Petrus beveel ons om mekaar vurig lief te hê

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
I Petrus 1
Preek Inhoud: 

Ps. 100: 1, 2
Ps. 100: 3, 4
Ps. 75
Ps. 56: 1, 3
Ps. 56: 4
Lees: Jes. 40: 1-11
Teks: 1 Petr. 1: 22-25

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Liefde kan jy nie dwing nie. Ons ken wel vir daardie uitdrukking. Daarmee bedoel ons te sê: liefde is iets wat spontaan moet opkom. Jy is lief vir iets of iemand, of jy is nie daarvoor lief nie. Dit is 'n saak van jou gevoel. En as jy daardie gevoel vir iemand nie het nie, dan kan 'n mens daar moeilik iets aan verander. Liefde is nou maar 'n spontane ding. Jy kan dit nie afdwing nie. Liefde op bevel dit kom ons voor as 'n onmoontlikheid.

Maar die Here het daaroor 'n ander gedagte.

Julle moet mekaar liefhê. Dit word ons dwingend voorgeskryf. En ons moet nie sommer maar 'n bietjie lief wees vir mekaar nie, maar daar moet wees 'n vurige liefde uit 'n ruim hart.

Ons weet reeds, geloof is 'n saak van gehoorsaamheid.

Die Evangelie kom na ons toe met 'n bevel tot geloof en 'n bevel tot bekering. Maar nou word daar nog 'n nuwe bevel toegevoeg. Die bevel tot hartlike liefde.

Daarom gaan dit in vanoggend se prediking.

Ek vat vir u die boodsakap van die teks soos volg saam:

PETRUS BEVEEL ONS OM MEKAAR VURIG LIEF TE HÊ.

  1. Die liefde is geplant deur die lewendmakende Gees
  2. Die liefde is gewortel in die lewende Woord.

1. Ons het in die voorgaande preke uit hierdie bybelboek reeds gesien hoe Petrus baie dikwels allerhande Ou Testamentiese motiewe en uitdrukkings gebruik, wat hy toepas op die Nieu Testamentiese gemeente.

Ek sal vir u 'n paar noem: Nogal sentraal staan die gedagte van die vreemdelingskap, die deur die Here bevryde volk is op pad na die beloofde land en hulle bly soos vreemdelinge in die woestyn. Net so is die gemeente van Christus, 'n vreemdeling in hierdie wêreld. Hulle is op pad na die beloofde erfenis, die hemelse Kanaän. Dat die gemeente sy lewenswandel moet heilig en dus moet stry teen allerhande sondes, word onderstreep met die Ou Testamentiese woord: wees heilig, want Ek is heilig. Dis mos die grondwet van die boek Levitikus, waarin die Here allerhande voorskrifte gee, hoe dat sy sondige volk met Hom die Heilige God moet omgaan.

En verder: die gemeente is losgekoop uit slawerny, nie soos die volk Israel van 'n aardse heerser nie, maar hulle is losgekoop uit die heerskappy van die duiwel. En die koopprys was die vlekkelose lam Jesus Christus. Sy bloed het die gemeente van die dood gered, soos eendag die volk Israel, deur die bloed van die Paaslam, hul lewe gered het.

Vandag se teks begin met: As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele gereinig het. Ook hier kies Petrus sy woorde in aansluiting by die Ou Testament. Julle het jul siele gereinig. Die woord reinig herinner nadruklik aan allerhande reinigingsvoorskrifte uit die Ou Testament.

'n Mens kan nie sommer met die Heilige God omgaan nie. Voordat 'n priester die heiligdom kan binnegaan om 'n offer vir die Here te bring, moes hy homself eers deeglik gewas het. Die wet skryf presies voor watter wassings hy moet doen. Dit gaan dan nie in die eerste plek om allerhande vuil wat die priester aan sy voete en hande opgetel het nie, dit ook, maar veral tog om te simboliseer dat hy die magte van sonde en dood agter hom moet laat, as hy tot die altaar nader. Hy kan nie sommer soos hy is, tot die altaar nader nie.

Dieselfde geld vir iemand wat self vir die Here 'n offer kom bring. Soos u weet was aan die meeste offers ook 'n maaltyd verbind. Die offeraar mag self ook eet van die vleis van die offerdier. Maar voordat jy kon aangaan aan die offermaaltyd, voor jy kan deelneem in die erediens, moet jy 'n rituele wassing ondergaan.

In daardie reiniging moes dus altyd 'n paar liggaamsdele gewas word. Op sy minste die hande en voete. So in die Ou Testament. Maar nou ons teks. Die reiniging waarop Petrus doel gaan verder, is baie dieper. Hy praat van: julle het jul siele gereinig. Daarmee bedoel Petrus natuurlik hul bekering tot die geloof in Jesus Christus. Hulle neem afskeid van 'n heidense lewe en lewenstyl. Hulle was dit af. Hulle laat die lewe waarin die sonde geheers het agter hulle en verskyn voor God se aangesig. Dit is die reiniging van hulle siele. Origens ook dit het saamgegaan met 'n sigbare wassing van hul liggame. Hulle het hul laat doop.

Dit is 'n uitwendige reiniging, maar dit gaan natuurlik om die reiniging van hul siel. Om die reiniging van heel die lewe. 'n Vuil lewe laat jy agter en 'n nuwe lewe begin.

Petrus herinner verder daaraan hoe hulle hul laat reinig het. Hulle het dit gedoen in gehoorsaamheid aan die waarheid.

In gehoorsaamheid aan die waarheid, dis eintlik 'n baie interessante uitdrukking. Gewoonlik as 'n mens iets nuuts hoor, 'n sekere boodskap of 'n aantal gedagtes wat iemand vorentoe bring, dan dink jy, is dit waar, of is dit nie waar nie?

Maar in hierdie geval was die waarheid so onmiskenbaar dat 'n mens net kon kies, of gehoorsaam wees aan hierdie waarheid, of nie gehoorsaam wees nie.

Die waarheid is hier die evangelie van die kruis van Jesus Christus. Maar as die boodskap verkondig word, is dit nie 'n saak waarvan jy met meer of minder belangstelling kan kennis neem nie, maar dat moet jy kies. Dit kom na jou toe met 'n bevel: geloof en wees gehoorsaam!

Vir die waarheid moes hulle gebuig het. En toe het hulle gebreek met hul ou lewe, hulle het hul losgemaak van die leuenwêreld en skynwêreld van die heidendom.

Hulle het hul laat vang deur die waarheid van Jesus Christus!

En wie het dit gedoen?

Wie het hulle tot die keuse gebring?

Wie het hulle gehoorsaam laat wees?

Dit is nou die werk van die Heilige Gees!

As u wil weet: wat doen die Heilige Gees presies, dan kry u dit hier. Hy oortuig mense van die waarheid van die evangelie. Hy bring mense tot gehoorsaamheid aan Jesus Christus en Sy Woord. Maar is die Gees dan nie die wonderlike krag wat mense allerhande wonderlike dinge kan laat doen, soos spreek in tonge, of vreemde tale nie? Ag as ons ons maar net kan laat beïndruk deur daardie tipe wonders, het ons van die eintlike wonder van Sy werk nog niks gesien nie. Weet u wat die grootste wonder van die Heilige Gees is? Dit is dit: die evangelie vertel dat Christus opgestaan het uit die dood, en dat elkeen wat in Hom glo kan deel in Sy opstanding. Dat ook hy die ewige lewe ontvang.

Daar is nie 'n groter wonder denkbaar dan dat mense dit glo! Dat sterflike mense, wat daagliks met die werklikheid van die dood gekonfronteer word, glo dat daar 'n opstanding van die dode is! Gaan kyk by 'n doodkis, gaan staan by 'n oop graf en sê dan: Ek glo dat hierdie kind van God sal opstaan uit die dood!

So 'n belydenis deur 'n sterflike mens is 'n wonder van die Heilige Gees! Die ongelowige wêreld sê: Kom geniet die lewe voor jy dood is! Vat wat jy maar kan vat! Die lewe is kort!

En die gedagte trek aan ons almal.

Maar die Gees sê: Nee! Breek met daardie leuen! En gryp die waarheid! Die waarheid in kruis en opstanding!

Deur gehoorsaamheid aan die waarheid! En as jy dit doen durf jy ook allerhande genietinge van die wêreld los te laat!

Sover het die Heilige Gees die gemeente waaraan Petrus skryf reeds gebring. Maar nou moet hulle nog verder hoor!

Die reiniging waarvan Petrus gepraat het, het hul naamlik ook gereinig van hul self liefde. Van hul egoïsme. Hy sê: julle is gereinig tot ongeveinsde broederliefde.

Ongeveinsd - dit is sonder huigelary.

Die broederliefde mag nie net 'n saak van die buitekant wees nie, terwyl in jou hart die onverskilligheid ten opsigte van jou broeder bly bestaan. Dit kan in die gemeente van Christus nie voorkom nie.

As jy gemeenskap met Christus het, as daar by jou werklik liefde vir Christus is, dan kan dit nie anders of daar kom by jou ook liefde vir elkeen wat aan Christus toebehoort. As jy self beïndruk is deur die wonderwerk van die Gees in jou, dan is jy ook beïndruk deur die werk van die Gees by 'n ander. Die Heilige Gees het ons mos tot een liggaam gedoop! Dieselfde reinigingswater kom oor ons almal.

En daarom volg nou ook die dringende bevel: Nou moet julle mekaar vurig liefhê uit 'n rein hart.

Dit is eintlik volkome vanselfsprekend. Dit was die doel waarom dit die Heilige Gees gegaan het, toe Hy mense tot gehoorsaamheid aan die waarheid gebring het. Dat hulle een liggaam sou wees en daarin 'n gemeenskap van liefde sou vorm.

En die liefde moet nou ook sigbaar en voelbaar word.

Daarop spreek Petrus sy lesers aan: julle moet mekaar vurig liefhê!

Dit mag nuttig wees om nog 'n bietjie meer oor die liefde te sê. Die betekenis van daardie woord het, seker in ons tyd, 'n sterk vervlakking ondergaan. Allerhande sake wat soms maar min of glad niks met liefde te doen het nie, word met die woord aangdui. Vir baie mense beteken liefde nie meer as lief wees vir mekaar, vriendelik wees vir mekaar, mekaar nie seermaak nie, ens.

Maar oor die soort liefde praat Petrus hier nie.

Dit gaan hom om die broederliefde.

En dit gaan baie verder. Kyk, by talle vorme van liefde gaan dit om die persoon self. Jy is lief vir iemand, omdat hy of sy 'n aangename mens is of 'n gesellige persoon, waarmee jy lekker kan gesels. Die basis vir daardie tipe liefde is, dat jy by daardie persoon 'n goeie aansluiting vind.

So kan dit wees, dat jy met 'n aantal mense van die kerk, met sekere broeders en susters, baie goed oor die weg kom. Jy gaan gereeld by die ander kuier, jy sit 'n hand by as daar hulp nodig is, ens. Kortom daar is 'n goeie kontak oor en weer.

En dan is ons geneig om te sê: dit is nou broederliefde.

Ons het 'n goeie aansluiting bymekaar: dit is liefde.

En hulle is broeders en susters: dan is dit broederliefde.

En ons oordeel dat die gemeente van die heiliges wat ons aangaan baie goed funksioneer.

Maar tog maak ons so 'n vergissing.

Want dit is nie wat Petrus met broederliefde bedoel nie.

Verstaan my goed asseblief: Daar is niks mee verkeerd dat ons goeie vriende het onder ons broeders en susters nie.

Maar ek bedoel dit: Dit is dan nog maar vriende liefde en nog nie broederliefde nie.

Broederliefde is baie meer en ook baie moeiliker.

Broeder liefde is dit: ek het Christus lief. My broeder het Christus ook lief. En daarom moek ek die broeder liefhê, as 'n lid van Christus se liggaam. Nie omdat ek vir daardie broeder of suster ken, of dat ons so lekker saam gesels nie, maar omdat Christus ons saam in een gemeenskap geplaas het. Omdat die Heilige Gees ons tot een liggaam gedoop het!

Daarom moet ek die broeder liefhê. Dit is dat ek mede verantwoordelik voel vir daardie broeder. Ek is mee verantwoordelik vir die ander, dat ook hy saam kom op die pad wat die Here met ons gaan.

Broederliefde is dit: Dat dit vir jou baie belangrik is, dat ook daardie broeder behou word.

Wel, dit kan tot gevolg hê, dat jy daardie broeder of suster besoek as hy eensaam is. Ook al sal jy homself nie as 'n vriend uitkies nie. Broederliefde kan ook wees, dat jy met hom gaan praat as hy of sy van die smal pad afdwaal. Dan roep jy hom terug. Dis nie 'n aangename werk nie, nee, eerder iets waarvan ons verkieslik sou wegskram, maar liefde vra dit.

En dan moet jy dit so doen dat die ander ook kan voel dat daar agter ons woorde en dade liefde steek. Liefde wat voortkom uit 'n rein hart.

Die besef dat ook jou hart gereinig moet word, sal ons leer om op die goeie toon mekaar aan te spreek. Nie uit die hoogte nie, in die sin: "Ek weet hoe dit behoort, en jy maak foute", maar op die vlak van ware broederskap: ons staan langs mekaar as sondaars, as gereinigde sondaars, maar laat ons nie verloor wat ons saam as rykdom van die Here ontvang het nie.

Die liefde weet om te stry, om die gemeenskap wat ons het, te bewaar.

Die grootste gevaar wat enige gemeenskap bedreig, is dat ons daarin gemaksugtig word. Dat ons, ons maklik neerlê by 'n situasie wat nie reg is nie, maar ag, ons kan daaraan tog niks verander nie. Dan sê jy, nadat jy een keer 'n eensame in die gemeente besoek het: Ag, ek stel eintlik nie belang in daardie persoon nie. Een keer slegs probeer jy met iemand praat, maar daarby bly dit dan, want hy wil tog nie luister nie.

Julle moet mekaar vurig liefhê se Petrus dan.

Die vuur van die liefde moet brand. Die vuur bring ons in beweging, want dit is die vuur van die Heilige Gees, wat vir Christus 'n gemeente vergader, 'n gemeente wat deur die onderlinge liefde gekenmerk word.

2. Die liefde is gewortel in die lewende Word.

Liefde kan 'n mens nie dwing nie, het ons in die begin gesê. Maar Petrus sê: Hierdie liefde wel. Julle moet mekaar vurig liefhê. Want die saak het diep wortels.

Want, sê hy: julle is wedergebore. Nie uit verganklike saad nie. Immers, al wat uit verganklike saad gebore word, mens of plant, of dier, dit alles is gedoem om eendag te verdwyn. Die blom kom uit, en vertoon sy stralende skoonheid, maar spoedig verdor hy... en verdwyn.

Maar hier gaan dit om 'n heel ander tipe saad. Die Lewende Woord van God is die oorsprong van die wedergeboorte. 'n Kragtige oorsprong, maar ook 'n saad wat sy krag behou. Gewone saad verrig sy diens en sterf af. Saad moet sterwe. Onverganklike saad het gedurig nuwe lewe. En daarom kan Petrus ook so kragtig vermaan

In die Woord van God kom die saad na ons toe. En dit is 'n Lewende Woord!

Uit die lewende Woord kom altyddeur nuwe lewe te voorskyn. Dit is 'n bron van lewe. Altyd nuut. Altyd vars. Altyd kragtig. En die Woord bly. Dit is onvernietigbaar.

Want daarin is Goddelike kragte opgesluit.

Die lewende Woord is die enigste ding op hierdie wêreld wat nooit verdor nie. Wat sy heerlikheid nie verloor nie! Wel, hierdie gedagte van die lewende Woord waaruit altyd weer nuwe kragte ontspring, stel Petrus in diens van die vermaning tot vurige liefde!

Waar die liefde hom in beweging laat bring deur die lewende Woord, kan die liefde ook altyd weer vernuwe word.

'n Mens kan moeg raak van altyd weer liefde betoon.

Want ware liefde betoon kos altyd krag en energie. 'n Mens kan uitgeput raak en dink, of sê: Ag, ek los daardie ding. Ek is moeg daarvan.

Maar dan kom die Woord van God na jou toe. Vol energie. En die Woord is in staat om die liefde weer aan die brand te steek, en dit weer te laat opvlam.

Want die lewende Woord is die saad van die wedergeboorte.

Die Woord is altyd in staat om mense te vernuwe, sodat hulle weer aan hul roeping gaan beantwoord.

Petrus gee nog 'n illustrasie hiervan, met 'n aanhaling uit Jesaja 40. Jesaja 40 is die bekende hoofstuk wat begin met die bekende: Troos, troos my volk, sê julle God.

Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, en dat haar skuld betaal is!

Jesaja profeteer dit in 'n duister tyd, as die volk nog in ballingskap is. Daar is niks wat daarop wys dat eendag nog 'n terug keer vir die volk Israel na Kanaän, moontlik is nie. Menslik gesproke is hulle definitief gedoem om as volk onder te gaan in 'n land ver van hul eie plek.

Maar dan spreek die Here. In Sy genade sal Hy ingryp ten behoewe van hulle wat in ballingskap is. Die Here maak 'n nuwe toekoms oop! In daardie situasie klink 'n sodanige profesie baie onwaarskynlik. Troos, troos my volk. Wie sal dit kan glo? In daardie onmoontlike situasie? En dan sê die Here: "Alle vlees is soos gras, al die heerlikheid van 'n mens soos 'n blom van die gras. Die gras verdor, en sy blom val af"

So het ook die heerlikheid van Israel vergaan. Die blom van die volk het afgeval en verdor, en sal uit sy eie nooit weer kan blom nie.

Maar: Die Woord van die Here bly tot in ewigheid!

As die Here belowe dat daar troos vir die volk is, dat die ballingskap te einde sal kom, ook al skyn dit in die politieke omstandighede van daardie tyd onmoontlik, dan is daar troos. Dan is daar 'n nuwe toekoms.

Die Woord van God gaan wen! Altyd.

En dit is ook wat geblyk het uit die geskiedenis van Israel. Daar was 'n terugkeer en die beloofde Verlosser het gekom! Gebore uit die saad van Dawid!

Die lewende Woord bly tot in ewigheid! Die woord haal Petrus hier aan. En dan kom daar die pragtige slotkonklusie.

'n Laaste ondersterping van alles wat Petrus tot nou toe gesê het:

En dit is die Woord wat aan julle verkondig is. Dieselfde lewenskragtige Woord, wat onmoontlike dinge moontlik maak. Dit is 'n onuitputlike bron van nuwe lewe! Ook vir die onderlinge verhoudings in die gemeente. Ons kan mekaar by die bron altyd weer vind! Want die Woord is die enigste wat op aarde nooit verdor nie.

Dit is in staat om altyd weer nuwe liefde te verwek.

Die Woord is onverganklik temidde van 'n wêreld vol verganklikheid.

Die Woord is lewend temidde van 'n wêreld vol dood.

Laat dit nie vergeefs vir u verkondig wees nie!

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)