Die uiteindelike heerlikheid van Christus se bruid

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 21
Preek Inhoud: 

PREEK OOR OPENBARING 21: 9-11

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 48:1
Wetslesing
Ps. 48:4
Openbaring 19:1-9 & 21:1-11
Gebed
Kollekte
SB 45: 1,3,7,9
Teks: Openbaring 21:9-11
Ps. 48:5
Gebed
Ps. 102: 6,7,9
Seën

Broeders en susters,

Ons lees op die laaste bladsy van die Bybel oor 'n bruid wat vol verlange uitsien na die koms van haar Bruidegom. Sy verlang na die dag waarop Hy haar vir altyd by Hom sal neem, die dag van die groot bruilofsfees waarna die lewe altyd 'n fees sal bly.

Hoor hoe roep sy: "Kom, ja kom, Here Jesus!".

Ja, daardie bruid is die Kerk van die Here Jesus Christus; sy gemeente wat leef met die belofte dat sy verblyf in die hemel net tydelik is en dat Hy eendag sal terugkom na die aarde toe om Hom vir ewig met sy bruid te herenig.

Sy leef in die blye verwagting dat haar Bruidegom enige dag kan terugwees. Sy roép Hom as 't ware na haar toe: "Kom, Here Jesus!"

Dis g'n wonder dat sy al haar sinne op daardie dag gesit het nie. Kyk hoe lyk sy vandag! Ook daarvan vertel die laaste Bybelboek: sy moet in 'n woestyn haar dae slyt, vanweë die vyande wat haar bedreig. Hulle gooi met modder na haar, hulle probeer haar tot owerspel te verlei, hulle wil haar doodmaak. Die hele wêreld is teen haar, omdat sy, alhoewel sy in hierdie wêreld is, nie van hierdie wêreld wil wees nie.

Nogtans sal eendag die hele wêreld van haar wees! Want die hele wêreld is van haar Bruidegom en Hy sal dit op die dag van die bruilof aan haar oorhandig. Eendag sal sy hierdie aarde, wat dan skoongevee is van alle goddeloosheid, uit die hand van haar hemelse Bruidegom beërwe. En dan sal Hy alle trane van haar oë afvee en 'n stralende bruid van haar maak.

Ook dit het Hy belowe.

Daarvan lees u op die voorlaaste bladsy in u Bybel, onder meer in ons teks vir dié diens. Die Bruidegom het vanuit die hemel sy bruid in haar beproewing alreeds iets gewys van die geweldige heerlikheid wat haar te wagte is as Hy weerkom. Sy sal 'n oogverblindende skoonheid word.

Dis dié dat die kerk met des te meer aandrang bly roep: "Ja, kom gou, Here Jesus!".

Roep u nog so, broeders en susters?

Ons het weer in nuwe jaar ingeskuif. Die tyd staan nie stil nie. En alles lyk alweer so gewoon.

Maar besef u nog dat ons weer 'n jaar digter by die terugkeer van ons Bruidegom gekom het? Dat sy terugkeer elke dág naderby kom?

Kom ons kyk vanaand/vanoggend weer 'n slag na die heerlike toekoms wat Hy ons in die vooruitsig gestel het, sodat die verlange na die bruilof by ons nie verflou nie.

Daarmee sluit ons dan tegelyk die serie preke af waarin ons die heerlikheid van die HERE, daardie vurige blyk van God se aanwesigheid by die mens, 'n bietjie gevolg het op sy pad deur die heilsgeskiedenis. Want moet maar kyk in ons teks: as eendag Christus met sy bruid herenig word, kom ook die heerlikheid van die HERE weer vir altyd woon by die mense.

Ek mag u vanuit ons teks wys vanaand/vanoggend:

DIE UITEINDELIKE HEERLIKHEID VAN CHRISTUS SE BRUID

  1. SY SAL GOD SE GERIGTE OORLEEF
  2. SY MAG GOD SE GEMEENSKAP BELEEF

1. Die apostel Johannes het in sy visioene op Patmos groot teëstellings gesien, gemeente. Die Here het hom heerlike hoogtes laat beklim. Maar Johannes het ook afgryslike afgronde sien oopgaan. Hemelse lig en helse duisternis het mekaar afgewissel in sy gesigte.

Hy het die totale afbraak van die skepping moet aanskou. Hy het die toorn van God en van die Lam sien losbars, waardeur die lewe op allerhande maniere stukkendgeslaan is, sodat die mense in hul doodsangs wel onder die berge wou verpletter word.

Maar hy het ook 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde mag sien waarop God weer by die mense wil woon en Hy alle trane van die oë sal afvee. 'n Aarde waarop daar geen dood meer sal wees nie, nóg rou, nóg geklaag, nóg moeite, aangesien die HERE alles nuut gemaak het.

Want die duisternis sal nie die laaste wees wat oorbly nie. Die lig moet en sal dit wen! Die lampe in die feessaal moet aangesteek word, want groot bruilofs- fees moet mos kom.

Wanneer daarom op die ou end alle duisternis oorwin is en God alles weggevaag het wat Hom in die pad gestaan het, staan Johannes skielik met sy oë en knipper vanweë die stralende lig wat die hele wêreld rondom hom in 'n nuwe lig plaas.

En in die hart van daardie lig staan 'n skitterende bruid.

"Kom", sê 'n engel vir hom, "kom saam, ek sal vir jou die bruid wys, die vrou van die Lam".

Johannes het soveel sien verwoes word, dat hy nou ook mag bekyk wat daar aan die einde van die dag oorgebly het.

Ons teks omskryf in vs. 9 noukeurig watter engel vir Johannes saamneem om die bruid van die Lam te gaan bewonder, broeders en susters. Dit is ".. een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe laaste plae.. ".

Dus: een van die engele wat regstreeks betrokke was gewees by die laaste serie gerigte wat oor die aarde moes losbars. Juis een van hierdie engele mag die uiteindelike heerlikheid van Christus se bruid aan Johannes wys.

Is dit nie 'n veelseggende gebaar van ons Here, dat Hy juis hierdie engel nou met Johannes saamstuur nie? Hy moes daaraan saamwerk dat op die aarde alles uitmekaar geslaan is, met so'n geweld dat dit gelyk het asof ook die kerk daarin ten onder sou gaan. Die geur van brand hang as 't ware nog om hom heen.

Maar hy mag nou toon dat die bruid van die Lam darem daardie laaste gerigte oorleef het. Wat daar ook deur God se oordele vergruisel is- nie die vrou van die Lam nie.

Ons kan dit nog sterker sê, broeders en susters: daardie hele afbraak van die goddelose wêreld was nodig om die kerk tot die stralende middelpunt van 'n nuwe aarde te maak. So belangrik is vir die Here Jesus Christus sy bruidskerk, dat Hy die hele wêreld stukkendslaan om sy bruid in die bruilofsaal te kan binnelei. Sy het uit daardie verwoesting selfs heerliker as ooit te vore tevoorskyn gekom.

Dit is egter nie 'n egte vrou wat Johannes te sien kry nie.

Die engel neem Johannes saam by 'n groot en hoë berg omhoog, en daarbo op die plato verrys die kerk in sy uiteindelike heerlikheid voor Johannes se oog as 'n enorme stad, die vervolmaking van die vroeëre Jerusalem.

Die beelde vloei op 'n manier inmekaar oor.

Soos ook in die Ou Testament die Kerk dikwels beskrywe is met die beelde van die kerkstad van destyds, Jerusalem, Sion, so gebeur dit ook hier.

Die kerk bestaan natuurlik uit mense. Maar omdat die kerk nie uit almal los individue bestaan nie, maar 'n hegte gemeenskap, 'n volk, 'n samelewing is, sien Johannes in een beeld terselfdertyd die mense, die plek waar hulle mag woon, èn die wyse waarop hul saamleef. Hy sien 'n nuwe mensegemeenskap, 'n geordende mensewêreld wat aan die sonde en verwoesting ontstyg het.

Hierdie aanblik laat ons onwillekeurig nog 'n slag terugdink aan daardie ander stad wat Johannes pas te vore in die diepte sien wegsink het. Die groot stad Babilon.

Die stad wat Johannes nou sien oprys, is presies die teenbeeld van daardie stad.

Daardie stad was ook soos 'n vrou. Maar g'n bruid nie. 'n Hoer!

Dit was eendag regtig wel 'n indrukwekkende samelewing. Daar is in Babilon gewérk! Die mense daar het saam iets opgebou! Kyk maar 'n slag na Openbaring 18. Industrie en handel het tot bloei gekom, dit het 'n kragtige ekonomie veroorsaak, welvaart en koopkrag opgelewer. Gevolglik het Babilon ook 'n politieke mag van betekenis geword. Die mense van Babilon het al hoe ryker en welvarender geword. Hulle het kosbare kultuurskatte versamel en gekoester....

Moenie dink, broeders en susters, dat dit as sulks vir God waardeloos of veragtelik is nie. Inteendeel, dit is die wêreld soos die HERE dit ook bedoel het toe Hy die mens soos 'n onderkoning op die aarde aangestel het en aan hom die heerskappy oor die wêreld gegee het. Mense wat die bodemskatte opdelf, wat 'n industrie ontwikkel, wat die spelreëls van die handel vasstel, die wette vir die skeepsbou ontdek, wat die wysheid het om 'n kultuur te laat groei, mense wat so'n bruisende samelewing in sy voeë kan hou- sulke mense herinner God aan sy eerste, pragtige skepping: die mens Adam.

Hy soek vir Hom geen kerk wat haarself uit sy skepping min of meer terugtrek om met 'n boekie in 'n hoekie slegs 'n bietjie stigtelik te mediteer oor die hoëre dinge nie. Maar Hy verlustig Hom in 'n bruisende aktiwiteit van lewenslustige mense wat aan die werk spring met die moontlikhede wat sy skepping vir hulle bied.

Dink maar daaraan as u hierdie week weer werk toe gaan, en as julle weer skool of universiteit toe gaan, seuns en dogters.

Maar die groot fout in Babilon was, dat die mense net hullesélf gesoek het. Hulle het hul eíe eer en grootheid gesoek en nie die van hul God en Vader in die hemel nie.

Dis dié dat hierdie stad in die Bybel 'n hoer genoem word. 'n Vrou wy haarself met al haar liefde en moontlikhede aan haar mán, om hóm gelukkig te maak. 'n Hoer verkoop haar bates net om haarself te verryk.

So het in Babilon die hele samelewing vrot geraak weens die selfsug en eersug van sy mense. In handel en besigheid het onreg en bedrog hoogty gevier, winsbejag het tot korrupsie en op die ou end selfs tot die verkoop van mensesiele gekom, sê Openbaring 18: 13. U kan daarby maar dink aan sake soos slawinnehandel, en dwelmkonings.

Hebsug, materialisme, wetteloosheid en normloosheid het in toenemende mate die geeste vergiftig.

Natuurlik was daar ook nog wel godsdienstigheid in Babilon. Daar was indrukwekkende kerkgeboue en kerklike leiers waarna geluister is, wat stad en land en wêreld rondgereis het om hul vredesboodskappe rond te deel en versoeningspogings te verduidelik.

Maar dit was nie meer nie as nog slegs 'n uiterlike skyn van vroomheid- die krag daarvan was lankal verloën.

Toe het daar vir die oog nog wel 'n sterk en trotse stad gestaan, 'n maatskappy van die magtige mens, maar die fondamente was vermolm.

En op die tyd wat God lank te vore al bepaal het, het die hele Babilon deur sy eie fondamente gesak en weggesink in 'n onpeilbare diepte.

So gaan dit op God se aarde: elkeen wat homself verhoog, sal verneder word.

En elkeen wat homself verneder, dié sal verhoog word.

Die nuwe Jerusalem, die vrou, sy word deur God eendag verhoog op 'n groot en hoë berg.

En dit is dus óns, gemeente: die kerk van God.

Ons word uit die ondergang gered en tot in die hemel verhoog.

Maar..... kan ons van onsself sê dat ons verhoog word omdat ons ons verneder het?? !!

Vind ons by onsself ook nie maar alte dikwels die mentaliteit van Babilon nie? Daardie mentaliteit van selfsug en selfverryking, van korrup-wees en skynheiligheid, omdat ons eintlik net eie eer en welvaart en plesier soek in plaas van die hoogheid en grootheid van ons hemelse God en Vader?

Ons lees daarom ook nie in ons teks dat ons sélf teenoor die gevalle Babilon 'n nuwe en beter stad, 'n beter mensemaatskappy, opbou nie.

Nee, die nuwe Jerusalem word nie deur mensehande opgebou nie. Wat sê ons teks: dit daal uit die hemel van God neer.

Geen sondige mens kan ten spyte van al sy ywer en vindingrykheid, sy ondernemingsgees en energie, sy handelsinsig en ekonomiese bekwaamhede, sélf 'n beter samelewing tot stand bring nie. Dit sal altyd weer op 'n fiasko en 'n neergang uitdraai.

Nee, God Self is van die nuwe Jerusalem sowel die argitek as die bouer. En Hy het 'n fondament daaronder gelê wat in der ewigheid nie sal vermolm en beswyk nie.

Want hierdie vrou haar eie liefde is ewe swak as dié van die hoer Babilon. Maar sy is die bruid van die Lam. Aan die liefde van daardie Lam het die nuwe Jerusalem sy fondament en heerlike toekoms te danke.

Want daardie Lam het self 'n Mens geword en in ons besige mensebestaan sy plek ingeneem. Hy was ryk, maar Hy het nie sy eie verryking gesoek nie. Hy wou juis arm word in die diens van sy God en Vader. Hy het Homself verneder, sodat u en ek verhoog kon word, broeders en susters. Hy het alle sondes van selfsug en eersug, van korrupsie en materialisme van sy bruidskerk by God volkome versoen.

En Hy het begin om mense met 'n ander Gees te besiel: met sy Heilige Gees wat weer leer om alle energie van hoofd en hart en hande aan God alleen op te dra.

Dit is die geheim van die kerk. Vandag en tot in ewigheid. Dat God die aarde nog nie volledig vernietig het oor die sonde van die mens nie; daar vandag nog die moontlikheid is vir handel en bedryf, wetenskap en tegniek, politiek en ekonomie; dat ons daarom in die kerk weer iets gaan vertoon van God se oorspronklike bedoeling met die mens en met sy skepping- dit het ons aan die Lam van Golgota te danke.

En dat daar eendag 'n nuwe mensheid die aarde sal bevolk, die bruid van die Lam, wat in 'n nuwe paradys met skone hande met God se skeppingskatte sal omgaan na sy oorspronklike bedoeling, te wete: tot sy eer alleen- dit sal alleen Christus se werk wees.

Gemeente, sien dan steeds na Hom en vlug steeds weer na Hom. En glo dan rotsvas dat sy kerk 'n heerlike toekoms tegemoet gaan danksy Hom. As ons na onsself kyk, en 'n bietjie in die kerkgeskiedenis terugkyk, kan die toekoms van die kerk nooit veelbelowend wees nie. Is die kerk nie 'n belaglike beweging nie? Onbetekenend in die wêreld van politiek en tegniek en onder mekaar ook dikwels maar baie onenigheid en stryd!

Ek kan my voorstel dat julle partymaal twyfel aan die nut van die kerk in hierdie wêreld, julle jongmense. Wat help 'n preek, 'n katkisasieklas, 'n nagmaalsviering as die wêreld in brand staan? !

Wel, dié brand gaan ons nie blus nie. Niemand kan dit blus nie. God sal dit volkome laat uitwoed totdat alle reste van die maatskappy van die eiewyse mens vernietig is.

Maar in die kerk is God deur die eenvoudige middele van preke, doop en nagmaal en so meer alreeds besig om 'n nuwe mensheid voor te berei op die nuwe lewe met Hom in 'n skoongebrande wêreld. Moenie dat u, dat julle daaraan verbykyk nie!

Ja, Hy hou ook ons klein. Deur veragting en teëkanting van buite-af en onderlinge stryd van binne-uit. Ons het dit nodig om klein te bly en nie ons ook, soos die mense van Babilon in trots en eersug weer teen Hom te verhef nie. Hy leer ons beskaamd staan oor al die ontrou en owerspelige gedagtes wat daar ook by sy bruidskerk nog telkens gevind word. So leer Hy ons om telkens weer te besef dat ons die bruid van die Lám mag wees. Maar só bewaar hy ons juis ook deur die gerigte heen vir die dag waarop Hy sowel vir Homself as vir ons alles nuut sal maak: die dag van die bruilof!

2. Dit word die dag van die volkome hereniging. En hoe! Hoor wat vertel ons teks tenslotte nog daarvan. Dit word 'n dag waarop dit mag kom tot 'n liefdesgemeenskap, so intens soos nog nooit tevore nie.

Want die nuwe Jerusalem sal vol wees van "die heerlikheid van God", vertel Johannes.

Ek hoef u oor die heerlikheid van God nie baie meer te vertel nie, broeders en susters. Ons het in 'n aantal preke gevolg watter gang daardie oogverblindende blyk van God se aanwesigheid by die mense deur die geskiedenis gegaan het.

Nadat God die ligte van die paradys moes uitdoof, het Hy by sy volk Israel in die Sinaiwoestyn op volle ligsterkte teruggekeer. Maar op 'n afstand, bo op die bergtop, en in 'n ondeurdringbare wolk. So het Hy ook sy intrek geneem in die tabernakel en later die tempel in die ou Jerusalem. Op 'n afstand. Veelbelowend: Hy wil weer by die mens woon en alles in almal word. Maar ook dreigend: Hy is 'n verterende vuur teenoor alles wat sonde doen en sonde genoem moet word.

Maar opnuut moes die lig gedoof word. God se heerlike aanwesigheid kon selfs in die duisternis van die Allerheiligste van die tempel in Jerusalem nie bly woon nie. Die mag van die sonde was te groot op aarde.

Verlede Sondag het ons gesien hoedat die heerlikheid van die HERE eers reg begin terugkom het op aarde, toe God se Eniggebore Seun soos 'n Lam in 'n stal gebore is. Toe was daar alreeds 'n begin van wat Johannes van die Nuwe Jerusalem gesien het: mense wat omring word deur die heerlikheid van die HERE.

In die weivelde by Betlehem het dit maar 'n oomblik geduur. Maar in die nuwe Jerusalem sal daaraan nooit meer 'n end kom nie.

Eendag, op die dag van die bruilof, kom God weer woon by die mense in sy volle luister. God is weer tuis op aarde, die tabernakel van God sal weer by die mense wees en Hy sal by hulle woon en hulle sal sy volk wees en Hy sal self by hulle wees as hulle God. Maar alle afstand is oorbrug. Alle bedekking weggeneem. Want alle kommunikasiesteuring as gevolg van die sonde is vir ewig weg! God se lig kan op volle sterkte midde-in die nuwe Jerusalem skyn en die mense kan ongehinder in daardie lig wandel.

Asof Johannes alle twyfel by ons wil uitban, sê hy nog: ".. en sy lig was soos 'n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen". Daarmee herinner Johannes ons aan dit wat hy in 'n eerder visioen gesien het. Moet maar kyk in hoofstuk 4: 3: met die jaspis-edelsteen het Johannes eerder die HERE self vergelyk soos Hy op die troon in die hemel sit; toe was dit nog oogverblindend om na te kyk. Daardie selfde HERE met sy oogverblindende lig sit dus eendag in die hart van die nuwe Jerusalem op die troon en beheers die hele stad.

In die vervolg van sy visioen vertel Johannes dat die stad self ook uit edelstene opgebou sal wees. Wel, u kan u voorstel, gemeente, hoedat dan die lig van God se aanwesigheid op sy volle ligsterkte in 'n duisendvoudige kleureskittering weerkaats sal word. In so'n ligstad is daar geen lig van son of maan meer nodig nie!

Maar dan vertel Johannes ook hoedat die Heerlikheid van die HERE gekonsentreer sal wees in die Lam, in ons Here Jesus Christus dus: ".. en die Lam is sy lamp".

Opnuut staan die Lam tussen God en ons in. Sonder Hom sou daar vir ons geen plek in God se nabyheid kan wees nie.

Maar ek moet liewerste nie sê: Hy staan tussen God en ons in nie, maar: Hy verenig ons met God en God met ons! Hy is dan ten volle Immanuel. God-met-ons in ons midde. In en deur Hom sal God voortaan by ons woon en ons by Hom.

Omdat Johannes slegs 'n visioen, veelbetekenende beelde, gesien het, nog nie die werklikheid nie, moet ons aan ons voorstellingsvermoë beperkings oplê. Hoedat die nuwe aarde presies sal lyk, weet ons nog nie.

Maar ons kan wel dit sê: nie allereers die stene nie, maar allereers ons, mense sal die heerlikheid van God se aanwesigheid net-nou soos diamante weerkaats. In ons eie lewe naamlik. Dit sal vir elkeen sonneklaar wees dat God in die nuwe Jerusalem weer alles in almal geword het.

En juis daarom kan God in daardie stad weer heeltemal tuis wees.

Maar eers dan sal ook ons, die bange bruid van vandag, eindelik heeltemal tuis wees.

Is dit dus 'n wonder dat die laaste bladsy van die Bybel eindig met 'n roepende bruid: "Kom, ja, kom, Here Jesus"?

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)