Die ten hemel gevare Heer spreek Sy gemeente aan

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Openbaring 1
Preek Inhoud: 

HEMELVAARTDAG 24. 5. l990

Ps. 47: l, 2
Ps. 47: 3, 3
Ps. 73: 10, ll, l2
Ps. 93
Ps. ll7
Lees: Hand. l: l-ll
Teks: Openb. l: 4-8

Broeders en Susters,

Ek kan my so voorstel, dat die dissipels stomverbaas was, die dag toe die Here Jesus sommer uit hul midde verdwyn. Met oop monde volg hulle Sy opstyging. Niemand sê iets nie. Almal staan net en kyk na Jesus. Wat dink hulle eintlik? Wat verwag hulle? Miskien dink hulle terug aan die verheerliking op die berg. Toe staan Jesus ook weer skielik heel gewoon by hulle, asof niks gebeur het nie. Word hulle nou almal getuies van 'n tweede verheerliking? Sal Hy nou-nou weer in hulle midde terugkeer? Dis seker maar wat hulle verwag. Maar nee, skielik is daar iemand anders wat praat: Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het. 'n Hemelse boodskapper vertel hulle dat hulle getuies is van 'n geskiedkundige gebeurtenis. Jesus het vanaf die aarde na die hemel weggegaan. Hierdie gebeurtenis markeer die begin van 'n nuwe tydperk. Die dissipels wat so stip na die hemel gekyk het om Jesus as het ware met die oë vas te hou, moet 'n nuwe omgangsvorm met Jesus Christus leer. Hulle moet met Hom omgaan deur middel van die Woord. Hulle moet in die vervolg leef van Sy belofte van terugkeer. Dit is dan ook die kenmerkende van die tydperk vanaf die Hemelvaart tot die Wederkoms: Dit is 'n periode van nie-sien. 'n Periode van net vashou aan die belofte van Sy terugkoms. Ons sal almal verstaan dat dit dan ook die eienaardige moeilikheid van ons bedeling is. Ons leef nog steeds in daardie tydperk van nie-sien, en tog vertrou op die belofte van terugkeer. Wel, om in daardie periode Sy gemeente te hulp te kom, gee Jesus Christus vir Johannes 'n Openbaring. Johannes moet iets sien om die nie-siende gemeente te versterk in die geloof, dat die Hemelvaart inderdaad gevolg sal word deur 'n Wederkoms.

In ons teks van vanoggend adresseer Johannes sy boek. Maar reeds in die opskrif hoor ons die programma vir die hele boek.

Ons tema is:

DIE TEN HEMEL GEVARE HEER SPREEK SY GEMEENTE AAN

Dan hoor ons:

  1. 'n Koninklike groet
  2. 'n Priesterlike lofprysing
  3. 'n Profetiese bemoediging

Johannes aan die sewe gemeentes in Asië. Die Openbaring begin hier heel duidelik in die vorm van 'n brief. 'n Brief van 'n bekende apostel, aan 'n sewetal gemeentes. Ons sal later nog wel 'n slag op die sewe verskillende gemeentes terugkom, maar ons wil op hierdie oomblik opmerk dat as Jesus Christus vanuit die hemel iets laat hoor, dat Hy dan nie 'n vae, vir mense skaars verstaanbare orakeltaal praat nie, maar dat Hy heel konkreet na ons toekom. Hy maak gebruik van 'n mens, 'n apostel, 'n ampsdraer in Sy gemeente. En hierdie apostel moet dan 'n brief stuur aan sewe konkreet aanwysbare gemeentes, wat elk leef in 'n konkrete situasie naamlik as gemeentes van Jesus Christus, in 'n wêreld waar Christus as Heer nie erken word nie.

Vir die verstaan van die boek Openbaring as 'n geheel, is dit nogal belangrik. Dit is 'n boek waaraan hulle (die sewe gemeentes) in die eerste plek iets gehad het. Dit is bedoel om hulle in hul feitlike lewenssituasie te vertroos en te bemoedig. Dit beteken natuurlik nie dat ons die betekenis van die boek Openbaring uitsluitlik moet vasbind aan daardie tyd en daardie situasie nie. Juis die feit dat Johannes aan sewe gemeentes skryf, wys in die rigting dat dit vir al die gemeentes van Jesus Christus vir alle tye bestem is. Die getal sewe het naamlik 'n simbool waarde van volheid, totaliteit.

Maar inmiddels rig Johannes hom tog wel in die eerste plek tot sewe konkrete gemeentes. In sy brief praat Johannes origens nie vir homself nie, dis nie Johannes wat groete vir hulle stuur nie, maar hy het vir hulle 'n woord van God. Die Heer in die hemel rig Hom hier tot Sy gemeente.

Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom. Die bekende seëngroet wat ons tot vandag toe elke week gebruik, aan die begin van 'n erediens.

Hom wat is - Miskien herken u in die aanduiding wel die Naam waarmee die Here Hom aan Moses by die brandende doringbos bekend gemaak het: Ek is. Jahwe. Ek is, wat ek is.

As Moses vir die swaar opdrag kom, om by Farao te gaan vra vir die vrylating van die volk Israel, vra hy angstig: Maar namens wie moet ek dit vra? Wat sal u Naam wees? Farao is mos 'n magtig man? Dan sê die Here: Sê maar vir Farao: Ek is, het jou gestuur. Farao het agtergekom wat dit beteken as 'Ek is' gaan optree. Agteraf kon Farao maar baie beter dadelik die eis toegestaan het, want sy verset teen 'Ek is' het vir hom op 'n ramp uitgeloop.

Wel namens dieselfde God 'Ek is' skryf Johannes hier aan die sewe gemeentes. Dit is die God van die groot kragopenbaring. Hy was in die verlede ook daar, en het sy krag getoon. Dis Hy wat sal kom. Hy kom. Dit is ook 'n heel kenmerkende aanduiding van God. Hy is die komende. God kom na Sy volk toe. Hy is nie 'n God wat op 'n ver en veilige afstand bly nie. Hy kom. Hy kom, ook na 'n wêreld wat Hom nie verwag nie, en met Sy koms nie wil reken nie.

Met die sewe Geeste wat voor Sy troon is, wat ook in hierdie seëngroet betrek is, word die Heilige Gees bedoel. Weer met die getal sewe, die volheid van die Heilige Gees. Die Heilige Gees staan klaar om Sy werk temidde van die sewe gemeentes te doen. Met die seën van Jesus Christus, die seun van God, ontvang die gemeente dan ook die groet van die Drieënige God, Vader, Seun en Heilige Gees. Daarby is heel kenmerkend vir die boek Openbaring dat heel veel aandag val op Jesus Christus. Hy is die Getroue getuie. Dit wil sê, Hy het met inset van Sy lewe gestaan vir die waarheid. In die vervolg van Openbaring sal dikwels aan die orde kom, dat juis dit een van die moeilikste dinge vir die gemeente sal wees: om trou te bly in hul getuienis. Die verleiding in hulle situasie is verskriklik groot om die getuienis agterweë te laat, om so te probeer hul aardse lewe te red. En juis daarom word hier Christus voorgestel as die Getroue Getuie. Hy was getrou aan Sy roeping tot die dood toe. En juis daarom het Hy ook die eersgeborene uit die dode geword. Omdat Hy Sy lewe gegee het, het Hy die lewe verwerf! Hy is die Eersgeborene uit die dood. Hy is die begin van 'n nuwe wêreld. 'n Wêreld waarin die dood oorwin is! Omdat Hy Sy roeping getrou was: Hy moes gely het en Hy moes gesterf het; daarom moes Hy ook opstaan op die derde dag. En daarom moes vir Hom ook gegee word alle mag in die hemel en ook op die aarde (Matt. 28: 20). Dit is die rede dat die Here Jesus in hierdie magtige seëngroet so na ons toekom: As die Owerste oor die konings van die aarde.

Met name hierdie laaste titel is van uitsonderlike belang in die boek Openbaring. Dit vorm die grond onder die vertroosting van die gemeente in 'n moeilike situasie. Jesus Christus is die Maghebber.

In hierdie wêreld tree talle maghebbers op. Vir die sewe gemeentes was dit heel duidelik in die ontsagwekkende mag van die Romeinse keiserryk. Vanuit hulle optiek kon niemand hom daarteen met enige kans op sukses verset nie. Die keiser van Rome het 'n absolute mag gehad en van al sy onderdane verlang dat hulle hom soos 'n god vereer. Die keiser het middele genoeg om so 'n verering van almal af te dwing. Dit kan nie anders, of daar ontstaan 'n geweldige botsing tussen die verering van Jesus Christus en die verering van die keiser in Rome.

Die gemeentes in Asië weet alles daarvan.

En dan word hierdie titel van Jesus Christus: Owerste van die konings van die aarde, baie opwindend. Dit behels 'n asemrowende programma. Die programma van die Hemelvaart van Jesus Christus. Die gekruisigde, die opgestane, het na die hemel gegaan om te heers totdat Hy al Sy vyande tot 'n voetbank vir Sy voete gemaak het. Hy sal almal een vir een op die knieë dwing. Sinds die hemelvaart kan geen mag ter wêreld die uiteindelike oorwinning van Christus stuit nie. Wel, van daardie Owerste oor die konings van die aarde ontvang die gemeente 'n kostelike groet: Vir julle, gemeente, genade en vrede!

2. ONS HOOR 'N PRIESTERLIKE LOFPRYSING.

Ons verstaan sommer, dat mens na so 'n magtige groet nie kan swyg nie. Hierdie groet moet beantwoord word. En dan maak Johannes homself tot die mond van die gemeente. Hy skryf sommer 'n wonderlike lofprysing op Jesus Christus neer. En daarin wil hy ons, die lesers van hierdie brief, saamneem. Onthou dat hy in vers 3 'n saligspreking neergeskryf het: Salig is hy wat die woorde van die profesie lees. Salig hulle wat dit hoor en bewaar.

Dit beteken dat die saligspreking hulle geld, wat in hierdie lofprysing van harte saamstem. Want hier lê Johannes die bruid van Christus die woorde in die mond van 'n bruidslied op die bruidegom. 'n Bruid hoef nie naar woorde te soek nie. Sy weet sommer wie sy aanspreek en wat sy moet sê: Aan Hom wat ons liefgehad het! Natuurlik, dit vorm die bron van die blydskap van die bruid. Hy, die bruidegom het vir haar liefgehad. Hy het vir haar verkies! Hy het Sy liefde laat blyk! Hy het ons sondes gewas in Sy bloed! Dit beteken, dat Hy, as bruidegom, in Sy liefde, so ver gegaan het, dat Hy selfs Sy bloed gestort het, Sy lewe gegee het, om haar, die bruid, te verlos. Wat die bedoeling van die verlossing is, is ook wel duidelik: Hy het ons gemaak, konings en priesters, vir Sy God en Vader. Met die uitdrukking 'konings en priesters' dink Johannes ongetwyfeld aan Eks. l9, waar die Here vir sy pas bevryde volk Israel, op die berg Horeb toespreek. (Eks. l9: 6) Julle sal vir my 'n koninkryk van priesters wees.

Ons kry daar 'n vergelykbare situasie: Die slawevolk Israel is deur die Here uit Egipteland verlos. Hy het Hom daar betoon as Owerste van die aardse konings, as Magtige bo die Farao. Die volk is bevry van slawediens en word nou geroep tot erediens, 'n Koninkryk van priesters.

Wel, net so, is deur die verlossing van Christus die gemeente bevry. Hulle is verlos van die slawerny van die sonde en vrygemaak tot erediens. Tot priesterdiens.

So het die Here Sy gemeente in die wêreld gestel. As 'n volk van priesters.

Dit beteken, in ons lewe, moet die gebed 'n belangrike plek ontvang. As 'n gemeente eerder 'n werkende gemeente as 'n biddende gemeente is, dan meen ons dalk dat ons meer bereik in die Koninkryk. Dan kan ons baie besig raak. Maar tog, as ons nie in die eerste plek 'n biddende gemeente bly nie, dan mag al ons inspannings tenslotte, tog verniet wees. Dit is vir ons 'n reële gevaar, broeders en susters, dat ons te min vertrou op die krag van die gebed. Maar enige werk, ook kerklike werk, sending en evangelisasie, sal ons by die hande afbreek, as ons dit nie voortdurend met gebed ondersteun nie. En wat van die lofprysing? Sing ons nog die lof van die Here? Weet ons nog van die geloofsblyheid van die gelowige in Jesus Christus? Is ons nog priesters? In die kerk, by die huis, op die werk? Aan Hom, aan Jesus Christus die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Dis die bekende, die pragtige bybelse lofprysing op ons Heiland. Maar laat ons hier wel bedink dat Johannes hier wel 'n kans vat, deur so 'n lofprysing uit te spreek en neer te skryf. Immers in daardie tyd, maak ook die Romeinse keiser aanspraak op hierdie lof. "Aan die keiser alle heerlikheid en glorie! Vir die keiser alle mag tot in ewigheid!" So het die Romeinse keisers hulle laat bejubel in daardie dae. En wee wie hulle daardie lof onthou! En dan staan daar die klein christelike gemeente met sy belydenis en sy lofprysing: Aan die keiser die heerlikheid en mag? Nee, aan Jesus Christus alle heerlikheid en krag tot in alle ewigheid. Moet die Heerser van Rome alle eer ontvang? Nee, ons Heer is in die hemel Hy sit aan die regterhand van God. Aan Hom en Hom alleen is gegee alle mag in die hemel en op aarde, en daarom moet Sy Naam, alleen Sy Naam vir altyd geprys word. Alleen daardie lofprysing hou stand, dus alleen daardie lofprysing mag deur die gemeente beaam word. Alleen op Christus lof, kan 'n gelowige Amen sê.

3. 'N PROFETIESE BEMOEDIGING.

Kyk, Hy kom met die wolke!

Toe die Here Jesus opgevaar het na die hemel, het 'n wolk gekom wat Hom aan die oë van sy dissipels onttrek het. Die afskeid was definitief, en daarmee breek vir die kerk die tyd van nie-sien aan. Die bedeling van glo sonder om te sien, wat vir die gelowiges nie altyd maklik is nie. Daardie tydperk is vir die ongelowige 'n rede tot spot: Waar bly Hy wat julle verwag? Sinds die Skepping bly alles maar net dieselfde. Vergeet tog van 'n belofte van terugkoms. Daar is nie iets soos 'n hemel en 'n ten hemel gevare Heer nie. Daar is net hierdie sigbare, tasbare aarde. Hierdie spot kan seermaak vir 'n gelowige, want diep in ons wankelmoedige hart, vind daardie spot 'n klankbodem. Laat ons dit maar erken. Maar laat niemand hom misgis nie. Kyk, Hy kom met die wolke, profeteer Johannes. Kyk, sê hy, asof Hy al te sien is. Hy kom met die wolke! Dit was mos die belofte wat die hemelse boodskapper kom bring het by die hemelvaart van die Here Jesus. Daar kom 'n dag dat almal sal sien! Die gelowiges, maar ook die ongelowiges. Maar vir laasgenoedes sal dit 'n sien in ontsetting wees. Hulle wat Hom deursteek het - dit is almal wat Jesus doodgemaak het, en doodgewens het. Almal wat Sy bestaan en Sy belofte ontken het. Almal wat Hom Sy heerlikheid en glorie geweier het.

Elke oog sal Hom sien. Die gelowige, verwagtende oog. Maar ook die slaperige, die brutale, die spottende oog. En daarom klink dit hier soos 'n bedreiging: Wie nie wil hoor nie, hy sal sien! Maar dan is dit te laat om jou te bekeer. Dan bly net roubedryf oor.

Daarom wie 'n oor het laat hom hoor!

Ja, Amen! So staan dit! getuig Johannes. Die ten hemel gevare Heer sal definitief terugkom!

En dan tenslotte in vers 8 neem Christus Self Johannes die pen uit hande. Hy neem vir 'n oomblik oor om die woorde van Johannes te onderstreep:

Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde,
Ek is die Here, wat is en wat was en wat kom!

Met hierdie woorde sit Christus self Sy handtekening onder die boek Openbaring. Dit is inderdaad openbaring. 'n Woord van God vir 'n gemeente wat swaarkry in die tyd tussen hemelvaart en wederkoms.

Met die hemelvaart het die voorwerp van ons liefde, die bruidegom van die kerk uit ons gesig verdwyn. Wat sien ons van Hom? Niks. Wat het ons van Hom? Ja, 'n belofte. Ek kom. Ja ek kom spoedig en my loon is by my. Salig hy wat My belofte tot die einde toe vasgehou het. Vat moed. Ek is met julle al die dae. AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)