Polemiek is 'n moet!

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Judas 1
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JUDAS 3, 4

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 101: 1-3
Wetslesing
Ps. 101: 4-6
Gebed
L. Judas
Prediking
Ps. 141: 4, 5, 6
Bevestiging van 'n ouderling: SB.49: 3-6
Doop: SB.14: 1
Gebed
Kollekte
Ps. 119: 17, 49
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Kort maar kragtig.

So sou ons die brief van Judas kan tipeer.

Is dit nie verstommend hoe daardie man sy teenstanders slegsê nie?

Skokkend hoeveel krasse uitdrukkings daardie man op een bladsy bymekaar gesit het. Hoor hoe noem hy hulle: hulle is soos "redelose diere, skandvlekke, waterlose wolke, bome sonder vrugte, woeste golwe van die see, dwaalsterre, ensovoorts, ensovoorts. "

Sonder om te aarsel plaas Judas die mense teen wie hy wil waarsku op een lyn met die afvallige engele, Sodom en Gomorra, Kaïn, Bileam.... En hy voorspel hulle die donkerheid van die ewige duisternis. Met ander woorde: die hel.

En dit betref dan mense in die kerk.

Ja, Judas rig hom hier nie tot vyande van die Evangelie buite die kerk nie. Maar hy het mense in die kerk op die oog wat steeds as broeders en susters beskou word en selfs die beste plekke inneem aan die nagmaalstafel.

Ons voel dat die toon wat Judas aanslaan selfs onbehoorlik is teenoor mense buite die kerk. Maar Judas aarsel nie om op so 'n wyse uit te vaar teen mense ín die kerk nie. In die mees kragtige bewoordings stel hy hulle aan die kaak in hierdie brief, of preek, of kerkbladartikel, of hoe hierdie brief oorspronklik ook al geskrywe is.

Weet u wat is so snaaks, gemeente? Baie mense vandag vererg hulle glad nie oor derglike krasse taal solank hulle dit in die Bybel raakloop nie. Hulle aanvaar derglike geskryf solank hulle dit by Paulus, of Petrus of Judas lees.

Maar wee jou as daar in 'n preek van hulle eie leraar of in 'n artikel in een van ons kerklike blaaie op so 'n wyse gepraat sou word. Dan is hulle die ene verontwaardiging. Dan praat hulle direk van: "onverstandig, liefdeloos, onchristelik. "

Asof alleen die apostels in die eerste tyd na Pinkster die bederf in die kerk in reguit en skokkende bewoordinge mog aanwys, maar vandag daardie reg nie meer bestaan nie. Asof die noodsaak om so te praat vandag nie meer aanwesig sou wees nie.

Asof ons vandag tot die uiterste verdraagsaam, permissief, moet wees en alleen maar vriendelike woordjies mag rondstrooi. Asof ons vandag die teenstander so veel en solank moontlik moet ontsien.

Daar is mense wat in alle opsigte afkerig is van enige vorm van stryd in die kerk; mense wat enige polemiek wil vermy.

Terloops: u ken mos daardie woord: polemiek? Daarmee bedoel ons die mondelinge of skriftelike debatvoering om die waarheid te verdedig.

Dit mag egter wees, gemeente dat Judas ook glad nie van polemiek gehou het nie. Dalk het hy hierdie briefie wel met teësin geskrywe. Maar hy moés so skrywe. Hy "het die noodsaaklikheid gevoel" skryf hy mos self. Die vyande van die Evangelie wat in sy dae in die kerk ingesluip het, het hom hiertoe gedwing.

En sy amp het hom hiertoe geroep.

En God het toe juis ook hierdie polemiekie met sy krasse bewoordinge in die Bybel laat bewaar vir sy kerk van alle eeue, om vir ons te leer dat ons in ons dae nog op presies dieselfde wyse die stryd vir die waarheid moet stry.

So leer ons uit ons teks van vanoggend:

POLEMIEK IS 'N MOET!

WANT:

  1. AS DIE GENADE VAN CHRISTUS GESEKULARISEER WORD
  2. MOET DEUR DIE KNEGTE VAN CHRISTUS WEL GEPROFETEER WORD
  3. SODAT DIE GEMEENTE VAN CHRISTUS GEMOBILISEER WORD

1. Hoekom moes Judas eintlik so heftig uitvaar, broeders en susters? Wat het hom daartoe gedwing? Of, liewer: wié het hom daartoe gedwing?

Ons kan uit vs 4 van ons teks aflei dat daar in daardie dae mense in die kerk was wat 'n losbandige lewe gelei het. Of, soos Judas dit noem: "wat die genade van onse God verander het in ongebondenheid".

Daar was mense wat uit die band gespring en hulle aan 'n ligsinnige lewe te buite gegaan het.

Judas haal hulle ten oorstaan van die hele gemeente in die kalklig.

Omstandig wys hy hulle uitspattighede aan: "hulle besoedel hul vlees" skryf hy in vs 8; "Hulle hou sonder vrees saam fees en voer daar hulleself" lees ons in vs 12.

Hy noem hulle mense wat nooit dankbaar en tevrede is nie maar altyd bly kla oor hul lot (vs 16); mense wat hulle deur hul begeertes laat lei en nooit versadig raak nie.

Hierdie mense hou daarom ook glad nie van hul ouderlinge nie. Want dié maak natuurlik aanmerkings op hul lewensstyl en dreig met tug. Maar sodoende verwerp hierdie mense eintlik die gesag van Christus self wat in die ampsdraers na hulle toe kom. Kyk vs 4: Hulle verloën eintlik die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus.

Kortom: hulle is eiewyse, ligsinnige mense.

Nou gaan ek niks probeer goedpraat nie, gemeente. 'n Derglike losbandige, wêreldse lewensstyl moet aan die kaak gestel word. Desnoods moet die tug bedien word. En dit is heeltemal verstaanbaar dat Judas nogal verontwaardig is.

Nogtans: was dit nou regtig nodig om direk teenoor die hele gemeente op hierdie wyse alarm te maak?

Dit wat daardie mense besig was om te doen, was natuurlik onaanvaarbaar. Maar moes daar daarom direk derglike taal op hulle toegepas word?

Gaan dit nie veels te ver om meteens vergelykings te maak met Sodom en Gomorra, Kaïn, en afvallige engele?

Selfs as daar tug toegepas moet word, moet ons mos steeds geduld oefen en met bewoënheid die bekering van die sondaar bly soek? Onder vier oë vermaan. Ons probeer tog tot die allerlaaste die sondaar vashou en vir sy behoud bid? !

Mag Judas daardie mense dan sommer afskryf? Mag hy die tug soos botter aan die galg beskou?

Ons vrae sou korrek wees, gemeente, as ons hier inderdaad slegs te make sou hê met 'n paar tuggevalle -hoe ernstig ook al- weens 'n onchristelike lewensstyl: mense met 'n ligsinnige karakter; mense wat die stryd teen die verkeerde begeertes van hul vlees nie kragtig wou stry nie en daarom uit swakheid telkens weer in sonde geval en ook daarin bly lê het; broeders en susters by wie die ou mens nog baasgespeel het; lidmate wat algaande na die rand van die gemeente afgegly het.

Dit is egter nie hier die geval nie.

Die kwaad wat Judas hier aanwys, betref nie net 'n verkeerde lewensstyl by sommige lidmate nie, maar 'n gevaarlik leer in die kerk. Dit gaan hier ook nie oor mense wat al hoe meer na die rand van die gemeente afgly nie. Inteendeel: hulle het juis van buite in die gemeente ingesluip, sê Judas in vs 4. Hulle sal regtig nie een of ander tyd hulle wel aan die gemeente onttrek nie. Hulle eis juis 'n vername plek op in die middel van die gemeente. Hulle wil graag 'n leiersposisie inneem.

Hierdie mense is ook nie swak in hul stryd teen hul ou mens nie, maar wys juis kragtig hul sogenaamde nuwe mens. Hulle skaam hulle nie diep in hul hart oor hul lewensstyl nie, maar hulle beroem hul juis op hul lewensstyl wat hulle selfs verdedig met 'n beroep op die Bybel!

Eiewys en selfversekerd propageer hulle tydens kuiertjies by ander lidmate hul lewensvisie.

Dít bedoel Judas as hy sê dat hulle "die genade van onse God in losbandigheid verander. "

Judas vertel nie hoe hulle presies geredeneer het nie. Maar dit is duidelik dat hulle van die kosbare woord GENADE op 'n verskiklike manier misbruik gemaak het. Blykbaar het hulle daaruit afgelei dat 'n mens gerus mag maak soos sy hartjie begeer en dat daar niks verkeerd mee is om jou aan uitspattighede te buite te gaan nie.

Dit is glad nie in stryd met die Evangelie, het hulle beweer. Dit behóórt juis by die Evangelie! Dit is juis die genade, dat God ons nie langer pla met allerhande gebode en verbode nie, maar dat ons vry en bly mag geniet van enige ding waarin ons lus is. God het ons mos deur Jesus Christus verlos uit die bande van die dood en die hele lewe weer oopgemaak vir ons! Hoekom mag ons dan nie daarvan geniet nie? Hoekom sou ons ons nie in die lewe stort nie?

Kyk, so het hulle God se genade oor sondaars tot 'n vrybrief vir 'n heeltemal wêreldse lewe gemaak. Die genade is gesekulariseer.

Die gevolg was natuurlik dat hierdie mense hul ampsdraers begin slegmaak, en hul vermanings geignoreer het. Ampsdraers lê die lewe wat deur Christus vrygemaak is, veels te veel aan bande met hul waarskuwings en vermanings elke keer.

Verstaan u nou hoe gevaarlik hierdie soort vroomklinkende teorieë vir die gemeente was? Dink net 'n bietjie aan die jéug van die kerk! Jy kan maar fliek toe gaan en seksfilms kyk. Hoekom nie disko toe gaan nie? Dit is nie eens nodig om dit skelm te doen nie. Daar is mos niks mee verkeerd nie.

Met die Evangelie in die hand is die wêreld in die kerk ingehaal.

Nou ja, toe Judas dit agtergekom het, het hy die noodklok gelui. Want Judas het toe skielik die duiwel lewensgroot in die gemeente aanwesig gesien om Christus se gemeente te verwoes. Hy het gesien hoe die duiwel slim aansluiting gesoek het by die sondige hart van die mens wat liewer 'n ánder soort van vryheid en 'n ander tipe verlossing wil hê as dit wat God in genade deur Christus aan ons gee.

Soos die duiwel al in die Paradys die vryheid waarin Adam en Mannin mog lewe, as 'n bekrompenheid voorgestel en 'n ánder "vryheid" voorgespieël het, so het het dit nou weer probeer.

Dit was duiwelswerk wat Judas gesien het: die Bybel is verdraai om met behulp van die Evangelie God se kinders weer tot die slaverny van losbandigheid te beweeg. Om hulle met vrome praatjies tot 'n wêreldse lewensstyl te verlei.

Wanneer dit so ver gekom het dat mense die wêreld in die kerk probeer insmokkel en daarby God se genade as dekmantel gebruik, het die tyd aangebreek -en dit is vandag nog presies dieselfde- om die noodklok te lui. As die duiwel op kousvoete in die gemeente probeer insluip, is die tyd verby om begripvolle en geduldige en beminlike taal te gebruik. Dan moet daar duidelikheid verskaf word. Dan moet deur 'n reguit polemiek die oë oopgemaak en en die vyand ontmasker word. Dit is eenvoudig 'n moet.

2. Judas het dit besef. Hy moés nou waarsku, maak nie saak of hy daarvan gehou het nie.

Hy sê dit self. Ons moet regtig nie dink dat Judas met plesier sy pen gevat het om 'n slag lekker daardie gevaarlike lidmate aan die skandpaal te nael nie. Moenie dink Judas het daarvan gehou om die verskriklikste dinge te sê nie. Polemiek was vir hom nie 'n plesier nie.

Glad nie.

Kyk 'n bietjie vs 3. Judas wil graag skrywe oor ons gemeenskaplike heil. Maar nou voel hy genoodsaak om 'n brief vol waarskuwing en vermaan te skrywe. Hy moet helaas oproep tot stryd.

Judas het 'n heeltemal ander artikel in sy gedagte gehad. 'n Positiewe uiteensetting oor ons gemeenskaplike rykdom in Christus. Hy het al 'n bietjie voorstudie daarvoor gedoen.

Ongetwyfeld sou dit 'n boeiende opening van die Skrifte geword het. Want Judas het die Skrifte gekén. En hy kon die pen hanteer! Dit blyk wel uit hierdie brief.

Judas was egter genoodsaak om 'n heeltemal ander artikel te skrywe. Skielik het in sy pastorie die telefoon gelui en het iemand hom op hoogte gebring van die nuutste kerklike ontwikkelinge. En toe Judas begin insien het hoe gevaarlik die situasie was, het hy sy aanvanklike plan maar laat vaar en hom sommer in die stryd gewerp. Of hy daarvan gehou het? Dit maak nie saak nie, hy kon nie anders nie.

Hy was mos 'n "dienskneg van Jesus Christus". So stel hy homself in vs 1 aan ons voor.

Ja, en dan moet u weet, broeders en susters, dat hierdie Judas, net soos die Jakobus wat hy in vs 1 noem, 'n broer van die Here Jesus was! 'n Seun van Josef en Maria, dus 'n egte halfbroer van Jesus.

Maar op daardie bloedband beroem Judas hom glad nie. Hy beroep hom nie op sy regte nie. Hy wil wel die broer van Jakobus wees. Maar saam met Jakobus is hy 'n dienskneg van Jesus Christus. En dit gee alleereers verpligtings.

Hy wat Judas is, sal nie die enige Heerser en Here verloën nie. Hy sal homself aan Hom onderwerp en homself laat gebruik in sy diens. Ook as dit beteken dat hy moet stry vir die behoud van Christus se gemeente.

Al skryf hy ook liewer vertroostende briewe, en positiewe uiteensettings, as dit moet wees sal hy ook indringend profeteer.

Ja, want dít doen Judas hier in hierdie brief, gemeente: hy profeteer.

Om te profeteer beteken nie dat jy originele, nuwe dinge moet sê nie. U moet hierdie brief maar 'n slag vergelyk met die tweede brief van Petrus. Dan kom u agter dat Judas sommer hele gedeeltes daaruit gebruik het. Hy was nie skaam daaroor nie. Hy het nou eenmaal baie haas gehad en min tyd om te besin. Daarom beroep hy hom op 'n geskrif van die apostel Petrus waarin al vroeër die dwaalgeeste waarmee hy nou die stryd moet aanbind, aangekondig was. Kyk ook maar vs 17 en 18 in Judas se brief.

Dit wat Petrus al vroeër geskryf het, kan Judas nou presies aanwys en toepas in die aktuele kerklike situasie.

Dít is profeteer: God se ou Woord spreek in die aktuele situasie.

Jy hoef nie origineel te wees nie. Jy moet wel aktueel wees. God se Woord laat skyn oor vandag se feite en ontwikkelinge en konkreet waarsku, vermaan en bemoedig.

Dan kan die toonhoogte onwillekeurig heftiger word - u kry dit orals in die Bybel, ook by die Here Jesus! - en die tiperings word raker. Die situasie dwing jou daar eenvoudig toe. Die waarheid moet reguit gesê word. Die sonde word onverbloemd aangewys.

Knegte van Christus het nie 'n keuse nie. Daar staan te veel op die spel.

So het dit met Judas gebeur. En so het dit telkens in die geskiedenis van die kerk gebeur. Het u wel eens gelees hoe skerp Luther en Calvyn kon uitvaar teen die Roomse geestelikheid en hul dwalings? 'n Buitestaander sou hom verwonder oor 'n derglike skeltaal. Maar dit was profetiese taal waartoe daardie knegte van Jesus Christus hul genoodsaak gevoel het. Want as die vlamme van 'n uitslaande brand al raas, kan 'n mens jou met gefluister nie meer verstaanbaar maak nie.

Wat het hulle dit ook vir Ds Hendrik de Cock van die dorpie Ulrum in Nederland in die begin van die vorige eeu verkwalik dat hy in 'n brosjure 2 vrysinnige kollegas in dieselfde ring "wolwe in skaapklere" genoem het. 'n Mens praat mos nie so oor jou kollegas nie!

En hoe is die polemieke van Dr K Schilder belaster omdat hy in ondubbelsinnige taal die wortels van 'n verkeerde strewe in sy dae blootgelê het met 'n blik wat deur God se Woord skerpgemaak was. Hy het maar net noodsaaklike profetiese werk gedoen as 'n dienskneg van Jesus Christus.

Dis nie altyd maklik om kneg van Jesus Christus te wees nie. En niemand kies profeteer as sy stokperdjie nie. Want dit kan jou slapelose nagte besorg en oorspanne senuwees. 'n Mens kan daardeur sy vriende verloor. Soms moet iemand sy studie waarvoor hy lus was, los.

Jy moet net maak soos die Here op daardie oomblik van jou vra. Jy moet stry vir sy gemeente. Om daardie gemeente te red.

3. Judas het Christus se geméénte in gevaar gesien. Dié moes deur hom dadelik wakkergeskud word. Almal moes gemobiliseer en tot die stryd toegerus word.

Hy het geweet sy broeders en susters is "geliefdes". Kyk maar vs 3. Gód het hierdie mense lief! En hulle is "bewaar vir Jesus Christus": vs 1.

Hierdie mense is kosbaar en dus moet alles gedoen word om hulle uit die greep van die dwaling los te ruk.

Hulle geloof wat eenmaal aan hulle oorgelewer is, word bedreig. Daar is mense wat probeer om die skat van die Evangelie van Jesus Christus te steel. En as hulle dit sou verloor, sou hulle alles kwyt wees en niks oorhou nie.

Daarom moes Judas nou die hele gemeente mobiliseer en tot die stryd oproep. Almal moet hulle bewapen teen die dwaling en dit met hand en tand beveg om die skat van die geloof te verdedig.

Moenie dat u in ons teks hier oorheen lees nie, broeders en susters.

Judas werp nie net homsélf in die stryd nie. Hy werp eintlik maar net homself in die stryd om die geméénte vir die stryd te mobiliseer.

Judas wys maar net die vyand aan. Hy maak die oë oop vir die gevaar. Hy noem nie eers name nie. Hy praat van: "sekere mense". Want dit gaan hier nie in die eerste plek oor name of persone nie, maar oor 'n verkeerde leer. Die gemeente moet die leer raaksien, ontmasker en uit alle mag bestry.

Nie hy wat Judas is nie, maar die gemeente moet die eintlike werk doen. Die gemeente moet homself verdedig teen die aanval op sy geloofskat.

Mense besef dit nie altyd nie. Dan verwag hulle alles van die ampsdraers. En as daar iets nie goedgaan nie, word dadelik die ampsdraers geblameer.

Maar daardie manne se werk is maar net om almal aktief te maak en aktief te hou. Almal moet stry teen die sonde en die duiwel.

En wanneer daar 'n polemiek in die pers gevoer word, ernstige waarskuwings of selfs vermanings neergeskryf word, beskou sommige lidmate dit as 'n tipiese domineesstokperdjie.

Mense kla: Is dit nou regtig nodig dat daardie dominees altyd so stry?

Daar is selfs mense wat oor dié rede nie eers kerklike blaaie wil lees nie. "Ek is nie lus vir daardie stryery" sê hulle.

Besef u egter, gemeente, dat 'n reusagtige wegholveldbrand met 'n klein vlammetjie kan begin? En dat daarom die vuur betyds aangewys en doodgetrap moet word?

Besef u dat die duiwel telkens nuwe maniere soek om in die gemeente te kan insluip? En dat u ampsdraers geroepe is om betyds die noodklok te lui?

As hulle skryf en stry, ry hulle nie hul stokperdjie nie. Maar dan soek hulle u behoud! Hulle reik vir u weer betyds die wapens aan waarmee u u teen die duiwel te kan verdedig.

Wees dus maar dankbaar vir sulke ampsdraers. En láát u waarsku! Voordat dit te laat is.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)