Die Openbaring as troos vir die gelowige gemeente

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-20
Teks: 
Openbaring 1
Preek Inhoud: 

Ps. 43: 3, 4
Ps. 43: 5
Ps. 68: l3, l5, l6
S.B. 9: l, 2, 3
S.B. 9: 4, 6
Lees: Openb. l: l - 8
Teks: Openb. l: l - 3

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Soos u sien, maak ons vandag 'n begin met die boek Openbaring. Daar is vir my die laaste paar jare 'n hele paar keer gevra of ek nie 'n slag oor die Openbaring van Johannes kon preek nie. Om eerlik te wees, het ek nogal geaarsel of ek wel of juis nie aan die versoek moes voldoen nie. My aarseling kom in die eerste plek hieruit voort, dat die besondere belangstelling wat sekere mense vir hierdie boek koester nie altyd uit gesonde motiewe voortkom nie. Jy kry vandag mense wat werklik meen dat eintlik alleen die boek Openbaring vandag geskik is om 'n lig op die pad van die gelowige te wees. En teen daardie gedagte het ek sterk besware. 'n Tweede rede vir my aarseling is, dat oor die boek Openbaring as geheel, en op onderdele 'n gigantiese hoeveelheid verskillende menings in omloop is. As jy jou in die uitleg van Openbaring wil begeef, moet jy 'n pad vind in 'n doolhof van verklarings wat almal daarop aanspraak maak, dat dit die enigste regte verklaring is. En dit maak die taak van 'n prediker, wat elke week weer met 'n preek moet klaar kom, nie tot 'n maklike een nie. Veral as jy op talle onderdele oor die presiese verklaring dikwels moet sê: dit kan so wees, maar dit mag ook iets anders wees.

Ek hoop u kan my aarseling verstaan.

Dat ek tenslotte tog onderneem om 'n serie preke uit Openbaring te maak, is veral te danke aan die volgende argument wat iemand gebruik het: As daar dan soveel spekulatiewe verklarings van Openbaring orals verkondig word, help ons dan om op 'n eenvoudige gereformeerde manier die boek te lees, sodat ons ons nie deur allerhande wilde dwalings laat saamsleep nie.

Wel, dit was hierdie argument wat my die roeping laat voel het, om tog in hierdie moeilike boek in te duik.

En ek moet sê, ek voel my gesterk in daardie roeping, noudat ek die eerste paar verse grondig deurgedink het. Veral ook die saligspreking van vs. 3: Salig is hy wat die woorde van die profesie lees en dit hoor en bewaar.

'n Bybelse saligspreking mag jy nooit aan jou verby laat gaan nie.

Ons tema vir vandag se Woordbediening:

DIE OPENBARING AS TROOS VIR DIE GELOWIGE GEMEENTE

Daardie troos word sigbaar in

  1. die bron van die openbaring
  2. die inhoud van die openbaring
  3. die saligspreking by die openbaring.

Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het.... Met hierdie magtige openingswoorde begin Johannes sy boek. Dit is 'n Openbaring van God. En met hierdie woorde stel Johannes homself uitdruklik bekend as 'n profeet van God. In die sin is sy boek dus vergelykbaar met 'n profetiese boek uit die Ou Testament. Die Ou Testamentiese profete begin hul profesie op 'n soortgelyke manier: Die Woord van die Here het gekom tot die en die. Deur so sy boek te begin, maak Johannes ook heel duidelik 'n front teenoor die Jode. Die Jode het gesê: Daar kom geen nuwe profesieë van God voordat die Messias gekom het nie. Maar die Christene glo: die Messias het gekom. Hy was by ons in die persoon van Jesus Christus. En daarom kan daar ook weer nuwe profesie wees.

Ek weet nie of ons so bewus daarvan is, maar in die eerste christelike gemeente het die verskynsel profesie taamlik baie voorgekom. Meestal is ons aandag veral gerig op die optrede van die apostels in die eerste gemeentes. Dit is ook wel tereg, want dit was hulle wat die evangelie moes verkondig, naamlik die evangelie van kruis en opstanding.

Maar naas die apostels het ook profete opgestaan. Hulle taak was nie om die evangelie te verkondig nie, maar om in allerhande praktiese sake wegwyser te wees. Die christen gemeente het, nadat hulle hul van die Jodendom losgemaak het vanweë die evangelie, voor 'n kolossale hoeveelheid vrae te staan gekom. Vrae soos: Hoe moet ons optree ten aansien van die Ou Testamentiese wette en seremonies? Hoe is die houding van die gemeente ten opsigte van die regering van die land? Waar moet nou eerste die evangelieprediking plaas vind? ens. Wel op al daardie vrae is dikwels antwoorde gegee deur profete. God het vir hulle 'n besondere insig in allerhande konkrete sake gegee, en dan was dit steeds die taak van die gemeente om die betroubaarheid van so 'n profesie te toets, aan die geheel van die evangelie.

Dit is hierdie tipe profesie wat Johannes bedoel as hy in vers 3 sê: Salig wie die woorde van die profesie hoor. Dus dit is die bedoeling van hierdie boek dat konkrete lewensleiding gegee word aan die gelowige gemeente. Hulle het nou vir Jesus Christus leer ken as hul verlosser. Wel hoe nou verder? Daarby wil die boek Openbaring help.

As ons so die titel van die boek nog 'n slag lees, dan val vir ons iets op. Die openbaring van Jesus Christus, wat God aan Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur.

Dit is 'n openbaring aan diensknegte.

Dit wil sê die boek is nie n voorspelling van die geskiedenis soos dit later in die l6de eeu of 2Oste of 2lste eeu sal gaan nie, maar dit is openbaring vir gelowiges. 'n Openbaring is iets wat tot nou toe verberg was, voor die dag haal. So 'n openbaring is nie vir almal nie. Net vir gelowiges word 'n sluier weggehaal. Hulle mag weet wat aangaan. Daarom is daar beslis geloof nodig om iets van die boek Openbaring te verstaan. Die boek gee nie objektief kontroleerbare toekomstige feite nie, maar gee ondersteuning vir die gelowige. As 'n gelowige in die wêreld rondkyk, kan hom die angs oorval: Maar dit lyk dan of die Ryk van Christus glad nie sal kom nie! Waar is nou Sy Ryk van ewige vrede en vreugde? Daar is nog steeds oorloë, rampe, ongeloof. Dan leer die boek Openbaring vir ons: Hou moed. Christus kom werklik. Maar Hy kom deur rampe, oorloë en aardbewings heen. Wie in Hom glo en dan die boek Openbaring lees, hy mag sien dat Christus inderdaad besig is om te kom. Hy moet weet dat die wêreld ondanks die skyn van die teëndeel wel 'n doel en 'n einde het. So kry kinders van God as het ware reeds 'n voorvertoning van wat later vir almal sigbaar sal wees: Jesus Christus is inderdaad die Maghebber in die hemel en op die aarde.

God self skenk hierdie openbaring, sodat ons in die geloof staande sou bly. Hy is die bron van hierdie openbaring, en juis daarom moet ons met 'n gelowige hart die boek oopslaan, en begin lees: Wat wil die Here vir ons leer?

Wat kan ons daarmee doen?

Weereens: Die openbaring is nie 'n boek vir besondere ingewydes nie. Dis nie 'n boek vir mense wat daarmee presiese historiese gebeurtenisse wil voorspel of verklaar nie. Maar dit is 'n boek vir die gemeente van Christus. Die gemeente wat glo, hulle is gekoop en betaal deur die bloed van die Lam van God, en hulle is op pad na die glorieryke koms van Jesus Christus.

Juis vandag besef ons al hoe meer dat ons die geskiedenis van die volke nie kan opdeel in allerhande afsonderlike geskiedenisse nie, maar dat ons waar ons ons ook al bevind, deel is van een groot wêreldgeskiedenis. In hierdie wêreldgeskiedenis staan die gemeente van Jesus Christus. Met al sy vrae: Waarnatoe gaan dit? Wat is die sin en die doel van die geskiedenis? Watter bewegings is gaande? Wat is die taak van die kerk in hierdie situasie? Hoe moet 'n gemeente, 'n gemeente van Jesus Christus bly? ens.

Die boek Openbaring wil vir ons leer, waar die werklike fronte lê. Daardie front lê nie tussen swartmense en witmense nie, soos sommige meen. Die front lê ook nie tussen ryk lande en arm lande nie, soos ander beweer. Die front lê nie tussen kapitalisme en kommunisme nie, soos mense gedink het nie. Die front lê nie tussen vryheid en verdrukking, soos talle voel nie. Maar die front lê tussen die gemeente wat glo in die krag van die Lam van God en die mensheid wat dit nie glo nie. Om daardie front goed raak te sien, daarvoor het God die boek Openbaring gegee. Want met die boek in die hand weet ons wat om te verwag, weet ons dat daar talle verdrukkinge kan kom in allerhande tye en allerhande vorme, maar dat tenslotte die oorwinning sal wees aan die Lam van God.

2. DIE INHOUD VAN DIE OPENBARING.

Vers l van die boek Openbaring omskryf self wat die inhoud van hierdie boek gaan wees: om te toon wat gou moet gebeur.

Daarmee rig die boek dus die skynwerper op die geskiedenis as sodanig. Dit gaan nie oor mense wat as mense deel is van die geskiedenis nie. Nee die geskiedenis self is voorwerp van die openbaring.

Die eerste wat daarvan dan gesê word is dat dit moet gebeur. Die geskiedenis word gedra deur 'n moet. Dit moet so gaan. Nou moet ons hierdie moet wel onmiddellik onderskei van die moet waarmee sekere Griekse filosowe die geskiedenis beskou het. Hulle het die 'moet' sodanig gedruk, dat die geskiedenis 'n onafwendbare ontwikkeling van tevore vasliggende planne is.

Die mens is wel deel van die geskiedenis, maar kan daarin eintlik nie 'n rol van betekenis speel nie. Sy lot is bepaal ewe-as die lot van die hele wêreld, en jy doen maar verstandig deur nie te emosioneel op voorspoed of teëspoed te reageer nie. Jy moet dit maar net oor jou laat kom, of dit jou glad nie traak nie. Wel hierdie griekse fatalistiese lots beskouing is nie christelik nie. Juis in die boek Openbaring sien ons steeds 'n sterk betrokkenheid van die mense by die dinge wat aangaan. Daar is angs en daar is blydskap. Daar is gebed, daar is hoop, daar is troos. Seker daar is 'n moete in die geskiedenis. Maar dit is die moet van die plan en die doel van God. Hy beweeg van Skepping na Herskepping. Eendag sal Hy alles aan Hom onderwerp.

Die klem van die woord 'moet' in ons teks: wat gou moet gebeur, kan ons vergelyk met die moet in die lewe van die Here Jesus. Hoe dikwels het Hy nie gesê: Die Seun van die Mens moet ly en sterf en begrawe word, en op die derde dag moet Hy opstaan. Veral rond Sy lyde, loop ons die woord: Hy moet, keer op keer raak. Maar daardie moete is nooit die koue onaanraakbare 'moet' uit die Griekse filosofie nie. Jesus moet, maar Hy moet Hom in 'n gebedsworsteling onderwerp, gehoorsaam onderwerp aan die wil van Sy Vader. Hy weet hoe noodsaaklik dit is.

So ontmoet ons ook in die boek Openbaring keer op keer die geslagte Lam van God, wat nie sal rus voordat Hy die hele Skepping van God aan Sy Vader onderwerp het nie. Daar word van die geskiedenis nog bygesê: Dit moet gou gebeur. Die woord gou dui nie soseer op die nabyheid van die tyd nie, maar eerder op; die skielike van die ontwikkelinge. Die geskiedenis van die wêreld is nie voorspelbaar uit allerhande wetmatighede nie (ook al werk daar sekerlik allerhande wette) maar God stuur die geskiedenis, sodat ons steeds weer voor onverwagte dinge te staan kom. As ons sien wat die die afgelope halwe jaar gebeur het, in hierdie land en in Europa, dan kan ons slegs sê: Wie kon dit verwag het, op hierdie termyn? En dan moet ons met die boek Openbaring sê: Ja, as God die wêreld bestuur, dan kan dinge gou gebeur. Dan kan daar vinnig veranderinge kom.

Weereens, dit beteken nog steeds nie dat 'n mens met die boek Openbaring, as jy maar genoeg daarin studeer, sekere gebeurtenisse van vandag kan voorspel nie. Dat jy datums en feite op 'n ry kry. Vergeet daarvan. Dit kry uitsluitlik dwaalprofete reg. Hulle kan(as jy daarin glo) vir elkeen en almal glashard bewys die en die gebeurtenis, kyk daar en daar staan dit. Hoe groter sekerheid, hoe groter dwaalprofeet! Nee die boek Openbaring leer ons nie om feite uit te ken nie, maar leer ons om gelowig God se hand in die geskiedenis te volg.

Die boek is nie vir die kennisjagters nie maar vir die gelowige in Jesus Christus. Hy sal hom deur die gesag waarmee die boek Openbaring gepresenteer word, laat lei.

Johannes getuig, hier is die Woord van God. Hy het dit aan Jesus Christus bekendgemaak, en Jesus Christus het weer 'n engel gebruik om deur Johannes dit te laat opskryf. Wat ek gesien het, het ek gesien, en ek skryf dit met groot vrymoedigheid op. God is my getuie, dat hier betroubare openbaring is.

3. DIE SALIGSPREKING BY DIE OPENBARING.

Salig is hy wat die woorde van die profesie lees. Johannes mag met goddelike gesag hierdie saligspreking aan ons almal rig.

Julle kan gelukgewens word as julle deur hierdie profetiese woord, julle die oë laat oopmaak, julle denke laat stimuleer, julle gemoed ondersteun.

Want dan kan jy altyd verder.

Bewaar wat hier geskrywe is. Dit beteken: as jy dit eenmaal gehoor het, hou dit vas! Klamp jou daaraan vas, want die tyd is naby! Ook hierdie laaste waarskuwing moet ons nie lees as, sou dit nog slegs 'n kwessie van jare wees nie. (Johannes ontvang Openbaring 95 na Christus). Maar dit is eerder 'n waarskuwing om steeds op jou hoede te wees. Christus is besig om te kom. Hy was dit in die jaar 95. Hy is dit in die jaar l99O. Die tyd is nie ver nie. Maar die tyd is hier. Die Here Jesus stel sy gemeente midde in die wêreld met 'n waarskuwing. Waak dan, want jy weet nog die tyd, nog die uur. 'n Gelowige gemeente leef altyd in die verwagting van die koms van haar Heer. 'n Bruid leef mos toe na die dag van die bruilof. Die dag van die groot en feestelike ontmoeting met die bruidegom.

Wel, 'n bruid wat haar bruidegom werklik verwag, kan inderdaad gelukkig geprys word.

Want in die verwagting beleef sy reeds die vreugde van sy koms. In die verwagting is sy ook getroos as die tyd lank en die lewe swaar word. Want sy het die belofte van die bruidegom: Ek kom. Ja, ek kom gou!

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)