Met sy opgang na die hemel het Christus Sy oorwinning op die magte van die hel geproklameer

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
I Petrus 3
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 1 PETRUS 3: 18-20

LITURGIE:
Ps. 47: 1, 3, 4
L. 1 Petr. 1: 1-7 & 3: 13-22
Ps. 2: 6
T. 1 Petr. 3: 18-20
SB. 32: 1, 3
Geloofsbel.: Vr. en antw. 46, 50-52 H.K.
SB. 32: 2
Ps. 110: 1, 2, 5

Gemeente van ons Here in die hemel,

Die apostel Petrus het in sy tweede brief wat in die Bybel opgeneem is, ten aansien van Paulus se briewe gesê dat daarin sommige sake "swaar is om te verstaan"..

Maar wanneer ons Petrus se eie briewe lees, kom ons agter dat dit wat hy skryf ook nie alles so maklik is om te verstaan nie.

Wat van die teks wat ons vir die prediking vanmôre gekies het? Dis wanneer ons dit die eerste keer lees maar 'n duistere gedeelte, waaraan ons weinig of geen houvas kan kry.

En die wat 'n aantal verklaringe daarop naslaan, kom tot die ontdekking hierdie Skrifgedeelte het ook aan die geleerde uitleggers heelwat hoofbrekens gekos. Die menings is dan ook taamlik verdeeld oor die betekenis van wat Petrus hier neergeskrywe het. En dan veral die woorde van vs. 19: "in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis".

Dit is duidelik dat Petrus hier herinner aan 'n historiese feit in die lewe van ons Here Jesus Christus- Hy het op 'n stadium "heengegaan" en toe aan "geeste in die gevangenis" gepreek. Die groot vraag is egter: wanneer het Jesus "heengegaan" en waarnatoe het Hy gegaan?

Daar is 'n al baie ou uitleg dat ons hier moet dink aan dit wat ons in die Apostoliese geloofsbelydenis elke Sondag bely, naamlik dat Christus neergedaal het na die hel. Vanweë die plek van die woorde "neergedaal na die hel" in die Twaalf Artikels: na Christus se begrafnis en voor sy opstanding, sê hierdie uitleg dat ons Here Jesus Christus in die tyd wat sy liggaam, na sy kruisdood, in die graf gerus het, as 'n gees na die ryk van die dode toe gereis het om ook daar die evangelie van verlossing te preek.

Hierdie ou uitleg is veral in die Roomse Kerk volgehou en u kan dit vandag nog lees in 'n voetnoot by 1 Petr. 3: 19 in die Roomse Canisius-vertaling: "Christus het die werk van verlossing nie slegs tydens sy lewe nie, maar ook nog na sy dood uitgeoefen, toe sy heilige Siel na die voorgeborgte van die hel neergedaal het", lees ons daar; " Hy het daar aan die siele van die regverdiges die blye boodskap van hulle aanstaande verlossing deur die verdienste van sy lyding gebring. Onder hulle was daar ook die siele van die wat deur die sondvloed wel liggaamlik gestraf was oor hul onwil, maar wat darem waarskynlik deur God se genade op die laaste oomblik tot besinning gekom het, en so geestlik altans gered was".

U hoor: in hierdie uitleg speel die onskriftuurlike gedagte mee dat daar na die dood vir die mens eers 'n tipe van 'n wagkamer volg, 'n vaevuur waarin die mens verder gelouter moet word alvorens hy in die hemel mag ingaan.

Ons kan hierdie uitleg dan ook baie beslis nie aanvaar nie. Ons bely in Sondag 16 H.K. dat ons by die woorde "neergedaal in die hel" in die Twaalf Artikels nie aan 'n aparte feit tussen Christus se dood en sy opstanding moet dink nie, maar hulle mag beskou as 'n samevatting van die hele lydensweg wat ons Heiland vanaf sy geboorte afgelê het: dit was 'n afdraande wat in die hel uitgekom het.

Teenoor hierdie Roomse verklaring van ons teks vind ons 'n heeltemal ander uitleg in die Kanttekeninge by die ou Hollandse Statenvertaling. 'n Uitleg wat nou aansluit by die eksegese van Augustinus: blykens vs. 20 van ons teks lê daar 'n verband tussen die heengaan en die prediking van Christus en Noag se dae. Nou noem Petrus in sy tweede brief (2: 5) Noag 'n "prediker van geregtigheid". En in hierdie eerste brief het Petrus in 1: 11 geskrywe dat die die "Gees van Christus" was wat in die Ou Verbond deur die profete getuig het. En so kom hulle tot hierdie gevolgtrekking m. b. t ons teksverse: die Gees van Christus het eeue gelede alreeds deur die mond van die profeet Noag waarskuwend gepreek tot die wêreldbevolking van voor die sondvloed. Daardie mense het egter ongehoorsaam gebly en met Noag gespot en dis hoekom hulle deur die sondvloed weggespoel en tot "geeste in die gevangenis" geword het. Met ander woorde Petrus het dan in ons teks nie aan 'n gebeurtenis tussen Christus se sterwe en opstanding gedink nie, maar aan iets wat Hy lanklaas, al in Noag se dae gedoen het.

Maar ook hierdie verklaring kan nie reg wees nie. Want dit draai die volgorde van die tekswoorde om: Daar staan mos nie dat Christus eerst gepredik het, en dat Noag se tydgenote daarna weesn ongehoorsaamheid as geeste in die tronk gesit is nie. Toe die prediking van Christus tot hulle gekom het, wàs hulle alreeds in die tronk.

Nog 'n ander, 'n nuwe opvatting kon ons onlangs lees in "Die Kerkblad" van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Prof Fika van Rensburg kies vir die verklaring dat die "geeste in die gevangenis" nie die geeste van afgestorwe mense is nie, maar engele, hemelwesens is. Hy lê verband met die baie omstrede vertaling van Genesis 6: 2 in die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling. Pleks van die letterlike vertaling "Seuns van God" (en dan moet ons dink aan die geslag van Set en Enos, seuns uit die kerk) het diè vertaling vir die woord "hemelwesens" gekies. Hemelwesens, engele dus, sou in ongehoorsaamheid liggaamlike gemeenskap met vroue op aarde gesoek het. Prof. Fika van Rensburg beroep hom daarvoor op 'n apokriewe boek, die tweede boek van Henog. En sy verklaring van ons teks is dan dat diè ongehoorsame hemelwesens oor hul ongehoorsaamheid in Noag se tyd deur God in gevangenis gehou word. En Christus het iewers na sy opstanding, waarkynlik met sy hemelvaart, na hulle toe gegaan om sy oorwinning aan te kondig. Hy het Homself as Here, as Baas aan hulle geproklameer.

Gelukkig het die redakteur van "Die Kerkblad", Prof. 'd Assonville, hom openlik van hierdie uitleg wat in stryd kom met God se Woord en die belydenis, gedistansieer.

Maar, broeders en susters, wat het Petrus dan wèl bedoel met die duistere sinne van ons teks? Waaroor gaan dit hier? En wat wil God Self ons met hierdie gedeelte van sy Woord sê?

Ek sluit my vanmôre heeltemal aan by die uitleg wat Calvyn alreeds aangedra het en wat later taamlik algemeen in die Gereformeerde Kerke aanvaar is.

Op een punt was Prof. Van Rensburg se verklaring reg: ons moet by 1 Petr. 3: 18-20 inderdaad aan Christus se hemelvaart dink. Dit gaan ion ons teks nie oor 'n hellevaart van Christus nie, maar oor sy hemelvaart, die heilsfeit wat ons vandaag besonderlik gedenk. Ek verkondig u:

MET SY OPGANG NA DIE HEMEL HET CHRISTUS SY OORWINNING OP DIE MAGTE VAN DIE HEL GEPROKLAMEER

  1. TOT TROOS VIR SY BESPOTTE KERK
  2. TOT OORDEEL VIR 'N SPOTTENDE WÊRELD.

1. Ons sal die bedoeling van ons tekswoorde slegs mooi kan agterkom, gemeente, as ons 'n oog gekry het vir die verband waarin die apostel dit neergeskrywe het.

Trouwens, die eerste woordjie van ons teks dwing ons ook om terug te lees en in die voorgaande gedeelte die draad van die betoog wat in vs. 18 e. v. deurgetrek word, te soek.

En dan hoef ons nie so ver terug te lees nie. Want vs. 17 bring ons al dadelik by die sentrale tema van hierdie brief van Petrus aan "die vreemdelinge van die verstrooiing in Piontus, Galasië, Kappadocië, Asië en Bithinië".

In vs. 17 spreek die apostel naamlik oor lyding wat sy broeders en susters ondervind, en daardie woord duik in hierdie brief telkens op. Kyk 2: 19, 20: "Want dit is genade as iemand ter wille van die gewete voor God leed verdra deur onregverdig te ly. Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly- dit is genade by God". En ek noem nog uit hoofstuk 4, wat heeltemal oor die lyding van 'n christen handel, vs. 16: "Maar wanneer iemand as 'n christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig".

Petrus rig hom met diè brief tot broeders en susters wat dit moes ondervind dat die belydenis van Christus se naam lyding oor Christus se naam saambring. En hy wil hulle bemoedig. Hierdie kerklede kon maklik in 'n houding van opstandigheid en moedeloosheid verval. Hulle kon dit alles nie meer mooi verstaan nie.

U moet probeer, broeders en susters, omn u hulle situasie voor te stel. Hulle was nie, soos die meeste van ons, as christene gebòre en grootgeword nie. Maar as alreeds volwasse mense het hulle die radikale ommekeer in hul lewe gemaak, dat hulle van heidene christene geword het. Grondig het hulle met heel die heidense lewe gebreek, en hulle het 'n heeltemal nuwe lewe begin as kinders van die lewende God. Ek stel my voor dat hulle hoë verwagtings daarvan gehad het: hulle het uit die duisternis God se wonderbare lig binnegegaan. Die God van die hemel en die aarde wou hulle troue Vader wees. Hy wou hulle versorg met alle goeie dinge vir liggaam en siel en alle kwaad van hulle afweer. Noudat God vìr hulle was, wie sou daar teen hulle wees?

Maar toe het die terugslag gekom: noudat God vìr hulle was, het hulle skielik die hele wêreld teen hulle gekry! Hulle is bespot en belaglik gemaak, het goeie vriende verloor, is gemy en belaster deur kollegás, hul besigheid het in die moeilikheid gekom omdat ou klante plotseling weggebly het en by mededingers binnegestap het. Familiebande het geskeur geraak, huwelike het in die moeite gekom en hier en daar het selfs die owerheid hom daarmee gaan bemoei en het gevangenskap, marteling of selfs die dood gevolg.

Kortom, hierdie broeders en susters moes agterkom dit waarvoor ons Heiland self alreeds sy dissipels gewaarsku het, naamlik dat die volgelinge dieselfde lot soos hul Meester sal ondergaan. Soos Hy is gehaat en vervolg en gedood, so sal ook sy volgelinge gehaat, vervolg en gedood word. Wie Christus wil bely, sal ook met Hom moet ly.

Dis diè dat Petrus sy brieflesers een en andermaal "vreemdelinge en bywoners" noem. So was mos nou hulle posisie: vanaf die dag wat hulle Christus gaan bely het, het hulle vreemdes in hul eie omgewing geword. In hul eie geboortestreek, waar elkeen hulle geken het, het hulle skielik nie meer daarby behoort nie.

Kan u verstaan dat hierdie eers onlangs bekeerde christene deur so'n lyding gedreig het om deurmekaar te raak? Moet dit nou regtig so? !. Is dìt nou wat God sy kinders wil skenk?

Christus se apostel Petrus wil op sulke vrae die antwoord gee in sy brief. Hy moet voorkom dat kinders van God bysiende en kortsigtig word en dit nie meer 'n vreugde vind om Christus te volg nie. Hy moet sy broeders en susters leer om die lyding vanweë Christus se naam te aanvaar.

Onthou u nog dat juis hierdie Petrus vroeër niks oor lyding wou hoor nie? Toe sy Heiland aangekondig het dat Hy vervolg en gedood moes word, was dit Petrus was gereageer het: " Mag God dit verhoed, Here!" Maar Petrus het toe moet leer dat in God se plan die pad na die heerlikheid deur lyding heen voer. Vir Christus self heel eerste, maar vervolgens ook vir sy christene; dit moet via lyding na die heerlikheid toe. In plaas van: "mag God dit verhoed", kan Petrus nou sê: "so moèt dit van God!" Ons lyding is nie 'n onverwagse teenvaller nie. Dit loop God nie uit die hand nie. Inteendeel: die wat lyding moet verduur as kind van God, om Christus ontwil, mag daarin juis die bewys sien dat hy op pad is na die heerlikheid toe, agter Christus aan.

En wat kan Petrus dus beter doen om sy kortsigtige lesers weer versiende te maak en hulle uitsig op die beloofde heerlikheid oop te hou, as om hulle op die voorbeeld van hul Here en Heiland te wys? Hulle moet agter Hom aan! Petrus het dit alreeds in 2: 21 gesê: "Christus het ook vir julle gely en julle 'n voorbeeld nagelaat, sodat julle sy voetstappe kan navolg". En Petrus maak nogmaals so in ons teks uit hoofstuk 3. Vanaf vs. 13 het hy opnuut die tema van die lyde aangesny. En weer wys hy daarop dat ons selfs goed vir ons kan wees om in Christus se naam te moet ly (vs. 17). En dan herinner hy weereens aan die weg wat Christus, nie net as 'n voorbeeld nie, maar ook as 'n voorvegter, voor ons uit gegaan het. En nou is ons by vs. 18 en 19:

Want Christus het ook eenmaal, vanweë die sondes, gely, Hy, die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring. Hy is gedood na die vlees: Goeie Vrydag. Maar daarmee was dit met Hom nie klaar nie. Op Goeie Vrydag het al gou Pase gevolg en daarop wys Petrus dan ook vervolgens: Hy wat wel gedood is na die vlees is lewens gemaak deur die Gees. Deur die Gees van God, van Wie ons in die Geloofsbelydenis van Nicea bely dat Hy "lewend maak", is Christus opgewek en mog Hy triomferend in die lewe terugkeer.

En dan volg die omstrede woorde van vs. 19: "in Wie Hy ook heengegaan het.... ".

Dit lê die meeste voor die hand, gemeente, om hierdie "heengaan" van Christus te lees in die verlengde van die heilsfeite wat Petrus nou net opgesom het: Goeie Vrydag en Pase. Volg daar op Pase nie die hemelvaart nie? Waarheen het Christus anders gegaan na Pase as na die heerlikheid van die hemel? Sy weg van lyding het op die ou end tog in die heerlikheid uitgemond. Hy het eers die hele wêreld teen Hom gehad, maar niemand kon dit keer dat Hy tenslotte oor alle teenkragte getriomfeer het nie. As die lewende, vol van die lewendmakende Gees, het Hy heengegaan- en lees nou maar eens vs. 22 nà vs. 18: nou is die opgestane Christus "heengegaan na die hemel en aan die regterhand van God, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is".

Hierdie troos wys Petrus vir 'n bespotte kerk in 'n wêreld vol lyding: Kyk na Christus! Petrus wys geen weg om aan die smaad en vervolging en spot te kan ontkom nie. Daar is nie so'n weg nie. Ons moet agter Christus aan. Langs 'n weg van lyde na die heerlikheid. Maar as ons dan temidde van alle lyding onseker en wanhopig raak, as ons nie meer bly kan wees in die geloof, moet ons boontoe kyk. Bo sit Christus alreeds op die troon aan God se regterhand, in heerlikheid, Koning van alle konings en Heer oor alle here. Hy het "heengegaan" en daarmee bewys dat die weg van lyding geen doodloopstraat is nie. Inteendeel: Hy het alle lyde te bowe gekom en die eindpunt was: heerlik! En as ons vandag saam met Hom ly, sal ons ook eendag saam met Hom verheerlik word. Want die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, sal ons, nadat ons 'n kort tyd gely het, volmaak, bevestig, versterk en grondves!

2. En dan gryp Petrus skielik vèr terug in die geskiedenis. Hy roep die dae van Noag in herinnering. Hoekom?

Wat het die geskiedenis van die sondvloed nou met die hemelvaart van Christus uit te waai?

Wel, is daar nie baie ooreenkoms tussen die situasie van die kerkvolk in Petrus se dae en in Noag se dae nie? Dit is nie die eerste keer dat die kinders van God so vanweë hul gehoorsaamheid moet ly nie.

Wat het hulle gelag en gespot oor die vrome Noag. Daardie man was nota bene besig om 'n groot skip te bou midde op die land en hy het aanhoudend oor 'n komende gerig en 'n dreigende verdrinkingsdood gepraat. Hulle het kwansuis belangstellend gevra: "Noag, hoe kry jy diè skip by die water, man? ". Maar Noag het gesê: "Nee, die water sal wel by die skip kom!"

Noag se geduld en geloof is egter swaar op die proef gestel. Want die sondvloed het nie dadelik gekom nie, in 'n opwelling van God se toorn. Petrus sê in vs. 20 dat God se lankmoedigheid gewag het, en ons weet uit Genesis dat dit 120 jaar geduur het. God het daardie spotters lank laat aangaan. So lank dat Noag dalk wel eens moedeloos geword het en opstandig begeer het dat God maar met die aangekondigde sondvloed sou losbars. Terwyl ons in Genesis van 120 jare lees, skryf Petrus oor die dae van Noag. Dit lyk asof hy daarmee wil sê: die dae het vir Noag verby gekruip. So lank het die lankmoedigheid van God geduur. Totdat daar amper nie meer kerkmense oorgebly het nie!

Is die kerk vandag feitlik nie terug in dieselfde situasie nie? Is ons as kinders van God nie nog ewe ver as destyds nie? 'n Onbeduidende minderheid temidde van 'n spottende wêreld?

Maar dan wil Petrus in ons teks vir ons sê, broeders en susters: vra dit maar eens aan die mense wat destyds in die dae van Noag die spot met Noag gedrywe het! Hùlle weet van beter. Tot hul eie ontsetting origens. Hulle weet dat die kerk baie beslis nie meer ewe ver as in Noag se dae is nie.

Destyds het hulle byna die hele kerk uitgeroei. Die magte van die hel het omtrent die hele aarde verower. Daar het op die ou end 'n kerk van maar net 8 mense oorgebly.

Ja, en toe het wel die sondvloed gekom. En toe het die al die goddelose spotters in die kolkende water verdrink en is deur die water heen die kleine kerk gered. Die water hèt by die skip gekom en dit reddend bo 'n oormag van sonde uitgetel.

Maar dit was nog nie die definitiewe oorwinning op die sonde nie. Want Noag se kerkgesin het die sonde in die ark saamgeneem. En dit blyk ook al gou in Cham se lewe. Die magte van die hel het dadelik aan 'n nuwe veroweringspoging begin. Die toringbou in Babel, die afvalligheid in Abraham se nageslag......

Die deur die sondvloed weggespoelde spotters uit die dae van Noag het dit alles met spanning gevolg. Het u gesien hoedat Petrus hulle in vs. 19 aandui: "geeste in die gevangenis" noem hy hulle. Dit het hulle, vandat die water hulle weggespoel het, geword. Hul lewenlose liggame het wel rondgedryf op die onmeetlike watervlakte en langsaam verrot. Maar hulle self is deur God se engele afgevoer tronk toe. Maar dan moet ons die woord "gevangenis" hier opvat as: "Huis van bewaring" waar hulle in voor-arres gehou is, in versekerde bewaring, in afwagting van die definitiewe, ewige vonnis wat nog gevel moes word. Hulle was nog nie in die "strafgevangenis" nie. Die straf van die vloed was nog maar voorlopig. Die stryd tussen hel en hemel, tussen slangesaad en vrouesaad, kerk en wêreld, moes eers nog beslis word.

Dis hoekom hulle die ontwikkeling in die geskiedenis met groot spanning gevolg het. Veral toe diè Vrouesaad, die Tweede Adam in die wèreld gekom het, die Christus. Dit het gelyk dat die sonde, die magte van die hel Hom oorweldig het. Dit het 'n oomblik gelyk asof die goddeloosheid die slag op aarde gewen het. Selfs die sondelose Mens Jesus Christus is tot sonde gemaak en deur die vloed van God se toorn weggespoel. Neergestoot in die hel!

Maar daardie oorwinning van die hel was maar net 'n skynoorwinning. Want in werklikheid het Christus oorwen en op die derde dag het God self Hom uit die dood teruggehaal.

En hierdie Jesus het vervolgens as Oorwinnaar hemel toe gegaan om as Koning van sy kerk te regeer aan God se regterhand totdat Hy weerkom om lewendes en dooies te oordeel.

Is die kerk nog ewe ver as in Noag se dae? Die geeste in die gevangenis weet van beter. Met Christus se oorwinning het die beslissing vir die magte van die hel geval. Sy hemelvaart was die prinsipiële keerpunt in die geskiedenis van kerk en wêreld, van hemel en hel. Toe Hy "heengegaan" het, was dié feit as sodanig 'n publieke proklamasie van daardie keerpunt.

Dit bedoel Petrus, gemeente, wanneer hy skryf dat Christus gepreek het aan die geeste in die gevangenis: dit is nie so dat Christus daardie geeste spesiaal in hul gevangenis besoek het nie, maar sy hemelvaart was op sigself 'n veelseggende preek vir hulle. Die triomfantelike oorwinningsuitroep oor die magte van die hel.

Maar as Christus se hemelvaart so'n veelbetekenende preek vir die geeste in die gevangenis was, broeders en susters, hoeveel te meer moet ons ons dan deur hierdie preek laat aanspreek.

Dis hoekom Petrus in hierdie brief vol bemoediging aan 'n bespotte en veragte kerk die hemelvaart van ons Here teen die agtergrond van die sondvloed geplaas het. Dis reg: dit is nie die eerste keer dat God se gehoorsame kinders bespot en gesmaad word nie. Maar dit is wel die laaste keer!! Want ons Here het oorwen. Nooit sal die sonde dit meer op aarde kan wen nie, al skyn die magte van die hel partykeer ook nog oppermagtig. God se lankmoedigheid kan lank wees, maar dit het nou tog sy langste tyd gehad. Daar is 'n nuwe sondvloed aanstaande. Petrus kondig dit aan in sy volgende brief. Hierdie keer word dit 'n vuurgloed wat nie net alle goddeloses nie, maar ook alle goddeloosheid vir goed sal verteer. En soos die water van die sondvloed skeiding gemaak het tussen Noag hulle en die vyande van die kerk, so sal op die laaste dag die vuur vir goed skeiding maak tussen ons en al die mense wat vandag die kerk belaster, bespot en wil uitroei. Want Jesus Christus, ons Verlosser in die hemel, is ons Ark. En die water van die doop waarborg dit ons aanhoudend.

Broeders en susters, ons leef vandag nog in 'n wêreld vol spotters en teëstanders. Die lyding is vir ons nog nie verby nie.

Maar vergeet nie om boontoe te bly kyk nie. Ons mag agter ons

Koning aan, deur lyding heen na die heerlikheid toe. En ons mag in alle droefheid en vervolging met 'n opgerigte hoof Hom uit die hemel terug verwag, as die Regter wat al sy en ons vyande in die ewige verdoemenis sal werp, maar ons en al die uitverkorenes tot Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid sal neem.

Ons teks van vanoggend was miskien swaar om te verstaan.

Maar noudat ons dit begin verstaan het, blyk dit tog ook 'n teks vol bemoediging te wees. Sodat ons ons Heiland kan bly bely, hoeseer ons daaroor ook moet ly.

AMEN

(Pretoria, 4 Mei 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)