God roep sy geliefdes op tot die stryd teen losbandigheid

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Judas 1
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JUDAS VS 20-23

LITURGIE:
Votum en seëngroet
SB. 33: 1
Wetslesing
SB. 33: 3
Gebed
L. Die brief van Judas
SB. 28: 1, 4
Prediking
Ps. 97: 2, 6
Gebed
Kollekte
Ps. 119: 17, 49
Seën

Gemeente van die Here Jesus Christus,

Ons het nog 'n keer die hele brief van Judas saam gelees.

Is u ook, nes ek, weer getref deur die felle, hartstogtelike toon waarin hierdie briefie geskrywe is?

Hier is 'n dienskneg van Jesus Christus aan die woord wat die gemeente van sy Here in gevaar gesien het en toe oombliklik alarm gemaak het.

Toe hy agtergekom het hoedat 'n losbandige lewenstyl in 'n skynheilige vermomming in die kerk ingesluip het, het hy dadelik na die pen gegryp en in nie onduidelike bewoordinge 'n waarskuwingsbrief geskrywe.

Hy moes ingryp en die kwaad ontmasker voor dit onherstelbare skade sou aangerig het. Sy broeders en susters moes gewaarsku word.

So het hierdie briefie ontstaan.

En ons Here in die hemel het ook hierdie hartstogtelike briefie vir sy kerk van alle eeue in die Bybel laat opneem. Sodat sy kerk telkens weer daardeur gewaarsku en tot die stryd teen losbandigheid opgeroep sou word; sodat ook ons vandag nog daardeur aangespoor sou word om alle skynheiligheid in die kerk te vermy en te bestry.

Ja, broeders en susters, want ons kan hierdie briefie nie hanteer as buitestaanders, as belangstellende lesers uit later eeue wat met verwondering lees hoe daardie Judas eendag teen dwaalleer te kere gegaan het nie.

Judas was tenslotte nie meer as 'n generaal agter sy lessenaar toe hy hierdie briefie geskryf het nie. Hy het maar net die kerkvolk gealarmeer, gemobiliseer en tot die stryd geïnstrueer.

Maar toe het die Heilige Gees sy brief tot 'n middel gemaak waardeur God gedurigdeur sy volk tot die stryd oproep om hul heil veilig te stel.

Ons moet met Judas se brief aan die werk spring. Ons moet, gewapen met sy waarskuwing, nog steeds die stryd aanbind so dikwels daar weer mense in die kerk insluip wat God se genade in losbandigheid wil verander.

Wat moet ons dan doen? Hoe moet ons die stryd stry?

Wel, dit vertel Judas in die verse wat vanoggend ons teks vorm. Nadat hy eers uitvoerig die gevaar aangewys het, reik hy nou die wapens aan waarmee ons die gevaar kan weerstaan.

Kom ons luister nou saam daarna.

Ek het die inhoud van ons teksverse so saamgevat:

GOD ROEP SY GELIEFDES OP TOT DIE STRYD TEEN LOSBANDIGHEID

ONS MOET DAARVOOR

  1. SELF BINNE DIE VEILIGHEIDSONE VAN GOD SE LIEFDE BLY
  2. DIE WAT WEGGLY BINNE HIERDIE VEILIGHEIDSONE PROBEER TERUGKRY

1. "Geliefdes" - dit is die aanspreektitel wat Judas tot drie keer toe vir die lesers van sy brief gebruik. U kry dit, behalwe in ons teks (vs 20) ook in vs 3 en, net bo ons teks, in vs 17.

Verstaan u nog die geweldige betekenis van daardie woord, broeders en susters?

Daardie aanspraak - "Geliefdes!" - ken ons veral as 'n effens plegtig klinkende woord waarmee (dikwels ouere) predikante in hul preke die gemeente aangespreek het en nog wel aanspreek.

Ons ouer broeders en susters het dit in hul lewe waarskynlik so dikwels gehoor

dat hulle die klank van daardie woord miskien glad nie meer hoor nie.

En vir die jonger broeders en susters, vir die jeug klink daardie plegtige woord waarskynlik maar net afstandelik en hoogdrawend: 'n tipiese domineeswoord.

Nogtans is die woord "Geliefdes" 'n pragtige aanspraak vir ons almal in die kerk, jonk en oud.

Want dit sê presies wat ons ís, wat ons mág wees: God het ons lief!

Die almagtige God, die Skepper van die hemel en die aarde, die heilige God, het ons, sondige mensies, lief.

Ten spyte van al ons liefdeloosheid teenoor Hom, het Hy ons so lief dat Hy selfs sy eie Seun in die hemel nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het om ons deur Hom te red. En deur daardie Seun wil Hy nou ook ten volle óns Vader wees en mag ons sy geliefde kinders en erfgename wees.

Daaraan dink Judas en daaraan wil Hy ons baie nadruklik herinner wanneer Hy ons in sy brief 'n paar keer as "Geliefdes" aanspreek. Ons leef mos van God se liefde? Hy wil hê ons moet baie mooi bewus bly daarvan.

Want dit was presies die wortel van die kwaad wat Judas in die kerk sien insluip het: daardie mense het God se liefde nie meer raakgesien nie!

U onthou: die mense waarteen Judas waarsku, het die mond vol gehad van God se genade en ons verlossing deur Jesus Christus, oor die nuwe lewe deur die opstanding uit die dood en so meer. Hulle het gejubel oor die christelike vryheid waarin ons nou mag lewe.

Maar al daardie mooi woorde was by hulle ewesoveel verskonings om 'n losbandige lewe te kan lei. Die nuwe lewe het by hulle 'n wêreldse lewe geword. Hulle was dan verloste mense! Wie kan dan nog jou lewe aan bande lê?

Maar wat het hulle so laat praat? Hoekom het hierdie mense so 'n snaakse draai aan God se genade gegee?

Judas het dit saamgevat in vs 16: dit het alles begin met gekla en ontevredenheid oor hul lot. Hulle was nie bly en dankbaar oor die genade waarvan God se kinders mag leef nie. Die lewe met die HERE, die lewe in die kerk het vir hulle te eng gevoel. Pleks van dat hulle die ene verwondering was dat hulle in die kerk móg lewe, het hulle elke dag ontevrede teen hulself gesê: in die kerk word jou lewe doodgedruk deur reëltjies en bepalinkies. Daar moet alles presies so en nie anders nie. Wettisisties! Daar hou almal jou fyn dop of jy wel netjies in die gareel loop. Daar meen 'n klompie manne wat toevallig in die kerkraad gekies is, dat hulle jou die wet mag voorskrywe.

En dus het hulle die ruimte gesoek om uit die band te kan spring. Hulle het met vroomklinkende praatjies oor christelike vryheid, en met 'n skynheilige houding die lewe met die Here weer ingeruil vir 'n meer wêreldse lewensstyl.

Hierdie mense het egter nooit regtig verstaan wat God se genade inhou nie. Hulle het God se liefde daarin nooit herken nie.

Die woord "genade" herinner ons mos allereers daaraan dat ons sónder God g'n dag, ja g'n sekonde kan lewe nie.

Ons het dit wel geprobeer: daar was 'n dag toe die mens as gevolg van die aanhitsing van die duiwel die bande waarmee God ons aan Hom gebind het, verbreek het. Toe al het die mens vir 'n bandelose lewe gekies. 'n Lewe waarin hy kon maak soos hy dit self wou.

Daardie dag het egter ons dood geword. Ons het met daardie keuse vir meer vryheid, los van God, onsself juis slawe gemaak, slawe van die sonde en die dood. Ons het ons lewe vergooi en ons die ewige dood op die hals gehaal.

Ons kán nie sonder God lewe nie! U kan dit orals om u heen sien. Die lewe van bandeloosheid blom wel 'n rukkie en lyk iets wonderliks te wees, maar dit is meestal maar van korte duur en daarna bly 'n ontluisterde mens agter: die begin van die hel!

Die HERE het egter aan bandelose mense genade bewys. Met bande van liefde het Hy ons na Hom toe teruggetrek. Hoewel ons dit nie meer verdien het nie, het Hy in Christus 'n nuwe lewe met Hom vir ons moontlik gemaak. Mense met die dood voor oë mag weer erfgename van die ewige lewe wees.

Vir dié wat dít besef- vir dié wat God se groot liefde in hierdie genade gevoel het, voel die bande van die herstelde verbond met God glad nie benouend nie. Inteendeel: dié voel weer tuis by God en in sy kerk en dié begeer maar net om hom elke dag in God se liefde te mag koester. Dié soek ook nie langer die ruimte om sy eie begeertes te kan uitleef nie, maar dié soek om in alles aan Gód se begeertes te beantwoord; die wil maar net een ding: God se oneindige liefde met wederliefde beantwoord

Dis dié dat Judas, wanneer hy ons tot die stryd oproep teen 'n losbandige lewensstyl, juis baie nadruklik en herhaaldelik herinner aan dit wat ons uit genade mag wees: "Geliefdes".

Dis mos onmoontlik om ontevrede in die kerk te lewe? Dis mos onmoontlik om te kla oor 'n bekrompe klimaat in die kerk? Laat ons nie vergeet wat ons is nie: mense vir wie elke nuwe oggend, elke asemhaling, elke sny brood en beker water die ene genade is, 'n blyk van God se geweldige liefde wat ons nie verdien nie.

En wanneer Judas ons wil beveilig teen die gevaar wat ook óns kan verlei om afgunstig te staar na die vryheid-blyheid van die wêreld, is dít ook die eerste ding waartoe hy ons oproep: "Julle moet julleself in die liefde van God bewaar". Bly binne die veiligheidsone van God se liefde. Sorg daarvoor dat God se liefde jul lewe bly beheers! Bly vol verwondering en dankbaarheid oor die liefde waarvan julle daagliks mag lewe. Bly daarvan so deurdronge dat dit julle onbereikbaar maak vir ontevredenheid en opstandigheid en die verlange na die uitspattighede van die wêreld wat wel aantreklik lyk maar 'n mens na die ewige ondergang saamsleep.

Dis 'n belangrike aanwysing wat Judas hier gee, gemeente. Leef ons nog wel genoeg van God se liefde in die kerk? Béleef ons nog wel God se liefde in die kerk? Praat u met u kinders altyd met verwondering oor die lewe in die kerk?

Veral as ons van kleinsaf in die kerk grootgeword het, kan die lewe in die kerk, die lewe met God in die verbond sommer 'n sleur word. 'n Mens raak gewoond daaraan. En dit waaraan jy gewoond is, daaroor is jy nie meer verwonderd nie.

En dan is die gevaar lewensgroot dat ons meer kyk na die klein dingetjies waaroor 'n mens jou kan vererg in die kerk (en daar ís natuurlik talle van sulke dinge) as oor die groot liefde waarvan ons saam mag leef in die kerk.

Die gevaar is groot dat in ons gesprekke oor die kerk die kritiek 'n al hoe groter plek inneem (kritiek op die preke, kritiek op kerkraadsbesluite, kritiek op broeders en susters, kritiek allerhande bykomstighede), en die verwondering al hoe meer verstom.

Maar dan moet u nie verbaas wees as broeders en susters, as u eie kinders op 'n sekere leeftyd, skielik onverskillig raak ten opsigte van die kerk en hul heil op ander plekke gaan soek nie. Hulle het mos in die kerk God se liefde nie leer proe nie. Hulle het altyd maar kritiek gesluk. En dit het hulle weerloos gemaak teen die verleiding van 'n meer losbandige lewe.

Pleks van afbrekende kritiek moet daar by ons juis die opbou in die geloof wees. Dit wys Judas in ons teks aan as die eerste middel waardeur ons en ons kinders onbereikbaar bly vir die losbandigheid.

Ons Bybelvertaling is wat dit aanbetref nie heeltemal duidelik nie. Die verse 20 en 21 bestaan in die oorspronklike teks uit 1 hoofsin en 3 bysinne. Sal u gou saamkyk asseblief:

Die hoofsin is: "Julle moet julleself in die liefde van God bewaar"

En hoe ons dit konkreet moet doen, dit staan in die bysinne:

    eerstens deur onsself op te bou in die allerheiligste geloof;
    tweedens deur in die Heilige Gees te bid;
    en derdens deur die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe te verwag.

Die eerste ding wat ons dus moet doen is: onsself in ons geloof opbou. Of, effens anders gesê: ons moet al hoe sterker staan in die geloof. En dit beteken weer: ons moet voortdurend met die Woord van die HERE besig bly. Die verhaal van God se liefde vir sondaars wat daarin na ons toe kom, is so ryk en het so veel fasette dat ons nooit klaargelees raak nie. Hoe veel preke u ook gehoor het en hoeveel katkisasielesse julle ook ontvang het, dis nooit genoeg nie.

Geloof moet daagliks groei, gemeente. Dis ook ons jaartema hierdie jaar.

Geloof is nie 'n bepaalde basiese kennis wat 'n mens moet probeer bemeester en daarna hét jy dit nie. Geloof is 'n lewe in liefde met die HERE. En so 'n lewe moet daagliks vernuwe word, daagliks opgebou word, al hoe sterker word deur 'n voortdurende omgang met die HERE se Woord.

En hoe meer ons ons in God se Woord verdiep, hoe meer bou ons onsself op in die geloof. En saam bou ons so die gemeente op en maak haar weerbaar teen elke aanslag op God se liefde, hoe listig en verleidelik ook. Hoe beter ons saam God se liefde leer ken, hoe beter is ons in staat om weerstand te bied teen die leë lewe van die losbandigheid.

Maar hoe gemaksugtiger en onverskilliger ons word in ons Skrifstudie, hoe swakker staan ons teenoor die verleiding. Luie Bybellesers en lidmate wat geen tyd of geen lus het vir die gesamentlike Skrifondersoek, laat hulleself weerloos wegsuig uit die veiligheidsone van God se liefde en maak hulleself 'n maklike prooi vir die duiwel.

By Bybellesing behoort gebed. Dit is die tweede middel wat Judas noem: "Bid in die Heilige Gees. "

Die losbandige mense wat die gemeente afbreek ("skeuring veroorsaak") is mense "wat die Gees nie het nie", het Judas in die vers vlak voor ons teks gesê.

Hulle draai selfs bewus hul rug op die Gees en verset hulle teen Hom.

Ons moet daarenteen die Gees soék. Want die Gees bring ons op ons knieë en neem ons in ons gebede saam na ons hemelse Vader toe. En die gebed is nog 'n magtige middel om ons binne die veiligheidsone van God se liefde te hou.

Wanneer besef 'n mens mos die beste hoe groot God se liefde is? Wanneer jy voor God op jou knieë lê en Hom in die oë mag kyk. In gebed besef jy weer dat die lewe die ene genade is; dat daar buiten God geen lewe is; en dat by God alleen die lewe goed is.

Die gebed help ons om elke dag omhoog te bly kyk.

Maar as ons verslap in ons gebede, as die daaglikse gebed 'n sleur, 'n pligmatige godsdienstige ritueel word, ja, dan begin 'n mens om hom heen sien en hom vaskyk teen krapperighede in die kerk, dan begin 'n mens jou afgunstig blindstaar op die lokkende genoeëns buite die kerk. Dan ontkiem daar sommer die ontevredenheid in die hart en probeer jy wegbreek uit die al te enge bande waarmee God jou lewe wil bind.

Dié wat algaande verleer om in gebed omhoog te kyk, kan ook al hoe minder vorentoe kyk en verval tot 'n kortsigtige lewe van die een dag in die ander.

Maar die wat elke dag in gebed tot God omhoog sien, kan ewig ver vorentoe sien.

Dit is nog die derde ding waarmee Judas ons in vs 21 aanspoor om onsself by die liefde van God te bewaar.

Judas het in hierdie briefie in verskeie bewoordinge die oordeel van God moes aansê. Die laaste dag van ons geskiedenis bring egter nie net oordeel nie. Juis nie: want God het geen behae in die dood van die sondaar nie. Hy wil juis genade bewys en barmhartig wees. Daarvoor het Hy Christus in die wêreld gestuur. En as ons in sy liefde bly, mag ons die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus op daardie dag verwag. En die ewige lewe vol ewige vreugde ingaan.

Ons moet daarom ook veelvuldig vorentoe kyk. Want nou ja, die weg van die kerk ís maar smal. En God lê inderdaad ons lewe aan bande. Dis soms maar 'n moeilike stryd om uit die geloof te moet lewe. Dit is af en toe regtig nie maklik om hartlik bly en dankbaar te wees oor die lewe wat God gee nie. En wie sal ontken dat die jeug in die wêreld heelwat meer vryheid geniet as ons seuns en dogters in die kerk?

Maar ons moenie kortsigtig wees nie. Ons weet mos waarop dit eendag uitloop.

Die breë pad van die wêreld blyk dan 'n doodloopstraat te wees wat jou hel toe gebring het. Maar die smal paadjie van die kerk mond uit in die ewige vreugde van die ewige lewe. Dan word ons lewe vir altyd in die ruimte geplaas: die ruimte van die lewe met God.

Dít moet ons bly besef, gemeente. Dan voel ons vandag veilig en tevrede binne die sone van die verbond met God. Dan bestaan daar by ons glad nie die behoefte om meer vryheid te soek nie. Dan is die lewe met God vir ons genoeg. Dan kry 'n losbandige lewe hoegenaamd geen vat op ons nie.

2. Dan is ons ook in staat om ander mense, wat wel besig is om uit die veiligheidsone van God se liefde weg te gly, vas te hou en terug te trek.

Ook daartoe roep Judas ons op in ons teksverse. Ons moenie net onsself teen die gevaar beveilig nie, ons moet ook na ander, wat al klaar deur die kwaad aangetas is, omsien.

Dalk is u verbaas oor ook hierdie oproep in hierdie briefie. U het dalk uit die voorgaande die indruk gekry dat Judas die mense wat hulleself aan ontevredenheid en losbandigheid oorgegee het, klaar afgeskryf het. U het dalk verwag dat Judas 'n ketterjag wou ontketen met sy brief.

Maar dis nie die geval nie. Hy wat ons by God se genade en barmhartigheid wil bewaar, roep ons op om ook self genadig te wees, vol barmhartigheid teenoor die wat begin weggly het.

Danksy ons kan hulle miskien nog van God se ewige toorn gered word!

Daarby moet ons wel met onderskeid te werk gaan en daarmee rekening hou hoe ver iemand al weggely het.

Daar is mense wat "twyfel", sê Judas. Hulle het hulle alte maklik laat beïnvloed deur die vrome praatjies en die skynheilige houding van die voorbokke in losbandigheid. Hulle is geneig om saam te gaan. Die ongebonde lewe wat aan hulle voorgehou word, lyk vir hulle maar alte aanloklik.

Aan die ander kant stem die waarskuwing van die ampsdraers hulle tog ook elke keer weer tot nadenke. Hulle gewete spreek nog. Is dit reg om so te maak?

Hulle hink op twee gedagtes.

Ons mag nie op derglike broeders en susters neerkyk nie, gemeente. Ons mag hulle nie sommer afskryf nie. Ons mag nie onder mekaar skinder oor sulke slap lidmate wat die gemeente tot skande maak deur hul wêreldse lewensstyl nie.

"Bewys hulle barmhartigheid", sê Judas. Soos God met jou baie geduld moet hê en heelwat sondes moet vergewe, so moet jy met jou swak broeders en susters geduldig wees en hul swakheid kan verstaan.

"Barmhartigheid bewys" beteken egter nie dat ons hul doen en late maar moet verdra. Permissief moet wees.

Ons moet ons uiterste bes probeer om hulle weer binne die veiligheidsone van God se liefde terug te kry. Dan kan ons nie altyd mooi broodjies bly bak nie. Dan kan dit nodig wees dat ons hul oë hardhandig moet oopmaak vir die gevaar waaraan hulle hulself blootgestel het. Dan moet daar in duidelike bewoordinge gewaarsku word.

Ook dit kan baie barmhartig wees! Dit is mos die bewys dat jy die ander die sommer loslaat nie, maar by die lewe in God se liefde wil bewaar.

Daar is egter ook ander mense, by wie so 'n geduldige aanpak nie meer werk nie. Hulle het hulleself reeds geheel en al aan 'n losbandige lewe oorgegee en doof geword het vir waarskuwing en vermaan. Hulle is al deur die vlamme van God se oordeel ingesluit. Die vuur lek-lek al aan hulle. Die straf van Sodom en Gomorra het ook oor hulle klaar losgebrand.

'n Mens moet wel geloofsoë hê om dit raak te sien, want oënskynlik het daardie mense dit in hul lewe nog nooit so goed gehad soos nou nie.

Maar ons behoort van beter te weet.

Wat moet ons met hulle maak?

Links laat lê? Hulle op 'n groot afstand hou, om nie ook self deur hul sondes besmet te word?

Ja, ons moet vir daardie besmettingsgevaar wel op ons hoede wees. Want daardie gevaar is inderdaad nie denkbeeldig nie. Losbandige kerklede vorm 'n reële gevaar vir die res van die gemeente.

Daarom moet ons "ook die kleed wat deur die sonde bevlek is, haat", sê Judas in ons teks.

Dit is natuurlik beeldspraak. Waarskynlik het Judas een van die reinheidsreëls in die Wette van Moses in gedagte gehad. U weet mos: in geval iemand destyds om die een of ander rede onrein geword het en daarom uit God se gemeente moes padgee, het soos vanself ook sy klere onrein geword. Só onrein selfs dat ook almal wat aan daardie klere sou raak, daardeur onrein sou word.

Met daardie herinnering waarsku Judas ons om 'n duidelik afstand te bewaar tot broeders en susters wat vir 'n losbandige lewensstyl gekies het. 'n Mens kan nie meer met hulle verkeer asof daar niks aan die hand is nie; asof daar hoogstens 'n verskil van opvatting is oor bepaalde onderdele van ons lewenspraktyk. Hulle moet maar voel dat ons doodsbang is vir hul doen en late.

Maar impliseer dit dat ons hulle dus moet my soos die pes? Dat ons hulle maar aan die vuur van God se oordeel moet oorgee? Hulle as brandhout moet beskou?

Nee, selfs dan moet ons nog 'n laaste poging doen om hulle binne die veiligheidsone van God se liefde terug te kry.

Wanneer dit al so ver gekom het, kan ons egter nie meer volstaan met waarskuwings en geduldige pogings om die oë oop te maak nie. Die tyd het aangebreek dat daar ingegryp moet word.

Aan iemand wat hom in 'n brandende huis bevind, skryf jy geen briefies om hom te waarsku nie. Jy gaan ook nie staan en geduldig uiteensit watter gevare 'n mens soal bedreig as daar brand is nie. Jy gaan nie eers soebat of hy asseblief na buite toe wil kom nie. Jy gryp eenvoudig in, en as dit nodig is, lê jy hom oor jou skouer om hom betyds aan die moordende vuur te ontruk.

Hoe veel te meer moet ons dan so maak as iemand in die ewige vuur van God dreig te verbrand.

Ruk hulle daaruit, sê Judas. Met vrees. Julle weet mos dat onse God 'n verterende vuur is. Laat daardie vrees julle dryf om tot die uiterste te gaan om jul broeders en susters te red. Moenie aarsel om die tug toe te pas nie. Moenie bang wees om harde woorde te gebruik nie. Dwing hulle om radikaal te kies: vir of teen God. Voordat dit te laat is.

Bring u hierdie aansporing van Judas in vs 22 en 23 nog wel in praktyk, broeders en susters? Ek sou sommer 'n lysie name aan u kon voorhou van lidmate, jong mense ook, wat ons al 'n hele ruk nie meer in ons eredienste sien nie, waarvan party al ver weggegly het na die wêreld toe. En ek is seker: u weet self ook wel van hulle. Maar wie van u, behalwe die ouderlinge, is besig om hulle te probeer terugkry?

Miskien moet u almal vandag nog by die huis 'n slag in ons Handboekie kyk en nagaan watter lidmate ekstra aandag benodig. En dan nog hierdie week soontoe gaan! Opbel. Of 'n brief skryf.

Ons ken mos die wonder van God se liefde. Maar juis daarom behoort ons ook die gevaar van sy toorn te ken. Maar dan moet ons mekaar tog vir daardie toorn bewaar? AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)