In die verlede lê die hede, bowendien die dag wat kom

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
Judas 1
Preek Inhoud: 

PREEK 00R JUDAS VS 5-10

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 106: 1, 2
Wetslesing
Ps. 106: 20
L. 2 Pet 2
Gebed
Kollekte
Ps. 106: 7, 10, 11
Prediking
Ps. 73: 12
Gebed
Ps. 21: 6, 9
Seën

Broeders en susters,

Judas was 'n man wat sy Bybelse geskiedenis geken het! U sal dit moet saamstem.

Hy noem die een feit uit die geskiedenis na die ander om sy betoog te onderstreep: Israel se omswerwinge in die woestyn, die ondergang van Sodom en Gomorra, Kaïn se geskiedenis, die gebeurtenisse met Bileam....

Judas ken selfs feite waarvan ons nie eers geweet het nie. Feite wat nie eers in die Bybel staan nie. Soos die verhaal oor die aartsengel Migaël wat met die duiwel gestry het oor die liggaam van Moses nadat Moses dood is op die Nebo berg. En ook daardie profesie van Henog, vs 14. Blykbaar het Judas daarvan geweet deur die oorlewering van geslag op geslag binne God se volk.

Maar wanneer Judas in hierdie kort briefie soveel gegewens uit die geskiedenis van God se volk op papier sit, doen hy dit nie om met sy geleerdheid te spog nie. Hy probeer nie interessant doen met sy kennis van die historie nie.

Hy herinner sy broeders en susters maar net aan dit wat hulle almal behoort te weet. Kyk maar vs 5!

Kennis van die kerkgeskiedenis kan nie 'n stokperdjie van enkelinge in die kerk wees nie. Die geskiedenis van God se volk moet al aan die kinders in die kleuter- en laerskool vertel word. Katkisante moet moet dit leer, die jeug moet dit saam bespreek tydens die verenigingsaande, dit moet 'n gereelde plek kry op die rooster van 'n manne- of vrouevereniging of 'n Bybelkring.

Want insig in die verlede is nodig vir die hele gemeente om in die hede te kan verstaan wat aangaan. En om te weet wat ons in die toekoms kan verwag.

Dis dié dat Judas in hierdie briefie met sy lesers weereens terugkyk na 'n hele paar gebeurtenisse in die verlede. Hy wil sy broeders en susters met die kennis van die verlede bewapen vir hul stryd in die hede. Hy wil hulle met die oog op die toekoms by Christus vashou.

Ek het, met 'n kleine variasie op 'n ou gesegde, die boodskap van ons teksverse daarom so saamgevat:

IN DIE VERLEDE LÊ DIE HEDE, BOWENDIEN DIE DAG WAT KOM.

WANT SO DIKWELS AS WAT DIE KWAAD IN DIE KERK BINNESLUIP LEER ONS UIT DIE VERLEDE:

  1. DIE AARD DAARVAN VERSTAAN
  2. DIE STRAF DAAROP VERWAG

1. U onthou natuurlik uit verlede week se preek, gemeente, altans as u toe hier kon wees, dat Judas hom genoodsaak gevoel het om in hierdie briefie die noodklok te lui. Daar het naamlik "sekere mense" met 'n verkeerde leer wat die hele lewe beïnvloed, in die kerk ingesluip.

Mense wat "die genade van onse God in ongebondenheid verander. " So het Judas hulle in vs 4 getipeer.

Blykbaar het hulle hulself en hul broeders en susters wysgemaak dat dít die groot "genade" van God oor ons lewe is, dat Hy ons nie langer pla met allerhande gebooie en verbooie nie. Ons mag, noudat Christus ons van alle bande verlos het, vry en bly geniet van enige ding waarin ons lus het.

En ons kry uit die vervolg van die brief ook wel 'n bietjie 'n indruk daarvan hoe hulle hierdie visie in praktyk gebring het: seksuele uitspattighede, drankmisbruik, ens. Kyk vs 10: hulle laat hulle, soos diere, eenvoudig instinktief deur hul begeertes lei. Hulle lei 'n beesagtige lewe.

Dat dít egter nooit die lewe kan wees wat God vir sy kinders bedoel het nie, wil Judas nou vanaf vs 5, ons teksverse, probeer duidelik maak aan sy lesers. En daarom gryp hy terug op die geskiedenis.

Dié wat die ou geskiedenisse ken, sal ontdek dat daar niks nuuts onder die son is nie; dat die ou kwaad maar net in 'n nuwe gewaad weer in die kerk binnegesluip het.

Die ou verhale kan die goddeloosheid van hierdie mense met hul nuwe lewensvisie ontmasker.

As daar mense met "nuwe" sienings kom, moet ons altyd op ons oppassens wees. Dan moet ons daardie nuwe visie direk toets aan die ou waarheid wat "eenmaal" aan ons oorgelewer is.

Het u gesien, broeders en susters, dat Judas twee maal nadruklik daardie woordjie "eenmaal" gebruik? Eers in vs 3, en weereens in ons eerste teksvers, vs 5. Judas bedoel: dit wat deur Christus se profete en apostels aan ons oorgedra is, en wat inmiddels in die heilige Skrifte vasgelê is, is eens en vir altyd genoeg. Daaruit kan ons duidelik genoeg weet Wie God is en wat Hy van ons vra.

As daar dus mense kom met idees wat daarmee nie in ooreenstemming is nie, kan dit nooit 'n waardevolle aanvulling by die apostoliese onderrig wees nie, maar is dit altyd 'n gevaarlike afwyking daarvan.

So is dit ook met daardie mense waarteen Judas sy broeders en susters moet waarsku. Hulle kom met vroomklinkende verleidelike praatjies. Maar Judas kan sommer 'n hele paar voorbeelde uit die geskiedenis van God se volk ophaal om hul in hul ware aard te ontmasker.

'n Bietjie kennis van die historie kan jou leer dat hierdie mense byvoorbeeld weer in dieselfde sonde verval het as Israel eendag na die bevryding uit Egipte (vs 5); en as die engele wat na verloop van tyd teen God in opstand gekom het (vs 6); en as Sodom en Gomorra met hul seksuele verwording (vs 7).

Ek wil u vra om nog 'n oomblik met my na die opbou van ons teksverse te kyk, gemeente. Vs 8 is naamlik 'n sentrale vers in hierdie gedeelte. Want in hierdie vers gee Judas nog 'n keer 'n algemene tipering van die kwaad soos hy dit raakgesien het in die lewensspraktyk van die mense teen wie hy moet waarsku.

Maar hy wys in hierdie vers tegelyk die opvallende ooreenkom aan met daardie drie voorbeelde uit die historie wat hy so pas opgehaal het.

Die woordjie "Tog" waarmee in die Ou Vertaling vs 8 begin, is nie reg nie. Die Nuwe vertaling het baie beter: "En nou is dit met hierdie mense net so. "

Daar egter nog 'n tweede ding waarop u in vs 8 moet let: wanneer Judas sy geskiedenisvoorbeelde in 'n paar kernagtige tiperings saamvat en op die losbandige mense in sy eie tyd toepas, doen hy dit in presies die omgekeerde volgorde:

    eerste vat hy die sedelike klimaat in Sodom en Gomorra saam: die mense daar het die vlees besoedel;
    vervolgens omskryf hy die sonde van die opstandige engele met die woorde: hulle verag die heerskappy;
    en laastens tipeer hy Israel se sonde in die woestyn na die uittog uit Egipte as: 'n lastering van gesagsdraers.

Oor hierdie laaste tipering stem die uitleggers nie almal saam nie. Want wie is bedoel met die "heerlike wesens" soos die Ou Vertaling hulle noem?

Daar is verklaarders wat meen ons moet hier aan God se goeie engele dink. Dis dié dat die nuwe Vertaling hier gekies het vir die woord "hemelwesens"

Die oorspronklike Griekse woord beteken egter eintlik: alles wat van God gewig, eer, aansien ontvang het. 'n Mens kán dit sê van die engele. Maar dit kan ewe goed gesê word van mense wat deur God met gesag beklee is. En in die verband waarin Judas hierdie woord gebruik, is dit die aanneemlikste om gewoon aan mense te dink. Konkreet: aan mense soos Moses en Aäron wat deur God se ontevrede volk in die woestyntyd meer as een keer lelik belaster is.

Want kom ons kyk nou 'n bietjie noukeuriger na die drie gebeurtenisse uit die verlede waarmee Judas die kwaad in die kerk in die hede in sy ware aard aan die kaak stel.

En ons neem vanuit vs 8 die volgorde nou ook maar agterstevoor.

Almal ken die geskiedenis van Sodom en Gomorra en die stede daaromheen. 'n Duideliker voorbeeld van bandeloosheid is daar in die Bybel nie te vinde nie. Die mense daarso het hulle massaal van hul God en Skepper afgekeer en alle remme losgegooi. Hulle was nie tevrede met die norme waaraan Gods die lewe van die mens gebind het nie. Daardie bande het te strak gevoel.

Waartoe dit lei het ook nêrens duideliker sigbaar geword as in Sodom nie. Mense word inderdaad soos diere wat hul drange wil uitleef. Die liefdesverkeer van man en vrou in 'n lewenslange trouverbond het verdwyn en die manne van Sodom het in wellus teenoor mekaar ontbrand. Maar ook dit het op die ou end nie meer genoeg bevrediging gegee nie. So gou daar ander vlees in die stad opgemerk is, het almal daarop afgegaan en dit opgeëis om hul seksuele speletjies daarmee te speel. Dit het die twee engele wat in mensgedaante in Lot se huis gekom het, ervaar. Nuwe manne is as nuwe plesier beskou en as Lot nie goedskiks wou saamspeel nie, sou hulle wel kwaadskiks hul sin deurdryf.

Die ander voorbeeld wat Judas noem, is minder bekend: die opstand van 'n deel van die engele. Die Bybel vertel maar min daaroor. Dit wat Judas hier vertel is eintlik alles wat ons in die Bybel oor die rewolusie van die engele te hore kry.

Maar dit is genoeg om daaruit 'n leersame les te kan leer. Want toe al, nog heeltemal aan die begin van die geskiedenis van die hemel en die aarde, was daar skepsele van God wat nie tevrede was met die grense waarbinne God die lewe gereël het nie. Verskeie engele (ons weet: onder aanvoering van die Duiwel) was nie meer tevrede met die oorspronklike posisie wat God aan hulle in sy skepping gegee het nie.

Die Ou Vertaling vertaal effens moeilik: "hulle het hul eie beginsel nie bewaar nie". Die Nuwe Vertaling is baie duideliker en beter: hierdie engele "het hulle nie binne hul eie magsgebied gehou nie, maar hul aangewese woonplek verlaat. "

Hulle mog dag in dag uit in God se nabyheid verkeer, Hom op sy wenke bedien.

Maar hulle het hierdie hoë status benede hul stand geag. Hul eie terrein het vir hulle te klein gevoel. Hulle wou nie so gebind wees nie maar meer ongebonde kan beweeg. En toe het hulle in opstand gekom en hul aan God se gesag probeer ontworstel. Hulle het God se gesag bo hulle verag. Hulle wou nie langer by God woon en en vir Hom werk nie, maar het brutaal uit sy huis uit weggeloop.

En dan is daar derdens die voorbeeld van die volk Israel na die bevryding uit Egipte.

Na eeuelange slawerny mog hulle in vryheid met God saamgaan na die beloofde land Kanaän toe. Maar hul vryheid is wel dadelik aan bepaalde bande gelê. "Laat my volk trek, sodat hulle My kan dien", moes Moses uit die staanspoor vir die Farao sê. God wou Israel vry kry om hierdie volk weer vir Hom te laat lewe. Volgens sy ou paradysnorme. Gebonde met die bande van die verbond.

Maar daardie bande het vir Israel te strak gevoel. Hulle wou telkens uit die band spring. Pleks dat hulle die ene verwondering was oor God se genade oor hul lewe, was hulle aanhoudend ontevrede en opstandig.

En dan moes God se knegte wat deur hom met gesag en heerlikheid beklee was, Moses en Aäron, dit ontgeld! Hulle is belaster oor die pad waarop hulle die volk in opdrag van God saamgeneem het. Hulle is beskimp omdat hulle die lewe veels te veel aan bande gelê het.

'n Dieptepunt daarby was wel die opstand en laster van Korag, Datan en Abiram. Brutaal het hulle geweier om nog langer na Moses te luister. "Is dit nie genoeg dat jy ons uit 'n land wat oorloop van melk en heuning (so praat hulle nota bene oor Egipte!) laat optrek het om ons in die woestyn om te bring, dat jy ook gedurig oor ons wil baasspeel nie? " het hulle gesê.

Hulle aanvaar nie langer die gesag van ander oor hulle nie. "Die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hul midde" was hul redenering. "Waarom verhef julle, Moses en Aäron, jul dan oor die vergadering van die HERE? ".

So het hulle hul verset teen die manne wat God self oor hul gestel het om hul by die vrygemaakte lewe met Hom te bewaar en na 'n heerlike toekoms saam te neem.

Hoe verregaand hierdie laster was, onderstreep Judas in ons teks met nog 'n ekstra voorbeeld uit die geskiedenis. In vs 9 van ons teks. Daardie woordestryd tussen die aartsengel Migael en die duiwel oor Moses se liggaam.

Dit het blykbaar plaasgevind nadat Moses op die Nebo berg dood is, nadat hy in voëlvlug die land Kanaän mog sien. Wat het gebeur? Wou die duiwel Moses se liggaam hê? Wat wou hy daarmee maak?

Ons weet oor daardie woordestryd egter nie meer as wat hier in Judas se brief staan nie. Dus gaan ons ook nie te veel raai nie.

Want dit wat Judas met hierdie geskiedenis wil duidelik maak, daarna hoef ons nie te raai nie: terwyl daardie goddelose Korag met sy bende brutaal in opstand teen Moses en Aäron gekom en hul gesag belaster het, het die hoë en gesaghebbende engel Migael dit nie eers gewaag om nota bene die duíwel oor sy slégte optrede te belaster en te veroordeel nie, maar hy het dit aan die HERE oorgelaat om die duiwel te bestraf.

Hoe 'n kontras!

Migael wys hoe die HERE dit wil hê: God het alle lewe in die hemel en op aarde aan grense gebind en jy behoort die ruimte waarbinne die HERE jou 'n plek aangewys het, te eerbiedig. Slegs dan bly die lewe goed. Geen grensoorskryding en ongebondenheid nie.

Nou ja, broeders en susters, is dit nie die rooi draad wat deur al die geskiedenisvoorbeelde wat Judas opgehaal het, loop nie?

Waarom het dit heeltemal verkeerd gegaan met Israel in die woestyn? Waarom het goeie engele bose geeste geword? Hoe het pragtige stede soos Sodom en Gomorra, wat soos die tuin van Eden gelyk het, so vol beesagtige sondes geraak?

Dit gebeur as mense, of engele, die plek wat hulle uit genade in God se wêreld mag inneem, te bekrompe vind en die bande losser wil maak. As skepsele hulle nie aan God se gesag wil onderwerp nie en as hulle sy gesagsdraers verwerp. As skepsele al hoe meer hul eie kop wil volg in 'n losbandige lewe. As hulle so vry wil wees dat hulle 'n slaaf van hul eie begeertes word.

Dít het Judas vir die soveelste keer sien gebeur in sy dae. Dit het gelyk asof Sodom opnuut opgebou is, asof die gevange slegte engele weer ontsnap het en asof die Israeliete wat in die woestyn omgekom het, weer uit die dood opgestaan het.

Dít kan vandag steeds gebeur, gemeente! Dit gebeur as ons nie verstaan dat die Here Jesus Christus ons maar net op ons plek kom terugsit het nie. Hy het ons vrygekoop uit die heerskappy van die dood, nie om ons voortaan ons eie gang te laat gaan nie, maar om ons lewe weer aan God se goeie gebooie te bind.

As ons dit egter nie insien nie, as ons die band van God se gebooie as knellend ervaar, as ons die verkeerde hartstogte en begeertes in ons lewe nie aan bande wil laat lê nie, as ons die lewe in die kerk maar bekrompe vind, as ons die ampsdraers maar lastig vind met hul waarskuwende preke en vermaanbesoeke, dan kies ons vir dieselfde pad as die duiwel met sy ontevrede engele, as Israel na die uittog uit Egipte, en as Sodom en Gomorra.

Dan sal ons miskien aanvanklik nog met 'n skynberoep op die Bybel allerhande losbandigheid probeer verdedig:

  • "'n mens kan die liefde tussen twee mense van dieselfde geslag wat nou maar eenmaal geen aantrekkingskrag tot die ander geslag voel nie, tog nie verbied nie? Die liefde is dan die grootste gebod in die Bybel!
  • Dit staan tog nêrens in die Bybel dat jongmense wat van mekaar hou en van plan is om te trou, nie mag saamslaap nie?
  • Hoekom mag ons nie dans nie? Dawid het mos ook gedans voor die ark?
  • wat is so verkeerd met fliek en disko? Ons is tog mondig genoeg om met onderskeiding daarvan gebruik te maak? "
  • Ensovoorts.

Dit begin meestal versigtig. Dit lyk nog onskuldig. Maar die geskiedenis het keer op keer gewys wat die einde is: 'n lewe soos in Sodom.

En dan sal die straf ook soos Sodom wees!

2. Want as u nou nog 'n keer kyk na die drie geskiedenisvoorbeelde wat Judas opgehaal het, sal u sien dat dit drie voorbeelde is waar ook duidelik geblyk het dat God die kwaad nie ongestraf laat bly nie.

Immers, wat het met al die Israeliete gebeur wat tydens die woestynreis teen God en sy gesalfdes in opstand gekom het? Al het die HERE hulle aanvanklik ook verlos uit die dood in Egipteland, het Hy nie geaarsel om hulle in tweede instansie 'n verskriklike dood te laat sterwe in die woestyn nie: deur 'n plaag, deur giftige slange, en deur daardie Korag en sy bende lewend in hul graf te laat neerdaal, toe Hy die aarde laat skeur en hulle met hul tente en besittings deur die aarde laat opsluk het.

En wat het met die opstandige en ontevrede engele gebeur? Hulle is uit die hemel verwyder om nooit meer daar te mag terugkeer nie. Ja, hulle kry nog die kans om vandag die lewe op aarde op talle maniere te beskadig en te bemoeilik. Maar hulle kán ook nie meer anders nie. Hulle moet verwoes en haat. Hulle is vasgevang in die duisternis. En hul lot is klaar beseël. Hulle is reeds met kettings gebind. God laat die kettings vandag soms nog wel 'n ver end skiet. Maar die dag kom dat hulle vir ewig geoordeel sal word.

Nou ja, en wat met Sodom en Gomorra gebeur het, hoef ek nie vir u te vertel nie. Dit weet selfs die kinders. Party kinders was selfs al op daardie plek. Jy kan vandag nog sien wat van Sodom en Gomorra oorgebly het. 'n Woesteny van swawel en sout waar omtrent niks wil groei nie, en 'n dam wat tereg die Dooie See genoem word.

Ek was self nog nooit daar nie, maar ek het gelees dat die hitte daar so groot is dat daar nog aanhoudend 'n wolk van waterdamp uit die Dooie See opstyg wat 'n mens laat dink aan die rooksuil wat Abraham op die dag van Sodom se verwoesting sien opstyg het.

So lê die oorblyfsel van daardie goddelose stede steeds daar as 'n toonbeeld van wat gebeur as God se norme oorboord gesit word. Die verskrikking van die ewige vuur is daar sigbaar en tasbaar!

Nogtans is daar steeds mense wat hulle nie laat waarsku nie!

Dis dié dat Judas in vs 8 van dromers praat. Sommige uitleggers meen wel dat die mense teen wie Judas hom in sy briefie keer, hulle op drome en visioene wat hulle van God sou ontvang het, beroep het. Maar daardie verklaring is taamlik vergesog. Judas se woordkeuse laat ons maar net dink aan mense wat nie meer nugter en wakker in die werklikheid van God se wêreld staan nie.

Judas bedoel iets dergliks as hy in vs 10 sê dat hierdie mense alles belaster "wat hulle nie ken nie". Hulle loop in God se wêreld met toe oë rond.

Hulle het hulleself met hul vroomklinkende praatjies in slaap gewieg en besef nie hoe laat dit is nie.

Hulle laat hulle selfs deur al die waarskuwende voorbeelde uit die Bybel nie meer wakker skud nie.

Maar hul mooie droom sal eindig in 'n nagmerrie!

Dié dag wanneer God self hulle wreed wakker skud.

Want soos Hy was teenoor sy opstandige engele, en teenoor ondankbare Israeliete, en teen 'n normlose Sodom, is Hy steeds en sal Hy altyd wees.

Dit is die waarskuwing waarmee Judas in sy briefie die noodklok lui.

Die wat God se genade in ongebondenheid verander, word genade-loos gestraf.

Dié wat normloos en bandeloos wil leef, sal God-deloos eindig: sonder God.

Dié wat beesagtig leef, sal beesagtig sterwe. Kyk vs. 10.

Ek besef: dit is 'n indringende en amper vreesaanjaende einde van my preek.

Maar u verstaan tog dat hierdie waarskuwing klink, juis om u so 'n vreeslike einde te bespaar, en om u by Christus te bewaar?

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)