Die roeping van Johannes as profeet

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 1
Preek Inhoud: 

Ps 8: 1 - 4
Ps 8: 5 - 7
Ps 4: 1 - 4
Ps 92: 1, 2, 3
Ps 92: 5, 6, 7
Lees: Eseg. 1: 28 - 2: 10
Teks: Openb. 1: 17 - 20

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus!

In allerhande kerke en kerkgroepe kom dit gereeld voor, dat mense hulle deur God geroepe voel om iets in diens van God te onderneem. So ervaar mense roepings om summier al hul besittings te verkoop en hul dienste aan te bied op die sendingveld van hul kerk. Of 'n egpaar voel geroepe om nie 'n gesin te stig nie, maar al hul energie te gee aan evangelisasiewerk.

Weer ander doen 'n gelofte om van 'n huwelik af te sien en as 'n selibatêr in 'n kloosterorde of ander religieuse gemeenskap in te tree. By al daardie roepings is uit die aard van die saak 'n sterk subjektiewe element in geding. Jy voel jou geroepe. Jou geloof en die omstandighede waarin jy verkeer kan op 'n sekere oomblik die oortuiging in jou laat groei dat jy vir 'n spesifieke taak geroepe word.

Vanweë die subjektiewe karakter van so 'n roeping is dit vir 'n buitestaander natuurlik moeilik of eerder onmoontlik om oor so 'n roeping 'n oordeel te gee.

In ons eie kerk gaan dit trouens net so. 'n Gemeente kan 'n beroep uitbring op 'n sekere predikant, maar of hy 'n roeping sien om die beroep te aanvaar, dit moet hy self beoordeel. Sy uiteindelike beslissing kom tot stand as die slotsom van 'n groot aantal oorwegings en 'n voortdurende gebed om bystand van die Heilige Gees. En ook so 'n besluit wat so tot stand kom, behels noodwendig 'n sterk subjektiewe element. Jy voel jou geroepe of nie. Roeping is dus 'n saak van geloof in jou roeping.

Maar nou Johannes. Johannes word ook geroep. Maar vir Johannes val daar niks te oorweeg nie. Hy word so oorrompel deur wat hy sien en hoor dat hy plat op die grond val. Knock-out.

Soos 'n dooie - vertel hy self. Die werklikheid van die lewende Christus blyk te veel te wees vir 'n sterflike mens. En so maak Christus die mens Johannes ineens klaar om sy roeping op te volg.

Johannes hoef nie meer te dink nie, hy hoef nie meer om insig te bid nie. Hy word geroepe en kan maar gaan.

Ons tema: DIE ROEPING VAN JOHANNES AS PROFEET

  1. As profeet van die lewende Christus
  2. As profeet vir 'n lewende gemeente

In die preek oor die voorgaande verse het ons met Johannes gekyk na die grootse visioen wat hy ontvang. Die sewe brandende kandelaars met die indrukwekkende verskyning van die menslike figuur in die middelpunt.

Totaal oorweldig deur wat hy sien val Johannes neer. In die opsig lyk hy op die profeet Esegiel, wat ook by die visioen van God se heerlikheid met sy gesig op die grond neerval. Maar in die geval van Esegiel is dit bewuste eerbied betoon. Maar by Johannes is dit anders. Die ontmoeting wat hom te beurt val is vir hom ondraaglik.

Met 'n woord van Paulus: God bewoon 'n ontoeganklike lig wat geen mens gesien het of kan sien nie (I Tim. 6: 16).

God se heerlikheid en heiligheid is vir geen mens verdraaglik of toeganklik nie.

Dis duidelik dat Johannes die persoon wat hy sien nie herken het nie. Ons weet dit gaan om Jesus Christus, maar Hy verskyn in 'n simboliese visioen aan Johannes. En dit is eers sy stem wat Hom herkenbaar maak as Christus. Ons onthou sommer die gelykenis van die Here Jesus oor die goeie Herder: Die skape herken Hom aan sy stem. Aan wat hy sê weet hulle of hier hul eie herder staan, wat die heil vir sy kudde soek of 'n valse herder. 'n Indringer wat die kudde verstrooi en hulle dood bewerk.

Dus ondanks dat Johannes allerhande dinge mag sien, en moet sien, bly ook vir hom geldig dat Christus Hom in die eerste plek deur Sy Woord openbaar. Aan sy stem moet ons Hom herken. Ook in vandag se prediking.

Maar goed, Christus wil dus d. m. v. Johannes as profeet, sy gemeente bereik. Maar inmiddels lê hy nog daar soos 'n dooie. 'n Dooie profeet is nie bruikbaar vir enige taak nie en daarom doen die Persoon wat Johannes gesien het iets.

Hy strek sy regterhand uit en raak Johannes aan. In hierdie gebaar sien ons die ontferming van Christus. Die imponerende stralende figuur is nie 'n selfgenoegsame persoon wat hom net in Homself verlustig nie, maar hy reik uit soos van mens tot mens. Soos die Here Jesus indertyd sy hand uitgereik het na die gestorwe jong man uit Nain, so strek Hy tans sy hand uit na Johannes en wek hom uit sy dodelike verstarring.

Let op hier dat die inisiatief van Hom uitgaan. As ons gekonfronteer word met God se heiligheid, dan is daar van ons kant slegs skrik, dood, totale onmag.

Maar God kom na die mens toe. Van sy kant word daar 'n verhouding opgebou. Hy bring versoening. Hy maak dit moontlik om met Hom om te gaan. In een woord: Hy alleen kan dooie mense lewend maak.

By die gebaar voeg Hy ook 'n gerusstellende woord: Moenie vrees nie! God se verskyning is inderdaad vreeswekkend vir 'n mens, maar as Hy kom om die mens en sy genade te besoek, dan is die eerste wat Hy sê: Moenie vrees nie! Dis Ek. !

So het die Here Jesus eendag oor die water na sy dissipels toe gegaan, en toe hulle in doodsangs begin skree, roep Hy vir hulle dieselfde gerusstelling soos hier: Moenie vrees nie! Dis Ek!

Ek is die Eerste en die laaste en die lewende!

En nou weet Johannes, hier kom God Self na hom toe. Die God wat as die Eerste en die laaste die wêreldgeskiedenis omspan. Die God uit wie en tot wie alle dinge is. Die bron van alles en tegelyk die dood van alles.

Die God is die lewende God. Dit is in die Bybel 'n gereëlde voorkomende aanduiding van God. Die lewende God. God het 'n onafhanklike, onverganklike lewe - dit in teenstelling tot die gode van die heidene; hulle leef slegs in die verbeelding van hul aanbidders; Hulle leef solank as hulle aanbid word, maar hulle het geen lewe in hulself nie.

Maar God is die Lewende. Hy is ook die God wat lewe gee. Hy gee lewe aan die natuur, die hele Skepping met as kroon van die skepping: die mens.

As die lewende God soek Hy die mens. As die lewende God is Hy by die mens. Hy gaan 'n Verbond met hom aan om daarin as die Lewende God sy liefde te betoon, maar as die mens sy liefde verwerp dan betoon Hy Hom die Lewende in Sy toorn.

So het die volk Israel God leer ken as die Lewende.

Maar nou praat die verskyning verder:

Ek was dood en kyk Ek leef tot in alle ewigheid. En daarmee introduseer die verskyning homself onmiskenbaar as Jesus Christus, die Seun van God.

Ek was dood en kyk, Ek leef. Van wie anders kan dit gesê word as net van Jesus Christus. Hy was dood. Die spies van die Romeinse owerste het die duidelik bewys.

En kyk, Ek leef. Ons hoor in hierdie triomfantlike uitroep die verrassing van die Opstanding. Ek leef.

Ja Ek leef tot in alle ewigheid.

Die Here Jesus het sy dood op Goeie Vrydag nie net oorleef nie, maar Hy het die dood oorwin! Hy is magtiger as die Dood. En dit gee vir Hom dan ook die sleutel van die dood en die doderyk. Die uitdrukking sleutel moet u hier so verstaan, dat Jesus Christus die bevoegde persoon is wat toelating of uitsluiting hanteer.

In hierdie geval met betrekking tot die dood. Hy besluit oor dood en lewe. As Hy iemand uit die dood wil uithaal, Hy kan dit doen. Maar as Hy iemand tot die dood veroordeel, dan is dit sy volste reg. Vir Hom is daardie mag gegee.

Sover is die reikwydte van Jesus woord na sy opstanding: "Aan My is gegee alle mag, in die hemel en op die aarde!"

Juis uit die woord van die sleutel van die dood en die doderyk, blyk sy alomvattende bevoegdheid. Sy mag is onbeperk.

En die woord moet ons dan weer hoor teen die agtergrond van die keiserverering van daardie tyd. Die mag van die keiser het al hoe vreeswekkender vorme aangeneem. Die keiser het homself as 'n God laat aanbid en vereer. En wee hulle wat nie saamdoen in hierdie verering nie. Hulle lewe is nie meer 'n sent werd nie. Die keiser kan jou sommer voor die leeus laat gooi. Een woord teen die keiser en jy is dood!

Nee, sê Jesus Christus. Ek het die sleutel van die dood en doderyk. Ek beslis oor jou lewe. En daarin gaan my mag ver uit bo die van die keiser.

Een woord van My en die keiser is dood. En geen keiserverering, geen keiserkultus kan hom tot lewe wek nie. Want op die dood het geen mens 'n antwoord nie.

Net Ek. Ek was dood en Kyk, Ek lewe!

En daarom Johannes: Vrees nie! Staan op en luister. Ek het werk vir jou. Jy moet my profeet wees. Profeet van die Lewende Christus.

Skryf op wat jy sien, dit wat is sowel as dit wat gaan gebeur. Dus hier word die skryfbevel herhaal wat Johannes reeds in vers 11 gehoor het. In vers 11 was die aandag mees gerig op die adres aan wie Johannes sy verslag moet stuur naamlik die sewe gemeentes in Asië.

Hier gaan dit nou meer oor die inhoud van wat hy sal sien. Daar is twee dinge: Hy sal sien wat is. Dit beteken die huidige situasie sal dus onder die kollig kom. Daarmee is ongetwyfeld die situasie bedoel waarin die sewe gemeentes op die oomblik verkeer.

En verder sal Johannes iets sien wat gaan gebeur. Dit is dan wat in die hoofstukke 4 - 22 van die boek Openbaring beskryf sal word. Ek meen dat ons daar ook 'n antwoord kan vind op die vraag hoekom daar so heel verskillende materiaal in die een boek Openbaring vertel word. Jy kry eers die hoofstukke twee en drie, wat sewe briewe bevat wat aan sewe konkrete gemeentes gerig is. Die briewe gebruik wel baie simboliese taal, maar bevat onmiskenbare vermanings en vertroostings, wat aan elk van die spesifieke gemeentes gerig is.

En die res van die boek bevat meer toekomsprofesie wat al die kerke van Christus sal raak.

Die bedoeling van vers 19 is dit, dat die Here Jesus min of meer 'n inspeksie hou in die sewe gemeentes (Onthou hoe ons vroeër gesien het dat Johannes die verskyning beskryf as 'n regterlike figuur). Die Here Jesus wys al die swak plekke in die gemeente aan. Elk van die gemeentes het sy spesifieke sondes en gebreke. Daarvan ontgaan Christus niks nie.

En waarom wys Hy dit nou aan? Dis nie om lastig te wees nie of alleen maar om te kritiseer. Nee, daar sal swaar tye kom vir die gemeente van Jesus Christus in die toekoms. En daardie tye kan alleen deurgekom word indien die gemeente daarvoor reg is.

Kom ons vergelyk dit met 'n skip wat voor 'n groot reis deeglik ondersoek word. Alle onderdele wat verslyt is moet vervang word. Hoe kritieser die ondersoek, hoe veiliger in die storms wat sal kom. En daarom word die sewe gemeentes een vir een deurgekyk, sodat hulle later des te beter weerbaar sal wees teen die storms wat oor hulle sal kom.

2. Christus roep Johannes as profeet vir 'n lewende gemeente.

In die laaste vers van ons teks ontvang Johannes toeligting by twee elemente van die verskyning wat hy sien. Die sewe kandelaars en die sewe sterre. Vermoedelik omdat hierdie twee elemente 'n sekere selfstandigheid het ten opsigte van die gedaante wat Jesus sien. Al die ander elemente is onderdele van sy liggaam.

Eers die sewe goue kandelaars. Dit is die sewe gemeentes.

Ek dink gemeente, ons kan ons nouliks voorstel wat hierdie beeld met sy verklaring in die toenmalige situasie beteken het. Die sewe goue kandelaars verwys ongetwyfeld na die sewe-armige goue kandelaar wat in die heilige deel van die tempel gestaan het.

Daar was 'n staander met sewe arms wat elkeen 'n ligpunt gedra het. Die sewe-armige kandelaar het vir die latere Jodedom 'n sterk simboliese waarde gehad. Dit het gepraat van die warmte van die lig en die liefde van God.

Maar nou wys Jesus Christus sy gemeente aan. Elk van die gemeentes is 'n kandelaar (let op: sinds Pinkster is daar nie meer een sentrale ontmoetingsplek met God nie, maar in elke gemeente 'n woonplek van die Here). In elke gemeente straal die lig van Sy liefde. In elke gemeente word priesterdiens verrig. Almal bring eer en lof toe aan Jesus Christus. Hy wandel temidde van die sewe kandelaars en ontvang van hulle sy goddelike eer.

Juis in die kandelaarsimboliek sien ons 'n stuk opposisie teenoor die Jode. Die ontmoeting met God vind nie meer plaas daar waar 'n priester by die lig van die sewe-armige kandelaar sy gebede tot God opstuur nie, maar vanuit sewe selfstandige gemeentes (en vanweë die simboolwaarde van die getal sewe: vanuit alle christelike gemeentes) word aan God lof toegebring.

En nou die sewe sterre op sy hand. Christus verwys daarvoor na die engele van die sewe gemeentes. Die verklaring daarvan stel ons voor 'n probleem. Die onder ons mees gangbare verklaring is dat hiermee die leier van die gemeente (so u wil: die leraar of predikant) bedoel word.

Ek betwyfel die juistheid daarvan om twee redes. Nêrens in die Bybel word 'n mens of 'n leier van 'n gemeente 'n engel genoem nie. Behalwe in die uitdrukking 'die engel van die gemeente' kom die woord 'engel' amper sewentig keer voor in die boek Openbaring en altyd is 'n regte engel bedoel.

Daarby, stel dat die leier van die gemeente hier persoonlik aangespreek word, dan word op hom alleen wel 'n verskriklik swaar verantwoordelikheid gepak. Asof hy alleen aanspreeklik is vir die goeie of die slegte situasie van die gemeente.

Daarom sou ek sê dat die uitdrukking 'die engel van die gemeente' 'n simboliese aanduiding van die gemeente self is. Dus as Johannes moet skryf aan die engel van die gemeente dan gaan ons daarvan uit dat hy aan die gemeente self skryf.

En dan kry ons ook 'n bietjie sig op die sewe sterre wat Christus in sy hand hou. Dit is weer die gemeente, maar dan is sy uitstraling na buite. Jesus Christus hou die sterre in sy hand. Hy hanteer hulle. So is die gemeente soos ligtende sterre in die duistere wêreld (Fil. 2: 15).

Die twee ligbronne, die kandelaars en die sterre, is beide kere die gemeente. Maar as kandelaar wys hulle op Christus. Die gemeente konsentreer op Jesus Christus in hul lofprysing en gebed. Miskien sou mens kon sê: dit is die interne erediens van die gemeente. Maar tegelykertyd is hulle sterre in die hand van Christus.

Hulle laat die lig van die evangelie skyn in die wêreld. En dit is die eksterne roeping van die gemeente.

Die gemeente is sowel kandelaar as ster, sowel priester as getuie. En hierdie twee behoort onlosmaaklik by mekaar. In Jesus Christus vind hulle hul sentrum en hul eenheid.

Solank die gemeente aan die twee aspekte alle aandag gee, is sy veilig vir die storms van die toekoms. Maar as die een aspek ten koste van die ander verabsoluteer word, dan verloor jy tenslotte alles.

Om dit nog 'n bietjie konkreter te sê: As 'n gemeente 'n geslote gemeente word, met ander woorde as daar in die gemeente nog wel gebid en gepreek en gesing word, dus as die gemeente nog volop kandelaar is, maar daar is geen uitstraling na buite nie, die gemeente nie 'n ligtende ster in die wêreld is nie, dan kom die dag dat ook die kandelaar sy lig verloor.

Ofwel, daar is geen ding so gesond vir iemand se geloofslewe as om met ander mense, met ongelowiges oor Jesus Christus te praat nie. Wie dit nie wil of kan nie, sal hom eendag afvra wat die sin is van sy eie gebed en lofprysing.

En ook, as die gemeente 'n ster in die wêreld is, dan weet ons intern ook baie goed waarvoor om te bid en waarvoor om te dank. Dan brand die kandelaar ook.

In 'n lewende gemeente, dus 'n gemeente waar sowel die kandelaar as die ster sy lig gee, is groei in geloof en liefde. Dan groei so 'n gemeente verder ook wel. Daar mag ons in geloof op vertrou.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)