Ons word in die kerk onderrig in die leer van die saligheid

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 1
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 1 H.K.

LITURGIE:
Ps. 111: 1, 2
Wetslesing
Ps. 111: 5
Gebed
L. 1 Korinth. 1: 20-2: 16
Prediking
Ps. 119: 37
Ps. 119: 33 na die doop
Gebed
Kollekte
Ps. 71: 9, 10, 14

Broeders en susters,

Terwyl baie jongmense in hierdie weke met spanning daarna uitsien dat hulle hul leerboeke eindelik mag toeklap, het ons vanoggend vir die soveelste keer 'n leerboekie weer opgeslaan.

Die leerboekie wat ons die "Heidelbergse Kategismus" noem. Terwyl in hierdie weke die onderwys orals met eksamens afgesluit word, begin ons met die onderwys van die Kategismus weer van voor af.

Hoeveel ure sou daaraan hierdie leerboekie van die kerk bestee wees in verhouding tot die ure wat aan allerhande ander leerboeke gegee is in die afgelope maande?

Daar moet vir 'n eksamen heelwat gebeur. Mens moet 'n hele klomp leerboeke deurworstel. Die wat homself op 'n eksamen voorberei, het meestal sy tafel of lessenaar vol met boeke. Dik boeke vol moeilike bladsye.

Tussen al daardie leerboeke sou die klein leerboekie van die kerk bykans verdwyn. Dit sou maklik weggedruk kon word tussen al die ander dik boeke op die rak.

Maar dit mag by die kinders van die kerk nooit gebeur nie!

Die leerboekie wat ons Kategismus noem, behoort 'n ereplek tussen alle ander boeke op ons lessenaar te hou. En die aandag wat daaraan bestee word, mag nie minder wees as die aandag wat aan al die ander leerboeke gegee word nie.

Want daar staan ongetwyfeld baie leersame dinge in al daardie boeke, en as die onderwys daaruit met 'n goeie eksamen afgesluit word, is dit nie onbelangrik nie.

Maar in die klein leerboekie van die kerk word ons in niks minder nie as die leer van die saligheid onderrig. En dié onderrig lewer vir ons maar liefs die enigste troos in lewe en in sterwe op. Die Kategismus mag dalk in vergelyking met ander boeke maar 'n dun leerboekie wees, dis darem 'n leersamer boek as enige ander leerboek.

In hierdie boekie is die leer van die Ou en Nuwe Testament saamgevat. En wie hom in hierdie leer laat onderrig, word wys gemaak tot saligheid. En dit het meer waarde as die hoogste slaagsyfers en as enige onderskeiding.

Hierdie leerboekie is ook nie net vir die jeug bestem nie. Ou mense moet ook nog daaruit leer. Want niemand raak mer die leer van die saligheid klaar geleer nie. Die onderwys in hierdie leer kan nie na 'n aantal jare met 'n eksamen afgesluit word nie. Ook die openbare geloofsbelydenis beteken nie dat die Kategismus voortaan diggelaat kan word nie. Inteendeel, mens moet na sy geloofsbelydenis met des te meer erns met die Kategismus besigbly.

Ons almal in die kerk, jonk en oud, hou die onderrig in die leer van die saligheid lewenslank nodig.

En daarom begin ons vandag weer gewoon van voor af, by die eerste sondagsafdeling, en daaruit gaan ek vir u aanwys:

ONS WORD IN DIE KERK ONDERRIG IN DIE LEER VAN DIE SALIGHEID

EK WYS U OP

  1. DIE INHOUD
  2. DIE WINS
  3. DIE WYSE VAN HIERDIE ONDERRIG

1. Die wat hom met 'n leerboek besighou, gaan homself meestal toenemend selfversekerder voel namate hy hom in die leerstof beter inwerk. Die wat die stof begryp, bemeester en hom eie maak, voel hom al hoe meer op sy gemak.

Maar wie hom in die leer van die saligheid gaan verdiep en probeer om hierdie leer jou eie te maak, gaan voel homself al hoe minder op sy gemak! Die wat hierdie leerstof toenemend beter begin verstaan, word juis al hoe minder selfversekerd. Want die eerste wat ons uit ons leerboekie van die kerk moet leer is: hoe groot ons sondes en ellende is. Ons moet allereers leer verstaan hoe verdorwe en ellendig ons is. Dis hoofstuk 1 in die leerboek van die saligheid. Die hoofstuk oor ons sonde en ellende, en dan veral: hoe groot dié is. En ons sal met dié hoofstuk moet besigbly tot daar geen greintjie selfversekerdheid meer in ons oorgebly het nie, maar ons ons volkome verslae voel, ja, 'n afkeer van onsself gekry het.

Hierin verskil die leer van die saligheid van alle ander leerboeke wat daar in hierdie wêreld uitgegee word. Die leer van die saligheid bring ons aan die verstand waar die werklike ellende lê in hierdie wêreld.

Want dát daar baie ellende op aarde is, dit stem enige leraar jou dadelik saam. Maar waarvandaan hierdie ellende afkomstig is en wat ons daaraan kan doen- daaroor het reeds baie leraars hul sê gesê, maar niemand sê dit so soos dit in die Heidelbergse Kategismus geleer word nie.

Die een wys die ellende aan in oorloê en oorlogsdreiging. 'n Ander een lê die vinger by die onregverdige verskil tussen ryk en arm orals in die wêreld. 'n Derde laak die verkeerde strukture in ons huidige samelewing. Daar is ook wat die oorsaak van die ellende in 'n kombinasie van hierdie faktore soek.

Maar niemand leer wat in die kerk wél geleer word nie: dat die eerste en eintlike oorsaak van alle ellende op aarde nie buite die mens nie, maar in die mens self gesoek moet word.

Ons mense is so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is. Die duiwel het op die lewe van die mens beslag gelê. Hy het in ons hart die opstand teen ons God en Skepper gesaai. Ons het sondige mense geword wat nie meer die HERE ons God liefhet met ons hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand en met al ons kragte nie. Ons is mense wat nie eers ons naaste kan liefhê soos onsself nie. Ons is juis geneig om God en ons naaste te haat. Eiewyse, selfgesentreerde mense het ons geword. Ons het God van die troon gestoot en onsself daarop geplaas. Ons het vervolgens God heeltemal uit die lewe probeer wegdruk, asof daar geen God bestaan nie. Ons het onsself aan die tirannie van die duiwel uitgelewer. Slawe van die sonde en die dood het ons geword.

Dít is die eerste ding wat die leerboek van die saligheid ons wil bybring. Dit sal ons allereers en telkens opnuut moet leer, sodat ons 'n al hoe groter afkeer van onsself kry en ons voor God verootmoedig.

Gelukkig is dit nie die enigste hoofstuk in die leerboek van die saligheid nie. En selfs nie die belangrikste hoofstuk nie. Dit is die volgende hoofstuk waarin ons uitvoerig geleer word hoe dat ons van al ons sondes en ellende verlos word. Die inhoud van daardie tweede hoofstuk voer ook alreeds die botoon in die inhoudsopgawe en samevatting in die eerste Sondagsafdeling. Die leerboek van die kerk wil naamlik 'n Troosboek wees. Wie sy ellende leer raaksien het, mag ook weet dat die duiwelse hherskappy oor ons lewe gebreek is deur God se eie Seun, ons Here Jesus Christus. Hy mag leer dat die Heilige Gees van die Here Jesus Christus besig gegaan het om die oorspronklike paradyslewe in ons te herstel, sodat ons vandag alreeds temidde van alle ellende die begin van die ewige vreugde mag ervaar.

Nogtans word ons ook in die tweede en derde hoofstuk van hierdie Troosboek telkens na die eerste hoofstuk terugverwys. Want die tweede en derde hoofstuk sou sonder die eerste hoofstuk 'n onbegryplike verhaal vir ons bly. Ek weet: die hoofstuk oor ons sonde en ellende vorm slegs die inleiding op die hoofstukke oor ons verlossing en oor die vernuwing van ons lewe deur die Heilige Gees, maar dis nogtans 'n onmisbare hoofstuk.

Want hoe sal u verstaan wat dit wil sê dat u getroue Verlosser Jesus Christus met sy kosbare bloed vir al u sondes ten volle betaal het, as u nie eers grondig geleer het wát u sondes is, ja, hoe gróót hulle is nie? En hoe sal u getroos kan wees met die wetenskap dat die Here Jesus Christus u uit die heerskappy van die duiwel verlos het, as u nie eers die skrikbewind van die duiwel leer raaksien en ervaar het nie?

Die eerste hoofstuk van die leer van die saligheid is ook die moeilikste. Enige mens hou sy hele lewe lank moeite daarmee om hom hierdie hoofstuk eie te maak.

Nooit is ons volleerd in die kennis van ons sondes en ellendes nie. Veral nie as dit jou eie sondes en ellende betref nie!

Daar is ook reeds ontelbare pogings gedoen om hierdie hoofstuk te herskrywe om die erns van die sonde minder ernstig voor te stel. Want die eerste hoofstuk is 'n onaangename hoofstuk vir hoogmoedige mense. Maar ons moét daarmee besig bly om ontvanklik te bly vir die res van die onderwys.

Want eers as ons ons nóód begin besef het, leer ons ook verstaan hoe groot die wonder is dat God sulke mense nog wou liefhê. So lief, dat Hy selfs sy eie Seun in die hemel nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal in die dood oorgegee het, sodat ons deur Hom weer sou lewe.

Eers dan verstaan ons iets van die onuitspreeklike angste verskrikkinge en helse kwelling wat ons Heiland in ons plek moes ondergaan.

Ons leer ook dan eers verstaan dat ons verlossing uit die heerskappy van die duiwel en die dood die ene GENADE is. Bomenslike, Goddelike krag uit die hemel moes ingesit word om ons weer vry te kry. Ons kon self daarvoor nog nie eers 'n vinger verroer nie.

Daar word in hierdie wêreld heelwat religieuse verlossingslere gepredik, maar hoe verskillend dié ook al mag wees, in een opsig stem hulle almal ooreen, naamlik dat dit uiteindelik die mens sélf is wat die ellende moet probeer te bowe kom.

Die leer van die saligheid daarenteen onderwys ons oor ons volkome onmag om onsself uit ons ellende te verlos, en leer ons dat ons totaal van God se almag afhanklik is. Sonder enige bydrae van onsself, uit genade alleen. Ons moet heeltemaal weergebore word, anders sal ons in God se Koninkryk nooit meer kan binnegaan nie. En watter mens kan homself opnuut gebore laat word? ! Daarvoor is nie minder nie as 'n nuwe skepping nodig- die goddelike krag van die Heilige Gees.

Maar dié goddelike krag hét losgekom vanuit die hemel, eers in die koms van God se Seun, en vervolgens in die werk van God se Gees. Dié krag werk vandag in ons lewe en maak ons weer van harte gewillig en bereid om vir God te lewe.

Dié troos word ons in die leerboekie van die kerk aangeprys as die enigste egte troos in lewe en in sterwe. Dit is die leer wat in die kerk alhier geleer word as die "waaragtige en volkome leer van die saligheid".

2. Wat word mens wyser van hierdie leer, broeders en susters? Watter wins lewer dit op vir lewe en sterwe?

U weet, die wêreld vra altyd na die nut van iets. Wat het mens daaraan?

Maar daarom ook vind die wêreld hierdie leer van die saligheid pure dwaasheid. Die wêreld kan maar net hoogmoedig spot met die onderwys wat die kerk aan sy lidmate probeer bybring. Wat bereik 'n mens daar nou mee in hierdie wêreld, wanneer jy vir die mense woorde soos "sonde, skuld, duiwel, versoeningsbloed, genade, vergewing" ens. leer spel? Wat help dit om die mense vir 'n Koning aan 'n kruis te leer kniel?

Vir die wêreld is die leer van die kerk net dwaasheid en 'n ergernis.

Maar as daar gevra word of mens dit met hierdie leer ver bring, sê ek vir u: baie ver! Ewig ver.

Die wat hom in die leer van die saligheid laat onderrig, sal daarvoor nooit 'n diploma behaal, of 'n onderskeiding kry nie. Mens kan daarmee ook geen gunstige loopbaan in die maatskappy verkry of 'n goedbetalende betrekking bemagtig nie. Inteendeel, almal wat met hierdie leerboekie midde-in die lewe wil staan, moet daarop voorbereid wees dat jy oor dit wat jy glo en bely jou betrekking kan verloor, in jou loopbaan gestuit kan word.

Want ons word in die oë van die wyse van hierdie wêreld onnosel en wêreldvreemd. Onbruikbaar en lastig.

Nogtans maak die leer van die saligheid jou wyser en ryker as al daardie sogenaamde wyse mense van hierdie wêreld. Jy leer om verder te kyk as wat hierdie wêreld lank is.

Hierdie leer open vir jou die uitsig op die ewige lewe vol ewige vreugde.

Die mense sal ons uitskel dat ons bekrompe en kortsigtig is. Maar: "Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het en in die hart van die mens self nie opgekom het nie- daarvan dra ons kennis. " Daarvan is ons op hoogte. Ons denke hou geen halt by die horison van hierdie wêreld nie. Maar die Gees van God het ons blikveld ontsaglik verruim. Hy laat ons diep deurdring in die wêreld van God, die wêreld van die onsigbare dinge, ver agter ons beperkte menslike horison. Sodat ons kan kan weet wat God ons uit genade geskenk het: daardie groot geskenke van versoening en vergewing deur die kosbare bloed van Jesus Christus, en vervolgens ook die totale vernuwing van ons sondige lewe. Met as einddoel die volmaakte ewige lewe.

Ja, en dan raak ons woorde soos sonde en skuld, genade en vergewing ens. nie sommer kwyt nie. Maar daardie woorde gee vir ons dan die regte sig op dit wat daar in ons wêreld aan die hand is. Want ons het geleer om die hele lewe in verband te bring met die Gód van die lewe. Ons het geleer dat hierdie God 'n God van liefde is, wat dit nie kán verdra as ons sy liefde nie met ons liefde beantwoord nie. Ons het geleer dat hierdie God daarom ook Hom verskriklik kan vertoorn. Ons dra daarvan kennis dat God ons liefdeloosheid vandag reeds, en eendag vir ewig, wil bestraf. Ons is op hoogte daarvan dat hierdie aarde ter wille van die sonde gevloek is en dat die mensheid tot magteloosheid gedoem is, ten spyte van alle vermeende hoogmoed.

Ons is dan ook nie verbaas as allerhande rampe die aarde teister nie: aardbewings en droogte, omgewingsbesoedeling en epidemiese siektes, oorloë en rewolusies, padongelukke en vliegrampe...

Ons herken en voel God se slaande hand daarin.

Maar ons weet terselfdertyd van die krag van daardie kruis wat op Golgotha gestaan het. Ons weet dat daar die versoening met God gekoop en betaal is met die kosbare bloed van God se eie Seun. En dat daarmee 'n nuwe lewe en 'n nuwe, herstelde toekoms vir ons oopgesluit is.

En nou kan ons verder as die wolke kyk, tot in die hemel, waar daar 'n troon staan met daarop ons Verlosser Jesus Christus, aan Wie gegee is alle mag in die hemel en op die aarde. Ons ken Hom as ons Koning, die Koning van die konings en die Heer van die here, wat alle drade van die geskiedenis in sy sterk hande hou en met vaste hand alles voorberei op die vooltooiing van sy Koninkryk, as Hy na die aarde terugkom.

Ons sien die groot betekenis van sy kerk op aarde: die kraamkamer en kaserne waar die soldate van sy ryk gebore en gevorm word vir die stryd teen die laaste reste van die leër van die duiwel. Ons sien die Heilige Gees besig om die hele lewe op aarde weer aan God toe te wy.

Kry mense in die kerk 'n bekrompe blik? ! Maak die leer van die kerk die mense kortsigtig, sodat hulle nie meer weet wat in die wêreld aangaan nie?

Glad nie! Ons in die kerk kan oor alles saampraat, ons het ook op alle vrae 'n antwoord. Die eenvoudigste kerklid dra kennis van dit wat die mees geleerde wetenskapsmens nie deursien nie, naamlik wat wél belangrik is in hierdie wêreld en wat nie, wat goed is en wat verkeerd. Ons weet meer as al die ander almal saam.

En waar die slim koppe van hierdie wêreld met pessimisme vervul is, daar bly ons rustig op die sorg van ons hemelse Vader vertrou, wat danksy Christus se versoening van ons sondes selfs die hare van ons kop dophou en alles aan my saligheid laat meewerk. En andersom: waar die invloedryke mense van hierdie wêreld optimisties gestem is, daar weet ons dat dit wel moet skeefloop. Of jy student of arbeider is, huismoeder of onderwyseres, busbestuurder of direkteur- ons het almal 'n oog vir dit wat die ander mense nie raaksien nie. Ons het 'n oog gekry vir die nuwe wêreld wat aan kom is, waarin die sonde en die duiwel weggedoen sal wees, en God weer alles in almal.

Al ontvang jy deur hierdie leer dan ook nie 'n diploma of 'n goedbetalende betrekking nie- al verloor jy dalk juis vanweë jou aandag vir hierdie leer jou betrekking en kontakte, nogtans skenk dit jou die grootste geluk van die wêreld. Hierdie leer bied so'n troos dat dit jou hele lewe lank, ja, ook in die sterwe van krag bly. Die enigste troos wat nooit teleurstel nie.

3. Ons het geen groot verstand nodig om die leer van die kerk te kan verstaan nie. Maar hierdie leer kom jou ook nie sommer aanwaai nie. Jy moet jou ook regtig láát leer in die leer van die saligheid. En dit beteken dus: jy moet in die kerk wees. Want die leer van die saligheid word in die christelike kerk alhier geleer. In die sondagse preke, in die weeklikse katkisasieklasse, tydens huisbesoeke...

Die kerk is met reg wel 'n leerhuis genoem.

Vaders en moeders belowe by die doop dat hulle hul kinders in hierdie leer sal onderrig en laat onderrig. Maar om hul kínders te kán onderrig, moet hulle hul eers self telkens weer laat onderrig. Hulle moet kerk toe kom, oor dit wat hulle in die preke gehoor het verder lees en praat. Hulle moet hulle laat leer tydens huisbesoeke, en goeie lektuur aanskaf om te lees.

En hulle moet, wanneer hul kinders opgroei, daarop toesien dat hulle met mening saamdoen in die katkisasieklasse.

Die kinders moet self, as hulle wys wil word in hierdie wêreld, nie telkens aan die skool voorrang gee bo die katkisasie nie, maar die leerboekie van die kerk die eerste en belangrikste plek op hul lessenaar en hul boekrakkie gee.

Selfs die ou mense moet leergierig bly na die leer van die saligheid.

Ek sê weereens: niemand van ons raak ooit volleerd nie. Ons raak hier op aarde nooit klaar geleer m. b. t. ons sonde en ellende nie.

Ons raak nooit volkome ingewyd in die wonder van ons verlossing deur God se eie Seun nie. Ons is nooit voldoende op hoogte van die nuwe lewe wat die Heilige Gees by ons soek nie.

Daarom is dit ook nie oorbodig dat ons die leerboekie van die kerk weer van voor af opslaan en ons weer sondag na sondag opnuut laat leer nie.

Inteendeel: hoe leergieriger ons is, des te saliger sal ons wees!

AMEN.

(Pretoria, 25 November 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)