Christus stel Sy liefdegebod teen ons liefdeloosheid

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 2
Preek Inhoud: 

09-02-92

SONDAG 2 HK

nabetraging Nagmaal

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 84 : 1, 2
Geloofsbelydenis
Sing: Ps. 84 : 3, 4
Formulier vir die viering van die Nagmaal
Sing: Ps. 65 : 2 terwyl die tafel reggemaak word
Lees: danksegging
Sing: Ps. 65 : 3
Dankgebed
Skriflesing: Romeine 7 : 1-26
Sondag 2 HK
Prediking
Sing: Ps. 119 : 13, 14
Dankgebed
Kollekte
Sing: Ps. 116 : 1, 8
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

nabetragting op die viering van die Nagmaal: so noem ons die preek wat ons ná die fees hoor. Dit is: nageniet, nadat die maaltyd, die feesmaal verby is. Is dan Sondag 2 nie 'n bietjie teveel van sware kos nie? 'n Swaar nagereg pas nie by 'n oorvloedige ete nie. Ons verkies dan iets wat ligter verteerbaar is. Iets wat by die feestlikheid pas.

Ja, vanaand skryf die volgorde van ons Kategismus die begin van die klein hoofstuk oor die ellende voor. Die spyskaart van die liturgie wys 'n preek: om te hoor, nadat ons geproe het hoe goed die Here is. Kyk, die geniet van God se genade laat jou dit nie vergeet nie: dit waarvan God Drie-enig vandag besig is om jou te verlos; dit waarvan Hy jou ook môre vry wil hou, naamlik die diepte van die ellende.

Die pragtige Sondag 1 wys jou die troos om geseënd te lewe en te sterwe. Besef dan van watter dieptes jy verlos is, watter breedte Christus se liefde wil bereik en tot watter hoogte die Gees jou wil voer. Hou die genieting vas in die lewe, ook in die week. Ek preek vir u oor:

CHRISTUS STEL SY LIEFDEGEBOD TEEN ONS LIEFDELOOSHEID

Ons sien

  1. af in die diepte van ellende,
  2. raak die breedte van die liefde
  3. op teen die hoogte van die eis.

1. ONS SIEN AF IN DIE DIEPTE VAN DIE ELLENDE (v/a 3)

Die 3de vraag en antwoord is vir die katkisante die lekkerste om te leer. Dis lekker kort: waaruit ken jy jou ellende? Uit die wet van God! Vir volwassenes is dit die moeilikste vraag en antwoord om te leer: om uit die diepte van jou hart te leer bely. Dit geld vir almal: met jou hoof leer is makliker as met jou hart besef. My ellende: ek praat dan makliker oor die teenspoed wat ek ondervind en oor die hartseer in my lewe. Of oor die gewone dinge waaroor ons kan kerm en karring. Ellende: dit kan ook wees die kommerniswekkende omstandighede waarin arm mense moet lewe. Die droogte is een en al ellende. Ons praat moeiliker oor die ellende waarvan ek, ons self skuld is.

God se wet wys jou die ellendigste waarin jy verkeer: jou eie sonde, die warnet van ons swak hart. Ons moet mooi verstaan: dit is nie die enigste wat die wet van die Here wys. Daar is veral ook die positiewe, die eerste bedoeling wat die Here God met sy wet het. In Romeine 7 maak die apostel duidelik hoe die wet in verbinding met my sonde funksioneer. Hy sê dan basies dit: met die wet is niks verkeerd nie. Vs. 12 sê vir jou: "Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed". In die mooi wet kyk ek egter óók af in die diepte van my ellende.

In die voorafgaande vers sê Paulus iets wat snaaks lyk: "die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en my verlei en daardeur gedood" (vs. 11). Snaakser nog lyk vers 7: "ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: jy mag nie begeer nie". Dit lyk asof die verbod juis die sonde uitlok!? Vs. 9: "Toe die gebod kom, het die sonde weer opgelewe". Nee, dit sê nie dat die gebooie die sonde uitlok nie. Nee, die wet vertel my wat ek uit myself uit nie sou weet niet: deur wat die Here in sy gebooie sê, besef ek wat goed en wat verkeerd genoem moet word. "Ek sou die sonde, sê Paulus, nie anders as deur die wet geken het nie". Begeerlikheid sou vir my normaal wees, wanneer die Here nie vir my sou gesê het nie: jy mag nie begeer nie.

Die wet was positief: "die gebod wat die lewe moes wees ..." (vs. 10). Dit is die eerste, die pragtige bedoeling van God se wil. Wanneer ek egter die lewe nie kan vind nie, omdat die sonde my blind maak, wil God my uithelp! Hy wys my hoe diep ek in die ellende sit. Hoe diep: ek is op my eie nie in staat om werklik lief te hê nie. Die Bybel vertel my oor die liefde van God, die Vader: en ek kom agter dat ek sonder Christus nooit by sy liefde sou uitkom en Hom nooit lief kon hê nie. Ek sou wel bang vir hom wees. Christus het sy naastes liefgehad: en ek besef dat ek nooit soveel liefde soos Hy sal besit nie. Die Heilige Gees wil in my hart woon, maar ek kan nie eers vir myself lief wees nie. Die ellende word dieper, hoe meer ek oor myself uitvind.

2. ONS SIEN RAAK DIE BREEDTE VAN DIE LIEFDE (v/a 4)

Vervolgens gee die Kategismus jou die maatstaf in hande om raak te sien wat God van sy skepsel, van die mensheid eis. Heel God se standaard vir die mense is: liefde! God se eie liefde is so breed dat dit oor die hele wêreld uitgaan. Sy hart gaan tot al die mense uit: elkeen 'n skepsel van sy hand. Vanmôre het ons gehoor hoe breed die Skrif oor God se liefde praat. Jy kan daardie liefde raaksdien in die skepping en vervolgens in die verlossing. God Drie-enig het die liefde van sy hart op die werk van sy hande gerig. Só breed.

Ja, God eis liefde. Die woord "eis" kom nie uit die paradys nie. Dit is 'n woord wat God na die sondeval moes begin gebruik. Die mooi wil van God het toe die vorm van die wet gekry: om uit te spel op watter momente jy in die gevaar is om heeltemal van Hom te vergeet. Vir Israel het die HERE sy tien gebooie gegee: wat een-een sê hoeveel terreine van die lewe beskadig kan word as jy van Hom vergeet, as die sonde 'n mag oor jou word.

En tog het die skrywers van ons Kategismus nie met die tien gebooie wou begin nie. Daardie vorm van die eis van die HERE is opsetlik nie hier gebruik nie: in die gedeelte wat ons ellendige situasie uitdiep nie. Nee, die tien gebooie word bewaar vir die einde van die leeronderwys: om jou te wys op watter plekke die lewe deur die Heilige Gees geheilig en nuut gemaak word. In die gedeelte wat ons ellende uitdiep, het hulle vir 'n pragtige teks gekies: dié woorde van ons liewe Here Jesus wat die dubbelgebod van die liefde uitspreek. Wat eis God in sy wet van ons en wat laat jou jou ellendige toestand raaksien? "Christus leer ons dit so: jy moet die HERE, jou God liefhê ... en jou naaste, soos jouself"!

Proe u hoe breed die liefde is wat God op aarde en hemel toe wil voel? Dit moet Homself omvat: God Drie-enig, Vader, Seun en Gees. Dit moet die mensen rondo jou omvat: jou naaste. God vra sulke liefde met inset van jou hele wese: "met jou hele hart, jou hele siel en jou hele verstand". Proe u hoe breed die liefde van u lewe moet wees?! Ja, en die effek van die keuse van so 'n mooi teks, is: nou sien ek wel raak hoé breed, maar terselfdertyd kry ék dit nooit reg nie. Ek is so klein.

Kyk, ek preek nie vir heidene wat God vervloek en wat van haat vervul is nie. Ek mag preek vir mense wat baie van God se liefde ervaar het en wat grootgemaak is met die wete dat liefde tussen mense baie wêrd is. En tog: kry u dit reg?? As die eis van God so reguit aan my gestel word, is my hart so wyd? Stel u voor: wanneer God vandag sy Heilige Gees van u sou wegvat, wat bly daar van u pogings oor: u pogings om te bid, u pogings om vrede in u huis te bwaar? Dit is egter die gevaar van u sondes: dat u saam met Dawid móet bid "HERE, verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie" (Ps. 51:13). U is mense wat soek om God liefde te bewys. Ja, maar u is vir die volle 100 persent daarop aangewys dat God sy liefde vir u in stand hou: in die naam van ons Here Jesus Christus. As Christus nie langs die Vader op die troon sou sit en God Hom nie aanhoudend sou sien nie, sou Hy bloot ellendige mense, kleingelowige christene en sukkelende kerkmense sien.

God bly egter sy eis hoog stel: u is geroep, u word beveel om liefde te bewys. Dit het dié pragtige doel dat u op die pad "saam met al die heiliges in staat kan wees om die breedte en lengte, diepte en hoogte van die liefde van Christus te ken" (Ef. 3:18). Kyk hoe baie woorde gebruik word om die omvang van Jesus se liefde uit te druk: hoogte en diepte, lengte en breedte. Alle horisontale en vertikale mate, mate waarmee ons die wêreld meet. Dit is liefde van wêreldafmetinge. Maar hoor ook hóe u in staat sal wees om dié liefde te leer ken: "saam met al die heiliges"! Jy kry dit nooit alleen reg om die liefde van Christus te leer vat nie, jy is te klein daarvir. Saam: met die hele geheiligde kerk van alle eeue en alle plekke van die aarde, saam sal ons daartoe in staat wees. So breed is die liefde van God in Jesus Christus.

3. ONS SIEN OP TEEN DIE HOOGTE VAN DIE EIS (v/a 5)

Dalk dink u: maar maak dominee dit nie 'n bietjie te mooi nie? Wat van die ellende waaroor ons sondag tog gaan? Kom ons kyk nog 'n slag na v/a 5. 'Kan jy die hoë liefdegebod, die hartewens van God Drie-enig ten volle nakom? Nee, want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat'. Ja, hier lê die diepte van die menslike ellende. Van nature: soos ek is, wanneer die Heilige Gees nie in my woon nie. Soos ek is, as ek die liefde van God nie meer onthou nie. Soos ek is, wanneer Christus nie in my hart leef nie. Van nature is elke mense baie alleen, op sy eie. Dit is: 'n hart wat die hemel nie kan bereik en sy naaste nie lang kan verdra nie.

U hoor so 'n vraag as die christen wat u is: 'kan jy dit alles ten volle nakom?'. Luister mooi: dan mag jy nie sê 'ek is geneig om God en my naaste te haat'. Is jy as 'n kind van God nog geneig om Hom te haat? Van nature, as 'n sondige mens: ja. Maar as 'n kind van God: nee! Die ou mens kom nog dikwels in opstand, maar die nuwe mens in jou sal protesteer: maar ek wil God liefhê en ek wil my naaste vergewe! Die verlossing is dit: God het jou geleer om Christus se liefde te omhels. Jou ellende is dit: al die liefde wat God jou bewys het, was nie genoeg nie omdat jy dit in jou sonde afbreek.

Die gedeelte oor die ellende wil jou dit laat onthou: hoe sterk die duiwel in jou nog kan word, sodra jy vir 'n minuut God se hand los, sodra sy Gees van jou wyk. 'Van nature is ek geneig ...". Ons praat nog altyd so nederig, omdat ons opsien teen die hoogte van God se eis. Oor die "van nature" praat ons in Sondae 3 en 4 verder.

Ja, daar is al die ellende van sondaar-bly, van as kind van God Hom teleurstel, van as broer in die Here my naaste vertrap. Dit het jy voor die Nagmaal in jou hart gesê: Here, daar is teen my wil nog baie sondes en gebreke in my hart en in my lewe. Jy besef dit ook nou, na die feesmaal, terwyl u nageniet. Daarby mag jy egter die Heilige Nagmaal nooit vergeet nie: jy mog die vergewing van sondes en die liefde van God in Christus proe. U mag hoor: ten opsigte van die hoë eis waarteen jy opsien, is jy vry van die wet wat jou met die dood bedreig. Die eis van die wet mág jy hoor in woorde van liefde.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)