Die vreemdheid van 'n gemeente wat nagmaal vier

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
I Petrus 2
Preek Inhoud: 

Ps. 47: 1, 2
Ps. 47: 3, 4
Ps. 31: 5, 6, 14, 15
Ps. 143: 7, 8
Ps. 143: 9, 10
Lees: 1Petrus 2: 1 - 10
Teks: 1Petrus 2: 11, 12.

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Volgende Sondag sal daar in hierdie kerk 'n Nagmaalstafel staan. Welbeskou is dit maar 'n vreemde gebeurtenis.

Natuurlik, so 'n lang tafel sien ons meer. En dat 'n groot geselskap gaan sit om saam te eet, is ook nie vreemd nie.

Maar die vreemde van die Nagmaalstafel is, dat mense daar nie sit om versadig te word nie. Die hoeveelhede wat geëet word, is werklik minimaal. In nog 'n ander opsig is die Nagmaalstafel vreemd. Almal is in gedagte by die Persoon, tot wie se eer die tafel daar is, maar die Persoon self is nie aanwesig nie. Altans nie liggaamlik nie, en tog is almal wat daar sit van Sy aanwesigheid oortuig. Hulle maak almal of Hy werklik daar is.

'n Derde saak maak 'n Nagmaalsviering vreemd. Aan 'n gewone feestelike maaltyd vier jy 'n feestelike gebeurtenis, wat reeds plaasgevind het, en wat nou werklikheid geword het.

Maar by 'n Nagmaalstafel lê die aksent op die voorlopige. Daar moet nog iets kom. Die eintlike fees moet nog begin. Dit wat aan die Nagmaalstafel gebeur is 'n voorsmaak van die toekoms.

Met dit alles is die gemeente van Christus 'n opvallende verskynsel in die wêreld. Aan die een kant staan die gemeente midde in die wêreld. Ook gelowiges werk, eet en drink en geniet die opbringste van hul arbeid, net soos ander mense.

Maar tegelyk is tog alles anders. Hulle is bewus van die voorlopigheid van dit alles. Hulle bly vreemdelinge in hierdie wêreld.

In die kerkgeskiedenis is hierdie merkwaardige posisie van die gelowiges in die wêreld wel soos volg aangedui:

    Hulle is wel in die wêreld,
    Maar hulle is nie van hierdie wêreld nie.

Dus aan die eenkant is daar 'n opgeneem wees in die wêreld, met al die vrae en probleme daarvan, waaraan ons ons nie mag onttrek nie, seker as ons besef dat dit die wêreld is waar Christus Sy heerskappy wil vestig.

Aan die ander kant is daar ook 'n afstand. Ons sal nee moet sê so gou die wêreld ons van Christus af weg wil trek. Ons weet naamlik van 'n ander wêreld wat Christus besig is om te vestig.

Waar word die spanning van dit alles sterker gevoel as aan die

Nagmaalstafel? Daar sit gelowiges, met hulle harte verhef tot in die hemel, maar met hul voete stewig op die aarde.

Hulle is vreemdelinge in die wereld, seker, maar tewens die wettige erfgename van die aarde.

Hierdie situasie van die gemeente van Christus wil ons verder oordink in die prediking onder die volgende tema:

DIE VREEMDHEID VAN 'N GEMEENTE WAT NAGMAAL VIER.

  1. Hulle is nie van die wêreld nie.
  2. Hulle is wel in die wereld.

1. In die voorgaande gedeelte van sy brief, het Petrus die gemeente sterk bemoedig. Hy het die hoe posisie van die gemeente geteken. Hulle is die uitverkore volk van God.

Maar daardie posisie word nie vertel om nou maar trots daarop te wees, of jouself daarin te beroem nie, maar uit die hoë posisie volg nou 'n hoë roeping.

Hulle is nou geroep om in die wêreld te toon dat hulle burgers van die Koning van die Hemele is. En daarom volg nou in Petrus se brief 'n meer praktiese gedeelte. Ons sou ook kon sê, 'n meer etiese gedeelte, met aanwysings hoe om in die wêreld op te tree.

Petrus begin die nuwe gedeelte van sy brief met die aanspraak: Geliefdes. 'n Bekende woord in die Nuwe Testament, wat talle briefskrywers gebruik, as hulle hul regstreeks tot die gelowiges rig. Maar hoe bekend ook, tog is dit nie net 'n leë formule nie. Geliefdes - so mag die volgelinge van die Here Jesus mekaar aanspreek. Geliefdes - dit is die atmosfeer waarin ons saam lewe en saampraat. Ons weet dat ons almal deur die liefde van Christus, wat na ons uitgegaan het, gered is.

En daarom kan die onderlinge omgang ook alleen maar gekenmerk word deur liefde. 'n Liefde wat die beste vir die ander soek, sonder om in bitterheid te verval.

Alleen vanuit die liefde kan ons 'n aanmaning verstaan en aanvaar. Dus dit is pragtig, dat Petrus so begin. Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge.

Soos u weet is dit nie die eerste keer dat Petrus die woord vreemdelinge gebruik nie. Hy het sy brief daarmee begin. Sy geadresseerdes is die vreemdelinge in die verstrooiing.

Ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge.

Met hierdie woorde roep Petrus 'n bepaalde gedagte sfeer op. Ons ken die uitdrukking: vreemdeling en bywoner. Ook uit die Ou Testament. Die aartsvaders het hulleself so beskou: as vreemdelinge en bywoners, in die land waar hulle gebly het.

In die gedagte van vreemdelingskap kom 'n aantal elemente bymekaar. Die gedagte: hier is nie jou eintlike plek nie. Daar is nog 'n ander plek waarvoor jy bestem is, waar jy met jou hart is. Eendag sal jy of jou kinders soontoe gaan.

'n Tweede element is: temidde van jou omgewing val jy ook op as 'n vreemdeling. Met as gevolg: Jy is iemand wat maar half en half aanvaar word. Jy woon daar, maar jy is tenslotte maar 'n bywoner. Jy is al gelukkig as daar enigsins met jou aanwesigheid gereken word, maar moenie dink dat jy op die werklike gang van sake kan invloed oefen nie.

Op hierdie wyse staan die Nieu-Testamentiese gelowiges as vreemdelinge in die wêreld. Hulle het 'n besef van die voorlopigheid van hul aardse bestaan. En van daaruit tree hulle ook die wêreld tegemoet. Ek dink dit is baie belangrik om dit op hierdie oomblik te besef. Ons het gesê: Petrus begin nou aan die meer praktiese gedeelte van sy brief, waarin hy met allerhande vermaninge vir die gelowiges kom. As die gemeente daarna luister, sal sy ongetwyfeld opval in die wêreld, maar Petrus sê al vantevore: Dit is nie erg nie. Julle is mos al vreemdelinge! God het julle al uitgekies uit die wêreld en vir julle deel gegee aan Christus se opstanding. Dit maak julle al tot vreemdes. Daar begin die vreemdelingskap. Dus in die gedagte van die vreemdelingskap kry ons al 'n grondmotief vir die praktiese lewenswandel van die Christene. Petrus sal verderop nog allerhande dinge. Daar is nog 'n ander ding waarop ons die aandag wil vestig, en dit is die feit as sodanig, dat die Bybel ook 'n praktiese aanwysing gee vir die lewe as 'n gelowige.

Dit beteken mos dat die apostels die lewe en die keuses wat 'n mens in die lewe moet maak, nie sonder meer oorlaat aan die Heilige Gees nie. 'n Mens sou naamlik kon redeneer: as daar maar geloof in Christus is, dan kom dit met die lewe vanself reg. Die Heilige Gees sal vir elkeen dan wel sê wat hy moet doen.

Dit is nie die weg wat die apostels wys nie. Maar tog pas hulle aan die ander kant daarvoor op dat hulle nie 'n wet aan die christene voorhou nie. Daar was tye waarin dit in die kerk wel gebeur het. Toe is die evangelie beskou as 'n nuwe wet. Die ou wet is verby, maar 'n nuwe wet het daarvoor in die plek gekom Die groot gevaar daarvan was, dat die geloofslewe opgegaan het in 'n aantal wette en leefreëls, waarin die liefde vir God plek gemaak het vir 'n vorm van moralisme.

Hierdie twee rigtings word nie ingeslaan nie. Dus nog die weg van 'elkeen moet vir homself maar uitvind hoe om te lewe', nog die weg van 'n wettiese dwang, word gevolg.

In die plek daarvan kom die pragtige woord 'vermaning'! Petrus swyg nie, Petrus eis nie, maar Petrus 'vermaan'. Ek vermaan julle. Die woord haal 'n streep deur alle vryblywendheid, maar is tegelykertyd tog nie dwingend nie.

Die woord vermaan, beteken aanspoor. Dit het die klank van 'n aanmoediging, maar dis ook 'n bemoediging en 'n vertroosting. En so gee die woord pragtig weer dat die vermaning voortkom uit 'n liefdevolle sorg vir die broeder.

Dit gaan nie daarom om net 'n ander te kritiseer nie, maar om 'n lewe wat gevaar loop, te red. En daarom gaan so 'n vermaning altyd saam met vertroosting en bemoediging. Bly tog op die pad waarop die Here in Sy genade jou en my gestel het.

En nou kom die eerste vermaning: onthou julle van die vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel.

Ons moet hier eers nadink oor die vleeslike begeertes: wat is dit? Beteken dit dat enige begeerte wat in die mens is, as sodanig reeds sonde is? Beteken dit dat ware Christene eintlik almal soos askete moet lewe, wat van elke liggamlike vreugde afstand gedoen het? Ag nee, daarvoor spreek die Bybel te positief oor die aardse lewe. Die vleeslike begeertes is hier die natuurlike drifte wat in 'n mens is.

  • Sy drang na ete, drinke en slaap.
  • Sy geslagsdrang.
  • Sy behoefte aan kontak en kommunikasie met medemense.
  • Sy drang om besittings te versamel.

Hierdie is, geheel natuurlike begeertes. Dit is in die mens deur God self ingeskape. Dit behoort by die mens se kreatuurlikheid en is as sodanig nie sonde nie. Hy het dit nodig om mens te wees met as doel: om God te dien! Maar bedink dit: die begeertes, die skeppingsgawes het in die greep van die sonde gekom.

Ons maak die begeertes los van ons diens aan God, en dan gaan die begeertes volgens eie wette heers. Die mens stel hom daarmee op teenoor God. So gou 'n mens die begeertes losmaak van die diens waarin hulle staan teenoor God, word hulle selfstandig.

En bevrediging van die begeertes word dan inhoud en doel van die lewe. Hulle word heersers waaraan die mens onderwerp is. Dit behoort tot die wese van die begeerte dat dit onversadigbaar is. Dit wil altyd meer en meer. En so raak jy tot slawerny van begeertes. Bevrediging daaraan word dan die doel van jou lewe.

So teken die Bybel vir ons die wêreld waarin God nie die eerste is nie. Waarin Hy nie gedien word nie.

'n Groot gedeelte van die mensheid leef so. Op jag, op jag na meer, hulle word gedryf deur singenot. En dan hoef ons werklik nie alleen te dink aan uitspattings op seksuele gebied nie. Natuurlik dit val ook daaronder.

Maar heel die wêreld van mense wat nie 'n ander doel in hul lewe het nie, as om lekker te eet en te drink en te woon, lekker vakansies te geniet en verder niks nie. Dit is vleeslike begeertes!

By mense wat so leef is God hoogstens nog 'n randfiguur, 'n noodhulp as dinge verkeerd loop.

Vir so 'n lewe waarsku Petrus sy lesers indringend. Juis omdat ons almal die begeertes in ons het, en die wêreld vir ons aantreklik is. Dit gaan eintlik maar so vanself.

Veral in 'n tyd van betreklike welvaart. Hoe meer ons het, hoe sterker die verlange na meer is.

Maar pasop dat die begeertes ons nie meesleur nie, sodat hulle ons van die Here af weg trek nie.

Petrus sê: sodanige begeertes voer stryd teen die siel.

Met siel word hier bedoel die lewe van die mens as 'n kind van God. Die begeertes doen daarop 'n aanval. En daarmee is ons lewe in gevaar. Ons lewe met die Here.

Die gemeenskap met God is vir ons van lewensbelang.

Maar as ons ons deur ons eie begeertes laat meesleep, dan kom die gemeenskap met God in onmiddellike gevaar. As die begeertes die oorwinning behaal, is dit die einde van die gemeenskap met God. En dit beteken ons dood.

Daarom is jou stelling inname teenoor die begeertes so lewensbelangrik. Wie regeer jou lewe, jou vlees met sy begeertes of die Heilige Gees? En dit is 'n vraag om oor na te dink in verband met die Nagmaalsviering. In ons tema het ons gesê dat die gemeente wat Nagmaal vier nie van die wêreld is nie. Hulle is vreemdelinge. Is ons nog vreemdelinge?

Besef ons nog dat ons begeertes stryd voer teen ons lewe?

Of is ons hart dalk al sterk geheg aan aardse genietings? Ons geniet die son, die braai en die wyn, maar ons belangstelling vir Christus se Koninkryk het tot 'n minimum gedaal? Is ons nog werklik bereid om na te dink oor ons eie lewe, en dit krities te bekyk aan die hand van die Woord van die Here, of het ons lankal in 'n groef gekom en vind ons verder alles wel goed?

Het die bestudering van God se Woord nog die liefde van ons hart, of beskou ons dit maar as 'n plig wat ons gou-gou moet afdoen, sodat ons ons weer kan wy aan die genietings van die lewe. Wat is die eintlike inhoud en doel van ons lewe?

Laat elkeen hom hierdie week maar weer besin op die vrae.

Praat daaroor met mekaar, as ouers, as gesinne, as jeug onder mekaar. Wat is eintlik die doel van ons lewe? En ontdek dat daar steeds bekering nodig is.

En dan is daar 'n Nagmaalstafel. Laat niemand kom vertel: Ek is werd om daar te sit nie.

Nee, niemand is, ons is almal sondaars. Maar daarom staan daar juis die tafel. "Kom sit, jy sondaar" sê Christus dan. "Jy het dit nodig. Ek vergewe al jou sondes en Ek wil jou vernuwe deur My Gees, sodat die begeertes in jou nie meer heers nie, en jy die lewe deur die Gees mag ontvang, en opnuut die volle gemeenskap met God kan geniet".

2. Die gemeente is wel in die wêreld.

Die gemeente van Christus wat Nagmaal vier, is 'n vreemde verskynsel in die wêreld. Hulle betuig daarmee, ons is nie van die wêreld nie, ons verwag 'n nuwe wêreld.

Maar dit beteken nie dat hulle hul daarom terug trek uit die wêreld nie. Hulle staan midde-in die wêreld, en dit is ook die plek wat God vir hulle wys.

Hoe sal die kerk nog pyler en fondament van die waarheid kan wees, as hulle hulself probeer isoleer van die wêreld? Die kerk en ook die gelowiges afsonderlik, het 'n taak in die wêreld.

Die taak is om daarin lewende getuies van Christus te wees. Met die Woord van Christus, ongetwyfeld, maar ook met die daad. Daaroor praat Petrus nou.

Hou julle lewenswandel onder die heidene skoon.

Dit beteken: Gedra julle goed onder die heidene.

Want die wêreld hou die gelowiges goed dop.

Hulle is selfs baie krities. Daarvan weet Petrus wel. Hy besef dat die heidene sterk bevooroordeel is teen die Christene. Hulle kyk nie net in welwillendheid nie, maar veeleer uit boosaardigheid.

Daar word van die gelowiges gepraat soos van kwaaddoeners.

Dit is maar al te goed bekend vanuit die eerste tyd van die Christendom. Die mees growwe beskuldigings is geuiter teen die Christene.

Die heidene het iets gehoor van 'n Nagmaalsviering waarin die liggaam van Christus geëet, en Sy bloed gedrink word.

En so het hulle die Christene beskuldig van die eet van mensevlees.

Hulle het gehoor dat die gemeentelede mekaar broeders en susters noem, wat saam gemeenskap het. Die beskuldiging was gou gemaak: Hulle beoefen seksuele gemeenskap en bedryf bloedskande.

Selfs babas is in die kerk gebring om hulle te offer aan die gode deur middel van 'n verdrinkingsdood. So is die Doop deur die lasterpartye verstaan.

Christene is beskou as staatsgevaarlike mense, omdat hulle 'n ander koning erken as die Romeinse keiser.

Hoe moet jy sodanige laster keer?

Petrus antwoord: Met 'n goeie lewenswandel. Dan sal vinnig blyk dat al die kwaadpratery laster is, sonder enige grond.

Petrus se redenering is ongeveer so: Deur al die laster, val die kollig op die gemeente van Jesus Christus.

Maar as dan by hulle die goeie gesien word, as blyk dat die laster leuens is, dan kan dit selfs sover kom, dat die heidene God prys. So kan selfs lasterpraat bydra tot God se eer.

'n Goeie gedrag tel baie meer as goeie woorde. Ook al moet die Woord ongetwyfeld ook verkondig word.

Deur die goeie werk van die gelowiges in die wêreld ontvang God Sy eer. En daarom gaan dit uiteindelik.

Petrus gebruik hier nog die woord: in die dag van die besoeking. Dit is 'n interessante uitdrukking. Ons moet daarby nie onmiddellik dink aan die dag van die laaste Oordeel nie (soos die Nuwe Vertaling: die dag van afrekening). Die dag van besoeking is 'n moment van goddelike ingrype. Dit kan wees enige gebeurtenis in die lewe van 'n persoon of van 'n hele volk, waarby 'n verbinding met God gevoel kan word.

Ek sal 'n voorbeeld noem uit die Bybel: die Here Jesus noem Sy eie optrede in Israel 'n besoek deur God (Luk. 19: 44). Die mense ontvang 'n ekstra geleentheid, of om hulle tot God te bekeer, of in hul afwysing van God te volhard.

Wel, so kan as daar byvoorbeeld in die lewe van 'n ongelowige iets besonders gebeur, en as jy dan as Christen weet om 'n goeie woord te spreek, dan kan die dag vir die ongelowige 'n dag van besoeking deur God word. Dan is jy 'n middel in God se hand. God raak die mens aan, met jou woord. Op daardie oomblik kom God sy lewe binne. Dit kan dalk selfs lei tot sy redding.

Ook 'n goeie daad van 'n Christen, waaruit sy liefde tot God blyk, waarin hy anders handel dan 'n ander sou doen, op so 'n oomblik kan die dag ook tot 'n dag van besoeking maak.

Die Here Self raak dan so 'n mens aan.

Dalk sal God die mens soos 'n brandhout uit die vuur ruk. So staan ons as vreemdelinge in die wêreld. Let wel: Dit is nie wêreld vreemd nie. 'n Wêreldvreemde weet nie wat aangaan in die wêreld nie.

Nee ons is vreemdelinge wat terdeë weet wat aangaan op die wêreld. Ons besef dat hierdie wêreld op pad is na die ondergang!

Maar ons staan midde-in die wêreld, met die Woord van God, om te getuig dat daar redding is.

Die wonderlike boodskap dat God nie behae het in die dood van sondaars nie, maar daarin, dat hulle hul bekeer en lewe.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)