsie by te kleur, so is en word nog steeds geprobeer om die feite rondom ons val in die sonde af te swak: het daar regtig 'n slang gepraat in die paradys? ! Was Adam en Eva wel historiese figure, of is hulle net twee versonne hoofrolspelers in 'n drama? Moet ons die verhaal van die "boom van kennis van goed en kwaad" en die "boom van die lewe" nie as 'n fabel beskou nie? Ja: was daar wel ooit 'n paradys, of is daardie hele verhaal op die eerste bladsye van die Bybel maar net 'n mite?

U ken wel dergelike vrae, broeders en susters. Hulle is stuk vir stuk bedoel om die fondament onder die feite van ons sondeval weg te breek. En om so die swart bladsy uit ons mensegeskiedenis uit God se Woord te verwyder.

"So verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie...... "? Kan mens vandag nog sulke woorde volhou? !

Maar die kerk van Christus het teenoor sulke verdraaiing van die feite altyd op die bres gestaan vir die waarheid van God se Woord, ook m. b. t. die swartste bladsy uit ons geskiedenis. Die kerk het eerbiedig en ootmoedig die beskamende belydenis volgehou dat Genesis 3 en Sondag 3 die eerlike feite vertel. Die eerlike feite waarvan ons vandag nog altyd die vreeslike gevolge ondervind. Soos wat dit daar staan, so is dit letterlik- al moet dit ook tot ons skande gesê word. Want die kerk het geleer dat sy moet weet hoe groot haar sonde en ellende is, tot in sy diepste oorsprong, om te kan verstaan hoe groot die liefde van God is wat Hy aan ons bewys het in sy Seun, Jesus Christus. Die verhaal van ons val is onmisbaar vir die verhaal van ons verlossing. Wie die feite van ons val geweld aandoen, sal onvermydelik ook aan die feite van ons verlossing begin torring. Wie die oë sluit vir die verlede, ontneem homself ook die toekoms!

Daarom gaan ek u vanoggend weer die feite van ons sondeval voorhou, sodat u met des te meer dankbaarheid en verwondering die feit van u verlossing sal aanvaar.

Ek bedien u daarom vanoggend God se Woord aangaande

DIE OORSPRONG VAN ONS SONDE EN ELLENDE

ONS GEE AANDAG AAN:

  1. ONS HOË AFKOMS
  2. ONS DIEPE VAL
  3. ONS ENIGSTE UITKOMS

1. Ken u uself, broeders en susters?

En dan bedoel ek met hierdie vraag nie soseer of u weet wie u is nie. Maar: weet u hoé of u is? Is daar by u soveel selfkennis dat u van uself alleen maar kan sê: Ek is van nature geneig om God en my naaste te haat. Ek is 'n verdorwe, waardelose, selfgesentreerde mens?

Dié gevolgtrekking het ons mos oorgehou aan die einde van Sondag 2. 'n Vernietigende gevolgtrekking vir die mens wat homself altyd beter wil voordoen as wat hy in der waarheid is. 'n Gevolgtrekking wat hom alle selfrespek uit hande slaan. 'n Persoonlike gevolgtrekking, wat nie slegs van die mens in sy algemeenheid geld nie, maar wat elkeen van ons persoonlik moet bely, u en ek: "Ek is van nature geneig om God en my naaste te haat".

Van nature- dit beteken: daardie slegte neiging is nie iets waardeur ek af en toe oorval word nie, dit is geen vyand wat ek buite my deur moet probeer hou nie. Nee, daardie slegtheid wóón in my. So is my natuur. Ek is daarmee behep. Dit is 'n aanleg waarmee ek gebore is en waarmee ek ook sal sterwe. Dit beheers my mens-wees.

Dit was die bitter gevolgtrekking van Sondag 2.

En daarby sluit nou Sondag 3 aan, deur te vra of God die mens dan so sondig en verkeerd geskep het. As só ons natuur is, as daardie verdorwenheid alreeds 'n natuurlike aanleg is waarmee elke mens gebore word- hoe het God die mens dag geskep? ! So sondig en verkeerd?

U sal verstaan: die Kategismus wil hier regtig nie God se goeie skepping betwyfel nie. Daaroor word geen moment die diskussie geopen nie. Die antwoord staan by voorbaat vas: natuurlik het God die mens nie so geskep nie.

Maar die Kategismus vra die vraag om des te skerper die verskil te laat uitkom tussen hoe dit eendag wás, en hoe dit deur ons sondeval gewórd het. Want soos ons vandag is, so was ons eendag nie. So het God nie die mens gemaak nie.

En dus kan ook niemand homself verskoon deur te sê: "Ek is nou maar eenmaal so". Want dan sê God se Woord dadelik vir daardie mens: "Maar eendag wás jy nie so nie!".

En so word die erns van ons situasie vandag nog ekstra benadruk.

Ons gaan nie onder 'n lastig lot gebuk nie. Ons is geen slagoffers van 'n aaklige erflike belasting nie.

Ons is mense wat 'n hoë afkoms verspeel het.

"Het God die mens so sondig en verkeerd geskep? Nee, God het die mens goed geskep!"

Die eerste bladsye van die Bybel spreek daarvan mos boekdele. Ons word daar getref deur die blye refrein: "Toe sien God dat dit goed was". Vyf dae aanmekaar het God 'n wêreld klaargemaak waarin Hy net-nou die mooiste skepsel 'n plek sou gee. En toe het die groot moment gekom waarop God gesê het, op die sesde dag: "Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip".

Toe het daar nie 'n aap wat deur ewolusie tot 'n mens uitgegroei het, gekom nie. Maar 'n skepsel wat hierin radikaal van alle ander skepsele, ook die diere, selfs die engele, verskil het, dat dit "beeld van God" mog wees.

As mens dit die eerste keer lees en hoor is dit 'n ondeursigtige benaming, broeders en susters: die mens beeld van God. Maar u sal meer as een keer gehoor het, of gelees, wat hierdie benaming wil sê. God skakel die mens in by sy goddelike werk van die onderhouding en regering van hierdie aarde. Onderkoning mag die mens wees, kortliks gesê. Hy mag heers namens God oor sy goeie skepping. Soos ons daarvan in Psalm 8 gesing het:

"U laat hom heers. Tot aan die verste strande
gebied hy oor die werke van U hande.
U het, o HEER, dit onder hom gestel,
dit hoor sy stem en beef vir sy bevel. "

God het die mens as sy medewerker in die skepping geplaas. Hy moet God se grootheid op die aarde sigbaar maak.

En dit nie net deur dit wat alreeds voorhande was, te onderhou nie. Maar ook deur dit wat nog verborge was, te ontdek en te ontwikkel. Die mens mog saam met sy God die skepping verder uitbou en nog baie mooier maak. Onder die hande van die mens sou nog onnoemlik baie van dit wat God in sy skepping nog alles aan skatte weggesteek het, tevoorskyn gebring mog word.

Daar was nog geen motors, geen gereedskappe, geen musiekinstrumente, geen drukpers, geen vliegtuie, geen ruimtetuig, geen telefone, geen radiós, geen televisies, geen video-masjiene, geen rekenaars en so meer nie. Maar die mens mog as beeld van God dit alles algaande vir God aan die lig gaan bring.

En dan nie in die verhouding van 'n werknemer tot sy Werkgewer, van 'n kneg tot sy Baas nie. Toe God die mens na sy beeld geskape het, met hierdie eretaak, het Hy hom uit die staanspoor uit as sy kind beskou. Hy wou 'n Vader vir die mens wees. God se wêreld sou vir die mens geen fabriek wees nie- hy was daar tuis. Dit waarin sy hemelse Vader 'n vreugde sou hê, daaroor sou ook hy hom verheug. En met alles wat uit die skepping tevoorskyn gebring sou word, sou die mens vol verwondering weer na Vader toe gaan. Om Vader daarvoor te dank en daarmee te vereer.

Om daardeur God se heerlikheid nog verheerlik, al hoe mooier weerspieël. Daardie beeld is van Calvyn: die mens moes as beeld van God "spieël" van God se majesteit op aarde wees. Die heerlikheid wat die onsigbare God as Skepper uitstraal moes deur die mens opgevang, verwerk en aan God weerkaats word.

Want dit het God se uiteindelike teiken gebly: sy eie heerlikheid. Die mens word deur Hom met heerlikheid en luister gekroon. Maar met die bedoeling dat God se Naam mee deur die mens en sy werk heerlik op die aarde sal wees. Die heerlikheid van die mens is 'n weerspieëling van God se eie heerlikheid. Is dit ook nie die begin en die end van Psalm 8 nie: "O HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!".

So, gemeente, was die hoë posisie waarin God ons in die begin geplaas het: sy kind en medewerker op die aarde. Toegerus met wonderlike moontlikhede van verstand en krag om die heerlikheid van ons God en Vader te help verheerlik.

So het God met die mens begin, gemeente. Maar van daardie hoogte het ons afgeval! Daardie hoë afkoms het ons deur eie skuld vergooi.

2. Nog maar twee hoofstukke verder in die Bybel vind ons alreeds die verhaal van ons sondeval.

Die mens het op 'n kwade dag nie langer genoeë geneem met sy beeld-wees nie. Hy het verbeelding gekry. Hy wou nie net na God se gelykenis wees nie. Hy wou aan God gelyk wees, om self te kan bepaal wat goed en wat kwaad is. Dus het hy van die verbode "boom van kennis van goed en kwaad" geëet.

Daar is met hierdie boom en sy vrug reeds heelwat die spot gedrywe. Mens lag om die verhaal dat deur die eet van net een verbode vrug die hele mensdom in ellende sou gestort wees. Die wat vandag nog aan derglike sprokies glo, moet wel baie onnosel wees, reken heelwat hoogmoedige mense.

Maar ons aanvaar die verhaalde feite as die waarheid, gemeente! Omdat ons die Woord van die HERE ook hier ewig betroubaar ag.

Want ons weet waarom die HERE aan die eet van daardie boom sulke sware gevolge verbind het:

God het daardie boom soos 'n slagboom in die paradys geplaas om vir die mens die heillose weg van eiewysheidaf te sluit. So dikwels as wat Adam en Mannin verby hierdie boom gekom het, is hulle weer daaraan herinner: geen eiewysheid! Ons moet nie sélf wil bepaal wat reg en wat verkeerd is nie. Vader maak die diens uit en besluit wat goed en wat kwaad is vir ons. Ons moet maar net as kinders in gehoorsaamheid die pad wat Hy wys, gaan en maak soos wat Hy opdra. "Heer, u Woord is soos 'n fakkel wat sy ligglans voor my dra, voor my voet die duisternisse van my lewenspad verja. Leer U my die regte weë, wys die regte pad my aan; maak my hart daartoe geneë om met lus daarop te gaan. Wie ver van U sy weg wil gaan, die stap mos op 'n afgrond aan".

Die mens kón ook anders. Agter die slagboom van daardie boom van kennis van goed en kwaad het die weg waarop die mens sy eie gang sou gaan, oopgelê. Van daardie boom eet sou die onafhanklikheidsverklaring van die mens as beeld van God beteken: Heer, ek soek nou sélf die weë waar my voete veilig gaan. Voortaan bepaal ek self wat goed en wat kwaad is, en ek soek nou my pad na my eie insig.

Alhoewel God by voorbaat gewaarsku het dat daardie pad 'n doodloopstraat sou wees, het ons eerste voorouers Adam en Mannin hulle in die paradys tot so'n dwaasheid laat verlei. Hulle het beswyk vir die venynige beloftes wat die duiwel hulle voorgespieël het. Dit het hulle aangetrek om "soos God" te wees. Om nie langer soos 'n kind aan die hand van Vader hoef te loop nie, maar om as volwasse mense selfstandig langs Vader te kan staan.

Moenie vra nie, broeders en susters, hoekom God ons in hierdie val nie gekeer het nie. Want op daardie vraag gee die HERE ons in hierdie lewe tog geen antwoord nie.

Moet ook nie sê nie: wat het ék daarmee te make dat hulle destyds in sonde geval het? Ek is mos nie Adam of Eva nie? Dis mos nie my skuld nie?

Maar onderwerp u aan God se Woord en bely ootmoedig die band wat God self vanaf die begin tussen ons voorouers en ons gelê het, al kan ons beperkte verstand dit ook maar moeilik bevat. Ons vorm vir God 'n eenheid met Adam en Eva. In daardie eerste mensepaar het die hele mensegeslag hom van sy Skepper losgeruk om in selfgekose weë vas te loop. Hulle skuld is vir God ewe goed ons skuld. Hulle verdorwe natuur bring vir ons 'n ewe slegte aard saam. Onbekwaam tot enigiets goeds en tot alle kwaad geneig. Dit is die wrange vrugte wat ons van die eet van die boom van kennis van goed en kwaad pluk. Daarvan is hierdie wêreld, daarvan is ons lewe vandag vol.

Die begeerte om naas God op te klim, het juis 'n diepe val by Hom vandaan geword. En die verwoesting het in God se wêreld toegeslaan. As die kind in die besigheid van Vader eiemagtig gaan baasspeel, is die gevolge verskriklik. Dan loop alles mis. Hy noem goed wat kwaad is, en hy beskou dit wat kwaad is, goed. En hy verdra niemand meer bo of selfs maar naas hom nie. Hy reken hy is self mos 'n god!

Dit is die ellende waar ons vandag midde-in leef. Sonder om dit te besef het die mens vir homself die grootste vyand geword. Hy kan God se skepping nie meer beheer en hanteer nie.

God laat die geskiedenis nog verdergaan. God laat die mensegeslag nog verder lewe. Maar ons loop met al God se gawes, met alle ontwikkelinge en ontdekkings al hoe meer vas. Alles wat God goed geskape het, misbruik die mens in sy haat teen God en die naaste. En die mooiste ontdekkings veroorsaak vir hom die moeilikste probleme.

En hy maak die aarde al hoe chaotieser en al hoe onleefbaarder.

En God láát vir straf die lewe ook vasloop. Die mens wat hoogmoedig self die skepper van die geskiedenis wou wees, ontvang as straf dat God in sy toorn die geskiedenis vir die mens laat doodloop: "Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer". En daaragter doem die buitenste duisternis van die ewige dood op.

3. Ek het in die inleiding op hierdie preek gesê, gemeente, dat ons die triestige feite van ons diep val onder die oë moet wil sien, as ons die troosvolle feit van ons verlossing wil verstaan.

Want die verhaal van ons val staan nie aan die einde van die Bybel, as die laaste woord nie, maar voorin. En God het reeds dadelik in Genesis 3 die belofte van ons verlossing aan die feit van ons val vasgeknoop. Die eerste groot belofte van sy Seun wat as menseseun die satan die kop sal vermorsel. En wat 'n nuwe paradys sal bewerk.

In daardie lig moet u ook die mededeling in Genesis 3 lees dat God vir Adam en Eva die pad na die boom van die lewe afgesluit het.

Dis moeilik om presies te sê wat daardie boom was. Daaroor is reeds heelwat geskrywe. Vanmôre is dit genoeg om te weet dat daardie boom in die Paradys blykbaar die lewe van die mens onderhou en versterk het. Ons lees mos in die Openbaring wat Johannes dat die geboomte opnuut sal staan in die nuwe Paradys, met vrugte wat tot genesing van die nasies sal wees. Daar was dus besondere lewenskrag in daardie boom.

Maar dié lewenskrag mag die mens na sy val in sonde juis nie meer ontvang nie. Soos wat hy nou is, eiewys, selfgesentreerd, opstandig teen sy God en Vader, vol wantroue, afguns en haat teenoor sy medemens, só mag die mens nie bly voortlewe nie. So mag hy in elk geval nie éwig lewe nie. Dit sou mos sy ewige dood beteken! Hierdie lewe moet sterwe. En God sal 'n nuwe lewe moet skep, deur sy Heilige Gees.

Dit was dus genade van God dat Hy die weg na die lewensboom vir die mens afgesny het. God sny dié toegang af omdat daar nog uitkoms is. Sy eie Seun sal eendag die nuwe lewe uit die dood terughaal. Hy sal 'n kale kruispaal tot die nuwe lewensboom maak vir almal wat in sy offer vir hul sondes glo. En Hy sal die Heilige Gees gee om ons na ons hoë afkoms terug te bring. Christus se Gees sal God se kinders weer van harte gewillig en bereid maak om weer as paradysmense in alles vir hul God en Vader te lewe.

Maar dit is dan ook die enigste uitkoms wat daar is om van die ellende in ons lewe wat ons self oor ons gehaal het, ontslae te raak: God se genade in Christus.

Dis dié, gemeente, dat ons vandag die feite van ons val weer oordink het. Sodat ons die lewe buite onsself in Jesus Christus sal bly soek. Sodat ons die vernuwing van ons lewe by sy Heilige Gees soek.

Want alleen dan is daar uitkoms in hierdie wêreld waarin die vloek wat ons opgeroep het, nog daagliks voelbaar is. Alleen dan word die lewe vandag alreeds weer leefbaar en mag ons die dood as die begin van die einde beskou. Nee, nie die begin van die einde van ons lewe nie. Maar wel die begin van die einde van 'n lewe in ongehoorsaamheid en eiewysheid. Want wie die lewe vandag in Christus soek en wie die Gees van Christus in homself sy vernuwende werk laat doen, mag eendag in die nuwe paradys weer eet van die geboomte van die lewe, in die stad van die lewe waarin die God van die lewe weer alles in almal sal wees.

AMEN.

(Pretoria, 13 Januarie 1991)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)