Christus bring as geneesheer ons die erns van ons ellende onder die oog

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 2
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 2 H.K.

LITURGIE:
L. Hosea 6: 1-10 & Matt. 9: 9-13
Ps. 139: 1, 2
Ps. 139: 12
Ps. 78: 3, 4, 12, 13
Ps. 103: 2, 5
Ps. 51: 5

Broeders en susters,

"Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is", het die Here Jesus Christus in die gedeelte wat ons uit Matt. 9 gelees het, gesê.

En wie van ons kan die waarheid van daardie bewering ontken?

Gesonde mense vind jy nie in die spreekkamers van 'n dokter nie. Hulle hoef daar niks te soek nie. Mense kom eers dokter toe as hulle voel daar is iets nie reg met hulle gesondheid nie. Die dokter word eers ingeskakel as daar siekte is.

Net die wat siek is, benodig 'n dokter.

Maar dit gebeur nog maar al te dikwels dat mense wel dringend 'n dokter moet gaan sien, maar hulle besef dit self glad nie. Omdat hulle hulself nie of nouliks siek voèl nie. Soms bly ienmand veels te lank met 'n kwaal rondloop sonder om die dokter te raadpleeg, omdat hy die erns van die siekte nie onderken nie.

En dan kan die gevolge dodelik wees! Dis lewensgevaarlik as die erns van die siekte onderskat word. Wie ten onregte meen hy het nie 'n dokter nodig nie, speel met sy lewe.

As dit alreeds so by 'n liggaamlike kwaal is, hoeveel te meer sal dit dan nie so wees by die geestelike kwaal waaraan ons almal ly en waarop die Here met sy woorde eintlik gesinspeel het.

Ons is almal siek. Doodsiek selfs. Ons ly aan die dodelike kwaal van die sonde, waarvoor geen enkele dokter hier op aarde 'n medisyn of 'n behandeling het nie. Die kwaal waarvan alleen die enigste Heiland van die wêreld ons weer kan genees.

Wis u dat die woord "Heiland" oorspronklik soiets soos "Geneesheer" beteken, gemeente? 'n Heiland is iemand wat alles weer "heel" maak, sêmaar 'n "Heelmeester". 'n Dokter dus.

God se Seun het na die aarde toe gekom as die groot Geneesheer by Wie ons alleen genesing kan kry vir die siekte wat die begin van die ewige dood is. En ons het hierdie Dokter dus dringend nodig.

Maar ons kan enige tyd 'n beroep op Hom doen. Hy het -om die beeldspraak nog bietjie vol te hou- Hy het nie net op die sondae nie, maar alle dae van die week en enige uur van die dag spreekuur. Hy het nooit af dae nie. Hy is altyd bereikbaar en beskikbaar. Elke sieke wat by Hom kom, word dadelik gehelp.

Maar hoe gevaarlik is dit dus as ons die erns van ons kwaal nie onder die oê sou wil sien nie. As ons sou dink ons is nie so siek nie. As ons met ons siekte sou bly rondloop.

Ons sou ons Heiland verbyloop en daarmee met ons lewe speel.

Daarom is dit telkens opnuut nodig dat ons ons kwaal leer ken, ons sorgwekkende toestand agterkom.

Nie om daardeur alle lewensvreugde te verloor nie! Maar om daardeur die redding van ons lewe by ons Heiland weer te vind.

Dit is ook die bedoeling van die tweede Sondagsafdeling van die Kategismus: om ons ons ellende te laat agterkom sodat ons soos vanself na Christus toe gedrywe word. Om vir ons die dodelike erns van die sonde te wys, sodat ons met te meer erns die genesing daarvan by ons Heiland sal soek.

Ek het die inhoud van hierdie Sondag so saamgevat:

CHRISTUS BRING AS GENEESHEER ONS DIE ERNS VAN ONS ELLENDE ONDER DIE OOG.

  1. SY DIAGNOSE
  2. SY TERAPIE

1. Ja, ons grootste ellende is dat ons ons ellende nog so min besef, broeders en susters. Nie net goddelose mense in hierdie wêreld onderskat die dodelike erns van die sonde waaraan hulle ly nie. Ook ons, kinders van die HERE, dink dikwels veels te optimisties oor ons eie geestelike gesondheid.

Dit blyk meestal hieruit dat ons meer met 'n ander as met onsself te doen het. Ons kan die ellende van die sonde van iemand anders meestal baie beter aanwys as by onsself. Ons is bekommerd oor die sondige lewe van so veel sondaars rondom ons in hierdie wêreld, maar is ons eweseer bekommerd oor ons eie doodsieke hart?

Ons sien heel skerp hoedat die sondige wêreld die dood tegemoet hardloop, maar sien ons ewe skerp raak dat die dood ook in ons eie hart woon?

Ons skrik as ons agterkom hoedat die sonde êrens in die gemeente sy verwoestende werk doen en die kerkraad vanaf die kansel die gebed van die hele gemeente daarteen moet inskakel. Maar is ons bewus daarvan dat dieselfde sonde ook alreeds in ons eie lewe sluimer?

Feitlik verskil ons maar min van die Fariseërs met wie ons Heiland 'n woordewisseling gehad het na aanleiding van sy kontakte met die vriende van die pas-bekeerde Levi.

Daardie Fariseërs het ook makliker die sonde en ellende van ander as van hulleself raakgesien. Daarom vervies hulle hul ook daaroor dat Jesus, wat mos 'n leraaar in Israel wou wees, aan een tafel wou eet met mense wat in hulle oë die uitskot van die samelewing was. Hoe kon Jesus so maak?? !!

Om met sulke mense omgang te hê! Mense wat God se gebooie vertrap het. Tollenaars, prostitute en daardie tipe van mense. Nee wat, dan het hulle, die Wetgeleerdes van God se volk, meer reg op omgang met Jesus gehad. Hulle het darem geleef soos wat die HERE dit van hulle gevra het. Hulle was dankbaar dat hulle nie soos die ander mense, die klomp mense wat die wet nie ken nie, was nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, tollenaars, hoere... Hulle was heeltemal anders. Hulle het twee keer in die week gevas, 'n tiende van hulle hele inkomste gegee......

Dis was vir hulle nie nodig om te sê: "Waaruit ken ek my ellende? Uit die Wet van God" nie. Hulle kon juis sê: "Diep in my ingewand, waar liefde en ywer brand, draag ek u heil'ge Wet". Hulle het mos van kleins af die gebooie nagekom? In watter opsig het hulle te kort geskiet? Waarom het Jesus nie bietje meer aandag aan hulle geskenk nie? In plaas van om so vertroulik met tollenaars en hoere om te gaan? Hulle het Hom dit ook reguit gevra.

Toe Christus op hierdie vrae van die Fariseërs ingegaan het, gemeente, het Hy geen enkele poging gedoen om vir die slegte lewe van Levi en sy vriende en vriendinne 'n verskoning te maak en om die situasie bietjie mooier voor te stel as wat dit in werklikheid was nie. Hy het mos gesê: "Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat siek is". Hy het dus nie gesê: wag 'n bietjie, wag 'n bietjie, so mag julle nie oor hierdie mense dink en praat nie! Nee, sy antwoord was feitlik: Julle is reg, broeders, as julle vir My wil vertel hierdie mense is ellendige mense. Sondaars. Julle is reg: hulle is! Maar dit het Ek lankal geweet. Dis juis hoekom Ek hier is. Hulle het My dringend nodig omdat hulle daar sleg aan toe is. Die vroeëre tollenaar Levi en al hierdie ander het dringend 'n dokter nodig. Hulle is inderdaad doodsiek.

Die Heiland doen dus hoegenaamd geen poging om die erns van die sonde te verhul nie.

Maar Christus doen vervolgens wèl 'n poging om die Fariseërs te laat besef dat hulle self daar minstens ewe sleg aan toe is. Hulle voel hulleself wel heelwat beter as daardie sondaars, maar die werklikheid is dat hulle self nog gevaarliker siek is as die mense waarop hulle minagtend neerkyk. Want hulle ly aan dieselfde dodelike kwaal, maar hulle besef dit nie eens nie. Hulle ken die lewensgevaarlike toestand waarin hulle eie hart verkeer gladnie. Want hulle uiterlike vroomheid lyk dalk heelwat, maar ook hulle hart is nie vol van liefde vir God nie. Hulle spog wel met hulle gehoorsaamheid aan die wet. Hulle ken die gebooie tot in die puntjies, maar die belangrikste van die wet verwaarloos hulle. Christus sou dit eendag reguit vir hulle sê: "Julle, Wetgeleerdes en Fariseers, geveinsdes, is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol huigelary en ongeregtigheid".

Die vroomheid van die Wetgeleerdes is maar net uiterlike vroomheid.

God se Wet het vir hulle soos 'n Handboek vol met gebooie geword en die verbond met God iets soos 'n dienskontrak. Hulle het gemeen 'n mens kan God tevrede stel as jy aan 'n hele aantal verpligtings voldoen. Ja, jy kan selfs iets by God verdien, reg op 'n plek in die ewige lewe eendag verdien as jy aan die vereiste voorwaardes daarvoor stiptelik voldoen.

Daarom kon die Wetgeleerdes hulle eie ellende nie uit die wet leer ken nie. Omdat hulle die Wet van God nie regtig geken het nie.

En daarom doen Christus 'n poging om vir die Fariseërs die erns van hulle eie hartkwaal oop te vlek. Hulle wetsywer is vir God niks nie, aangesien hulle hart nie reg is nie. Hulle moet maar 'n slag in hulle Bybel gaan lees wat die HERE in Hosea 6 gesê het oor die nakom van God se Wet. Dit mag wees dat hulle dàn ook hul eie ellende agterkom. "Gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie. "

Ja, Christus haal hier Hosea 6 aan, broeders en susters. En in daardie gedeelte, wat ons ook gelees het, is dit duidelik dat God in sy wet feitlik maar net 'n hart vol liefde by sy kinders verwag. Nie net naasteliefde nie, soos ons uit die woordjie "barmhartigheid" in Matt. 9 miskien sou aflei, maar allereers bestendige liefde tot God, die God van die verbond. In Hosea 6 konfronteer die HERE self sy volk met die kern van sy wet: Ek het 'n behae in liefde, nie in offers nie, en in kennis van My, julle God, meer as in brandoffers. Dit is feitlik alles wat God in sy Wet van ons verlang: dat ons Hom liefhet met ons hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand en met al ons kragte. En dat ons daarom ook ons naaste, wat God ook as sy beeld geskape het, liefhet soos onsself. Aan hierdie gebod hang die hele wet. Meer vra God nie. Hy wil met ons in liefde omgaan. In sy liefde alles vir ons wees. Hy het in alle opsigte sy liefde vir ons bewys en doen dit nog aanhoudend. En nou vra Hy maar net dat ons van hierdie liefde van Hom ook wil lewe. Dat ons sy liefde met 'n hartlike wederliefde beantwoord. Ons moet nou ook alles vir Hom wil wees. Dit is feitlik die enigste eis wat Hy ons is sy wet stel.

Maar juis hierdie eis het vir enige mensehart te swaar geword.

Die liefde was vir God se volk altyd al die probleem. Op die liefde het die verbond met God telkens weer stukkend gebreek. Die liefdesgeskiedenis wat God met Israel gesoek het, het 'n lydensgeskiedenis geword.

Dit was ook God se klag in die dae van Hosea: Hy het geen bestendige liefde by sy volk gevind nie. Hulle het wel gesê: "Kom en laat ons terugkeer tot die HERE. En laat ons ken- laat ons dit najaag om die HERE te ken".

Maar 't was vleiery. In sy verbond en leer
was hulle nie opreg voor God, hul HEER.

En die HERE het dit geweet. Hy het geweet hoe weinig diep die liefde by hulle gesit het: "Julle liefde is soos 'n môrewolk, en soos 'n dou wat vroeg weer verdwyn". 'n Oomblik lyk dit heelwat, maar dit verwaai ook sommer weer. Weg! Die liefde van God se volk was daar maar net by vlae. Maar nie blywend nie. Want hulle hart was nie vol daarvan nie.

En tog is liefde die enigste ding wat God soek, duursame liefde: "Ek het 'n behae in liefde en nie in offerande nie".

En Christus stuur die hoogmoedige en selfversekerde Wetgeleerdes dus huis toe met die opdrag om daardie klag van God nog maar 'n keer grondig te bestudeer. En op hulleself toe te pas.

Maar daarmee stel Hy as die groot Geneesheer onomwonde die diagnose van wat die Fariseërs wat hulleself so gesond waan, in werklikheid skeel. Hulle ly dus aan 'n lewensgevaarlike hartafwyking. Hulle dink wel daar is geen beter wetsvolbrengers as hulle nie, maar dit moet tot hulle begin deurdring dat hulle hart net nie dit wat God in sy wet van ons vra, het nie: liefde, volmaakte en aanhoudende liefde. Hulle moet hulleself maar nie bo Levi en sy vriende verhewe voel nie, want ook hulle het dringend 'n dokter nodig. Voor God ly hulle aan presies dieselfde kwaal.

Maar so leer ons Heiland dus ook vir ons vandag om die Wet van God in sy oorspronklike bedoeling te lees, gemeente. En Hy kom by ons tot dieselfde diagnose soos by die Fariseërs. Ook ons hart is doodsiek. En niemand moet die fout maak dat hy homself beter as ander voel nie!

Nogmaals, ons verskil rêrig nie soveel van die Fariseërs nie. Daardie beeld van die "môrewolk" en die "dou" uit Hosea 6 dui wellig die beste aan hoe dat dit met ons liefde vir God gesteld is. Nee, ons is nie geheel en al sonder liefde vir God nie. En af en toe lyk dit ook heelwat, maar dit is nog so vlugtig, dit is nie die totale, aanhoudende liefde van die hele hart en die hele siel en die hele verstand en al ons kragte nie. Ons is dalk self van mening dat dit nie te sleg lyk nie, maar vir God, wat self een en al liefde is, is dit definitief onvoldoende. Hy maak aanspraak op die volkome liefde van ons hart en lewe. Ook ons moet, net soos Hy, een en al liefde wees.

God vra eintlik glad nie veel nie. Want as daar een is wat dit van ons mag vra, is dit Hy! Hy het mos met al sy liefde na ons toe gekom. Eers al by die Skepping van die wêreld. Ons, die mens, mog as hoogste skepsel kind van Hom wees, onderkoning oor sy pragtige en indrukwekkende wêreld. En na die sondeval het nog indrukwekkender geblyk hoe groot God se liefde vir ons is. Hy het ons so liefgehad dat Hy selfs sy eie Seun nie gespaar het nie maar Hom as 'n versoening vir ons sondes oorgegee het. Sodat ons deur Hom sou lewe. "Hierin is die liefde", skryf die apostel Johannes in sy eerste brief (hfst. 4), "nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes". Geliefdes ( en verstaan u nog die betekenis van daardie veelseggende woord, broeders en susters? ) Geliefdes, as God ons sò liefgehad het, behoort ons dan ook nie lief te hê nie? Mag Hy van ons dan nie hartlike wederliefde verwag nie?

Maar juis dit kan ons nie opbring nie.

Wie van ons het God lief met 'n totale liefde sonder enige tekortkoming? Wie durf sy eie liefde vrymoedig teenoor God se oneindige liefde plaas? Wie?

Is ons nie geneig om God en ons naaste te haat nie? Ons kan ons nààste nie eers liefhê soos onsself nie, hoe sou ons dan die HERE bo alles kan liefhê. Die sonde het selfgesentreerde mense van ons gemaak. Mense wat self feitlik god wil wees. Wat hulleself die belangrikste ag. Want in alles allereers hulleself soek en enigiemand anders as 'n mededinger beskou.

Ons het geen enkele rede om ons bo wie dan ook te verhef nie.

As Christus met God se Wet as kardioskoop die diagnose stel, moet Hy by ons almal tot dieselfde gevolgtrekking kom: 'n lewensgevaarlike hartkwaal: geneig om God en die naaste te haat. Dit geld van ons almal, ook van die kinders in die kerk, selfs van die babatjies wat by die huis in hulle wiegies lê, ja selfs van die wat nog besig is om in die moederskoot te groei. Ook die allerprilste lewe het alreeds daardie lewensgevaarlike hartafwyking. Niemand van ons kan feitlik met die groot God saamlewe.

2. En dus is ons daar ellendig aan toe, gemeente. Doodsiek.

In die Gereformeerde Dogmatiek is, om die erns van die sonde in ons lewe op geen enkele wyse te onderskat nie, selfs gesê: ons is feitlik al dood! U kan maar kyk in die Dordtse Leerreëls, hoofstuk III en IV, Art. 3, waar ons bely dat ons "dood in die sonde" is. 'n Uitdrukking wat ook in ons nagmaalsformulier gebruik word.

Want wie nie met sy hele hart in liefde vir God kan lewe nie, het geen lewe nie. Die lê alreeds midde-in die dood.

Maar wat moet ons dan maak, broeders en susters? Hoe kan dit met ons dan ooit weer regkom? God eis volmaakte liefde, en ek het 'n hart wat maar net geneig is om te haat! Wat moet ek maak?

Wel, daar bly vir ons almal maar een ding oor. Ons moet die lewe buite onsself in Jesus Christus soek. Ons moet na die dokter toe wat alleen nog ons uit die greep van dood kan losruk en nuwe lewenskanse vir ons gee.

U besef nou mos hoe dringend u u Heiland nodig het. Die wat gesond is het geen dokter nodig nie. Maar ons is doodsiek. En daar is geen dokter op aarde wat ons van hierdie siekte kan gesondmaak nie. Alleen Heelmeester Jesus, wat nie gekom het om regverdiges te help nie, maar sondaars, kan ons nog red. Daarvoor het Hy in die wêreld gekom. Om al ons siektes op Hom te neem en ons krankhede te dra. Om soos 'n magnetiseur ons sondes na Hom toe te trek en die gevolge daarvan, die ewige dood, in ons plek te dra.

Alleen wie die dodelike erns van sy hartkwaal ken en Homself deur Hom laat behandel, kan weer gesond word.

En Christus het maar net een terapie. Dieselfde terapie as wat Hy by die tollenaar Levi gebruik het: gehoorsaam wees aan die bevel: "Volg My". Dit is: trek jou doodsieke hart nou van alles af en rig dit net op My. Glo in My, dat Ek in jou plek My hart in liefde aan God toegewy het. So kan Ek alleen al jou tekort aan liefde voor God bedek. Volg My, sodat jy nie langer aan jouself behoort nie, maar aan My, jou getroue Verlosser. Gee jou hart vir My, sodat jy voortaan kan sê: "Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in My. My lewe het Christus geword".

Volg My, dan sal Ek deur My Heilige Gees 'n nuwe, rein hart vir jou skep en in die binneste van jou 'n vaste, standvastige gees gee, sodat jy die HERE jou God weer bestendig kan liefhê. My Gees sal jou weer van harte gewillig en bereid maak om voortaan in ware liefde met God en die naaste te lewe. Want Hy sal God se liefdeswet op jou hart skrywe sodat daar tog die liefde vir God uit jou hele hart gaan kom; en ook die liefde vir jou naaste.

Ons moet met ons dodelike hartkwaal na Christus Jesus toe, broeders en susters.

Hoe meer u van die erns van die sonde in u lewe deurdronge raak, des te meer sal u ook by ons Heiland genesing soek. En vind.

Het u vanmôre weer besef hoe ellendig u daar aan toe is? Maar dan besef u nou ook des te meer hoe onmmisbaar die genesende genade van Christus is. Dan besef u nou des te meer hoe onmisbaar die TROOS waaroor Sondag 1 van hierdie Kategismus gepraat het en waarvan God se Woord elke sondag, ja elke dag praat, vir u is.

Maar dan verstaan u nou ook hoe gevaarlik dit dus is as u u geestelike gesondheid te hoog aanslaan. Want die wat meen dat hulle gesond is, meen ook dat hulle die Geneesheer Christus nie nodig het nie. Maar dit word, as hulle nie van insig verander nie, hulle dood!

Net vir die wat siek is, en daarvan ook terdeë deurdronge is, is daar genesing.

AMEN.

(Pretoria 22 Oktober 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)