Die gelowiges moet na Christus toegroei

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Petrus 2
Preek Inhoud: 

Ps. 101: 1, 2, 3
Ps. 101: 4, 5, 6
Ps. 110: 1 - 6
Ps. 118: 11, 12
Ps. 118: 14
Lees: Ps. 118
Teks: 1Petr. 2: 1 - 5

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Daar is 'n uitdrukking wat sê: "Iets op die groei koop", of "iets op die groei maak". Dit beteken jy koop iets wat op die moment van die koop eintlik te groot is, maar jy verwag dat die persoon waarvoor dit bestem is, nog verder groei, sodat dit dan goed passend is. So kan 'n mens, veral as daar suinig geleef moet word, byvoorbeeld 'n paar skoene vir sy kind liewer 'n maat te groot koop, want anders is die skoene al weer te klein, voordat hulle verslyt is.

U sal ook verstaan dat so 'n beleid van op die groei koop, 'n probleem word as die verwagte groei wegbly. Dan sal byvoorbeeld die kleding nooit lekker pas nie.

Aan die beeld van kleding wat ons op die groei ontvang het, (waar ons nog moet ingroei), kan ons dink as dit gaan om die lewe van 'n gelowige. Hy ontvang van Christus die nuwe lewe as nuwe kleding. Sy ou kleed moet hy aflê. Sy vroeëre lewenswandel loslaat, en hy 'moet hom met Christus beklee' (Rom 13: 14). Sy ou kleed van twis, toorn, laster moet uit en hy moet aantrek liefde, geduld, sagmoedigheid, en vrede.

Dit is die nuwe gewaad van die gelowiges.

Maar nou is daar 'n probleem. Die nuwe kleed pas ons nie lekker nie. Dit is eintlik te ruim.

Ons moet gelykvormig aan Christus word, sodat sy kleed ook vir ons pas. Maar die kleed is vir ons te wyd, en dan trek ons maar gou-gou weer ons ou klere aan. Want dit pas ons so lekker. En ons val terug in allerhande sondes en dwaashede.

Maar dit mag nie so bly nie!

Seker, ons nuwe kleed is op die groei ontvang.

Maar as daardie kleed te ruim is vir ons, moet ons nie weer die ou klere aantrek nie, maar moet ons liewers groei.

Ons moet na Christus toegroei, sodat ons aan Hom gelykvormig, ook die nuwe kleed van goeie werke kan dra.

Daarom gaan dit in vanoggend se prediking.

DIE GELOWIGES MOET NA CHRISTUS TOEGROEI.

Daarvoor is nodig:

  1. verlange na die suiwere Woord
  2. invoeging in 'n geestelike huis
  3. offers in 'n priesterlike diens.

1. Vanmôre begin ons met 'n nuwe hoofstuk van die 1 Petrus brief. Maar tog is daar nie 'n groot oorgang van hoofstuk 1 na hoofstuk 2 nie. Eintlik praat Petrus maar net verder in aansluiting by die voorgaande. Verlede week het ons gepraat van die wedergeboorte deur die Heilige Gees. Hy het ons lewendgemaak. Ons het nuwe mense geword. Die middel wat die Gees daarvoor gebruik het is die lewende Woord. Die lewende Woord wat so kragtig is dat dit regkry wat 'n mens nooit kan regkry nie. Die Woord is mos 'n woord van belofte van God. As God beloftes doen staan Hy heeltemal daaragter. Al sal Hy wonders moet doen om die Woord te vervul, maar Sy beloftes voer Hy uit. En die wonderlik sterke Woord, die lewenskragtige Evangelie is aan julle verkondig! Julle het daaraan deel ontvang.

Sover het ons verlede week gekom.

En nou gaan Petrus verder.

Lê dan af. Let op die woordjie dan. Daarmee sluit Petrus aan by die voorafgaande: Noudat aan julle so 'n lewende of lewenskragtige woord verkondig is, nou moet daarom ook alle boosheid, bedrog, geveinsdheid ens. afgelê word

Jy moet dit aflê. Jy moet dit soos ou kleding afdank. Trek dit uit en gooi dit weg.

In die vroeë Christelike kerk het hulle daarvoor 'n pragtige simbool gehad. As in die tyd mense tot geloof gekom het en hulle by die Kerk aangesluit het, is hulle net soos nou nog gebeur, gedoop. Rondom die Doop het 'n uitvoerige seremonie plaasgevind, waaronder die aflegging van ou klere. Mense wat hulle laat doop, trek hul bo-klere uit, en is daarna in hul onderkleding gedoop. En na die Doop het hulle 'n wit kleed ontvang, as 'n teken van hul nuwe lewe. 'n Sondige lewe laat hulle agter hulle. Soos 'n ou kleed lê hulle dit af en hulle word beklee met 'n nuwe kleed, die lewe van die geloof in Jesus Christus. Dalk dink Petrus hier aan 'n soortgelyke seremonie. In elk geval Petrus noem 'n aantal konkrete sondes wat afgelê moet word. Boosheid, bedrog, geveinsdheid, afguns en kwaadpratery.

As ons hierdie sondelys wat nader bekyk, ontdek ons dat dit nie soseer 'private sondes' is nie, maar meer sondes tussen mense en wel spesiaal, sondes wat die onderlinge omgang van die gelowiges betref. Sondes wat 'n direkte bedreiging vorm vir die gemeenskap van die gelowiges.

Boosheid - dit is ons sondige aard, wat allerhande ander sondes voortbring.

Bedrog - jy benadeel 'n ander deur oneerlikheid.

En die laaste hang weer nou saam met geveinsdheid of huigelary. Dit kan by gelowiges ook gou-gou voorkom Van die buitekant lyk alles mooi en reg. Maar dis 'n skyn wat nie kan standhou nie. Die Here Jesus is baie skerp in Sy waarskuwing teen huigelary. Wee julle geveinsdes!

Afguns: ook 'n kwaad wat die verhoudings in die gemeente grondig knou. As mense mekaar 'n bepaalde posisie misgun of om ander dinge jaloers op mekaar is. Afguns bederf jou hart. Dit kan 'n mens se lewe vergiftig. Jy kan nie meer dankbaar wees vir wat jy het nie, jy kan enkel maar dink aan wat jy mis. En dit is lewensgevaarlik vir gelowig dankbaar wees.

Kwaadsprekery - Ook 'n lewensgevaarlike ding in die gemeente. Hoe beter ons mekaar ken, hoe meer ons van mekaar weet, hoe kwesbaarder die gemeenskap is. Daar is niks wat die gemeenskap so seer kan vergiftig as kwaadsprekery nie. Natuurlik ontdek ons as ons baie na aan mekaar leef, allerhande swakhede en gebreke by mekaar. En ons geniet dit op 'n manier om daaroor te praat. Dan voel 'n mens hom lekker.

Lê dit af! roep Petrus ons toe. Om Christus wil. Breek daar mee! Hy sê nie: Gaan jou lewe daarin verbeter nie. Probeer daarvan weggroei! Nee. Breek onmiddellik daarmee!

Dit is alles negatiewe kragte wat sowel die lewe van die gemeente, as ons eie geestelike lewe afbreek!

Jy beweeg daarmee van Christus af weg! Hy het jou uit die leuenwêreld van die heidendom weggeroep, en jou in sy gemeente opgeneem, dan moet jy nie die kragte van vernietiging, die werk van die duiwel, die aartsleuenaar gaan oproep nie. O, die duiwel, hy sal lag as hy jou hoor kwaadpraat, as jy besig is om die werk van Christus stukkend te maak. Gee hom nie kans nie! Breek weg daarvan! Bring 'n positiewe rigting in jou lewe!

Jy is nie geroep om af te breek nie, maar om op te bou. Om jouself op te bou, en die gemeente van Christus.

Daarom verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die Woord.

Verlang sterk - begin vs. 2. Is nou verbonde met vers 1. Om sterk te kan verlang na die goeie, moet eers die ou kleed afgelê word. Solank jy nog in 'n negatiewe rigting beweeg, kan daar nie so 'n verlange wees nie.

En daarom moet daar in 'n positiewe rigting beweeg word. 'n Christen moet verlangend wees na die suiwere Woord van God.

Let veral op die voord 'verlange'. Dit is 'n dinamiese woord. 'n Drang wat jou tot beweging aanspoor.

Dit is ook 'n kenmerkende Nieu Testamentiese aanpak van sake. Ek bedoel dit: Petrus hou ons nie 'n wet voor waarin byvoorbeeld staan: Soveel uur per week moet jy aan Bybelstudie doen, en soveel tyd per dag moet jy bestee aan gebed nie. Natuurlik kan dit baie nuttig wees om vir jouself so 'n riglyn te bepaal. Maar die Bybel gee nie so 'n wet nie. Die Bybel gryp baie dieper. Die Here soek by ons nie net 'n verandering in leefwyse nie. Die Here soek ons hart.

Hy sê: Verlang sterk!

Wees begerig na die Woord! Soek, lees, dink, studeer. Begerig. Dan sal jy seker geleentheid vind. Want 'n mens wat begerig is om 'n bepaalde ding te doen, sal ook altyd geleentheid vind om die begeerte te stil.

As jy honger is, of 'n bepaalde boek graag wil uitlees of enig ding wat jy graag wil klarmaak. As jy daarna begerig is, vind jy altyd 'n kansie om dit te kan doen.

Maar as die begeerte ontbreek, dan het jy altyd ander dinge om te doen. Jy vind altyd redes om dit na te laat. Jy is te moeg, of jy het nie tyd nie, of daar is nie geleentheid nie.

Verlang sterk - Natuurlik is so 'n verlange nie sommer op bevel aanwesig nie. So 'n verlange moet groei. Maar moet eers maar begin. En as jou kennis van die Woord groei, groei behoefte aan meer kennis. Hoe meer jy daarmee besig is, hoe meer jy agter kom dat jy nog so min weet.

Hoe meer jy jou deur die Woord laat vervul, hoe meer jy ook vervul word met lewenskrag. Dis mos 'n lewende Woord! Jy groei in kennis. Jy groei in liefde vir die Woord van die Here. Jy groei in liefde vir die Here.

Jou vreugde in die diens van die Here neem deur dit alles toe. Petrus gebruik daarby die beeld van 'n pasgebore baba. So 'n baba het begeerte na die melk van die moeder. Hy wil drink en drink tot hy heeltemal versadig is. Petrus dink dalk nog aan die woord wedergeboorte uit l: 23. Julle is pas gelede wedergebore as nuwe mense en daarom is die melk van die suiwere Woord bitter noodsaaklik. Julle moet groei in die geloof. Want as julle nie die voedsel van die woord opneem nie, verdwyn die nuwe lewe in die dood. As daar nie groei in die geloof is nie, dan kom julle om!

Vers 3 onderstreep dit alles.

Julle het al gesmaak dat die Here goedertieren is. Julle het tog geproe, die Here is goed! Sy spyse is goeie spyse. Wel, verlang alhoemeer na die voedsel. Laat die eerste liefde nie uitgeblus word nie. Hoe meer jy proe, hoe meer jy lus is vir meer. Van die goedheid van God, raak 'n mens nooit versadig nie!

2. Verder is nodig: Invoeging in 'n geestelike huis.

Petrus gaan nou 'n nuwe beeld gebruik. Kom na Hom toe, die lewende steen. Die lewende steen is Christus. Kom na Christus toe. Of wel, daar moet in jul lewe beweging wees. 'n Dinamiek. 'n Beweging na Christus toe.

Jy moet loskom van sondes, wat jou van Christus aftrek. Jy moet wegbreek van sondes, wat die broeders uit mekaar dryf. As elkeen van die gelowiges hom na Christus toe beweeg, dan eers kan daar ook 'n toenadering tot mekaar wees. (Daaroor later nog wat meer). Eers wil ons nadink oor die lewende Steen, wat deur mense verwerp is. Dit is 'n bekende beeld uit die Ou Testament waarop Petrus doel. Ons kry die beeld in Ps. ll8.

Dit gaan daar om 'n bousteen. Daarby moet ons nie dink aan 'n netjiese baksteen wat van klei gebak is nie, of 'n konkrete-steen wat in 'n vorm gemaak is nie, maar aan 'n ruwe bousteen wat uit 'n rots gehak is. Daardie boustene het dikwels groot verskille van vorm en grootte.

Wel die beeld uit Ps. ll8 is nou, dat die bouers so 'n steen laat lê het. By hul bouwerk was dit nie bruikbaar nie. Hy was te groot of te krom of te dik of te dun vir hulle. In elk geval hulle het hom afgekeur om as 'n bousteen vir die bouwerk te kan dien. Maar daardie afgekeurde bousteen word nou juis deur die Here uitgekies. Die steen is presies wat Hy soek vir sy doel. Hy gee die steen self 'n eervolle plek as 'n hoeksteen of 'n fondamentsteen. Al die mense het gekyk en gewonder: Hoe gaan Hy hierdie steen gebruik? Wel, hierdie psalm pas die Here Jesus in Matt. 2l toe op Homself. Hy self is die bousteen wat deur die bouers, die volk Israel, verwerp word.

Sy kruis op Golgota staan daar as 'n monument van die steen wat verwerp is. Weg met Hom!

Maar die Here God dink anders daaroor. Die verworpe steen is die steen wat hy verkies het.

In die opstanding uit die dood bewys die Here dat die verworpe steen deur Hom uitverkies is en vir Hom baie kosbaar is.

Hy word die lewende steen in die bouwerk wat God wil laat verrys. Die gemeente van die Here Jesus. Hulle ontvang van Hom die lewe.

Hy maak mense tot lewende stene, om hulle in te bou in die huis wat Hy besig is te maak.

Kom na Hom toe, sê Petrus. Kom in beweging. Kies vir die Here Jesus. Moet wel bedink dat jy dan kies vir 'n steen wat deur die mense verworpe is, en dat jy kan swaarkry deur so 'n keuse, want die mense sal jou met die lewende steen Christus verwerp.

Maar nogtans, kom na Hom toe.

Laat julle ook soos lewende stene opbou.

Ons sien dit is 'n heeltemal ander beeld as wat Petrus eers gebruik het. Maar dit is noodsaaklik, want dit mag wees dat mense maar net bly dink aan die pasgebore baba wat eintlik net die warmte en liefde van die moeder soek. As 'n suigeling soek hy bevrediging van eie verlange, maar die gelowige moet verder kom.

Daarom skakel Petrus nou oor na 'n volgende beeld.

Daar is 'n roeping in jou lewe.

God is mos besig om 'n geestelike huis te bou.

En daarom moet jy jou laat invoeg. Dus dan gaan dit nie om jou eie bevrediging nie, maar dit gaan om die eer van die Here. Die Here bou 'n huis. En ons mag daarin ons diens verrig.

As lewende stene van 'n geestelike huis.

Die gelowiges moet hulle almal laat invoeg in die huis. Hulle moet hulle laat opneem in die kerk van alle eeue. Niemand mag op homself bly staan nie. Jy mag nie sê: ek het die Woord, ek het die beloftes, maar ek bly in my eie huis sit. Ek wil my nie laat invoeg nie.

Nee, as deur Christus lewend gemaakte stene, moet ons ons nou ook laat invoeg, en dikwels sal aan ons gekap en geslyp moet word, voor ons daarin pas.

Want 'n steen wat nie 'n plek in die muur ontvang nie, wat nie in die bouwerk van God kan laat opneem nie, hy kan nie 'n deel van die gebou word nie. Hoe naby hy tydens die bou ook was. Stene wat langs die muur bly lê, word na voltooiing opgeruim en weggevoer.

Dus laat u invoeg in die gebou. In die geestelike huis. Geestelik, kleinletter. Kan ook met 'n hoofletter. Die geestelike huis is die bouwerk van die Heilige Gees. Dis mos deur sy Gees en Woord, dat Christus vir Hom 'n gemeente wat tot die ewege lewe uitverkies is, bewaar, beskerm en onderhou.

Daar is dikwels gesê: Die Kerk is die moeder vir die gelowiges. En daarin sien ons weer die nou verbinding met die eerste beeld van Petrus. Die Kerk voed haar kinders met die onvervalste melk van die Woord. En daarom word elkeen tot die Kerk geroep.

3. Dit is nodig dat ons offer in 'n priesterlike diens.

Petrus gebruik nog 'n derde beeld om die posisie van die gelowiges te omskryf. Die beeld van 'n heilige priesterdom.

Soos eintlik voortdurend by Petrus hoor ons ook hier weer Ou Testamentiese klanke. Priesterdiens.

U weet, in die Ou Testament was die taak van priesters bestem vir enkelinge. Alleen deur geboorte uit die huis van Aäron kon 'n mens tot priesterdiens geroep word.

In die Nieu Testament is dit anders. Heel die gemeente vorm 'n heilige priesterdom. Elkeen is daar tot priester geroep.

Maar dan moet ons ook werklik priester wees. Ons kyk nog 'n slag na die Ou Testament in verband met priesterskap.

In die Ou Testament het die priesterskap iemand se lewe volledig beheers. Hy het heeltemal in diens van die Here gestaan. Ook sy private lewe is deur die priesterskap beheers. Dit het bepaal watter vrou hy moes trou, met wie hy kon omgaan, en met wie nie, watter werk hy verder doen of watter huis hy bewoon.

Dus as Petrus nou die Nieu Testamentiese gemeente tot priesterdiens roep, dan beteken dit, dat hierdie diens ook heel hul lewe sal beheers. Die eerste taak van die priesters is om offers te bring.

Geen dieroffers soos in die Ou Testament nie, maar geestelike offers. Tyd gee vir Christus. Geld gee vir Christus.

Liefde bewys namens Christus. Dankoffers en lofoffers mag ons bring. En ook hier gaan dit nie om 'n wettiese diens nie. Dit gaan die Here daar nie om dat ons aan 'n hele paar voorskrifte voldoen nie, en dat ons meen dat Hy dan tevrede sal wees nie.

Aan 'n sodanige wettiese offerdiens het God nie welgevalle nie! Maar Hy soek ons hart. Hy soek ons liefde. Hy soek vrugte van geloof en vrugte van dankbaarheid.

Dit is offers waaraan God 'n welgevalle het. Sodanige vrugte word deur Jesus Christus self in ons gewerk (Sondag 32. Hy vernuwe ons tot Sy beeld).

Ons kan dit so sê: Die eintlike Priester is net Jesus Christus.

Hy bring in ons die vrugte van dankbaarheid voort. Ons gaan goeie werk doen. 'n Klein begin, maar tog 'n begin.

Ons gebrekkige werk word deur Christus geheilig, sodat hulle deur Hom welgevallig is aan God. Maar dan moet die werk wel sigbaar word. As die werk daar nie meer is nie, dan word ons uit die priesterdiens ontslaan. Of met 'n ander beeld: As die tak van die wingerd nie meer vrugte dra nie, word hulle uitgekap en in die vuur gegooi. En daarom, verrig u priesterdiens! Almal.

En groei al hoe meer na Christus toe. Lê af, die ou sonde kleed, en beklee u met Jesus Christus!

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)