In die laaste dae stel God Sy volk tot die uiterste op die proef

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 13
Preek Inhoud: 

PREEK OOR OPENBARING 13: 15A

LITURGIE:
L. Openb. 13 & Deut. 13: 1-4
Ps. 135: 3, 9
Ps. 135: 8
Ps. 115: 3, 4, 5
Ps. 74: 7, 9, 12, 15
SB. 34: 1

Broeders en susters,

Van ouds het die volk van die lewende God die spot gedrywe met die dooie afgode van die heidene. Natuurlik: as jy eenmaal die enige ware God leer ken het, is alle afgodery vir jou nog slegs belaglik. En in jou spot met daardie dwaasheid eer jy nog des te meer die enigste lewende God.

U ken almal die verhaal van die profeet Elia op die Karmelberg wat die spot dryf met die dansende Baälspriesters. Hul God laat hulle op die beslissende oomblik in die steek. Maar Elia meen hulle moet nie te gou in moedverloor se vlakte gaan sit nie. Spottend adviseer hy: Roep bietjie luider, hy is mos 'n god. Hy is seker maar in gepeins; dit mag natuurlik ook wees dat hy hom 'n oomblik afgesonder het, hy kan toilet toe wees. Dalk slaap hy en moet wakker geroep word...

So maak die kneg van die HERE hierdie god-na mensemaat belaglik.

Ons kry ook by die profeet Jesaja sulke gedeeltes waarin die spot gedrywe word met die gode wat maar net menslike maaksels is: "Kyk wat maak hulle: hulle gaan groot bome afkap, gebruik dit as brandhout om daarop hul kossies gaar te maak en om hulleself te verwarm. Maar van daardie selfde boom fabriseer hulle ook 'n god waarvoor hulle neerkniel, vol aanbidding buig en sê: Red my want u is my god!" (Jes. 44: 10-17).

Partymaal doen hulle selfs nog baie groter uitgawes: "Hulle skud goud uit die geldsak en weeg silwer af met die weegskaal, huur 'n goudsmit en hy maak 'n god daarvan. Dan kniel hulle neer en buig. Hulle hef hom op die skouer, hulle dra hom en sit hom op sy plek neer. Daar staan hy! Hy wyk nie van sy plek nie. Ook al roep iemand hom, hy antwoord nie; hy verlos hom nie uit sy benoudheid nie" (Jes. 46: 6, 7).

Dit is die dwaasheid van die beeldediens ten voete uit. Op die beslissende oomblik stel die afgod teleur. Hy kan jou nie regtig help nie. Jy kan roep en roep- jy kry nie eens antwoord nie!

En dit kan aan God se volk maar net 'n vrolike en heilige spot ontlok. Want hierin onderskei die enigste lewende God Hom juis van al daardie dooie mensemaaksels: Hy kan wél praat, en hóór. En help! Hy is die God wat in 'n trouverbond met sy volk hoor en antwoord en wél uit die benoudheid kan red. By Hom bly ons geroep nooit onbeantwoord nie.

Daarom kan die kerk dit nie nalaat om hierdie beslissende onderskeid vrolik te besing nie. Ons het dit in hierdie diens gedoen, met die woorde van Ps. 135 en 115:

"Gode van die heidendom,
goue of silwerbeeltenis,
waar die mens sy knie voor krom,
niks as eie maaksel is:
daar 's mond, maar sonder taal,
daar 's oog, maar sonder straal.
Ore het hul, maar die 's doof
vir die klank van stem of taal;
en die neus van afgodshoof
kan nie ruik of asemhaal.
Hande het hul -alkant vas!-
vingers wat nie voel of tas. "

Daar kom egter 'n tyd, gemeente, waarin daar nie veel sal oorbly van ons spot met die dwaasheid van die lewenslose afgode nie. Daar sal dae aanbreek waarin daar niks meer is om te spot nie. Die afgode wat altyd lewensloos en belaglik was, sal naamlik al hoe meer tot lewe kom, so eg, so indrukwekkend, dat ons die spot wel sal verleer en ons geloof in die enigste ware God grondig aangeveg sal word. Daar kom 'n tyd dat die afgod nie langer teleurstel nie.

Op dié tyd berei Openb. 13 die kerk voor. Ons geloof sal in die laaste dae tot die uiterste op die proef gestel word as God ook die afgode sal laat praat.

Ek wil met u Openb. 13 lees, vanoggend, toegespits op die 15de vers.

Ek kan die boodskap daarvan so saamvat:

IN DIE LAASTE DAE STEL GOD SY VOLK TOT DIE UITERSTE OP DIE PROEF

  1. DIE VERLEIDING SAL TOTAAL WEES
  2. ONS GELOOF MOET DAAROM RADIKAAL WEES.

1. In die laaste dae van ons wêreldgeskiedenis kom die hel op aarde, gemeente. En die laaste dae het alreeds ingegaan. Hulle het begin toe ons Here Jesus Christus hemel toe gegaan het. Toe, by sy intog in die hemel, is naamlik die groot draak, die duiwel uit die hemel uitgegooi. En die waarskuwing het geklink: " Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het".

Al het Christus ook die oorwinning behaal, word dit vir sy kerk so benoud soos nooit tevore. In 'n laaste stuiptrekking sal die Bose die kerk probeer verwurg. En hy kry dit ook byna reg! Hy kry die laaste geleentheid om sy mag te ontplooi, en hy sal daarvan so indrukwekkend gebruik maak dat mens sou dink daar bly nie meer 'n volk van God oor nie.

Dié sombere beeld word ons in hierdie hoofstukke van die Openbaring geskilder. Ons tekshoofstuk laat sien watter magte die groot draak inskakel by sy laaste stormloop teen Christus se kerk.

Johannes het 'n dier sien opduik uit die volkeresee waarin hy dadelik die trekke vmn die draak herken het: tien horings, sewe koppe (kyk 12: 3). Maar daardie dier herinner tegelyk sterk aan die vier diere wat Daniël eendag in 'n visioen uit die see sien opstyg het. Daardie vier diere in Daniël se droom het volgens die verklaring van die engel vier wêreldmagte beteken wat agtereenvolgens die wêreld sou oorheers.

Johannes sien daardie vier nie meer as vier afsonderlike diere nie, maar al hul trekke is nou verenig in daardie een dier wat bowendien in alles aan die draak laat dink.

Met ander woorde: Johannes sien dat die duiwel in sy laatse stryd teen die kerk 'n wêreldmag in die lewe roep waarin alle voorgaande magte terugkom, saamgebondel word, maar ook oortref word- 'n magtige wêreldstaat in die diens van die duiwel, waarin die mense hul eensgesind téén die HERE en sy volk sal organiseer.

Ons moet hierby nie aan net een bepaalde staat dink nie, broeders en susters. Die Openbaring wys vir ons wat in die laaste dae, tussen Christus se hemelvaart en wederkoms, by herháling sal plaasvind. Telkens sal hierdie dier, hierdie eenheidsstaat teen God wat deur die duiwel georganiseer en besiel word, opduik en God se volk in die nou bring.

Dit het reeds gebeur in die geskiedenis, u kan maar dink aan die kerkvervolging in die Romeinse ryk, aan die onderdrukking van die christendom agter die "Ystergordyn", en so sal dit wees solank die Here Jesus Christus nog nie terugkom nie. Telkens word daar weer 'n staat opgebou, 'n maatskappy van die mens wat definitief met die God van die hemel afgereken het en daarom ook met God se vólk wil afreken.

Johannes het gehoor hoedat die dier sy bek oopgemaak het om te laster teen God, teen sy naam, sy woning en sy engele in die hemel. God se heilige Naam word nog slegs gebruik as 'n vloekwoord in treffers, as 'n lagwekkende sprokiesfiguur voorgestel in boeke en blaaie, want niemand glo meer in die wérklikheid van God, van sy hemel en sy engele nie.

Maar dit bly nie by spot en laster nie. Die oorlog word verklaar aan die kerk! God se Naam mag nêrens meer met eerbied en ontsag genoem word nie, en wie dit tog bly doen, moet dit met gevangenskap of die dood bekoop. Want dit sal die bedoeling wees van wat ons lees in vs. 10, gemeente.

Die kerkvervolging breek in alle grimmigheid los en verset sal sinloos wees. Die dier kry sy kans. Kyk vs. 11: dit is aan hom gegee om te oorwin. Dus bly daar vir ons niks anders meer oor nie as die Woord van ons Heiland: "Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word". As die dier sy kloue na die kerk uitslaan- dan blyk die volharding -"lydsaamheid" sê vs. 10- en die geloof van die heiliges. Dan kom ons almal in die smeltkroes en moet dit duidelik word wie die vuurproef voor God kan deurstaan.

Maar dit word alles nog baie moeiliker in hierdie laaste dae deur daardie twééde dier wat Johannes in hierdie visioen sien opduik het. Naas die dier uit die see verskyn daar 'n dier uit die aarde. 'n Dier met twee horings net soos 'n lam, maar dit praat soos 'n draak.

Dié omskrywing kan ons natuurlik nie misverstaan nie, gemeente: die horings soos 'n lam beteken: hierdie dier lyk baie godsdienstig, dit dra onmiskenbaar christelike trekke. Maar sy spraak verraai hom: hy praat soos die duiwel.

In die volgende hoofstukke van die Openbaring -moet maar kyk 16: 13 en veral 19: 20- word dié dier eenvoudig "die valse profeet" genoem.

Die maatskappy van die mens word veral gevaarlik omdat die valse profesie met 'n skyn van christelikheid gaan saamwerk aan so'n maatskappy sonder God. Dit het Johannes sien gebeur: die dier uit die aarde, sêmaar: die valse profesie, maak dat al die bewoners van die aarde die eerste dier, die mensemaatskappy sonder God, aanbid. Geestelike leiers sal onder religieuse skyn die mense op hul knieë bring voor die heilstaat wat die mens opgebou het en waarin daar vir God geen plek meer is nie.

Die kerk kry nie slegs 'n antichristelike heilstaat teenoor hom nie, maar in daardie staat sal bowendien religieuse leiers die mense tot ekstase opsweep. "Kerklike" leiers loop vooraan in die aanbidding van die mens en sy prestasies. En daardeur word die verleiding totaal vir ons. Want die propaganda wat tot afgodery met die heilsstaat van die mens oproep, word 'n deurslaande sukses. Dit word 'n indrukwekkende, ja, verbysterende saak.

Ons lees mos in vs. 13 dat die valse profesie sulke groot tekens kan doen dat daar selfs vuur van die hemel af neerdaal op die aarde voor die oë van die mense.

Ons kan dit letterlik opvat. Maar dis beter om in hierdie visioene telkens 'n verbinding met die Ou Testament te soek. En dan laat vs. 13 ons dadelik terugdink aan Elia op die Karmelberg. "Vuur uit die hemel"- dit was die oortuigende bewys dat Elia die profeet van die ware God was en dat die Baälspriesters leuenprofete was. Vuur uit die hemel op Elia se gebed was die legitimasiebewys dat Elia die krag van die lewende God aan sy kant het, en nie die Baälspriesters nie.

Maar in die staat van die dier sal dus die válse profesie oor sulke oortuigende legitimasiebewyse beskik, terwyl die kerk met leë hande te staan kom.

Dít is die ernstige waarskuwing in hierdie verse, gemeente. Daar kom 'n tyd dat die rolle van Karmel presies omgekeer is.

Op die een of andere manier sal dit telkens lyk asof die valse profesie alle gelyk aan sy kant het. Die mense moét wel tot aanbidding kom voor hierdie heilsstaat, want die feite dwing jou eenvoudig daartoe. Die wondere wys dit uit! Dit wat niemand mooglik geag het, gebeur darem!

En so bring die valse profesie onder vrome skyn die menigtes tot afgodiese bewondering van die welvaartstaat van die mens. Die mense kóm op hulle knieë in 'n religieuse ontroering vir die wonders wat hierdie staat jou aanbied.

Kyk, dit bedoel vs. 14: die dier uit die aarde "sê dat hulle 'n beeld moet maak vir die dier uit die see... ". Dis nie beslis nodig om letterlik aan 'n beeld te dink en dit in die geskiedenis te probeer terugvind nie. "Beeld" is die aanduiding vir afgodediens. Die valse profesie sweep die massa op tot 'n georganiseerde afgodery met die welvaartsmaatskappy sonder God. God is eenkant geskuif, die maatskappy van die mens het die nuwe god geword.

En kyk dan nou wat staan daar in vs. 15: die valse profesie kry dit selfs reg om aan die dier se beeld 'n gees te gee, sodat dit ook sal praat.

Dit kan maar een ding beteken: hiérdie afgodediens stel nie meer teleur nie!

Daar is allerhande snaakse uitleggings van hierdie woorde gegee. Dit is byvoorbeeld wel op die televisie toegepas: almal sit in aanbidding voor die beeldbuis en daardie afgod kan selfs praat!

Maar ook hier help die Ou Testament ons om die eintlike bedoeling te verstaan, sonder om te fantaseer.

Kom kyk met my gou in Jeremia 10. Soos Jesaja het ook Jeremia die spot gedrywe met die dooie afgode van die heidene. Kyk in vs. 5: sulke afgode kan nie eers praat nie! Natuurlik kan hulle nie praat nie want -kyk vs. 14- "daar is geen gees in hulle nie".

So was dit vroeër met die afgodsbeelde, ja. Maar in die laaste dae kom daar 'n afgod waarin blykbaar wél 'n gees is, sodat dit wél kan praat! Die kerk het in die verlede heelwat die spot gedrywe met die dwaasheid van die afgodediens wat op beslissende oomblikke teleurgestel het en nie regtig kon help nie. Maar daar kom 'n tyd daar daar niks meer is om te spot nie.

Vroeër het die afgode deur die mat geval as dit by praat en by doen gekom het: hulle kon nie uit die benoudheid red nie. Maar dit het nou anders geword. Hierdie keer sal die afgodedienaars nie beskaamd afdruip soos in die dae van Elia, Jesaja en Jeremia nie. Want dié keer sal die afgod hulle nie in die steek laat nie. Hy voorsien hulle nou van alles wat hul hartjie begeer. Op dié tyd berei ons teks ons voor, gemeente: jy kan met die afgodery in die laaste dae nie meer die spot drywe nie. Die moderne afgode het die wind in die seile. Want die heilsstaat van die mens kan alles aanbied wat jy vir 'n gelukkige lewe nodig het. Die angstige mens kan hom hierdin heeltemal veilig voel. Die moontlikhede vir 'n menswaardige bestaan is volledig gewaarborg. Vrede en welvaart is verseker.

Nee, dan sal ons die spot wel afleer. Dan bring God u en my geloof in 'n sware krisis. Want daar gaan 'n totale verleiding uit van 'n dergelike indrukwekkende afgodediens. Hiervoor gaan die massas deur die knieë. Hulle kan daar nie teenop nie, hulle kan dit nie volhou dat hierdie heilsstaat nie uit God sou wees nie. Daarvoor is die feite, die wonders te sterk vir hulle.

Ook vir kerkmense is hierdie verleiding onweerstaanbaar.

Want wat kan die kerk mos daar teenoor stel? Die konserwatiewe kerk beskik nie oor indrukwekkende legitimasiebewyse, maar staan oënskynlik met leë hande. In die kerk wat nog altyd maar net gepreek, gekatkiseer, doop en nagmaal bedien. En dis feitlik al.

Die kerk het oudtyds geraak en kan vir die samelewing van die mense en die konstruktiewe opbou van die maatskappy niks meer beteken nie. Die kerk is ryp om uitgeroei te word. Wie nie die beeld van die dier wil aanbid nie, word dan ook doodgemaak.

Verstaan u dat ons geloof dan tot die uiterste op die proef gestel word, gemeente? Ons staan dan voor die beslissende keuse: God of die dier?

Moenie dink hierdie visioen is nog toekomende tyd nie.

Ons het hierdie diere uit Openbaring 13 reeds meer as een keer sien opduik in die geskiedenis na Christus se hemelvaart. Ek het u al herinner aan die Romeinse Ryk, en die Kommunistiese dikatatuur agter die "Ystergordyn". Wat van Hitler se Nazi-ryk waarin derduidende mense tot geesdrif opgesweep is vir die Führer omdat die nuwe ryk jou nuwe welvaart en lewensruimte gewaarborg het? Die geloof in die mag van die "Uebermensch" het die kerke laat leegloop. Die valse profesie was 'n deurslaande sukses.

Die kerk sal in hierdie laaste dae steeds met daardie dieremag te make kry, en dit sal net al hoe erger word. Daarop berei God se Woord ons voor. Al hoe meer mense sal hulleself aan die nuwe religie oorgee: die aanbidding van 'n welvaartswêreld waarin die méns selfversorgend geword het en geen God in die hemel meer benodig. Die kerk het oënskynlik al hoe minder om aan te bied in die wêreld, al hoe minder rede om met die afgodery te spot. Want die afgode kry die werfkrag aan hulle kant, op so'n indrukwekkende wyse dat hulle hul aanbidders sal mobiliseer om elkeen dood te maak wat weier om aan hierdie erediens saam te doen.

2. Wat kan ons dan nog maak, broeders en susters, ons, die volk van die God wat darem die Lewende is?

Wat moet ons maak, noudat ons die mag van die twee diere uit die visioen van Openb. 13 reeds orals rondom ons opmerk?

Ons hoef regtig nie in die war te raak nie. Daardie ontwikkeling kan ons maar net versterk in die geloof in die enigste ware God.

Ver voordat enige afgod kon praat het ons God immers reeds met ons oor hierdie dinge gepraat! Hy het dit vantevore vir ons aangekondig. Hy is die God van Jesaja 44 wat, toe Hyself met die afgode die spot gedrywe het, vir sy volk gesê het: "Wees nie verskrik nie, en moenie bewe nie! Het Ek jou dit nie lank tevore laat hoor en te kenne gegee nie? Ek is die Eerste en Ek is die Laaste en buiten My is daar geen God nie. "

Die HERE het ons op heelwat plekke in die Skrif daarop voorberei dat ons so'n totale verleiding te wagte is in die laaste dae. Christus het sy dissipels daarop gewys toe Hy gesê het: "Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei". En die apostel Paulus het daaroor geskrywe in sy tweede brief aan die Thessalonisense: "daar sal volgens die werking van die Satan allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen" kom.

Die toenemende mag van die valse profesie bewys dus nog des te meer dat ons God die egte God is, broeders en susters!

Meer nog: die HERE het dit alles nie net vantevore aan ons gesê nie, Hy het ook laat weet dat Hy self dit is wat dit so ver sal laat kom! Die ontwikkelinge ruk vir Hom nie hand uit nie. Hy Self roep dit alles opsetlik op.

Kyk mooi in ons teksvers: Johannes vertel nadruklik dat dit aan die valse profeet "gegee" is om die mense tot aanbidding van die mensestaat op te sweep.

Ons Verbondsgod Self laat dit toe dat ons in die laastse dae aan 'n totale verleiding blootgestel word.

Maar waarom, broeders en susters, doen die HERE dit??

Waarom laat Hy sy kinders so swaarkry en stel Hy ons amper ondraaglik op die proef?

Wel, die antwoord op hierdie vraag het ons feitlik al gelees in Deuteronomium 13. Ons het daar mos gelees: "As 'n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou 'n teken of wonder aankondig, en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het; maar hy het dit met die woorde gedoen: Laat ons agter ander gode aanloop -wat jy nie geken het nie- en hulle dien, dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie. Want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel".

Met ander woorde: as God ons geloof deur die mag van die valse profesie tot die uiterste op die proef stel, moet dit blyk wat ons geloof werd is. Hoe diep sit dit? Is dit regtig die keuse van ons hele hart?

Want teen so'n indrukwekkende verleiding is slegs 'n radikale geloof bestand, dit wil sê: 'n geloof met 'n diep wortel. God maak in die maatskappy van die diere alle halfheid en slapheid en oppervlakkigheid al hoe meer onmoontlik. Onbestendige blydskap, 'n middelmatige meelewe, 'n verdeelde hart- daarmee gaan niemand teen die verleiding bestand wees nie. Ons word almal op die wortel teruggewerp. Dit word al hoe minder 'n vanselfsprekende saak om lidmaat van 'n kerk te wees. Slegs as daar by ons 'n diepgewortelde geloof is, n' lewe naby die lewende Woord van die lewende God, sal ons deur indrukwekkende skyn kan heensien.

Wat moet ons dus maak, gemeente, in 'n wêreld waarin diere wat deur die duiwel besiel is, die diens mag uitmaak?

Ons sal ons met die liefde van ons hele hart en ons hele siel oorgee aan die verbond met die lewende God wat ons Vader wil wees in Jesus Christus. Ons sal radikaal vir Hom kies en radikaal met Hom lewe.

Slegs dan kan ons die proef deurstaan en aan die duiwelse greep ontkom. Slegs dan kan ons die afgodediens in sy ware aard bly ken en vrolik die loflied op die enigste ware God bly sing. Omdat alleen die welvaart wat Hy skenk, egte, blywende geluk bied.

Want Hy is God en niemand meer.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)