God se liefdewet skyn soos die son oor ons lewe

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 2
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 2 H.K.

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 90: 1, 4
Gebed
L. Matt. 19: 16-26
Ps. 68: 16
Prediking
Ps. 130: 2 (tweede beryming)
Geloofsbelydenis
Ps. 130: 4
Gebed
Kollekte
Ps. 119: 60
Seën

Gemeente van die Here Jesus Christus,

God se wet is soos die son.

Sonder die son kan ons nie lewe nie. Die son verwarm ons wêreld, gee lig en kleur aan alles, die son maak die lewe leefbaar.

Maar dieselfde son bring ook alles wat sleg is, onmiskenbaar aan die lig. Die duisternis kan heelwat ontbinding nog verhul, maar as die son begin skyn, word alle bederf ontdekkend aan die lig gebring.

Ja, die son bespoedig met sy warmte selfs die bederf!

Kom ek gebruik 'n eenvoudige voorbeeld: as ons saans laat by die lig van die maan nog 'n paar stukkies vleis braai, kom ons nie direk agter wanneer een stukkie al begin sleg word het nie. Ons proe dit eers as ons dit klaar gebraai het. Bedags, in die sonlig, sou ons lankal gesien het dat daardie sluk vleis nie reg meer was nie. Die sonwarmte sou boonop die proses van bederf verhaas het.

So is dit ook met God se wet. Die wet is as sulks goed en aangenaam vir ons lewe; deur God gegee om die lewe leefbaar te maak en leefbaar te hou.

Maar God se goeie wet bring tegelyk in ons lewe alle slegtigheid aan die lig. Soos ons met die woorde van Psalm 90 gesing het:

"Ons sondes, ook uit dae lank vervloë,
ons misdaad, nog bedek voor mense-oë,
staan naak en klaar, o God, voor u gesig,
wat die geheim ontsluier met u lig"

In die lig van God se wet blyk selfs ons beste werke almal onvolkome en met sondes besmet te wees.

Ja, ook God se wet kan die bederf in 'n menselewe nog verhaas. Die apostel Paulus wys al daarop in sy brief aan die Romeine. As God sy goeie wet aan 'n mens voorhou, kom daar uit hom wat in hom is. Kyk wat gebeur wanneer u iemand wat sy rug op God en sy gebod gedraai het, bv. vriendelik daarop wys dat hy nie moet vloek nie: waarskynlik begin hy opsetlik nog meer vloek! Waar sy hart vol van was, loop nou ook sy mond van oor.

Oor daardie werking van God se wet moet dit vanaand in hierdie preek gaan, broeders en susters. Ek moet die son van God se wet oor u lewe laat skyn en alle slegtigheid in u lewe aan die lig laat kom. Ek moet blootlê wat daar leef in u hart.

Dit kán gebeur dat ek sodoende ook by iemand van u die proses van bederf nog verhaas sodat hy vandag of môre vererg uit die kerk wegloop.

Dit is egter nie die bedoeling van hierdie preek nie. Die bedoeling is nie dat u met 'n vloek uit die kerk wegloop, of vol vrees uit die kerk wegvlug nie.

Die bedoeling van hierdie preek is dat u nog meer na Christus toe sal vlug, na dié Christus waarvan ons in die eerste vraag en antwoord van die Kategismus bely het dat Hy ons, ten spyte van al ons sondes, tot sy eiendom gemaak en by sy goeie Vader weergebring het en deur sy Heilige Gees die bederf uit ons lewe wil oorwin en wegkry.

Want dit kan die heilsame effek van die son van God se wet wees: dit onthul aan ons hoe groot ons sonde en ellende is. Maar juis deur dit te onthul, onthul God se wet ook aan ons hoe groot God se liefde vir ons in Christus is. Tot ons troos.

My boodskap vanaand is daarom:

GOD SE LIEFDEWET SKYN SOOS DIE SON OOR ONS LEWE

  1. HIERDIE SON BRING ONS SONDES AAN DIE LIG
  2. MAAR ONS ELLENDE BRING DES TE DUIDELIKER GOD SE LIEFDE AAN DIE LIG

1. U verstaan natuurlik al wel, gemeente: die son van God se wet lê die diepste oorsaak van die ellende in die menselewe bloot.

Want dit wat ons meestal maar as ellende ervaar: siekte, die dood, ongelukke, natuurrampe, oorloë, geweld en terreur, 'n ekonomiese neergang - dit is alles maar net die gevolge van die eintlike ellende waardeur ons lewe aangetas is. Die eintlike ellende van die mens is die hoogmoed dat hy meen om sonder die lig van God se goeie wet te kan lewe. Alle ellende op aarde het begin toe die mens sy rug op God se wet gedraai en die duisternis liewer gehad het as die lig. Op daardie oomblik het die son ondergegaan en die nag oor die menselewe gedaal. 'n Nag waaraan ons inmiddels al so gewoond geraak het, dat ons baie gevolge van die sonde nie eers meer as ellendig ervaar nie.

Daarom help dit ook nie, om die ellende wat ons in die wêreld, in ons land en in ons eie lewe wél raaksien, te probeer aanpak as ons nie eers die son van God se wet daaroor laat skyn nie. Ons moet uit die donker tree en in die son gaan staan en sy ontdekkende lig tot diep in ons eie hart laat deurdring.

Dis hoekom die Kategismus in Sondag 2 kort en kragtig kan sê: "Waaruit ken jy jou ellende? Uit die wet van God".

Dit is belangrik dat u daardie laaste twee woordjies wel daarby voeg, broeders en susters: die wet van God. Want niemand minder as God Self kom in hierdie wet voor ons staan om ons in die lig in te trek.

Daarom sal 'n mens van die hele wet nog niks verstaan nie, ja, 'n mens sal deur die wet nog steeds nie uit sy ellende uitgehelp word nie, solank hy nie die God van die wet leer ken het nie.

Dit is reeds God se klag in die dae van die profeet Jeremia. Moet maar kyk in hoofstuk 2: 8 waar die HERE sê: "Dié wat die wet handhaaf, het My nie geken nie". Dit was ook Christus se moeite met die wetgeleerdes tydens sy dae op aarde: hulle het alle punte en kommas van die wet geken, die tittel en jota, maar hulle het die God van die wet, sy hemels Vader, nie meer mooi geken nie.

Sonder Gód is die wet egter nie meer 'n son wat die mens aan sy ellende ontdek nie. Dit het 'n skemerlamp geword waarby die mens hom juis behaaglik kan voel.

As 'n mens God se wet hanteer, sonder om God regtig te ken, word die wet vir jou 'n soort arbeidskonktrak waarvolgens jy 'n veeleisende werkgewer tevrede kan hou. Of jy gaan die wet beskou as 'n soort hemelse spaarplan waarvolgens jy bietjie-bietjie 'n hele kapitaal kan opbou, sodat die hemelse bankbestuurder eendag jou verdienstes met rente aan jou moet uitkeer.

Of jy sien die wet as 'n wedstryd waarmee jy 'n gewaarborgde vakansie in die hemel kan verdien.

Maar in al daardie gevalle laat die wet jou nie verslae voor God staan nie, maar juis al hoe meer voldaan. Jy voel toenemend tevrede oor jouself en meen dat God ook met jou tevrede behoort te wees.

So 'n selfvoldane mens was die ryk jongman van wie ons vanaand in Matt 19 gelees het. Daardie man wou wel alles doen om die ewige lewe te mag ingaan.

Hy hét na sy mening ook al baie gedoen daarvoor. En hy het gehoop dat Jesus, as 'n besondere leraar in Israel, hom dalk sou kon help om 'n nog hoër puntetoekenning te kan bereik. Die wet het hom beslis nie al hoe kleiner en skuldiger teenoor God laat voel nie. Inteendeel, God het hóm al heelwat geskuld as gevolg van sy pligsgetroue wetsvolbringing, so het hy gedink. Toe Jesus, om maar met die maklikste deel te begin, die tweede tafel van die wet aan hom voorgehou het, waarin God liefde vir die naaste vra, het hy vrymoedig durf sê: "Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. Wat kom ek nog kort? ".

Baie mense gebruik so God se wet, gemeente. Is óns ook nie maar dikwels so nie? Ons weet presies wat wel en wat nie mag volgens die wet en probeer om ordentelik daarvolgens te lewe. Maar daarom is ons ook taamlik tevrede met onsself. Ons lewe is natuurlik nie volmaak nie, maar ons steek wel gunstig af by baie ander mense, ook baie ander christene. Ja, want ons weet ook om baie skerp die foute en sondes by ánder aan te wys. Hoe meer ons tevrede raak oor onsself, hoe hoogmoediger en harder raak ons meestal maar teenoor die ander. En dan praat ons sleg van ander kerke, of van iemand wat in 'n bepaalde sonde geval het, of van wie ons weet dat hy met 'n bepaalde sonde worstel, sonder om te besef dat ons met ons gepraat op daardie einste oomblik self teen die negende gebod van God se wet sondig.

So 'n selfingenome houding wys maar net dat ons, net soos die ryk jongman, die God van die wet nog onvoldoende ken. Daardie man wou goeie dinge doen en dit was 'n loflike strewe. Hy het daarvoor na Jesus toegekom, omdat hy baie goeie dinge in hierdie rabbi gesien het. Maar die eerste ding wat Jesus doen is om hierdie man voor sy goeie Gád te plaas. Al óns menslike opvattings oor wat goed en wat sleg is, word hom uit hande geslaan. Kyk na Gód, sê Jesus, en jy weet wat goed is! Niemand is goed nie, behalwe Hy. Kyk na Hom en jy weet wat jy kortkom.

En dit sê Jesus vandag steeds tot ons, gemeente. Immers, hoe is God? Hoe het Hy Homself in die Skrifte leer ken? As 'n veeleisende werkgewer? ! As 'n bankbestuurder of as die direkteur van 'n besigheid wat ons die kans bied om 'n ewige vakansie in die hemel te wen?

Hy kom in die Bybel voor ons staan as 'n liefdevolle Vader! En Hy soek ons met sy wet as sy kinders.

Kyk bv. in die eerste vers van Deut 14 waar die HERE sê: "Julle is kinders van die lewende God... " en dáárom vra Ek van julle om julle anders te gedra as die heidene. Kyk ook Deut 32: hoe voel dit vir God as Israel God se wet oortree? Voel Hy beledig soos 'n werkgewer wat deur 'n kneg veronreg is? Voel Hy soos 'n bankbestuurder wat deur 'n kliënt besteel is? Nee, God voel soos 'n Váder wat deur sy kinders eenkant geskuif is; 'n Vader wie se liefde verag is.

Eers as u God só leer ken het, sal u ook verstaan wat sy wet vir ons beteken.

God se wet is niks anders nie as die huisreël wat ons Vader ingestel het om die omgang tussen Hom en ons goed te hou. Die wet is maar net 'n vanselfsprekende leefreël om die lewe leefbaar te hou. Daarom het ek die wet met die son vergelyk: God se wet is die son wat lig en warmte wil gee aan ons lewe met God en aan ons lewe met mekaar.

Die hele wet kan mos, na Christus se woord, in een woord saamgevat word: LIEFDE!

God kom in sy wet nie met allerhande ingewikkelde opdragte na ons toe nie, Hy gee ons nie klomp lastige voorskrifte waardeur die lewe doodgedruk word nie.

Maar Hy wat Self die ene liefde is, roep ons tot 'n lewe met Hom en met mekaar wat deur die liefde geregeer word. Sy liefde vir ons vra om ons wederliefde. Dis eintlik al.

Toe die ryk jongman van homself gedink het dat God se gebooie vir hom nie eintlik 'n probleem was nie, het Jesus hom nie nog 'n paar moeilike opdragte by gegee nie. Jesus het net gevra om sy woorde met die daad te bewys: laat hy bewys dat hy sy naaste liefhet soos homself deur al sy rykdom aan die armes te gee. Laat hy bewys dat hy God liefhet bo alles deur sy toekoms vol vertroue in God se hande te lê. Meer vra God nie. Dit is genoeg om in die ewige lewe te mag ingaan.

Maar hierdie een liefdeseis was net te veel gevra van daardie jongman. Toe die son van God se wet op volle sterkte oor sy lewe begin skyn het, het die lig vir hom onverdraaglik geword en het hy teleurgesteld weggegaan.

Sou u en ek beter vorendag kom in die onthullende lig van God se wet, broeders en susters? Is ons liefde baie sterker as van daardie jongman?

Let wel: God vra nie 'n bietjie liefde in sy wet nie. Hy vra nie dat ons ons bes probeer om Hom en mekaar lief te hê nie. Hy vra dat ons Hom liefhet met ons hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand en met al ons kragte. Honderd persent. Soos Hy ons honderd persent liefhet.

Maar wie van ons het God so volkome lief? Is die gedagte aan u hemelse Vader die eerste gedagte wat deur u kop speel as u soggens wakker word? Bly u gedagtes deurentyd by Hom tot die oomblik waarop u saans weer aan die slaap raak? Speel Hy selfs in u drome die hoofrol? Is u een en al dankbaarheid en verwondering oor sy liefde vir u, vol vertroue in sy goeie sorg vir u, vol begeerte om Hom bly te maak met u wederliefde?

Praat u met almal met wie u daagliks verkeer gedurigdeur oor u hemelse Vader?

Die werklikheid is mos dat ons die meeste tyd van die dag glad nie aan Hom dink nie. Selfs onder die preek, of as by die huis uit die Bybel voorgelees word, dwaal ons gedagtes nog weg. Selfs tydens ons gebede kan ons nie altyd ons gedagtes by Hom hou nie. En is is meestal maar te skaam om oor Hom met ander mense te praat.

Het u u hemelse Vader lief met u hele verstand? Kies u al u lektuur, die radio en tv-programme wat u luister, om Vader daardeur beter te leer ken? Is julle op skool die ene ywer, seuns en dogters, om met julle verstand al hoe dieper in te dring in die wonders van Vader se wêreld?

Het u Vader lief met al u kragte? Is dit u lus en u lewe om Vader te mag dien deur u werk, en in allerhande kerklike aktiwiteite?

En wat van ons naasteliefde? Het u u naaste net so lief soos u self? ! Hoekom is daar in ons gemeente dan nie baie meer meelewe met mekaar, bv. as daar soos gister en verlede Saterdag 'n troue is nie? Hoekom kan lidmate wie se naam aan u genoem is sodat ook u hulle sou vermaan, dan bitter opmerk dat daar nog nie 10 broeders en susters was wat hulle kom besoek het nie?

Hoekom is daar dan nog soveel broeders en susters wat, ten spyte van die kerkraad se versoek om dit nie meer te doen nie omdat u daarmee u naaste aanstoot gee, direk na die diens op die kerkplein vlak voor die ingangsportaal staan en rook?

Kom ons is eerlik, gemeente, wanneer die son van God se wet oor ons lewe skyn, kom daar ook by ons heelwat liefdeloosheid aan die lig.

Die Kategismus stel onomwonde vas: ons is van nature geneig om God en ons naaste te haat!

Is dit nie te sterk uitgedruk nie? Ons kan nie ontken dat ons nog baie te kort skiet in liefde nie. Maar God en ons naaste háát...? ! Nou ja, ons naaste haat ons inderdaad soms, ons kan dit nie ontken nie. Maar Gód? !

Tog praat die Kategismus die waarheid, broeders en susters. Danksy Christus se Heilige Gees word die haatgevoelens teen God en die naaste in ons in 'n mate onderdruk onderdruk en oorwin. Nogtans is hulle steeds daar. Hulle sit diep in ons, in ons geaardheid, en kom van tyd tot tyd ook uit ons.

Het u nooit van die oomblikke wat u God verwens nie? Van die oomblikke dat u God se goeie gebooie as alte lastig ervaar en hulle van u af sou wil skud?

Is julle, seuns en dogters, nooit 'n keer geneig om te dink: ek haat dit om vanaand vereniging toe te moet gaan?

'n Vrou kan geneig wees haar God te haat omdat Hy haar met so 'n man laat saamleef en sy nie van hom mag skei nie. Iemand kan God haat dat hy so 'n pyn moet verduur of as 'n gestremde deur die lewe moet gaan.

Ons is ons van ons haatgevoelens, en selfs van ons tekortkomings nie altyd bewus nie, gemeente. Totdat God met die sonlig van sy wet tot in ons hart deurdring en 'n steekproef na ons liefde vir Hom en ons naaste doen. En dan kom ons in al ons sondige selfsug te kyk te staan.

Dan kan niemand hom meer mooier voordoen as wat hy is nie. Dan word elkeen gedwing om sy hart bloot te gee. En dan kan daar twee dinge gebeur:

Dan word onder die sonstrale van God se goeie wet die bederf in ons lewe nog bespoedig en loop ons, soos die ryk jongman, weg. Terug in die donkerte in. Ons loop weg om ons self te kan handhaaf in ons selfgesentreerde lewentjie.

Of ons kom verslae voor God op ons knieë en laat alle hoogmoedige selfhandhawing en selfvoldaanheid wegsmelt onder die warmte van God se wet en begin beskaamd besef dat dit vir mense soos ons eintlik 'n volslae onmoontlikheid is om met hierdie liefdevolle God as kinders saam te lewe. Ons kry dit nie eens reg om ordentlik met mekaar saam te lewe!

2. Ja, dié ding maak God se wet baie duidelik, gemeente. Dit is vir mense soos ons onmoontlik om met God in sy Koninkryk saam te lewe. Teenoor so veel liefde is ons nie bestand nie. Die wet van God brand ons dood.

Dit het ook Christus se dissipels goed verstaan nadat die ryk jongman teleurgesteld weggegaan het. Hulle was baie verslae het ons gelees. As God so 'n groot liefde van ons vra dat ons bereid moet wees om alles aan Hom en vir die naaste op te offer, "wie kan dan gered word? "

Hoe kan sondige mense soos ons is, ooit by so 'n God woon? !

En dan sê Jesus nie: moenie bekommerd wees nie, ek het daardie jongman 'n bietjie oorvra om sy selfversekerdheid aan die kaak te stel. In der waarheid stel God egter sy eise nie so hoog nie.

Nee, Jesus sê: "By mense ís dit inderdaad onmoontlik". Die son van God se goeie wet ís verskroeiend vir sondige, liefdelose mense. Geen mens kan sommer met my hemelse Vader omgaan nie.

"Maar by God is alle dinge moontlik". Daar waar julle 'n onoorkoomlike afgrond tussen julle en God veroorsaak het, kan God tog 'n brug bou om julle as sy kinders by Hom weer te bring

Daardie uitdrukking: "By God is alle dinge moontlik" lees ons nog 'n paar keer in die Bybel, broeders en susters. Telkens in situasies waarin God die wónder van sy verbond met die mens onderstreep en Hy duidelik maak dat nie ons liefde en ywer vir Hóm, maar sy ywer en liefde vir óns die samelewing tussen Hom en ons instandhou.

Ons lees hierdie woorde as die HERE die geboorte van Isak uit 'n negentigjarige Sara aankondig. Ons hoor hierdie woorde uit die profeet Sagaria se mond as Hy nuwe lewe in die verwoeste Jerusalem mag aankondig: "As dit te wonderbaar is in die oë van die oorblyfsel van hierdie volk, sal dit ook in my oë te wonderbaar wees? spreek die HERE van die leërskare".

En die engel Gabriël roep Maria met hierdie woorde op tot die geloof dat God haar maagdelike liggaam sal gebruik om die Redder van sondaars in die wêreld te bring.

God se liefde vir ons is so sterk dat Hy selfs die onmoontlike moontlik gemaak het. So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Christus Self is die bewys dat by God alle dinge moontlik is. Hy het na die aarde gekom om in ons plek volmaak aan God se wet gehoorsaam te wees. Hy het gekom om God se straf oor ons liefdeloosheid te dra en Homself uit liefde vir sy Vader en vir ons tot in die dood te offer. Hy wou met sy bloed aan Vader alle liefde betaal wat ons Hom geskuld het om ons so tot sy eiendom te koop.

Hy wou Homself in ons plek laat verskroei onder die dodelike hitte van God se wet om vir ons 'n nuwe lewe met God moontlik te maak; 'n lewe waarin die son van God se wet óns nie meer hoef dood te brand of te laat wegvlug nie, maar waarin ons ons weer mag koester in sy behaaglike warmte.

Daarom dryf die son van God se wet ons na Christus toe!

As hierdie onthullende son u onbehaaglik laat voel, broeders en susters, as sy hitte onverdraaglik voel, moet u nie vererg uit die kerk uit vlug nie, u moet nog minder wanhopig uit hierdie lewe wegvlug nie. U moet tot Christus vlug.

Daar by Christus, kan sondige mense tog lewe in die son van God se wet.

Daar, by Christus, word 'n mens heel klein en verwonderd. By Christus is daar geen plek vir selfsugtige en selfvoldane mense nie.

Want daar, by Christus, leer ons eers ten volle besef hoe groot ons sonde en ellende is.

Omdat ons daar, in Christus, eers ten volle raaksien hoe groot God se liefde vir u is.

Daar, by Christus, moét daar daarom wel 'n hartlike wederliefde in ons lewe ontluik vir so 'n liefdevolle Vader en vir sy ander kinders wat saam met ons van sy liefde mag lewe.

En dit is eksak wat God met sy wet in ons wou bewerk!

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)