Christus, die rots (vir gelowiges en ongelowiges)

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
I Petrus 2
Preek Inhoud: 

Ps. 108: 1, 2
Ps. 108: 4
Ps. 107: 1, 8, 20, 21
Ps. 118: 11, 12
Ps. 118: 14
Lees: Jes. 28: 1 - 19
Teks: 1 Petr. 2: 6 - 8

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanmôre se teks gaan oor 'n steen. In die verse voorafgaande aan ons teks, het Petrus daaroor ook reeds gepraat, maar hy wil die beeld nog verder uitwerk.

Dit wil voorkom dat die steen waarvan hy praat al hoe groter afmetings aanneem. Eers is daar sprake van 'n bousteen, maar later van 'n groot hoeksteen. En die steen groei uit tot 'n rots, in vers 7. 'n Rots van ergernis. En dit gaan nog altyd oor dieselfde. Oor Jesus Christus. Vir die een is Hy 'n lewende steen wat lewe gee, vir 'n ander is Hy 'n Rots waaraan jy jou stamp. Jy loop jouself op hom dood. Dit is interessant om te sien dat die beeld van die rots nie deur Petrus as eerste op God toegepas word nie. In die Bybel word op talle plekke God met 'n rots vergelyk (onder andere baie dikwels in die Psalmboek), maar ons wil 'n bietjie meer stilstaan by die allereerste keer waar dit in die Bybel voorkom. In Deut. 32. Die lied van Moses by die intog in die land Kanaän. In die lied word wel 6 keer die naam rots of steenrots op die Here toegepas.

In Deut. 32: 4 klink dit: Die Rots, volkome is sy werk, want al sy weë is regverdigheid. 'n God van trou en sonder onreg, regverdig en reg is Hy.

In die vers word duidelik die beeld rots in positiewe sin gebruik. Die Here is 'n Rots. Dit beteken: God is betroubaar. Jy kan jouself aan Hom toevertrou, omdat Sy Woord vas, onwankelbaar is. Hy is trou in Sy Verbond. Die Here is 'n Rots.

Maar daar is ook 'n ander kant aan die Rotsbeeld. Ook dit wys Deut. 32. As die volk Israel sy Rots, sy steenrots minag, as hulle dink, hulle het hom nie nodig nie, dan maak hulle opnuut kennis met die Rots. Maar nou is dit 'n dreigende Rots. In Hom is nie bedrog nie. Hy staan voor Sy woorde. As die volk die Verbond verlaat, dan kom Hy in Sy toorn. As 'n Rots sal Hy Sy volk verpletter. Hy sal hulle dryf uit die land waarin Hy hulle gebring het.

So werk dus die beeld van die rots na twee kante. Jy kan daarop bou, of jy loop jouself daarteen te pletter.

Wel, hierdie twee elemente uit Deut. 32 pas Petrus toe op Jesus Christus.

Jesus Christus, Hy is die Rots, Hy is die fondamentsteen van die Kerk.

Maar daarteenoor: vir ongelowiges is Hy 'n rots van ergernis. Hulle stamp hulle daaraan en kom ten val.

Daaroor sal dit gaan in vanoggend se prediking:

Ons tema is: CHRISTUS, DIE ROTS (VIR GELOWIGES EN ONGELOWIGES).

  1. Hy is die onverganklike eer vir die gelowiges
  2. Hy is 'n onversetlike aanstoot vir die ongelowiges.

1. Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk Ek lê in Sion 'n uitverkore en kosbare hoesteen.

Petus is nog nie klaargepraat oor die beeld van die steen nie. Hy gaan dit hier verder uitwerk. Opnuut is dit opvallend hoe sterk Petrus hom daarby baseer op die Ou Testament. In ons drie teksverse haal hy 3 keer 'n gedeelte uit die Ou Testament aan naamlik Jes. 28; Ps. 118 en Jes. 8. Dit sal in 'n preek te verwarrend word as ons elkeen van die drie gedeeltes uit die Ou Testament in hulle eie konteks eers bespreek. Dus ons moet hier maar kortsny.

Aldrie tekste word ook op ander plekke in die Nuwe Testament aangehaal. Sowel deur die Here Jesus self, as deur sy apostels, in hulle prediking. En altyd is die verband waarin hulle dit gebruik die geskiedenis van kruis en opstanding.

Die lyde van die Here Jesus aan die kruis en Sy opstanding uit die dood, is die grootste gebeurtenis uit die geskiedenis. Toe het die Here op wonderlike wyse ingegryp in die geskiedenis. Hy gee Sy Seun oor in die kruisdood. Hy laat Hom verwerp word deur mense. In die eerste plek deur die leiers van die Joodse volk. Die wetgeleerdes. Die deskundiges. Hulle wys die bousteen af. Nie geskik vir enig bouwerk. Kruisig Hom!

Maar God kies hierdie Jesus uit as hoeksteen. In die opstanding word bewys dat Jesus die Seun van God is. Die lewende.

Aanvaar Hom in geloof of verwerp Hom in ongeloof!

Dit is die beslissende keuse waarvoor God die wêreld stel.

Die kruis op Golgota bring elkeen se lewe in 'n krisis. Aan die kruis kom niemand sommer verby nie. Niemand kan hom daarteenoor neutraal-afsydig opstel nie.

Daarom begin die eerste Jesaja sitaat in vers 6 ook so nadruklik met Kyk! Kyk, Ek lë!

Kyk! dit beteken iets soos: Aandag asseblief!

Ek gaan iets doen! Nie op 'n afgeleë plek nie, maar in die sentrum, in Sion. Waar elkeen kan sien wat gebeur. Elkeen moet nou sy houding teenoor daardie gebeure bepaal.

En die houding is geloof of ongeloof.

So stel die Here Self die Paasgebeure sentraal.

Dit gaan om geloof in die Opgestane Heer.

Hy self, die opgestane Christus, is die hoeksteen van die heilsgeskiedenis!

Hy vra dus geloof. En geloof, laat ons dit goed bedink, is hier baie meer as 'n aanvaarding van die feit dat Hy opgestaan het.

Geloof in die opstanding, beteken, die groot verandering in jou lewe. Want in Hom glo, beteken dat jy op Hom gaan bou.

Jy maak die opstanding van Christus tot die fondament van jou lewe!

En dit is nie 'n geringe iets nie.

Dit beteken mos al jou lewenskeuses word bepaal deur jou geloof in die opstanding van Jesus Christus.

Dit wat jy van jou lewe wil maak, word bepaal deur opstandingsgeloof. Hoe jy jou tyd gaan gebruik, of waarvoor jy jou geld gaan bestee, hoe jy die Sondag deurbring, met wie jy gaan trou, hoe jy jou kinders opvoed ens. Dit alles word bepaal deur die fondament daaronder, die geloof in die opstanding van Christus.

As daar nie 'n opstanding van Christus is nie, is daar ook nie 'n opstanding vir jou nie. Dan wag tenslotte net die dood. As daardie fondament wegval, was al jou keuses verkeerd of kon jy in elk geval beter, aangenamer keuses gedoen het.

Dus nogmaals: die opstanding van Christus is die fondament van jou lewe.

Jou hele bestaan waag jy aan die geloof in die opstanding. So staan dit. Maar die Here voeg 'n pragtige belofte toe: Die wat in Hom glo, sal nie beskaamd word nie. Want die fondament is reg. Die fondament is deeglik, is betroubaar.

U kan maar rustig daarop bou. En daardeur u keustes laat bepaal.

Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar, gaan Petrus verder in vers 7.

Hier is 'n klein vertaal probleem wat ek vir U wil probeer verduidelik. Soos dit hier staan: vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar, sê dit nie te baie nie. Dit voeg eintlik niks toe. Maar Petrus bedoel dit, wat die Nuwe Vertaling soveel duideliker neerskryf:

Julle wat glo, deel in hierdie eer!

En daarmee is die woord van Petrus 'n gelukwensing aan die gelowiges. Hy het eers vertel van die bouwerk wat God besig is om te maak. Al die gelowiges sal hulle soos lewende stene laat invoeg. En nou het God self in die bouwerk 'n uitverkore en kosbare hoeksteen ingevoeg.

'n Hoeksteen so kosbaar, dat die hele bouwerk daarmee 'n kosbare ding word.

Vir elke steen is dit 'n eer om in 'n bouwerk met so 'n hoeksteen opgeneem te wees. Jy beklee 'n ereposisie ook al is jy self maar 'n heel gewone bousteen. Jy ontleen jou eer, jou waarde aan die kosbaarheid van die hoeksteen.

Julle wat glo, deel in hierdie eer! Dit is wat Petrus sy gemeente toeroep. Hy wens hulle geluk.

Nou is die edelsteen deur God uitverkies. Sy opstanding uit die dood is die grootste eer wat God vir Hom bewys het.

Maar mense, gelowiges deel in daardie eer.

Ook julle, sê Petrus, is kosbaar in die oë van die Here.

Julle verteenwoordig vir Hom, 'n hoë waarde, want julle is opgeneem in die kosbare bouwerk.

En dit is 'n baie troosvolle woord vir die ontvangers van hierdie brief. U onthou nog: hulle was vreemdelinge in die verstrooiing. Hulle het swaargekry in hulle woonomgewing. Hulle het ou vriende verloor, omdat hulle hul by die kerk aangesluit het en nie meer saamgedoen het met die feeste van die heidene nie.

Hulle het dit maar moeilik gevind, om verag en bespot te word. En as dit in die gemeente self nou nog baie goed gegaan het, maar daar was dit ook nie te lekker nie. Kyk maar vers 1 en 2: Petrus vermaan hulle oor boosheid, bedrog, geveinsdheid, afguns en kwaadpratery. Al die sondes wat in elke groep, waar mense bymekaar is, voorkom, het ook die gemeente gepla. Die mense het die neiging gehad om tou op te gooi. Wat doen ons eintlik in die kerk? Wat beteken dit alles nou werklik? Wel, sodanige mense noem Petrus ereburgers vanweë die steen! Hy wens hulle geluk met hul ereposisie! Hy sê: Mense julle is mos ryk! Julle wat glo in die opstanding van Christus, julle het die mees kosbare wat 'n mens op die wêreld kan bekom. Julle sal werklik nie beskaam uitkom nie.

2. Christus is 'n onversetlike aanstoot vir die ongelowiges.

Na die gelukwensing aan die gelowiges in verband met die steen, gaan Petrus ook iets sê oor die ongelowiges.

Ook vir hulle beteken die steen baie. Maar hy word vir hulle die steen van Jes. 8: 'n steen van aanstoot en 'n rots van ergernis. Die bouers het die steen verwerp sê Ps. 118.

Die deskundiges het die steen afgekeur, maar God het vir die steen 'n ereplek gegee.

Dit word in die Nuwe Testament toegepas op Christus. Die Jode het die Christus verwerp. Maar God het vir Hom eer bewys. Hy het Hom opgewek uit die dood. Die bouers het dus 'n vergissing gemaak. Maar hier is meer aan die hand as net 'n vergissing, wat reggestel moet word. Hier is sprake van ongeloof. Die hoeksteen wat eers afgekeur is, verander nou vir hulle in 'n steen van aanstoot, 'n rots van ergernis.

En dit is 'n baie bedreigende woord.

Wie teen daardie steen wil veg, hy sal hom doodveg. Hy loop homself te pletter.

Die rots van Israel wat vir hulle 'n baie vertroude woord was, 'n woord van troos, van sekerheid, word nou 'n bedreiging. Onthou wat ons in die inleiding gesê het oor Deut. 32. As jy God se verbond verwerp, as God se gawes vir jou nie meer waardevol is nie, dan keer God Hom teën jou.

Soos 'n rots wat jou verpletter.

Presies dieselfde evangelie wat vir die gelowiges die behoud beteken, sal 'n valstrik wees vir die ongelowiges.

Die hoeksteen blyk tewens 'n aanstootsteen te wees.

Dit is 'n verskriklike bedreiging.

Daarin word die diepe erns van die prediking sigbaar.

In Sy Woord is Christus aanwesig, met al Sy weldade.

Maar as jy nie glo nie, dan word dit die ramp van jou lewe. Ongeloof word hier omskryf as ongehoorsaamheid aan die Woord. Jy wil voor die Woord nie buig nie.

Hulle wat ongehoorsaam is, bedank vir die eer om hul lewe om op die hoeksteen te bou. Maar wie vir die eer bedank, hy gaan hom erger en struikel oor die Woord.

Dit is 'n diep-ernstige Woord, gemeente. Vir ons almal.

Aanvaar die Woord van God of jy gaan vir ewig verlore. Of nog korter: Prys God of sterf!

So skerp staan dinge hier.

En nadat Petrus dit gesê het daal hy nog dieper af.

Christus is 'n rots van ergernis vir die wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die Woord ongehoorsaam is, en dan voeg hy nog by: waarvoor hulle ook bestem is.

Ons raak hier aan die dieptes van Gods openbaring, naamlik dat daar verkiesing en verwerping is.

'n Gelowige mag nooit dink: my keuse vir Christus het my die redding gebring. Nee, hy behoort ook hier die Here Sy eer te gee. Dit is God wat my verkies het, om te glo. Dit is vrye genade van die Here.

God is aan niemand verplig om watter rede ook al, om hom te red. Hier is uitsluitlik genade. Hier kom enkel aan God die lof toe. Maar God het nie elke mens verkies nie. In Sy verkiesing het Hy sommiges verbygegaan en hulle in hul verworpenheid gelaat.

Dit is 'n huiweringwekkende openbaring.

Daar is naas verkiesing ook verwerpping.

Vir ons menslike verstand bly hier talle vrae en probleme. Maar die Woord van God bly staan.

"Waarvoor hulle ook bestem is".

Die Woord bly staan omdat God bly staan.

Ons het hier met die Almagtige God te doen, wat van geen mens afhanklik is nie.

Hy is 'n God, wat Hom ontferm oor wie Hy wil en wat verhard wie Hy wil. Selfs die ongehoorsames val nie buite Sy raad en besluit nie. God laat dit aan Sy uitverkore volk sien dat Hy nie noodwendig moet verkies nie: Hy kan anders, en Hy doen ook anders!

Onse God is 'n verterende vuur.

En daarom moet ons baie klein word onder Sy genade.

Onder Sy goedheid dat Hy Hom oor ons wou ontferm het. Hy wat regter is oor die hele aarde. Hy wil deur ons Vader genoem word.

En daarom: wees haastig met u dankbaarheid. Hier is geen enkele rede tot valse gerustheid nie.

God verkies. Maar wee hom wat die keus van Sy liefde nie eer nie, of wat dit as vanselfsprekend aanvaar.

Die Bybel openbaar ons dat God die hart van Farao verhard het. Die Bybel vertel ons van Judas, wat bestem was om die Here te verraai.

Maar in dit alles het hulle maar net God se plan uitgevoer.

Die openbaring oor die verwerping, 'n huiweringwekkende openbaring het ons dit genoem.

Maar tegelyk is dit vir die gelowiges 'n troosvolle openbaring.

Selfs die ongehoorsames wat hulle stamp aan die hoeksteen, selfs vervolgers van die kerk, selfs die ondermyners van die betroubaarheid van die Woord van die Here:

God het hulle almal opgeneem in Sy plan.

Ondanks hulle self kan hulle maar net God se Raad uitvoer.

God is 'n Rots.

Wee hulle wat hulle teen Hom verset. Hulle word verpletter.

Maar gelukkig hulle wat op die rots bou. Elkeen wat hom in geloof toevertrou aan Jesus Christus, hy hoef nie te vrees nie.

Hy sal nie beskaam word nie

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)