Die Here se sorg vir Sy gemeente in die laaste dae

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 10
Preek Inhoud: 

Ps. 121: 1, 2
Ps. 121: 3, 4
Ps. 97: 1 - 5
Ps. 97: 6, 7
Lees: Openb. 9: 13 - 21.
Teks: Openb. 10: 1 - 11.

Broeders en susters, gemeente van Jesus Christus.

En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie.

Met hierdie woorde vol ontsetting, het die 9de hoofstuk van Openbaring afgesluit. Daar het waarskuwende gerigte oor die aarde gekom, toe die sewe seëls een vir een oopgemaak is. 'n Vierde deel van die aarde, en die mense daarop, is getref. Maar geen bekering het gevolg nie.

Toe het daar die 6 basuine een vir een geklink. Nou word selfs een derde deel van die wêreld en sy mense geraak deur die oordele, maar weer is die resultaat nihil. Daar kom geen massale bekering tot God en Sy wet nie.

Eerder die teendeel: Die mense het temeer vasgeklou aan die werke van hul hande, hul het hul afgode van goud en silwer bly aanbid. Moorde, towery, hoerery en diefstalle gaan voort, asof dit die gewoonste saak van die wêreld is.

Ondanks alle waarskuwings, ondanks lang geduld, kom daar niks geen verandering nie. En dit beteken dat die tyd ryp is vir die eindoordeel.

As na al die waarskuwings vasgestel moet word: Hulle het hul nie bekeer nie, dan is voortgang van die geskiedenis sinloos. Dan kan die Here daaraan maar 'n einde maak.

Dit is al wat ons kan vasstel aan die einde van hoofstuk 9.

En daarom raak ons baie nuuskierig na wat ons in die volgende hoofstuk sal lees. Dan sien ons tot ons verbasing dat opnuut 'n pouse ingelas word. Voordat 'n eindoordeel oor die wêreld gaan, is daar eers weer aandag vir die Kerk, vir die gelowiges in Jesus Christus.

Ek verkondig vir u die boodskap van ons teks soos volg:

DIE HERE SE SORG VIR SY GEMEENTE IN DIE LAASTE DAE.

Ons let op:

  1. Verberging van die oordeel.
  2. Openbaring van die heil.
  3. Roeping tot verkondiging.

1. En ek het 'n ander sterk engel uit die hemel sien neerdaal... Met die verskyning van 'n ander engel op die toneel, kom daar opnuut 'n onderbreking van die gebeurtenisse. Reeds eerder het Johannes so 'n onderbreking gemeld, byvoorbeeld in Hoofstuk 7: 2, waar 'n ander engel kom om opdrag te gee, dat die aarde nie beskadig mag word, voordat die diensknegte van God verseël is nie. Ook in 8: 3, kom 'n ander engel: die keer in verband met die gebede van die heiliges. Hy dra die gebede tot voor die troon van God.

As dus in hoofstuk 10 opnuut die ander engel geïntroduseer word, dan kan ons verwag dat hy op een of ander manier intree vir die belange van die gelowiges. Want op die aarde wat sidder onder die oordeelsbasuine, leef en werk ook 'n gemeente van Christus. Ook hulle kry swaar onder die gerigte wat oor die wêreld kom.

Kom ons kyk met Johannes na hierdie engelverskyning. Johannes sien hom neerdaal uit die hemel. Hy is bekleed met 'n wolk. Die wolk is in die Ou Testament dikwels die simbool van God se heiligheid. U onthou wel die wolkkolom wat Israel op sy tog deur die woestyn vergesel het. Die wolk kon sowel dreigend as vertroostend wees. Wel, dit is hier ook so.

Aan die een kant is daar die wolk van dreiging. Met God se heiligheid kan nie gespot word nie. Indien geen bekering kom nie, dan kan die oordeel nie uitbly nie. Dan verskyn God soos 'n donderwolk. Maar daar is ook nog iets anders. Johannes sien by die engel 'n reënboog oor sy hoof. Sy aangesig straal soos die son, en sy voete is soos pilare van vuur.

Die reënboog is nie sommer daar nie. Ons ken die reënboog as die teken van die Verbond wat God met Noag gesluit het. Reeds eerder, al in die ou tyd, toe die sonde van die mense op aarde groot geword het, het God met 'n vernietigende oordeel oor die mensheid gekom. Die sondvloed het 'n einde gemaak aan die lewe en die kultuur van die bewoonde wêreld van daardie tyd. Die hemelsluise is geopen, die waters onder die aarde het opgekom.

Toe is die werk van die tweede skeppingsdag vernietig.

Maar na die sondvloed waarin Noag-hulle bewaar is, het God 'n Verbond gemaak, dat Hy nie weer alle vlees deur die vloedwaters sal vernietig nie. As teken daarvan wys Hy die reënboog aan. Die teken van die Verbond tussen God en die aarde. God sal steeds weer na die reënboog kyk, en dan die Verbond tussen Hom en die lewende skepsels op aarde gedink.

Dus na die sondvloed gee die Here die ruimte vir die geskiedenis.

Hy weet die mensheid is nog steeds sondig. Ook die gelowige Noag en sy kinders. Dus die rede vir die sondvloed bly nog steeds daar, maar tog: God sal die lewe op aarde laat voortgaan. Hy sal in Sy toorn oor die sonde nie weer die hele Skepping vernietig nie.

Dus as die reënboog hier by die engel wat optree in die laaste dae weer verskyn, dan weet ons, die Here is daar met die wolk van heiligheid en gerig. Maar tegelyk met die boog van die genade.

Johannes sien hoe die engel sy voet op die land en op die see

tegelyk sit. Daarmee maak die Here aanspraak op heel die aarde. Land en see, ja die hele wêreld is Syne.

Met 'n magtige stemgeluid roep hy iets, maar wat hy sê kan ons nie hoor nie, want onmiddellik val daar sewe donderslae by. Ook die inhoud van hul woorde ontgaan ons, want as Johannes sy pen vat om te noteer wat hulle sê, word dit vir hom verbied. Die woorde van die donderslae word verseël.

Ons kan ons afvra wat die woorde van die donderslae, wat Johannes wou opgeskryf het, ingehou het. Ons kan nie sê wat dit ingehou het nie, maar ons kan maar aanvaar dat dit dreigende woorde was. Die donderslae van toorn van God wat oor die wêreld sal kom.

As Johannes hulle wil noteer, dan klink daar die stem: Nee, Johannes. Moenie dit opskryf nie. Daardie woorde mag nie bekend word nie.

Blykbaar sou dit meer openbaar as wat 'n mens kan verdra.

En daarom word hierdie inligting teruggehou. Want 'n mens kan nie leef met inligting oor die toekoms nie. Aan die ander kant, die mens kan ook nie leef sonder perspektief op die toekoms nie. Wel, dit is wat die boek Openbaring vir ons bied. Ons ontvang hier 'n perspektief op die toekoms. Die Christelike hoop vir die toekoms, word vir ons geopenbaar, maar ons kry nie inligting nie.

Ons mag ook nie uit die boek Openbaring meer inligting wil uithaal as wat die Here self kwyt wil nie. Die Here gee werklik nie datums nie. Hy sê ook nie wat presies gaan gebeur nie.

Want die mens kan dit nie verdra nie.

Ons kan nie leef as ons presiese inligting het oor wat môre sal gebeur nie.

Stel byvoorbeeld jy sou weet, jy het nog presies 'n maand of presies 'n jaar om te lewe, dan is jy dood, so 'n kennis sou jou vandag so ruk, dat jy nie meer jou werk kan doen nie. Jy kan van niks meer geniet nie, jou ete smaak jou nie meer nie. Alles wat nou betekenisvol vir jou is, verloor skielik sy glans. Egte toekomskennis is vir 'n mens onverdraaglik. Jy moet hoop kan hê. Hoop laat jou lewe. Maar toekomskennis lê alles plat.

En daarom word die donderslae verseël. God onttrek die inhoud van hul woorde aan ons kennis. Laat ons daarvoor maar dankbaar wees. Ons weet gelukkig nie presies wat gaan gebeur as God se toorn in volle sterkte sal losbreek nie.

Ons weet wel dat daar moeilike tye sal kom. Ons hoef ons vandag werklik nie illusies te maak dat die wêreld steeds beter sal word nie. Die wêreld sal die Here en die norme van Sy Woord steeds meer loslaat. Daar sal eerder afkeer van die Kerk wees, as dat die Kerk sal groei.

En ons vra ons af, wat van ons en ons kinders gaan word, in 'n wêreld wat steeds meer sonder God of gebod wil regkom.

Daar is geen enkele rede vir 'n optimistiese toekomsverwagting nie. Maar dit beteken ook nie dat ons maar in pessimisme kan verval nie. Definitief nie.

Die Here is mos daarby. En Hy het ons heil op die oog. Daarom gryp hy in as Johannes dinge wil opskryf wat ons nie moet hoor nie. Die oordeel moet verborge bly.

En daarom kan ons vandag verder. Ons staan middein die realiteite van 'n wêreld, waarin die vreeslikste dinge gebeur. Ons wat so beskerm leef en woon, het nie die minste idee in watter miserabele omstandighede 'n groot deel van die mensheid verkeer nie. As 'n mens alles sou weet, sou jy nie meer 'n nag rustig slaap nie.

Maar ons vertrou op die Here. En daarom kan ons ons tog verbly. Ons kan ons verbly oor die son wat elke dag weer skyn. Ons voel daarin die lig van God se genade.

Ons kan ons verheug as ons die reënboog aan die hemel sien staan. Ons word dan herinner aan God se trou.

Ons verbly ons as ons sien dat mense mekaar liefhet.

Ons is bly met 'n kind wat gebore word. Ons is dankbaar vir elke dag, met sy sorge en sy spanning, maar tog ook met sy vreugde en genot. En ons weet, dit alles kom uit die hand van die Here.

2. Ons let op: die openbaring van heil

As ons met Johannes ons aandag weer rig op die indrukwekkende engelverskyning, hoor ons hoe hy 'n plegtige eed sweer.

Hy sweer 'n eed by God. By die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde.

Die inhoud van die eed is dat daar geen tyd meer is nie. As die sewende engel sy basuin sal blaas, dan is die verborgenheid van God volbring. Dan is die einde daar. Dan is die doel bereik.

En dan staan daar die heel opmerklike woorde: soos Hy die blye tyding verkondig het aan sy diensknegte, die profete. Ons wonder wat dit presies beteken. Oor watter blye tyding gaan dit, en watter profete is hier bedoel?

En nou kom ons weer terug by die manier van eedswering. Dit is heel opvallend dat daarin so nadruklik verwys word na God as Skepper van hemel en aarde.

Hoor maar: By Hom wat in ewigheid lewe, wat die hemel geskape het, en wat daarin is, en die aarde en wat daarin is, en die see, en wat daarin is...

En nou dink ons aan twee dinge: Eers aan die woorde van Paulus dat heel die Skepping in barensnood is en sug. Die sonde van die mens het die Skepping in nood gebring, en daarom sien ook die Skepping uit na verlossing.

En verder dink ons aan die woorde van die ou profete. Dis juis hulle wat baie van die verlossing van die Skepping geprofeteer het. Hulle het in hul profesieë die aarde hoor juig oor die verlossing. Hulle het die woestyd sien blom soos 'n roos.

Wel, na al wat ons gehoor het oor beskadiging van die aarde, oor gerigte waarby die sterre aan die hemel geskud word, oor die bederf van die drinkwater, en die besoedeling van die seewater, hoor ons hier dat God nog steeds die Skepper van hemel en aarde is, en dat Hy die Skepping nie definitief aan die ondergang sal oorgee nie.

Nee, die Skepping is ook opgeneem in God se herstelplan.

Daar kom 'n nuwe hemel, en 'n nuwe aarde.

So kom God na die wêreld toe. Met 'n blye tyding. Hierdie blye tyding dat die Paradys sal terugkeer.

Daar sal 'n oordeel oor die wêreld gaan, moontlik in die vorm van 'n gigantiese besoedelingsramp, maar die aarde sal nie as 'n verlate puinhoop tot in lengte van dae deur die heelal bly sweef nie.

Dit is die uitsig wat vir ons oopgemaak word.

Daarom hoef ons nie angstig te raak oor moontlike verskrikkings, wat nog moet kom nie, maar ons moet die blye tyding aanvaar, dat die lewe sal blom. Daar kom 'n totale verlossing van hemel en aarde, soos die profete geprofeteer het, of eintlik staan dit in ons teks nog mooier: Soos Hy, soos God Self die blye tyding aan Sy profete verkondig het. God het vir hulle daardie Evangelie vertel. Hy is Self die bringer van blye tyding. Hyself waarborg die betroubaarheid van Sy boodskap.

En dus kan ons met 'n geruste hart verder. Met blymoedigheid selfs, want Christelike hoop maak vrolik.

3. Ons let op: die roeping tot verkondiging.

Tenslotte kry Johannes die opdrag om die boekie te gaan haal, wat die engel in sy hand het.

Johannes moet dit opeet, wat tog wel die mees snaakse ding is wat 'n mens met 'n boek kan doen.

Die bedoeling is dat Johannes heeltemal een word met die boekie. Hy moet die boekie totaal in hom opneem, sodat dit 'n deel van sy persoonlikheid word.

As ons ons afvra wat dan wel die inhoud van die boekie is, waarmee Johannes hom op so 'n snaakse manier moet vereenselwig, dan kry ons 'n antwoord in vers 11. Johannes moet weer profeteer oor baie volke en nasies en tale en konings.

Dus die eet van die boekie het met Johannes se taak as profeet te doen. Binne die verband van die hele visioen kry ons nou duidelikheid oor wat bedoel is. Die tyd raak baie kort, maar die opdrag om te profeteer bly staan.

Ons weet vandag nie hoeveel nog oorstaan van die tyd tot die laaste Oordeel nie. Maar die feit dat hier gesê word, dat die tyd kort is, lê klem op ons roeping om die Evangelie te verkondig. Ons het 'n taak in die wêreld. As ons as Kerk ons opsluit in onsself, verdien ons nie meer die naam van Kerk nie. Dan het ons verword tot 'n klub van mense met 'n gelyke kultureel-religieuse belangstelling. En daarom moet ons onsself die taak om te evangeliseer ons eie maak. So 'n opdrag moet ons eet en verteer, sodat dit deel van die Kerk-wees word, sodat dit deel is van ons eie persoonlikheid.

As ons almal dit sou doen, gemeente, wat kan daar dan baie gebeur!

Maar daar is wel 'n waarskuwing. As Johannes die boekie moet eet, smaak dit goed, maar later is dit bitter in sy buik.

Hy is aanvanklik bly met die opdrag om 'n getuie van Jesus Christus te mag wees. Want hy weet hy staan vir 'n goeie saak. En hy mag 'n blye tyding vertel vir elkeen wat dit wil hoor. Dit is tog pragtig! Wie vertel nie graag goeie nuus nie?

Maar later kom daar ook die teleurstellings. Dan word die werk swaar en inspannend. En dan kan dit gebeur dat jy ondanks groot inspannings tenslotte tog nog niks tasbaars bereik nie. Dit is bitter in die maag. 'n Taak wat met entoesiasme begin is, is nie altyd met entoesiasme vol te hou nie. Veral as die medewerking maar min, en die resultate maar skraal is.

Maar dit alles doen aan die roeping niks af nie!

Daar is 'n Evangelie wat verkondig moet word. Daar is 'n blye tyding wat die wêreld in moet.

En namate die tyd verstryk, word die noodsaak tot spoedige bekering dringender.

Hoe sal mense hoor van die reddingsboodskap, as ons nie as verkondigers daarvan optree nie?

En daarom, as daar by ons geloof is, dan moet ons klaarstaan om ons kragte te gee. Terwille van die behoud van ons naaste.

Ons ken mos die groot gebod: Jy moet die Here jou God, liefhê met heel jou hart, en met al jou kragte. En jou naaste soos jouself.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)