Christus kerk is adventskerk

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 12
Preek Inhoud: 

Ps. 20: 1 - 5
Ps. 20: 6 - 9
SB. 2: 1, 2, 3
SB. 2: 4, 5
Lees: Genesis 3: 1 - 20
Teks: Openb. 12: 1 - 6.

Broeders en susters,

Dit is vandag die eerste Adventsondag van die jaar 1990. Anno Domini 1990. Dit beteken ons leef al 1990 jaar na die geboorte van ons Here Jesus. Nog 4 Sondae, en ons vier al vir die 1990ste keer die Kersfees. Die fees van die geboorte van Jesus Christus. Die Christelike kerk het vanouds die laaste 4 Sondae voor die Kersfees, Advent-sondae genoem. Die bedoeling daarvan is, dat onder die Christene, in hierdie maand ekstra aandag sal wees vir die koms van Jesus Christus. En daarby dink ons uit die aard van die saak, veral aan die komende Kersfeesviering, maar die bedoeling strek ook verder. Immers, ons moet ons nie net herinner dat Christus vir die eerste keer uit die hemel na die aarde neergedaal het nie, maar ons moet Hom opnuut uit die hemel verwag. Die ware kerk op aarde, is die kerk waar die verwagting van Christus se wederkoms lewend is. Hierdie punt is 'n uiters belangrike een. Ek aanvaar dat enige kerk of groep wat op een of ander wyse die naam 'christelik' in sy vaandel voer, ook hierdie jaar weer baie aandag aan Kerkfeesvierings sal gee. Maar ek weet tegelyk, dat Kerfeesvierings leeg is, as daar nie 'n lewende verwagting van die wederkoms van Christus is nie. Ofwel, 'n kerk van Christus moet werklik Adventskerk wees, anders is sy nie meer kerk van Christus nie.

Dit is ons tema vir die bediening van die evangelie.

CHRISTUS KERK IS ADVENTSKERK.

Ons let op:

  1. die Adventsbelofte aan die kerk
  2. die Adventstryd deur die kerk
  3. die Adventstrou van die kerk.

1. In die slot van Openbaring 11, het ons die sewende basuin hoor klink. Die sewende basuin het onmiddellik 'n lofprysing veroorsaak. Die engele in die hemel sing van die Koninkryk van Christus wat nou eindelik gekom het. Die ouderlinge sing ook saam, omdat tenslotte die reg geseëvier het. God se toorn het gekom oor die goddeloosheid van die ongelowige wêreld, en die diensknegte van Christus is gered.

En daarmee het die einde van die geskiedenis gekom. God woon nou by die mense. Sy toorn is vir ewig versoen. Mense kan vryuit leef voor die aangesig van God. Met heel hul lewe kan hulle nou altyd die Here loof.

Maar hoewel Johannes in die slot van hoofstuk 11 'n beeld van die nuwe hemel en die nuwe aarde sien, tog sluit hy daar sy boek nie af nie. Immers, die gelowiges word geroep tot 'n ewige lofprysing, maar om 'n ewige lofprysing vol te hou, daarvoor moet jy baie weet. Die grond vir die loflied moet breed uitgemeet word. Die kerk moet weet hoe sterk die teëstand, en hoe groot die krag van God was.

Die kerk moet besef dat haar lewe 'n wonder van genade is.

En daarom ontvang Johannes die visioen van Openbaring 12. Daar verskyn 'n teken in die hemel. Ons moet let op die woord 'teken' hier. 'n Teken is bedoel om 'n bepaalde saak te verduidelik. 'n Simbool gee in 'n eenvoudige prent 'n ingewikkelde boodskap deur.

Die Here wil dus iets verduidelik aan Johannes, en via die boek Openbaring ook aan ons.

Watter boodskap is hier vir ons? Wat wil die teken vir ons sê? Kom ons kyk eers na die tekens. Die eerste is 'n vrou, waarvan gesê word sy is bekleed met die son, die maan is onder haar voete, sy dra sterre as 'n krans oor haar kop.

Die ander teken is 'n vuurrooi draak, met sewe koppe en tien horings. 'n Angsaanjaende verskyning.

Uit hoofstuk 12 is duidelik dat hierdie twee tekens twee partye, twee strydende partye op aarde verteenwoordig.

Die vrou en die draak. Waarvoor staan hulle?

Vir wie tuis is in die Bybel, is dit nie so 'n moeilike vraag nie. Ons hoef die woord draak maar te vervang met die woord slang (sien vers 9), en ons weet onmiddellik oor wie dit gaan. Die konfrontasie tussen die vrou en die slang ken ons. Die stryd van slangesaad en vrouesaad is vir ons nie onbekend nie. Reeds in die begin van die Bybel, in Genesis 3, hoor ons daarvan.

As die Here na die sondeval die mens weer opsoek, spreek Hy 'n vloek uit oor die slang. Agter die slang staan mos die Satan, die teëstander van God. En in Sy vloekwoord oor die slang sluit God 'n belofte in vir die vrou en die saad van die vrou.

God sal vir altyd vyandskap stel tussen die nakomelinge van die slang, en die nakomelinge van die vrou. Daar sal 'n altyddurende stryd wees, waaruit die vrou nie onbeskadig tevoorskyn sal tree nie. Maar tog die einde daarvan sal wees, dat die kop van die slang vermorsel word. Die saak van die vrou wat gebore sal word, sal die Satan eendag definitief oorwin.

Wel, hierdie stryd sal die wêreldgeskiedenis beheers. So staan dit in die begin van die Bybel. En so keer dit terug in die slot van die Bybel. Want daar staan dieselfde partye nog teenoor mekaar. Die vrou en die draak.

Die vrou is hier 'n stralende figuur. Sy dra die son soos 'n mantel, en het die maan onder haar voete. 'n Magtige verskyning. Daar teenoor staan die draak. Hy verteenwoordig die mag van die duisternis. Met 'n heimlike swaai van sy stert vee hy die sterre van die hemel. Verkieslik sou hy alle ligte doof, want hy haat die lig.

Hierdie twee partye bepaal die verloop van die wêreldgeskiedenis. Van hierdie stryd lees mens nie in die koerante nie. Daar word vertel van ander fronte. Die Westerse wêreld en Irak, of Amerika teenoor kommunisties Suidoos-Asië, of die eerste teenoor die derde wêreld, en noem maar op. Orals is stryd, botsende belange, verskillende insigte. Ons is deel van die wêreld. Ons staan daar midde-in, en die posisie bevorder natuurlik nie 'n goeie waarneming nie. Maar die Here laat Johannes as het ware van bo-af die wêreldgeskiedenis sien. En dan kry jy 'n heel ander perspektief. Jy sien die geskiedenis in voëlvlug. En dan word skielik die ander patroon duidelik. Ryke kom op en vergaan, kulture bloei op en stort ineen, maar daar is een front waarop altyd stryd gaande is. Vrouesaad teenoor slangesaad.

Die vrouesaad staan vir die Ryk van God wat moet kom, daarby kan ons dink aan die kerk. Die gelowiges wat vir hul redding die naam van die Here aanroep.

Maar teenoor hulle is die Satan aktief. Die draak, die ou slang. Hy soek om die Ryk van Christus te gronde te rig.

En dit is waaroor dit tenslotte gaan in die wêreld. Ons enigste belangstelling moet nie wees: Hoe gaan dit met die krisis in die Golf, of hoe sal dit die prys van ons petrol beïnvloed nie? Maar ons belangstelling moet wees: Hoe staan dit met die Ryk van Christus? Wat sien ons van vordering vir die Adventsbelofte? Wanneer en hoe gaan die kop van die slang definitief vermorsel word?

2. Die Adventstryd deur die kerk.

Ons het nou gesien hoe dit in die geskiedenis gaan om die stryd van slangesaad en vrouesaad. Ons kan dit ook so sê: In die wêreldgeskiedenis gaan dit steeds om die vervulling van die moederbelofte van Genesis 3: 15. Reeds in die Paradys profeteer die Here van die koms van die nakomeling van Eva, wat die slang tenslotte sal oorwin. Wel, die verwagting van die kind van die belofte word in ons teks gesimboliseer met die feit, dat die vrou swanger is. Sy verwag die koms van die beloftekind. Sy soek vervulling van die Adventsbelofte.

Maar in die verwagting kry sy swaar, baie swaar. Sy skreeu in haar weë. Sy stort trane in barensnood.

Hier kry u 'n beeld van die kerk wat wag op die koms van Christus. Kyk, hoe swaar het dit gegaan. Toe Eva haar eersteling baar, noem sy hom in haar entoesiasme: Kain. Hier is die Seun van die belofte! Maar watter bittere teleurstelling.

En so het dit aangegaan. Wat is die geskiedenis van God met Sy volk Israel anders as 'n geskiedenis van weë en barensnood. Seker, uit die volk sou die Messias gebore word. Die verwagting was ook wel daar, maar hoe moeisaam was die pad.

Daar was lyding en frustrasie aan verbonde. Nuwe hoop en dan weer teleurstelling.

Seker, God het Sy volk pragtig versier. Soos die vrou getooi was met son, maan en sterre. Maar vanweë die nood, het daar dikwels maar min van haar ligglans oorgebly.

Want ook die draak was aktief. Groot en dreigend het hy voor die vrou gestaan. Wanneer kom jou kind? Gee hier. Ek sal dit verslind.

So het die Ou-Testamentiese Kerk na die koms van Christus toegeleef. Daar was die verwagting van die koms van die Messias. Maar bitter en swaar was die Adventstryd.

Talle magte het klaargestaan om die Ryk van God te vernietig van die aardbodem, met die doel om die Adventsverwagting heeltemal uit te doof. Soos ons al eerder gesien het in Psalm 2: "Die nasies is vertoornd, die volke bedink nietige dinge". Wat wil hulle? Wat soek hulle? Hulle soek om die heerskappy van God en Sy Gesalfde van hulle af te werp.

En daarom kry die kerk swaar.

Steeds weer was daar die verleiding om haarself aan die Adventstryd te onttrek. Om maar net so op te gaan in hierdie wêreld, sonder te praat van die Ryk van die Messias, sonder te hoop op die koms van die Christus.

O, hoe dikwels het die kerk in die geskiedenis gefaal. Dan het Sy nie meer geleef uit die verwagting van die koms van die Christus nie. Dit het gebeur in die kerk van die Ou Testament, toe die volk keer op keer weggedwaal het van die diens van die Here. Toe hulle dieselfde lewenstyl as hul heidense omgewing aangeneem het. Daarmee sterf die verwagting van die koms van die Verlosser.

Dieselfde het keer op keer gebeur met die kerk van die Nuwe Testament. Steeds weer in die geskiedenis, sien ons dat die kerk oplos in die wêreld. Sy sien nie meer uit na die wederkoms van Christus nie, en dan verwêreldlik die kerk. Dan praat die kerk tenslotte nog net so, en oor presies dieselfde onderwerpe as wat die wêreld praat. Dan het sy feitlik haar bestaansreg verloor. Jy sien die patroon tot vandag toe, keer op keer hom herhaal. Maar tegelyk sien jy ook 'n ander patroon. Die Here hou Sy kerk so in stand, dat daar tog steeds gelowiges bly bid en uitsien na die koms van Christus.

Onder Israel was daar altyd 'n res, wat bly hoop het op die vervulling van die Adventsbelofte, wat stand gehou het in die Adventstryd.

En na die geboorte van die Here Jesus was daar ook steeds weer gelowiges wat hul sekerheid gevind het in die belofte van Christus:

"Ek kom weer! Ek kom as die Koning van die hemel en die aarde!"

Waar die Kerk volhard in daardie geloof, is sy werklik die stralende vrou van Openbaring 12. Beklee met die son en die sterre as 'n kroon op haar kop! Getuienisse van die lig van die wêreld! Gemeente, as ons so ons koerante lees, as ons so die wêreldnuus volg, dan sien ons sommer die betreklikheid van aardse teëstellings, dan besef ons dat die oorloë van ons tyd, nie die werklike stryd is nie. Die werklike stryd is die stryd van die draak teen die vrou.

Dit is nie 'n stryd wat ons vanaf 'n veilige afstand op 'n T.V.skerm kan volg nie, maar 'n stryd waarvan elkeen van ons deel is. Die Adventstryd. Glo jy nog dat Christus werklik sal terugkom? Glo jy dat daar 'n dag sal wees in die geskiedenis van die aarde, dat Jesus Christus opnuut Sy verskyning maak en werklik sal regstel, alles wat verkeerd is?

Wel, dan kan dit nie anders of dit maak jou lewe anders. Dan word een bekering op die sendingveld vir jou belangriker as die laaste ontwikkeling in rekenaartegnologie. Dan weeg jou diakonale roeping vir jou swaarder as die hoogte van jou banksaldo. Dan verkies jy 'n goeie preek bo 'n goeie film.

As die dinge van hierdie wêreld in jou lewe die voorrang kry, bo die sake van Christus se Koninkryk, dan het jy klaar die Adventstryd verloor. Dan leef jy nie meer met die verwagting van die vrou nie, maar het jy jou laat byt deur een van die dodelike koppe van die draak.

3. Die Adventstrou van die kerk.

In vers 5 sien Johannes hoe die vrou haar kind baar. 'n Manlike kind. Heel duidelik gaan dit hier oor die geboorte van die Messias, van Jesus Christus.

Op die oomblik intensiveer die aandag van die draak, want dit is sy kans. Maar die kind word weggeruk na God en Sy troon.

In een beweging van sy pen beskryf Johannes die geboorte van die Heiland, Sy werk op aarde, Sy dood en opstanding, Sy hemelvaart en Sy plek op die troon van God. Hy spring van Betlehem in een keer na die hemelvaart.

Maar in die tekentaal van Openbaring 12, is die beeld duidelik. Die vrou het die kind verwag en gebaar. Christus het gekom. Maar Hy het Sy plek in die hemel, waarvandaan Hy gekom het, onmiddellik ingeneem. En waar dit dan om gaan is dit: Weer is die vrou alleen. Die Kind is wel gebore, maar is nou in die troon van God. Onbereikbaar vir die aanvalle van Satan, maar die vrou bly ewe kwesbaar. Die draak bly sy aandag op haar gerig hou, en wil haar nog steeds vernietig. Die Satan is uit op die vernietiging van die kerk wat Christus voortgebring het en Sy Koningskap bely.

En dan moet die vrou vlug. Na die woestyn. Die woestyn is die simbool van enersyds isolement (Soos Israel tydelik deur God in die woestyn geïsoleer is van kontak met ander volke). Tegelykertyd is die woestyn simbool van wonderlike onderhouding deur God. In die onherbergsaamheid van die woestyn het God Sy volk in lewe gehou. Tenslotte het die woestyn die simboliek van 'n tydelikheid. Die beloofde land lê vorentoe. Al wat nodig is om daar te kom, is geloof en gehoorsaamheid aan die Here.

So hou God Sy kerk in lewe. 1260 dae lank. Weer dieselde periode waarvan ons al eerder gehoor het. Dit is die tyd tussen hemelvaart en wederkoms.

'n Tyd van wonderlike onderhouding deur die Here.

Tegelykertyd 'n tyd waarin 'n swaar beroep gedoen word op ons volgehoue geloof, dat ons inderdaad in 'n Adventstyd leef. 'n Tyd waarin ons wag op die wederkoms van Christus. Hierdie situasie sal stryd gee in die lewe van elke gelowige. Steeds weer moet jy jou losmaak van die materialisme wat ons kultuur so deur en deur beheers. Steeds weer moet jy 'n bewuste keuse maak, vir Jesus Christus en Sy Ryk wat kom.

Daarom vra die Here van ons volgehoue Adventstrou.

En daarom is ons bly dat die Adventstyd weer aangebreek het.

Laat ons dit aan mekaar voorhou. Christus kom weer.

Laat ons daarvan saam sing, en so mekaar bemoedig.

Christus kom weer!

Die draak sal hom steeds roer, en sy verset sal groot bly.

Maar die belofte van Jesus Christus is groter.

Sy Woord alleen is betroubaar.

En daarom durf ons die toekoms aan.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)